Sesde Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Vandag se tekste nooi ons uit om ons eie liggaamlikheid te vier en om God se verbintenis tot gesondheid en heelheid te bevestig. Markus 1 vertel van die genesing van ’n melaatse. Hiermee sien ons Jesus se teologie van beliggaming en heelheid. Hy wys ook dat siektetoestande nie God se wil of straf is nie. Terwyl Psalm 30 God se lof oor genesing besing, reflekteer dit ook die dubbel-sinnigheid van sekere soorte teologie ten opsigte van gesondheid en siekte. Ook die genesing van Naäman kan benader word vanuit die perspektief van God se passie vir genesing en heelheid. Naäman kom tot die besef dat die genesing wat hy benodig, nie kom via komplekse rituele of groot finansiële uitgawe nie, maar deur die eenvoudige gebaar om in  die nederige Jordaanrivier te bad. Paulus se opmerkings oor die liggaam in 1 Korintiërs 9 is ’n voortsetting van die tema van genesing, siekte, spiritualiteit en beliggaming. Ons liggame is op interafhanklike wyse deel van ons geestelike groei.

Ander tekste

Psalm 30; 1 Korintiërs 9:24-27; Markus1:40-45

Fokusteks

2 Konings 5:1-14
Naäman word genees van melaatsheid
5 Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ’n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ’n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ’n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ’n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ’n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ’n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ’n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein.

15Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”

16Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.”
Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.

17Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie. 18Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!”

19Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy ’n ent weg was, 20het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.”

21Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?”

22“Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.”

23Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.”

Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra. 24Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is, 25en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?”
Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.”

26Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne? 27Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.”
Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Litanie vir Epifanie
Voorganger: Laat ons tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons op grond van die geheimenis van die Woord wat mens geword het, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons op grond van die nederige geboorte van die Koning van lig in die stal van Betlehem, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons op grond van die heerlike verskyning van die Koning van heerlikheid aan die herders en sterrekykers tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons tot die Here bid vir die vrede en verlossing wat sy geboorte bring.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons tot die Here bid vir eenheid onder alle mense in wie Hy ’n welbehae het.
Gemeente: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Voorganger: Help ons, red ons, troos ons en bewaar ons, Woord wat mens geword en onder ons kom woon het.
Gemeente: Amen.
(Uit: Handleiding vir die Erediens, p 287. Uitgewer: Bybel-Media 2010.)

Liedere

Lof: Liedboek 203 (of NSG 33): “Loof die Here, al wat lewe”.

God praat met ons en ons luister

Verontmoediging
Voorganger: Die Here jou God beveel jou vandag om volgens sy voorskrifte en bepalings te leef en hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.

Voorganger: Die Here verklaar vandag opnuut dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en sê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.

Voorganger: Die Here verklaar vandag dat jy ’n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees  soos Hy beloof het.
Gemeente: Amen.

Familie-oomblik

Tema: God se plan is eenvoudig. Volg net die instruksies.
Verlede week het ek ‘n versnapering gesoek.
Die koekieblik was dolleeg. Die roomys in die vrieskas was ook opgeëet!
Al wat ek kon kry, was ‘n klein vierkantige boksie sjokoladekitspoeding. Ek kan nie juis kosmaak nie, dus was ek nie so seker dat ek die sjokoladepoeding sou kon maak nie. Agterop die boksie was wel instruksies:

1. Klits die inhoud met 2 koppies melk 2 minute lank.
2. Giet dit in klein individuele bakkies en verkoel.
3. Die poeding sal ná 20 minute gereed wees om te bedien.
Hoe eenvoudig! Enigiemand kan dít doen – selfs ek!

Baie dinge in die lewe is eintlik eenvoudiger as wat hulle lyk – veral as ons leer om die instruksies te volg.
Vandag se Bybelverhaal leer ons van ‘n man met die naam Naäman. Hy moes ook leer dat moeilike situasies soms eenvoudige oplossings het.
Naäman was baie bekend in sy land en het baie mag gehad. Hy was een van sy land se weermag se belangrikste soldate.

Alhoewel ‘n mens kan dink dat sy lewe ideaal was, het hy ‘n groot probleem gehad. Hy het aan ‘n baie ernstige siekte gely. Hy was melaats – ‘n siekte wat jou sere oor jou hele lyf gegee het, en waarvoor daar nie medisyne was nie.

Vir Naäman se vrou se het ‘n dogtertjie as haar bediende gewerk. Dié dogtertjie het uit die land van die Here se volk, die Israeliete, gekom. Dáár was ‘n man met die naam Elisa. Hy was ‘n profeet van God. Die dogtertjie het al baie wonderlike stories oor hom gehoor, van al die goeie goed wat hy vir die mense gedoen het. Sy het vir die vrou gesê sy wens Naäman kon na dié profeet toe gaan. Sy was seker hy sou Naäman kon gesond maak.

Naäman het toe uiteindelik gegaan. Maar hy het verwag Elisa sal ‘n groot gedoente maak van sy besoek. Hy het verwag Elisa sal hom baie belangrik laat voel en op een of ander manier ‘n groot “show” maak van sy genesing. Hy was baie vies toe hy hoor dat al wat hy moes doen, die eenvoudige ding was om in die Jordaanrivier te gaan bad.

Nou moet julle weet, teenoor die plek waar hy vandaan gekom het, was die Jordaan nie eintlik ‘n rivier nie – in sy oë was dit sommer maar ‘n ou stroompie. Hoe kon Elisa dink dat hy so ‘n eenvoudige iets moes gaan doen?

Naäman het hom eers baie vervies en was op die punt om terug te ry na sy eie land toe. Gelukkig het van die manne by hom hom oortuig om hierdie eenvoudige dingetjie wat so simpel in sy eie oë gelyk het tóg te probeer – en siedaar: Nadat Naäman in die Jordaanrivier was, het sy vel weer geword soos ‘n seuntjie wat net nou die dag gebore is s’n!

Ons kry maar almal partykeer moeilikheid. Dan sal jy graag baie wil doen om dit reg te stel. Sommige mense is selfs gewillig om groot geld te betaal as hulle maar net die moeilikheid uit die pad uit kan kry.

Die vraag is of ons bereid om te doen wat God van ons vra om te doen?

Die Bybel het baie antwoorde van wat ons moet doen – eenvoudige dingetjies, soos om gehoorsaam te wees aan die Here, soos om mekaar te vergewe, soos om mekaar lief te hê. Dit staan alles in die Bybel. Lees net die instruksies!

Preekriglyn

1 en 2 Konings vertel die verhaal van die Israelitiese monargie, vanaf die laaste dae van Dawid, die verdeling van die koninkryk, tot en met die vernietiging van Jerusalem en die ballingskap.

Gedurende dié tyd is Israel omtrent heeltyd in konflik met Sirië (of “Aram”, soos die Bybel dit noem). In 1 Konings 22 sien ons dat dit juis die leër van Aram was wat verantwoordelik was vir die dood van ‘n vorige koning van Israel, naamlik Agab. Daar was dus altyd ’n hangende konflik tussen dié twee politieke groepe.

Vanaf die tweede hoofstuk van die tweede boek van Konings kry ‘n mens die verhale oor Elisa, die een op wie die profeet Elia se profetemantel geval het.

Dit tipe profetiese tradisie wat hier ter sprake is, verskil van die groot Elia-verhale in 1 Konings. Hulle is in die tipiese styl van populêre volksverhale, vol van allerlei wonderlike stories wat die verbeelding van die luisteraars van die tyd aangegryp het – nie veel anders nie as wat Sewende Laan en Binnelanders vandag gewone mense aangryp.

‘n Mens kan jou goed voorstel hoe die profete van die orde waarmee Elisa geassosieer het, pret gehad het om hierdie stories oor en oor te vertel op maniere wat die verbeelding van die gewone mense kon aangryp. Jy kan jou indink hoe huisgesinne en families byna aand na aand aan die lippe van die profetevertellers gehang het om nóg ‘n aflewering aan te hoor van die wonderlike goed wat Elisa gedoen het.

Daar is vertellings soos die verdeling van die Jordaan se waters deur Elia se mantel, die magiese versoeting van die water van Jerigo en die storie van die opwekking van die Sunemmitiese vrou se seun uit die dood.

Dan is daar die komiese storie van die geleende byl wat in die water val en wat Elisa op ‘n wonderbaarlike manier weer opgediep het.

My persoonlike gunsteling was nog altyd die verhaal van die bere wat so netjies uit die bos gekom het om met die stout seuntjies af te reken wat dit gewaag het om disrespekvol teen Elisa op te tree. Miskien voel sommige ouer garde (veral onderwysers) ook party dae dat hulle wonder wat tog van daardie bos geword het …!

Hoe vergesog en kleurryk sommige van hierdie verhale ook al klink, het hulle almal een baie goeie, selfs goddelike, doel gedien: Hulle wys aan die toehoorders ‘n man van God wat omgee vir sy mense. Die verhale bevestig aan die toehoorders die oortuiging dat die woord van die Here by Elisa is. Daarom lees ‘n mens onder andere ook in 2 Konings 3:12: “Toe het Josafat gesê: ‘Die woord van die Here is by Elisa.'”

Die verhaal van Naäman word baie duidelik ook uit ‘n Joodse perspektief vertel. Die boodskap van hierdie verhaal was om nóg ‘n keer aan die Israeliete te bevestig dat hulle God ook die Here is van al die volkere en gode wat hulle omring en bedreig.

Die boodskap was duidelik: “Die woord van Here is onder ons. In Egipte het Hy aan ons verskyn. Deur die uittog en die reis deur die woestyn, het Hy sy teenwoordigheid aan ons bevestig. En selfs al is ons steeds in ‘n stryd gewikkel met die Moabiete, of soos nou, met die mense van Aram, twyfel ons nie daaraan dat God met ons is nie.”

Dat God ná Kersfees steeds méér en méér van homself aan sy gemeente bekend maak, is die boodskap van die epifanie. Daarom is die teks van hierdie ou verhaal van Naäman hier op die sesde Sondag ná epifanie dalk méér gepas as wat sommer so op die oppervlak mag blyk.

Die Siriese koning het ‘n baie knap soldaat met ‘n hoë rang gehad, Naäman. Hy was in hoë aansien by die koning. Maar hy het ‘n ernstige siekte gehad – hy was melaats.

Die woord wat met “melaats” vertaal word, is ’n term vir ’n verskeidenheid velsiektes, selfs muf aan mure. Die moontlikheid is dat Naäman ’n ernstige velsiekte gehad het wat sy status kon aantas. Die punt is: Sy siekte het hom baie bang en benoud gemaak.

Gelukkig is daar ‘n ontvoerde Joodse kind in Naäman se huis. Die Hebreeus van die oorspronklike teks onderstreep die kind se weerloosheid en “kleinheid”. Sy word letterlik ’n “klein jongdogtertjie” genoem. Tog sou sy in dié verhaal die karakter wees wat hoop bring: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

In kontras met die kleinheid van hierdie eerste boodskappertjie, is wat nou in dié verhaal volg die inwerkingstelling van ‘n hiërargie van mag.

Nadat Naäman se vrou hom die dogtertjie se woorde meegedeel het, gaan vra hy toestemming by sy eie koning. Dié moet ’n brief aan die koning van Israel stuur – iemand wat op dieselfde magsvlak as hy is.

Naäman neem ’n oorvloed geskenke (die tipe wat ’n koning toekom) saam om aan te bied in ruil vir sy genesing.

Die ironie is dat die Israelitiese koning, die een met politieke mag in Israel, magteloos en klein is voor hierdie versoek. Die koning skeur sy klere. Hy kan nie buite sy eie klein, politieke raamwerk dink nie. Hy beskou die versoek bloot as ‘n groot stuk politieke slinksheid om nóg ‘n oorlog teen Israel te begin.

Elisa hoor baie gou van die gebeure en laat Naäman na hom toe kom. Dit is asof hy die koning oor die vingers wil tik dat hy nie self daaraan gedink het nie …

Naäman kom by Elisa aan in ’n rytuig met perde wat sy mag vertoon. Dié belangrike soldaat stop reg voor die deur van die Godsman se huis.
Weer eens is hier iets van ’n magspel sigbaar.

Elisa kom nie self uit om die belangrike man te ontmoet nie, maar stuur ’n boodskapper met ’n opdrag dat Naäman hom in die Jordaan moet gaan was.

Dié opdrag maak sterk emosies in Naäman los. Hy het minstens verwag dat die profeet darem sou uitkom en sy teenwoordigheid erken. Die een Engelse vertaling sê dit so oulik: “I thought that for me he will surely come out.”

“Surely for me he would come out?” As die profeet hom nie kan verwerdig om vir iemand anders uit te kom nie, dan tog darem seker vir Naäman?”

En duidelik het Naäman een of ander ritueel verwag. Een of ander gebaar wat oor die aangetaste area gemaak word? ‘n Mens kom nie so ver soos Naäman en is boonop so belangrik soos hy en daar word nie een of ander dramatiese ophef van jou gemaak nie?

Naäman is ontsteld dat daar nie aan hom as persoon genoeg aandag gegee word nie.

En dan die belaglike opdrag: “Gaan swem in die Jordaan.”

Vergelyk nou die veel groter riviere van Sirië met die stroompie van die Jordaan. Nee wat, hier onder die ongeletterde Joodse boere is hulle nou regtig besig om sy tyd te mors! Letterlik staan daar: “Naäman het in sy woede sy teuels omgeruk en teruggery.”

Weer eens speel die mindere karakters ’n rol. Naäman se amptenare noem hom letterlik “my vader”. Hulle maak hom bewus daarvan dat hy onnodig kwaad is. As hy bereid was om iets groots te doen, hoeveel te meer nie iets kleins nie?

Die geloof van ’n diensmeisie het die proses van Naäman se genesing begin. Die geloof van sy amptenare voltooi dit.

Want jou waarlik: Naäman gaan doen wat die profeet Elisa gesê het! Vir één keer in sy lewe is hy bereid om sy grootheid te laat staan. Hy gaan bad in die simpel Jordaan-stroompie. En glo dit as jy wil: Sy vel word soos dié van ’n klein seuntjie. ’n Klein, naamlose dogtertjie se woorde van hoop vir ‘n siek man het resultate gelewer!

Op daardie moment is hulle gelyk: Die groot, dapper soldaat, Naäman, en die klein, naamlose dogtertjie: albei klein en gehoorsaam.

Soos Naäman wegry, begin ’n reis van verandering, van geloof en van gehoorsaamheid.

Stadigaan word hy verlos van dit waaraan hy sy grootheid en status gemeet het. Daar was toe nie die nodige gebare en vertoon nie. Dit is die mindere, die kleinstes wat Naäman se situasie verander het: ‘n klein dogtertjie, onbeduidende amptenare, ‘n simpel rivierstroompie.

‘n Mens sou hierdie verhaal as ’n bekeringsverhaal kon beskryf: Naäman wat van sy pretensies en eiewaan ontslae raak; Naäman wat die God van Israel wat al lankal by hom betrokke was, nou vir die eerste keer ontmoet.

Jesus se verwysing na dié verhaal in Lukas 4 en die woedende reaksie van die sinagogegangers in Nasaret herinner ons daaraan dat ander se bekering soms tot aanstoot lei by diegene wat al vergeet het dat God nie altyd werk soos wat hulle binne hulle eie klein raamwerkies geneig is om te dink nie.

Ons wêreld van sepies en “celebrities” maak dat ons dink dít is hoe God behoort te werk: deur groot, aangrypende wonderwerke.

Ons kan reken op groter sukses vir reën as bepaalde evangeliste in volgepakte stadions bid as gelowige enkelinge tuis.

Die Woord van die Here het baie meer krag wanneer sommige beroemde predikers dit bring as dié van dominees wat Sondag na Sondag alleen in plattelandse eenmansgemeentes moet preek.

God se mag word net sigbaar wanneer iemand wonderbaarlik van kanker genees word; sy bewaring is alleen sigbaar die keer toe ek nie in die ongeluk beland het nie.

Dat God ons dag vir dag liefhet, dat Hy ons só bewaar dat selfs die hare van ons hoof getel is, dat Hy die mag het om geharde misdadigers in die tronk se lewe te verander, huwelikspare wat nie eers meer met mekaar wou praat nie te laat versoen en pa’s se harte só te verander dat hulle kan voortgaan om hulle gay seuns te aanvaar en lief te hê – dit lyk heeltemal té klein en gans en al té gewoon om as die werkinge van God beskryf te word, om daarvan soos Josafat te kan sê: “Die woord van Here is by Elisa.”

Só was dit nog altyd met die evangelie: té klein, té onbeduidend en té onbenullig om ernstig opgeneem te word.

Dit gaan dan oor ‘n baba, boonop een in ‘n krip; dit gaan dan oor jouself offer, oor die minste wees, oor die ander wang draai.

Dit gaan dan oor ‘n kruis.

Geen wonder nie van ons geld dit soos van Naäman: “Hy het in sy woede sy teuels omgeruk en teruggery.”

Die sêding van die teoloog Kohlbrugge is hier só van pas: “Wie nóg krag nóg moed het om te glo, die moet dit maar sonder krag en moed doen.”

Want geloof is juis om radikaal af te sien van alles wat ons het en nie het nie, van alle (bietjie) mag waaraan ons nog vasklou.

Die evangelie is dat ons sal glo sonder geloof; dat ons tot die Here sal kom sonder voete; dat ons Hom sal aangryp sonder hande en ons aan Hom oorgee soos ons is.

Die evangelie is dat ons Hom sal bid om ons ongeloof te hulp te kom, dat ons Hom sal hou vir Wie Hy regtig is en wat Hy regtig kan doen.

God stuur ons om te leef

Sang
Liedboek 538: 1-3: “Heer Jesus, U was self ‘n kind”
NSG 91: “Once in royal David’s city”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.