Sesde Sondag van Paastyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 15:9-17
Ander tekste: Handelinge 10:44-48; Psalm 98; 1 Johannes 5:1-6

Inleiding

Die sleutelteks Johannes 15:9-17 beskryf ’n liefdesatmosfeer waarbinne die dissipels geroep word om te leef.

In Handelinge 10:44-48 sien ons dat Petrus en Kornelius, wat hemelsbreed van mekaar verskil, tog albei deel was van God se plan. So het verskillende mense, gelowiges en ongelowiges, mekaar nodig om God beter te leer ken.

Psalm 96 roep die gemeente op om ’n nuwe lied te sing ter viering van die oorwinning wat die Here as Koning behaal het.

1 Johannes 5:1-6 beklemtoon dat elkeen wat ingeplant is in Jesus Christus deel van God se huisgesin word. Net God bepaal wie die ander gesinslede is, nie ons nie, ons taak is om almal lief te hê.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.
Gemeente: Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here!

Voorganger: Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.
Gemeente: Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here!

Voorganger: Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.
Gemeente: Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here!

Voorganger: Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing!
Gemeente: Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here, die Koning.

Voorganger: Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers, Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.
Gemeente: Sing tot eer van die Here (Ps 98).

Seëngroet
Die Here groet julle vanoggend soos Jesus sy dissipels kort na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle!” (Wepener, C 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, Bybelmedia

Diens van die Woord

Familieoomblik
Kinders gaan sukkel om die sleutelteks te volg, kies daarom eerder ’n enkele gedagte en praat daaroor.

  • Wys vir kinders prente van Jesus se bediening hier op aarde en help kinders om te identifiseer op watter maniere Jesus vir mense lief was in daardie prent.
  • Gesels oor die maniere waarop ons vandag in soortgelyke situasies mense kan liefhê (Joh 15:12).
Diens van die tafel

Geloofsbelydenis uit die Evangelie van Johannes
Voorganger: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Verskeie karakters in Johannes se evangelie getuig oor wie hierdie Woord is. Kom ons neem vandag weer ’n paar van hulle getuienisse op ons lippe: In die woorde van Johannes die Doper wat moes getuig van die lig:
Gemeente: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggeneem het.”

Voorganger: In die woorde van Andreas, die eerste dissipel van die lig:
Gemeente: “Ons het die Messias gekry!”

Voorganger: In die woorde van Filippus:
Gemeente: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die Wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

Voorganger: In die woorde van Natanael wat twyfel of daar iets goeds uit Nasaret kan kom:
Gemeente: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel.”

Voorganger: In die woorde van die vrou by die put wat in die lig van die middagson wegkruip:
Gemeente: “Is Hy nie miskien die Christus nie?”

Voorganger: In die woorde van die Samaritane:
Gemeente: “Ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Vervolg
Voorganger: In die woorde van die skare na die vermeerdering van die brood:
Gemeente: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Voorganger: Ook in die woorde van Petrus:
Gemeente: “U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en weet dat U die Heilige van God is.”

Voorganger: Maar later in die woorde van mense by die huttefees hoor ons al dat nie almal genees is van hulle blindheid om die lig te sien nie. Daar sê sommiges:
Gemeente: “Hy is ’n goeie man.”
Maar ander het gesê:
“Hy mislei die mense.”

Voorganger: Ook in die woorde van ander mense op die laaste dag van die huttefees hoor ons die teenstrydige belydenis. Sommige sê:
Gemeente: “Hy is die Christus.”
Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie?”

Voorganger: Maar in die woorde van die man wat blind gebore is, deur Jesus op ’n Sabbatdag genees en deur die Fariseër ondervra is, hoor ons:
Gemeente: “Of Hy ’n sondaar is, dit weet ek nie.
Een ding weet ek wel:
ek was blind, en nou sien ek.”

Voorganger: Deur Jesus se tekens het sommige gesien en geglo, maar ander kon nie sien nie en ook nie glo nie. Tog bevestig Jesus teen die einde van hoofstuk 12: “Wie in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”
(Wepener, C 2014. Van voor die wieg tot na die graf. Wellington: Bybelkor.

Uitsending

Voorbidding
Gebruik die volgende vrae en antwoorde as riglyne vir voorbidding:

  • Wat maak vriendskappe lekker?

Gebruik hierdie antwoorde om dankie te sê.

  • Wanneer moet ons God en ons vriende om vergifnis vra?

Gebruik hierdie antwoorde as skuldbelydenis vir die manier waarop ons faal om lief te hê.

  • Wat maak vriendskappe moeilik?

Gebruik hierdie antwoorde as toewyding.

Musiek en sang

Aanvangsliedere: Lied 511 “Lei U ons, Lig”
Lofsang: FLAM 144 “God is Liefde”; Jeugsangbundel 57 “Saam wil ons die Here”; Lied 169 “Heilig, heilig, heilig”
Diens van die Woord: Lied 253 “U het die brood gebreek”
By die tafel: Lied 266 “Ons Vader”
Uitsending: Halleluja 444 “Wat ’n vriend het ons in Jesus”

Preekstudie: Johannes 15:9-17

Inleiding

Die einde van Jesus se lewe is naby. Sy lang afskeidsgesprek is in hoofstuk 14-16 aangeteken, met Jesus se gebed vir sy dissipels in hoofstuk 17, en hoofstuk 18 oor die verraad teen Jesus en sy arrestasie.

Hierdie Skrifdeel begin die tweede deel van Jesus se afskeidsgesprekke (15:1-16:33). Die doel is steeds die versterking van die geloof van die dissipels en aansporing om die opdragte van die Here getrou uit te voer. Johannes 15:1-8 benut die alledaagse beeld van druiweboerdery om die intieme verhouding tussen Jesus en sy volgelinge te beskryf. Dan volg die herhaalde opdrag om mekaar lief te hê (15:9-17) en die waarskuwing dat hulle deur die wêreld gehaat sal word (15:18-16:4). Die Voorspraak sal die wêreld oortuig van sonde (16:5-11) en die gelowiges op die pad van waarheid lei (16:12-15). Die kortstondige droefheid sal plek maak vir volle blydskap (16:16-24). ’n Laaste woord verseker die dissipels van die uiteindelike oorwinning (16:25-33).

Die gesprek in 15:1-17 bestaan uit twee dele met twee temas in noue verband tot mekaar: Die wynstok en die lote, met die gevolglike opdrag aan die dissipels om mekaar lief te hê. Kommentatore verdeel die twee dele verskillend: 1-6, 7-17 (Brown; Whitacre); 1-8, 9-17 (Bultmann; Rohr; Wright); 1-10, 11-17 (Borig; Groenewald; Barclay ); 1-11, 12-17 (Schnackenburg; Burge; Bruce). Dit maak nie regtig ’n wesenlike verskil aan die boodskap waar die verdeling gemaak word nie.

In die eerste verse van die hoofstuk vertel Jesus die Vader is die landbouer en Hyself die wingerdstok, met die dissipels die lote. Dan beveel Jesus sy dissipels: “Bly in My en Ek in julle. Julle kan nie vrugte dra as julle nie in My bly nie.”

Vers 9 wyk af van die taal in die wingerdstokbeeld, maar die saak bly dieselfde. Soos die Vader Jesus liefhet en ondersteun, so het Jesus die gelowiges lief. Hierdie woorde beskryf ’n sterk verhouding tussen die Vader, die Seun en sy dissipels. Die dissipels moet in hierdie liefde bly. Dit moet die ruimte word waarbinne die gelowiges leef. Hulle moet liefde dink, voel en doen, in besonder in hulle verhouding met mekaar.

Teks

Vers 9 – “Bly in” (meinate). Die Griekse woord meno beteken om te woon; te bly op een spesifieke plek.  Waarskynlik ’n plek van veiligheid en stabiliteit – soos by die huis.

Vers 11 – “Sê die dinge sodat julle in My bly en julle vreugde volmaak kan wees.” “Die dinge” verwys na die onmiddellik voorafgaande uitsprake, maar is nie daartoe beperk nie. Dit sluit die daaropvolgende prediking van Jesus in. Alles wat Hy gesê het, is daarop gerig om aan sy volgelinge blydskap te gee. Die woord “blydskap” het tot dusver een maal voorgekom, by monde van Johannes die Doper (3:29). Van nou af praat Jesus sewe maal daarvan (hier twee keer; en 16:20, 21, 22, 24; 17:13).

Vers 12 – “liefde vir mekaar”. Agapate is ’n werkwoord. Dit is Jesus se bevel. ’n Herhaling van Jesus se nuwe gebod (13:34).

Vers 13 – Groter liefde het niemand, as dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. In die Grieks-Romeinse wêreld het mense hoë waarde geheg aan vriendskap. Hulle het die moontlikheid erken dat jy dalk jou lewe sal moet aflê vir die vriend.

Vers 14 – “Julle is my vriende (philoi) as julle doen wat ek julle beveel.”

Grieks het 3 woorde vir liefde: Agape – Liefde gekenmerk deur omgee vir die welwese van ander; Philos – Broederlike liefde (Companionate); Eros – Romantiese of seksuele liefde. In die Nuwe Testament word slegs agape en philos gebruik. Die Johannesevangelie gebruik die twee woorde afwisselend.

Vers 16 – Aangestel ( titheka van tithemi) – “om eenkant te sit”. Die term word ook in Numeri 8:10 gebruik vir die bevestiging van die Leviete en in Numeri 27:18, waar Moses vir Josua aanstel vir sy werk. In Handelinge 13:47 beskryf dit die eenkant sit van die Dienskneg van die Here vir sy bediening as lig vir die nasies (aanhaling uit Jes 49:6), en in 1 Timoteus 1:12 Paulus se afsondering vir sy apostoliese sending.

Vers 16 – “Dra vrugte”. Jesus spesifiseer nie watter vrug gedra moet word nie.

Konteks

Jesus is die ware wynstok (1-17), is die laaste “Ek is”-uitspraak in die Johannesevangelie en die enigste sodanige uitspraak met ’n byvoegsel: “My Vader is die Landbouer.” Die verhouding van Jesus met sy dissipels, die hooftema in die gedeelte, is gebaseer op sy eie verhouding met sy Vader.

Die dissipels staan in ’n intieme verhouding met Jesus (9) en met die Vader (10). Daaruit vloei ’n getransformeerde lewe wat vrug dra. Die gemeenskaplike inwoning van die Vader en die Seun en die Seun en sy dissipels, asook die dissipels met die Vader word omvat in die gemeenskaplike liefde vir mekaar. Hierdie liefde bestaan uit gehoorsaamheid as spontane vreugde en nie pynlike pligpleging nie.

Om “in Jesus” te bly, is ook om in sy liefde te bly soos Jesus in die liefde van die Vader gebly het. Dit beteken om jou te verbly in die werklikheid van sy liefde; te vertrou op die ondersteuning van sy liefde; niks te doen om Hom hartseer te maak nie; te konsentreer op wat Hom vreugde sal verskaf; om sy gebooie te gehoorsaam – net soos Jesus die gebooie van sy Vader gehoorsaam en in sy liefde bly.

Jesus praat van ’n stabiele, veilige en standvastige verhouding: om omring, toegemaak, beskut te wees en versterk te word deur Jesus se liefde. Liefde groei vanuit die Vader en vloei deur die Seun na die dissipels. Deur sy woorde te gehoorsaam, bewys hulle hulle liefde vir Hom. Jesus is met sy hele lewe die voorbeeld van gehoorsaamheid (4:34; 6:38; 8:29; 8:55; 14:31). Die Vader het Jesus lief omdat Jesus sy lewe in gehoorsaamheid aan die Vader aflê (10:17-18). Die Johannesevangelie noem die gehoorsaamheid van Jesus aan sy Vader dikwels (4:34; 6:38; 8:29, 55). Sy gehoorsaamheid bereik ’n hoogtepunt as Hy sy lewe oorgee vir die redding van die mensdom (10:17-18; 12:27-28; 14:31).

Gehoorsaamheid gaan nie oor ’n stel reëls nie. Dit gaan oor die navolg van Jesus se voorbeeld van diens (13:14-17) en uitleef van sy opdrag om mekaar lief te hê (13:34-35; 15:9-17). Jesus roep hulle op tot blydskap, nie doodse gehoorsaamheid nie. Hierdie blydskap hang nie af van ’n luukse omgewing of gerief, wat verander as omstandighede verander nie. Dis die blydskap van ’n gedissiplineerde lewe, soos van ’n atleet wat die vrugte pluk van totale toewyding. Die atleet mag seer spiere en blase op sy voete hê, maar dit weeg nie op teen die blydskap van oorwinning nie!

Die vrede van 14:27 word hier saamgevoeg met “liefde” en “blydskap”. Die blydskap is nie net ’n menslike emosie nie. Jesus noem dit “my blydskap”. Dit is ’n gawe van die Gees in hulle. Dit maak die blydskap bonatuurlik en kosbaar. Dit kan verwys na die blydskap wat Jesus self ondervind, wat kom na voltooide arbeid in gehoorsaamheid aan God. By die dissipels is daar reeds blydskap, maar gemeng met ontsteltenis en droefheid oor die gedagte dat Jesus van hulle weggaan. Nou belowe Jesus aan hulle blydskap wat suiwer, volkome en blywend is. Die blydskap lê in die vrug van die uitvoering van Jesus se opdragte. Deur dit te doen, bly die gelowiges in die liefde van die Here.

In vers 12 word Jesus se bevele tot een bevel gereduseer: “Julle moet mekaar liefhê.” Hierdie opdrag om lief te hê, vat al die wette en profesieë saam/sluit dit in. Wie liefhet, steel of moor immers nie. Daarom kon Augustinus sê: “Leef die liefde en doen wat jy wil!”

Die tema verskuif nou na die karakter van die lewe van Jesus se volgelinge. Jesus verduidelik en beskryf sy eie werk wat Hy ter wille van sy dissipels gedoen het en roep hulle op om Hom na te leef en na te doen. Nadat Jesus die verhouding tussen die wingerdstok en lote beskryf het, fokus Hy op die verhouding tussen, en lewe van “die lote”. Sommige kommentatore reken hierdie 6 verse is die kern van Jesus se afskeidsgesprekke. Die eenheid word omraam deur die bevel om mekaar lief te hê (15:12, 17).

Die liefde wat Jesus beveel het eerder ’n “doen”-karakter as ’n “gevoel”-karakter. Dit vra nie om die handelinge van die ander persoon goed te keur of sy geselskap te geniet nie, maar wel dat ons sal optree in belang van die ander persoon – om ons liefde tasbaar te wys; vir die wat honger is, kos te gee; dorstiges water te gee; vreemdelinge te verwelkom; klere vir armes te gee; siekes te besoek (Matt 25:31-46). Die dryfveer agter die liefde is nie om te baat daarby nie, maar om te gee, te offer!

Jesus beveel sy dissipels hier ’n tweede keer om mekaar lief te hê (vgl 13:34). Hierdie onderlinge liefde is die ware kenmerk van sy volgelinge (13:35). Dieselfde tema klink dwarsdeur die Johannesbriewe (vgl 1 Joh 4:11-12; 4:17; 4:20).

Hierdie menslike liefde staan nooit in isolasie, asof liefdesbetoon die eis tot dissipelskap ten volle vervul nie. Die liefde is die gevolg van die gelowiges se gemeenskaplike belewenis van die onbeskryflike kwaliteit van God se liefde (15:13), in sy Seun se sterwe vir die wêreld wat Hy liefhet. So ’n liefde vereis dat ons vir God moet liefhê met ons hele hart, siel en krag (Deut 6:5). Daarmee saam ook ons naaste soos onsself. Vers 12-17 brei uit op die nuwe gebod van Johannes 13:34 en verder. Die maatstaf vir die liefde is “soos Ek julle lief gehad het”. Dit is onmeetbaar. Hierin ken ons die liefde (1 Joh 3:16).

Die ingrypende omvang van die liefde word beskryf as dié gesindheid van iemand wat bereid is om sy lewe af te lê vir sy vriende. Al sê Jesus hier nie uitdruklik dat Hy sy lewe vir hulle, sy vriende, gaan aflê nie, word die gedagte veronderstel (vgl 10:11, 15). Hy vra van sy volgelinge niks meer as wat Hy self gegee het nie. Die liefde wat die lewe vir die vyand aflê – waaraan Jesus eweneens voldoen het (Rom 5:6-8) – is hier nie ter sprake nie. Jesus is hier met sy dissipels besig en wil hulle laat fokus op die absolute noodsaak van onderlinge liefde. Om jou lewe vir jou vriende op te offer, is die grootste liefde waartoe mens in staat is.

Jesus verklaar die dissipels is sy vriende en laat hulle verstaan Hy is bereid om sy lewe vir hulle af te lê. Die verhewe status van “vriende van Jesus” hang daarvan af of hulle doen wat Hy beveel. Dit is weereens die gedagte dat die gelowige in die liefde en in die vriendekring van Jesus bly deur sy opdrag uit te voer. Gemeentes beklemtoon ten regte die genade van God. Ons sal egter in ons opdrag faal indien ons nie ook die noodsaak van onverbiddelike gehoorsaamheid beklemtoon nie.

Jesus sê hier: “Ek noem julle nie meer slawe nie.” Vroeër het Hy hulle dissipels genoem (8:31; 13:35; 15:8), die woord wat in hierdie evangelie die meeste vir sy volgelinge gebruik word. Jesus het egter ook te kenne gegee hulle is sy slawe (12:26; 13:16). Die apostels noem hulleself ook soms “slawe van Christus” (Rom 1:1), in die sin dat hulle die eiendom van Christus is en aan Hom gehoorsaam bly.

Dit gaan om ’n vertrouensverhouding waarin Jesus alles aan sy volgelinge bekend maak wat Hy van die Vader gehoor het; God se heilsplan wat Hy besig is om uit te voer. Hy sê dit is nie die reël dat ’n baas aan ’n ondergeskikte of slaaf vertel wat sy planne is nie. Aan slawe gee jy opdragte, maar met vriende deel jy intieme verhoudinge en vertroue. Dat Jesus alles aan sy volgelinge bekend gemaak het, bewys Hy beskou hulle nie as ondergeskiktes nie, maar as vriende. Vir hulle het Hy so lief dat Hy sy lewe vir hulle sal aflê. Dieselfde gehalte liefde moet ook tussen hulle bestaan. Alles wat aan die Vader behoort, behoort aan Jesus (16:15; 17:10). Jesus het alles aan die dissipels oorgedra. Jesus het alles kom openbaar wat ons oor die Vader moet weet.

Abraham is ’n “vriend van God” genoem” (Jes 41:8;
2 Kron 20:7; Jak 2:23), asook Moses (Eks 33:11). Jesus verwys ook na Lasarus as “ons vriend” (Joh 11:11). Die titel is ongewoon en spreek van die intiemste moontlike verhouding tussen God en mens. Die vriendskap is nie deur mense se toedoen nie. Jesus kies sy dissipels as sy vriende (15:16a). Dit gee hulle die versekering van sy ewigdurende liefde.

Dit is egter geen skande om God se slaaf te wees nie. Dink aan Moses (Deut 34:5), Josua (Jos 24:29), Dawid (Ps 89:20), Paulus (Tit 1:1) en Jakobus (Jak 1:1). Jesus self het as sy dissipels se slaaf opgetree met die voetwassing (Joh 13:13-16).

Jesus se verhouding het hulle nie tot gelykes verander nie, al noem Hy hulle vriende. Jesus bly hulle Heer en Meester, en vereis gehoorsaamheid. Hulle het Hom nie gekies nie. Jesus het hulle gekies (16; 6:70; 13:18; 15:19). Dit verwys nie na hul redding nie, maar eerder na die diens of die werk wat gedoen moet word. Hulle is gekies en aangestel om vrug te dra. Die vernaamste uitdrukking van die vrugte waarvan Jesus hier praat, is die liefde binne die Christelike gemeenskap. Die vrugte wat bly, is die liefde wat voortvloei uit die lewe wat aan God vasgemaak is. Die liefde het deur Jesus in die wêreld ingekom en moet nou deur die lewe van sy dissipels in die wêreld bly. Hierdie God-gesentreerde liefde wat binne die kerk sigbaar word, sal van Jesus getuig in die wêreld (17:21, 23). Wanneer hulle daarin gehoorsaam bly, sal niks hulle ontbreek nie. Die Vader sal hulle alles gee wat hulle in Jesus se Naam vra (vgl 14:13).

Dit gaan hier nie om ’n selfgesentreerde gebed nie, maar om te vra volgens die wil van die Here. Om in Jesus te wees en sy woord in jou te hê, beteken om deurdrenk te wees van sy wil. Sy wil word jou wil. Gebed doen inderdaad meer met jou as met God. Gebed bring jou in pas met God.

Mens kan dink Jesus sou net die “beste” kies. Dit is nie korrek nie. Die dissipels was self ’n heel onwaarskynlike klomp. Die evangelie teken hulle as soms stadig van begrip, hardkoppig, swak in geloof, soms ontkennend en soms twyfelend. Sommige, soos Petrus, Johannes en Jakobus het bekend geword, maar selfs hulle het soms gedwaal. Die ander bly onbekend. Een sou vir Jesus verraai.

Tog het die groei van die kerk in die eerste eeu gewys Jesus het hulle bemagtig vir God se roeping en sy opdrag aan hulle. Die dissipels het groot dinge gedoen, omdat die Een wat hulle bemagtig het, so groot was. God kies wie God kies. God bemagtig wie God bemagtig. Kyk ook in gemeentes wie dit is wat God kies. God werk deur en in gewone mense wat geken word deur die feit dat hulle hulle hart aan God gegee het – hul hart en hul hele lewe! Dit moet my en jou bemoedig. Dit moet ons laat dink voor ons oordeel oor ander se potensiaal. God kies wie Hy wil!

Rabbi’s het studente opgelei en voorberei vir hulle werk. Voornemende studente het uitgesoek by wie hulle wil studeer. Hoe beroemder die rabbi, hoe meer studente het hom gekies om hulle te onderrig. Jesus keer die orde om: “Ek het julle gekies.”

Die opdrag van vers 12 word aan die einde herhaal. Die allerbelangrikste saak is die liefde. Alles wat Jesus tot dusver gesê het, was gemik op hierdie een bevel: “Julle moet mekaar liefhê!” Jesus weet die eenheid van die gemeente bly bewaar deur die band van die liefde en dat hierdie liefde dikwels aan moeilike toetse onderwerp sal word.

Die Skrifdeel eindig soos dit begin, met die herhaling van die opdrag tot onderlinge en wedersydse liefde vir mekaar. So bring dit die hele diskoers oor die wynstok en die vrug tot ’n einde. Die oproep om mekaar lief te hê, is die eerste en die laaste woord van Christus aan sy vriende.

Die werklike skok in hierdie openbaring is dat die goddelike lewe een is van oorgawe en offer. Hierdie openbaring is geheel anders as enige ander openbaring van God op enige ander plek. Dit is inderdaad ’n beeld van of visie op God, wat baie Christene moeilik vind om getrou na te volg. Jesus sê Hy alleen doen wat Hy sien die Vader doen. Die was van die voete van sy dissipels word nie as uitsondering genoem nie. God van die heelal was voete! Jesus is immers God soos sy Vader God is. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen en Hy vertel net dit wat Hy hoor by sy Vader. Dit beteken onder andere dat “om gehoorsaam te wees en te dien” net so goddelik is as “om koning te wees en bevel te voer”.

In 11:16 sê Tomas: “Laat ons ook gaan (na Jerusalem) dat ons saam met hom kan sterf.” Tomas was beslis nie baie ywerig vir hierdie offer nie. Petrus se woorde in 13:37 moes hy sluk toe die tyd kom om sy liefde te bewys en hy Jesus verloën het. Om lief te hê soos Jesus, is duur! En gevaarlik!

Miskien wil ons hierdie opdrag nie hoor nie, want ons kan dit nooit uit ons eie uitleef of gehoorsaam nie. Ons sal dit graag wil afwerk tot ’n paar klein gebooie, soos: kom kerk toe op Sondag; gee jou dankoffer; help mense in nood. Dink weer oor hoe Jesus liefgehad het en van ons vra. Ons begin elke dag voor en ons faal elke dag weer. Ons kan nooit op ons eie regkom nie. Dit is of Jesus vir ons gebooie gee wat ons nie kan onderhou nie. Miskien is dit so, dat ons afhanklik sal bly van die Heilige Gees. Dit is onder andere die grootheid, die wonder en die onmoontlikheid van die evangelie-boodskap, dat dit iets van almal van ons vra wat ons op ons eie nooit sal kan regkry nie. Slegs in gemeenskap, saam met ander, in verhoudings, ontvang ons van tyd tot tyd liefde wat deur, na ons toe en uit ons vloei, wat groter is as net onsself. Dan weet ons verseker dit is nie “ons” wat dit doen nie.

Dit is opmerklik dat min van die dissipels die ervaringsdimensie van die navolging van Jesus besef of begryp het. Die dissipels se versekering is bemiddel deur sakramentele deelname, net soos ons vandag deur verstandelike instemming of belydenis of persoonlike beslissing tot sekerheid kom. Dissipelskap word hier geteken as deel-wees van die opdrag om mekaar lief te hê en om vrugte te dra. Die gelowige is soos ’n lewende loot aan ’n lewende wingerdstok. Dit is die wingerdstok wat lewe gee aan die loot. Voeding deur die wingerdstok stel die loot in staat om goeie vrugte te dra.

Christenwees gaan dus nie net daarom om die regte dinge te glo nie. (Dit is uiteraard ook belangrik.) Dit is ook nie net ’n kwessie van ’n mooi “Christ-like” lewe te leef nie (ook natuurlik belangrik). Christenwees het ook ’n mistieke, geestelike, onverklaarbare dimensie. Om dissipel van Jesus te wees, beteken dat God self – Vader, Seun en Heilige Gees – in ons woon (14:23-26). Om Jesus te volg behels ’n persoonlike verhouding van liefde en lojaliteit met iemand wat ons meer liefhet het as wat ons ooit kan begryp. Die toets van daardie liefde en lojaliteit in ons eie lewe bly die eenvoudige, diepgaande, gevaarlike en moeilike opdrag van Jesus Christus: “Julle moet mekaar liefhê.”

Preekvoorstel

Julle moet mekaar liefhê
Jesus praat met gelowiges – sy dissipels.
Hy praat met jou en met my – mense wat glo; wat gered is; wat bely; wat weet ons is God se kinders.
Jesus sê: “Ek het jou gekies! Jy is my loot. Ek gee jou jou lewe. Jy kan!”
Nou: Julle lote – julle wat in My ingegroei het, julle moet mekaar liefhê!
Niemand staan alleen in die wêreld nie. Gelowiges oraloor – dis met julle wat God praat: Julle moet mekaar liefhê!
So word God verheerlik! Dit is waar julle vrugte moet wys – teenoor mekaar! Onvoorwaardelik! Julle is my lote! Gehoorsaam aan My! Dra die vrug – liefde vir mekaar – tot die dood toe!
Dis verskriklik, ondenkbaar! Dis vreesaanjaend! Ons kan – maar ons wil nie. Kyk mooi.

Begin sommer by man en vrou – huwelik! Daarna gesin, familie, vriende, kennisse, gemeente, kerk en gemeenskap. Provinsie. Land. Wêreld. Al die gelowiges. Kinders van God, wat mekaar tot die dood liefhet – soos vriende. Dit is die eerste vrugte tot eer van julle Vader!
Soos Jesus – so moet ek en jy liefhê – die teorie en die teologie ken ons goed!
Nou die praktyk! Gaan buig voor God en doen die onmoontlike! Dien mekaar in liefde tot die dood!
Lyk my ons sal almal moet offers bring!!
Ons praat nog nie eers oor die vyand en die vreemdeling nie!
Mekaar; mekaar; mekaar! Julle moet mekaar liefhê! Soos Jesus – ek en jy – tot die dood toe!
Sodat ons blydskap volkome kan wees!
Amen.

Bibliografie  

Barclay, William 1955. The Daily Study Bible, “The Gospel of John,” Vol 1 Edinburgh: The Saint Andrew Press; Beasley-Murray, John George 1987. Word Biblical Commentary, Dallas: Word Books Publisher; Burge, Gary M 2000. The NIV Application Commentary: John. 13. Grand Rapids: Zondervan; 1999. Die Bybellennium Eenvolumekommentaar Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy;  Groenewald, E P 1980. Die Evangelie van Johannes Kaapstad: N.G.Kerk Uitgewers;  Morris, Leon 1995. The New International Commentary on the New Testament: The Gospel According to John Grand Rapids: Wm B Eerdmans Publishing Co; Whitacre, Rodney A  1999 The IVP New Testament Commentary Series Leicester:  Inter-Varsity Press;  Wright, Nicholas Thomas 2004. John for Everyone, Part 2. London: Society for Promoting Christian Knowledge.

© Missio 2024 | All rights reserved.