Sesde Sondag in Pase

Woord en Fees
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Handelinge 17:22-31
Ander tekste: Psalm 66:8-20; Johannes 14:15-21; 1 Petrus 3:13-22

Inleiding

Die sleutelteks word omsluit deur die band van liefde vir Jesus en gehoorsaamheid aan Jesus. Tussenin troos Jesus die dissipels deur sy eenheid met die Vader en die Voorspraak wat hulle sal lei. In die Handelingeteks praat Paulus in Atene op die Areopagus met nie-Jode oor die Here se opsoekende genade en verlossingsplan in Jesus Christus. Psalm 66 is ’n lofpsalm ten spyte van swaar en seer omdat die Here getrou bly. Die teks in 1 Petrus 3 spel ’n Christelike lewenswandel uit wat gegrond is op Jesus se oorwinning in die Paasgebeure.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
V: Prys ons God, volke,
G: laat die klank van sy loflied opklink.

V: Ek sal u huis binnegaan met brandoffers;
G: ek sal U die geloftes betaal.

V: Kom luister, almal wat vir God gesag het,
G: ek wil vertel wat Hy aan my gedoen het.

V: Met my mond het ek Hom aangeroep;
G: lofprysing is gereed op my tong.

Almal: God moet geprys word,
Hy wat my gebed nie afgewys het nie,
sy troue liefde van my nie weerhou het nie.

– uit Psalm 66:8-20

Volg sonder verdere aankondiging met die loflied Psalm 66:1 en 4.

Doop en doopherinnering
In 1 Petrus 3:19-21 bring Petrus die water in die verhaal van Noag se ark in verband met die doop en ’n nuwe begin wat gegrond is in Jesus se opstanding uit die dood.

Diens van die Woord

Litanie voor die Skriflesing
V: God het die wêreld gemaak
en alles wat daarin is.
G: U is die Here van hemel en aarde.

V: U word nie deur menslike hande bedien
asof U iets nodig het nie.
G: Dit is U wat aan almal lewe en asem gee,
ja, alles gee.

Almal: Want deur Hom leef ons,
beweeg ons en bestaan ons.

– uit Handelinge 17:24-25, 28a

Diens van die Tafel

Voor die instelling van die tekens
Die brood en die wyn, as tekens van Jesus se liggaam en bloed, bevestig juis sigbaar en proebaar dat Hy nou onder ons teenwoordig is.

Belofte en troos by die tafel
Laat twee lidmate afwisselend Johannes 14:15-18 lees. Hulle kan bly sit terwyl hulle dit lees.
Voorleser 1: As julle my liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.
Voorleser 2: En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees.

Voorleser 1: Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Voorleser 2: Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie, Ek kom weer na julle toe.
– uit Handelinge 14:15-18

God stuur ons uit

Die wet as praktiese riglyn vir die lewe
In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.
– uit 1 Petrus 3:15-16

Musiek en sang

Aanvangsliedere: Lied 411/NSG 112/3(A) “Kom, almal, laat jul stem verrys!”; Lied 168/NSG 160 “Heilige Jesus”; Lied 454/NSG 328(A) “Vader, ons eer U”
Lofsang: Psalm 66:1, 2 en 4 (Totius-beryming)
Diens van die Woord: Lied 478/NSG 379 “Op vaste fondamente”; Lied 493/NSG 221 “Jesus neem die sondaars aan”; Lied 521 “Erkentlik deur die dae”; Lied 528/NSG 268 “Leer my u wil, Heer”
By die tafel: Lied 303/NSG 371 (A) “Eet die brood”; Lied 301/NSG 374 (A) “Ons kom vier u maaltyd, Vader”; Lied 302/NSG 372 (A) “Ons is genooide gaste”
Uitsending: Lied 485/NSG 187 “O Heer, u laaste”

Preekstudie: Handelinge 17:22-31

Teks

Willie James Jennings se kommentaar op Handelinge is teen hierdie tyd al redelik bekend, en voorwaar uitstekend. Dit bied ’n vars, eiesoortige en uiters aantreklike lees van hierdie teks. Eerstens is hy myns insiens in die kol met sy fyn onderskeidingsvermoë wat nie – soos talle ander eksegete – val vir Athene as sodanig nie, maar eerder aanvoel hoe Paulus hier ’n spreekbuis word vir die Gees se besonderse retoriek van begeerte. Soos Jennings dit self stel: “What is extraordinary in this story is Luke’s Paul, not Athens,” en dan veral: “So this text is often overdetermined. It is asked to say more than it can and speak to matters that are not its concern. It is asked to perform creation, even the created order, and even a natural theology. At the site of a European fetish, that is, idealized Greek culture, interpreters have fantasized a natural order found in potent religious institution embodied among Athenians, the pinnacle of human thinkers where refined intellectuals are aimed in the right direction, but just not far enough” (2017: 175).

Die punt is met ander woorde nie hoe ons na Athene gaan en hoe ons in Athene (en alles waarvoor dít oënskynlik staan) praat nie, maar eerder of ons sien hoe ’ nuwe gees – dié Gees – in (hierdie) Paulus (binne daardie konteks) werksaam was. Of, nog beter gestel: die punt is nie hoe ons ’n natuurlike aanknopingspunt in ’n skynbaar hoogs gesofistikeerde kultuur en ontwikkelde intellektuele omgewing vind nie (en sodoende ’n nog hoër en meer geloofwaardige evangelie), maar wel of die ontplooiing van die Gees beide Jode in diaspora én Grieke op die markplein deurkruis en omvat.

In plaas daarvan dat Athene ons sal meevoer (mesmerize), wys Jennings in sy kommentaar op – myns insiens ’n tweede belangrike punt om nou van kennis te neem – hoe hierdie toegewyde Jood (Paulus) só meegevoer is deur die Gees dat hy eenvoudig nie anders kan nie as om belang te stel en uit te reik na onrein heidene op die markplein, omdat die Gees juis só klop, spreek en omarm. Gegewe die Paulus wat ons deur die loop van die vertelling in Handelinge leer ken het, is daar genoeg rede dat hy steeds sou kon gril en wegstap van hierdie heidense plek af. In plaas daarvan hoor ons eerder “he will do something absolutely stunning and marvellously productive with his outrage. He will not turn away from the idolaters, but toward them” (Jennings, 2017: 176). Kortom, hier is ’n duidelik kreatiewe spanning in die verhaal wanneer die Gees soveel ruimte in die liggaam van Christus vind dat beide die Griekse markplein én Joodse sinagoge saam hierin ’n nuwe gedeelde identiteit en bestaan kan vind. Jennings formuleer die saak uitstekend: “These words aim to draw these Gentiles into the body of Jesus and into one Spirit with Israel. So, Paul’s words will join the synagogue to the marketplace, encircling all the creatures that traffic these sites with the love of God” (2017: 176).

Bogenoemde punt is duidelik en belangrik, maar vir Jennings is dit allermins ’n vanselfsprekende en klinkklare gedagte. Anders gestel, die voorafgaande punt moet ons nie mislei in ’n rigting en gedagtegang dat Paulus hier ’n soort missionale/sendingtruuk uithaal en wys nie. Myns insiens is dit Jennings se derde belangrike insig uit sy kommentaar op die teks wanneer hy skryf: “These words of Paul are no missionary ploy” (2017: 176). Wat ons in hierdie preek van Paulus hoor, is nie soseer (ten diepste) missionale publieke teologie of ’n tydelike strategiese skuif met ’n bepaalde verskuilde agenda en ander dryfveer nie, maar eerder ’n uitdrukking en getuienis van “God wants the Gentiles. God desires those who desire idols” (2017: 176). Dat Paulus dit nou juis preek, maak die boodskap soveel merkwaardiger. Die Gees is duidelik hier aan die beweeg. Dit is niks anders nie as ’n uitdrukking van intense verlange en begeerte na ander (lees: dienaars van afgode).

Buiten die feit dat die kontras tussen Israel en heiden hierin omvat word, is dit belangrik om tog in te sien hoe die Gees volledig hier aan die werk is. Anders gestel, daar is geen vanselfsprekende aanknopingspunt in mensewerk wat hierdie boodskap van die Gees aan ons openbaar nie. Inteendeel. Wat ons hier sien – myns insiens Jennings se vierde belangrike insig – is eerder volledige onkunde oor God se openbaring van genade aan ons. Selfs in die uiterste, desperate, intense, laaste uitweg wat soek na die onbekende god, is daar géén (natuurlike) kennis (en teologie) van God se openbaring van genade aan ons nie. Hierdie keersy van bogenoemde derde punt eggo weer: “It is complete ignorance of the God of Israel, the creator, and the gracious reality of being creatures. Yet Paul will not turn Gentile ignorance toward God’s condemnation, but toward God’s condescension” (2017: 177).

Dit is belangrik om hier in te voeg dat Karl Barth se bespreking van hierdie teks in sy Church Dogmatics – op drie verskillende plekke, elk met eie aksent, dog telkens verbandhoudend – veral resoneer met Jennings se gedagtegang van hierbo. So byvoorbeeld wys Barth daarop dat ons weliswaar so onderskei tussen Israel en die wêreld dat dit nie meer geskei is nie. Beide het ’n besonderse staanplek voor Christus met ’n gelyke uitroep van genade asook oproep tot verantwoordelikheid. Die evangelie deurkruis en omvat beide, en sluit ons almal só daarby in (met ’n uitroep en oproep van genade): “The Messiah of Israel appeared and was rejected and crucified by Israel itself. In that way He has revealed Himself as the Lord of the whole world. This does not mean only that there is now a grace of God for all men of all nations. It also means that they are all drawn into the responsibility and accountability which formerly only Israel had experienced. It does not mean only that the covenant made between God and man has now to be proclaimed to all nations as good news which affects them too. It also means that the complaint of apostasy is now expressly and seriously levelled against them all” (Barth, 304).

Vervolgens is dit ook nie vreemd en onverwags om Barth se kenmerkende renons en uitdruklike weersin in enige soort natuurlike aanknopingspunte te hoor in ’n latere en verdere bespreking van hierdie teks in sy Godsleer nie. Aangaande hierdie kennis van God stel hy die saak soos volg: “This is what the sermon says. It is not an attempt to understand the world of the Athenian philosophers from their own viewpoint and to overcome it from within. It is the announcement of the judgment which comes from this world from without – certainly upon this world, but upon this world from without” (Bart, 122).

So ook beklemtoon Barth in sy daaropvolgende skeppingsleer dat hierdie teks inderdaad uitroep: “Hy, Jesus Christus, is daardie God!” maar telkens op só ’n wyse dat dit onomwonde blyk Hy bewerk en verteenwoordig dit immers self. “In this verse Paul made use of heathen wisdom, but he immediately gave it a Christian sense and thus in a sense baptised it … He is the ‘unknown God’ to whom in their ignorance they accorded their religious worship. He is the Creator of the cosmos. He is the Lord of human history, and His object is that they might ‘feel after and find’ Him on the far side of all man’s faith, heresy, superstition, and unbelief. He, this God! This is the missionary message of Paul (Ac 17:22f). It does not really link up with anything. It immediately sets up the new in the place of the old. But is sets this new as such immediately behind and above the man who is imprisoned in the old. It releases him directly from this imprisonment and places him directly in freedom” (Barth, 347).

Wat ons met ander woorde in hierdie gedeelte hoor, is ’n uitroep én oproep – verkondiging én beliggaming – van bekering (metanoein, v 30). Die slotsom, ons vyfde insig, is gegrond in die feit dat hierdie bekering gewortel is in die opstanding wat getuig van groter gemeenskap en lewe. Waarneming is belangrik, maar om werklik te kan sien wat in hierdie bekende of onbekende konteks plaasvind, benodig ons openbaring; dit is die volledige werk van die Gees wat getuig van Christus wat opgewek is uit die dood. Klipaltare (waarop offers aan onbekende gode gebring sou word) of selfs ons godsdienstige praatjies oor God verbrokkel voor die weg gerolde klip van die Messias se leë en oop graf. Hy is nie net die Skepper van hemel en aarde nie, maar ook dié Een in wie ons leef en bestaan en beweeg. Sy opgewekte liggaam – lewegewende en sprekende Gees – getuig eenvoudig van ’n uitroep en oproep waarin enige klip (hetsy as altaar, of in ons skoen, en/of op ons pad) oorkom word. Trouens, dat die klippe dit skynbaar selfs nou uitroep, is niks anders nie as die Gees wat ons onbeweeglike hart van klip transformeer tot lewende offers in wie se liggaam ons ’n nuwe lewe en al groter wordende gemeenskap vind. Só eindig Jennings sy kommentaar dan met die volgende woorde: “All religious speech, no matter how carefully stated, no matter how ecumenical and affirming, no matter how polite, shatters at the resurrected body of Jesus. Because to speak of the resurrection of Jesus is no longer religious speech, but speech that challenges reality, reorients how we see earth and sky, water and dirt, land and animals, and even our own bodies. This is speech that evokes a decision: either laugh at it or listen to it, either leave or draw near to this body. It is his body or your stones” (2017: 178).

Konteks

Bogenoemde teologiese lees van die teks, veral konkreet uitgedruk in Lukas en Paulus se pneumatologies gedrewe retoriek van begeerte en verlange na die ander, resoneer myns insiens met talle sleutelmotiewe in die nuutgevonde beoefening van missionale teologie. Dit is beslis die moeite werd om in die verband, en die onderliggende kontekste wat ter sake is, van John R Franke se Missional Theology: An Introduction kennis te neem.

Die vroeëre stelling dat ons nie Paulus se toetrede tot die markplein in Athene as ’n soort sendinginisiatief (en selfs truuk) moet sien nie, verdien beslis verdere omskrywing. Dit is nie dat sending of selfs publieke teologie nie ter sake is nie, maar enige kategorisering daarvan sou die saak as sodanig weerspreek. Net so is die vraag ook nie of ons hier met sending te make het of nie (asof ons daarvan kan afstand doen), maar of ons sending (lees: missionale getuienis) inderdaad daardie retoriek van begeerte en verlange het waarop bogenoemde bespreking gewys het. Die punt hier ter sake stel Franke reeds in sy voorwoord: “Missional theology explores how things might look if mission were moved from the periphery to the centre of biblical interpretation, theological construction, congregational life, spiritual formation, and ministerial praxis” (2020: xi).

Een van die alombekende skuiwe in hierdie tipe teologie is natuurlik om by die Godsleer te begin en van ’n missionale God te praat. Sending as sodanig is gewortel en spruit vanuit die wese en werke van God. Soos Franke dit dan ook stel: “Missio Dei theology asserts that God has a particular desire, arising from God’s eternal character, to engage with the world” (2020: 4). Wat vervolgens hier plaasvind en gebeur, het nog sy begin en einde by Paulus, of by ons. “[T]he vital point [is] that the basis of mission is neither the church nor any human agent, but the triune God. The church is privileged to participate in this mission, but its basis is found in God” (2020: 7). Dit sluit ons natuurlik nie uit nie (maar in!) en wys veral ook op die ewigheidswaarde en dryf van so ’n retoriek van verlange en begeerte wat in die hart van God klop. Franke stel hierdie kritiese insig – wat dui op die tydige, dringende en ewige verlange na ander – soos volg: “When we conceive of mission in terms of salvation, the church, culture, or social concern, it naturally seems it will have an end when God’s creative purposes are fully realized in the eschatological future. However, if mission is an attribute of God, an essential element of the divine character then it will never come to a conclusion and must continue throughout eternity” (2020: 8).

So is die volkome en ewige verlange in God gesetel en wys dit veral op hoe onvolkome ons eie pogings is om die groot verlange te stil. In die soeke na geloofsgemeenskap is dit God wat ons vind en stuur. God se verlange na mense, waarin ons nou deel, is voorwaar meevoerend. Al is dit ook slegs in ’n afgeleide sin en daarom sekondêr, het dit ons voorwaar gaande. Ons is immers die gevolg – vrug en instrument (lees: getuies) – van God se sending. In plaas daarvan dat die kerk oor ’n sendingaksie en -plan beskik, is dit eerder ’n geval van sending wat ook nou oor ’n kerk (’n gemeente, predikers en getuies) beskik. Dit is dan ook eintlik geen wonder nie dat Paulus nie anders kan as om nader te tree en uitdrukking te gee aan die beliggaming en getuienis van so ’n verlange na ’n skynbare teenpool van die self nie. Aangesien die kerk as gemeenskap van die Gees gestig is, bly dit immer stigtend en soekend, vol begeerte en verlange, na hulle wat oënskynlik ver en vervreemd van ons bestaan en leef. Die hermeneutiek van begeerte waarop Jennings se lees hierbo gewys het, stempel uiteraard ook die selfverstaan van ’n missionale gemeenskap in hierdie wêreld. Die soeke en verlange na al groter en dieper gemeenskap met mense op die markplein gaan voorwaar teen die grein in van die immer gewilde kontraktuele kerkbegrip wat talle se lewe in soveel gemeenskappe kenmerk. Franke stel hierdie saak in ’n belangrike paragraaf soos volg: “Contractual ecclesiology followed the development of Western democracy and, under the impulse of individualism, tends to devalue the church, reducing the community of Christ’s disciples to little more than a particular lifestyle enclave, a society formed by persons united by their shared interest in certain religious practices or who believe that membership in a Christian group will contribute to their individual good. For this reason, the establishment of community in church [who exist within and for this world – ML] has become a pressing challenge and concern in contemporary ecclesiology. If the church is to truly and faithfully participate in the mission of God, the recovery of a genuine sense of community is crucial” (2020: 41-42).

Net soos Missio Dei lei tot ’n missionale ekklesiologie (waarin sending nie gekategoriseer kan word nie), stempel dit ook nou die wesensaard van alle teologie. Sending se soekende verlange na ander impliseer lewe op die rand en oor tradisionele grense heen. Tog behoort dit juis nou tot die wese van ons verstaan en beoefening van teologie. Net soos ons glo in die apostolisiteit van die kerk wat spreek en getuig van ’n evangeliese retoriek van verlange na die ander, glo ons immers ook in die keersy waarin die kerk se katolisiteit (lees: plurale en gedifferensieerde volheid) omhels en beliggaam word in egte ontmoetings op die markplein van ons onderskeie wêrelde. In die opgewekte en lewende liggaam van Christus is daar meer as genoeg verbeelde ruimte om mekaar te vind en saam te leef. Soos Franke dit tereg ook opsom teen die einde: “This book maintains that the shape of an appropriate missional theology should be characterized by four traits: it is dialogical, open and committed to the other, beyond foundations, and against totality” (2020: 174).

Preekvoorstel

Willie James Jennings beskryf in After Whiteness: An Education in Belonging ’n opgevoede en oënskynlik selfgenoegsame mens soos volg: “A vision of the self-sufficient man – one who is self-directed, never apologizing for his strength or ability or knowledge, one who recognizes his own power and uses it wisely, one bound in courage, moral vision, singularity of purpose and not given to extremes of desire or anger – is a compellingly attractive goal for education and moral formation” (2020: 31).

Regtig? Is dit waarna ons smag en wat ons begeer? Is dit wat ons geleer het? Is dit hoe teologie en evangelie ons vorm? Teen die agtergrond van Jennings se soeke na ’n leerplan en opvoeding (wat hy met bogenoemde aanhaling juis nie propageer nie), spreek ’n aanhoor en getuienis van Paulus se preek op die markplein in Athene. In plaas van enige aanknopingspunte met Athene se onvolledige kennis (lees: volledige onkunde) van God, sien ons Paulus se nuwe lens waarmee hy die wêreld in oënskou neem en opsoek. Die antwoord skuil nie onder enige van ons klipaltare nie, maar in die opgewekte en al gaande liggaam van Christus. Sien gerus weer daardie vyf punte van insig onder Jennings se lees van die teks – saam met van die ander relevante gedagtes – en watter evangeliese leerervaring die opstanding in ons opwek om die markpleine in ons onmiddellike en omringende kontekste mee te betree.

Ten slotte, teenoor die woorde van Jennings waarmee ons hierbo begin het, hou hy immers ook die volgende aan ons voor: “Theological education must be formed to glory in the crowd, think the crowd, be the crowd, and then move as a crowd into a discipleship that is a formation of erotic souls, always enabling and facilitating the gathering, the longing, the reaching and the touching. Our educational settings need to be aimed at forming erotic souls that are being cultivated in an art that joins to the bone and that announces a contrast life aimed at communion” (2020: 13).

“The deepest desire that should drive our educational designs is to cultivate people who serve, but that requires us forming them in a vision of people being formed into a people. Such a vision articulates servant leadership through the desire to be a place of communion and in so doing to follow our saviour in forming a Jesus space. This Jesus space draws people to flourishing life together and to a work of building together. The answer is not what but where – they build around his body, they build against the death, and they build toward a place of gathering that will never end” (2020: 75-76).

Bibliografie

K Barth, 1956-1975. Church Dogmatics. Geredigeer deur GW Bromiley & TF Torrance. Vertaal deur GW Bromiley en ander. Edinburgh: T & T Clark; JR Franke, 2020. Missional Theology: An Introduction. Grand Rapids: Baker Academic; WJ Jennings, 2017. “Acts” in Belief. A Theological Commentary on the Bible. Louisville: WJK; WJ Jennings, 2020. After Whiteness: An Education in Belonging. Grand Rapids: Eerdmans.

Leesrooster vir Lidmate

Fokusteks: Handelinge 17:22-31
Ander tekste: Psalm 66:8-20; 1 Petrus 3:13-22; Johannes 14:15-21

Handelinge 17:22-31
Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons.

Moment 1

Paulus gryp ’n geleentheid aan
Paulus is ’n Romeinse burger en deel van ’n Grieks-Romeinse wêreld gevul met filosofieë. Op die plek in Athene waar die filosowe bymekaarkom, gryp hy die geleentheid aan. Hy haak aan by iets tasbaars om die evangelie van Christus te verkondig. Ons gesprekke oor Jesus begin by ’n aanknopingspunt uit ons eie konteks. Bid vir wysheid om sulke geleenthede te onderskei en te gebruik.

Moment 2

Ons kan nie aan onsself dink los van God in Christus nie
Pase is die tyd in die liturgiese jaar waarin ons herinner word dat ons gewortel is in die opgestane Christus. Paulus begin met die skepping van die wêreld wat God se woonplek is. God word die bron wat asem gee en in wie ons leef. Vanuit die skeppingsteenwoordigheid beweeg Paulus na die klimaks van sy boodskap, naamlik die opstanding van Jesus. Op dié manier verbind hy sy gehoor – wat ook asem ontvang het – aan God se openbaring in Christus.

Moment 3

God is nooit ver nie
Ons het soms die idee dat God ver daarbo is. Ons praat ook maklik so oor God. In Paulus se toespraak word ons toegevou in God, want ons is ook in Hom. Ons bly vashou aan God wat groter is as die wêreld, maar ook aan God wat die wêreld tot oorlopens toe vul. God is egter nie vaag nie. Hy wat in alles is, is ook die man Jesus. Dank God vir die spesifiekheid van sy openbaring.

Moment 4

Ons word toegevou
As jy weer deur die mis ry. Of as die wind waai. Of jy bewus word van die lug om jou. Mag God se Gees jou herinner: “In Hom leef en beweeg en is jy.”