Sesde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Liena Hoffman: Met die keuse van hierdie tekste word die liturgiese verhaal van die vorige Sondag uitgebrei. Waar Christus die middelpunt is en dit nie oor sogenaamde leiers gaan nie, is daar eenheid en versoening. Die doel van die wet is om God te verheerlik en harmonie te bewerkstellig. Geloofsvolwassenheid het te make met die praktiese en die alledaagse – hoe ons verskil, hoe ons liefhet, hoe ons leef en hoe ons praat. Dit gaan oor ons “ja en nee” van elke dag. So weerkaats ons die Lig van Epifanie – wat Christus is.

Paulus skryf aan die gelowiges in Korinte oor die verdeeldheid wat daar onder hulle heers. Dit is te wyte daaraan dat hulle kant kies tussen leiers en sodoende wys dat hulle nog onvolwasse is. Daarteenoor bring die wandel volgens die Woord van die Here (Ps 119) versoening en eenheid tussen gelowiges, in huwelike, kerke en in die samelewing. Selfs geskille met teenstanders kan opgelos word (Matt 5). Dit is soos om te kies tussen lewe en dood (Deut 30:15-20).

Ander tekste

Deuteronomium 30:15-20
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Psalm 19:1-8
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.

Matteus 5:21-37
Versoening
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; men elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25“As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ n28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
(Matt 19:9; Mark 10:11–12; Luk 16:18)
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ o32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van ’n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ p34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Fokusteks

1 Korintiërs 3:1-9
Die oorsaak van die verdeeldheid
3 Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. 2Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? 4As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ’n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.
9Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Ekstra stof

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3).  Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het.  In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ’n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword.  Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedonië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad.  Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ’n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het.  Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang.  Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9).  In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit.  En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag.  Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst 1-9 en hfst 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.  Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes).  Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.  Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is.  Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik.  En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1).  Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het.  Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.  ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms.  As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil.  Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word.  Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder
Begeleiding deur die Gees van God is nie net ’n teken van geestelike volwassenheid nie, maar die essensie van ’n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe.  Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling – omdat eie begeertes die botoon vier.  Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Interessant dat Paulus hom in sy kommunikasie laat lei deur die vlak van hulle geestelike volwassenheid, dié mate waarin hulle bereid is om hulle deur die Gees te laat lei.  Omdat hulle soos wêreldse mense optree, soos kindertjies in die geloof, moes hy eenvoudig met hulle praat, omdat hulle dieper dinge nie sou kon verteer nie.

Let op hoe hy terugkeer na die kwessie van verdeeldheid rondom leiers, nou meer spesifiek oor die stryd in die gemeente om óf Paulus óf Apollos óf Sefas (Petrus) aan te hang.  En hy praat daaroor uit drie perspektiewe: 3:4-9 – dat die leiers medewerkers is in diens van God wat die werk doen wat Hy gegee het; 3:10-23 – dat die gemeente die gebou van God is waarin die Gees van God woon, en dat dit daarom dwaas is om op mense/leiers te roem of hulle te verheerlik; 4:1-21 – dat die apostels dienaars is van Christus (nie van die gemeente nie), wat deur Hom beoordeel word, en hulle binne die perke moet hou wat Hy bepaal.

Hy gebruik drie basiese metafore in sy gesprek oor eenheid, in die eerste perspektief van boere in ’n saailand, in die tweede van bouers in die gebou of tempel van God, en in die derde van bestuurders in die koninkryk (Bybel in Praktyk praat van die “hemelse ekonomie”!) van God – lekker metafore vir leiers: boere, bouers en bestuurders!  En let op dat Hy dit regdeur trinitaries uitspel – dit gaan oor God (die Vader), die Heilige Gees en Christus wat laat groei, beloon, beskerm, en lof uitdeel.

Wat my tref is die baie belangrike boodskap van Paulus dat die Gees nie net vir my as gelowige gegee is nie, maar vir die gemeente – dat die gemeente ’n tempel van God is waarin Hy woon.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want dit skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk – Paulus sê letterlik dat ’n mens soos ’n “wyse” (dit is wat die woord goeie in die oorspronklike Grieks beteken) bouer te werk moet gaan, by wyse van spreke, volgens die bouplanne wat God gee.  Let op dat die gehalte van die werk in twee groepe verduidelik word: duursame (goud, silwer, edelstene) en verganklike (hout, gras, strooi) materiale.

En die gemeente moenie op sy leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, maar almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.

Paulus is ook duidelik – al is dit ’n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging.  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (2:2) en die deelhê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Maar dan, op vernuftige wyse, gebruik hy dié tekening van die apostelbediening om sy verbintenis aan hulle as geestelike vader te bevestig om hulle aan te spoor om sy voorbeeld te volg, en te volhard in die geloof.  En in ’n skerp toon vat hy die mense in gemeente aan wat hulleself begin aanmatig met die waarskuwing dat hy op pad is!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 372 “Hoe glansryk blink die môrester vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 19)

Seëngroet
Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3″

Wet: Deuteronomium 30:15-20

Skuldbelydenis: Esra 9:5-10

Vryspraak: Deut 30

Geloofsbelydenis

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 3:1-9

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 372 “Hoe glansryk blink die môrester vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 19)
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.

Seëngroet 
Genade vir u en vrede, van God, ons Vader
en die Here Jesus Christus –
deur die werking van die Heilige Gees.

Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Wet: Deuteronomium 30:15-20
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. sup>16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Skuldbelydenis: Esra 9:5-10
5Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God.

6Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog. 7Van die tyd van ons voorvaders af tot vandag toe is ons bestaan vol oortredings teen U. Dit was deur ons sondes dat ons, ons konings en ons priesters in die mag van heidenkonings oorgegee is. Ons is doodgemaak, gevange geneem, geplunder; smaad het oor ons gekom en dit is nou nog daar.

8“Nou, ’n kort oomblikkie, het daar vir ons genade gekom van die Here ons God. Hy het die klompie van ons laat vrykom en ons hier in sy heilige plek vastigheid gegee. Ons God het ons weer laat lewe, ons ’n oomblik laat asem skep na ons slawerny.

9“Ons was slawe, maar ons God het ons nie slawe laat bly nie. Hy het die Persiese konings goedgesind gemaak teenoor ons, en hulle het ons die kans gegee: ons kon die tempel van ons God opbou, ons kon hom uit sy ruïnes laat herrys, ons het ’n toevlug gekry hier in Juda en Jerusalem.

10“Maar wat kan ons nou sê, ons God, na dié dinge? Ons het u gebooie oortree.

Vryspraak: Deut 30
16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.

Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ‘n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?

Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,

Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Here I Am To Worship (AKA Light of the World)
Teks en Musiek: Tim Hughes
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
©  2000  Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader, U in wie die volheid van die lig en wysheid woon, verlig ons denke deur u Heilige Gees, en skenk ons die genade om u Woord te hoor, met eerbied en in nederigheid, waarsonder niemand u waarheid kan begryp nie. Ons vra dit om Christus ontwil. Amen (Johannes Calvyn).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Skriflesing: 1 Korintiërs 3:1-9

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die weergawe van die fokusteks.

Verskillende Leraars Werk Saam in God se Kerk
3     1–2 Liewe Christene, ek kon nie met julle praat soos met mense wat vir Jesus lief is nie. Julle leef dan nog steeds soos mense wat niks vir God omgee nie. Ek moes met julle praat soos wat ’n mens met ’n klein, pap babatjie praat. So ’n babatjie kan mos net melkies drink. Net so kon ek ook net baie eenvoudige boodskappies vir julle gee. Ek kon nie regtig lekker met julle oor die dinge van die Here gesels nie.

3–4 Die rede daarvoor is omdat julle nie regtig soos Christene leef nie. Julle is jaloers op mekaar en stry met mekaar. Daarom sê die een: “Paulus is die beste leraar”, en ’n ander sê weer: “Apollos is ’n baie beter leraar”.

5–6 Onthou dat Apollos nie ’n belangrike mens is nie. En ek, Paulus, is ook nie belangrik nie. Ons al twee het julle maar net van God vertel. Ons doen ook maar net die werk wat die Here vir ons gegee het. ’n Mens kan dit amper met jou tuin vergelyk: ek, Paulus, het die saad in die grond geplant. Ek het julle mos van Jesus vertel. Maar ons kan amper sê Apollos het die grond natgegooi. Hy het julle mos nog meer oor Jesus vertel. So het ons twee leraars saamgewerk in God se tuin. Maar dit is net God wat julle kan laat groei soos die plante in die tuin. Net God kan julle help om sterker Christene te word.

7–8 Dit is nie belangrik om te weet watter leraar geplant het, of watter leraar natgegooi het nie. Net so is dit ook nie belangrik om te weet watter leraar het julle eerste van Jesus vertel nie. Dit maak ook nie saak watter leraar julle nog meer van Jesus vertel het nie. Die een leraar se werk is nie belangriker as die ander leraar se werk nie. Die enigste belangrike persoon is God want dit is Hy wat julle laat groei.

9 Julle is dus amper soos God se tuin. Al die leraars werk saam vir God in hierdie tuin want almal leer julle meer van Jesus.

(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Die elf gemerkte woorde is weggesteek in die onderstaande tabel met al die letters. Woorde kan in enige rigting gelees word. Melk is gemerk om koers aan te dui. Tabel 1 is die antwoord tabel.

Tabel 1 

3     1–2 Liewe Christene, ek kon nie met julle praat soos met mense wat vir Jesus lief is nie. Julle leef dan nog steeds soos mense wat niks vir God omgee nie. Ek moes met julle praat soos wat ’n mens met ’n klein, pap babatjie praat. So ’n babatjie kan mos net melkies drink. Net so kon ek ook net baie eenvoudige boodskappies vir julle gee. Ek kon nie regtig lekker met julle oor die dinge van die Here gesels nie.UITDEELSTUK

3–4 Die rede daarvoor is omdat julle nie regtig soos Christene leef nie. Julle is jaloers op mekaar en stry met mekaar. Daarom sê die een: “Paulus is die beste leraar”, en ’n ander sê weer: “Apollos is ’n baie beter leraar”.

5–6 Onthou dat Apollos nie ’n belangrike mens is nie. En ek, Paulus, is ook nie belangrik nie. Ons al twee het julle maar net van God vertel. Ons doen ook maar net die werk wat die Here vir ons gegee het. ’n Mens kan dit amper met jou tuin vergelyk: ek, Paulus, het die saad in die grond geplant. Ek het julle mos van Jesus vertel. Maar ons kan amper sê Apollos het die grond natgegooi. Hy het julle mos nog meer oor Jesus vertel. So het ons twee leraars saamgewerk in God se tuin. Maar dit is net God wat julle kan laat groei soos die plante in die tuin. Net God kan julle help om sterker Christene te word.

7–8 Dit is nie belangrik om te weet watter leraar geplant het, of watter leraar natgegooi het nie. Net so is dit ook nie belangrik om te weet watter leraar het julle eerste van Jesus vertel nie. Dit maak ook nie saak watter leraar julle nog meer van Jesus vertel het nie. Die een leraar se werk is nie belangriker as die ander leraar se werk nie. Die enigste belangrike persoon is God want dit is Hy wat julle laat groei.

9 Julle is dus amper soos God se tuin. Al die leraars werk saam vir God in hierdie tuin want almal leer julle meer van Jesus.

Tabel

Die skrywers by Storypath sê:  In his commentary on this text, J.R. Daniel Kirk explores the idea of spiritual immaturity and maturity, asking: “Are we willing to see our own division and quarreling as the fruit of immature spirits… are we willing to step back and re-tell the story so that everyone can look at the other as ‘sister,’ acknowledge that the other is ‘brother…’”  This vision of spiritual immaturity and maturity can be seen in the life of the Big Bad (B.B.) Wolf, who in his old age wishes to retell his story in a way that leads to reconciliation and friendship with the three little pigs. This text and story challenge us to look at our own quarrels and spiritual maturity and consider how we might be challenged to live fully into the people and community God calls us to be.
Jy kan die storie van BB Wolf hier.

Preekriglyn

Sherilyn, ‘n vriendin, vertel dat sy met ‘n goed georganiseerde man getroud is. Hy sit altyd sy skootrekenaar se drasak in die huis se voorportaal neer as hy die aand klaar is met noodsaaklike werk wat huis toe moes kom. Dit staan reg wanneer hy soggens op pad werk toe is.

Eendag is hy haastig en vergeet die drasak in die voorportaal. Toe sy motor by die erf uitry kom hulle tweejarige by haar aangehardloop. “Mamma, mamma! Pappa het sy doekesak vergeet!”

Ja, tweejariges weet die doeke in die doekesak gaan altyd oral saam. Tot hulle die basiese vaardighede van die lewe onder die knie het, is die doekesak onmisbaar. Dan los ons dié sak.

Wat tweejariges nie weet nie, is dat baie volwassenes geestelik en emosioneel sukkel om uit die doeke uit te kom. Daar is baie volwassenes geestelik gesproke nog in die doeke.

Paulus praat in ons teks hieroor met die gemeente in Korinte. Hulle is nog in die doeke.

Oor Korinte en die gemeente van Korinte

Korinte was ‘n belangrike handelstad waarby die omliggende landbou- en vervaardigingsektore gebaat het. Daar was twee hawens. Die bevolking van die stad was divers van aard en het bestaan uit mense van verskillende rasse, gelowe en beroepe. Die gemeente van Korinte is saamgestel uit Joodse en nie-Joodse Christene, rykes en armes, slawe en vry persone wat uiteenlopende beroepe beklee het, onder andere dié van filosowe, soldate, seemanne en handelaars. Die Joodse gelowiges en daarmee saam die eerste Christengelowiges het sedert die bewind van die keisers, Caesar en Tiberius, godsdiensvryheid geniet. 

1 Korintiërs verwys na baie spesifieke saak wat vir gelowiges van belang was, met die oorhoofse tema: Hoe om as volgelinge van Christus te lewe. 1 Korintiërs handel oor die gelowige se nuwe identiteit in Christus en die praktiese uitlewing van mens se geloof in die daaglikse lewe, binne die gemeente en die wêreld. Dit gaan oor geloof-in-aksie en oor die gelowige se daaglikse verhoudings en werksaamhede.

Hierdie temas is ook in ons teks, 1 Korintiërs 13 vers 1 tot 9, aanwesig.

Ons teks

1 Korintiërs 3:1-9 kan in twee dele verdeel word, naamlik vers 1-4 en 5-9.

In die voorafgaande gedeelte (2:6-16) het Paulus oor die openbaring van die Gees van God gepraat. Ons het verlede week hierby stilgestaan. Dit is die Heilige Gees wat die wysheid van die kruis aan gelowiges openbaar.

Hier maak Paulus die punt dat hy die diep dinge van God kan bekendmaak onder die wat geestelik volwasse is. Die Korintiërs het geglo dat hulle – bo ander – gereed is om diep kennis en wysheid oor God te ontvang. Dit was egter nie waar nie.

In verse 1 tot 4 van ons teks verwyt Paulus die Korintiërs dat hulle hul nie deur die Gees van God laat lei nie. Hy moet met hulle praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. Hulle is nog in die doeke. Hulle kan ook nie vaste geloofskos eet nie, sodat hulle figuurlik gesproke met melk gevoed moet word.

Verander?

Het Paulus dan so vinnig van mening oor die Korintiërs verander? In hoofstuk 1 het hy gepraat oor die wonderlike gawes waarmee God die Korintiërs geseën het. God het die gemeente ryklik geseën, veral met die gawes van woord en kennis. Dit ontbreek hulle nie aan ‘n enkele genadegawe nie, het hy gesê.

Het Paulus nou van gedagte oor die Korintiërs verander? Nee, God het hulle inderdaad ryklik met gawes geseën, waaronder kennis. Daarom prys hy God in hoofstuk 1 oor die gawes waarmee God Korinte geseën het. Die probleem is dat die Korintiërs hierdie gawes nie toegeëien het en diep daaruit gelewe het nie. Omdat hulle hierdie gawes nie werklik omhels en diep daaruit begin lewe het nie, was die “diep dinge van God” nog vir hulle te veel.

Vandaar die twee beelde om hulle geestelike toestand te beskryf:

  • “wêreldse” mense – hulle dink nie vanuit God se perspektief nie, maar vanuit mense se perspektief;
  • Kindertjies in die geloof, hulle drink nog melk en kan nie vaste kos eet nie.
Die maatstaf

Waarom is die Korintiërs geestelik nog in die doeke, nog wêrelds? Daar is twee maatstawwe waarin hulle faal:

  • Daar kom jaloesie en twis onder die Korintiërs voor;
  • Hulle is verdeel in partyskappe, sommige vir Paulus en ander vir Apollos.

Die Korintiërs is geestelik in die doeke nié omdat hulle ‘n gebrek aan verstandelike insig toon nie. Die “diep dinge van God” is nie verstandelike kennis waaraan dit hulle ontbreek nie. Die jaloesie en twis  is die probleem. Jaloesie kom weer terug in 1 Korintiërs 13 waar Paulus gaan sê die liefde is nie jaloers nie. Die dinge van ‘n kind kom ook weer voor in hoofstuk 13, waar Paulus gaan sê ons groei deur die dinge van ‘n kind na geloofsvolwassenheid.

Paulus begin reeds hier uitwys dat die Korintiërs faal om lief te hê, en daarom nog onvolwasse is en nie gereed vir die diep dinge van God nie.

Vir Westerlinge is hierdie ‘n vreemde konsep. Ons sal mekaar nie beskuldig van oppervlakkigheid omdat daar twis en jaloesie onder ons is nie. Vir ons is waarheid (en dus die diep kennis van God) ‘n kop-ding, dit het met die verstand te doen. Ons moet ons oopstel vir die Woord van God. Paulus sê die Korintiërs is babas in die geloof wat nie die “vaste kos” van die “diep dinge van God” kan verstaan nie, omdat hulle jaloers en twisgierig was.

Paulus is onwillig om die Korintiërs die vaste kos van insig in God te voer, vanweë die gebroke verhoudinge in hulle gemeenskap. Tog is die brief aan die Korintiërs “vaste kos” – wat ons laat besef Paulus spreek hulle aan juis om hulle reg te help, sodat hulle kan groei in die dinge van God.

Soos ‘n moeder en ‘n vader

Die Korintiërs het graag gesê hulle is óf van Paulus óf van Apollos (4). Daarmee het hulle hul voorkeur vir een van hul leermeesters uitgedruk. Hulle het gedink hulle komplementeer ‘n leermeester. Vir Paulus is dit egter ‘n teken van die verdeeldheid in hulle midde. Vir Paulus sê hierdie komplimente niks oor die leermeesters nie, maar alles oor die Korintiërs wat só gewoond is aan verdeeldheid saai, hulle kom dit nie eers meer agter nie.

Daarom voer Paulus hulle nog eers melk. Mens kan nie die diep boodskap van God aan kindertjies openbaar nie. Daarom vat Paulus hulle, soos ‘n moeder, in die arms en begin hulle voed met dit wat hulle kan verteer. Die doel is dat hulle, soos ‘n baba, sal groei in die geloof. Paulus tree hier soos ‘n moeder op.

Later (4:15) beskryf hy homself as hul vader, deur die verkondiging van die evangelie. Vir Paulus het dit met die kern van die Christelike bediening te doen: om mense soos ‘n vader en moeder te begelei tot volwassenheid in geloof om die diep dinge van God te ken. Wat veel meer as verstandskennis is. Geloofsvolwassenheid is om die waarheid van die evangelie met jou optrede te beliggaam.

Wie die geloofsleiers is

In verse 5 tot 9 gee Paulus die eerste van twee kort gelykenisse om vir die Korintiërs te verduidelik hoe hulle die voorgangers in die gemeente moet sien. Die leiers is soos boere wat saamwerk op een saailand om groei, opbrengs en oes te verseker. Vanaf vers 10 kom ‘n tweede kort gelykenis na vore, die leiers is soos bouers aan een gebou. Volgende week gee ons aan hierdie beeld aandag. Vandag staan ons net by verse 5 tot 9 stil, die gelykenis oor leiers as landbouers.

Die tema van verse 5 tot 9 is: Wie is Paulus en Apollos? In hoofstuk 1:10-16 het Paulus al uitgewys die Korintiërs sien Paulus en Apollos as die leiers van opponerende partye in die gemeente. Hy wys dit af. Hier vertel hy hoe hulle Paulus en Apollos wél moet sien: hulle is dienaars van God wat saamwerk op God se oesland om ‘n opbrengs te verseker.

Die leiers is dienaars deur wie God werk (5). Deur hierdie dienaars het die Korintiërs tot geloof gekom, met dienaars wat elkeen die werk doen wat God aan hulle gee. 

Eintlik is God die boer, die landbouer. Die geestelike leiers, Paulus en Apollos, staan in diens van die Landbouer self. Paulus se beeld, landbou, kom uit Jesaja, waar plant, water gee, bewerk, groei, opbrengs en vrug sentrale temas is om God se boerdery uit te druk. Dink maar aan Jesaja 60:21:

Hulle is die loot
wat Ek self daar geplant het,
die werk van my hande
om my roem te vermeerder.

God self doen die plantwerk en God sien toe dat die loot groei.
Dink ook aan Jesaja 61:3 waar oor die volk van God gesê word:
Hulle al genoem word bome van redding
Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Net soos God ‘n verwoeste nasie in Jesaja (tyd van die ballingskap) in harde, droë grond geplant en weer laat groei het, doen God nou weer – in Paulus se tyd – met geloof onder die heidennasies. God plant in Korinte ‘n gemeente en laat hulle groei. God gebruik dienaars om die plant en groei te laat gebeur. Dit geskied deur die krag van die Heilige Gees.

Insigte oor geestelike leierskap

In verse 5 tot 9 maak Paulus verskeie opmerkings oor geestelike leierskap:

  • Paulus en Apollos is dienaars – nie meesters nie. Hulle dra die gesindheid van Jesus wat gesê het Hy het gekom om te dien en nie te heers nie. (Dit staan reglyning teenoor baie moderne sieninge van leierskap, waar die leier oor die groep heers of namens hulle besluit.)
  • Elkeen van hulle het ‘n spesifieke bediening – Paulus plant en Apollos gee water. Nie almal se roeping is dieselfde nie.
  • Elkeen se bediening is ‘n taak wat deur God opgelê is – nie in die eerste plek deur die gemeente nie: “elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het” (5). Die kwaliteit van hul rol moet getoets word aan die taak en verwagtinge van die Opdraggewer.
  • Paulus en Apollos was gelyke vennote – elkeen lewer ‘n onmisbare bydrae.
  • Hulle roeping en taak was gelyk in waarde. Die een was meer ‘n evangelis en die ander ‘n toeruster. Tog is beide evangelisasie en opbou gelyk in waarde. (Dit gebeur maklik in gemeentes dat sommige se roeping opgehemel en ander s’n afgeskiet word.)
  • God gee die groei. Die groei in geloof is nie maar ‘n menslike skepping wat op vaardige mense se werk berus nie. Dit sluit vaardigheid in, maar gaan veel dieper. Dit is ‘n gawe van God. Die misterie van geestelike en numeriese groei in die kerk gaan menslike verstaan te bowe.
  • In vers 9 beskryf Paulus homself en Apollos as medewerkers “vir God”. Dit beklemtoon nogeens dat hulle die kerk oral dien, maar eintlik, ten diepste, op die manier vir God dien. Dit beklemtoon ook dat hulle medewerkers is, nie die leiers van opponerende partye nie.
Waar kom moeilikheid vandaan?

Hierdie gedeelte is vandag steeds wonderlik aktueel vir elke Christelike gemeente, ook ons gemeente. In hierdie verse ontdek ons waarom dinge dikwels skeefloop, en hoe om dit reg te stel. Ons kan dit met groot seën op onsself toepas.

Ons is van nature (ons sondige natuur) geneig tot partyskappe en tot die afspeel van die een teenoor die ander. Ons kultuur leer ons ook om onsself op die voorgrond te stoot. Mense is gevorm om geneig te wees om te vra hoe hulself bevoordeel gaan word deur elke ding waarmee hulle besig is.

God se bedoeling vir gemeentes is anders. God bedoel dat ons in ons geloof sal groei om God raak te sien en in liefde vir God te leef. In hierdie proses word ons ook bevry van onsself en in herstelde verhoudinge tot ons naaste geplaas.

Hieroor moet daar nie kompromieë wees nie. Ons is geroep om te dien en in gesonde verhoudinge met ander te leef.

Die teks gaan oor niks minder as ons diepste Christelike identiteit nie. Daarom moet hierdie verse in verband gebring word met 1 Korintiërs 13, waar Paulus vertel hoe ‘n lewe lyk wat gevorm is deur die liefde van God.

Die gemeente se identiteit is om in Christus een te wees, in liefde. Ons moet dieselfde fokus hê: om in Christus te groei in ons goddelike identiteit. Hoe meer ons eenheid beklemtoon, hoe meer moet ons mekaar ernstig neem. Hoe meer ons mekaar ernstig neem, hoe meer moet ons ons diversiteit ernstig neem. Hoe meer moet ons verskillende gawes, talente en perspektiewe wat mense het, ernstig neem.

Dit is geen wonder dat die Korintiërbrief wat insig in die diep dinge van God so beklemtoon, ook die diverse gawes en die diversiteit in die een liggaam van Christus so ernstig neem nie.

Eenheid beteken nie dat ‘n paar leiers in die gemeente vir ander dikteer hoe hulle moet dink, en wat hulle moet doen en se nie. Ons praat nie van demokratiese eenheid waar diegene wat die meerderheidstem verkry die ander se lewens reël nie.

Ons moet ook waak teen die tendens om partyskappe te vorm en mense teenoor mekaar af te speel. Dit is ‘n teken van onvolwassenheid wanneer gelowiges partyskappe vorm. Dit is verkeerd, en belemmer ons geestelike groei.

Leierskap in die gemeente

Ons is geroep om te groei in die diep dinge van God, en om ons godgegewe identiteit uit te leef. Daarvoor het ons instruksie en vorming nodig. Ons moet onsself aan ‘n moeder en ‘n vader in die geloof toevertrou om gevorm te word.

Leierskap in ons gemeente het geloofsgroei ten doel. Dit het ons vorming te doel.

Hiervoor gee God vir die gemeente leiers. Die leiers, of soos ons dit noem, die ampte, se taak is geestelike vorming sodat ons Christus-gelykvormig word. Dit is die doel met die amp van leraar, ouderling en diaken.

In baie gemeentes beoordeel die gemeente die ampte aan hul eie standaarde. As die leraar nie vir die gemeente gee wat die gemeente wil hê nie, is die leraar nie goed nie. Dieselfde geld die gemeenteraad. Die vraag is of dit die gemeente en of dit die Here se standaarde is? Is dit menslike voorkeure, of is dit werklik God se standaarde waaraan die leierskap gemeet word.

Daar is ook ampsdraers wat onrealistiese verwagtings van gemeentes het, of bloot eie voorkeure op die gemeente projekteer, en die gemeente dan verdeel in opponente en ondersteuners.

Daar is waarskynlik geen ampsdraer of lidmaat in ‘n gemeente wat nie voortdurend selfondersoek en bekering moet ondergaan nie. 

Paulus se beeld van die leiers, die voorbereiding van die grond en die geloofsgroei wat kom, gee ‘n wonderlike perspektief op leierskap in die gemeente.

Mekaar vertrou

Daar is nie groei in die diep dinge van God moontlik is as gelowiges mekaar nie vertrou, mekaar ontvang as geloofsgenote en saam met mekaar groei nie. Sonder eenheid in die gemeente groei ons nie in vereniging met Christus deur geloof, en in insig in die diep dinge van God nie.

Dit verg dat ons mekaar begin sien as die mense wat God vir ons gegee het sodat ons saam met mekaar kan groei. Ons moet leer om mekaar in die Naam van die Here te ontvang en te leer vertrou.

Dit geld ook die leierskap in die gemeente. Niemand is volmaak nie. Die ampsdraers is egter die geestelike vaders en moeders deur wie die Here ons wil laat groei. (“Vader en moeder” is nie soseer ‘n aanduiding van ouderdom nie, maar eerder van geloofsvolwassenheid en gawes.)

Wees betroubaar

Geestelike groei is moontlik omdat ons mekaar leer vertrou, en omdat ons betroubaar is. Ons moet die soort mense wees wat ander met hulle groei kan vertrou, en wat mekaar op hierdie pad help.

God is betroubaar. Paulus en Apollos was betroubaar. Die Korintiërs moes leer om onderling betroubaar te wees.

Dit is hoe ons groei in beliggaamde kennis van die diep dinge van God.

Die kern van ons identiteit is daarin geleë dat ons aan God behoort, van God is, sy saailand. Ons as gemeentelede en gemeente gesamentlik behoort aan Christus en Christus aan God. Daarom is ons anders. Daarom moet ons lewens anders wees. Moet ons ons anders gedra. Daarom, wanneer ons die pad van die Gees kies en stap, word ons wie ons reeds in Christus is.

Só kom ons – geestelik gesproke – uit die doeke.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Julle is die sout vir die aarde …
Julle is die lig vir die wêreld.
Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (uit Matt 5:13-14, 16).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.