Sesde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

In aansluiting by die vorige twee weke se tekste val die klem van die sleutelteks hierdie week daarop dat ons redding nie deur mense bewerk word nie, maar deur God alleen. Paulus praat oor die verdeeldheid in die gemeente van Korinte, wat veroorsaak is deur gelowiges wat tussen leiers kant kies. Ons geloof is egter nie van mense afhanklik nie, maar van die lewende God wat deur mense werk. Wanneer ons daarna streef om volgens God se wil (wet) te leef, kies ons die lewe in oorvloed (Deut 30; Ps 119). In Matteus 5:21-37 verduidelik en verbreed Jesus die betekenis van die wette waarvolgens gelowiges hulle lewens rig.

Ander tekste

Deuteronomium 30:15-20
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Psalm 119:1-8
U woord vergeet ek nie
119 Dit gaan goed met dié
wat onberispelik lewe,
dié wat wandel
volgens die woord van die Here.
2Dit gaan goed met dié
wat sy verordeninge gehoorsaam,
dié wat met hulle hele hart sy wil doen,
3geen onreg pleeg nie
en in sy weë wandel.
4U het u bevele gegee
dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5As ek tog maar net
op ’n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ’n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
moet my tog nooit verlaat nie.

Matteus 5:21-37
Versoening
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; men elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25“As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ n28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
(Matt 19:9; Mark 10:11–12; Luk 16:18)
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ o32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van ’n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ p34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Fokusteks

1 Korintiërs 3:1-9
Die oorsaak van die verdeeldheid
3 Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. 2Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? 4As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 119

Seëngroet  

Sang: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Deuteronomium 30

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

Vryspraak: Deuteronomium 30

Geloofsbelydenis: ahv 1 Korintiërs 1

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese: (Uit Lied 258)

Skriflesing: 1 Korintiërs 3:1-9

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 119
Dit gaan goed met dié
wat onberispelik lewe,
dié wat wandel
volgens die woord van die Here.
of
Voorganger: As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings te gehoorsaam sal jy lewe.
Gemeente: Ons kies die lewe.

Voorganger: Om die Here jou God lief te hê en aan te hang, sal vir jou lewe gee.
Gemeente: Ons kies die lewe.

Voorganger: As jy die Here met hart en siel liefhet, sal jy lewe.
Gemeente: Ons kies die lewe.
Voorganger: Amen
(uit: Deut 30).

Seëngroet  
Gemeente, ek groet julle in die Naam van die Here,
die God wat lewe gee,
en Jesus Christus,
wat ons kom leer het wat lewe is,
en die Heilige Gees,
wat in en deur ons lewe bring.

Sang: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet Deuteronomium 30
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

Vryspraak Deuteronomium 30
16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.

Geloofsbelydenis ahv 1 Korintiërs 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En ek glo in die boodskap van die kruis:
Die boodskap van die geloof is dat jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, en so word ons gered.
Ek glo in die kruis van Christus:
Christus wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo dat die kruis van Christus die verlossing en krag van God is.
Deur Christus se dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap- Hy het die goeie boodskap van vrede gebring. Meer nog, Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ‘n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees

F246. “Lig Van Die Wêreld’
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Here I Am To Worship (AKA Light of the World)
Teks en Musiek: Tim Hughes
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
©  2000  Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Uit Lied 258)
Vreugdevolle tyding,
bron van hartverblyding –
evangeliewoord!
Here- U Woord van lig en lewe
rig ons aardse strewe
as bevrydingswoord –
U Gods woorde skei kragtig
Op u grondslag bou ons,
op u heil vertrou ons,
mensgeworde Woord!
U sal nooit verander
want U hou u woord.
Woord by God en Self ook God,
U is waarheid, lig en lewe,
ewig en verhewe.
Amen

Skriflesing: 1 Korintiërs 3:1-9

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Familie-oomblik 1
Gebruik ‘n string helder wol of ‘n bol tou en laat mense dit vir mekaar gooi. Elkeen wat die bol vang, moet spontaan ‘n manier noem waarop hulle by die kerk betrokke is of hoe God deur hulle werk. Die wol verteenwoordig God wat ons almal aan mekaar verbind en deur ons werk – die Gees wat in ons leef en ons help leef. Ons is dus met mekaar verweef. Paulus verduidelik dat individue ‘n bydrae kan lewer, maar dat dit God is wat al die bydraes saamweef. Vir kinders (en volwassenes) vandag beteken dit dat almal in die kerk iets het om te bied. Sommige sing in die koor, party werk by die sopkombuis, sommige bid, sommige skink tee, ensovoorts. Elkeen is nodig en niemand is beter as die ander nie. God gebruik almal se bydrae. [Foto vanaf piqsels, CC0]

Familie-oomblik 2
Indien jy op die tuinmaakmetafoor gaan fokus, kan grond, saad, ‘n blompot, en so meer, as visuele middele gebruik word om met die kinders te gesels oor hoe ‘n mens saad plant en wat dit nodig het om te kan groei. Ons kan alles doen om die saad te help groei, maar ons self kan nie die saad laat groei nie. Dit is God wat laat groei.  [Foto vanaf Wiki]

Video’s wat hier gebruik kan word, is  Voorbeel 1 of Voorbeeld 2.

Preekriglyn

Die tema van ons teks is medewerkers van God floreer op vaste kos

Om dié gedeelte te verstaan, moet ‘n mens eers in hoofstuk een lees:
10 Ek pleit by julle, broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. 11 My broers en susters, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. 12 Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê: “Ék is van Paulus”, of: “Ék van Apollos”, of: “Ék van Sefas”, of: “Ék van Christus”. 13 Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop?

Paulus brei in die res van hoofstuk twee uit oor die wonder van hierdie einste Here Jesus Christus wat die krag en die wysheid van God vir ons almal is, ook vir Apollos, Paulus en Sefas (Petrus), om die punt te maak dat hulle en ons almal in Christus gegrondves en bevestig is.  Dit is Christus wat die belangrike Een is. En in hoofstuk 2 handel hy verder oor die diep dinge wat die Gees ons leer, as ons net maar onsself oopstel daarvoor.

Maar Paulus besef dat hy die punt van hoofstuk 1 nog deegliker sal moet onderstreep, want hulle verdeeldheid, hulle afguns en onenigheid, illustreer hulle geestelike onvolwassenheid. Daarom skryf hy in hoofstuk 3 as volg teen die groepvorming rondom leiers:

1 Wat my betref, broers en susters, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met suigelinge, in Christus (Messias, Gesalfde). 2 Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie, 3 want julle is steeds wêrelds. Waar daar onder julle afguns en onenigheid is, is julle dan nie wêrelds en gedra julle julle dan nie soos wêreldse mense nie? 4 Elke keer as een van julle sê: “Ek is van Paulus,” en ‘n ander: “Ek van Apollos,” is julle nie wêreldse mense nie? 5 Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het. 6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7 Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. 8 Dit is een wat plant en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9 Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

Nooit onderskeid

Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie.

Op die oppervlak is Paulus se vermaning in hoofstuk 3 baie duidelik.  Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie.  Die hele idee dat ‘n mens kan sê: ek is vír Paulus, óf ek is vír Apollos, óf ek is vír Petrus, óf ek is vír Christus, soos dit reeds in hoofstuk een uitgespel word, is onvanpas.  Só ‘n onderskeid hoort in die wêreld waar mense hulle bv. agter ‘n politieke leier skaar.  Dit hoort nooit in die Christelike geloofsgemeenskap nie.

Jy kan nie in die kerk ‘n onderskeid maak tussen leiers, omdat een van hulle ‘n welsprekende orator is, soos Apollos nie. Sy welsprekendheid is ‘n bate en iets om oor opgewonde te raak, nie om hom bó ander te verhef nie.

Jy kan Apollos ook nie teengaan, omdat jy wil wys daarop dat Apollos nog aan die groei was in sy greep op die Christelike leer nie.  Ons weet van Lukas se skrywe in Handelinge 19 dat Priscilla en Akwila hom moes touwys maak, omdat hy baie passie gehad het, maar min inhoud.

Trouens, enige leier moet hom- of haarself dieper ingrawe in die boodskap van die Bybel.  Maar jy kan nie Apollos se welsprekendheid of sy gebrek aan kennis vír of téén hom gebruik nie.  ‘n Gebrek aan kennis opsigself is nog nie ‘n diskwalifikasie nie, uiteraard solank ‘n leier ‘n leerbare gees het.  Al wat tel, is dat hy of sy as ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus optree.

Om Apollos te verhef bó ander, óf te verlaag, beteken in wese dat jy ontken dat hy en van die ander leiers ook diensknegte en medewerkers van die Here Jesus Christus was.  En dit laat afguns en onenigheid in die liggaam van Christus heers.  En al waaraan jy hom kan meet, is of hy dié roeping van die Here uitvoer óf nie.  En of hy daarin groei óf nie.

Dieselfde geld diegene wat vír Paulus was.  Dit is net so onaanvaarbaar om hom bó Apollos te verhef, omdat Paulus meer as Apollos geweet het van die evangelie.  Nie dat dit nie waar was nie, want hy was sonder weerga onder sy tydgenote.  Maar, Paulus was ook net ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Jy kon ook nie sy gebrek aan welsprekendheid téén hom hou nie, want dít was van geen belang nie, net sy betroubaarheid en toewyding aan die roeping wat God hom gegee het.

Netso dié wat vír Petrus was.  Dit was net so onaanvaarbaar om hom bó Paulus te verhef, bv. omdat hy die leier van die Pinksterbeweging in Jerusalem was en van die begin af saam met Jesus was.  Want ook Petrus was net ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Jy kon ook nie sy gebreke – en daar was ‘n paar, soos dat hy voortvarend was, en soms skynheilig – teen hom hou nie.  Die een gebrek moes jy hom vergewe, en oor die ander gebrek moes jy hom eerder aanspreek, soos Paulus inderdaad op ‘n tyd gedoen het, sodat hy daaroor kon verander (Gal. 2).  Maar, sy gebreke het nie sy roeping ongeldig gemaak nie.  Hy was steeds ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Dit is al wat getel het.

En die mense wat vír Christus was?  Wel, hulle was waarskynlik hoogmoedig dat hulle nie in die leierskapstryd vasgevang was nie.  Hulle het daarom moontlik neergesien op die ander.  Daarom kon hulle ook nie aanspraak maak daarop dat hulle ‘n beter houding as die ander gehad het nie.  Hulle moes eerder die ander gehelp het om hulle solidariteit aan die Here Jesus te bewys, en dit nie te verspil met ‘n laer trek agter een van die leiers van die vroeë Christelike kerk aan nie. Hulle het dit egter nie gedoen nie.  So hulle was nie in ‘n beter situasie as die ander nie.

Die boodskap hiervan aan ons in die kerk is dus ook helder en duidelik.  Daar kan nie ‘n onderskeid gemaak word tussen die leraars van ‘n gemeente nie.  Daar kan nie ‘n onderskeid gemaak word tussen die leraars van verskillende gemeentes of van verskillende denominasies nie, dink maar self aan voorbeelde.  Só ‘n onderskeid is altyd onaanvaarbaar.  Dit verdeel die liggaam van Christus.  Dit laat afguns oorneem in die kerk.  Dit dryf ‘n wig in tussen mense wat as leiers en leraars hulle roeping uitleef.  Dit dien nie die saak van Christus in die geloofsgemeenskap óf in die wêreld daarbuite nie.

Die enigste opdrag wat leiers het, is om ‘n dienskneg van die Here Jesus Christus te wees en as sy medewerker op te tree in die koninkryk van God.  En dit is daardie medewerkerskap van Christus wat van belang is en waarop gefokus moet word.

Natuurlik het leiers verskillende gawes en vermoëns.  Apollos kon beter preek as Paulus.  Paulus het meer geweet as Apollos.  En sommige gelowiges in die gemeente sou as gevolg daarvan beter kon luister na Apollos en ander weer beter na Paulus.  En die kwaliteit van die boodskap kon verskil afhangende van hulle gawes en vermoëns en selfs afhangende van hulle betroubaarheid en toewyding.

Maar, daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers op grond van een of ander kwaliteit wat hulle het of nie het nie.  Nooit nie.  In effek sou dit ‘n verwerping van medegelowiges en medewerkers in die geloofsgemeenskap wees, praat nie eers daarvan dat dit die roeping wat die Here gegee het vir dié leiers in twyfel sou trek.

En hoekom mag ‘n mens nie só ‘n onderskeid maak nie?

Paulus sê, ‘n onderskeid tussen leiers getuig van ‘n wêreldse en vleeslike gesindheid.  Dit getuig nie van ‘n geestelike gesindheid nie.  Dit is die dinge waaroor babatjies in die geloof praat.  Dit is dinge waaroor suigelinge praat.  Nie volwassenes in die geloof nie.

Nie vatbaar vir vaste kos

Paulus kon die “vaste kos” van die boodskap van Christus in die Woord nie met hulle deel nie

En dít bring ons by die eintlike probleem wat daar in Korinte geheers het.  Die gelowiges het self nie die pad met die Here Jesus Christus geloop nie.  Hulle het self nie die volle sekerheid gehad van hulle geloof en van die roeping wat die Here vir hulle gehad het nie.  Daarom het hulle gefokus op die leiers en hulle eie gebreke vir ander en vir hulleself weggesteek.

Meer nog.  Hulle het geweet dat die “vaste kos” meer van hulle sal verg.  Hulle sou moes kou en herkou en dit sou van hulle meer toewyding vra. En dan sou hulle hulle lewenstyl moes aanpas om in lyn te kom met wat die Woord vra.  Hulle sou mekaar moes aanspreek – waarvan daar ‘n hele paar voorbeelde in die brief was – en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.

Paulus het dit geweet, en moes daarom aanmekaar na dieselfde basiese dinge in sy kommunikasie met hulle terugkeer.  Want, hy het – tot sy groot frustrasie – geweet dat hy nie die dieper dinge van die roeping wat die Here vir hulle het op die tafel kon sit nie, want hulle het net nie genoeg gegroei in geestelike volwassenheid om dit te kan verstaan nie.

En onvolwasse was hulle beslis, soos ‘n mens in die res van die brief agterkom.  Hulle was só onder die invloed van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte dat hulle lewenswandel net nie in lyn gekom het met die boodskap van Christus nie.  Daar was geen onderskeid tussen hulle manier van lewe en dié van die gemeenskap van Korinte nie.

Hulle moes hulleself net soos die leiers gemeet het aan hulle gehegtheid aan die boodskap van Christus soos dit in die Woord van God verkondig word.  Hulle eie lewenswandel moes getuig het van hulle roepingsbewustheid en gehegtheid en lojaliteit aan die Here Jesus Christus.

Maar, hulle was só onvolwasse dat hulle dié toets aan mekaar gedop het.  Hulle het hulleself net nie diep genoeg in die Woord van God en die boodskap van die evangelie verdiep nie.  In hulle tyd was die 39 boeke van die Hebreeuse OT – die Hebreeuse Tenak met ‘n paar apokriewe by uit die Griekse vertaling die LXX – alreeds die kanon, die maatstaf, soos dit in Christus Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees aan hulle geopenbaar is.  En hulle het hulleself net nie genoeg daarop toegelê om te kan groei in hulle geloofsvolwassenheid nie.

Hulle probleem was dat hulle in gebreke gebly het om dié boodskap deel van hulle lewens te maak.  Daarom kon hulle nie groei in hulle gehoorsaamheid aan die boodskap van Christus in die Woord nie.  Hulle kon die “vaste kos” van die Woord nie verteer nie, want hulle het langtermyn babas in die geloof gebly.

Nie standvastig nie

Daarom kon hulle nie staande bly in die losbandig en afgodiese kultuur rondom hulle nie

Die gevolg was dat hulle net nie kon staande bly in die losbandige en afgodiese kultuur rondom hulle nie.  En laat ons geen doekies omdraai nie.  Korinte was ‘n etiese en godsdienstige moeras wat sterk teenstand gebied het teen die evangelie van Jesus Christus.

In hierdie stad van Afrodiete – die godin van die liefde – was daar ongebreidelde losbandigheid.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.

By die tempels is daar ook vleis aan die afgode geoffer waarvan ‘n deel aan die publiek verkoop is.  En hoeveel daar met die vleis as sodanig niks verkeerd was nie, wat daar party van hulle: “wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is.  Daardeur“, sê Paulus, “word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar.” (1 Kor. 8:7).

Sy raad aan hulle was om liewers niks met afgodsvleis te doene te hê nie, want jy kan deur jou eie vryheid ander gelowiges aanmoedig om die vleis “as afgodsoffer” te eet (1 Kor. 8:10) en so hulle laat struikel.  Daarom sê Paulus sal hy liewer nooit afgodsvleis eet nie ter wille van sy medegelowiges (1 Kor. 8:13).  Dit was in elk geval die akkoord van die Handelinge 15 “sinode” om afgodery en losbandigheid te vermy, soos Jesus ook in Openbaring 2 aan die gemeente van Tiatira skryf.

Die probleem was dus lewensgroot vir die gemeente van Korinte.  Dit was nie net die gemeenskap van Korinte wat die tempels vir prostitusie en afgodsvleis besoek het nie.  Dit was gemeentelede en dit het hulle verhouding met die Here Jesus in gedrang gebring.  Paulus sê later, hulle het die reiniging van hulle vorige sondes vergeet en weer begin terugkeer na hulle vorige lewenswyse.  Daarom moet hy hulle skerp aanspreek daaroor dat hulle bv. bloedskande toelaat omdat hulle te bang is om die evangelie aan die skuldiges te verkondig (1 Kor. 5) en dieselfde rondom die afgodsvleis (1 Kor. 8).

Paulus spreek dus hierdie tipe etiese en godsdienstige kwessies skerp aan in die res van sy brief.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Hy konfronteer hulle reguit (5:1 – “‘n Mens hoor werklik van julle …” as hy oor bloedskande praat) en op punte is hy baie sarkasties (6:5 – “Is daar dan nie ‘n enkele verstandige onder julle nie …” as hy oor hofsake tussen gelowiges praat).

Hulle het nodig om groot te word sodat hulle “vaste kos” kan begin gebruik, anders sou hulle nooit kon staande bly in die losbandige en afgodiese kultuur rondom hulle nie.

Teenwoordigheid van God

Die gemeente is die tempel van God en moet werk aan hulle eenheid in Hom

Paulus gee hiermee dus vir ons ‘n belangrike boodskap vir vandag.  Die gemeente, ook hierdie gemeente, is ‘n tempel van God waarin Hy woon, soos Paulus later in hoofstuk ses oor gaan skryf.  God se Gees is vir elkeen van ons as gelowige gegee,  Nie net vir die leiers nie.  Vir elkeen van ons in die gemeente.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want verdeeldheid skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk.  Paulus sê in die res van die hoofstuk dat ‘n leier soos ‘n wyse bouer te werk moet gaan volgens die bouplanne wat God in sy Woord gee.  Die gehalte van die werk tussen leiers kan verskil, sal trouens verskil, maar die maatstaf is in watter mate dit met God se wil, soos Hy dit in die Woord vir ons gegee het, ooreenstem.

En ons as gemeente moenie op ons leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, al vind jy meer aanklank by die een as by die ander.  Ons moet eintlik ons almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.  Dit geld die leiers en dit geld die gewone gelowiges.

Paulus is ook duidelik – al is dit ‘n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging (1 Kor. 4).  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (1 Kor. 2:2) en die deel hê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Vaste kos

Vaste kos is vir grootmense wat oor insig beskik wat deur ervaring getoets is om tussen goed en kwaad te onderskei

Hierdie gedagte oor melk en vaste kos vind ook weerklank in die res van die Bybel, en help ons om verder daaroor te dink.  Die skrywer van die Hebreërbrief hak by hierdie idee van Paulus aan en voer dit verder (Hebr. 5:13).  Hy sê melk is natuurlik nodig.  Jy het dit uiters nodig aan die begin van jou geestelike lewe.  Maar as jy net daarby bly, is daar fout.  Groot fout!

Die skrywer spreek hulle dus ernstig aan en moedig hulle aan om te vorder in die geloof, want anders kan hulle nie saamgesels oor dié dinge waaroor volwassenes in die geloof behoort te gesels nie.

13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ‘n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Dit strem die gemeenskap van gelowiges as ‘n mens elke keer weer oor die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei, moet gesels, of oor geloof in God en wat dit alles behels of oor die leer van die doop en die handoplegging, en oor die opstanding van die dooies en die ewige oordeel wat vir alle mense wag wat nie in Christus Jesus is nie.

As jy nog oor dié dinge onseker is, of telkens weer herinner moet word daaraan, kan jy nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie, want jy is nog ‘n kind.  Die vaste kos van die Woord is vir grootmense, dié dinge waarvoor mens insig nodig het wat deur die ervaring geoefen is, sodat jy saam met ander kan onderskei tussen goed en kwaad.

En dít is ook nog maar net die begin van die vaste kos waarvan hy praat in sy preek-brief aan die gemeente in Rome.  Hierna beskryf hy in die volgende hoofstukke die wonderlike werklikheid van Jesus se versoeningswerk in die hemelse tempel, sy voorbidding vir ons vanuit die troon van die Vader, die liefde en goeie dade waartoe ons mekaar moet aanspoor, die volharding in geloof ten spyte van die beledigings en vervolgings waaraan gelowiges blootgestel word.

En die geloofshelde wat hy in hoofstuk 11 aan ons voorhou, is juis mense wat begin vaste kos eet het en hy nooi ons uit om dieselfde paaie te begin loop wat die geloofshelde geloop het in die verlede.  Hulle oog was gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van hulle geloof (Hebr. 12:1-2).  Daarom luister hulle na Hom wat van die hemel af met hulle praat deur sy Woord (Hebr. 12:25).

Medewerkers van God floreer op vaste kos

Vaste kos is noodsaaklik vir medewerkers van God.  Dit is die tipe kos waarop hulle floreer, wat hulle sterk maak, wat hulle deursettingsvermoë gee, wat hulle die diepte gee wat nodig is om in ‘n al hoe dieper wordende bewussyn van die Here en sy wil vir die lewe te leef.

Daar is mense in wat baie erns maak met die Woord van God.  Maar, dit is nie waar van almal van ons nie.  Daar is baie wat tevrede is met melk en gevolglik nie die vreugde van vaste kos en die voordele wat dit vir jou geestelike lewe bring, beleef nie.  Dit verg meer van ‘n mens.  Jy moet kou en herkou en werk om dit deel van jou gewone geestelike dieet te maak.  Dit is nie net ‘n vinnige slukkie in die oggend of aand aan ‘n stukkie melkkos nie.  Dit verg aandag en fokus en toewyding.

Maar, die voordele is dat jy al hoe meer ingetrek word in God se plan vir hierdie wêreld.  Dat jy al hoe meer jou eie roeping verstaan en deur God as sy medewerker gebruik word in die wêreld.  Daar is nie ‘n groter voorreg en vreugde in die lewe as om deel te word van God se beweging na hierdie wêreld toe nie, om deel van sy plan vir die koninkryk te wees nie.

En ek doen daarom ‘n ernstige beroep op julle om nie terug te deins vir vaste kos nie, maar al hoe meer jou in te oefen om die Woord onder leiding van die Gees te lees en dit te begin gehoorsaam.

En ek weet dat jy op twee maniere kan reageer as ek dié waarheid onomwonde aan jou bring.  Dit is immers presies die reaksie wat die evangelie nog altyd in die gemeenskap van geloof gebring het.  Daar kan by jou ‘n wonderlike reaksie wees waar jy jou lewe meet aan die maatstaf van “vaste kos” en besluit om iets daaraan te doen.  Of jy kan jou verset daarteen en dit afmaak as net nog ‘n boodskap soos enige vorige en niks doen aan jou geestelike behoefte aan “vaste kos” nie.

Mag jy genade ontvang om hierdie aanmoediging as ‘n motivering en stimulus te ontvang sodat God jou lewe kan begin inspan in sy koninkryk.

God stuur ons om te leef

Gebed
Met die asem van u Gees, o God,
reinig U die hart en die denke van u gemeente;
troos U dié wat treur;
lei U dié terug wat afgedwaal het;
verwarm U met liefde die harte wat koud geword het,
bind U hulle weer saam wat verdeeld geraak het,
en verryk U u kerk met talle gawes.
Ons bid dat U daagliks
die gawes sal vermeerder
wat U aan ons toevertrou –
sodat ons met u Lig in ons
en voor ons
deur hierdie wêreld kan gaan
sonder om te struikel of af te dwaal
– Desiderius Erasmus

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Die Here sal julle seën en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee .
(uit Num 6:24-26).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.