Sesde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die oorhoofse tema gedurende Koninkrykstyd is groei met groen as die liturgiese kleur. Die keuse vir ’n groei area kan vir die erediens gemaak word. Die deurlopende boodskap van hierdie Sondag se tekste is: Omarm (embrace) broosheid, swakhede en teleurstellings.

  • Jesus as die Profeet word nie in sy eie land geken nie (Mark 6:1-13);
  • Die weerbarstige volk moet eie mag afstaan en na God se Woord luister (Eseg 2:1-5);
  • Hou oë op die hand van die Here gerig (Ps 123);
  • Paulus omarm doring in sy vlees (2 Kor 12:2-10).

Ander tekste

Esegiël 2:1-5 – Die Here stuur Esegiël na Israel
2 Die stem het vir my gesê: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.”
2Terwyl Hy met my praat, kom die Gees in my en laat my regop staan. Ek het die stem met my hoor praat. 3Hy het vir my gesê: “Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe, ’n opstandige nasie wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorvaders het hulle teen My verset tot op hierdie dag toe. 4Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, 5of hulle luister of nie, want hulle is ’n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar ’n profeet tussen hulle is.

Psalm 123 – Ons oë is op die Here gevestig, want Hy sal ons bewaar
Ek sien na U op
123 ’n Pelgrimslied.
Ek sien na U op,
U wat uit die hemel heers.
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
3Ontferm U oor ons, Here,
ontferm U oor ons,
want ons het meer as genoeg veragting
gehad,
4meer as genoeg spot
van oormoedige mense,
veragting van hovaardiges.

2 Korintiërs 12:2-10 – Paulus ontvang die versekering dat God se genade vir hom genoeg is.

Gesigte en openbarings
12 Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het.
2Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3–4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Fokusteks

Markus 6:1-13
Jesus word in Nasaret verwerp

(Matt 13:53–58; 9:35; Luk 4:16–30)
6 Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. 2En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie ’n timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”
Die mense wou niks van Hom weet nie.

4Jesus sê toe vir hulle: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

5Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.
Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.

Jesus stuur die twaalf uit
(Matt 10:1; 5–15; Luk 9:1–6)
7Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. 8Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ’n kierie—geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. 9Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ’n kledingstuk saamvat nie. 10Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in ’n plek kom en in ’n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. 11En as ’n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”

12Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. 13Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Ekstra stof

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13]. Dit is heel moontlik geskrywe in Rome (volgens Irenaus) aan die gemeente in Rome (volgens Papias). Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is. Feitlik die hele inhoud van die evangelie van Markus kan in die ander evangelies gevind word.

Markus vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus lei sy dissipels dieper in die aard en betekenis van sy bediening, in en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus gaan Jerusalem binne tot verrukking van die skares, maar word uiteindelik deur hulle verwerp en deur die leiers gekruisig, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Ons teksgedeelte val dus in die tweede deel van Markus, net ná die genesingsverhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekkingsverhaal van die dogtertjie van Jaïrus.

Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
Let weereens op hoe belangrik geloof is, of dan hier die gebrek aan geloof. Waar Jesus die vrou en Jaïrus net tevore kon help, en hulle geloof ‘n rol daarin gespeel het, kan Jesus hier min uitrig, weens die gebrek aan geloof van sy tuisdorp se mense. Die feit dat Hy aan hulle bekend was as kind beteken dat hulle Hom etiketteer en ignoreer, tot hulle ewige skade. Selfs sy familiekring en gesin wou nie op dié stadium in Hom glo nie.

Interessant dat die dorpie nie by sy naam Nasaret genoem word nie.

Die verhaal in Matteus en Lukas
Matteus plaas die verhaal weereens in ‘n ander situasie, na ‘n aantal gelykenisse wat Jesus vertel het. Lukas doen dieselfde, maar plaas die verhaal reg aan die begin van Jesus se openbare bediening en brei op beduidende wyse uit op Markus se verhaal. Hy gebruik die verhaal van Jesaja as invalshoek vir Jesus se aanvangsbediening, hoewel hy ook verwys na sy vorige bediening in Kapernaum, wat dit verseker nie sy eerste openbare optrede maak nie. En Lukas gee ‘n goeie sinopsis van die res van Jesus se prediking waarin uitvoerig na OT verhale verwys word.

Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
Die toegespitste aandag aan die dissipels begin met hierdie opdrag in alle erns. Dit is treffend hoe Jesus “die twaalf” twee-twee uitstuur. Dit bly die normale patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen. Dit is ook merkwaardig dat hulle nie in detail voorsiening moet maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van die ontvangs deur mense op die plekke waar hulle sou gaan. Mense wat hulle nie ontvang nie, word ook doodgewoon verlaat om uit te kom by dié wat hulle nodig het. En dié mense kom tot bekering, mense met bose geeste ontvang bevryding en siekes word gesond gemaak. Interessant dat hulle met olie gesalf word, soos ons later ook by Jakobus 5:14 sal lees.

Dit is ook merkwaardig hoe hierdie verhaal vertel word in die konteks van Herodes wat Johannes die Doper onthoof het. Dit vorm die agtergrond van Herodes (Antipas – seun van Herodes die Grote wat ‘n kwart van sy pa se ryk regeer het) se verwondering oor Jesus. Sy tweestryd oor Johannes word oorwoeker deur sy onbedagte belofte aan sy dogter (Salome), en hy moet haar gee wat sy vra: Johannes se kop op ‘n skinkbord. Daarmee kom die lesers agter dat dissipelskap altyd ‘n prys vra. Soos Johannes vir sy dissipelskap met sy lewe geboet het, sou Jesus dit ook doen. En dié lot sou ook menige van hierdie dissipelkring tref. Dit laat ‘n mens besef dat jy regtig seker moet maak die Here stuur jou, sodat jou offer vir God se saak gegee word.

Stof van die voete afskud
Dit is ‘n baie bekende gebruik van die Jode om die stof van hulle voete af te skud as hulle van ‘n heidense gebied af weer in Israel teruggekom het. Daarmee sê hulle eintlik publiek dat die land waarvandaan hulle kom heidens is.

Dit beteken dat Jesus eintlik, met dié opdrag aan sy dissipels, ‘n boodskap gee aan die Jode, wat hulle en Hom verwerp, dat hulle heidens is. Dit staan letterlik as ‘n getuienis (NAV – aanklag) teen hulle. Nogal ‘n skerp oordeel! Maar die doel is om dié wat Sy boodskap nie aanvaar nie onder geen illusie te laat dat hulle dit op eie verantwoordelikheid verwerp.

‘n Mens moet ook nie die ironie hiervan mis nie – Nasaret het Hom so pas verwerp en dra dus ook dieselfde oordeel as die ander dorpe en huise wat Hom verwerp. Paulus sou in Korinte dieselfde doen, die stof van sy klere afskud, en aan die Jode wat sy boodskap verwerp die volgende toevoeg: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie” (Hand 18:6).

Maar onthou, Paulus kom eers na ‘n lang bedieningstyd by die punt uit dat hy die Jode as ‘n groep verlaat om verder onder die heidene te werk. Hy werk net hierna wel nog ‘n keer in Efese in die sinagoge, maar op sy derde sendingreis wil dit voorkom asof hy nie meer sinagoges besoek nie.

Dit wil sê, die simboliek was bedoel vir Jode wat deel van die volk van God was en Jesus nie as die Messias wou aanvaar nie. Dit was nie bedoel om teenoor heidene te gebruik nie.

Die verhaal in Matteus en Lukas
Moontlik gedagtig aan sy gehoor van Joodse Christene, vermeld Matteus spesifiek dat Jesus se opdrag nie die heidene of Samaritane ingesluit het nie. Die eerste fokus was die verlore skape van Israel. Hierdie gestuurdheid sou later verander en in die Groot Opdrag van Matteus 28 uitgebrei word na alle nasies. Matteus gee ook die rede vir die verbod op voorsiening vir die reis: “‘n Arbeider is tog geregtig op sy onderhoud”. Lukas bly by die feite soos Markus dit weergegee het, hoewel met sy eie beklemtoninge, soos dat hulle nie eers ‘n kierie moet saamvat nie.

Matteus vertel ook die verhaal van die onthoofding van Johannes die Doper meer uitgebreid en bly by die feite van die verhaal soos Markus dit vertel het.
Lukas verkort die verhaal tot ‘n enkele paar sinne.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1, 3”

Aanvangswoord
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
(Psalm 123)

Seëngroet
Aan die gemeente van God in ……………………………………….. en aan almal wat aan die Here behoort…..
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(2 Korintiërs 1:1-2)

Lied 251 “Salig die wat arm voor God is 1,2,3”

Verootmoediging
In aansluiting by die deurlopende boodskap van hierdie Sondag se tekste, naamlik “Omarm (embrace) broosheid, swakhede en teleurstellings” word die Wet aanbeveel as spieël waarin mense hulle broosheid voor die lewende God kan ontdek.

Eksodus 20 (Die Boodskap)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ‘n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.

“Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het.

“Onthou dat die sewende dag die Here se dag is. Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit.

“Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly.
“Jy mag nie iemand anders doodmaak nie.
“Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie.
“Jy moenie iets steel nie.
“Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie.
“Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.”

Skuldbelydenis

Lied 278 “Hoor ons bid o Heer 1 (herhaal 2 keer)”

Vryspraak
23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. (Romeine 3:23-25)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lofprysing
Lied 191 “Grote God ons bring U eer 1,2,3”en/of
Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Liedere

F190. “Onbeskaamd”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Wie sal Hy stuur
Wie is gevul met Sy Heilige vuur
Wie kan Hy vertrou
Wie sal Sy Naam hoog hou
Stuur my , stuur my, stuur my, stuur my

Refrein:
Onbeskaamd sal ek staan
Onbeskaamd vir Sy Naam
Ek sal my nie skaam vir Jesus nie
Onbeskaamd sal ek gaan
Onbeskaamd sal ek sing
Kom reinig my hart en my mond
Dat my woorde lewe spreek
Kom reinig my gedagtes
Dat wat ek doen
My onbeskaamd laat staan voor U
My onbeskaamd laat staan voor U

2. Hy wil ons vul met sy heilige vuur
Hy wil ons vertrou
Ons sal sy naam hoog hou
Stuur ons , stuur ons, stuur ons, stuur ons

F281. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede)
Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hier is ek nou met my vissies en my brood
En ek bring dit voor U soos ‘n kind
Ek weet dis te min om ‘n skare te voed,
Maar in U hand is dit genoeg

Refrein:
Hier is ek, Here gebruik my
Hier is ek, kom lei my
Hier is ek, Here gebruik my
Waar U nou reeds werk

2. Kan ek maar nou dit alles vir U gee
En leer te vertrou soos ’n kind?
Van die golwe vergeet, my oë op U hou
Want deur u krag, sal U my daar hou

Refrein:

F256. “Ons Is U Liggaam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis)
Teks en Musiek: JA de Beer en Z van der Westhuizen
© 2007 Urial Publishing

Ons leef u liefde in ‘n wêreld wat uitroep
Ons neem u water na mense wat dors
Laat ons u liefde deur ons dade uitdra
Ons neem u brood na ‘n sterwende land
So kom U naby aan elkeen wat nood het
Laat u wil geskied deur ons gehoorsaamheid
Want ons is u liggaam
Ons sal U vir altyd volg
Ons is die gesalfdes
Wat opstaan vir u Naam

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U. Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor. Amen.
Outeur: Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)
en/of 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Skriflesing: Markus 6:1-13

Prediking

Familie-oomblik

Opsie 1:
Fokus op die uitdaging van dissipelskap. Jesus stuur ons twee-twee uit. Dit is belangriker om gehoorsaam te wees as sterk. God sorg vir die uitkoms.

Opsie 2:
Verduidelik vir die kinders wie George Washington was en vertel dan die storie:
Iemand vertel hoe hulle eendag ‘n baie ou familiewoning iewers in die VSA besoek het. Die ou tannie wat in die huis gewoon het, was trots om vir die besoeker die hele huis te wys. Bokant die kaggel het daar ou geweer gehang. Die besoeker het gevra of hy die geweer mag afhaal om daarna te kyk, daarop die tannie geantwoord het: “Ek is jammer, maar dis nie veilig nie. Jy sien, die geweer is gelaai en oorgehaal. My oupagrootjie het dit gereed gehou, ingeval hy moes ingryp vir die vryheid van die Amerikaanse state.” Die besoeker wou weet of haar oupagrootjie dood is voordat die oorlog vir die vryheid van die state gevoer is. “Nee”, het die tannie gesê, “hy het baie oud geword en is in 1802 oorlede. Maar hy het nooit vir George Washington vertrou nie. Jy sien, my oupagrootjie was saam met George Washington op skool en hy kon net nie glo dat Washington ‘n weermag kon lei nie!”

Dan kan jy vir die kinders verduidelik hoe die mense van Jesus se dorpie nie na hom wou luister nie.

Kleiner kinders sal waarskynlik nie verstaan wat jy bedoel as jy sê dat ons ook nie altyd vir Jesus erken nie. Praat eerder oor die manier waarop God almal wil gebruik, maar ons idees oor hulle soms maak dat ons nie sien hoe God hulle gebruik nie.
(foto van Wikimedia commons)

Opsie 3:
Sluit steeds aan by die dorpie wat nie na Jesus wou luister nie, maar gebruik die verhaal van City of Ember.

Te midde van ‘n verwoestende oorlog, bou die “Bouers” ‘n ondergrondse stad. Hulle stem saam dat mense na 200 jaar weer met redelike veiligheid bo die grond sal kan leef. Hulle plaas geheime instruksies in ‘n houer en gee dit vir die burgemeester van die ondergrondse stad. Mettertyd lê die houer vergete in ‘n stoorkamer. Toe dit dus oopgaan, weet niemand daarvan nie.

Lina en Doon vind die houer. Hulle besef dat die ondergrondse stad se krag besig is om op te raak en dat mense moet terugkeer boontoe. Niemand wil na hulle luister nie, want hulle is nie belangrik genoeg nie. Tussen teenstand, gevaar en terugslae deur, ontsnap hulle egter uit die stad uit en kry dit reg om ‘n boodskap terug te stuur. Jy kan die fliek se voorskou hier aflaai.

(Enige storie wat gaan oor iemand na wie niemand anders wil luister nie, sal goed werk. Dink bv. aan iets soos “Chicken Little”. City of Ember word hier gekies, omdat dit nie ‘n fout uit die karakters se verlede is wat maak dat niemand na hulle wil luister nie.)

Preekriglyn

Mense kan hulle nogal misreken. Luister hierna:

  • “Ek dink daar is wêreldwyd ‘n mark vir ongeveer vyf rekenaars”- Thomas Watson, voorsitter van IBM, 1943
  • Daar is geen rede waarom enigiemand ‘n rekenaar in hul huis sal wil hê nie” – Ken Olsen, President van Digital Equipment Corporation, 1977
  • “Ek is net bly dit gaan Clark Gable wees wat met modder op sy gesig eindig, en nie Gary Cooper nie” – Gary Cooper oor sy besluit om nie die hoofrol in Gone with the wind te aanvaar nie
  • “Boor vir olie? Jy bedoel kom ons boor ‘n gat in die grond om olie te vind? Jy is gek!” – ‘n Boormaatskappy wat Edwin Drake in 1859 gevra het om hom te help boor vir olie
  • “640k rekenaargeheue behoort genoeg te wees vir enigiemand” – Bill Gates, 1981.
Jesus misken

In Markus 6 kom Jesus by die dorp waar hy grootgeword het. Teen hierdie tyd het die mense van Nasaret al gehoor van al die wonderwerke wat Jesus in Kapernaum en omgewing verrig het. Op die sabbatdag begin hy die mense in die sinagoge leer, waar hulle aangegryp word deur sy woorde. Hulle praat oor die kragtige dade wat deur sy hande plaasvind en die wysheid waaroor Hy beskik.

Tog wil die mense niks van Hom weet nie. Hoewel hulle iets spesiaals in Jesus se woord gehoor het, het sy woorde hulle eerder afgestoot as aangetrek. “Hy is ‘n timmerman,” sê hulle. Moontlik is gedink dat iemand wat handewerk gedoen het nie wonderwerke kan verrig nie. Verder word hy as die seun van Maria geïdentifiseer. Deur Jesus aan sy ma eerder as sy pa te verbind, mag ‘n neerhalende manier wees om na sy “buite-egtelike” geboorte te verwys. Hulle ken ook sy broers. Daar kan nie iets spesiaals wees aan so ‘n welbekende gesinnetjie nie.

Hierdie weerstand teen Jesus lei daartoe dat Hy geen betekenisvolle wonderwerk daar doen nie. Verbaas oor die ongeloof van die mense, sê Jesus: “‘n Profeet word oral herken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” (4)

Die mense van Jesus se tuisdorp het gedink hulle weet wie Hy is: Hy is ’n timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon. Daarom verstaan hulle nie waar Hy sy krag en wysheid vandaan kry nie. Dit is hulle kennis van Jesus wat hulle daarvan weerhou om Hom regtig te ken en sy invloed te ondervind. Hulle kon nie begryp dat God deur so ’n eenvoudige mens kon werk nie. Die mense wou daarom niks van Hom weet nie. Hulle het hulle vir Hom geskaam. Dit is die eerste keer wat Jesus ervaar dat Hy deur gewone Joodse mense verwerp word.

Verblind deur familiariteit

Nasaret se mense was verblind deur familiariteit. Hulle het gedink hulle weet alles van Jesus. Hulle het so vasgekyk teen hulle kennis van die opgroeiende klein seuntjie en sy familie, dat hulle nie God se aanwesigheid en God se werk in Jesus kon herken nie. Hulle kon nie ruimte maak vir die feit dat hulle dalk nie alles van Jesus weet nie, dat hulle Jesus nog nie volledig kleingekry het nie.

As gevolg van hierdie geslotenheid kon Jesus nie eintlik wonderwerke verrig nie. Sy wonderwerke was die teken van God se werk deur Hom. Dit was konkrete tekens dat God se vrede, genesing, geregtigheid en vreugde in Jesus werklikheid word. Nasaret is geslote hiervoor.

Die verhouding tussen geloof en wonderwerke is kompleks. Daar is baie voorbeelde van wonderwerke in die evangelies wat plaasvind sonder dat geloof oënskynlik ‘n rol speel, of vermeld word. Tog vind daar twee wonderwerke net voor hierdie gedeelte plaas waarin geloof wel ‘n rol speel (5:21-43). Aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, word gesê: “Dogter, jou geloof het jou gered” (5:34). Jaïrus wie se dogtertjie gesterf het, hoor: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” (5:36).

‘n Geslote gemeenskap

Hier in Nasaret maak die gemeenskap se kollektiewe ongeloof hulle geslote vir die werk van God. Die geestelike klimaat van ’n gemeenskap, die verwagting wat mense het, hulle openheid vir die krag van God wat deur Jesus aan die werk is, sal uit die aard van die saak ’n groot rol speel in wat God se krag in daardie gemeenskap kan doen. Ons ongeloof maak God nie kragteloos nie, maar wanneer dit oorheersend is in ’n gemeenskap is die temperende effek daarvan op die kragtige dade van God vir daardie tyd en plek duidelik en tragies. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer (6b). Hy aanvaar die verwerping van die mense, gaan van hulle af weg om sy bediening elders te gaan voortsit.

Ons gemeente as Nasaret

Gelowiges moet Nasaret se houding teenoor Jesus met selfondersoek bedink. Dit kan wees dat ons só bekend is met Jesus dat ons dink ons weet presies wie Hy is, en wat ons van Hom kan verwag. Ons hou van Jesus, en sy woorde raak ons, maar ons het Jesus onder die knie. Ons het Hom uitgesorteer en weet wat ons van Hom kan verwag.

Dalk verwag ons net van Jesus om ons eendag hemel toe te vat as ons sterf. Of ons sien Jesus net as ‘n besondere leermeester, maar nie as die Seun van God nie. Of Jesus is vir ons die Seun van God, maar nie die lewende Heerser en Koning van ons lewe nie. Ons het Jesus nodig om ons verhouding met God te herstel, maar Jesus moenie lol met die manier hoe ons elke dag lewe nie.

Jesus is op dun ys as Hy wil inmeng in die manier waarop ek my geld hanteer, my politiek bedryf, my gesin benader, of my medemens uitsorteer.

Watter selfondersoek en watter bekering het ons nodig om werklik ontvanklik te wees vir die volle koningskap, volle verlossing en volle genesing wat Jesus bring? Wat moet ons ophou doen? Wat moet ons begin doen?

Jesus besoek altyddeur plekke

Regdeur die evangelies is Jesus besig om plekke te besoek. Sy besoek aan Nasaret verloop rampspoedig. Tog gaan Jesus daarmee voort. Trouens, onmiddellik na Nasaret gaan Hy steeds by die dorpies in die omtrek rond en leer die mense.

Jesus intensiveer hierdie patroon deur sy dissipels daarna twee-twee uit te stuur na dorpies en plekke. Hierdie instruksies kom ook in die ander evangelies voor. Die dissipels gaan, volgens Lukas, voor Jesus uit na elke dorpie en plekkie waar Hy wil kom. Trouens, in Lukas 9 word die twaalf uitgestuur, en hulle getal word in Lukas 10 vermenigvuldig deur 72 ander ook uitgestuur word.

Opvallend genoeg maak Jesus sy dissipels weerloos in hierdie gestuurde proses. Hulle kry geestelike mag om bose geeste uit te dryf en mense gesond te maak (wonderwerke), maar terselfdertyd mag hulle nie kos, reissakke of beursies saamvat nie.

Mens sou dink dat weerstand teen Jesus se boodskap met kragtige dade begroet moes word en dat die dissipels genoeg mag sou kry om weerstand uit die pad te vee. Wanneer mense die boodskap verwerp, sou mens verwag, moes die dissipels in staat wees om die weerstand kragtig af te breek en mense tot bekering te lei.

Niks daarvan nie. Net soos Jesus sy eie mense in Nasaret nie dwing om te glo nie, sou die dissipels ook niemand met krag en mag kon dwing nie. Die evangelie werk nie so nie. Die evangelie kan net suksesvol gedeel word wanneer dit vanuit ‘n posisie van swakheid en onmag geskied.

Daarby gee Jesus altyd ‘n strategie van onttrekking as daar nie geloof is nie. “Skud die stof van julle voete af.” (11) Die evangelie werk nooit met dwang nie.

Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak (12-13). Iemand wat bose geeste kon uitdrywe, siekes kon gesond maak en dooies kon opwek, is as gesant van God aanvaar. Die dissipels het gegaan waarheen Jesus hulle gestuur en gedoen wat Jesus hulle beveel het. Hulle het groot dinge met die mag wat Jesus vir hulle gegee het, gedoen. Hulle moes Hom gaan verteenwoordig. Gewone mense, vissermanne. Geeneen was ‘n professionele godsdienstige nie.

Ons gemeente as gestuurdes

Ons het hierbo aan onsself as mense gedink wat Jesus ontvang. Ons het nagedink oor ons eie openheid teenoor Jesus.

Die stuur-opdrag aan die dissipels leer ons om onsself ook as Jesus se gestuurdes te sien. Hierdie proses van stuur gaan voort. Jesus stuur ons steeds as’t ware voor Hom uit na elke plek waar Hy deur ons wil kom.

Dit is lewensveranderend om aan jouself te dink as iemand wat deur Jesus na ander gestuur word. Die uitdaging is om jou hele lewe as die lewe van ‘n gestuurde te sien. Wanner jy motor bestuur, brandstof ingooi, saam met ander werk, rugby kyk, skoolgaan, studeer, inkopies doen, by die kasregister betaal, hare sny – wat ook al – is jy ‘n gestuurde van die Here.

Mens kan deur die manier waarop jy glimlag, ander motoriste hanteer, diens lewer of ontvang, van en met ander praat, die draer van die genesing en vrede van die Here wees. Of nie.

Natuurlik sal ander soms maar min van jou verwag. Hulle ken jou en jou streke. Hulle ken jou familie. Dalk is jy tussen mense saam met wie jy grootgeword het. Ander kan jou dalk as ‘n teiken sien om uit te buit, of as ‘n blote dit of dat van wie hulle nie veel verwag nie.

Laat dit so wees. Mense sal geslote wees vir jou boodskap en jou handelinge. Maar nie altyd nie. Daar sal die verrassende oomblikke wees waar mense die Here se genade en genesing, waarvan jy ‘n draer is, met ope arms sal omhels.

Dit is die avontuur van lewe as die gestuurde van die Here.

God stuur ons om te leef

Gebed
Martin Luther omarm sy swakhede in gebed:
“Here, my beker is leeg
en ek verlang dat U my weer sal vul.
Ja, Here, kom vul my!
My liefde is maar lou –
kom, Here, en maak my weer warm, vurig . . .
dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my.
My geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik –
ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om te vertrou.
O Here, help my. Sterk my geloof en vertroue.
Ek is arm en U is ryk –
en U het juis gekom om vir armes u genade uit te deel.
Ek is ’n sondaar, U is regverdig
en daarom bly ek aan u sy.
Ek het niks om U aan te bied nie.
Ek kan alleen maar van U ontvang.”
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Offers

Wegsending: Lied 523 Goddelike liefdebande 1,2,3,4

Seën:Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.