Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag in Paastyd se Latynse naam vanuit die kerktradisie is rogate (“roep”). In die Handelingeteks kom hierdie tema duidelik na vore waar Paulus en sy reisgeselskap in ‘n visioen geroep word na Filippi waar Lidia en haar familie tot bekering kom nadat sy na hulle geluister het.

Die tema van die doop – ook as roeping tot God se kinders en volgelinge – is wel een wat deur al hierdie tekste opgetel kan word en ‘n rol kan speel in die liturgie van hierdie Sondag. In die sleutelteks uit Openbaring lees ons dat die diensknegte van God en die Lam in die nuwe bedeling God se Naam op hulle voorkoppe sal dra. In die teks in Handelinge lees ons dat Lidia en haar hele familie gedoop is nadat sy tot bekering gekom het. Psalm 67 is grotendeels ‘n seënbede oor die sprekers, maar terselfdertyd lofprysing aan God, en dit sluit af met die hoop dat die seën wat hulle ontvang iets van God aan die hele aarde sal weerspieël – iets wat ons ook hoop ons doop, en gevolglike lewe, sal doen. Uiteindelik, in die Johannesteks, belowe Jesus die Heilige Gees aan die dissipels – die doop is vir ons die bevestiging dat die Heilige Gees ook in ons woon en werk.

Sleutelteks

Openbaring 21:10, 22-22:5

Die nuwe Jerusalem
9Daarop het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou, gekom en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”

10Hy het my toe deur die Gees na ‘n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het.

11Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van ‘n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder jaspis. 12Die stad het ook ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. 13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. 14Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf apostels van die Lam.

15Die engel wat met my gepraat het, het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. 16Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. 17Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. 18Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos ‘n skoon spieël. 19Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier:

die eerste fondament met jaspis,
die tweede met lasuursteen,
die derde met chalcedoon,
die vierde met smarag,

20die vyfde met sardoniks,
die sesde met karneool,
die sewende met chrisoliet,
die agtste met berilsteen,
die negende met topaas,
die tiende met chrisopraas,
die elfde met hiasint
en die twaalfde met ametis.
21En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas.

22‘n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. 23Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp. 24En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring. 25Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie. 26Hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies na haar toe bring. 27En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.

221Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. 2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies. 3Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. 4Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. 5Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.

Wederkoms van Jesus Christus

6Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.”

7“Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”

8Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. 9Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” 10Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. 11Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.”

12“Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. 15Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.”

17En die Gees en die bruid sê:
“Kom!”
En laat elkeen wat luister, sê:
“Kom!”
En laat elkeen wat dors het,
kom.
En laat elkeen wat dit begeer,
die water van die lewe kom kry, verniet!

18Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor:
“As iemand iets hieraan toevoeg,
sal God die plae waarvan
in hierdie boekrol geskryf is,
aan hom toevoeg.
19En as iemand van die woorde
van die boekrol van hierdie
profesie wegneem,
sal God sy aandeel
aan die boom van die lewe,
en aan die heilige stad
waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.”
20Hy wat hierdie dinge getuig, sê:
“Ja, Ek kom gou!”
Amen! Kom, Here Jesus!

Seëngroet
21Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.

Ander tekste

Handelinge 16:9-15
9Daar het Paulus in die nag in ’n gesig ’n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering
11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, ’n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”
En sy het ons oorreed om dit te doen.

Psalm 67
Vir die koorleier: met snarespel. ’n
Psalm. ’n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet Hom eer.

Johannes 14:23-29
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.

Ekstra stof

Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:9-27
Een van die sewe engele met die sewe bakke wys dan vir Johannes die bruid, die vrou van die Lam.
In ‘n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ‘n beskrywing van God se heerlikheid is. Haar glans is dié van kristalhelder jaspis soos in Openbaring 4. Sy is veilig omdat daar ‘n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas. Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl. Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor. 3:10).

Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.

Weereens word ‘n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openb. 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.

Die stad vorm ‘n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is. Die 12 000 km (soos die N.A.V. dit vertaal) is eintlik in die grondteks 12 000 stadion. Dit beteken dit is ‘n 2 220 km kubus (‘n stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is nie. Netso is die muur eintlik 65 m hoog – die grondteks sê dat dit 144 el hoog is en ‘n el is 45 cm lank.

Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!). Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig. Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom. Die son en maan is oorbodig, want God is daar. Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.

Die heerlikheid van God
Die heerlikheid van God is ‘n ontsagwekkende kaleidoskoop van kleure. Johannes sê in Openbaring dat Hy die voorkoms het van ‘n kristalhelder Jaspis – groen. Op ‘n ander plek sê Johannes dat God ook die voorkoms van Karneool het – rooi. Trouens, rondom sy troon is ‘n reënboog of “halo” (iris) wat soos smarag (σμαράγδινος) skyn – ook groen (Openb. 4:3).

Daarmee word natuurlik ‘n verband gelê met die OT teken van die reënboog (qěšě) met sy betekenis as ‘n teken van die verbond van God met die aarde en almal daarop om nie weer die hele aarde met water te vernietig nie (Gen. 9:12-17).

Esegiël beskryf sy troon as gebou van saffiere – blou – en sy voorkoms soos blinkende brandende metaal: “Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ‘n wolk na die reën.” (Eseg. 1:22-28). Soos Moses dit ook in Eksodus doen: “onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self.” (Eks. 24:9)

Let op dat dit die primêre kleure is waarmee alle fotograwe werk, RGB, Rooi-Groen-Blou. Die beskrywing van God hou ook verband met die primêre kleure van die verf waarmee kunstenaars werk: rooi, geel, blou. Maar hier is dit veral die primêre kleure van lig wat in fokus is.

Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem
Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem eggo God se heerlikheid, want die belangrikste boustof van die mure is ook jaspis. Die stad is verder van suiwer goud gebou. Die glans daarvan is soos suiwer glas of kristal.

Die fondamente van die stad is versier met edelgesteentes, twaalf van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, moontlik omdat wanneer suiwer lig daarop hulle val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne.

Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie, maar iets wat sin maak uit ons kennis daarvan vandag. Dit is waarskynlik wel ‘n getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.

Hier is die 12 edelgesteentes waarmee die fondamente versier is, die fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan:

  1. JASPIS (ασπις) – groen – die hele stad Jerusalem is van jaspis gebou (Openb. 21:10-11), maar dit is ook die eerste edelgesteente op die fondamente (Openb. 21:19);
  2. SAFFIER (σάπφιρος) – blou (Openb. 21:19);
  3. AGAAT (χαλκηδών) – melkerig grys (Openb. 21:19);
  4. SMARAG (σμάραγδος) – groen (Openb. 21:19);
  5. SARDONIKS (σαρδόνυξ) – wisselende kleure (Openb. 21:20);
  6. KARNEOOL (σάρδιον – Sardius) – rooi (Openb. 21:20);
  7. CHRISOLIET (χρυσόλιθος) – geelgoud (Openb. 21:20);
  8. BERIL (βήρυλλος) – blou of groen (Openb. 21:20);
  9. TOPAAS (τοπάζιον) – geel (Openb. 21:20);
  10. CHRISOPRAAS (χρυσόπρασος) – groen (Openb. 21:20);
  11. HIASINT (άκινθος) – blou (Openb. 21:20);
  12. AMETIS (μέθυστος) – pers of violet (Openb. 21:20).

En dan is daar nog die poorte van die stad wat elkeen uit ‘n kosbare massiewe pêrel gebou is en die strate van goud wat so deurskynend soos glas is.

Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem – Openbaring 22:1-5
Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met:

  • ‘n prentjie van die utopiese karakter van die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorspronklike paradystuin van Eden in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ‘n boom metafoor werk – vers 1-5 en
  • ‘n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ‘n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek – vers 6-21.

Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER so helder soos kristal, wat lewe gee.

Hierdie water loop soos ‘n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy maandelikse vrugte en oorvloed blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat ‘n mens ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ‘n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.

In dié Utopia, hierdie Eden, sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar: “Geen vloek sal daar meer wees nie.” In die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef. Die vloek van die sondeval van Genesis 3 is opgehef.

Sy Naam sal op hulle voorkoppe geskryf staan. En hulle saam met Hom vir ewig as konings leef.

Die Here Jesus Christus kom verseker weer – Openbaring 22:6-21
Johannes sluit die boek af met ‘n versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms in ‘n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring.

Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ‘n besondere krag: vers 7, 12, 20: “Kyk, Ek kom gou!”.

Dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”

Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.

Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ‘n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ‘n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ‘n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ‘n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.

Die beloning van die Here Jesus dui nie op ‘n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ‘n verhouding met Hom lewe wat loon sal insluit. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars –  ‘n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.

Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die Wortel en Nakomeling van Dawid (vgl Jes. 11:1), die helder Môrester (Num. 24:17).

Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ‘n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is, ondervind nie, maar ook uit die Boek van die Lewe uitgeskryf word.

Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ‘n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ‘n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 587 of VONKK 90

Votum: (Openbaring 1:8)

Seëngroet: (Openbaring 1:4-5)

Lofsang: Psalm 67 of Lied 547 of Lied 195 of Flam 142

Verootmoediging: Johannes 14:23-29

Toewyding: Lied 601

HOOR 

Gebed

Skriflesing: Openbaring 21:10, 22-22:5

Familie-oomblik
Preek 

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 602 of Flam 481 

Seën: (Openbaring 21:20-21)

Respons: Lied 601 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die Christuskers word aangesteek. Blomme kan ingebring word om die feestelikheid van die Paastyd te beklemtoon.

Toetrede
Lied 587 “Kyk, Hy kom!” Wag, laat ons luister “of
VONKK 90 Maranata!

Votum: (Openbaring 1:8)
“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

Seëngroet
(Openbaring 1:4-5)
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus Christus,
die betroubare getuie,
die Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.
of
V: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie.
G: Die Eerste wat uit die dood opgestaan het.

V: Die Heerser oor die konings van die aarde.
G: Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos,

V: en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.
G: Aan Hom behoort die heerlikheid en krag tot in alle ewigheid!

Almal: Amen.

Lofsang
Psalm 67 of
Lied 547 “Alle volke, klap julle hande” of
Lied 195 “U, o God, wat ewig op die troon is” of
Flam 142 Kom, Jesus, kom!

Verootmoediging: Johannes 14:23-29
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.

Toewyding
Lied 601 Dié wat die Here wil dien

Liedere

F142. “Kom, Jesus, kom! “
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

F481. “Ek Sien ’n Nuwe Hemel Kom”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en voleinding)  Teks: Izak de Villiers 1978;  Geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers
Musiek: Retief Burger Kopiereg: © Urial Publishing (Opgeneem op Luidkeels Dieper)
Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry.
Die see en al wat skei verdwyn, God kom by ons bly.

Vers2:
Die nuwe stad Jerusalem daal uit die hemel neer.
Skoon soos ’n bruid in heerlikheid, geliefde van die Heer.

Koor:
Kyk, Hy kom (die Hemelkoning kom vir ons).
Kyk, Hy kom (’n glorieryke wederkoms).
Kyk, Hy kom (die bruid deur al die eeue sing): Jesus kom!

Vers3:
Die Heer droog al die trane af. Verby is droefheid, dood.
Ja, pyn en smart wyk uit die hart; ons moeite, angs en nood.

Vers4:
“Kyk Ek maak alles nuut,” sê God. “Laat hom wat dors het, kom,
en hy sal vind, hy is my kind. Ek is ‘n God vir hom”.

Koor:

Brug:
Oorwinnaars, sal ons alles erf.
Oorwinnaars, drink uit die fontein
van lewenswater, heerlik, rein en God sal oor ons skyn. (x2)

Einde:
Jesus kom, Jesus kom…

VONKK 90 “Maranata! “
Nav I Korintiërs 16:22b
Teks: Jannie Hougaard 2004 ©
Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Openbaring 21:10, 22-22:5

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

As julle hierdie hele reeks lank Openbaring se “kodes” ontsyfer het (kyk 8 Mei se Preekriglyne), dan kom daar vandag nuwe kodes by, wat volgens Carolyn Brown nogal moeilik is om uit te pak, soos die boom wat vrugte dra en die rivier met kristalhelder water. Brown stel voor dat jy gewoon vra of dit na ‘n goeie of slegte plek klink om te woon. Wat laat dit goed of sleg klink? Wie is in beheer? Hoe help dit Christene wat nou swaarkry?

‘n Ander lekker opsie, wat die volwasssenes ook sal geniet, is dat jy prente van al die stene wat in die teks genoem word, wys. Hierdie prente kom ook van Carolyn Brown af.

John Stevens praat oor die lig wat van die sentrum van die stad, van die Lam af kom, dat daar nie meer lig van die son af nodig is nie. Hy praat oor mense wat lyk asof hulle “gloei” (wat ‘n “glow” het) en hoe Jesus ons lig is, asook hoe ons Jesus se lig kan laat skyn. Die simbool van die glowsticks wat hy gebruik, sal die kinders baie geniet. Grootmense sal die gedagte dat glowsticks eers gloei wanneer dit gebreek word, waardeer. Vind meer by Stevens se blog.

Preekriglyn

Dit lyk of vloed en droogte deel van ‘n nuwe weerpatroon in ons land is.

Ons leef in ‘n waterskaars land met uiterste temperature en wisselvallige reënval. Afrika suid van die Sahara is in gevaar. Droogtes is algemeen. Ons sien die nuusopskrifte: “Diere kry swaar op die plase”; “Boere spuit bloeisels af om bome te red”; “Werksgeleenthede is verlore”. Opeenvolgende droë jare breek mense se moed. In die droë seisoen ontstaan veldbrande wanneer weerlig slaan of rotse val. Ons ekosisteem is goed aangepas by vuur, maar vanweë mense se onverskilligheid en soms ook moedswilligheid, brand dit te veel en lei mens en natuur groot verliese.

Dan sien ons weer die skade wat vloedwater kan aanrig. In KwaZulu-Natal en voormalige Transkei het water enorme lewensverlies en beskadigde infrastruktuur veroorsaak. Terwyl alles op een kol wegspoel, is daar steeds dele van ons land waar daar nie drinkwater is nie. Damme is leeg, terwyl ander verdrink.

Stad en rivier

Teenoor die beelde van ‘n oorspoelde of verskroeide aarde, ontvang Johannes die Ou-Testamentiese beelde van Esegiël 47 op ‘n nuwe, wonderlike manier. Hy sien hoe die nuwe Jerusalem van God af kom uit die hemel (Op 21:10). ‘n Rivier met water so helder soos kristal stroom uit die troon van God.

Tussen die hoofstraat van die stad en die waterstroom staan die boom van die lewe, ‘n boom wat elke maand vrugte dra. Die boom se blare bring genesing. Dit is ‘n geneesmiddel nie net vir Israel nie, maar vir ál die nasies. Niks wat vervloek was, is nou meer vervloek nie. Die troon van God en die Lam is gevestig in die stad. Die mense dien God. Hulle sien God.

Die tyd dat niemand vir God kon sien en bly leef nie, is nou verby (Eks 33). God se Naam is op die mense se voorkoppe. Die merk van die dier is weg. Die dier is oorwin. Die Here God verlig die stad en die mense deel in die oorwinning oor die donkerte.

Engel

Aan die begin van die Bybel lees ons hoe ‘n engel van die Here die mens uit die tuin van Eden verdryf. Die engel het ‘n swaard. Hy verdryf hulle van die paradys af in ‘n onveilige wêreld in, ‘n wêreld vol vyande, uitdagings, droogtes, vuur. Aan die einde van die Bybel neem ‘n engel van die Here vir Johannes na ‘n plek van waar hy die stroom van lewende water kan sien, asook die boom van die lewe wat genoeg kos gee en genesing bring vir al die volke.

Vandag én eendag

Dit is goed om te kan uitsien na eendag wanneer God alles hier nuut sal maak; na die dag van die Here wanneer die bome in vrugbare grond sal staan om vir altyd vrug te dra; na die dag wanneer die blare van die boom genesing vir alle volke sal bring.

Maar wat van nou – hier waar miljarde ton kosbare bogrond, wat honderde jare neem om te vorm, elke jaar verlore gaan, en waar goed so mikroskopies klein soos virusse hele nasies bedreig en verwoesting in hospitale en huise saai?

Wat van nou waar vloedwaters verwoes of droogte mens, dier en natuur laat versmag?

Die mense met wie Johannes sy visioen gedeel het, het ook hierdie soort vrae gehad – dit is nie nuwe vrae nie. Johannes deel met hulle, in aansluiting by die profeet Esegiël, die beelde wat hy ontvang het van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde (Op 21) en van die nuwe Jerusalem waar die “troon van God en van die Lam” gevestig word (Op 22). Hy inspireer hulle om met hoop en verwagting te leef. Die oue is verby. Die nuwe het gekom. En dit alles is die werk van God (2 Kor. 5:17).

Sou die mooi prentjie van die kristalhelder water en die rustige boom met sy genesende blare hulle passief maak? Nee, want hulle het geweet die Christelike geloof is nie ‘n “eendag”-geloof nie. Dit is nie ‘n eensydige “hemel”-geloof nie.

Die Christen-martelaar Dietrich Bonhoeffer skryf uit die tronk aan sy vriend Eberhard Bethge dat dit ‘n fout is om die boodskap van Christus te verstaan as ons bevryding van sorge, spanning, vrese en verlange. Die verskil tussen die Christelike hoop en mitologiese hoop is dat eersgenoemde ons na ons lewe op aarde terugstuur, wel op ‘n heel nuwe manier. Christene het geen ontsnappingsroete direk vanuit aardse take en moeilikhede na die ewigheid nie. Soos Christus moet ons die aardse beker leeg drink. Juis wanneer ons dit doen, is die gekruisigde en opgestane Jesus met ons, word ons saam met Hom gekruisig en staan ons saam met Hom op. Christus lê beslag op ons in die sentrum van ons bestaan.

Ons verwagting en hoop op Christus vir eendag, stuur ons terug na vandag. Dit stuur ons moedig terug na vandag. Christus het immers reeds gekom. Die “Lam” se liggaam is reeds gebreek. Terwyl ons nou in die laaste dae leef, wag ons aktief op die nuwe stad en die helder rivier. Deur die Gees neem ons reeds deel aan wat Christus kom doen het. Die Naam van God is reeds op ons voorkoppe geskryf. Ons deel reeds in die oorwinning oor die sonde en die dood.

Daarom kan ons stry, onsself verset teen dit wat verkeerd en swaar en sleg is, en ons bes doen om saam tekens op te rig van die nuwe skepping met vrugbare grond, wonderlike lig, helder water, en harmonie tussen mense en tussen mens en natuur.

God doen dit

Dit is gerusstellend om te weet ons is nie die stigters van God se koninkryk op aarde nie. Die stad daal van God af neer; die rivier stroom uit sy troon; die Vader het die Seun opgewek; “dit alles is die werk van God”. Ons kry wel daaraan deel. Daarom hoef ons nie moedeloos te bly nie; deins ons nie terug nie; vlug ons nie weg nie; is ons gretig om aan die werk te spring; raak ons kreatief.

Daar is, met ander woorde, betekenisvolle en kragtige dinge aan die gang terwyl ons wag. Coenie Burger skryf hieroor in sy boek oor Openbaring, Oop deure:

  • Ons het sekerheid oor ons toekoms saam met God. Dit verdryf die wanhoop.
  • Ons kry energie om iets van die toekomstige lewe sigbaar en waar te maak. (As almal – alle volke, alle kerke – byvoorbeeld eendag saam gaan aansit by die bruilofsmaaltyd van die Lam, wil ons dit nou al begin oefen.)
  • Ons ontspan. God verwag nie van ons om die Romeinse Ryk omver te werp nie; daardie druk is nie op ons nie. God vra wel gehoorsaamheid en getrouheid.
  • Ons ontvang perspektief oor wat nou meer en minder belangrik is. Ons kan onderskei waarop dit werklik aankom. Ons kan ons prioriteite uitsorteer en besluit waarop ons moet fokus en wat minder waarde het of selfs waardeloos is.
  • Ons kan aanhou om God te aanbid, en om te vra en te beaam soos die Openbaringboek eindig: “Kom, Here Jesus.”
Bose vernietig

In die Leesrooster se Evangelieteks vir vandag hoor ons Jesus sê dat die “owerste van die wêreld” geen mag oor Hom het nie (Joh. 14:30). In Johannes se beskrywing van sy visioen of openbaring hoor ons dieselfde. Die mag van die owerste van hierdie wêreld is finaal vernietig. Dit het rééds gebeur. Die dood ís oorwin. Ons kán dus met hoop en moed leef. Ons lewe behoort immers nie aan onsself nie, maar aan ons getroue Saligmaker, Jesus Christus (Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 1).

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” of
Flam 481 “Ek Sien ’n Nuwe Hemel Kom”

Seën
(Openbaring 21:20-21)
Voorganger: Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!”
Gemeente: Amen! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.
Gemeente: Amen

Respons
Lied 601 refrein: Stil maar, wag maar, alles word nuut – die hemel en die aarde

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.