Sesde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag van Paastyd staan bekend as “Rogate” of “roep” en mens hoor die roepstem van God deur al hierdie tekste. Dit is ’n baie spesifieke roeping: Dit is ’n oproep om te lewe en te getuig van die Een in en deur wie ons lewe.

Die verband tussen al hierdie tekste kan in twee woorde opgesom word: lewe en roep . Almal word opgeroep om God te prys, want dit is Hy wat aan ons die lewe gee (Ps 66). Deur God, die bron van lewe, lewe ons (Hand 17) en roep Hy ons om die lewe te omarm. Ons het die lewe, want God het Christus, deur die Gees, lewend gemaak. Dieselfde Gees wat Christus lewend gemaak het, bly ook in ons (Joh 14). Die doop is simbool dat ons saam met Christus opgestaan het en lewe (1 Pet 3). Ons word ook geroep om te getuig van dié lewe en hoop wat in ons leef.

Ander tekste

Psalm 66:8-20; 1 Petrus 3:13-22; Johannes 14:15-21

Fokusteks

Handelinge 17:22-31
16 Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17 Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18 ’n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.

19 Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20 Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”

21 Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.

22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.

30 “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31 want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32 Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 ’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

Liturgie

Toetrede: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2″

Aanvangswoord
8 Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9 Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!
(Ps 66)

Seengroet
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…
aan die wat God uitverkies en deur die Gees afgesonder het om aan Hom gehoorsaam te wees
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (Ahv 1 Pet 1:1-2)

Lofprysing
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3” en/of
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Verootmoediging
21 “Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” (Joh 14)

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) vs 1,2”

Riglyne vir die lewe
13 Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14 Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16 Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17 As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen. (1 Pet 3)

Apostoliese Geloofsbelydenis (saam hardop): Ek glo ….

Epiklese
Outeur: Richard Foster
Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle
Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk

Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen

Predikung

Wegsending: Lied 488 “Helder skyn U lig vir die nasies vs 1,2,3,4”

Seën
13 Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Kor 13)

Be-aming: Lied 161 “Halleluja! Heer, U is ons lewe”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F100. “Gaan Dan Heen”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid )

Gaan dan heen en maak dissipels
Gaan dan heen – Ek stuur jou nou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Alle mag – in die hemel
Alle mag – behoort aan my
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Nooit sal ek – jou verlaat nie
Ek is nou – saam met jou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

F107. “Die Borrelliedjie”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Jan de Wet & André Groenewald [Gebaseer op publieke domein lied.]
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Dit borrel in my, want ek is so bly:
Jesus het my lief!
Vir my’t Hy gesterf en gered van verderf;
ja, Jesus het my lief!

Refrein:
Dit borrel in my, want ek is so bly:
Jesus maak my lewe vry!
Hy neem weg my sondeskuld.
Dit borrel, dit borrel, dit borrel in my.
Dit borrel, dit borrel in my.

2. Sy liefde so groot, red my van die dood.
Jesus het my lief!
Dit borrel alweer, ek kan dit nie keer:
ja, Jesus het my lief!

Refrein:

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine
Teks en Musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik
© 1987 Make Way Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my. Skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

Here, maak my ‘n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my. Skyn deur my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Opsie 1: Indien daar voldoende spasie is, laat die kinders Marco Polo speel, wat iets weergee van God wat ons roep en soek.

Opsie 2:
Neem vooraf verskillende diere en voëls se roepgeluide op en laat die kinders dit identifiseer. Dit kan ’n baie lekker kompetisie-speletjie raak. (By www.sanparks.org.za/ringtones kan jy allerhande diere- en voël- luitone aflaai – R15 een, of R 50 vir 5. Jy kan ook in PowerPoint klik op Insert / Clip Art en dan soek vir klanke. Onder “Results should be”, maak seker dat net Audio gemerk is.)

Opsie 3:
Kyk na die konsep “asem”. Asem is teken dat ons leef (vroeër jare is ’n spieël voor ’n sieke se mond gehou, as dit toe wasem het die persoon dus nog lewe), ons gebruik ons asem om te roep, God het sy Gees in ons geasem en babas skree/roep met hulle eerste asemteug. (Foto deur another.point.in.time by flickr.com.)

Vir tieners: Louis Giglio se DVD’s Indescribable en How great is our God sluit mooi aan by hierdie tema.

Preekriglyn

Die Alexamenos-graffiti  is ’n inskripsie uitgekrap op die pleister van die Paedagogium (skool) op die Palatine-heuwel in Rome. Die gebou was vroeër as woning van die keiser Caligula gebruik. Dit dateer ongeveer uit 200 n.C.

Die skets beeld ’n menslike figuur uit, vasgespyker aan ’n tipiese Romeinse kruis. Die gekruisigde het die kop van ’n donkie. Links van die kruis staan ’n jong man, met sy een hand gelig, moontlik besig met aanbidding. Onder die skets staan geskryf: “Alexamenos aanbid sy God.”

Die Alexamenos-graffiti toon hoe mense van die heersende Grieks-Romeinse kultuur die Christelike geloof gesien het. Mense het ’n afkeer daaraan gehad. Hoe kan jy ’n veroordeelde misdadiger, besig om tereggestel te word, aanbid? Dit maak geen sin nie! Beide deur Jesus met ’n donkie se kop, en aan die kruis, uit te beeld is ’n bespotting van Alexamenos se godsdiens. In ons idioom sou iemand geteken kon word wat ’n persoon aanbid op die elektriese stoel, of met ’n galgtou om sy nek.

Uit die geskrifte van ’n vroeë Christelike teoloog, Tertullianus (To the Nations 11.1-2), blyk dat Christene algemeen daarvan beskuldig is dat hulle ’n donkie aanbid het. Die beskuldiging is ook teen Jode ingebring, met Moses wat alreeds wilde donkies in die woestyn sou volg om water te kry. So skryf die Romeinse geskiedkundige Tacitus destyds:

Moses wou sy gesag oor Israel bevestig. Daarom het hy hulle ’n nuwe vorm van aanbidding geleer, teenoor van die manier waarop ander mense aanbid. Dinge wat vir mense soos ons heilig is, dra geen gewig by hulle nie, terwyl hulle toelaat wat vir ons verbode is. In hulle aanbiddingsplek is ’n gewyde beeld van die dier deur wie se leiding hulle uitkoms gedurende hulle lang, dorstige omswerwinge gekry het. (Histories 5.3-4a)

Moeilik klein te kry

Hoewel die Alexamenos-graffiti gewoonlik as godslastering beskou word, moet mens dalk nie te gou oordeel nie. Dit getuig van destydse mense se onvermoë om die Christelike geloof te verstaan. Die Grieks-Romeinse samelewing het eintlik mag en geweld aanbid. Die Griekse ryk is gebore uit die militêre geweld van Alexander die Grote. Die Romeinse Ryk het die Griekse ryk opgevolg juis vanweë hulle militêre mag waarmee die hele bekende wêreld gedomineer is.

Die Christelike geloof verwag van jou om magteloosheid, swakheid, te omhels. Die boodskap is dat self-ontlediging, self-prysgawe en diensbaarheid die weg tot die lewe is. Geen Romeinse burger met selfrespek sal so iets aanbid nie. Geloof in die gekruisigde Jesus maak geen sin nie.

Die Grieks-Romeinse mag het gegroei uit die eeue van filosofiese, kulturele, ekonomiese en tegniese vooruitgang. Dink aan die argitektuur, wiskunde, kuns en tegnologie wat hierdie kultuur voortgebring het. Dit was bekend dat die aarde rond was, hemelliggame is bestudeer, handel en skeepvaart het voorspoed gebring. Verder was die Romeine uiters godsdienstig.

Met die momentum van soveel kulturele mag agter jou, sou mens sukkel om die Christelike geloof klein te kry. Hoe aanvaar mens dat ’n God, wat vir jou onbekend is, beslissend en deurslaggewend gehandel het deur ’n veroordeelde misdadiger wat sy rieme in ’n agterlike provinsie van die Ryk (Judea) styfgeloop het?

’n Vreemde boodskap

Handelinge vertel ’n fassinerende verhaal. Wat het gebeur met die volgelinge van Jesus wat sy laaste opdrag ernstig geneem het: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels?” (Mat. 28:19) Spesifiek Handelinge 17 vertel hoedat die geleerde Griekse denkers gesukkel het om sin van die boodskap te maak, ja, eintlik net daaroor kon lag. Spesifiek die feit dat God die Vader Jesus uit die dood opgewek het, kon hulle moeilik sluk (17:32).

Die verleentheid van die Christelike geloof was hoofsaaklik:

  • In ’n magsbehepte kultuur word ’n Gekruisigde verkondig.
  • In ’n uiters godsdienstige kultuur, maar met baie gode, word ’n onbekende, ware God verkondig.
  • Tussen soveel tempels in al die prominente stede van die Ryk, word verkondig dat God beslissend oor een naweek in Jerusalem, in die provinsie Judea, gehandel het. Wat oor daardie naweek dáár gebeur het, is van beslissende betekenis vir die mense van die groot wêreldstede: Rome, Antiogië, Aleksandrië, Efese en Atene.
  • In ’n kultuur met baie mitiese aansprake op lewe na die dood, word verkondig dat ’n Mens werklik uit die dood opgestaan het, met baie lewende getuies vir die feit.

Paulus het die heersende Grieks-Romeinse kultuur baie goed geken. Hy is in Tarsus as ’n Romeinse burger gebore. Hy was ook ’n Jood, en het na sy bekering vir Jesus die Here gevolg. Die Grieks-Romeinse onvermoë om die boodskap klein te kry, was vir hom nie nuus nie.

Hoe het Paulus die Gekruisigde verkondig in ’n vreemde, skeptiese omgewing? Handelinge 17 help ons baie:

Een: Paulus bly by Jesus as die Boodskap
’n Mens verwag amper dat die eerste Christene, waaronder Paulus, die boodskap sou aanpas om dit moontlik te maak dat die Romeine kan glo. Dalk sou hulle die sg. “skerp” kante van die Jesus-gebeure wegskaaf om dit vir die Romeine aanvaarbaar te maak. Hulle doen dit egter nie. Hulle bly by die verleentheid van Jesus en van God se werk in en deur Jesus. “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is.” (1 Kor. 1:22,23)

In Atene praat Paulus met die Jode en in openbare plekke met verbygangers. Die prominente filosowe of wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, noem hom ’n praatjiesmaker en sê dit lyk of hy ’n boodskappe van vreemde gode is: “Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. ” (17:18)

Let op: die Boodskap is nie ’n filosofie, ’n teorie of ’n mooi ideaal nie. Paulus bly by die feite. Hy praat oor die geskiedkundige goddelike daad van die opstanding van Jesus. Dit is wat mense moet kleinkry en vir hulself moet toeëien. Dit gebeur nie dat mense opstaan uit die dood nie, selfs nie in die Grieks-Romeinse kultuur met sy baie mites en drome oor die lewe anderkant die dood nie.

Jesus is op ’n Vrydag gekruisig. Jesus het op ’n Sondag opgestaan. Wat sê dit oor God, en hoe lewe ons daarvolgens? Hoe verkondig ons dit?

Twee: Aansluiting by mense en hul wêreld
Hoewel Paulus by die Jesus-gebeure bly, is hy ook sensitief genoeg om die regte invalshoek te gebruik. Hy begin sy toespraak op die Areopagus met ’n verwysing na hulle godsdienstigheid en die altaar “Aan ’n onbekende God.” Hy begin met dinge wat hy en sy hoorders in gemeen het, en vorder daarvandaan na Jesus.

Paulus teken hierdie “onbekende” God as die Skepper van die hemel en die aarde, wat aan almal lewe gee. God beheers ook die geskiedenis. Al die nasies, wat reg oor die wêreld woon, kom uit hierdie God se skeppingswerk voort. Daarom is dit net reg dat al die nasies hierdie een God dien. Daar bestaan nie so iets soos ’n god, of ’n versameling gode, vir elke nasie nie – ’n baie algemene geloof van daardie tyd.

Hierdie God het alle mense gemaak met ’n ingebore behoefte na God self. Hierdie God is nooit ver van ons nie Om die waarheid te sê, “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” en “van Hom stam ons af”. Hy gebruik hier twee aanhalings van hulle digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom afhanklik is. Die frase “deur Hom lewe ons, beweeg ons eb staan ons” kom van Epimenides, terwyl die woord “ons stam ook van Hom af” van die digters Kleantes en Aratus kom.

Hy sluit met ‘n afwysing van afgodsbeelde as ‘n toegang tot God en ‘n oproep tot bekering wat hy koppel aan die regverdige oordeel van God, waarvan die opstanding van Jesus die bewys is.

Paulus praat dus op ’n wyse wat gemene grond met sy gehoor skep. Hulle het ’n belang by sy boodskap.

In reaksie lag die grootste deel van die gehoor Paulus uit. Sommige wil meer hoor, en ’n paar mense word gelowig. Só sal dit altyd wees: almal hoor van Jesus, maar net sommige reageer met geloof in Hom.

Drie: Openbare verantwoording
In die Westerse kultuur word daar ’n sterk onderskeid gemaak tussen ons publieke lewe, en ons private lewe. Daar word dan gesê dat godsdiens te doen het met ons private lewe, maar dat die openbare lewe vry gehou moet word van godsdienstige oortuigings.

Godsdiens het nie ’n plek in die markplein, in die opvoedkundige kurrikulum, of in die politieke lewe nie.

Vir die Bybel is godsdiens ’n publieke saak, en het geloof alles te doen met die markplein, of – in hierdie geval – met die sentrum van geleerdheid, die Areopagus. Paulus deins nie daarvoor terug om sy geloof in die publiek te verantwoord nie.

Gemeentes en gelowiges moet op kreatiewe maniere daarna soek om ons geloof publiek uit te leef. In hierdie gedeelte doen Paulus dit deur ’n uitnodigende publiek verantwoording van sy geloof te doen. Let op hoe respekvol hy dit doen, sonder om ander se oortuigings af te kraak, of as foutief of tweederangs te etiketteer. Baie moderne Christene het ’n les om by Paulus te leer.

Die boodskap vind inslag

Ons is bevoorreg om die vrug op die getuienis van Paulus en die eerste geslagte Christene te sien. Hoe vreemd die Christelike geloof ook al vir die mense van die Grieks-Romeinse wêreld was, en hoe ook die Jode geworstel het om hul Messias te herken, het die boodskap mettertyd inslag gevind.

Op baie plekke en in talle kulture is Jesus, die Gekruisigde en opgestane Here, omhels. Jesus se selfontlediging (Fil. 2) deur ’n lewe van diens en deur sy dood aan die kruis, en die wyse waarop God die Vader hierdie offer aanvaar, Jesus opgewek en aan sy regterhand laat sit, het miljoene der miljoene mense se lewens verander,

Mens-vir-mens verander die kerk se getroue oorvertel van die Jesus-gebeure plekke, tye en kulture.

Natuurlik bly dit altyd vir die kerk ’n versoeking om die kruis te systap. Ons kan so maklik die heerlikheid van Jesus aangryp, sonder om te verstaan dit kom deur die weg van die kruis. Ons kan so maklik Jesus as banier op ons swaarde en skilde verf en geweld in sy Naam pleeg. Dan mis ons die boodskap. Maar miljoene der miljoene doen dit nie. Elke dag, reg oor die wêreld, vind daar tienduisende dade van liefde, nederige diens, en selfverloëning in Jesus se Naam plaas.

Toepassing

Een: Betree publieke plekke in Jesus se Naam
Die SA-samelewing word godsdienstig meer divers. Daar is baie verskillende gelowe wat die aandag trek. Só was dit in Paulus se tyd. Die uitdaging is en bly om in die openbaar te getuig oor die werke van God in Jesus van Nasaret.

Moderne voorbeelde van publieke verantwoording kan getuienis by werkplekke, pastorale ondersteuning van medemense in krisisse, of enige gesprek oor geloof in watter konteks ook al wees.

Naas publieke verantwoording, kan gelowiges ook nog die volgende geleenthede benut:

• “Daar wees vir” mense in nood en ondersteuning lewer. Hier val die aksent nie op woorde en logika nie, maar ’n bediening van teenwoordigheid . Opregte belangstelling in mense se wel en weë, meelewende vreugde wanneer hulle hoogtepunte lewe, ’n presensie handhaaf in krisisse, is nog voorbeelde. Die krag van ’n luisterende, meelewende “daar wees vir” medemense is oneindig. Mens moet ook die reg verdien om gehoor te word. Woorde as invalshoek is daarom dikwels nie so effektief nie. “Daar wees vir” ken geen van hierdie beperkinge nie.

• ’n Teologie van “ doen ” eerder as dialoog of verantwoording. Steve Sjogren vertel hoedat jongmense as uitdrukking van hulle liefde vir Christus by winkelsentrums bejaardes se voedseltrollies tussen die winkel en hul motor stoot. By die motor aangekom sê die jongmense bloot hulle help omdat hulle die Here liefhet. Hulle aanvaar dan geen monetêre vergoeding nie, en groet vriendelik. Of jongmense was motors op publieke plekke gratis, en sê hulle doen dit uit liefde en waardering teenoor die Here. Geen vergoeding, weer eens, is ter sprake nie. Sjogren vertel dan hoedat mense dikwels sê: “Maar is julle dan van daardie soort Christene wat regtig in die Here glo?” Talle lewens word so aangeraak. Die belangrike punt is om diens nie as skuiwergat vir woorde te gebruik nie, maar as ’n betekenisvolle publieke dade opsigself te sien.

Twee: Skep kreatiewe gespreksruimtes
Dan Clendenin vertel met entoesiasme die storie van Neil, ’n rekenaarwetenskaplike wat die afgelope vier jaar aan Stanford-Universiteit kunsmatige intelligensie doseer. Neil is ’n toegewyde Christen wat onder sy nie-kerklike vriende in die werkplek getuig. Hy gebruik oor die sportveld en die herstel daarna in die kroeg as ruimte vir getuienis. Dis vir hom belangrik om mense te ontmoet waar hulle is, en nie van hulle te verwag om eers te word soos hy is nie. Neil klink soos ’n moderne weergawe van Paulus voor die Areopagus.

Christene moet daarteen waak om ons van ons eie kultuur se hoofstrome te isoleer. Ons kan inwaarts gekeer en selfgesentreerd wees in plaas daarvan om mense by ons moderne Areopagusse betrokke te maak. Maar dis so goed wanneer Christene soos Neil net so gemaklik met die evangelie omgaan onder sy kollegas by die werkplek, in kroeë, raadsale en basilikas as ’n bediening in die kerk (Clendenin). (Aangehaal uit Preeksketse 2011.)

Drie: Vra hoe God mense voorberei het vir die getuienis oor Jesus van Nasaret
God is teenwoordig op elke tyd en plek, waar Hy erken word, of nie. In elke kultuur en konteks is God besig om mense voor te berei vir die ontvangs van die getuienis oor Jesus Christus. Dit geld daarom ook ons eie publieke ruimtes, werkplekke, ontspanningsplekke, e.s.m.

Paulus het die “altaar aan ’n onbekende God” ontdek en daarby aangesluit. Die Grieke het ’n bewussyn gehad dat hulle nie alles van die gode en godsdiens weet nie.

Wat sou moderne aanknopingspunte wees? Baie mense ontwikkel ’n sterk omgewingsperspektief. Die oorsprong van alles is die onderwerp van intense gesprek en navorsing. Die soeke na sin, verhoudingskrisisse, ’n verlange na geregtigheid is nog voorbeelde. Waar lê die aanknopingspunt vir die evangelie?

Vier: Verwag teenkanting en respekteer dit
Daar sal altyd teenkanting teen die evangelie wees. Jesus is die Saaier, ons sy medewerkers, en daar sal altyd ’n deel van die saad wees wat op die pad, langs die pad, of tussen die onkruid beland. Hieroor moet mense vrede maak.

God gebruik ons getuienis, en ons kan ontspan oor die reaksie daarop.

Die vraag is nie wat die reaksie is nie. Die vraag is: Is ek getrou in die getuienis oor die Jesus-gebeure? Hoe meer ons, saam met Alexamenos, ons God in egte toewyding aanbid, hoe meer sal ons op die Areopagus beland in die wonderlike avontuur van ’n lewe in die Naam van God.

God stuur ons om te leef

Wegsending: Lied 488 “Helder skyn U lig vir die nasies vs 1,2,3,4”

Seën
13 Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Kor 13)

Be-aming: Lied 161 “Halleluja! Heer, U is ons lewe”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.