Sesde Sondag na Epifanie

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 6:17-26
Ander tekste: Jeremia 17:1-10; Psalm 1; 1 Korintiërs 15:1-11

Inleiding

Vandag se fokusteks bevat 2 perikope. Mense het om twee redes na Jesus gekom . . . om na Hom te luister én om deur Hom genees te word.
Eerstens maak Jesus ’n menigte gesond (almal) en dan leer Hy die menigte uit die bekende saligsprekinge.
In die Jeremia teks word die ingesteldheid van die volk se hart aangespreek – hy vermeld ’n bose (ongehoorsame) hart. ’n Aantal profetespreuke is deur die versamelaars van die boek hier ingevoeg.
Psalm 1 identifiseer twee groepe mense, “regverdiges” en “goddeloses” en beskryf die twee groepe se uiteinde en lewensbenadering.
In 1 Korintiërs 15 reageer Paulus teen die dwaalleer wat die opstanding van die dooies bevraagteken het. Hy herinner hulle aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Gelukkig is die mens
wat nie die raad van goddelose mense volg,
nie op die pad van sondaars staan
en nie in die byeenkoms van spotters sit nie,
maar wat vreugde in die wet van die Here vind,
en sy wet dag en nag prewelend opsê (uit Ps 1).

Geloofsbelydenis 
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek,
volgens die Skrifte.
Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf,
en daarna aan meer as vyfhonderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is, maar die meeste nou nog lewe.
Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, Paulus, verskyn (uit 1 Kor 15).

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Sien die voorgestelde gebed in die basisliturgie.

Diens van die tafel

Nagmaalgebed 
Here, ons kom nou soos die groot menigte agter U aan.
Ons word aangetrek deur die liefde en omgee wat uit U straal, dit wat U met elke woord deel en die lewe wat ons ervaar in u teenwoordigheid.
Ons het ’n behoefte, ’n behoefte aan kos, aan voeding.

Ons gaan soek ook op verskillende om hierdie behoefte te bevredig, maar dis plekke wat ons vinnig weer leeg laat.
Ons besef dat ons nooit genoeg geld sal hê om voedsel te kan kry wat ons sal vul nie.
Dan kom ’n seuntjie en hou in sy hande vyf garsbrode en twee vissies en ons sê: “Wat is dit vir my?”
En U sê vir ons: “Gaan sit.”
Ons sien hoe U die brood neem, hoe U dankbaar die Skepper-God  erken wat dit so vrygewig aan ons skenk en ons eet . . .

Skielik besef ons dat ons vol is – meer as genoeg gehad het, dat ons gevoed is en dit eintlik nooit sou kon bekostig nie, maar tog kry ons dit omdat U daarvoor betaal het met druppels bloed – u eie bloed
(uit Joh 6:1-15 in Woord en Fees 2014/15).

Uitsending

Sien die seën wat in die basisliturgie voorgestel word.

Musiek en sang

Na die aanvangswoord: Lied 157 “Here Jesus ons is saam”
Lofsange: Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”; Lied 209 “Heer, met my hele hart”
Ander: VONKK 153 “Geseënd die afhanklikes” (Luk 6:20); VONKK 6 “Geseënd wie goddelose raad” (Ps 1)
Uitsending: Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God”; VONKK 38 Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

Preekstudie – Lukas 6:17-26

Teks

Vers 17-19. Soos dikwels in Lukas noem hy weer die groot aantal volgelinge wat kom luister wat Jesus te sê het. Hierdie keer word meer as Jode genoem. Die inwoners van Tirus en Sidon is deel van die “menigte mense”. Hierdie gebiede was deel van die heidense omgewing (Schweizer; Marshall) en pas in by die fokus van Lukas dat die evangelie aan mense buite die Joodse gemeenskap gebring sou word. Daar is drie groepe teenwoordig: Jesus se twaalf dissipels (6:12-16), die groep mense wat besluit het om Jesus te volg (6:13) en die groter groep wat kom luister, maar nie noodwendig besluit het om Hom te volg nie (Marshall en Geldenhuys).

Jesus se wonderwerke en gesag oor siekte en die bose word weer benadruk. Die mense kom om te hoor en genees te word (sien 5:15). Dit was duidelik dat Jesus in die oë van die mense oor spesiale krag beskik het. Lukas benadruk dat dit nie net iets is wat mense geglo het nie, maar dat dit ’n feit is. Krag het van hom uitgegaan. Weereens bring Lukas Jesus se woorde en dade bymekaar (Schweizer).

Die plek word ook genoem. Anders as in die Matteusevangelie, staan Jesus op ’n vlakte. Dit was waarskynlik die vlakte aan die voet van die berg omdat dit vir mense moeilik sou wees om siekes na ’n vlakte op die berg te bring (Plummer, Marshall). Die woorde wat volg toon sterk ooreenkomste met die Bergrede in Matteus 5. Dit verwys waarskynlik na dieselfde gebeurtenis. Die verskil is dat die lesers van Matteus baie groter waarde aan die berg geheg het as die lesers van Lukas. Matteus verwys na die berg om Jesus as tweede Moses voor te stel, maar dit is heeltemal onbelangrik vir die Griekse gehoor van Lukas.

Vers 20-26. Die aandag verskuif na die dissipels, net soos in Lukas 5. Plummer bespreek hierdie gedeelte onder die opskrif: “Die vereistes vir die toegang tot die koninkryk: die vreugde van hulle wat daaroor beskik en die ellende van hulle by wie dit ontbreek.” Die skare verdwyn op die agtergrond. Daar is niks in die teks wat die indruk wek dat die skare hierby ingesluit is nie, maar dit beteken ook nie dat die skare afwesig was nie (Schweizer; Marshall).

Daar is opmerklike verskille tussen hierdie saligsprekinge en Matteus s’n. Een duidelike verskil is die nadruk op rykdom en armoede (21, 20, 24, 25). ’n Ander opvallende verskil is die ellende-uitsprake wat die saligsprekinge “balanseer” (Plummer). Armes is geseënd (20). Ellende wag vir rykes (24). Honger mense is geseënd (21). Ellende wag vir hulle wat nou genoeg eet (25). Huilende mense is geseënd (21). Laggende mense moet ellende verwag (25). Mense wat uitgestoot word ter wille van Jesus is geseënd en moet vol vreugde wees (22, 23). Mense wat nou ’n goeie reputasie het, moet ellende verwag (26). Ons kan nou in meer detail na hierdie uitsprake kyk.

Vers 20-23. Hierdie vier saligsprekinge kom met die eerste, tweede, vierde en agste saligsprekinge in Matteus ooreen. Die ander word uitgelaat. Lukas vermy die “geestelike” karakter van Matteus se saligsprekinge (Plummer). Hy fokus op vier duidelike uiterlike sake wat ooreenkom met dinge wat die lesers ervaar het; armoede, honger, hartseer en vervolging. Dit is egter opvallend dat die gepaardgaande seën duidelik op ’n geestelike vlak lê. Al vier hierdie sake word ingelui met die woord “geseënd”. Die woord verwys na ’n staat van afwesigheid van kommer (Marshall). Dit is ’n feit wat gestel word: “This happiness is the result of a state of divinely given salvation . . . Hence the reference is to the religious joy of the person who has a share in salvation” (Marshall). Die mense wat hierdie dinge ervaar word dus geseënd verklaar.

Vers 20. Die armes is hulle wat materieel arm is. Dit staan in teenstelling met die rykes wat later genoem word. Nolland merk op: “And their advantage over the rich will be their freedom from that state of mind which ensnares the rich in the limited perspectives of this world, lulls them into a foolish self-confidence, and beguiles them into thinking that their material prosperity has its goal simply in their own rich enjoyment of the good things of life.” Dit gaan nie oor die armes van gees, soos in Matteus nie. Sommige van die dissipels het alles prysgegee om Jesus te volg en weet daarom wat armoede is (Plummer). Hulle het reeds die koninkryk ontvang. Dis nie ’n belofte nie, maar ’n feit. Tog is dit nie armoede op sigself wat mense vir die koninkryk geskik maak nie, maar hulle wat bereid is om hierdie pad ter wille van Christus te loop (Marshall). Hoewel fisieke armoede sentraal staan, beteken dit nie dat armoede op ander vlakke uitgesluit is nie (Marshall). Daar is ook ’n geestelike karakter aan armoede omdat mense wat materieel arm is hulle op God verlaat om te help (Goppelt).

Vers 21. Diegene wat gebrek ly sal versadig word. Diere is gevoed, maar die voeding van mense gaan hier oor die geestelike oorvloed vir hulle wat die koninkryk ontvang (Plummer). Hierdie beeld word duidelik geïllustreer in die gelykenis van Lasarus wat op aarde arm en honger was, maar nou versadig is (Luk 16:20-22): “Hunger and weeping are not to be considered as separate conditions from poverty but as characteristic manifestations of poverty” (Nolland). Mense wat nou huil of kla moet weet dat dit net tydelik is. Nolland wys daarop dat Psalm 126:6 en 137:1 klag met die lyding van ballingskap verbind. Dit sal deur gelag/vreugde vervang word. Hierdie huil en klag kan enige vorm van klag (die harde gehuil na die dood van iemand) en hartseer insluit. Hierdie gedagte word ook in die Ou Testament gevind (Jes 60:20; 61:3; 66:10).

Vers 22. Terwyl die vorige saligsprekings oor die staat van die dissipels handel, fokus hierdie een op spesifieke gebeure (Nolland). Dis duidelik dat die staat van die dissipels bepaalde gevolge het. Dit is egter nie al nie. Dit kan ook wees dat hulle armoede, honger en klag die gevolg van vervolging, haat en marginalisering is.

Die omvattende lyding wat die navolgers van Jesus beleef het, word met vier woorde beskryf: haat, verstoot, uitskel en vermy. Haat is die oorkoepelende begrip wat tot uitdrukking kom in die ander begrippe. Die woord vir haat word dikwels gebruik vir die gesindheid van hulle wat teen God se mense gekant is (Marshall – sien Luk 1:71; 21:17). Verstoot dui op die daarstelling van grense. Ekskommunikasie sowel as die uitsluiting uit sosiale gemeenskap word geïmpliseer (Plummer). Ostrasisme was algemeen in die Lukaanse gemeenskap. Om iemand uit te skel (reproach) het die betekenis van persoonlike verbale aanvalle (Marshall). Die vermyding van hulle naam asof dit boos is, is die verwerping daarvan as iets sleg. Dit gaan hier oor die reputasie van die dissipels. Hierdie behandeling deur die gemeenskap is nie weens iets wat die dissipels verkeerd gedoen het nie, maar ter wille van die Seun van die mens. Dit moet weer beklemtoon word dat blote materiële armoede, honger en hartseer nie kwalifikasies vir die koninkryk is nie: “The description of them as being persecuted for the sake of the son of man shows that the thought is not simply of those who are literally poor and needy nor of all such poor people but of those who are the disciples of Jesus and hence occupy a pitiable position in the eyes of the world” (Marshall).

Vers 23. Hierdie behandeling moet mense nie depressief maak nie, maar met vreugde vervul, want ’n geestelike beloning is seker. Daarin staan hulle in dieselfde linie as die profete van die Ou Testament wat dieselfde behandeling ontvang het. Hulle sal daarom dieselfde beloning as die profete ontvang. Hulle vervolging is die bewys dat hulle God se dienaars is.

Vers 24-26. ’n Skerp teenstelling volg nou. Die uitdrukking “ellende” dui jammerte aan vir hulle wat onder God se oordeel staan (Marshall): “It is an expression of regret and compassion, not a threat” (Morris). As die skare steeds aanwesig was, is hierdie ellende-uitsprake vir diegene bedoel wat standpunt teenoor Jesus ingeneem het. Vier ellende-uitsprake wat met hierdie saligsprekinge korrespondeer volg nou. Dit kom nie in die Saligsprekinge van Matteus voor nie.

Rykes was waarskynlik die grootste teëstanders van Jesus. Hoewel sommige rykes Jesus gevolg het (Nikodemus en Josef van Arimatea), gaan dit oor rykes wat op die hier-en-nou gekonsentreer het. Hulle het reeds hulle volle betaling ontvang: “There will be no divine consolation for such people, for they already received their consolation in the form of what money can give to them.” (Marshall). Die Lukasevangelie verwys op verskillende plekke daarna. Meer hieroor onder “konteks”. Hierdie mense gaan duidelik nie deel aan die koninkryk van God hê nie.

Diegene wat nou die goeie dinge van die lewe geniet, gaan nie die geestelike voedsel van die nuwe Jerusalem beleef nie: “They are not only rich but have all they want and feel they lack nothing” (Morris).

Diegene wat nou vol vreugde is omdat hulle omstandighede goed is, sal hierdie vreugde verloor wanneer die koninkryk van die hemel aanbreek. Die woord kan ook sinspeel op ’n soort lag wat neersien op of jou verlekker oor die lot van vyande (Marshall). Hulle wat nou ’n goeie reputasie het, waarskynlik weens hulle teëstand en magsposisies, moet weet dat hulle op dieselfde vlak as die vals profete is. Mense wat gewild in die gemeenskap is, is nie noodwendig in lyn met die vereistes van mense van die koninkryk van God nie: “False prophets gained general approval (e g, Isa 30:9-11; Mic 2:11; Jer 5:31) because they represented nothing that would unsettle the status quo” (Nolland).

Konteks

1. Die optrede van Jesus deur sy prediking is deel van die fokus op Sondae na Epifanie. Hier val die klem op die prediking. Nolland wys daarop dat die volgende groot gedeelte (6:17-49) in die evangelie hier begin. Dit staan as die sogenaamde “Vlakterede” bekend. Hy som dit op. Dit “addresses itself to the status and demands of being disciples, i e of being the poor who receive the good news Jesus has to declare . . . The focus of interest is on the teaching as such and not at all (contrast 5:1–6:16) on how those present respond. The introductory setting (v 17-19) does no more than correctly identify the target group for such teaching.”

2. Die ooreenkoms en verskille tussen Lukas 6:20-26 en die Bergrede (wat die Saligsprekinge bevat), word deur die meeste kommentare in detail bespreek. Ons gaan dit daarom nie volledig bespreek nie. Dis genoeg om op te merk dat daar ’n paar teorieë bestaan.

Eerstens kon dit dieselfde gebeurtenis wees wat deur Lukas en Matteus op verskillende maniere verhaal word. Tweedens kon dit verhale wees van twee soortgelyke, maar verskillende verhale wat elkeen hulle eie plek, omstandighede en tyd gehad het. Derdens kon dit twee verskillende “preke” wees wat op dieselfde dag gelewer is – die een aan die dissipels op die berg, die ander aan die skare aan die voet van die berg. Vierdens kon dit dieselfde gebeurtenis wees wat deur die skrywers gebruik word en waarin Matteus stof uit ander bronne gebruik en Lukas sekere dele uitlaat. Vyfdens kan dit los uitsprake wees wat in bronne bestaan het en wat die skrywers op verskillende maniere aanmekaar geweef het. Marshall is van mening dat die baie verskille nie bloot verklaar kan word in terme van die redaksie van een gebeurtenis nie. Dit moet eerder gesien word as die gemeenskaplike gebruik van verskillende variasies van die Q-bron wat beskikbaar was.

Die groot hoeveelheid teorieë maak dit byna onmoontlik om tot enige finale gevolgtrekking te kom. Dit word wel aanvaar dat elke prediker stof organiseer om sy of haar punt te maak (Plummer). Dit maak nie regtig saak of dit een of twee gebeurtenisse is nie. Die aksent van elke evangelis is wat belangrik is.

3. Dit is ’n algemeen aanvaarde mening dat Lukas se gemeenskap deur ’n groot gaping tussen ryk en arm gekenmerk is. Scheffler skryf ook: “Sonder om te aanvaar dat armoede ’n probleem was in Lukas se gemeenskap, is Lukas se uitgebreide klem op armoede (oa 1:53; 4:18; 6:20-21; 7:22) en liefdadigheid teenoor armes (14:13, 21; 16:19-30; 18:22; 21:3) nouliks te verklaar. Daar was binne die Lukaanse gemeenskap rykes én armes en Lukas wou die rykes oproep om te deel met die armes (3:11).”

Dit is duidelik dat die gemeenskap ook aan vervolging blootgestel is (6:22; 12:11-12). Handelinge vertel heelwat verhale hoe hierdie vervolging prakties gelyk het. Dit kon die vorm van informele ekonomiese boikot of marginalisering aangeneem het.

Die vervolging het nie noodwendig tot die dood gelei nie, maar dit was moeilik en nie iets wat oornag verdwyn het nie. Saltzman skryf: “First century Palestine was victimized by acute economic and political unrest. The land was held mostly by absentee landlords and the farmers were little more than serfs. The whole of the homeland was held in the grip of an occupying army. Adding to the strife, the Jewish faith was splintered into competing sects, some of which sought accommodation with the occupiers while others waged terrorism and called for revolution. There is little reason to believe that those who first heard this message from Jesus were not themselves victims of the oppressive of romance and absentee landlords and the stifling taxation.”

Die gaping tussen ryk en arm was op ’n teologiese vlak onder andere die gevolg van ’n nabye wederkoms- verwagting wat verflou het. Hulle het stadig maar seker begin wonder of Jesus regtig nog sal kom. Juis omdat Jesus nog nie gekom het nie, was hierdie tweede of derde geslag Christene teleurgesteld met die heersende gedagte in die vroeë kerk, naamlik dat Jesus in hulle leeftyd sal kom. En wat gebeur as dit wat jy verwag het, nie plaasvind nie? Die hier-en-nou-bestaan word al hoe belangriker. Stadig maar seker het hulle al ryker geword en is die armes uitgebuit. Uiteindelik sou alles maar oor hier-en-nou gaan.

Telkens sien ons in die Lukasevangelie hoe rykdom en besittings in die weg gestaan het van mense se navolging van Jesus Christus (18:18-25; 14:25-33; 14:18-19). In Lukas 18:18-25 voldoen die ryk jongman aan al die vereistes wat die wet bepaal. Wanneer die Here vir hom sê: “gaan verkoop jou goed en kom hier en volg my, gaan hy hartseer weg.” Wanneer Jesus in Lukas 14:33 oor dissipelskap praat, sê Hy niemand van ons kan sy dissipel wees as ons nie bereid is om van al ons besittings afstand te doen nie. Ons kan die Here nie volg as ons besittings voor Hom kom nie. Ook Lukas 14:18-19 maak dit duidelik dat mense se besittings, die grond wat hulle gekoop het, die osse wat hulle gekoop het, vir hulle die fees van die Messias laat misloop.

4. Die konteks van armoede, marginalisering en onreg eggo in die getuienis van die Belydenis van Belhar teen hierdie dinge: “Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat dit vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek.”

Wat in die Belydenis staan, word deur Nolland ondersteun: “Nothing in the OT background goes as far as this beatitude in identifying the poor as the recipients of the kingdom of God. The weak and the afflicted are certainly seen to be objects of God’s special care (Deut 10:17-18; Ps 10:17-18; 68:5-6; 76:9; 146:7-10), and the hope for a future intervention of God has as a component part the meeting of needs of the disadvantaged and the destitute (Ps 132:15; Ezek 34:15–16, 28; Isa 35:5-6; 61:1-2).” Tog, skryf Nolland, word armoede nie verheerlik nie: “To be poor, hungry, and weeping is not at all the situation that Luke envisages in the ideal state of Christian existence (Acts 2:43-47; 4:34).”

Preekvoorstel

1. In sy boek, Skep moed en leef! skryf Ferdinand Deist van die Nobelpryswenner vir Fisika, Werner Heisenberg, se stryd toe Hitler die Duitse regering in 1933 oorgeneem het. Moes hy padgee of bly? Die deure was oop om ’n pos in die buiteland te kry, byvoorbeeld in die kerninstituut van Niels Bohr in Noorweë. Hy besluit toe om in Berlyn met sy vertroueling en beroemde fisikus Max Planck te gaan gesels. Planck het toegegee dat hy maklik ’n pos iewers anders kon kry: “Jy kan daar bly tot na die katastrofe en dan weer terugkeer met die skoon gewete dat jy geen kompromie aangegaan het met die Nazi-bewind nie. Maar tot daardie tyd toe dat jy kan terugkeer, sal daar baie jare verloop het. Jy sal anders geword het, die mense in Duitsland sal anders geword het, en dit sal ’n vraag wees of jy ná soveel veranderinge nog enigsins sinvol by dié gemeenskap sal kan inskakel – veral as jy nie deurgemaak het wat hulle deurgemaak het nie. Sou jy hier bly, sal jou taak heeltemal anders daar uitsien. Jy sal die katastrofe nie kan keer nie en jy sal, om hoegenaamd net te oorleef, dikwels kompromieë moet tref. Maar jy kan probeer om saam met ander mense eilandjies van behoud te vorm. Jy kan jong mense om jou versamel en aan hulle wys hoe ’n mens ordentlike wetenskap bedryf en op dié manier die beproefde menslike waardes vir hulle bly bewaar.” Planck het benadruk dat ’n mens moeilik in sulke omstandighede die regte besluit kan neem. Toe sê hy hierdie woorde: “Maar wat jy ook al besluit, dink aan die tyd wat ná die katastrofe kom.”

2. Hoewel ons ons nie kan voorstel wat mense tydens die Nazi-skrikbewind deurgegaan het, hoeveel kompromieë goeie Christenmense dalk moes maak om te oorleef nie, gee dit ons tog ’n beeld van wat baie Christene vandag in die wêreld beleef. Daar is wêrelddele waar dit byna ondraaglik is om ’n Christen te wees. In die preek kan verwys word na die verskillende vorme van lyding wat die eerste lesers van Lukas beleef het. Armoede, honger en hartseer was deel van hulle lewe omdat hulle gehaat, verstoot, uitgeskel en vermy is (6:20-22). Dit was geen teoretiese lyding nie. Dit was deel van die daaglikse lewe.

In die prediking moet duidelik onderskei word tussen algemene lyding en die lyding wat hierdie mense ter wille van Christus beleef het. Uiteraard was armoede en honger op sigself lyding, maar dit was die gevolg van die marginalisering wat plaasgevind het “ter wille van die Seun van die mens” (6:22). Hulle lyding plaas hulle in dieselfde linie van die profete wat vervolg is (6:23). Marshall skryf: “Deur te noem dat hulle ter wille van die Seun van die mens vervolg word, toon duidelik aan dat dit nie net oor diegene gaan wat letterlik arm en behoeftig is nie, ook nie oor al die armes nie, maar oor diegene wat dissipels van Jesus is en dus ’n bejammerenswaardige posisie in die oë van die wêreld gehad het.”

3. Wat maak dit vir hulle draaglik? Hoe kon hulle moed skep en leef? Jesus benadruk dat hulle verder as hierdie katastrofe moet kyk. Hy wil hulle brilglase wat deur die lyding toegeasem het, skoonvee. Hy doen dit op twee maniere: Enersyds maak Jesus hulle oë oop vir die geestelike seën wat hulle sal ontvang. Sien die eksegetiese opmerkings hieroor. Christene leef met hoop. Ons sien uit na die dag dat God sal ingryp. Dit vervul ons met blydskap. Andersyds wys Jesus op die sekerheid dat God in beheer is. Die rolle sal omgekeer word.

Walter Brueggemann skryf dat ware profete twee dinge gedoen het. Eerstens het hulle aan die lydendes gesê dat hierdie werklikheid nie die laaste een is nie. God is in beheer. Hy gee om vir hulle wat seerkry en swaarkry. Die dag sal kom dat die rolle omgekeer sal word. God sal oordeel en dan sal die reg herstel word. Tweedens het hulle aan die magtiges gesê dat hierdie werklikheid nie die laaste een is nie. God is in beheer. Hy gee om vir hulle wat seerkry en swaarkry. Die dag sal kom dat die rolle omgekeer sal word. God sal oordeel en die reg sal herstel word. Dit klink na dieselfde boodskap, maar afhangend van wie die ontvanger is, is dit radikaal anders.

4. Wat moet ons intussen doen? In ’n preek oor hierdie gedeelte, skryf Russell Saltzman dat een woord tydens sy universiteitsdae in die VSA uitgestaan het. Dit was teen die agtergrond van die dood van Martin Luther King, Kennedy en die Viëtnam-oorlog. Hierdie woord was ”rewolusie”. Wag tot die rewolusie kom! As dinge onregverdig gelyk het: “Wag tot die rewolusie kom!” Nou, na dekades, is hulle almal in posisies as goeie Demokrate, Republikeine en Onafhanklikes. Niemand praat meer van ’n rewolusie nie. Die probleem, skryf hy, was dat hulle na die verkeerde soort rewolusie gesoek het. Hulle het nie die ware tekens van die rewolusie opgemerk nie.

Wanneer ons terugkyk na die gemeenskap aan wie Lukas geskryf het, besef ons dat die vroeë Christelike kerk deur hulle lyding ’n kragtige rewolusie bewerk het. Dis waarvan Petrus telkemale in sy eerste brief praat. Dit was die weg van die minste weerstand. Dit was die weg van getrou bly aan die evangelie van Jesus Christus. Dit was die weg van lyding ter wille van Christus. Dit was die weg van mense wat aan die tyd ná die katastrofe gedink het. Hulle het, soos Deist skryf, hulle visier op anderkant die onvermydelike katastrofe ingestel. Hulle was mense met ’n visie op die onsienlike God. Hulle blydskap het bestaan in die sekerheid dat God alles in sy hande vashou. Intussen moes hulle gewoon getrou bly aan hulle roeping.

In die Belhar Belydenis word om “mense in enige vorm van lyding en nood” by te staan, onder andere ook “dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom; dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die verontregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.”

Gaan dit maklik wees? Nee, dit mag dalk armoede, honger, hartseer, haat, verstoting, uitskel en vermyding tot gevolg hê.

5. Terug by Heisenberg. Hy het besluit om in Duitsland te bly. Deist skryf: “Teen die tyd dat hy dié besluit geneem het, was die Tweede Wêreldoorlog se begin nog ses jaar in die toekoms en die tyd van heropbou sou eers dertien jaar later aanbreek. Maar daardie veraf doelwit, daardie taak wat hy homself opgelê het, het sy handelinge gedurende die Nazi-tyd gerig. Hy sou later die opdrag kry om saam met ’n aantal wetenskaplikes in Berlyn te gaan werk aan die ontwerp van ’n atoombom. Hulle het wel geweet hoe dit vervaardig sou kon word, maar hulle het die regering oorreed dat dit onmoontlik was om so ’n bom in Duitsland te vervaardig en so toestemming gekry om navorsing te doen oor die vreedsame aanwending van kernenergie. Die ironie was dat diegene wat uit Duitsland na Amerika gevlug het, dié bom gaan maak het en dat Duitsland, as gevolg van die navorsing waar daar tydens die oorlog in die brandende Berlyn gedoen is, die eerste land was wat geweet het hoe om ’n kernkragsentrale te bou. Die klein groepies kernwetenskaplikes wat in “oorlewingselle” om Heisenberg vergader het, kon ’n reusebydrae lewer om Duitsland ná 1945 weer uit die as te laat opstaan . . .” As dit die gevolg van ’n wetenskaplike se visie kon wees, watter geweldige effek kan ons as Christene nie hê as ons verder as die horisonne ons Heer in beheer sien nie!

Hierdie verhaal gaan nie ten diepste oor of mense moet emigreer of bly nie. Immers, waarheen sal ons wat onsself Christene noem emigreer? Die wêreld is nie ons woning nie. Waar ons ook al in die wêreld leef en woon, ons waardes sal altyd bevraagteken word. Ons lewenstyl sal anders wees. Lyding sal daar wees – groot of klein. Dit gaan eerder oor ons volharding te midde van ons omstandighede as volgelinge van Christus. Sien ons verder as hierdie katastrofe en is ons gereed om deur dit te leef en Christen te bly?

Bibliografie

Deist, Ferdinand 1987. Skep moed en leef! JL van Schaik; Geldenhuys, Norval 1968. Commentary on the Gospel of Luke: (NICNT). Eerdmans; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke (NIGTC), Exeter: Paternoster Press; Morris, Leon 1974. The Gospel According to St. Luke: An Introduction and Commentary. Leicester: Inter-Varsity Press; Nolland, J. Luke (Word Biblical Commentary Vol 35b); Plummer, A. St Luke (International Critical Commentary). T&T Clark; Wright, Tom 2001. Luke for everyone. Westminster: John Knox Press; Scheffler, E H 1991. Die teologie van die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in: Roberts, J H, Vorster, W S, Van der Watt, J G Vorster, J N Teologie in konteks, Halfway House: Orion, 62-92.

© Missio 2024 | All rights reserved.