Sesde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

“Kies die lewe sodat jy en jou nageslag kan lewe.”

Dit is die goue draad wat deur hierdie Sondag se tekste loop. Dit begin by die teks uit Deuteronomium waar die Here ons die keuse gee om sy Wet te doen en te lewe.

Psalm119:1-8 bevestig dat dit goed sal gaan met hulle wat God se verordeninge gehoorsaam. Die lewe is om God te gehoorsaam, sy opdragte uit te voer en oorvloedige geregtigheid te doen. Kies ons die lewe, beteken dit dat ons met ’n beker koue water na ons naaste sal uitreik, die vreemdeling sal huisvesting gee en die sieke sal verpleeg..

Ander tekste

Deuteronomium 30:15-20
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Psalm 119:1-8
U woord vergeet ek nie
119 Dit gaan goed met dié
wat onberispelik lewe,
dié wat wandel
volgens die woord van die Here.
2Dit gaan goed met dié
wat sy verordeninge gehoorsaam,
dié wat met hulle hele hart sy wil doen,
3geen onreg pleeg nie
en in sy weë wandel.
4U het u bevele gegee
dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5As ek tog maar net
op ’n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ’n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
moet my tog nooit verlaat nie.

1 Korintiërs 3:1-9
Die oorsaak van die verdeeldheid
3 Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. 2Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? 4As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ’n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Fokusteks

Matteus 5:21-37
Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Versoening
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25“As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
(Matt 19:9; Mark 10:11–12; Luk 16:18)
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van ’n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ 34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Vergelding
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand
(Luk 6:27–28, 32–36)
43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Ekstra stof

Die Bergrede kan in 9 dele opgedeel word aan die hand van die sentrale tema van die koninkryk:
1. Die goeie nuus van die koninkryk – Matt. 4:23-25
2. Die geseëndes in die koninkryk – Matt. 5:1-12
3. Die sigbare lewe in die koninkryk – Matt. 5:13-16
4. Die wet van die koninkryk – Matt. 5:17-48
5. Die verborge lewe met God in die koninkryk – Matt. 6:1-18
6. Die heerlikheid van die koninkryk – Matt. 17:1-8
7. Die nuwe wyn van die koninkryk – Matt. 26:26-30
8. Die soeke na die koninkryk – Matt. 6:19-34
9. Die keuse vir die koninkryk – Matt. 7:1-29

Die wet van die koninkryk wentel om die paradigma skuiwende idee dat van vyande vriende gemaak moet word. Dit is die volmaaktheid wat van die mense van die koninkryk gevra word.

Liturgie

Toetrede :Lied 164 of Flam 184

Votum: Psalm 119:1–8

Seëngroet

Lofsang: Psalm 119:1-2 of Vonkk 110

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis of Flam 263

Dankoffer: as Toewydingshandeling

Gebed: Vonkk 98 “U Woord is die lamp (kanon)” 

Skriflesing: Matteus 5:21-37

Familie-oomblik
Preek
Voorbidding
Toewyding

Slotlied: Lied 284

Seën: Vonkk 144 “Vrede van God”

Respons: Flam 361 of Vonkk 118

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 164 “Ons is almal hier tesaam” of
Flam 184 “Ons is almal hier tesaam” 

Votum
Psalm 119:1–8
119 Dit gaan goed met dié
wat onberispelik lewe,
dié wat wandel
volgens die woord van die Here.
2Dit gaan goed met dié
wat sy verordeninge gehoorsaam,
dié wat met hulle hele hart sy wil doen,
3geen onreg pleeg nie
en in sy weë wandel.
4U het u bevele gegee
dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5As ek tog maar net
op ’n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ’n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
moet my tog nooit verlaat nie.

Seëngroet

Lofsang: Psalm 119:1-2 of
Vonkk 110″ Saam wil ons die Here (kanon)”
[Geen voorlesing van die wet hierdie week, aangesien die prediking grootliks daardie funksie vervul. Die liturg kan egter kies om Deuteronomium 30:15-20 te gebruik.]

Genadeverkondiging
Voorganger: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodska dat ons gered is.
Gemeente: Jesus is die Here en God het hom uit die dood opgewek.

V: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.
Gemeente: Jesus is die Here en God het hom uit die dood opgewek.

V: Niemand wat in hom glo, sal teleurgestel word nie.
Gemeente: Jesus is die Here en God het hom uit die dood opgewek.

V: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Gemeente: Jesus is die Here en God het hom uit die dood opgewek.

(Uit: Wepener, Cas 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai. BybelMedia. Wellington.)
V: Daarom kan ons bely dat ons glo…

Geloofsbelydenis
Of Flam 263 “Ek glo” (as geloofsbelydenis)

Dankoffer as Toewydingshandeling

Liedere

F184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Oorspronklik: We Have Come Into His House Teks en musiek: Bruce T Ballinger
Afrikaanse teks: Attie van der Colf; Verwerking en alternatiewe teks: F Esterhuizen en Retief Burger, 2004
Kopiereg: © 1976 Universal Music

Ons is almal hier tesaam,
vergader in sy Naam,
verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou
en daardeur is ons nou sy eiendom.
Laat ons maak soos Hy ons sê,
mekaar steeds lief te hê
en Hom bo alles eer.

Loof Hom, Christus die Heer. (x2)
Halleluja! Ek kan nie sonder U nie.
Halleluja! Ek sal nie stilbly nie!
Halleluja! Daar is geen ander Naam nie
as Jesus Christus, die Heer,
as Jesus Christus, die Heer.

VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here (kanon)”
Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie
Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo) © Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing
(1) Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.

Almal loof sy grote Naam!
(2) Hy is goed vir elk van ons;
dank Hom uit een mond tesaam.
(3) Een in Jesus, onse Heer;
wie Hom liefhet, gee Hom eer.
(4) In die Gees is ons tesaam.
God is liefde, roem sy Naam.

F263. “Ek Glo”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Ek glo God het alles gemaak.
Ek glo Hy hou die wêreld in stand
en Hy is groot, groot (yeah).
Ek glo dat Jesus leef,
ek glo in die Heilige Gees,
en Hy is hier, hier (yeah).
Wat ek glo wil ek bely
van die Koning vertel
voor die wêreld getuig.

Refrein:
Ek glo, ek glo in God wat regeer.
Ek leef, ek leef deur Jesus die Heer
in my, in my die Heilige Gees.
Hy is God oor my
ek bely dat ek glo.

2. Ek glo in Christus se kerk.
Ek glo ons moet vir Hom werk
en ons moet bou, bou (yeah).
Ek glo ons moet mekaar dien
ek glo hul moet God in ons sien
en ons moet skyn, skyn (yeah).

VONKK 98 “U Woord Is Die Lamp (Psalm 119:105) (kanon)”
Psalm 119:105 Teks: Wilma Viljoen 1991; gewysig VONKK Werkgroep 2010
Melodie: WILMA – Wilma Viljoen 1991 Ostinato: Anton Esterhuyse 2011 Musikale verryking: Wilma Viljoen 1991
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kinderlied – Voorbereiding om God se Woord te hoor / Kindwees

1. U Woord is die lamp (hande soos boek oopgevou)
wat die pad vir my wys. (swaai RH asof lamp swaai)

2. U Woord is die lig (hande soos boek oopgevou)
wat die pad vir my wys. (marsjeer op een plek)

VONKK 144 “Vrede Van God”
Johannes 14 : 25-27; 20: 20-23 Teks: Johan Bronsveld (1951-); Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2010 ©
Musiek: BRONSVELD – Johan Bronsveld (1951-) © Afrikaanse teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Unisong Music Publishers (admin BMG Music Publishing Africa). Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Meditatief – Uitsending / Drie-eenheidsondag

1. Vrede van God, die vrede van God,
die vrede van God is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

2. In Jesus Naam, in Jesus Naam,
in Jesus se Naam gee ek jou:
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

3. Heilige Gees, die Heilige Gees,
die Heilige Gees is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

VONKK 118″ Mayenziwe / U Wil Geskied (Matteus 6:10)”
Matteus 6 : 10
Teks: Mayenziwe ‘ntando yakho –tradisioneel isiXhosa; Afrikaanse weergawe: Cassie Carstens 2010 (Pro Deo)
Melodie: MAYENZIWE – tradisioneel Suid-Afrika, opgeteken deur George Mxadana.
Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo): © isiXhosa, Engelse teks en melodie: Openbare besit
© Afrikaanse teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Multikultureel – Gebed

isiXhosa
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.

Afrikaans
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.

Engels
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Vonkk 98 “U Woord is die lamp (kanon)”

Skriflesing: Matteus 5:21-37

Familie-oomblik

Die Familie-oomblik werk met die konsep van liefde vir die vyand. Hoewel Matt. 5:43-47 buite die Leesrooster-gedeelte val, vorm dit tog deel van die geheel en sluit dit aan by die preek. Restore Ministries skryf onlangs in ’n artikel getiteld “How to Raise a Pagan Kid in a Christian Home” oor die gevaar van moralisering wanneer ons die Evangelie aan kinders oordra. Veral met ’n teks soos vandag s’n, moet ’n mens waak daarteen om dit net ’n etiese lessie te maak, maar juis moeite doen om dit te verbind aan wat Jesus gedoen hét en hoe Jesus ons krag gee om te doen wat hy vra.

Jy kan die wonderlike storie van “Those Darn Squirrels!” vertel.

“Those Darn Squirrels!” gaan oor Ou Oom Fookwire, ’n knorrige oom wat van niks behalwe voëls gehou het nie. Hy het in sy tuin voerbakke vir die voëls opgesit, maar die simpel eekhorings (besluit maar self wat ’n gepaste vertaling vir “darn” is in jou konteks – dalk “flippen”?) het aanmekaar die kos gesteel. Fookwire het allerhande planne probeer. Uiteindelik het die voëls weggevlieg vir die winter. Toe die eekhorings sien hoe hartseer Fookwire is, het hulle hulleself as voëls vermom om vir Fookwire te laat beter voel. (Jy kan die storie verkort en aanpas in jou vertelling. Ek self sou bv. versigtig wees m.b.t. die uitbeelding van ouer mense – soos dat Fookwire stof nies, ens.)

Die eekhorings laat ons dink aan Jesus wat gesê het dat ons ons vyande moet liefhê. Jesus vertel vir ons dat ons God se kinders is – en God se kinders tree anders op. God se kinders dink nie net aan hulleself nie, maar ook aan ander.

Jy kan ook ’n paar voorbeelde noem bv. van boeties en sussies wat mekaar afknou en daaroor gesels. Soek op die internet ‘n illustrasie van ’n kruis met ’n hart aan albei kante.  Dit illustreer hoe Jesus mense bymekaarbring.

Preekriglyn

The Forgiveness Project is ‘n organisasie wat gebore is uit ‘n uitstalling van woorde en beelde deur Marina Cantacuzino en fotograaf Brian Moody. Die uitstalling in 2003 in Londen met die titel ,The F Word, het kragtige verhale van vergifnis en die genesing wat daaruit vloei, met woord en beeld oorgedra.

Die uitstalling het geweldige reaksie ontlok. Dit het gelei tot die organisasie The Forgiveness Project, wat die krag van vergifnis propageer. Hier kan mens talle van hierdie verhale lees.

Een van die onlangse verhale is dié van die Rwandese Tutsi, Jean Paul Samputu, wat vertel hoe sy ouers en ander familielede deur sy beste vriend, Vincent, ‘n Hutu, tydens die 1994-volksmoord vermoor is. Uit skok en wraak het hy alkohol en ander dwelmmiddels begin gebruik, en is absoluut verteer deur woede en die behoefte aan wraak. Oor ‘n tydperk van nege jaar het hy homself letterlik en figuurlik nader aan sy eie dood gedryf.

Op ‘n dag het hy, desperaat soos hy was, skielik ‘n vreemde vrede ervaar en beleef hy moet die Here opsoek en helderheid uit die Woord van God kry. Na drie maande van afsondering was hy gereed om te vergewe. Hy het besef vergifnis gaan eintlik in die eerste plek oor homself. Deur te vergewe, kom hy self vry.

Hy kon Vincent later weer ontmoet en hom persoonlik meedeel hy vergewe hom. Hulle kon aan ‘n verhouding begin bou.

Grafika
Kopiereg onbekend

Herstelde verhoudings

Ons teksgedeelte kom uit Jesus se toespraak op die berg in Galilea. Dit is die eerste van vyf preke of toesprake van Jesus wat die Matteus-evangelie vir ons opteken. In dié gesprek verduidelik Jesus die andersoortige lewensstyl wat in die koninkryk van God geld. Sy volgelinge moet dit verstaan.

Jesus het gesê Hy het nie gekom om die wet op te hef of te kanselleer nie, maar om die wet sy volle betekenis te laat kry. In ons teksgedeelte doen hy presies dit. Hy neem die wet, en verwys na hoe die Joodse godsdienstiges dit uitlê. Hy verwys ook na drie gebooie soos dit van die ou tyd af oorgelewer is – jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie jou eed verbreek nie (vals getuienis aflê nie). Dit kom met die sesde, sewende en negende gebod ooreen, asook met die groot liefdesgebod.

Jesus neem dan telkens hierdie gebooie en lê dit op ‘n dieper vlak uit. Die wet gaan nie bloot oor uiterlike dade nie. Dit gaan dieper. Dit het met die hart, met gedagtes en met die wil te doen. Moord begin lank voor doodslaan. Egbreuk is veel meer as ‘n skeibrief. Die praat van waarheid moet liewer bevestig word uit ‘n lewe van diepe integriteit as uit die aflê van ‘n uiterlike eed.

In hierdie uitleg spel Jesus ‘n ingrypende etiese heroriëntasie van ons lewens as sy volgelinge uit. Dit gaan oor drie verhoudinge, sê Bonhoeffer: met die broer (21-26), met die vrou (27-32), en verhoudinge vanuit waaruit en trou (33-37).

Dit blyk telkens hoe belangrik gesonde, geneesde of herstelde verhoudinge is. Die etiek van die koninkryk vra verhoudinge van liefde, betroubaarheid en omgee. En waar dit in die slag bly, moet moeite gedoen word om herstel en genesing te bring.

Moord begin vroeër as doodslaan (21-26)

Jesus beklemtoon in vers 22 dat woede wat uit sonde gebore is, daardie woede wat tot bitter woorde lei, alreeds die pleeg van moord in die hart van die mens is. Dit is nie slegs die uiterlike daad van moord – wat die vrug van woede of verwerping is – wat strafbaar is nie. Reeds die bose ingesteldheid van die hart is verkeerd, en moet vermy, opgelos en genees word. Dit is nie voldoende om nie dood te maak nie, maar woede en haat moet vermy word. Ons sal selfs vir ons gesindhede verantwoording moet doen. Indien jy vir jou medemens kwaad bly, as ’n gek beskou, of hom/haar as onnosel uitskel, is dit soos om ’n dolk in sy/haar hart te steek.

Eerste saad van moord

Om woede wat tot moord lei, te voorkom, moet mens versigtig wees vir die eerste saadjies, die klein begin, daarvan. Die saad moet glad nie toegelaat word om te ontkiem nie. Anders gebeur wat met die Hutus en Tutsis gebeur het. Anders gebeur wat met Jean Paul Samputu gebeur het. Sy woede en wrokke het hom byna tot moord, en tot op die rand van sy eie dood, gedryf.

‘n Praktiese manier om hierdie ontkieming te keer is nodig. Jesus sê:

  • jy moet vrede met jou broer of suster gaan maak (verse 23-24), of
  • ‘n skikking met jou skuldeisers bereik (verse 25-26).

Jesus plaas konflik in verse 23-24 binne die raamwerk van die liturgie van die gemeente. Jy bring ‘n offer altaar toe, en onthou daar dat iemand anders met moordgedagtes teenoor jou rondloop. Help dan jou broer en suster, want die konflik tussen mense raak jou verhouding met God en met ander gelowiges. Dietrich Bonhoeffer skryf:

When we come before God with hearts full of contempt and unreconciled with our neighbours, we are, both individually and as a congregation, worshipping an idol. So long as we refuse to love and serve our brother and make him an object of contempt and let him harbour a grudge against me or the congregation, our worship and sacrifice will be unacceptable to God.

Pieter van Niekerk skryf dié teksdeel herinner hom aan Bybeltekste uit die profete, byvoorbeeld Jesaja 1:10-17 en Amos 5:21-24. Hulle beklemtoon die waardeloosheid van godsdienstige handelinge as dit nie met die gelowiges se daaglikse handel en wandel, versoening en geregtigheid, ’n menswaardige verhouding teenoor die ander klop nie. Vir Jesus weeg barmhartigheid, waarheid en geregtigheid die swaarste (Matt 23:23). Jou verhouding teenoor ander mense weeg swaarder as blote kerkbywoning; jou verhouding met ander weerkaats die liefde van God, maak God sigbaar en jou verhouding met God eg (vgl 1 Joh 4:7-21). Hierdie eienskappe het alles met egte versoening te make.

Daar is nog meer. Verse 25-26 plaas dit binne die raamwerk van gevangeneskap. Jesus se woorde is op die eindtyd gerig, soos in Lukas 12:57-59 (Nixon). Woede, konflik en vyandskap dompel jou in die hel. Dink aan Jean Paul Samputu wat in woede en wraak vasgevang was, met meer as genoeg rede daarvoor sou mens wou byvoeg. Tog was ander se oordele, etniese geweld en moord – waarvan hy aan die ontvangkant was – spoedig ‘n tronk wat hom tot op die rand van ‘n fisiese dood gedryf het. Hierdie soort gebeure het ook geestelike implikasies vir ‘n mens:

Be not surprised about the urgency of my command that you be reconciled; for should it be that you were to pass from this life with a heart still at variance with your brother, a condition which you have not even tried to change, that wrong would testify against you in the day of judgment. Moreover, dying with that spirit of hatred still in your heart, you will never escape from the prison of hell. (Hendriksen).

Respek en sekuriteit in verhoudings

Die tweede manier waarop Jesus die wet verdiep het te doen met die waardes van selfbeheersing, respek en sekuriteit in huweliksverhoudings (verse 27-30). Dit is nie bloot die uiterlike instandhou van die huwelikstruktuur wat die wet tot sy reg laat kom nie. Daar is ‘n innerlike verbintenis tot huwelikstrou en toewyding aan mekaar nodig.

Die beeld van die oog en hand dui op sien en doen, op die geheel van die mens se integriteit. ’n Persoon is nie ’n seks-objek nie en haar regte moet gerespekteer word, haar waardigheid is heilig. Hiermee belig Jesus belangrike etiese vertrekpunte in huweliksverhoudings.

Betroubaarheid

Die derde wyse waarop Jesus die wet verdiep handel oor betroubaarheid (verse 31-37). Die opdrag om innerlik en uiterlik betroubaar te wees, is ten diepste wat dit beteken om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. Mens kan nie in waarheid en betroubaarheid voor God leef, as jy dit nie ook teenoor jou medemens doen nie.

Mens kan nie in waarheid voor die Here leef, sonder om in waarheid teenoor jou medemens te lewe nie. Valsheid en onbetroubaarheid vernietig gemeenskap, of bou gemeenskap op valse motiewe en fondamente. Die waarheid maak egte gemeenskap moontlik.

Mense kan maklik ‘n eed gebruik om die waarheid van hulle stellings te bevestig, terwyl dit ondeurdag, ongevraag en dikwels skynheilig is. Mense kan hoog en laag sweer om ‘n beter indruk te probeer skep, of selfs net om ‘n gewone gesprek bietjie op te kikker. Jesus waarsku hierteen. Hy beveel ‘n eenvoudige bly by die waarheid aan in gedagtes, woord en daad.

God se regering

Met hierdie drie voorbeelde illustreer Jesus hoe mense leef wat Hom as dissipels navolg. Dit is die verdiepte waardes en optrede wat God se regering beliggaam. God maak mense nuut, en mense leef nuut op grond van God se aksie in hulle lewe. Dit bly uit:

  • Respek vir die lewe van ander, eerder as konflik, geweld, en die aanblaas daarvan;
  • ‘n Lewe van respek, die erkenning van ander se waardigheid en trou in verhoudings, en
  • ‘n Bly by die waarheid.

Elkeen van ons moet onsself ondersoek, ons waar nodig bekeer, en ons bly toewy aan die verdiepte navolging van Christus.

Om te herhaal: Dit blyk telkens hoe belangrik gesonde, geneesde of herstelde verhoudinge is. Die etiek van die koninkryk vra verhoudinge van liefde, betroubaarheid en omgee. En waar dit in die slag bly, moet moeite gedoen word om herstel en genesing te bring.

God stuur ons om te leef

Voorbidding

Toewyding
Voorganger: Here, maak my ‘n instrument van u vrede.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar haat is, laat my liefde saai.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar onreg is, vergifnis.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar twyfel is, geloof.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar wanhoop is, hoop.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar duisternis is, lig.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: Waar daar droefheid is, vreugde.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil

V: O goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie, as om te troos; om verstaan te word nie as om te verstaan; om liefgehê te word nie as om lief te hê. Want dit is deur te gee dat ons ontvang; dit is deur te vergewe da tons vergewe word; dit is deur te sterf da tons tot die ewige lewe gebore word.
Gemeente: Gee wat U vra en vra dan wat U wil
(Uit: Wepener, Cas 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai. BybelMedia. Wellington.)

Slotlied
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën
Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak. So sal hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. ((Uit: Wepener, Cas 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai. BybelMedia. Wellington. N.a.v. 1 Tess 3:12-13)

Of as die liturgy mooi sing, kan Vonkk 144 “Vrede van God” as seën gebruik word.

Respons
Flam 361 “Laat dit so wees (Amen) “
Vonkk 118 “Mayenziwe / U Wil Geskied (Matteus 6:10)”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.