Sesde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Inleiding 

Dit is die tweede van die drie Sondae wat oor die implikasies van Jesus se opstanding handel. Daarom begin die liturgie weer met die belydenis dat die Heer waarlik opgestaan het. Jeremia 17 se teks word hier ingebring om aan te sluit by die “landboubeeld” wat in 1 Korintiërs 15 opgesluit lê in Jesus as die “Eersteling”. In die liturgie word daar sterk met geloofsbelydenis gewerk omdat 1 Korintiërs 15 gesien kan word as die eerste belydenis wat op skrif gesit is (sien die preekstudie). Kindertyd kan gebruik word om vir hulle ‘n geloofsbelydenis te leer én om die gemeente te herinner dat ons liggame (en nie net ons siel nie) vir God belangrik is.

Sleutelteks

1 Korintiërs 15:12-20
12Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie ‘n opstanding van dooies is nie? 13As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. 15Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. 16Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. 18Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. 19Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. 20Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.

Ander tekste

Jeremia 17:5-10
5So sê die Here:
Daar rus ’n vloek op die mens
wat sy vertroue in mense stel,
wat sy krag soek by sterflike mense
en van My af wegdraai;
6hy is soos ’n kaal bossie
in droë wêreld
wat nooit water kry nie;
’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan,
in ’n brak wêreld
waar niemand woon nie.
7Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel,
die mens vir wie die Here
’n veilige vesting is;
8so iemand is soos ’n boom
wat by water geplant is
en sy wortels na die stroom toe uitstoot,
nie die hitte voel as dit kom nie
en altyd groen blare het;
’n droë jaar raak hom nie
en hy hou nie op om vrugte te dra
nie.
9Die hart is bedriegliker
as enigiets anders,
hy is ongeneeslik;
wie kan hom verstaan?
10Ek, die Here, deurgrond en toets
hart en verstand,
Ek laat die mens kry wat hy verdien,
wat hom toekom vir wat hy doen.

Psalm 1
Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles
wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind
uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses
hulle nie kan handhaaf
wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ’n plek hê
in die vergadering
van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges
op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses
lei tot ondergang.

Lukas 6:17-26
17Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ’n gelykte by ’n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar ’n menigte mense 18wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. 19Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.

Seën en ellende
(Matt 5:1–12)

20Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê:
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk
van God.
21Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word.
Geseënd is julle wat nou huil,
want julle sal lag.
22Geseënd is julle wanneer die mense julle haat
en julle verstoot en uitskel
en julle naam vermy soos iets
wat sleg is,
alles ter wille van
die Seun van die mens.
23Wees bly op daardie dag
en spring rond van vreugde,
want vir julle is daar
groot beloning in die hemel.
Hulle voorvaders het immers
met die profete net so gemaak.
24Maar ellende wag vir julle wat ryk is,
want julle het julle lekker lewe al weg.
25Ellende wag vir julle wat julle
nou vol eet,
want julle sal honger ly.
Ellende wag vir julle wat nou lag,
want julle sal treur en huil.
26Ellende wag vir julle
as al die mense goed van julle praat.
Hulle voorvaders het immers
met die vals profete net so gemaak.”

Ekstra stof

Gary Habermas en Michael Licona het ‘n indringende en omvattende ondersoek geloods na die werklikheid van die opstanding van die Here Jesus Christus. Dit is waarskynlik een van die beste stukke navorsing daaroor wat beskikbaar is. Dit is die boek om te lees as jy antwoorde soek op jou vrae, en antwoorde wil gee aan mense wat die opstanding bevraagteken.

Ek sluit graag daarby aan en maak aan die hand van hulle boek die volgende drie opmerkings waarin my eie geloof in die opgewekte Jesus ook na vore kom.

1. Die opstanding van Jesus word deur meervoudige, onafhanklike historiese bronne bevestig.
2. Die opstanding word deur vyande van Jesus (Paulus) sowel as skeptici van daardie tyd (Jakobus, een van Jesus se skeptiese broers) bevestig.
3. Vroeë ooggetuie verslae bevestig die opstanding van Jesus: die vroue, Maria, Kleopas en sy vrou/vriend, Petrus en die res van die dissipels, nog meer as 500 ander, Paulus, Jakobus en so meer.

Gary en Michael gebruik ‘n minimalistiese benadering – uitgebreid gemotiveerd – om die vier algemeen aanvaarde feite waarop hulle die opstanding begrond, te motiveer, sowel as ‘n vyfde feit wat deur die meerderheid aanvaar word. Hulle noem dit die “minimal facts approach”.

1. Jesus het aan die kruis gesterf – bronne: die Joodse geskiedskrywer Josephus; die vier evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes; die Romeinse geskiedskrywer en senator Tacitus; die Griekse satirikus Lucian van Samosata; die Stoïsynse filosoof Mara Bar-Serapion; die Joodse Talmoed.
2. Jesus se dissipels het geglo dat Hy uit die dood opgestaan het en aan hulle verskyn het – nege onafhanklike bronne getuig daarvan: die beskrywings van hulle opstandingsgeloof wat in die NT opgeneem is en duidelik op mondelinge tradisies berus en daarom vóór die geskrewe teks moes bestaan het: credo’s (1 Kor. 15:3-5), liedere (Ef. 5:14; 5:19; 1 Tim 3:16), opsommings (Luk. 1:1-4), en gedigte (Rom. 8:35-38; Fil. 2:5-11; 2 Tim. 2:11-13); Paulus skryf daaroor (1 Kor. 15); die vier evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes, skryf daaroor, sowel as Lukas met sy Handelinge van die apostels; daarby kom nog die onwrikbare getuienis van die dissipels wie se lewens só getransformeer is deur die opstanding dat hulle vervolging en martelaarskap verduur het vir hulle getrouheid aan die boodskap daarvan. Die opstanding kon dus per definisie nie ‘n legende gewees het wat oor tyd ontwikkel het nie. Daarvoor was die getuienis van die opstanding té vroeg en té wyd deur ooggetuies bevestig.
3. Die vervolger van die kerk, Paulus, is skielik verander. Sy getuienis is van groot belang omdat sy verandering van vyand in vriend nie op ‘n ander manier verklaar kan word as dat die opgewekte Jesus aan hom verskyn het nie. Hy maak ook baie van die liggaamlike opstanding van Jesus (Hand. 13:34-37; 1 Kor. 15; Fil. 3:21).
4. Die skeptiese Jakobus, broer van Jesus, is skielik verander. Sy verandering van skeptisisme toe Jesus nog saam met hulle gelewe het (Joh. 7) tot onwrikbare geloof in die opgestane Jesus en leiding van die kerk (Hand. 15) kan net verklaar word aan die hand van iets wat werklik gebeur het. Ditto Jesus se ander broer, Judas, wat ook ‘n brief in die NT geskryf het.
5. Die graf was leeg. Dit sou onmoontlik gewees het vir die Christendom om van die grond af te kom as ‘n beweging as Jesus se liggaam steeds in die graf was. Die graf was leeg, soos selfs die Romeine en Jode getuig het, hoewel sommige van hulle die bewering gemaak het dat Jesus se liggaam gesteel is. Die graf was egter leeg, hoe ‘n mens ook al dit sou probeer verklaar. Die vorige vier punte wys egter hoe onwrikbaar die getuienis was dat Jesus inderdaad opgestaan het. Dit is genoeg om die leë graf te verklaar as ‘n verdere getuienis van Jesus se opstanding.

Daar is ander redes wat hiermee saamgelees kan word – bv. die feit dat vroue die eerste getuies was van die opstanding. Maar dié is genoegsame getuienis van die opwekking van Jesus.

Daar is nog baie ander dinge in die boek wat van waarde is, bv. die getuienis vir die bestaan van God, en die getuienis van ‘n Intelligente Ontwerper. Hulle gebruik Willam Dembski se kriteria daarvoor: 1) kompleksiteit wat toevalligheid uitskakel, en 2) patrone in die bestaan van goed wat net met intelligensie geassosieer kan word. Demski noem dit “specified complexity” en toon aan hoe dié twee kriteria reeds gebruik word in forensiese wetenskap en die soektog na buite-aardse intelligensie (SETI bv.). Daarby verwys hulle ook na die 45 kosmiese konstantes (Ross) waarvan die spesifieke waardes lewe in die heelal moontlik gemaak het.

Lees ook die onlangse artikel van die fisici Lisa Dyson, Matthew Kleban en Leonard Susskind van Standford Universiteit en MIT, “Disturbing Implications of a Cosmological Constant”, wat stellig verklaar dat: “aside from assistance from an unknown agent outside the universe, the appearance of life in the universe requires ‘statistically miraculous events ‘ and is incomprehensibly unlikely.” Dit is benewens die feit dat die ontstaan van DNS te kompleks is om spontaan per toeval te gebeur het.

Ek dink die idees van die wiskundige Göder wat met sy Incompleteness Theorum reeds in 1931 ‘n paradigma gegee het wat die goddelike ontstaan van die heelal kan verklaar, word nou eers na waarde geskat. “Alles waarom jy ‘n sirkel kan trek, kan nie volledig verklaar word vanuit die sirkel nie. Jy werk altyd met aannames van buite die sirkel wat nie bewys kan word nie.” Hy was enige tyd net só ‘n groot gees van die vorige eeu as Einstein.

Maar, genoeg. God bestaan, en sy Seun Jesus Christus het liggaamlik opgestaan om vir ons ‘n ewige bestaan by God moontlik te maak. Christos anesti – Christus is opgewek.
Habermas G. R. & M. R. Licona. 2004. The Case for the Resurrection of Jesus. Kregel: Grand Rapids.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 407 of VONKK 201 of Flam 237

Votum: (vanaf missio.org.za)

Seëngroet

Lofsang: Lied 414

Verootmoediging: (n.a.v. Jeremia 17)

Toewyding: Lied 412

Geloofsbelydenis 

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:12-20

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 5 [bekende melodie] of Flam 204 of Lied 590 of Lied 601

Seën: Jesus Christus is die opstanding en die lewe. Hy is ons vrede.

Respons: Lied 601 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 407 “Dit is die dag, die Heer se dag!” of
VONKK 201 U Opstanding, O Here Jesus Christus of
Flam 237 Hy leef

Votum
(vanaf missio.org.za)

Voorganger: Christus het opgestaan!
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

V: Geseënd is die mens wat op die Here vertrou.
Hy sal wees soos ’n boom wat langs water geplant is.
In ’n jaar van droogte raak sy nie angstig nie en hou sy nie op om vrugte te dra nie.
Almal: Amen.

Seëngroet
[ook missio.org.za]
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader
wat op die eerste dag reeds die donkerte oorwin het,
van Jesus, die Seun, wat as Lig die donker van die dood oorwin het,
en van die Heilige Gees wat ook in ons harte en verstand die donkerte in en om ons oorwin.
Amen.

Lofsang
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing”

Verootmoediging
Jeremia 17 praat oor die bron van ons vertroue, daar waar ons ons krag probeer vind. Wanneer ‘n mens jou vertroue in mense stel, sê Jeremia, is jy soos “’n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; ’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan, in ’n brak wêreld waar niemand woon nie.” Maar wanneer ‘n mens se vertroue in die Here is, is jy “soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”

Jeremia waarsku ook dat die hart bedrieglik is en dat die Here die hart en verstand deurgrond en toets.

Kom ons neem ‘n paar oomblikke om ons lewens voor die Here te lê. Waarmee kom jy vandag voor die Here? Wat is die dinge waarmee jy worstel? Waar stel jy jou vertrou op mense? Gee al die dinge vir die Here oor.

Toewyding
Lied 412 “Jesus Christus lewe”

Geloofsbelydenis
Apostoliese Geloofsbelydenis, of die belydenis onder Familie-oomblik

Liedere

VONKK 201 “U Opstanding, O Here Jesus Christus”
Teks: In resurrectione tua – Taizé, Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2011 ©
Musiek: Taizé
Ateliers et Pressez de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik.
©  2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Paasfees

U opstanding, o Here Jesus Christus,
laat juig die hemel en aarde.
“Oorwinning oor die dood deur Jesus Christus”,
jubel die hemel en aarde.

In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.
In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.

F237. Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding)
Teks en musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.

Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo)
Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering)
Teks en musiek: Petri de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê.
En die dinge wat ek glo beteken niks.
Maar ek wil hulde bring
vir ewig gaan ek sing.
Want my Koning is nie dood nie,
Hy het opgestaan.

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe!
Hy is die Koning van die groot heelal.
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal.

2. Die wêreld is te grys.
Die reëls word te veel gebuig
want hul glo nie in die glorie van my Heer.
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
voor die Koning van die heelal en my hart.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
1 Korintiërs 15:12-20

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media se Woord en Fees by www.missio.org.za het ‘n baie oulike voorstel, wat in die liturgie ingewerk kan word:
Leer vir die kinders ‘n geloofsbelydenis wat hulle met hulle liggame kan opsê. Gebruik die skuinsgedrukte woorde om bewegings by die belydenis te sit:
Jesus het met sy voete op die aarde geloop.
Jesus het op sy knieë mense gedien.
Hulle het ‘n spies in Jesus se sy gedruk.
Hulle het Jesus se arms aan die kruis oopgemaak.
Hulle het sy kop in ‘n graf neergelê.
Maar drie dae later:
het Jesus se tone weer die grond gevoel,
het Jesus sy hande vir die dissipels gewys,
het Jesus se hele liggaam weer opgestaan
sodat ons almal se liggame eendag weer kan opstaan.
OF
Gebruik ‘n gunsteling storieboek (of fliek) – dalk een wat lekker scary is. Lees of wys eers die einde van die verhaal. Wanneer ons die einde ken, is die scary dele glad nie meer so scary nie! Dieselfde is waar vir ons lewens as Christene. Ons ken die einde van die storie. Daarom is selfs die scary dele vir ons minder scary, want ons weet hoe dit gaan eindig. Die einde is eintlik die begin!
OF
Gesels oor dinge wat eindig. Wanneer ons klaar ‘n storie gelees het, sê ons soms “Fluit fluit, my storie is uit!”.  Of aan die einde van ou flieks, waar daar altyd gestaan het: “The End”. Maar daar is nie so ‘n einde aan ons lewe nie. Ons fliek eindig met “Die Begin”, want die einde is eintlik die begin.

Terwyl ons nou so lekker abstrak is, hier is ‘n inkleurprent van ‘n infinity driehoek – wat nie ‘n einde het nie.

Preekriglyn

Ons werklikheid vandag is dat ons meestal leef asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie.

Fiksie

Daar is mense in die samelewing wat hulleself Christene noem, maar wat Jesus se opstanding uit die dood ontken. Vir die moderne mens sou dit dan aanstoot gee om in iets te glo wat nie wetenskaplik moontlik is nie. Christus se opstanding figureer dan wel soms, maar net as ‘n geestelike verskynsel waardeur Jesus dan as ‘t ware in die lewe van sy dissipels “opstaan”.

Hiervolgens kan mens sê Jesus het figuurlik in sy dissipels se harte opgestaan, of in hulle gedagtes, maar niks meer nie.

Dit is natuurlik nie waar nie, die Nuwe Testament getuig van die feitelike opstanding van Jesus uit die dood.

‘n Feit, maar nie belangrik nie

Die skynbaar invloedryke faksie van die gelowiges in Korinte wat Paulus aanspreek, glo egter wel in Jesus se opstanding. In die eerste deel van die hoofstuk vertel Paulus van die getuienisse van Jesus se opstanding, iets waarmee hulle saamstem. Iets waarmee ons vandag ook saamstem.

In vers 12 stel Paulus die ernstige probleem wat hy met dié lidmate het, naamlik dat hulle nie die opstanding van die dooies aanvaar nie. Jesus het wel opgestaan, maar dit het geen betekenis vir ons nie.

Paulus se argument verder in ons gelese gedeelte is om uit te spel dat hulle dan nie die betekenis van die opstanding van Christus goed oordink het nie. Hulle verstaan nie die implikasies van sy opstanding nie en mis daarom ‘n belangrike bousteen, eintlik die hoeksteen of sluitsteen, van die evangelie.

En ons?

As ons dit op ons vandag moet toepas, sou ‘n mens kon sê dat ons wel in Jesus se opstanding glo, maar ons leef nie uit die betekenis van sy opstanding nie. Daarom leef ons meestal asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie.

Ons het verlede week na die getuienis van Tim Keller, die evangeliese kerkleier met pankreaskanker, geluister. Tim vertel hoe die opstanding uit die dood eintlik nie vir hom belangrik was, ‘n werklikheid was, voordat hy ernstig siek geword het nie.

Ons word in dié gedeelte opgeroep om soos die Korintiërs ons belydenis van Jesus se opstanding te deurdink en te aanvaar, anders verander ons die Christelike geloof in ‘n goeie burgerlike godsdiens. Dan gebruik ons God en godsdiens om ons eie binnewêreldse belange te dien.

Liggaam onbelangrik?

Ek vermoed dat die ou Griekse onderskeiding tussen liggaam en siel ook vandag nog ‘n rol speel in ons geloofslewe. Dan is die liggaam ‘n minderwaardige aanhangsel en is dit net ons siel wat in harmonie met God leef.

Hierdie is ‘n ou dwaling wat reeds vroeg sedert die Nuwe Testament in die kerk kop uitgesteek het. Die liggaamlike en materiële is nie geestelik nie en daarom onbelangrik. Dit ontken dat God alles geskep het, en dat alles belangrik is – die liggaam ingesluit – in God se koninkryk. Dit staan as Gnostiek bekend.

As mense hierdie dwaling aanhang, word baie dinge duidelik. Daarom is die liggaamlike opstanding van die dooies dan nie so belangrik nie. Dit kan na een van twee kante toe uitval: óf die liggaamlike lewe word geminag en van die aardse lewe onttrek, óf die liggaamlike drange word aan losbandigheid oorgegee omdat dit nie regtig (vir God en vir ons geestelike lewe) saak maak nie.

Regtig ellendig

As ons nie uit die implikasies van Jesus se opstanding leef nie, is ons die ellendigste van alle mense.

Prof Johan Cilliers verwys in ‘n boekie Het kraaie kommerplooie? na die oorheersend morbiede mag van die dood, na aanleiding van Eugène Marais se gedig “Skoppensboer”. Skoppensboer speel “die hoogste troef” en hoon die “laaste lag”.

Dit beteken: As ons nie uit die opstanding leef nie, het die dood steeds die laaste sê. Die dood trek as ‘t ware ‘n streep deur al ons aardse belange; dit is soos ‘n groot uitveër wat net ‘n vuil kol agterlaat. Dan is alles wat ons troos, weg, uitgevee. Alles is dan inderdaad tevergeefs, soos die Prediker sê.

Selfs in oomblikke van blydskap hang die wolk van nietigheid oor ons, want dit is nie volhoubaar nie; daar is ‘n traan in elke lag. ‘n Mens kan voorspoed en relatiewe gemak ervaar, maar sonder ‘n fondament onder jou kan dit alles in ‘n oogwink verander.

As Jesus nie opgestaan het nie, is Hy nie die weg, die waarheid en die lewe nie:

  • Dan is daar geen heil, en niks meer as ons fisiologiese en sosiologiese drange en behoeftes nie.
  • Dan moet ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons.
  • Dan is ons die bejammerenswaardigste van alle mense, want ons lewe is op ‘n leuen gebaseer.
  • Dan is die evangelie ‘n bedrogspul, ‘n dwase wensdenkery en het die Woord, Jesus Christus, geen relevansie vir ons of vir die wêreld nie.

Dat Jesus deur God uit die dood opgewek is, en dat die opgestane Jesus vir ons ‘n pad anderkant die dood oopbreek, is die volle, ryk, inhoud van die evangelie.

Daar is armer, makker, weergawes van die evangelie in omloop.

Daar is talle persone en groepe wat wel van Bybelse inhoude en selfs van Jesus se woorde en dade gebruik maak. Maar dan word Jesus voorgehou as ‘n inspirasie en motiveerder om te kom tot “your best life now” (soos Joel Osteen graag sê). Selfs in godsdienstige kringe word godsdiens soms as ‘n ekstra versekeringspolis gebruik of om sekere ideale te verwesenlik. Dan word God ‘n dienskneg, ‘n verskaffer van middele vir die bou van ons koninkryke.

Die dood het nie laaste sê

Die Paasevangelie sê: Dit is alles so ás die dood die laaste sê sou hê – maar dit het nie! Christus is opgewek, die eersteling, en ons saam met Hom. Soos ‘n tydbom het Hy ná drie dae die graf in die lug in geblaas. Die dood is doodgemaak, sy mag is verbreek. Jesus is Here van die lewe!

Jesus se opstanding sê dat Hy inderdaad God se koninkryk kom vestig het, dat Hy werklik ons Here en Verlosser is, dat Hy ons met God versoen het, dat ons sondes vergewe is, dat ons ‘n Vader in die hemel het. Dit is dus vir ons die verskil tussen lewe en dood, tussen die ewige lewe en die ewige dood.

Dit gaan nie maar net om die lewe ná die graf nie, maar ook om ons lewe hier en nou. Die Lewe met ‘n hoofletter, die Lewe in oorvloed, is ons deel – van nou af tot in ewigheid. Dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgestaan het, werk ook nou in ons, sy dissipels, om ons nuut te maak sodat ons eendag volmaak soos Hy sal wees. Dieselfde krag werk ook in die voortgang van sy koninkryk en die vernuwing van die hele skepping.

Nie (meer) tevergeefs nie

In dieselfde toonaard as die boek Prediker se tevergeefsheid van alles, staan daar in Psalm 90:10 dat ons beste lewensjare moeite en verdriet is (1953-vertaling). Nou, ná Jesus se opstanding, sê Paulus in 1 Korintiërs 15:58: “Ons inspanning in diens van die Here is nie tevergeefs nie.” Die woord “inspanning” kan ook met “arbeid” of “moeite” vertaal word. Die opstanding maak dat ons arbeid, ons inspanning, ons moeite, die moeite werd is. Dit bly behoue, dit raak nie weg nie, dit het vir ewig waarde. Ons arbeid in hierdie bedeling is tekens van God se groot toekoms wat kom.

Gelowiges se dood herinner ons nie aan die dood nie, maar aan die opstanding. Elke sterfte verkondig Jesus Christus se oorwinning oor die sonde en die dood. Elke sterfte is ‘n boodskap wat ons oproep tot die nuwe lewe in Christus. Elke sterfte is ‘n oproep om ons te verset teen alles wat afbreek en vernietig.

Jesus se opstanding sê dat niks of niemand anders as Hy die laaste sê in ons lewe en in die geskiedenis van die wêreld het nie. As al ons moeite en inspanning en verwagtings in die lewe in stukke breek, as ons voor die laaste vyand staan, mag ons steeds hoop en blydskap hê, want ons is veilig geborge in God, op sy skoot, toegevou deur sy liefde. Hy bereik sy doel met ons deur alles heen. Die lewe is nie sinloos nie, en aan die einde sal Hy alles in almal wees.

Gewaarborg

Reeds in hierdie lewe kan gelowiges met God verby die dood sien, sien dat ons lewe met God nie beëindig word met die dood nie, maar juis die poort na voller gemeenskap met Hom is! Ons enigste troos is immers dat ons in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort. Jesus se opstanding is die waarborg van ons eie opstanding. Sy opstanding is die waarborg van die uiteindelike triomf van sy koninkryk. Jesus se opstanding is die waarborg dat ons hier, nou, vandag soos nuwe mense kan leef.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 5 Vreugde! Vreugde! [bekende melodie ODE AN DIE FREUDE Koraal-simfonie Nr 9 – Ludwig van Beethoven 1824 – selfde as “Praat ek mense eng’letale]  of
Flam 204 Koning van die Heelal of
Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal” of
Lied 601 “Dié wat die Here wil dien”

Seën
Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Hy is ons vrede.

Respons
Lied 601 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.