Sesde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jeremia 17:1-10
Ek sal jou vir jou vyande laat werk
17 Die sonde van Juda is ingegraveer met ’n ysterpen,
ingegrif met ’n diamantpunt
op hulle harte
en op die horings van hulle altare.
2Selfs hulle nageslag onthou nog
die altare van hulle voorvaders
en die gewyde pale by die groen bome
en op die hoë heuwels.
3My berg in die veld,
Ek laat ander jou rykdom,
jou skatte vat
omdat jy dwarsoor jou land
hoogtes gebou
en gesondig het.
4Jy sal deur jou eie toedoen
die grond moet laat lê
wat Ek jou gegee het.
Ek sal jou vir jou vyande laat werk
in ’n land waarvan jy nie weet nie.
In my toorn sal daar ’n vuur
teen julle losbreek,
en dit sal aanhou brand.

Wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af
5So sê die Here:
Daar rus ’n vloek op die mens
wat sy vertroue in mense stel,
wat sy krag soek by sterflike mense
en van My af wegdraai;
6hy is soos ’n kaal bossie
in droë wêreld
wat nooit water kry nie;
’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan,
in ’n brak wêreld
waar niemand woon nie.
7Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel,
die mens vir wie die Here
’n veilige vesting is;
8so iemand is soos ’n boom
wat by water geplant is
en sy wortels na die stroom toe uitstoot,
nie die hitte voel as dit kom nie
en altyd groen blare het;
’n droë jaar raak hom nie
en hy hou nie op om vrugte te dra
nie.
9Die hart is bedriegliker
as enigiets anders,
hy is ongeneeslik;
wie kan hom verstaan?
10Ek, die Here, deurgrond en toets
hart en verstand,
Ek laat die mens kry wat hy verdien,
wat hom toekom vir wat hy doen.

Psalm 1
Die Here lei die regverdiges
1 Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles
wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind
uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses
hulle nie kan handhaaf
wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ’n plek hê
in die vergadering
van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges
op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses
lei tot ondergang.

1 Korintiërs 15:12-20
Die opstanding van die dooies

12As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” nMaar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.
29En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? 30En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? 31Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,
“laat ons eet en drink,
want môre sterf ons!” o
33Moet julle nie langer laat mislei nie:
“Slegte geselskap bederf
goeie sedes.” p
34Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

Fokusteks

Lukas 6:17-26

Weldade aan baie mense
(Matt 4:23–25; Mark 3:7–12)
17Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ‘n gelykte by ‘n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar ‘n menigte mense 18wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. 19Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.

Seën en ellende
(Matt 5:1–12)
20Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê:
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk
van God.
21Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word.
Geseënd is julle wat nou huil,
want julle sal lag.
22Geseënd is julle wanneer die mense julle haat
en julle verstoot en uitskel
en julle naam vermy soos iets
wat sleg is,
alles ter wille van
die Seun van die mens.
23Wees bly op daardie dag
en spring rond van vreugde,
want vir julle is daar
groot beloning in die hemel.
Hulle voorvaders het immers
met die profete net so gemaak.
24Maar ellende wag vir julle wat ryk is,
want julle het julle lekker lewe al weg.
25Ellende wag vir julle wat julle
nou vol eet,
want julle sal honger ly.
Ellende wag vir julle wat nou lag,
want julle sal treur en huil.
26Ellende wag vir julle
as al die mense goed van julle praat.
Hulle voorvaders het immers
met die vals profete net so gemaak.”

Ekstra stof

Lukas 1:1-4:14 fokus op die geboorte van Jesus tot by sy bekendstelling as die gedoopte, getoetste seun van Adam, Seun van God. Hoofstuk 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 6:1-49 beskryf Jesus se bediening uit drie perspektiewe:

• Dat Jesus die Joodse godsdienstige reëls van die sabbatdag relativeer en ondergeskik stel aan die regte verhouding met mekaar en God – 6:1-11;
• Dat Jesus sy lewe deel met ‘n aantal leiers wat Hy uitkies, wat soos ons weet, die impak van sy bediening vermenigvuldig het – 6:12-14;
• Dat Jesus die lewe gee vir elkeen wat bereid is om te luister na sy woorde EN dit te doen – 6:15-49.

6:1-11
Dit tref hoe Jesus die hele wyse waarop die Jode die sabbatdag vier met positiewe inhoud inklee. Hy wys dat dit ‘n dag is vir fokus op mekaar, op noodbehoewendes, en op goeddoen. Die Joodse reëls, wat net mensgemaak is, en nie op die wet self gebaseer is nie, moenie in die pad staan van onderlinge verhoudinge en omgee nie. Daarbenewens moet die fokus op goeddoen die deurslag gee, trouens nie net op die sabbatdag nie, maar elke dag.

6:12-14
Geen beweging van waarde het nog ooit ontstaan sonder dat daar nie ‘n groepie dissipels was wat ingelei kon word in die boodskap en draers daarvan kon word nie. Jesus het dit geweet en optimaal benut. Daarom sonder Hy Homself af, bid, en kies dan twaalf wat by Hom kan leer en uiteindelik die impak van Jesus se evangelie kan vermenigvuldig.

6:15-49
Die tweede groot ding wat hier tref, is hoe Jesus die beginsel van goeddoen deurtrek in terme van die lewenstyl wat Hy kom vestig, en wat in die “vlakte-rede” (Lukas plaas Jesus op ‘n gelykte en nie op die berg soos Matteus nie) uitgespel word. En in verse 17-19 wys Hy self dat goeddoen geïllustreer moet word met dade en nie net met woorde nie – daarom genees Hy ‘n menigte mense.
Dit onderstreep sy lering in verse 20-49 dat “Luister in leef moet uitmond”, soos die verhaal van die huis op die sand/rots tereg aan die einde van die vlakte-rede te kenne gee.

Let op hoe Jesus:

• die vlakte-rede inlei met ‘n prentjie van die toegewyde lewe aan God, ten spyte van die omstandighede, wat deur God geseën word teenoor die prentjie van die selfgerigte lewe, wat wel korttermyn voordele inhou, maar tot ellende lei – 6:20-26;
• barmhartigheid – selfs vir vyande – verhef tot ‘n allesbepalende beginsel en dit fundeer in God se barmhartigheid – 6:27-36;
• ‘n vrygewige nie-veroordelende houding en lewenstyl aanprys, wat ironies genoeg juis lei daartoe dat ‘n mens, bewus van jou eie tekortkominge, ander kan help – 6:37-42;
• die bron van goeddoen in die hart van ‘n mens sentreer, ‘n hart wat natuurlik aan God behoort – 6:43-45;
• en afsluit met die oproep om hierdie dinge ter harte te neem deur dit te doen – en dit aan die baie bekende prentjie van die huis op die rots teenoor die huis op die sand te illustreer.

Liturgie

RUS

Toetrede VONKK 58 of Flam 97 of Lied 174 “Heilig, heilig, heilig, Here, God van mag”

Votum Psalm 1:1-3

Seëngroet

Lofsang Flam 299 of Psalm 1 of Lied 381

Herinnering 1 Korintiërs 15:1-11

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed VONKK 6 of VONKK 153

Skriflesing Lukas 6:17-26

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 31 “Prys Die Here, Loof en Prys Hom” of
Lied 251 “Salig dié wat arm voor God is”

Seën

Respons
Lied 316 “Kom seën en beskerm ons nou”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here (Nav Jeremia 17:7)” of
Flam 97 “U Is Heilig (Grote God)” of
Lied 174 “Heilig, heilig, heilig, Here, God van mag”

Votum
Psalm 1:1-3
1 Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles
wat hy aanpak.

Seëngroet

Lofsang
Flam 299 “Dit Gaan Goed Met Die Mens (Psalm 1)” of
Psalm 1 of
Lied 381 “Ek prys sy grote Naam”

Herinnering
1 Korintiërs 15:1-11
15 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.
3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.
9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.11In elk geval, of dit ek is of hulle—dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here”
Nav Jeremia 17:7 Teks: Neelsie van Zyl 2007 © Melodie: NEELSIE – Neelsie van Zyl 2007 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo) Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue, Uitsending

Ons vind ons krag in die Here –
op Hom sal ons vertrou,
op Hom sal ons vertrou.
Ons vind ons krag in die Here –
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra,
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra.

F97. U Is Heilig (Grote God)
(RUBRIEK: Kersflam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Johan van Dijk © 2010 Flam Musiek-Uitgewers

U is heilig,
U is waardig,
ons val op ons knieë, voor U neer.
U’s ons Skepper en Heer.

F299. “Dit Gaan Goed Met Die Mens (Psalm 1)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue / Toetrede / Gebed) Teks en musiek: Braam Hanekom © 2001 MAR Gospel Music Publishers

1. Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde vind
in die Woord van God hom verbly.
Dit gaan goed met die mens wat dit bly oordink
en sondaars en spotters vermy.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein
Maak my regverdig Heer en lei my weer
op die regte pad en laat my sing.
Laat my hulde bring, laat my naderkom
aan u heiligdom en lei, lei my weer.

2. Dit gaan goed met die mens wat ’n pad kan loop –
reguit, soos deur God bepaal.
Dit gaan goed met die mens wat ligsinnigheid vrees
en sy gedagtes deur God laat vertaal.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein:

3. Soos kaf in die wind, uitmekaar gewaai,
is die sondaar in u oë.
Met skuld belaai, neer geboë, staan die spotter voor u oë.
Hy probeer vergeefs sy plek behou in die volmaakte kring
van regverdiges deur U gelei
wat steeds ’n loflied sing.

Refrein:

VONKK 6 “Geseënd Wie Goddelose Raad (Psalm 1)”
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: KAMEELDORING – Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek — Voorbereiding om God se Woord te hoor / Wil van God / Geloof en Vertroue

1. Geseënd wie goddelose raad
nie volg tot in ‘n doodloopstraat.
Wie leef uit God se wyse raad,
oordink dit en vermy die kwaad.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

2. Wie leef in vreugde uit Gods woord,
bring altyd goeie vrugte voort;
groei welig soos ‘n lewensboom,
gewortel by ‘n waterstroom.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

F31. “Prys Die Here, Loof en Prys Hom”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks: Strofe 1: TT Cloete (Psalm 146); Strofe 2: Tops de Jager Musiek: Tops de Jager © Kopieregbeheer

1. Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring
en solank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.

2. Geseënd is hy wat as dit swaar gaan
altyddeur aan God vashou;
en as dit lyk of als verkeerd loop
altyddeur op die Here vertrou;
en ook in die swartste nag
op die Here alleen bly wag.

VONKK 153 “Geseënd Die Afhanklikes”
Matteus 5:3 Teks: Beati voi poveri – Taizé; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik
© 2010 VONKK Uitgewers (Admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

Geseënd die afhanklikes,
want aan hulle behoort die hemelse koninkryk.

How blessed the poor in heart
for theirs is the kingdom of heaven.

God praat met ons en ons luister

Gebed
VONKK 6 “Geseënd Wie Goddelose Raad (Psalm 1)” of
VONKK 153 “Geseënd Die Afhanklikes

Skriflesing: Lukas 6:17-26

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Sermons4kids stel voor dat jy gesels oor geluk. Blaas saam met die kinders (en ‘n paar avontuurlustige grootmense) bubbles. Geniet vir ‘n rukkie die blaas van die bubbles. Laat mense probeer om dit te vang.
Bubbles maak almal gelukkig! Die probleem daarmee is dat dit nie hou nie. Die oomblik wat jy daaraan raak, bars dit.

Baie van die dinge waarby mense geluk soek, is soos bubbles. Hulle jaag dit, maar kan dit nooit kry nie. Gesels oor die goed waarby mense geluk soek en dan oor die manier waarop ons geluk vind wanneer ons bv arm is en ontdek dat God sorg, of hartseer is en ontdek dat God troos.

Lees die volledige voorstel hier.

Preekriglyn

In sy boek, Skep moed en leef! skryf Ferdinand Deist van die Nobelpryswenner vir Fisika, Werner Heisenberg, se stryd toe Hitler die Duitse regering in 1933 oorgeneem het. Moes hy padgee of bly? Die deure was oop om ‘n pos in die buiteland te kry, byvoorbeeld in die kerninstituut van Niels Bohr in Noorweë. Hy besluit toe om in Berlyn met sy vertroueling en beroemde fisikus Max Planck te gaan gesels.

Planck het toegegee dat hy maklik ‘n pos iewers anders kon kry: “Jy kan daar bly tot na die katastrofe en dan weer terugkeer met die skoon gewete dat jy geen kompromie aangegaan het met die Nazi-bewind nie. Maar tot daardie tyd toe dat jy kan terugkeer, sal daar baie jare verloop het. Jy sal anders geword het, die mense in

Duitsland sal anders geword het, en dit sal ‘n vraag wees of jy ná soveel veranderinge nog enigsins sinvol by dié gemeenskap sal kan inskakel – veral as jy nie deurgemaak het wat hulle deurgemaak het nie. Sou jy hier bly, sal jou taak heeltemal anders daar uitsien. Jy sal die katastrofe nie kan keer nie en jy sal, om hoegenaamd net te oorleef, dikwels kompromieë moet tref. Maar jy kan probeer om saam met ander mense eilandjies van behoud te vorm. Jy kan jong mense om jou versamel en aan hulle wys hoe ‘n mens ordentlike wetenskap bedryf en op dié manier die beproefde menslike waardes vir hulle bly bewaar.”
Planck het benadruk dat ‘n mens moeilik in sulke omstandighede die regte besluit kan neem. Toe sê hy hierdie woorde: “Maar wat jy ook al besluit, dink aan die tyd wat ná die katastrofe kom.”

Lyding

Hoewel ons ons nie kan voorstel wat mense tydens die Nazi-skrikbewind deurgegaan het, hoeveel kompromieë goeie Christenmense dalk moes maak om te oorleef nie, gee dit ons tog ‘n beeld van wat baie Christene vandag in die wêreld beleef. Daar is wêrelddele waar dit byna ondraaglik is om ‘n Christen te wees.

Die eerste lesers van Lukas het baie verskillende vorme van lyding beleef. Armoede, honger en hartseer was deel van hulle lewe omdat hulle gehaat, verstoot, uitgeskel en vermy is (6:20-22). Dit was geen teoretiese lyding nie. Dit was deel van die daaglikse lewe.

Ons moet duidelik onderskei tussen algemene lyding en die lyding wat hierdie mense ter wille van Christus beleef het. Uiteraard was armoede en honger op sigself lyding, maar dit was die gevolg van die marginalisering wat plaasgevind het “ter wille van die Seun van die mens” (6:22). Hulle lyding plaas hulle in dieselfde linie van die profete wat vervolg is (6:23).

Iemand skryf:

Deur te noem dat hulle ter wille van die Seun van die mens vervolg word, toon duidelik aan dat dit nie net oor diegene gaan wat letterlik arm en behoeftig is nie, ook nie oor al die armes nie, maar oor diegene wat dissipels van Jesus is en dus ‘n bejammerenswaardige posisie in die oë van die wêreld gehad het.

Hoe dra mens dit?

Wat maak dit vir hulle draaglik? Hoe kon hulle moed skep en leef?

Jesus benadruk dat hulle verder as hierdie katastrofe moet kyk. Hy wil hulle brilglase wat deur die lyding toegeasem het, skoonvee. Hy doen dit op twee maniere:

• Enersyds maak Jesus hulle oë oop vir die geestelike seën wat hulle sal ontvang. Christene leef met hoop. Ons sien uit na die dag dat God sal ingryp. Dit vervul ons met blydskap.
• Andersyds wys Jesus op die sekerheid dat God in beheer is. Die rolle sal omgekeer word.

Aan lydendes én magtiges

Walter Brueggemann skryf dat ware profete twee dinge gedoen het.

• Eerstens het hulle aan die lydendes gesê dat hierdie werklikheid nie die laaste een is nie. God is in beheer. Hy gee om vir hulle wat seerkry en swaarkry. Die dag sal kom dat die rolle omgekeer sal word. God sal oordeel en dan sal die reg herstel word.
• Tweedens het hulle aan die magtiges gesê dat hierdie werklikheid nie die laaste een is nie. God is in beheer.

Hy gee om vir hulle wat seerkry en swaarkry. Die dag sal kom dat die rolle omgekeer sal word. God sal oordeel en die reg sal herstel word.

Dit klink na dieselfde boodskap, maar afhangend van wie die ontvanger is, is dit radikaal anders.

Intussen?

Wat moet ons intussen doen?

In ‘n preek oor hierdie gedeelte, skryf Russell Saltzman dat een woord tydens sy universiteitsdae in die VSA uitgestaan het. Dit was teen die agtergrond van die dood van Martin Luther King, Kennedy en die Viëtnam-oorlog. Hierdie woord was “rewolusie”. Wag tot die rewolusie kom! As dinge onregverdig gelyk het: “Wag tot die rewolusie kom!” Nou, na dekades, is hulle almal in posisies as goeie Demokrate, Republikeine en Onafhanklikes. Niemand praat meer van ‘n rewolusie nie. Die probleem, skryf hy, was dat hulle na die verkeerde soort rewolusie gesoek het. Hulle het nie die ware tekens van die rewolusie opgemerk nie.

Wanneer ons terugkyk na die gemeenskap aan wie Lukas geskryf het, besef ons dat die vroeë Christelike kerk deur hulle lyding ‘n kragtige rewolusie bewerk het. Dis waarvan Petrus telkemale in sy eerste brief praat:

• Dit was die weg van die meeste weerstand.
• Dit was die weg van getrou bly aan die evangelie van Jesus Christus.
• Dit was die weg van lyding ter wille van Christus.
• Dit was die weg van mense wat aan die tyd ná die katastrofe gedink het.

Hulle het, soos Deist skryf, hulle visier op anderkant die onvermydelike katastrofe ingestel. Hulle was mense met ‘n visie op die onsienlike God. Hulle blydskap het bestaan in die sekerheid dat God alles in sy hande vashou. Intussen moes hulle gewoon getrou bly aan hulle roeping.

Getuig en stry teen ongeregtigheid

Ook vandag beleef ons katastrofe en lyding. Daar is baie praatjies van sg. broodnodige rewolusies, maar dis menslike rewolusie. Die eintlike agenda is steel en verryk, net met die regte ideologiese sousie daaroor. Baie beroep hulle in hierdie rewolusie op Jesus, maar dis leë praatjies.

Gelowiges moet in Jesus se Naam hierteen veg, en die ellendige en noodlydendes beskerm, selfs al beteken dit ons moet ly ter wille van Jesus en die geregtigheid van die koninkryk van God.

In die Belhar Belydenis word om “mense in enige vorm van lyding en nood” by te staan, onder andere ook:

dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom; dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die verontregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.

Gaan dit maklik wees? Nee, dit mag dalk armoede, honger, hartseer, haat, verstoting, uitskel en vermyding tot gevolg hê.

Weer Heisenberg

Terug by Heisenberg. Hy het besluit om in Duitsland te bly. Deist skryf:

Teen die tyd dat hy dié besluit geneem het, was die Tweede Wêreldoorlog se begin nog ses jaar in die toekoms en die tyd van heropbou sou eers dertien jaar later aanbreek. Maar daardie veraf doelwit, daardie taak wat hy homself opgelê het, het sy handelinge gedurende die Nazi-tyd gerig.

Hy sou later die opdrag kry om saam met ‘n aantal wetenskaplikes in Berlyn te gaan werk aan die ontwerp van ‘n atoombom. Hulle het wel geweet hoe dit vervaardig sou kon word, maar hulle het die regering oorreed dat dit onmoontlik was om so ‘n bom in Duitsland te vervaardig en so toestemming gekry om navorsing te doen oor die vreedsame aanwending van kernenergie.

Die ironie was dat diegene wat uit Duitsland na Amerika gevlug het, dié bom gaan maak het en dat Duitsland, as gevolg van die navorsing waar daar tydens die oorlog in die brandende Berlyn gedoen is, die eerste land was wat geweet het hoe om ‘n kernkragsentrale te bou. Die klein groepies kernwetenskaplikes wat in “oorlewingselle” om Heisenberg vergader het, kon ‘n reusebydrae lewer om Duitsland ná 1945 weer uit die as te laat opstaan . . .

As dit die gevolg van ‘n wetenskaplike se visie kon wees, watter geweldige effek kan ons as Christene nie hê as ons verder as die horisonne ons Heer in beheer sien nie!

Hierdie verhaal gaan nie ten diepste oor of mense moet emigreer of bly nie. Immers, waarheen sal ons wat onsself Christene noem emigreer? Die wêreld is nie ons woning nie. Waar ons ook al in die wêreld leef en woon, ons waardes sal altyd bevraagteken word. Ons lewenstyl sal anders wees. Lyding sal daar wees – groot of klein. Dit gaan eerder oor ons volharding te midde van ons omstandighede as volgelinge van Christus.
Sien ons verder as hierdie katastrofe en is ons gereed om deur dit te leef en Christen te bly?

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 31 “Prys Die Here, Loof en Prys Hom” of
Lied 251 “Salig dié wat arm voor God is”

Seën

Respons: Lied 316 “Kom seën en beskerm ons nou”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.