Sesde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Hoe antwoord ons op God se onbeskryflike liefde soos geopenbaar deur sy verlossingsdade? Vandag se Skrifgedeeltes beantwoord hierdie vraag drievoudig: Deur die Here lief te hê, deur Hom te gehoorsaam en deur Hom met jou hele wese aan te hang.

Ander tekste

Psalm 119:1-8;  Korintiërs 3:1-9; Matteus 5:21-37

Fokusteks

Deuteronomium 30:15-20
30 “Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink 2en jy terugkom na die Here jou God en hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, 3sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het. 4Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal. 5Hy sal jou terugbring na die land toe wat deur jou voorvaders besit is en jy sal dit in besit neem, en die Here sal aan jou goeddoen en jou meer laat word as jou voorvaders was. 6Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe, 7en die Here jou God sal al hierdie strawwe laat neerkom op jou vyande en op jou haters wat jou agtervolg. 8Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel. 9–10Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

11“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. 12Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 14Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Votum: (N.a.v. Ps 119:1-8)
Liturg: Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe,
Gemeente: dié wat wandel volgens die woord van die Here.

L: Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam,
G:  dié wat met hulle hele hart sy wil doen,

L:  Dit gaan goed met dié wat geen onreg pleeg nie
G:  die wat in sy weë wandel.

L: God het bevele gegee wat ten volle uitgevoer moet word.
G:  Ons bid dat ons op ‘n vaste koers kan bly en ons aan u voorskrifte kan hou!

L:  As ons al sy gebooie in ag neem, sal ons nooit raad-op wees nie.
G:  Sy bepalings is regverdig; as ek ons hulle ter harte neem, sal ons God loof met ‘n opregte hart.

Liedere

Toetrede:  Flam 305

Lofsang/Toewyding: Flam 54

F305. “Daar’s ‘n Vlam (Vlam)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toetrede)
Teks & Musiek: Stass van Veuren
©  2009 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Onbeskaamd 2)

Daar’s ‘n vlam wat brand in ons hart vandag
Dis ‘n vlam, dis ‘n vuur,
Dis ‘n honger na u heerlikheid
Daar’s ‘n vlam wat brand in ons hart vandag
Dis ‘n honger, ‘n honger na U

Refrein:
Jesus, Koning
Ons honger en ons dors na U
Jesus, Koning
Ons honger en ons dors na U

F54. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Komtemporêr – Wet / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Jean Symons
© 1998  Spirit and Truth Music (STM)
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)

Met my hele hart en siel, al my krag en verstand,
Het ek U lief o Heer. U’s die kroon van my hart
U liefde verteer my deur en deur, o Heilige Gees.
Met my hele hart en siel bemin ek U, Heer

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor keuses:  wat sou hulle eerder kies:

  • om wiskunde huiswerk te doen of TV te kyk?
  • broccoli of roomys?
  • om ‘n A op hulle rapport te kry, of ‘n F (met ‘n boodskap dat hulle die jaar moet oor doen)?

Verduidelik vir die kinders dat ons keuses het en dat ons keuses gevolge het.  God wil hê dat ons kies om hom te gehoorsaam.  Hoe is ons gehoorsaam aan God?  Deur hom en mekaar lief te hê (Matt 22).  Vertel van Priester Valentyn se voorbeeld van liefde en gehoorsaamheid (sy verhaal is aan die einde van die preekriglyn).  Nooi die kinders om elke keer wat hulle iets van Valentynsdag sien, te onthou dat ons moet kies om God te gehoorsaam.

Kyk by hier vir ‘n klomp idees van goed wat kinders kan maak vir Valentynsdag.  Jy kan dalk self stokkielekker-blommetjies maak en dit vir die kinders uitdeel.

Gebruik die template (van www.mssscrafts.com) en laat kinders boekmerke maak.  Hulle kan rooi, geel en oranje kreukelpapier op die hart plak om vlamme te simboliseer.  Jy kan of ‘n teksvers op die boekmerk druk, of ‘n verduideliking van die boodskap.  Kinders kan ook hul eie boodskappe skryf, soos bv. hoe hulle God liefhet.  Die twee dele van die boekmerk word met wol aan mekaar gewerk.  Die oorspronklike template kan jy aflaai by http://www.mssscrafts.com/memoryverses/bookmark/heartbookmark.htm

Preekriglyn

’n Vlambare hart.  ’n Brandende hart.  ’n Hart wat vir ander in beweging kan kom (Mat 9:36).  ’n Hart wat kan reageer, kan liefhê, kan antwoord.  ’n Hart wat die Here met oorgawe liefhet, en God se gawes met die medemens kan deel.  Só ’n hart is in Deuteronomium 30:15-20 ter sprake.

Ons teks moedig God se mense aan om met passie te lewe.  Passie wat ons ontvang uit die hande van ’n liefdevolle, passievolle God.  Passie wat uit God se teenwoordigheid aangesteek en brandend gehou word.  Passie wat met vurige liefde reageer op God en die naaste.

Agtergrond

Die woorde van ons teks word uitgespreek net voordat die volk Israel die beloofde land binnetrek.

Die naam van hierdie Bybelboek, Deuteronomium, beteken letterlik die “tweede wet” of “’n tweede uitgawe van die wet.”  Dit veronderstel nie dat dit ’n nuwe of ander wet is nie, maar wel ’n wet wat reeds gegee is en nou herhaal word met sekere aanvullings en verduidelikings.  Dit was nodig omdat die volk van Israel nou ’n nuwe geslag was wat in die woestyn groot geword het en nog nie gebore was nie of nog te jonk was toe die Wet aan Moses by Sinai gegee is.  Die volwassenes wat dit gehoor het, was almal dood, met die uitsondering van Kaleb en Josua.

Deuteronomium bestaan hoofsaaklik uit die lering van Moses wat hy gedurende die laaste maand van sy lewe aan die volk oorgedra het.  Moses was op die punt om die Israeliete te verlaat – sy dood was voor die deur en aan hom bekend (Num 27:12-14).  Omdat hy ’n brandende begeerte gehad het dat dit met hulle goed sal gaan, het hy die laaste tydjie wat hy nog by hulle sou wees, gebruik om die Wet en voorskrifte van die Here by hulle in te skerp.  Gehoorsaamheid aan God sou van hulle ’n geseënde samelewing maak.

Solank as wat Moses geleef het, was hy persoonlik God se mondstuk by die volk. Na sy heengaan sou sy geskrewe woorde hierdie funksie vervul. Dit sou deur voortdurende herhaling in stand gehou word. Daar was vier maniere waarop die boek Deuteronomium hierdie rol sou speel:

  • Die koning moes ’n afskrif daarvan met sy eie hand maak en dit sy lewe lank gereeld lees (17:18,19).
  • Die Wet moes op groot afgewitte klippe geskrywe word met die deurtog deur die Jordaan en daardie klippe moes op die Ebalberg opgestapel word (27:2-8).
  • Die Wet moes elke sewende jaar tydens die Loofhuttefees aan die volk voorgelees word (31:9-13).
  • Dit moes op ’n gereelde en daaglikse basis by die kinders ingeskerp word (6:4-9).

Op hierdie manier sou die volk voortdurend met die Woord en wil van God bedien word.  Dit was belangrik, want hulle heil, vrede en voorspoed was verbind aan gehoorsaamheid aan God se wil..

’n Voorwaardelike gebod

Passievolle gehoorsaamheid aan God is krities belangrik.  Dit maak die verskil tussen lewe en voorspoed, en dood en teenspoed (vers 15):

  • Vers 16: As jy die Here liefhet en sy wil doen … sal jy lewe en baie word;
  • Vers 17-18: As jy van die Here wegdraai … sal julle almal omkom.

Vandaar die oproep: kies die lewe (vers 19)!  “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders … beloof het” (vers 20).

Nuwe Testamentiese gelowiges mag ongemaklik voel met hierdie voorwaardelike karakter van die teks.  Ons mag gekondisioneer wees om die gratis geskenk van die versoening in Christus só te beklemtoon, dat ons onseker is wat om te maak met die voorwaardelike karakter van die beloftes van seën.  Mens kan bang wees jy verval in wettisisme en werkgeregtigheid.

Moderne mense het ’n opvatting van God wat dit vir ons moeilik maak om hierdie teks te hoor.  In die wêreld van korttermynversekering is daar dekades gelede besluit om op te hou om die skuldige te probeer bepaal, sê wanneer daar ’n motorongeluk plaasvind.  Die skade word op ’n “no fault”-basis betaal.  Daar word nie ten duurste oor en weer toegetrek oor skuld nie, skade word bloot afgeskryf.  No fault.

Hierdie opvatting word ook op God van toepassing gemaak.  God word ’n “no fault God.”  God vra nie na skuld nie.  God vergewe net.  God aanvaar net.  God is magtig, maar sy mag is dié van ’n tandelose leeu.

Die fout met hierdie Godsbeskouing is dat dit God se liefde sonder God se geregtigheid probeer bedink.  Die liefde waarmee God die volk Israel uit Egipte opgetel en versorg het, word bedink sonder die heilige geregtigheid van God wat vereis dat sy mense sy liefde en geregtigheid op ’n gehoorsame manier moet beliggaam.  God se liefde word ontvang sonder om ons verbondsverantwoordelikhede te beklemtoon.  Dit is ’n reaksie op vroeëre wettisisme onder Christene en die prentjie van ’n veroordelende, beoordelende God.  Nou swaai die pendulum na die ander kant toe – te ver.  Deuteronomium help ons balans vind.

Jesus versterk die betekenis van ons teks

Die Nuwe Testament herpubliseer en herbevestig die boodskap van ons teks.  Ons lees hoedat ’n wetgeleerde vir Jesus vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” (Lukas 10:25).  Die vraag is hier meer intens as in Deuteronomium, waar bloot die lewe duskant die dood ter sprake is.  Hier gaan dit oor die ewige lewe.

Jesus reageer deur te vra wat die wet van Moses sê.  Die wetgeleerde antwoord met ’n aanhaling uit Deuteronomium: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself” (Lukas 10:27, Deut 6:5).

Jesus bevestig Deuteronomium: “Doen dit en jy sal die lewe verkry” (Lukas 10:28).

Dan vertel Jesus die verhaal van ’n man wat God se gebooie nagekom het omdat hy ’n brandende hart vir sy medemens in nood gehad het.  ’n Priester en Leviet haas hulle verby ’n swaar-gewonde, beroofde man.  Dalk was hulle haastig om ’n afspraak in Jerusalem na te kom, moontlik moes hulle die offerdiens op ’n gegewe tydstip gaan lei.  Onwaarskynlik genoeg, is dit die Samaritaan wie se hart liefdevol in passie ontvlam, en wat uitreik na sy medemens in nood.  Hierdie man verstaan die geheim van die lewe, soos deur God se oë beoordeel.

Jesus moedig ons aan om sulke liefdevolle naastes vir mense in nood te wees.

Die diepe erns van die gebod

Die voorwaardelike karakter van die gebod in Deuteronomium 30:15-20 is nie iets wat Nuwe Testamentiese gelowiges ligtelik mag opneem nie.  Dit staan nie teenoor die gratis genade van God nie, iets wat die Ou Testament reeds ken.  Dit dui op die erns waarmee God die kwaliteit van sy kinders se lewe van gehoorsaamheid benader.

Die liefde staan in ons teks voorop as die noodsaaklike en enigste bron van gehoorsaamheid, en sonder gehoorsaamheid is die liefde vrugteloos en dood. God was uit liefde gehoorsaam aan die noodroep van sy slawe-volk in Egipte en het tot hulle redding gekom. Omdat Hy Homself volkome aan hulle oorgegee het, eis Hy volkome oorgawe aan Hom. Hiervoor gebruik Moses in vers 20 ’n sterk woord (dâbaq) wat deur die KJV met “cleave” en die NAV met “aanhang” vertaal is. Dit sou egter ook vertaal kon word met “vasklem” of “verkleef wees”. Dit dui dus op ’n baie innige liefdesverhouding tussen God, wat nooit sy verbond verbreek of sy beloftes vergeet nie, en die verloste volk wie se behae daarin is om volgens sy wil te wandel.

Mens kan selfs sê dat Moses, wanneer hy oor die nakoming van die wet praat, eintlik oor die navolging van Jesus praat.  Jesus verpersoonlik die wet, Jesus beliggaam die wet.  Jesus sê Hy is die weg en die waarheid en die lewe – dinge wat in ons teks aan die wet toegeken word.  Praat Moses eintlik oor die navolging van Jesus?  Jesus sê klaarblyklik self so: “As julle in Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe” (Joh 5:46).

Wat die Nuwe Testament vir ons wil leer, is dat wanneer ‘n mens God waarlik liefhet, jy ook jou naaste sal liefhê en goeie werke sal doen.

Toepassing

Hoe leef mens hierdie gehoorsaam aan God prakties uit?

Een:  Sonder om in wettisisme te verval, het ons ’n herwaardering van die wet van God, en gehoorsaamheid aan God, in ons land nodig.  Indien die populêre kultuur is dat elkeen doen wat hy of sy wil, het ons nodig om God weer te leer gehoorsaam.  Dit is die maatstaf waaraan ons beoordeel word.

Twee:  Die sleutel vir die toewyding van ’n brandende hart is ’n fokus op God en wie God is.  Nie in die eerste plek op God se gebooie nie.  Beheptheid met gebooie lei tot wettisisme.  ’n Fokus op God lei tot liefdevolle, dankbare gehoorsaamheid.  Vir Nuwe Testamentiese gelowiges is die fokus op God onlosmaaklike verbind op ’n fokus op Jesus, die lewende Woord van God.  Wie Jesus is, en wat Jesus gedoen het, ontsluit die Skrif vir ons en ontsluit passievolle gehoorsaamheid aan God.

Drie:  Deuteronomium ken ’n sosiale en publieke karakter toe aan die gehoorsaamheid wat God vra.  Gehoorsaamheid is nie bloot ’n geestelike belewenis in die binnekamer, of ’n klein, indiwiduele daad van toewyding nie.  Gehoorsaamheid is die manier waarop ’n samelewing lewe.  Dit is die manier waarop Christene indiwidueel en gesamentlik in die samelewing lewe.  Neem ons paaie as voorbeeld.  Mense jaag soos hulle wil, voertuie word nie behoorlik onderhou nie, en dit lei tot die dood van baie.  Mense gaan nie op pad met ’n brandende liefde vir reisgenote wat verby hulle flits nie.  Hierdie onverskillige ongehoorsaamheid aan God se gebooie laat mense sterf, of vermink hulle.  Ons moet saam soek na kreatiewe, publieke gestaltes van gehoorsaamheid.  En na maniere om publieke rolspelers te beïnvloed.

Daarom moes die koning ook die wetboek ken, en doen.

Dit is juis die teks se aksent op ’n geseënde publieke lewe wat ons laat begryp dat die toewyding aan God ook liefde vir die naaste insluit.  Wanneer ek God liefhet, kies ek die lewe nie net vir myself nie, maar ook vir almal met wie my pad kruis.  En tree ek dienooreenkomstig op.

Vier:  Elkeen van ons moet die aksies neem wat nodig is om te groei in ons liefde en toewyding aan God.  Dit geskied nie in ’n kits nie.  Dis ’n lewenslange pad van groei en toewyding.  Een van die kragtigste maniere waarop dit gebeur, is om die Woord van die Here ’n sentrale rol in ons lewens te gee.  Kyk weer na al die publieke rituele rondom die inskerping van die wetboek in die volk se lewe hierbo.  ’n Kragtige getuienis van ons toewyding aan God se Woord, is die bywoning van die publieke eredienste op Sondae waar die Woord in die openbaar voorgelees word.

Vyf:  Ons groei in liefde vir die Here hou verband met verskillende style van geestelike groei.  Sommige mense groei wanneer hul gedagtes en breine gestimuleer word.  Ander groei wanneer hulle dien.  Moeder Teresa het gesê sy voel nooit meer geestelik lewend as wanneer sy ’n sterwende vashou nie.  Nog ander groei in hul liefdevolle samesyn met ander gelowiges.  Vir sommige is ’n nadenke, bepeinsende omgang met God die pad van groei.  Ons kan mekaar se verskillende style gerus erken in ons gemeentelike lewe.  En ons kan dit aanvul.  Mense met ’n intellektuele groeipad na God, kan gerus begin dien.  Mense met ’n nadenke styl, moet die aktiewe gemeenskap met ander opsoek.  Mense het ’n dienende hand-styl moet ook stille nadenke opsoek.  Maar werk aan ons geestelike groei, dit moet ons almal doen.

Tot in die dood gehoorsaam

Dit is vandag Valentynsdag.  Hierdie dag ontleen sy naam aan ’n priester wat in 270 n.C. in Rome geleef het.  Op hierdie stadium het die Christelike kerk nog nie erkenning van die Romeinse staat geniet nie.  Priester Valentyn het in onguns by die keiser geraak omdat hy keiser Claudius II se verbod op huwelike vir soldate in die geheim oortree het.  Volgens oorlewering het die keiser sy soldate verbied om te trou, omdat hy gemeen het dit maak hulle beter soldate.

In hierdie tyd het die goue era van die Romeinse Ryk al tot ’n einde gekom.  Die Ryk was onder druk van alle kante.  Van buite was daar invallers, met die Ryk wat te groot geword het om behoorlik te verdedig.  Van binne was daar verval en groot uitdagings om die Ryk behoorlik te bestuur.  Claudius II was oortuig dat soldate beter sou veg as hulle lojaliteit en vreesloosheid nie gekompromitteer was deur huweliks- en gesinsbande nie.  Vandaar die verbod op die huwelik.  Romeine het ’n baie lae dunk van  die huwelik gehad, sodat die keiser se verbod nie vreemd aandoen nie.

Valentyn het die verbod oortree deur jong verliefdes in die geheim in die huwelik te bevestig.  Hy is uitgevang en gearresteer.  Die keiser het hom persoonlik ontmoet, en hom probeer oortuig om hom tot die Romeinse gode te bekeer.  Valentyn wou nie.  Die finale spyker in Valentyn se doodskis was sy poging om die keiser te bekeer.  Volgens oorlewering is hy op 14 Februarie 270 n.C. tereggestel.

Ten einde Valentyn te onthou en te eer het pous Gelasius ’n heidense feesdag, Lupercalia, in 496 n.C. na ’n Christelike feesdag verander, en daarvan St. Valentynsdag gemaak.  Sedert die veertiende eeu is Valentynsdag veral gebruik om romantiese liefde te gedenk.  Met die tweede Vatikaanse Konsilie, in die 1960’s, waar baie hervormings in die Rooms Katolieke Kerk aangebring is, is Valentynsdag van die amptelike Katolieke kerkkalender verwyder.

Daar is ook ander tradisies rondom twee ander Valentyns wat in die eerste eeue geleef het.

Agter al die moderne, gekommersialiseerde voorstellings van Valentyn en romantiese liefde, kan ons vandag gerus die oorspronklike brandende hart van Valentyn onthou.  ’n Hart aan die brand vir God wat selfs bereid was om vir God te sterf.  ’n Brandende hart vir God se instellings, soos die huwelik, en vir die bande van trou tussen mense.

Brandende harte vir die Here kies die lewe.

God stuur ons om te leef

Flam 7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005  Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:
Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

F191. “Nuwe Generasie”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Die kerk / Diens; Getuienis)
Teks en Musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Daar is ‘n nuwe generasie wat opstaan in ons land
Hulle kreed is “Jesus”
Hulle harte is aan die brand
Hulle voete is bereid om te loop waar Jesus loop
Hulle harte is bereid om te glo in God se Woord

Refrein:
Daar’s ‘n nuwe generasie in ons land
Hulle glo in Jesus
Hulle glo in Sy Naam
Daar’s ‘n nuwe generasie in ons land
Hier kom ons!
Hier kom ons!

‘n nuwe generasie

2. Ons is die nuwe generasie wat opstaan in ons land
Ons kreed is “Jesus”
Ons harte is aan die brand
Ons voete is bereid om te loop waar Jesus loop
Ons harte is bereid om te glo in God se Woord

Refrein:

Brug:
Mense wat roep na Jesus
Mense wat soek na Hom
Mense wat roep na Jesus
Mense wat soek na Hom

Refrein:

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond “
(Psalm 19:15)

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)