Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Sesde Sondag van Paastyd  Rogate – “Roep”

In ‘n droom word Petrus “geroep” om na Masedonië te gaan. Daar aangekom bedien hulle ‘n paar vroue waarna Lidia tot bekering kom en sy en haar gesin gedoop word. Die Psalmteks roep die volke op om die Here te loof. In die gedeelte uit Openbaring word die nuwe stad Jerusalem beskryf. Die eerste Johannesteks gaan oor die genesing van die verlamde man in Betesda, die latere Johannesteks gaan oor Jesus wat sy dissipels voorberei vir die ontvang van die Heilige Gees.

Die Here laat dinge in sy koninkryk, gemeente en in my lewe, op sy tyd ryp word. Ons sien dalk nie dadelik resultate nie, maar dit beteken nie dat daar niks agter die skerms gebeur nie.

Ander tekste

Psalm 67
Mag die volke U loof, o God!
7 Vir die koorleier: met snarespel. ’n
Psalm. ’n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet Hom eer.

Openbaring 21:10, 22:1-22:5
10Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ’n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.

22 Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

3Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. 4Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. 5Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ’n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.

Johannes 14:23-29
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.

Johannes 5:1-9
Die genesing op die sabbatdag by Betesda
5 Hierna was daar weer ’n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, 3waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. 4d5Onder hulle was daar ’n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. 6Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”

7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”
8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”
9Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.

Fokusteks

Handelinge 16:9-15
Timoteus sluit by Paulus aan
16 Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek. 2Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. 3Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is ‘n Griek.

4Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.

Die gesig in Troas
6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan.

9Daar het Paulus in die nag in ‘n gesig ‘n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering
11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, ‘n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ‘n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ‘n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ‘n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ‘n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”

En sy het ons oorreed om dit te doen.

In die tronk in Filippi
16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ‘n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Ekstra stof

KOERSWYSIGINGS VERRAS DIE KERK ALTYD
Dit is interessant hoe anders die Here werk as wat ons sou verwag met koerswysigings vir die kerk.  ‘n Mens sou verwag dat Hy sy mense sou bemagtig en die paaie vir hulle gelyk sou maak, genoeg geld voorsien, en alle teenstand voor hulle sal wegvee.

Maar dit is nie hoe God werk nie.  Dit leer ons teks ons net weer vandag.  Die kerk in Europa begin met ‘n baie ontwrigtende ervaring.  Paulus en sy mense wil in ‘n ander rigting as wat die Here wil, en ons teks sê vir ons, dat dit die Gees van Jesus is wat hulle planne ontwrig en hulle verhinder om hulle eie kop te volg, selfs al is hulle besig om die evangelie te verkondig.

Deur die gesig van die Masedoniese man (‘n Griek wat, ironies genoeg, hulpeloos is) lei die Gees vir Paulus-hulle op die regte pad. En dit is ‘n baie belangrike lewensles wat ons telkens weer moet leer.  Die Here is nie afwesig in ontwrigtende gebeure nie.  Trouens, Hy is meesal daarbinne besig om sy wil uit te voer.

Só sien ons dit met die vervolging wat uitbreek in Jerusalem met Stefanus se dood.  Die kerk het gedreig om net ‘n Joodse beweging te bly, en die vervolging dwing die jong kerk om oor sy grense te beweeg.

Só sien ons dit met die sendingreise van Paulus.  Telkens wanneer daar teenstand is, of een of ander ontwrigtende gebeure, dan word ‘n nuwe beweging van die Here gebore.  Jy kan amper ‘n weddenskap daarop plaas – as daar ontwrigting is, dan is iets diepgaande besig om te gebeur.

DIE EERSTE EUROPEËR WAT GLO, IS ‘N VROU
En dit is darem net wonderlik, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met ‘n eenvoudige verhaal van ‘n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo.  Die Gees se ontwrigtende werk in Paulus-hulle se lewe, lei hulle direk na die vrou op die walle van die Gangites rivier in Filippi, Griekeland.  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.

Dit wys ons hoe baie keer God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede.  In Afrika was dit ‘n Ethiopiese ontmande. In Europa was dit ‘n Grieks-Joodse vrou.  Dit is asof God sulke mense kies om van die begin af te wys dat HÝ agter die diversiteit in gemeentes staan en verandering bring van die periferie af om só ‘n sterk eenheid tussen diverse mense te smee.

Lidia nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament.  Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.

Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het.  Geen wonder dat die brief so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby ‘n oproep is aan almal is om dié vreugde oral te versprei.

Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo.  Paulus mors dus nie tyd nie – wanneer jy met jou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word, jy en jou mense.  Geen kategese nie, net geloof in Christus.

‘N SLAVIN WORD BEVRY
Soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand egter nie uit nie.  Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose dit probeer dwarsboom nie!  Maar, ons weet nou al, soos die gebeure in Missië en Troas ons gewys het, die Here is in dit alles aan die werk, ook in die ontwrigting wat hulle getuienis ontketen in die stad.

Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand in Filippi.  Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees.  Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die orakel of tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is.  Blykbaar het mense onder die invloed van dié gees met buikspraak gepraat, d.w.s. sonder dat hulle lippe beweeg het.

Maar, Paulus dryf, na ‘n paar dae, die gees uit haar uit, wat waarskynlik beteken dat sy die tweede lidmaat van die gemeente was.

Die eerste hindernis, die slawemeisie, demonstreer op geen onseker wyse nie, dat God sterker is as die magte van die duisternis.  Maar die oorlog het natuurlik nog net begin!

‘N TRONKBEWAARDER WORD GERED
Met die konsternasie wat haar eienaars vir Paulus veroorsaak, want die slavin het nou nie meer geld ingebring nie, verskerp die teenstand, die tweede hindernis, en word hulle in die tronk gegooi.

Net om daar die derde lidmaat van die gemeente tot bekering te bring, die tronkbewaarder.  Hy en sy huisgesin (oikos) word ook gedoop en Paulus-hulle word in ‘n volgende huis gasvry ontvang.  Interessant dat die Romeine Brutus en Cassius juis in Filippi selfmoord pleeg, soos ons lees dat die bewaarder wou doen om sy eer te red.  Jesus red hom egter van homself en daarby ook sy huisgesin.

Die tweede hindernis, die stadsraad wat Paulus en Silas in die tronk gooi, word dus nie net oorkom deurdat die aardbewing die deure van die tronk oopforseer nie, maar die tronkbewaarder self kom tot bekering, hy en sy hele huis, en hulle word gedoop.

DIE EERSTE GEMEENTE IN EUROPA WORD GESTIG
Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis.  En die grondslag vir die eerste gemeente is gelê.

Paulus sou hulle nog twee keer besoek (20:1 en 6) en uiteindelik die pragtige brief aan die Filippense skryf uit die tronk in Rome.  En hulle sou hom die meeste kere ondersteun van alle gemeentes wat Paulus ooit gestig het.  Die eerste lidmate van hierdie pragtige gemeente begin dus hulle lewe in die huis van Lidia en word die grootste ondersteunersgroep van Paulus in die res van sy bediening.

AS JY OOR GRENSE BEWEEG, IS JOU LEWE NIE MEER NET IN JOU HANDE NIE.
Andrew Walls, kruis-kulturele ekspert, sê kategories: “The fundamental missionary experience is to live on terms set by others.”

En ons moet dit baie goed besef.  Want dit kos jou iets.

Paulus is hier afhanklik van mense se gasvryheid.

Die goeie wat hy doen, is nie noodwendig goed in ander se oë nie, veral nie in die eienaars wie se inkomste hulle ontneem is deur die slawemeisie wat nie meer kon waarsê nie.

Die boodskap het ook onbeplande gevolge: die stadsbestuur laat hulle op sleeptou neem deur die eienaars van die slawemeisie en Paulus en Silas – dit lyk asof die ander twee te jonk was of nie prominent genoeg nie (Timoteus en Lukas) – beland in die tronk.

Die vrug op die evangelie kom dus deur konflik heen, deur baie teenstand, deur lyfstraf en met jou voete in houtblokke in die tronk.

Dit sal ook nooit anders wees vir ons nie – om die evangelie te lewe, is om dit te lewe op die terme wat ander mense stel.  En die konflik en hindernisse en lyding wat daarmee gepaard gaan, moet ons nie afskrik daarvan om die veilige grense van ons gemeentelike lewe te oorskry nie.

AS JY OOR GRENSE BEWEEG MET DIE EVANGELIE, IS JOU LEWE IN GOD SE HANDE.
Wat ons hoop gee om dit te doen, is dat dit gelukkig ook net so waar is, as jy oor grense beweeg met die evangelie, as jy sy leiding volg, is jou lewe en die uitkoms daarvan in God se hande.

  • Die onbeplande gevolge van die tronk word bv. deur God getroef deur ‘n aardbewing en die oopgaan van die tronkdeure en die vernederende verskoning-vra van die stadsbestuur.
  • En God skep met die skraal begin van ‘n paar vroue en ‘n tronkbewaarder een van die mooiste gemeentes van die antieke tyd.

Sonder dat jy jou voet oor ‘n ander se drumpel sit, en toelaat dat jou lewe ook deur daardie persoon se optredes bepaal word, goed of sleg, sal jy selde ervaar dat jou lewe en die lewe van ander mense in God se hande is nie.

As lyding en teenstand deel is van die evangeliese lewe, dan is dit net so waar dat grensoorskryding jou in die hande van God plaas wat in staat is om jou te bewaar en vrug te gee op jou boodskap en getuienis.

AS JY OOR GRENSE BEWEEG MET DIE EVANGELIE, RAAK MENSE VAN ANDERKANT DIE GRENSE DEEL VAN DIE GEMEENTE VAN GOD.
Wat egter seker die mees motiverende boodskap van dié gedeelte is, is dat grensoorskryding die groeipunt van die kerk is.  Die kerk groei net as die kerk oor sy grense beweeg en mense wat anderkant ons eie grense lewe, deel maak van die gemeente van die Here.

Ek wil dit sterk stel – net kerke wat dit regkry om grense te oorskryf, groei.  Kerke wat laer trek en eksklusief raak, hetsy in kultuur of taal of etnisiteit of watter ander gemene deler ook al, sterf op die langtermyn uit.

Die kerk is immers die fees van die vereniging van andersins onversoenbare entiteite.  Christus Jesus skep deur die evangelie ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe huisgesin van God, wat opgebou is uit diverse mense.

Dit sien ons helder in die gemeente in Filippi.  Hulle word van die begin af uit ‘n diverse groep mense saamgestel.  Die eerste drie gemeentelede (kom ons aanvaar dat die slawemeisie deel van die gemeente geword het) was baie verskillend:

  • ekonomies: ‘n arm slawe-meisie, ‘n middelklas tronkbewaarder en die ryk vrou Lidia;
  • gender: ‘n paar vroue en ‘n man;
  • generasies – Lidia en haar gesin, die tronkbewaarder en sy gesin;
  •  etnies: ten minste ‘n Romeinse burger en ‘n Griekse Jood en nog ‘n onbekende etnisiteit, die slawemeisie;
  • en polities: tronkbewaarder, Grieks-Joods vrou en slawe-meisie.

Dit moet ons laat kyk na ons bediening.  As ons te eenders lyk, skuif ons nie genoeg oor die grense nie, en ek bedoel nou ekonomies, sosiaal, ouderdom, polities ens.

Die droom wat God vir ons het, is dat ons inklusief sal wees, dat mense anderkant die grense van ons kultuur en gemaksones deel van ons sal word, dat ons in ons gasvryheid, diens en getuienis mense sal intrek en deel maak van die gemeente van God.

En meesal beteken dat ons na hulle toe moet uitreik, eerder as dat ons verwag dat hulle na ons toe moet kom.  Daaraan moet elkeen van ons werk.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Paasroep
Seëngroet

Sang: Lied 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Verootmoediging: Gebruik die gedeelte uit 1 Petrus 3:13-22 as Wet

Skuldbelydenis: Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

Vryspraak
ApostolieseGeloofsbelydenis

Loflied: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 16:9-15

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Paasroep
Voorganger:  Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Seëngroet
Voorganger: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare Getuie, die Eersgeborene uit die dood en die Heerser oor die konings van die aarde.

Gemeente: Aan Hom wat ons lief het en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons ’n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader — aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen (uit Op 1:4-6).

Sang: Lied 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Verootmoediging
Gebruik die gedeelte uit 1 Petrus 3:13-22 as Wet

Dit is ’n voorreg om te ly vir wat goed is
Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.
15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here.
Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.
16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.
Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.
17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.
18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Skuldbelydenis
Lied 231 ” eilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4″

Vryspraak
8Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde…
10Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.
11Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.
Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. i 12Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Handelinge 4)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Liedere

F275.”Kom Praat Met My”
(RUBRIEK:  Kruisvuur – Toenadering)
Teks en Musiek: Neil Büchner
©  2008 Urial Publishing

1. My gees is stil; nou wil ek luister
Wat wil U hier vir my kom sê?
Ek dors na water – na u fluistering in my
Om my dorre grond te seën
Met die rykdom van U reën

2. Sonder u stem om my te wys, Heer,
Raak ek verdwaal, en ek raak bang;
Hardloop verward in alle rigtings om te soek
Wat net U in my kan vul
Wat net U in my kan doen

Refrein:
Kom praat met my!
Laat ek u gedagtes hoor
Kom praat met my!
Ek is hier om te kan leer
Kom praat met my!
Laat my hart verander word
Kom praat met my!
Kom plant U lewenswoord in my.

3. Maak alles stil in my wat raas, Heer
Maak dit wat hard is sag soos klei
Vorm in my weer die ywer om te wees
Op my knieë, in vrede, Heer
Om by U, intiem, te leer

Refrein:

4. Wys my U weë, wys my u roepstem
Laat Heer, u wil in my geskied
As ek ooit afdwaal
Laat u stem, net soos die wind
Die lewe in my blaasEn my hart se seile vul
Kom praat met my.

F67.”Nader, As My Siel”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek:           Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

In die skadu van die Allerhoogste
Sal ek steeds my skuiling vind
U is naby my, ek kom naby U

Soos ‘n boom digby ‘n waterstroom
Vind ek my lewe net by U
U is naby my, ek kom naby U

Nader, steeds nader
Ek smag na U, soveel meer van U
Nader, veel nader

Groei ek aan U
U is nader as my siel

In die koue van die winternag
Voel ek U liefde soos ‘n vuur
U is naby my ek kom naby U
In my rou as twyfel om my vou
Weet ek U los my nooit alleen
U is naby my ek kom naby U

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 16:9-15

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Paulus Droom van Nuwe Werk
8–9 Daarna het Paulus en Timoteus na die stad Troas gegaan. Daar het Paulus een nag ’n droom gehad. Hy droom toe van ’n man uit die land Masedonië wat voor hom kom staan. Hierdie man vra toe mooi vir Paulus: “Kom dadelik na ons land toe. Kom help ons asseblief, Paulus.”

10 Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat hy moes doen. Hy het gesê dat ons almal ons tasse moes inpak sodat ons na die land Masedonië kon gaan. Ons was nou seker dat God wou hê dat ons die mense in daardie land van God moes vertel. Paulus het toe vir Silas en Timoteus, en ook vir my, Lukas, met hom saamgeneem.

Lidia Gee haar Hart vir Jesus
11–12 Ons het met ’n skip tot in die hawe van die stad Neapolis gevaar. Daarna het ons na die stad Filippi gegaan. Dit was ’n belangrike stad in die land Masedonië. Ons het vir ’n paar dae in hierdie stad gebly.

13 Die Saterdag het ons na die rivier ’n entjie van die stad af gestap. Ons het gehoor dat mense altyd daar gaan bid. Daar was ’n hele klompie vroue. Ons het by hulle gaan sit en met hulle oor die Here gesels.

14 Een van die vroue se naam was Lidia. Sy het aandagtig na Paulus geluister. Lidia het ook vir God aanbid soos die Jode dit gedoen het. Sy was ’n besigheidsvrou en het ’n materiaalwinkel gehad. Die Here het haar gehelp om mooi aandag te gee aan dit wat Paulus gesê het. Sy het alles geglo wat Paulus gesê het en het ook haar lewe vir Jesus gegee.

15 Daarna is sy gedoop*, en ook almal wat in haar huis gebly het. Lidia nooi toe vir Paulus-hulle uit en sê: “Julle kan mos sien dat ek nou ook vir Jesus lief is. Kom bly asseblief nou ’n rukkie in my huis. Dit sal vir my lekker wees as julle my gaste kan wees.” Paulus-hulle het dit gedoen.

Joubert, S. (2000, c1999). Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan. Includes glossary. (Ac 16:6-16). Vanderbijlpark: Carpe Diem.

WOORDSPELETJIE
Die kern van die verhaal van Lidia word opgesom van bo na onder in die grys gemerkte area.
Die woorde wat van bo na onder ingevul moet word…

  1. Die sendeling in die verhaal.
  2. Die plek waar die vroue altyd ontmoet het.
  3. Wat hulle daar gedoen het.
  4. Die stad waar Lidia tot bekering gekom het.
  5. Paulus-hulle word genooi om dit te wees in Lidia se huis.
  6. Lidia se beroep.
  7. Die skrywer van die verhaal van Lidia.
  8. Die het met Lidia en haar huisgesin gebeur nadat sy geglo het.

Preekriglyn

Dink aan ‘n keer toe jy gevoel het dat jou geloof jou in konflik bring met hoe mense dink en hoe dinge in die algemeen gedoen word; toe jy soos ‘n vreemdeling gevoel het wat nie gemaklik inpas by die wêreld nie. Of dink aan ‘n keer toe julle as gemeente iets moes doen wat julle onwelkom gemaak het in die breër gemeenskap.

Is dit maklik of is dit moeilik om te dink aan so ‘n voorbeeld?

Een van die kenmerke van ‘n geloofsgemeenskap wat getrou is aan hulle roeping, is dat hulle verstaan dat hulle anders as die wêreld is. Hulle is anders omdat hulle deel het aan die lewe en die dood en opstanding van Jesus Christus. Hulle is “nuwe mense”, en hul veranderde lewe en denke bring hulle in spanning met hulle lewenswêreld.

Tog is dit eintlik makliker, en selfs veiliger, om min of meer te praat soos almal praat en te doen soos almal doen. Dit is ook soms makliker om net stil te bly en weg te kyk. Hoekom sal ek nou die lewe vir myself moeiliker maak? En hoekom sal ons as gemeente die gevaar loop om mense te verloor of ongewild te word?

Doelbewus anders

Christene is egter mense wat doelbewus daaraan werk om “te leer hoe” om anders te wees as die wêreld. Hulle wil uitvind hoe werk ‘n alternatiewe gemeenskap. Hulle wil leer hoe dra jy ‘n sterk, hoopvolle getuienis in ‘n wêreld wat lyk of dit maar net aangaan volgens natuurlike wetmatigheid. Hulle weet dat hierdie wêreld eintlik wag op die goeie nuus dat ‘n bevrydende ingryping plaasgevind het.

Die vroue by die rivier hoor die verhaal van hoe God ingegryp het. Lidia word in haar hart gegryp; sy kom tot bekering deur die geheimenisvolle werk van die Heilige Gees.

Hart geopen

Die Here het haar hart geopen. “Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak.” Die woord “open” speel ‘n belangrike rol:

  • Iemand wys daarop dat Lukas dieselfde werkwoord gebruik in die verhaal van die Emmausgangers wanneer Jesus hulle “verstand open” om die Skrif te verstaan (Luk 24:45).
  • In Handelinge 17:3 word die woord ook gebruik waar Paulus die Skrif uitlê.
  • Met ‘n effens ander woord word gesê dat die deure van die tronk oopgemaak word (Hand 16:26-27).

God se reddende werk word aangedui met die woord “open”: By Lidia word haar hart, die sentrum van haar gevoelens, gedagtes, besluite en houding teenoor God oopgemaak, met die gevolg dat sy nou ag gee op wat Paulus sê (vgl Hand 8:6, 10-11). Bekering volg, soos ook elders in Handelinge, op die vinnige luister na die interpretasie van die Skrif met ‘n oop gemoed.

Ons moet hierdie woorde só verstaan dat hoewel die woorde van die boodskap Paulus s’n was, die inisiatief van God gekom het. Paulus se prediking was nie in sigself effektief nie; die Here het daardeur gewerk. God het wel gekies om deur Paulus se verkondiging of vertelling te werk.

Leier

Sommer gou, eintlik baie gou, word Lidia ‘n leiersfiguur in die Jesusbeweging. Sy word ‘n lewende voorbeeld en ‘n praktiese getuie. Sy word ‘n beskermpersoon van die geloof in Jesus.

Nadat Lidia se hart geraak en haar verstand oopgemaak is, verander haar lewe. Sy gebruik die gawes wat God aan haar toevertrou het om die koms van die heerskappy van Christus te dien.

Verskeie vroue  het destyds opgetree as weldoeners en beskermpersone in die destydse sosiale strukture van die Romeinse Ryk. Die groei van die Christelike kerk is gedien deur hierdie vroue wat dit beskerm en gekoester het.

Impak van vroue

Lidia is ‘n voorbeeld hiervan. Die eerste lesers van hierdie vertelling sou Lidia en ander verstaan het as belangrike en invloedryke lede van die vroeë Jesusbeweging. Hulle sou bewus wees van hoe Lukas die sosiale en kulturele grense van die Romeinse Ryk uitgedaag het deur die lyne tussen weldoener en diegene aan die ontvangkant te vervaag:

  • Paulus het ‘n nagtelike visioen gehad van ‘n “man” wat hom vra om te kom help.
  • Wanneer sy geselskap in Filippi arriveer, tref hulle egter ‘n groep “vroue” aan by die plek van aanbidding. Die Here maak Lidia se hart oop vir die goeie nuus van die evangelie van Christus en uiteindelik word sy die een wat uitnooi (parekalese) en oorreed (parebiasato) – soos vroeër in die verhaal die man in Paulus se visioen gedoen het (vgl dieselfde woord wat gebruik word in 9).

Teoloë soos Beverly Roberts Gaventa en Justo Gonzalez merk op hoe passief Paulus in die verhaal is en hoe aktief God en Lidia is. Hierdie is ‘n onverwagse werk van die Gees. Nie net is dit ‘n vrou wat geïnspireer word nie, maar ‘n sakevrou wat as vroulike hoof van ‘n huishouding, buite die normale sosiale verwagting sou staan. Sy word nie net die eerste Masedoniese bekeerling ná Paulus se visioen nie, maar sy huisves ook later die groep volgelinge van Jesus wanneer hulle uit die tronk kom (Hand 16:40). Sy beweeg baie vinnig van bekeerling tot invloedryke “beskermvrou” en weldoener van die Jesus-volgelinge. Die Gees werk nie in ooreenstemming met gewone, menslike, sosiale verwagtinge nie.

Drie risiko’s

Lidia se opofferings het ‘n risiko vir haar ingehou. Watter risiko’s is ons bereid om te neem?

Hier is sprake van ten minste drie risiko’s wat vir ons geld:

Boodskap as risiko
Die eerste het te doen met die boodskap self: Dit was onfatsoenlik vir ‘n gekultiveerde mens om te glo dat die liggaam vir God belangrik is en dat die mens Jesus uit die dood opgestaan het en die Here is. Lidia sou in konflik kom met die mense by die huis as gevolg van haar verhouding met Jesus, waarin die Heilige Gees haar gebring het.

Die tweede botsing het te doen met die aard van die geloofsgemeenskap: Dit was nie vanselfsprekend dat ‘n vrou ‘n prominente rol kry in ‘n geloofsgemeenskap nie.

Strukture as risiko
Wanneer Lukas hierdie storie vertel, gebruik hy ‘n pragtige tegniek om egter juis dít te beklemtoon. In Paulus se visioen (9) is dit ‘n man wat by hom pleit om ‘n grens oor te steek. Nou is dit Lidia (15) wat by die evangeliste pleit en hulle oorreed om ‘n grens oor te steek en by haar tuis te gaan. Sy word die een wat die nuwe gelowiges onder haar vlerk neem (40).

Wat het dit te sê vir ons patriargale maniere van dink en lewe, ook in die kerk en in gemeentes? Is ons bereid om op hierdie punt, getrou aan wat die Handelinge verhaal suggereer, risiko’s te neem?

Prentjies van God as risiko
Dalk moet ons hier ook bewus word van ‘n derde botsing met die kultuur van baie moderne gemeentes. Dit is duidelik in die teks dat dit God is wat (weliswaar op verskillende maniere) aktief en dinamies werk. Die Gees lei Paulus deur ‘n gesig in die nag, nadat die Gees hulle “verhinder het” om die evangelie in Asië te verkondig (6) en nadat die Gees hulle “nie toegelaat” het om na Bitinië te gaan nie. Die Here maak Lidia ontvanklik vir Paulus se woorde.

Dit klink vanselfsprekend dat ‘n geloofsgemeenskap ingestel sal wees op die dinamiese werking van die Here en die Gees, maar dit is nie. Gemeentes kan baie gou begin dink die gemeente is “ons gemeente”, en dat gesonde gemeentewees bloot afhang van harde en getroue mensewerk.

Hulle dink dan prakties gesproke aan God, eintlik as op ‘n afstand en onbetrokke, en aan die Woord as vas en onbeweeglik. In die verhaal van Lidia se bekering sien ons ‘n prentjie wat bots met ‘n gemeentekultuur soos hierdie. Die Gees is die Here wat lewend maak.

Hoe sal my lewe lyk, en hoe sal die gemeente wees, as ons met minder vrees vir konflik die boodskap van die lewende Christus wat ons ontvang het getrou navolg?

God stuur ons om te leef

Gebed 
Here, kom skyn met u Paasfeeslig in elke donker hoekie van ons bestaan.
Christus, kom tot binne in die geslote kamers van ons foute en skenk aan ons hoop en genade.
Here, vul ons met vrede sodat ons die Goeie Nuus van genade en vergifnis kan verkondig.
Aan God al die eer.
Amen.
(c) 2016 Thom M. Shuman

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
God sal ons genadig wees en ons seën,
Hy sal tot ons redding verskyn
sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
Laat die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! Amen ( uit Ps 67:2-4).
of
Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: ©Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.