Sesde Sondag van Konikrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 77:1-2, 11-20
Sal die Here vir altyd verstoot?
77 Vir die koorleier. Ter herinnering.
Van Asaf. ’n Psalm.
2Ek roep na God om hulp,
ek roep na God, want Hy sal my hoor.

3In my nood soek ek hulp by die Here;
ook in die nag bly my hande
in gebed uitgestrek
sonder om moeg te word;
maar ek vind geen troos nie.
4Ek dink aan God en ek sug, 
ek dink na en ek is verslae.
5U laat my wakker lê, 
ontsteld en sprakeloos.
6Ek dink aan vroeër dae, 
aan jare lank gelede.
7As ek so in die nag lê en terugdink
en peins, vra ek my af:
8“Sal die Here vir altyd verstoot
en nooit weer genade betoon nie?
9Het daar vir altyd ’n einde gekom
aan sy trou?
Geld sy beloftes dan
glad nie meer nie?
10Het God vergeet om
medelye te hê?
Het Hy in sy toorn
sy ontferming onttrek?”

11En ek sê:
“My grootste smart is
dat die Allerhoogste nie handel
soos voorheen nie.”
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig, o God.
Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.
16U het u volk deur u krag gered,
die kinders van Jakob en Josef.
17Toe die waters U sien, o God,
toe die waters U sien, het hulle gebewe,
die diep waters het gesidder.
18Die wolke het water uitgegiet,
uit die donderwolke het dit gedreun,
u weerligte het in alle rigtings geblits.
19U donderslae het die lugruim gevul,
weerligstrale het die wêreld verlig,
die aarde het geskud en gebewe.
20U het deur die see gekom,
u weg deur magtige waters gebaan.
Niemand het u spoor gesien nie.
21U het u volk soos ’n kudde gelei
deur die hand van Moses en Aäron.

Galasiërs 5:1, 13-25
5 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Die Gees van God en ons sondige natuur
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” j15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Lukas 9:51-62
’n Samaritaanse dorp wys Jesus af
51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.

54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. l56Daarna het hulle die reis voortgesit na ’n ander dorp toe.

Hoe Jesus gevolg moet word
(Matt 8:19–22)
57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”

58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”

59Aan ’n ander een sê Hy: “Volg My.”

Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”

60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”

61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”

62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Fokusteks

2 Konings 2:1-2, 6-14
Elia word in die hemel opgeneem
2 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ’n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle is toe na Bet-El toe. 3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.

7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ’n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.

8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”

10Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. 13Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”
Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

15Toe die profete van Jerigo wat ’n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”
Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.

16Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergelaat.”
Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”

17Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”

Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie. 18Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”

Ekstra stof

Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ’n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.  Ons weet nie regtig nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses.  Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa.  Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie.  Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie.  Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word.  Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ’n lyk begrawe moet word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 270 vv 1 en 4 “Son van die geregtigheid”
Of VONKK 123 “Wees Stil En Weet”
Of Flam 122 “Abba Vader”

Votum
Psalm 77:12-15a12Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.  13Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. 14Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? 15U is die God wat wonderdade doen; U het u magonder die volke geopenbaar. 16U het u volk deur u krag gered,.

Seëngroet

Lofsang
Lied 472 “Kom lofsing die Heer” of
VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam (Psalm 96)” of
Flam 47 “U Skep”

Wil van God: Galasiërs 5:13-18
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

Skuldbelydenis

Geleentheid vir stil gebed

Genadeverkondiging
Galasiërs 5:1-2, 25 – Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 73 “Soos Die Vader U Gestuur Het (Uitsendingslied)”*
Nav Johannes 20:12 en Matteus 5:14 Teks: Jacques Louw 2006 ©
Melodie:  KARIEN — Karien Pretorius 2006 ©, gewysig en ritmies aangepas VONKK Werkgroep 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK:   Kontemporêr – Uitsending

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

1. Maak ons Heer, getuies van u Naam
wat u Woord aan ander sal uitdra.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

2. Laat ons, Heer, u liefde sigbaar maak
deur te dien soos U ons geleer het.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.
3. Gee vir ons ‘n hart vol deernis, Heer,
vir die nood en hartseer van ander.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

4. Laat ons, Heer, soos helder ligte skyn,
soos ‘n stad wat bo-op ‘n berg lê.
Amen. Amen. Amen.**
* Die  lied hoef nie noodwendig in geheel by Uitsending gesing te word nie.
** Die Amen-gedeelte kan ook as ‘n afsonderlike respons gesing word.

VONKK 123 “Wees Stil En Weet”
Teks: Stille, mein Wille! – Katharina von Schlegel (gebore 1697); Be still my soul – Jane Borthwich 1814-1897; Jacques Louw 2010 © Musiek: FINLANDIA – Jean Sibelius 1899 (1865 -1957)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lyding en Nood / Sterwe en Begrafnis

1. Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer.

2. Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
In smart en eensaamheid is Hý by jou.
Sy Heil’ge Gees sal jou getrou bewaar
en met sy troos en liefde jou omvou.
Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
Hy sorg vir jou in hartseer* en gevaar

3. Wees stil en weet: As storms om jou woed,
is Hy die rots waarop jy kan kan bou.
Vertrou op Hom; in voor- en teëspoed
kan jy jou lewe aan Hom toevertrou
Wees stil en weet: Die Here is jou krag.
Hy gee jou moed en hoop vir elke dag.

4. Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks sal jou ooit kan ruk uit God se hand.
Geen siekte, swaarkry wat jy mag ontbeer
sal jou kan skei van God se liefdesband.
Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks kan sy liefde vir sy kinders keer.
* kan met siekte/lyding/swaarkry vervang word

VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam (Psalm 96)”
Teks: Suid-Afrika, o land so skoon en vry – Andries Wasserman, gewysig GG Cillié 1979; nuwe teks Jacques Louw 2003 © Melodie: GOD OF OUR FATHERS – George W Warren, 1892
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: openbare besit
RUBRIEK:   Klassiek –Lofprysing
1. Sing vir die Heer ‘n nuwe lied tesaam.
Sing tot sy eer en prys die Heer se Naam.
Volke getuig, verkondig sy gesag.
Kom en vertel aan nasies van sy mag.

2. Groot is die Heer – bo alle gode groot!
Aan Hom die lof – Hy red ons uit die nood.
Luister en glans omstraal sy majesteit.
Hy is die Heer – ons God in ewigheid!

3. Kom, volke, prys die Heer se eer en mag.
Buig voor Hom neer uit eerbied vir sy krag.
Juig, aarde, juig tot eer van God die Heer.
Juig en wees bly: Die Here God regeer!

F47. “U Skep”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Marina du Toit
© 2008 Urial Publishing

1. U Skep die land, U skep die lig, U skep die wêreld als uit niks.
U skep die see, U skep die sand
ons sien in als u grote hand.

Refrein:
En tog dink U ook aan my,
U ken my naam U maak my vry.
U’t my kom kroon; ek’s priester en profeet
om te heers oor U werk,
U liefde ken geen perk.

2. U sê ’n woord, ’n ster verskyn en al die duisternis verdwyn.
Daar uit die niet maak U nog iets,
onmoontlik, wonderlik maar waar!

Brug:
Almagtige Heer, u kind is gereed,
gebruik my, o Heer, om saam met die skepping U te eer.

F122. “Abba Vader”
(RUBRIEK: Flam – Gebed, Toewyding; Afhanklikheid) Teks en musiek: Wian Vos
© 2005 Urial Publishing

Abba Vader, Heer, gelowig buig ons voor U neer.
Ons verklaar opnuut dat U regeer.
Jesus Christus, Heer, ons bely dit U kom weer.

Lei ons elke dag en neem beheer
van ons stad, van u kerk,
die omgewing waar ons woon en werk.
Deur u Gees, deur u kinders
om u hand en hart te wees,
neem beheer van ons stad…

F165. “In die hart van God die Vader” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Rick Moser © 1996 Spirit and Truth Music
(1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ’n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.
En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.

Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei.
En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid.
Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.
Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 2 Konings 2:1-2, 6-14

Familie-oomblik

Kyk gerus na die riglyne by die vorige Seisoen van Luister produk oor hierdie teks.   Dit sluit aan by die gebruik van die strydwa in antieke oorloë om die Here se beskerming van ons te verduidelik.

OF vertel gewoon die storie!  Dit is belangrik dat kinders die verhale van die Bybel hoor.  By http://www.mssscrafts.com/crafts/chariot/index.htm is ‘n idee om ‘n strydwa van ‘n melkkarton te maak, wat jy kan gebruik in die vertel van die storie.  http://www.missionarlington.org/d/OT-1YR-42-ElijahHeaven.pdf is ‘n voorbeeld van ‘n eenvoudige oorvertelling van die verhaal.  Hulle stel ook voor dat jy ’n groot kartondoos op ’n skaatsplank gebruik om ’n strydwa te maak – een of twee vrywillige kinders kan dan daarin ry.

Jy sou ook by die aflos-gedagte in die preek kon aansluit deur die kinders aflos te laat hardloop en die idee spesifiek toe te pas op hul lewens.  Of jy kan van die geleentheid gebruik maak om te gesels oor die hemel en hoe ’n mens daar kom.

Preekriglyn

Die Amerikaanse vroueaflosspan was die gunstelinge om die goue medalje in die 4 x 100 meter aflosresies in die 2004 Olimpiese Spele in Atene, Griekeland, te wen. Marion Jones, een van die spanlede, het vier goue medaljes in die voorafgaande spele in Sydney, gewen.

Die wedren het baie goed vir die Amerikaners begin. Hulle was reeds ‘n entjie voor toe Marion Jones die stokkie vir die tweede been oorneem. Sy het die voorsprong oor haar 100 meter vergroot, en nader aan Lauryn Williams gekom, wat die derde been sou hardloop.

Williams het begin hardloop toe Jones naderkom, maar toe sy die stokkie wou aanvat, werk dinge nie lekker uit nie. Jones het die stokkie drie keer probeer aangee, maar Williams kon dit net nie raakvat nie. Met die vierde probeerslag kry hulle dit reg. Op hierdie stadium was hulle egter reeds buite die amptelike oorgee-sone, en is gediskwalifiseer.

Almal weet hulle was verreweg die vinnigste span op die baan. Maar omdat die oorgee van die stokkie nie wou uitwerk nie, het hulle die resies verloor.

Die lewe is ‘n afloswedloop. ‘n Mens kan so goed wees as wat jy wil, maar een of ander stadium moet die stokkie oorgegee word. Dit is krities belangrik dat dit reg en goed verloop. Die oorgee is ‘n risiko-tyd. Soos die spreekwoord waarsku: tussen die hand en die mond val die pap so maklik op die grond.

Grafika beskikbaar, kopiereg onbekend.

Tyd vir aangee

Ons teks roep die oorgee van die profetiese stokkie tussen Elia en Elisa in herinnering. Verrassend genoeg, is Moses en sy opvolgers Josua, ook in ons teks ter sprake. Die gebeure tussen Elia en Elisa word só oorvertel dat die eerste Joodse lesers van 2 Konings dadelik sou dink aan die oorgee van die leierskapstokkie tussen Moses en Josua, toe die volk oorspronklik die beloofde land betree het. Ons kom op hierdie punt terug in die preek.

Nog ‘n aangee

Hier is egter ook nog ‘n aangee van die stokkie ter sprake. Ons moet onthou wie die eerste lesers van hierdie boek was. 2 Konings word geskryf aan die ballinge ten tye van die volk se ballingskap. Israel is uit die land ontwortel, en wonder of hulle ooit sal terugkeer na die beloofde land.

In die Joodse tradisie, soos vir Christene, is die oorgee van die stokkie van geloof van die een geslag na die volgende verskriklik belangrik. Geloof is nooit vanselfsprekend nie. Dat die een geslag die Here ken en glo, beteken nie die volgende geslag sal outomaties glo nie. Natuurlik beloof die Here sy trou van geslag tot geslag, maar die ouer geslag is altyd sendelinge na die jonger geslag.

In die ballingskap is die oorgee van die geloofstokkie in ‘n krisis. Die volk is uit hulle land geruk. Sal God se trou bly voortbestaan? Sal ongeloof oorwin? Sal die volk wat hul geloof en hul identiteit as God se mense betref, bly voortbestaan?

Die tekens het nie goed gelyk nie. Dalk het die wedren reeds geëindig, en was hulle prakties gediskwalifiseer om God se mense te wees.

Ons teks het ‘n kragtige boodskap vir die Jode in ballingskap. Dit roep God se trou in die tyd van Elia en Elisa inherinnering as ‘n boodskap aan die volk. Die boek roep ook, soos ons sal sien, Moses en Josua in herinnering, by die oorgee van die leierskapstokkie op die vooraand van die intog in Jerusalem.

Opeenvolging van konings onderbreek

Daar is selfs meer opeenvolging en oorgee van stokkies ter sprake. Die boeke 1 en 2 Konings vertel die verhaal van opeenvolgende konings, en hoe die stokkie polities gesproke van die een na die ander aangegee is. Hier het die pap baie keer tussen hand en mond op die grond geval.

Aan die begin van 2 konings, in ons teks, word die verhaal van koninklike opeenvolging skielik onderbreek. Nou kom profetiese opeenvolging aan die orde. Terwyl die konings hulle eie koppe volg, en die een koning meer afvallig van die Here as die vorige een is, is daar ‘n dun lyn van God se trou in Israel se geskiedenis te bespeur. Terwyl die konings die Here met hulle afgodediens probeer verdring, sorg die Here dat daar opeenvolgende profete is wat die volk aan Hom bly herinner.

Die volk se oorlewing as geloofsgemeenskap berus op die Here se trou wat mens bly roep om vir sy Naam te getuig te midde van ‘n krom en verdraaide geslag.

Profete in die kollig

In hfs. 2:1 val die verteller sommer met die deur in die huis: “Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel sou opneem.” Soos ‘n goeie verteller betaam, is die spanningslyn dadelik gevestig. Nou is ons nuuskierig. Hoe gaan dit gebeur dat die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opneem?

Nie dat ons die antwoord dadelik kry nie. Elia en Elisa gaan op reis. Van Gilgal gaan hulle na Bet-El, dan na Jerigo, en dan oor die Jordaanrivier. By elkeen van hierdie plekke op die reis is daar profete wat ook reeds vooruitsien wat die verteller ons al meegedeel het: Elia gaan weggeneem word. Dit verhoog die spanningslyn.

Die belangrike punt is dat Gilgal, Jerigo en die deurgang van Elia deur die Jordaan, met water wat oopkloof, herinner aan Josua wat Moses opgevolg het. Met die intog in die land het die Jordaan se water ook geskei, Gilgal was die eerste plek waar die Israeliete na hulle intog kamp opgeslaan het, en Jerigo was die eerste oorwinning in die beloofde land.

Die Here was met Moses, ‘n groot leier. Toe Moses nie meer daar was nie, het die Here die pad verder met Josua as leier geloop, deur die Jordaan, verby Gilgal en Jerigo. Net so gaan die Here nou met Elisa wees nadat die magtige Elia weggeneem is.

Oorgee van die profetiese stokkie

Maar ons loop die verhaal vooruit.

Van Gilgal na Jerigo, na die Here lei Elia en Elisa se reis. Elisa het die brandende begeerte dat ‘n dubbele deel van Elia se gees op hom kom. Hy is nie gulsig nie. In die Ou Testamentiese wêreld was die eersgeborene geregtig op ‘n dubbele porsie. Dit bevestig Elisa se versugting om die opvolger, die erfgenaam van Elia se profetiese taak te wees – hoeveel opoffering dit ook al gaan verg.

Skielik kom daar ‘n rukwind, ‘n stormwind, wat Elia wegvoer. Elisa sien ook ‘n wa en perde van vuur. Hierdie wa en perde simboliseer Elia se betekenis in Israel. Elisa roep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!” Elia was die een deur wie die Here sy Naam lewend gehou het in Israel.

Elisa tel nou Elisa se mantel op, die simbool dat hy inderdaad Elia as profeet opvolg. Die stokkie is oorgegee. Net soos Elia kort vantevore, slaan hy met die mantel op die Jordaan se water, en roep uit na God.  Die water skei.  Dit herinner ook aan Moses se staf wat die water geskei het. Met Josua het die Jordaan se water ook geskei.

Elisa kan doen wat Elia kon doen. Daarmee is die opvolging gewaarborg.

Die Woord as wapen

Die geskiedenis van Elia en Elisa staan altyd in die teken van stryd teen die Baäl-aanbidding. Baäl was die godheid wat vir vrugbaarheid moes sorg. Baäl was baie keer uitgebeeld as ’n godheid wat op die wolke ry. Die wolke is sy strydwa waarmee hy die oorlog ingaan.

Hier word Israel geleer dat dit God is wat die mag in die storm en die ryer van die strydwa is. En die woord van God se profeet is God se wapen in die stryd vir geloof. Die profetiese woord, soos deur Elia gespreek, is net so ’n wapen soos die konkrete strydwa.

God gee sy profete, en God bemagtig hulle om sy Woord en die aanbidding van sy Naam lewend te hou.

God is in beheer

Ons is tans in dié deel van die kerklike jaar wat as koninkryktyd bekend staan. Ons staan stil by die werk van die kerk in ’n wêreld waarvan ons weet dit onder heerskappy van God staan. Die wêreld word net oënskynlik deur politieke leiers en magte regeer. In die wêreld voel dit soms of God se Woord verdring word deur baie ander woorde en beloftes. Dit is ’n wêreld waar dit soms voel asof leiers gekies word op grond van hulle vermoë om mag te misbruik en nie om ander te dien nie.

In die tyd van Elisa het die konings hard probeer om die ware diens van die lewende Here te verdring ten koste van Baälaanbidding. Die Woord van God was in die hande van enkele profete wat dikwels vir hulle lewe moes vlug. Dit was ‘n harde tyd en ‘n klipharde geskiedenis, met stryd en teenstand vir diegene wat die ware God bly aanbid het.

In 2 Konings 2 word die opeenvolging van konings en hulle politieke mag vir ‘n oomblik opgeskort. Ons hoor hoe een profeet die ander opvolg. Hier word as ’t ware ’n tydlose moment beskryf. Dit gee ’n kyk in ’n ander heerskappy, God se heerskappy.

Ons as hoorders word herinner dat dieselfde God wat deur Moses die volk uit die woestyn uitgelei en vir Josua as opvolger van Moses aangestel het om hulle die beloofde land in te lei, dieselfde God is wat Elisa die opvolger van Elia maak. God neem ook Elia, ’n getroue boodskapper van God se volk, in die hemel op. Dit is dieselfde Elia wat deur Elisa erken word as die vegter vir die Here, met die wapen van God se woord.

God is en bly in beheer.

God werk deur bemagtigde mense

Anders as in die wêreld kies en bevestig God sy boodskappers. In Elisa sien ons ’n profeet wat honger is na hierdie woord. Hy druk deur omdat hy begeer om die erfgenaam te wees. God werk vandag nog deur mense aan wie Hy sy Woord toevertrou. God is buite en binne die sigbare chronologiese orde van die geskiedenis. In daaglikse momente waar mense hierdie taak op hulle skouers neem, herinner God ons dat Hy in die geskiedenis werk.

Aanmoediging om te dors na die Woord

God werk in die geskiedenis en gebruik mense. Daarom is Elisa vir ons ‘n inspirasie. Iemand wat honger na die woord van God en die amp van die profeet, al het hy geweet dit is nie ’n maklike werk nie. Dit kan vir ons ’n voorbeeld wees van deursettingsvermoë en opoffering. In Koninkrykstyd staan die kerk vas in God se hande, maar moet ons tog ook tot God bid om deur sy Heilige Gees ons honger te hou vir sy Woord en bereid te maak vir sy werk.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-Naam” of
VONKK 73 “Soos Die Vader U Gestuur Het” of
F165. “In die hart van God die Vader”

Seën

Respons
Lied 533 “Stuur ons, Here”

Vonkk 73 v 4 se “Amen”.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.