Sesde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

In vandag se sleutelteks is Jesus steeds besig om sy dissipels voor te berei om na sy hemelvaart te kan voortgaan met sy werk. Hy troos hulle deur te bevestig dat Hy hulle nie alleen laat nie, maar met sy vrede en sy Heilige Gees.

Handelinge 16:9-15; Psalm 67; Openbaring 21:10, 22-22:5

Die Openbaring- en Handelingetekste volg die lyn van die vorige Sondag se tekste.

Die Openbaringteks beskryf die nuwe stad Jerusalem en die Handelingeteks vertel van Paulus se getuienis oor Lidia en haar gesin wat almal tot bekering gekom het.

Ander tekste

Handelinge 16:9-15
Die gesig in Troas
6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan.

9Daar het Paulus in die nag in ’n gesig ’n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering
11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, ’n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”
En sy het ons oorreed om dit te doen.

Psalm 67
Mag die volke U loof, o God!
67 Vir die koorleier: met snarespel.
’n Psalm. ’n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet Hom eer.

Openbaring 21:10, 22-22:5
10Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ’n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.

22’n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. 23Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 24Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. 25Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. 26Die mense sal luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. 27Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.

22 Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

3Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. 4Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. 5Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ’n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.

Fokusteks

Johannes 14:23-29
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.

30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Ekstra stof

14:1-14: Die konteks van Judas se verraad (kies teen die liefde), Petrus se verloëning (faal in sy keuse vir die liefde), Jesus se naderende dood (kies onverskrokke vir die liefde), en sy oproep aan die dissipels om lief te hê tot die dood toe (al sou hulle dit eers later volledig kon doen), laat ‘n mens dan ook beter begryp hoekom Jesus verder gesels oor die hemel, dws die lewe na die dood!

Die moontlikheid van die dood moet die dissipels nie ontsteld laat nie.  Daar is baie plek in die hemel.  Jesus gaan daarheen en sal vir hulle plek gereed maak  en hou.

Op die vraag van Tomas, waar dit dan is, antwoord Jesus dat Hyself die weg daarheen is – dws deur in Hom te glo, deur met Hom in ‘n verhouding te lewe, gee die toegang wat nodig is om daar te kom.

Op die vraag van Filippus, om die Vader te sien (Eks 24:10; Jes 6:1), antwoord Jesus op soortgelyke wyse dat Hyself die bril is om die Vader te sien (soos reeds in Joh 12:45 verkondig).  Selfs ‘n geloof gebore uit sy werke bewys alreeds dat Hy die bril is om die Vader te sien.

Hierdie eenheid van die Vader met Jesus, en die eenheid wat Jesus met die dissipels sal hê deur Sy Gees (vers 23), beteken dat hulle ook sal kan doen wat Jesus gedoen het.  Dit sal veral gebeur waar sy dissipels hulle gebedsverantwoordelikheid nakom en in Jesus se naam tot God nader met die oog daarop dat God deur die gebedsverhoring verheerlik sal word (soos ons in Handelinge kan sien).

14:15-31: Alles draai om die liefde, en word bewys deur die dissipels se bereidheid om te doen wat Jesus van hulle vra.  Dit is met daardie doel – dat hulle vir Jesus lief sal bly, en dat hulle sal doen wat Jesus vra – dat Jesus vir hulle die “ander Voorspraak” sal stuur (Jesus is die eerste Voorspraak – 1 Joh 2:1), Een wat ewig by hulle sal bly, en hulle in die waarheid sal begelei.

Hierdie Voorspraak (paraklētos) word op verskillende maniere vertaal: Trooster, Helper, Pleitbesorger, Voorspraak of Advokaat. Soos ‘n advokaat iemand in ‘n hofsaak bystaan, bemoedig, troos en daarby sy saak bepleit en vir al sy belange sorg, so doen die Gees dit ook vir ons (Rom 8:26-28).

Judas (Markus en Matteus noem hom Taddeus [Mark 3:16-19; Matt 10:2-4], Lukas noem hom Judas, die seun van Jakobus [Luk 6:14-16; Hand 1:13]) verstaan nie mooi waarom hierdie werklikheid van God se inwoning nie vir die hele wêreld sigbaar sal wees nie.  Hy hou waarskynlik nog vas aan die moontlikheid dat Jesus ‘n Joodse Messias sal wees wat die Joodse volk van die Romeinse oorheersing sal verlos.

Jesus antwoord dat dit net dié sal wees, wat Jesus liefhet en doen wat Hy vra, wat die Goddelike inwoning van die Gees sal ervaar.  God sal dié gelowiges leer (Jes 54:13) en herinner aan die woorde van Jesus.  En só sal God deur hulle sigbaar word vir die wêreld, presies soos Jesus dit ook gedoen het.  Dit is dus nie ‘n Joodse ryk wat Jesus kom herstel nie, maar God se koninkryk, Sy heerskappy in en deur gelowiges.

En die Heilige Gees is dan ook die bron van die vrede wat Jesus vir hulle sal gee wat hulle ontsteltenis sal wegneem en gehoorsaam aan Hom sal laat bly, as skynende ligte van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld.

Daarmee staan Jesus van die tafel af op en loop sy dood tegemoet – met nog lering wat Hy hierna, vermoedelik op die pad na Getsemane, vir hulle sal gee (hfst. 15-17).

Daar word baie dinge geskryf en geleer oor wat regtig belangrik is in die Christelike lewe en wat ‘n Christelike lewenstyl nou eintlik is.  Die hart van die Christelike lewe is in die liefde te vinde.  En die wyse waarop liefde hier uitgespel word, is om jou lewe af te lê vir Dié/dié wat jy liefhet, en te doen wat Hy/hulle vra (gehoorsaamheid).  En die voorbeeld is nie om lief te hê soos jyself lief het nie, maar soos Jesus lief gehad het!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Aanvangswoord 

Seëngroet: (Uit Efesiërs 1)

Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Wet: Efesiërs 6

Skuldbelydenis: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Vryspraak: Johannes 14

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Epiklese
Martin Luther omarm sy swakhede in gebed:

Skriflesing Johnnes 14:23-29

Prediking
Offergawes

Wegsending: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Seën: Ps 67

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Voorganger: Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is.
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: In die Naam van Jesus
sal elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie buig,
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is die Here!”
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Seëngroet: (Uit Efesiërs 1)
Aan almal wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Wet: Efesiërs 6

Die Christen se wapenrusting
10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete….

Skuldbelydenis: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Vryspraak: Johannes 14
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Geloofsbelydenis:  (Maretha Maartens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.
God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.
Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Liedere

F33. “Halleluja In My Hart”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Francois Lamprecht
© MAR Gospel Music Publishers

God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:
Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja!  Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg
Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Martin Luther omarm sy swakhede in gebed:
“Here, my beker is leeg
en ek verlang dat U my weer sal vul.
Ja, Here, kom vul my!
My liefde is maar lou –
kom, Here, en maak my weer warm, vurig . . .
dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my.
My geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik –
ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om te vertrou.
O Here, help my. Sterk my geloof en vertroue.
Ek is arm en U is ryk –
en U het juis gekom om vir armes u genade uit te deel.
Ek is ’n sondaar, U is regverdig
en daarom bly ek aan u sy.
Ek het niks om U aan te bied nie.
Ek kan alleen maar van U ontvang.”
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Skriflesing: Johnnes 14:23-29

Prediking

Familie-oomblik

Lees die vrede teks uit die Boodskap:
““Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie.”

Johannes 14:27 DB
Ferdinand Deist skrywe oor vrede in sy werk “Doen aan ander”(1977:66) oor bogenoemde vrede…
Die gewone vrede van die wêreld werk anders as die vrede waarvan Jesus praat. Nasies maak nie teen mekaar oorlog as hulle ewe veel wapens en tenks en vliegtuie het nie. Dan is daar vrede. Met ander woorde vrede en nie oorlog nie word gehandhaaf wanneer twee nasies vir mekaar bang is. Wanneer hulle omtrent ewe sterk is om oorlog te maak.

God se vrede wat Jesus belowe in Johannes 14 werk heeltemal anders. Wanneer ‘n klompie skaapwagters buite Bethlehem in die veld sit gebeur die volgende:

8–12 Naby Betlehem het ’n klompie mense gebly wat skape oppas. Hulle het in die veld geslaap. Een nag kom ’n engel* van die Here na hulle toe. Die Here se krag het alles rondom hulle helder lig gemaak. Die skaapwagters het groot geskrik. Maar die engel* sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Ek het goeie nuus vir julle. Hierdie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder* in Betlehem gebore. Hy sal almal wat glo* se sondes* wegvat. Hy is Christus*, die Here. Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n bak lê en slaap. Dit is Hy!”

13–14 Skielik was daar baie engele* rondom hulle. Hulle het God geprys*:
Eer* aan God. Hy bly in die hoogste hemel.
Daar is nou vrede vir almal op aarde wat in Christus*glo*.
(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Die eerste ding wat die engel sê is dat hulle nie moet bang wees nie. God se vrede werk anders, dit is nie gebaseer op vrees en bang wees nie.

Wat meer is, God se vredesteken is ook anders. In Amerika is die vredesteken van die Negers ‘n swart, gebalde vuis (met die onderbou van geweld). En die hippies se vredesteken is ‘n omgekeerde kruis…

God se vredesteken is ‘n baba in ‘n krip, toegewikkel in doeke, wat vir die wêreld vrede bring…

Daar is nou vrede vir almal op aarde wat in Christus*glo*

Alternatiewelik…
Carolyn Brown koppel Jesus se vredesgroet aan die uitspreek van die seën aan die einde van die erediens wat hier by die familie-oomblik herhaal kan word.

Die uitspreek van die seën was ‘n gebruik uit die Ou Testament wat in die vroeë kerk voortgesit is. Die erediens het telkens geeïndig met die voorganger wat met uitgestrekte hande die seën van die Here oor die kerkgangers uitspreek. Soos die eerste woord in die erediens aan God behoort met die aanvangswoord, behoort die laaste woord van die erediens aan God self in die seën.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2015)

Preekriglyn

“Ek het oor die betekenis van Jesus se menswording geleer toe ek ‘n soutwater-akwarium gehad het,” vertel Philip Yancey in sy boek, The Jesus I never knew. Dis nie glad nie maklik om ‘n marine-omgewing in ‘n akwarium te skep nie. Hy moes ‘n draagbare chemiese toetseenheid hê om die vlakke van nitrate en ammoniak te meet. Hy moes voortdurend vitamiene, antibiotika, ensieme en ander chemiese middels in die water gooi – genoeg om selfs ‘n rots te laat groei. Die water is deur glasvesels en houtskool gefiltreer, en met ultravioletlig bestraal.

“Mens sou dink dat my visse, in die lig van al my energie en harde werk, darem ten minste dankbaar sou wees. Glad nie. Elke keer as my skadu oor die tenk geval het, het die visse onder die naaste skulp of klip gaan skuiling soek. Hulle het my net een emosie gewys, vrees,” vertel Yancey.

Hy het die akwarium se deksel drie maal ‘n dag gelig. Die visse het elke keer gereageer asof hy van plan was om hulle te martel. Yancey kon hulle nooit oortuig dat hy vir hulle omgee nie. “Dalk was ek vir my visse soos een of ander god. Ek was te groot vir hulle, my optrede té onverstaanbaar. My dade van sorg het hulle as wreedheid gesien, my pogings om hulle gesond te hou of te kry het hulle as moontlike vernietiging beleef.”

“Om hulle persepsies oor my te verander, het ek begin insien, sou een of ander vorm van inkarnasie, van deel word van hulle wêreld moes verg. Ek sou ‘n vis moes word en met hulle praat in ‘n taal wat hulle kon verstaan.”

God kom tot by ons

In Jesus, getuig die Johannes-evangelie, het God tot by ons gekom. God kom as Woord tot by ons en praat die taal van mens-wees wat ons helder kan verstaan. “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon,” getuig Johannes (1:14). “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (1:18).

Ja, God kom praat – by wyse van spreke – ‘n taal wat ons kan verstaan. Die inhoud van God se boodskap is veel meer as net woorde. Die Woord kom beliggaam God, kom handel, doen en sê, oortuig en leer.

In die eerste twaalf hoofstukke van sy evangelie vertel Johannes van Jesus se bediening oor ‘n periode van sowat drie jaar. Die volgende vier hoofstukke, 13 tot 17, handel oor Jesus se lering in die nag voordat Hy gevange geneem en gekruisig is. In hierdie hoofstukke kry ons ‘n verstommende blik in die hart van God se bedoelinge met ons, en dit in ‘n taal wat ons kan verstaan.

Ons teksgedeelte

Ons kort teksgedeelte kom uit Jesus se onderrig in die nag voor sy sterwe. In hierdie hoofstukke fokus Jesus op wesenlike sake. In ons teksgedeelte praat hy oor:

die belofte dat wie Jesus liefhet en sy woorde ter harte neem, sal ervaar dat God hulle liefhet en by hulle kom woon (23)

diegene wat nie sy woorde ter harte neem nie, en daarom nie die Vader se woorde hoor nie, en nie deel kry aan God nie (24)

die belofte dat die Vader die Voorspraak, die Heilige Gees sal stuur wat ons alles sal leer en ons aan alles wat Jesus gesê het sal herinner (25-26)

Jesus gaan weg, maar laat sy vrede vir sy dissipels na. Dit is ‘n heeltemal ander soort vrede as dié van die wêreld.

Die dissipels moenie ontsteld wees oor sy weggaan nie, en onthou dat Hy weer kom. Hy verwys na sy weggaan voordat dit gebeur, sodat hulle kan glo wanneer dit gebeur.

God woon in liefde by ons

Liefde is die kern van Jesus se onderrig. In Johannes 13 praat Jesus van die nuwe gebod: “Julle moet mekaar liefhê – soos Ek julle liefhet.” In die ander evangelies word die dubbele gebod van die liefde gegee. Jy moet God liefhê met alles wat jy het en is en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In Johannes se evangelie is hierdie opdrag om mekaar lief te hê, die enigste gebod wat Jesus aan sy dissipels gee! Hierdie liefde word verbind aan ‘n belofte: die Vader en die Seun sal woning maak in die dissipels.

God is in Jesus, en in die liefde wat Jesus in ons skep, met ons. God woon in Jesus by ons. God se belofte om by sy volk te woon, het wortels in die Ou Testament waar die teenwoordigheid van God deur die tempel en die tabernakel verteenwoordig. Hier was God teenwoordig in die allerheiligste wat slegs een keer per jaar deur die hoëpriester besoek mag word en dit op die Groot Versoendag. Met Jesus se dood is die voorhangsel geskeur. ‘n Teken dat alle gelowiges, nie net die hoëpriester nie, deur Hom volle toegang tot die teenwoordigheid van God het.

In die Nuwe Testament praat Jesus van Homself as tempel. Paulus praat van die gelowiges as God se tempel. Dit bevestig Jesus se belofte dat die Vader die Heilige Gees sal stuur om in ons te woon net soos Hy in die tempel gewoon het. As Johannes praat van “woon by”, is dit waarskynlik dieselfde gedagte wat Paulus het met die inwoning van die Vader en die Seun “in” die gelowige (1 Kor 6:19; 2 Kor 6:16; Ef 3:17; 1 Tess 4:8).

In Jesus leef ons in die groot geselskap van God, die Vader, Seun en Heilige Gees. Ons word ingetrek in gemeenskap met God. Ons beleef God. Daar is geen ander godsdiens met so ‘n belofte en ‘n aanspraak nie. God het in Jesus op hierdie aarde aangekom. God het in Jesus met ons gepraat. Daar het dit egter nie geëindig nie. God trek ons in Christus in diepe lewensgemeenskap met God in.

Wie daarom realisties wil wees, moet sê die vernaamste feit van ons geloof is ons verhouding met God deur Jesus Christus, kragtens die werk van die Heilige Gees. Die teenwoordigheid van God is die hoogste en finale werklikheid. God is as’t ware die landskap waarbinne ons leef.

Die woon in en met God is die grond waarop ons getroos kan leef en sterwe.

‘n Belofte aan die gemeente

Al die persoonlike voornaamwoorde in vers 12-24 is in die tweede persoon meervoud. Jesus se belofte is aan die kerk; die gemeenskap van die gelowiges, eerder as aan die indiwidu. Dit is veral belangrik vir die tyd waarin ons leef waar die indiwidu so opmerklik eerste gestel word. Die kerk is die liggaam van Christus. Die kerk is die instrument waardeur God sy seën en sy beloftes waar maak.

Dit beteken dat ons baie meer waarde aan die plaaslike geloofsgemeenskap moet heg as wat ons gangbaar doen.

Die kerkvader Siprianus het gesê: Wie die kerk nie meer as moeder het nie, kan nie vir God as Vader hê nie. Daar is nie ‘n verhouding met God sonder ‘n verhouding met mekaar nie. Ons liefde onder mekaar is ons getuienis na die wêreld! Hier is ‘n baie praktiese onderskeiding tussen dié wat aan die gemeenskap van gelowiges behoort en dié wat nie daar hoort nie.

Die gemeente is nie volmaak nie, en mens moenie ‘n volmaakte kerk probeer vind nie. Tog is die gemeente die liggaam van Christus. Dit is die plek waar ons aan God en mekaar verbonde bly leef. Dit is die ruimte waar God gedien en verheerlik word. Die kerk is die ruimte waar God saam met ons woon deur die Woord en die Gees.

Daarom moet ons onsself en ons gawes gewilliglik bly gee vir die gemeente. Hierdie konkrete, gebroke gemeente is die ruimte van verhoudinge waarin die drie-enige God by ons woon, ons seën en ons troos. Hier word ons voorberei en gestuur om as dissipels in die wêreld te leef.

Ons gemeente word daarom geroep om die fokus op God te hou. Die gemeente en haar behoeftes moenie in die plek van God kom nie. Dit gaan oor God wat by ons kom woon en in en deur Wie ons leef. God trek ons na God toe, voed ons, en stuur ons.

Die Heilige Gees

Jesus praat met sy dissipels oor dinge wat hulle nou nie verstaan nie. Hy is nou nog by hulle. Maar Hy gaan weg. Hy weet hulle sal nie begryp of verstaan wat met Hom en met hulle gaan gebeur nie. Hy probeer hulle voorberei. En hy weet hulle begryp nie nou nie – maar hulle sal sy woorde onthou as Hy weg is en hulle totaal ontwrig word.

In hierdie opsig speel God die Heilige Gees ‘n wesenlike rol. Jesus gee ‘n helder beskrywing van die werk van die Heilige Gees in die Johannes-evangelie. Die Gees is nou verbonde aan die Vader en die Seun. Hy word deur die Vader gestuur, in die naam van die Seun. In Johannes 15:26 word die Heilige Gees gestuur deur die Seun van die Vader af. Die Vader sal die Heilige Gees in Jesus se Naam stuur, wat beteken dat die Gees sal kom om die werk van Christus voort te sit.

Die Gees word in die Grieks “Parakleet” genoem, wat op baie maniere vertaal kan word. Dit is moeilik om dié woord in Afrikaans te vertaal omdat daar nie ‘n ekwivalente woord daarvoor in Afrikaans is nie: Voorspraak; Trooster, Berader, Helper, Advokaat. Hedendaagse advokate is nie soseer op die waarheid ingestel as op die saak van hul kliënt nie. Jesus praat egter van die “Gees van die Waarheid”.

Die Gees sal altyd by ons wees en ons help om Jesus se woorde te onthou, toe te pas en te deurleef. Hier word beklemtoon dat die Gees leermeester sal wees; om die dissipels te onderrig. Hy sal julle leer en herinner aan alles wat Jesus gesê het. Jesus het baie dinge vir sy dissipels geleer wat hulle eers sou verstaan na sy opstanding. Die Heilige Gees sal hulle help onthou en help om dit toe te pas in hulle nuwe omstandighede. Die Gees sal nie noodwendig nuwe openbaringe maak nie, maar hulle eerder aan Jesus se lewe en leer herinner.

Ook vandag is die Heilige Gees elke oomblik by ons. Hy lei ons in die waarheid van die woord van God. Wanneer ons gehoorsaam is, bring Hy ons by die lewe. Die seën van God is nie outomaties ons deel nie. Ons moet volg en ons moet gehoorsaam wees in elke ding wat ons doen. Die seën lê nie in die belydenis nie, maar in die saamloop, in die lewe saam met die Gees van die lewende God. Daar leef ons.

Binne ons geloofstradisie is ons – vreemd genoeg – dikwels skrikkerig vir die Gees. Die donker kant van ons strukture en ordes is dat dit ruimte vir die verrassende werk van die Gees wegneem. Daarom moet ons leer bid vir vervulling met die Gees en vir die doen van dit waarheen die Gees ons lei. Die Gees sal ons toenemend van onsself laat wegkyk, en Jesus met sy selfopoffering en selfprysgawe, sy diens en liefde, binne ons vorm.

Jesus se vrede

Jesus se woorde, “Vrede laat ek julle na”, is Jesus se laaste wil en testament. Hy besit nie baie dinge nie. Selfs sy klere is deur die soldate verdeel en gevat. Maar een ding gee Hy vir hulle: Vrede! ‘n Onbegryplike – geweldige – nalatenskap. In ‘n groot mate is die vrede gelyk aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Later sal Jesus sê dat Hy aan hulle liefde (Joh 15:9-10) en vreugde (Joh 15:11) nalaat.

Onthou dan dat liefde, vreugde en vrede, die eerste drie vrugte van die Gees is wat Paulus in Galasiërs 5:22 noem. Jesus gee nie op dieselfde manier as die wêreld nie. Die gewone groet in daardie tyd, sjaloom, beteken ook vrede. Maar dit het (soos in ons tyd) ‘n cliché geword, wat nie veel meer as die erkenning van iemand se teenwoordigheid beteken nie. Soos byvoorbeeld. “goeiedag” vandag heel niksseggend geword het. Christus bied daarteenoor werklike vrede. Vrede wat ‘n mens se verstand te bowe gaan. Ons sien dit in mense se lewe wat werklik oorgegewe lewe, soos  in die kalmte en vertroue by Paulus in Romeine 8:31: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?”

Anders as in die wêreld is die vrede nie negatief nie, byvoorbeeld die afwesigheid van oorlog nie, maar dit is positief in die sin van seën wat beleef word in die lewende verhouding met die Here Jesus en met God.

Hierdie vrede – wat positiewe genesing, ruimte vir elkeen en vreugde is – moet die oorhand in ons gemeente kry. Dit is die vrug van God se teenwoordigheid by ons. Ons moet daarin groei.

Regmatige plek by die Vader

Jesus verwag eintlik dat sy dissipels bly moet wees dat Hy weggaan. Hy is immers op pad na sy Vader om sy regmatige plek by God in te neem. Jesus beskuldig hulle nie daarvan dat hulle Hom nie liefhet nie. Hy wys egter op die gevaar dat hulle liefde vir Hom ook maar op hulleself gerig kon wees; op hulle eie voordeel en behoefte aan sy teenwoordigheid. In plaas daarvan dat hulle bly is dat Hy na sy Vader gaan. Jesus se werk op aarde is nou klaar. Elkeen wat Hom werklik liefhet, sal bly wees dat Hy nou verheerlik gaan word en sy regmatige plek in die hemel sal inneem.

Dit is tot die dissipels se voordeel dat Jesus weggaan, want daar is ‘n bepaalde volgorde in ons teks. Jesus gaan eers lei en weggaan, waarna die Gees uitgestort sal word. Die dissipels sal nie die betekenis van sy woorde verstaan en waardeer voordat al hierdie dinge nie eers plaasgevind het nie. Sy woorde is die fondament waarop hulle kan staan as al die dinge gebeur wat Hy nou aan hulle vertel, sodat  hulle dan terug kan kyk en onthou om in dieselfde tyd ook verder vorentoe te kyk, en werklik in Jesus kan glo!

Dit beteken dat Jesus ons gesigte na die toekoms draai – ons leef in verwagting van sy wederkoms. Terwyl ons nou liefhet, gehoorsaam en dien, doen ons dit met die verwagting dat Jesus weer gaan kom om ons wêreld volledig nuut te maak. Ons is mense met ‘n bestemming.

Al hierdie dinge van God leer Jesus ons, in ‘n taal wat ons kan verstaan.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Seën; Ps 67
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.