Sesde Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks, 1 Petrus 3, spel ‘n Christelike lewenswandel uit wat gegrond is op Jesus se oorwinning in die Paasgebeure. Dit help ons besef dat lyding onlosmaaklik deel is van Christen-wees. Die Johannes-teks fokus op die band van liefde vir Jesus en gehoorsaamheid aan Hom. Tussenin troos Jesus die dissipels deur sy eenheid met die Vader en die Voorspraak wat hulle sal lei. Die Handelinge-teks handel oor Paulus wat in Atene op die Areopagus met heidene praat oor die Here se opsoekende genade en verlossingsplan in Jesus Christus. Psalm 66 is ‘n lofpsalm ten spyte van swaar en seer omdat die Here getrou bly.

Ander tekste

Handelinge 17:22-31
21Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 

22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ g29Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.

30“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

33So het Paulus van hulle af weggegaan. 34’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

Psalm 66:8-20
8Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!
10U het ons beproef, o God,
ons gelouter soos silwer;
11U het ons in ’n net gevang,
’n swaar las op ons gelê;
12U het ons deur mense laat vertrap,
ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei
na oorvloed toe.
13Ek sal u huis betree met brandoffers
en aan U die geloftes betaal
14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het
toe ek in nood was.
15Ek bring vir U vet skape
as brandoffers,
ramme as wierookoffers,
ek offer beeste en bokke.
16Kom luister, alle dienaars van God,
ek wil vertel wat Hy
vir my gedoen het:
17Skaars het ek na Hom geroep,
of daar was reeds ’n loflied
op my lippe.
18As daar sonde in my hart was,
sou die Here nie geluister het nie.
19Maar God hét geluister,
Hy hét my gebed verhoor!
20Die lof kom God toe
wat my gebed nie afgewys
en sy trou nie van my
weerhou het nie.

Johannes 14:15-21
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Fokusteks

1 Petrus 3:13-22
Die gedrag van man en vrou teenoor mekaar
(Vgl Ef 5:22–32; Kol 3:18–19)
3  Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie.

3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het  by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters.

7Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Hoe elkeen hom moet gedra
8Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. 9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

10Daar staan geskrywe:
“As iemand die lewe liefhet
en ‘n lang lewe begeer
om die goeie te geniet,
moet hy sy tong weerhou
van kwaadpraat
en sy lippe van leuens.
11Bly weg van die kwaad af
en doen wat goed is,
soek vrede en jaag dit na!
12Die Here sorg vir die opregtes
en luister na hulle
hulpgeroep,
maar Hy tree op teen dié
wat kwaad doen.”
Dit is ‘n voorreg om te ly vir wat goed is
13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die  ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Ekstra stof

1 Petrus 3 – Wees mense wat seën, sodat julle seën as erfdeel kan verkry
Petrus voltooi die vyfde sirkel van sy lering oor geestelike groei in hierdie hoofstuk waarin hy uitspel hoe dit in die huwelikslewe tot sy reg sal kom deur in eerbied en begrip vir mekaar te lewe – vers 1-7.  Ten slotte gee hy aandag aan ‘n paar algemene riglyne – ‘n mens kan dit ook as ‘n sesde sirkel van geestelike groei formuleer –  vir hulle gedrag waarin hy op sekere temas uit die vyf sirkels van geestelike groei uitbrei – vers 8-22.

Regdeur is die voorbeeld van Christus steeds die maatstaf vir geestelike groei in al die verskillende dimensies van hulle verhoudinge met ander mense, uitgedruk met die algemene stelreël: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Aan die einde van die hoofstuk raak Petrus ook die impak van die evangelie aan op dié wat reeds dood is.

1 Petrus 3:1-7 – Leef in eerbied en begrip vir mekaar in die huwelik
Petrus praat hier in vers 1-6 met getroude gelowige vroue en in vers 7 met getroude gelowige mans.  Waarskynlik was daar in dié geloofsgemeenskappe méér gelowige vroue met “ongehoorsame” mans as andersom, vandaar die meer uitgebreide riglyne vir die getroude gelowige vroue.

Let op dat die veronderstelling hier is dat gelowiges met ander gelowiges moes trou, hoewel Petrus ook implisiet erken dat dit nie altyd só is of kán wees nie.  Hy praat waarskynlik egter nie van uit en uit ongelowiges nie, eerder van “sommige (wat) aan die woord ongehoorsaam is“, hoewel sommige geleerdes die ongehoorsames as ongelowiges wil interpreteer.

Dit is ook interessant om die gelykluidende opdrag van eerbiedgerig aan die gelowige vroue – en respekgerig aan die gelowige mans – raak te sien.

  • In die geval van die vroue word dié eerbied uitgespel met die drie frases: “aan julle eie mans ondergeskik wees“, “saggeaarde en rustige gees“, en “aan hulle eie mans onderdanig wees“.  Dit alles vorm deel van die “rein, eerbiedige leefwyse” waarmee hulle hul mans, selfs wanneer dié aan die woord ongehoorsaam is, moet wen vir die evangelie.  Trouens, hulle sal “sonder ‘n woord gewen kan word deur die manier waaop julle leef.”  Só het Petrus dit ook al uitgespel in die vorige hoofstuk dat: “God wil immers hê dat julle deur goed doen die onkunde van dwase mense stopsit.” (2:15).
  • In die geval van die mans word dié respek in twee frases uitgespel: “begrip toon as die swakker geslag” en “as mede-erfgename van die gawe van die lewe met respek behandel“.  Die woorde wat as die swakker geslag vertaal is, kan ook letterlik as die swakker kruik of swakker vat vertaal word.  Petrus verwys hier waarskynlik nie na enige inherente swakheid in vroue per se nie, maar na die wyse waarop die samelewing na vrouens gekyk het en hulle as minderwaardig teenoor mans, selfs as hulle besitting, beskou het.  Petrus maan hulle dus om, selfs waar die samelewing steeds só ‘n beskouing oor vroue handhaaf, en/of waar sommige van hulle selfs nog só gedink het, hulle hul vroue steeds met respek sal behandel.  Die impak van hierdie respekvolle lewe, word in ‘n groter vrymoedigheid in gebed ervaar: “sodat julle gebede deur niks belemmer kan word nie.

Let ook op dat die aanmoediging dat vroue nie hulle skoonheid in uiterlike dinge moet vind nie, maar in onverganklike innerlike dinge – ‘n “saggeaarde en rustige gees” – nie téén uiterlike skoonheid gemik is nie, maar teen ‘n misbruik of verheerliking daarvan ten koste van innerlike skoonheid.

Dit is ook interessant dat Petrus duidelik uitspel dat vroue nie deur hierdie eerbiedige leefwyse tot ‘n tweedeklas bestaan verdoem word nie, maar opgeroep word om goed te doen: “en julle nie deur enige dreigement te laat afskrik nie.”  Dié eerbied en respek kom dus uit eie keuse in navolging van die voorbeeld van die Here Jesus Christus.

1 Petrus 3:8-22 – Laat Jesus Christus die maatstaf vir julle gedrag wees
Petrus vervolg met ‘n hele aantal riglyne vir hulle gedrag in die geloofsgemeenskap sowel as in die breër publieke gemeenskap.  Let op hoe hulle eensgesindheid, meelewendheid, onderlinge liefde, ontferming, nederigheid, vermyding van vergelding sowel as van skeldtaal, opgesom word in die stelreël: “inteendeel, wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

Hy begrond dié roeping in ‘n aanhaling uit Psalm 34:13-17 waar dit juis die dankbaarheid oor God se beskerming is wat ten grondslag lê van die motivering om kwaadpraat en bedrog te vermy, en te fokus op die doen van die goeie en die najaag van vrede (vgl Psalm 34 – Dankbaarheid lei tot wysheid).  “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke.”  Inderdaad!

Petrus herhaal wat hy al voorheen gesê het dat lyding ter wille van wat reg is, geseënd is.  Daarom moet die onkundiges en kwaadwilliges se intimidasie nie gevrees word nie of selfs daaroor ontsteld geraak word nie.  Die regte manier van optrede in enige situasie van intimidasie of ontsteltenis is om in die eerste plek die Here Jesus Christus te eer en om sy wysheid en optrede te vra, terwyl die antagoniste in die tweede plek met beskeidenheid en respek hanteer word.  In die derde plek moet rekenskap gegee word oor die hoop wat in ons leef en in die vierde plek steeds voortgegaan word om goed te doen, selfs al beteken dit lyding.

Petrus maak dus ‘n baie sterk saak uit daarvoor dat om ander te seën en aan te hou om goed te doen, maak nie saak wat die uitdagings of teenstand is wat ‘n mens ervaar nie, te alle tye die regte en aangewese ding is om te doen.  Dit is ‘n baie sterk beklemtoning in sy brief, ‘n boodskap wat ons baie nodig het in ‘n tyd waarin selfgelding en selfverheerliking die botoon in die Westerse samelewing voer.

Dit is immers die voorbeeld van die Here Jesus Christus, soos Petrus al in die vorige hoofstuk uitgespel het, en nou weer doen.  Die Christus het vir hulle (en ons) sondes gely: “Hy die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring.”  Hierin eggo hy dele van Paulus se verkondiging van dieselfde teologie (Rom. 6:10) soos ons dit ook in Hebreërs aantref (Hebr. 10:10).

Hierdie boodskap word aan die een kant in ‘n amper sydelingse kommentaar geteken as iets wat nie net vir die gelowiges van Petrus se tyd betekenis gehad het nie, maar ook vir gelowiges uit die verlede.  “Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig.

Die “geeste in die gevangenskap” word as “daardie geeste” uitgespel wat destyds ongehoorsaam was toe God in Noag se dae geduldig bly wag het terwyl die ark gebou is.  Sommige geleerdes dink dat daarmee na gevalle engele verwys word óf na bose geeste, maar dit maak vir my meer sin dat daarmee na die gestorwe ongehoorsame mense van Noag se tyd verwys word, soos baie geleerdes dit deur die eeue uitgespel het.  Hulle ongehoorsaamheid word immers in Petrus – sowel as in Genesis 6, waarop Petrus se interpretasie berus – spesifiek aan die bou van die ark verbind.  Dit maak dit meer natuurlik om die “geeste in die gevangenskap” met die geeste van die gestorwe mense van daardie tyd te verbind.

Dié interpretasie korreleer dan ook met dié van Hebreërs 12:23 waar van die geeste van gestorwe gelowiges as “die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is” gepraat word.  ‘n Mens kan dus die “geeste van die regverdiges” in Hebreërs vergelyk met, maar ook onderskei  van die “geeste in die gevangenskap” in Petrus.

Wat dié interpretasie verder ondersteun, is dat Petrus in die volgende hoofstuk nog ‘n keer sal verwys na die evangelie wat aan: “hulle wat reeds dood is” verkondig is (1 Pet. 4:6).  Hy dink daar waarskynlik ook aan die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

Die prentjie wat ons dus uit beide Hebreërs en Petrus hiervan kry, is dat albei hierdie groepe uit die ou bedeling – die “geeste van die regverdiges” en die “geeste in die gevangenskap” – die evangelie ná hulle dood gehoor het.  Die een groep ontvang dit as ‘n boodskap van redding, dié ander nie, op grond van hulle verbintenis en geloof in God terwyl hulle nog gelewe het.  Daar is dus nie sprake van ‘n tweede kans wat ná die dood gegee is nie, net ‘n bevestiging van wat rééds vóór hulle dood van hulle waar was in die vooruitsien van wat God in Christus sou doen, hoe verskuild dié boodskap ook al was (vgl. Hebreërs 11 vir ‘n verdere uitleg daarvan: Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag).

Dié boodskap van Christus se lyding vir ons sondes het aan die ander kant egter ook ‘n direkte impak op die geloofsgemeenskap vir wie Petrus skryf.  Die doop getuig van hierdie verlossende werk van Christus, en is in ‘n sekere sin die voertuig waardeur ons gered word, soos die ark dit destyds vir Noag en sy mense was.

Daarom kan Petrus dit in sterk taal stel: die doop “red ook julle nou.” Só kragtig is die boodskap van die doop.  Daarom, sê Petrus, kan ‘n mens letterlik jou doop as ‘n “gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete” gebruik, “op grond van die opstanding van Jesus Christus.”  Soos gelowiges reg deur die eeue gedoen het.

Alles is immers aan Hom onderworpe – engele, magte en kragte.  Op Hom kan ons dus nie net vertrou nie, maar ons hele lewe bou, óók in onregverdige lyding.

Boodskap
Petrus verenig hier twee groot tradisies van die OT: God se seën en God se verlossing.
Aan die een kant spel Petrus die implikasies van God se seën uit: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.”  Soos God ons geseën het, moet ons ander ook seën, selfs wanneer ons met dwase en onkundige mense te doene het, selfs waar ons ly onder die boosheid van mense en sisteme.  Die lyding wat ons só ervaar is in die groter prentjie van die lewe van minder belang as ‘n mens dit opweeg teen die ewige heerlikheid van die seën wat vir ons as erfdeel hierna wag.

Aan die ander kant spel Petrus die implikasies van God se verlossing uit: “Die doop dien … as ‘n gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus.”  Ons kan dus ook staatmaak op God se bevryding, soos Noag dit eenmaal ervaar het.  God laat ons nooit alleen nie, en sal ons bevry, ook in hierdie lewe, en uiteraard volledig in die lewe wat kom.

Liturgie

Aanvangslied: 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Aanvangswoord
’n Kers word aangesteek.

Kom ons groet mekaar nou saam met Christene van alle tye en oor die wêreld heen met die woorde van die Paasgroet:
Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Terwyl die lied gesing word, word die Christus-kers aangesteek.

Voorganger …
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Seëngroet

(Opsioneel:  Lof 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”)

Verootmoediging
Gemeente: 247 Heer wees ons genadig
Voorganger…

Gemeente: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

GELOOFSBELYDENIS AHV KOL 1

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: 1 Petrus 3:13-22

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”
Indien die gemeente gedurende Lydenstyd elke week ’n kers gedoof het, kan al die kerse nou weer op die opeenvolgende Sondae in Paastyd aangesteek word.

Aanvangswoord
Die Lig wat die wêreld probeer doof het, kon nie uitgedoof word nie. Vandag steek ons die kerse weer almal aan om daarmee God se skeppings- en herskeppingskrag te verkondig. Soos dit lig word, loof ons die Here dat sy lewensveranderende liefde wat was en is en tot in ewigheid in ons sal wees. Vandag vier ons nuwe lewe, nuwe vreugde, nuwe moontlikhede. Die Here leef en Hy leef tussen ons.

Terwyl ons die kerse aansteek erken ons dat daar steeds pyn en lyding in die wêreld is, maar ons plaas ons vertroue in die Here. In die duisternis, is daar lig. In die pyn van die dood, is daar lewe. Midde-in wat vir ons oorweldigend lyk, is God in ons en in die wêreld aan die werk, besig om geregtigheid en vrede, deernis en liefde, lewe in oorvloed tot stand te bring.
Jesus het opgestaan. Jesus het in ons opgestaan, want waar ons bymekaar is in sy Naam, is die lewende Here teenwoordig.

’n Kers word aangesteek.

Kom ons groet mekaar nou saam met Christene van alle tye en oor die wêreld heen met die woorde van die Paasgroet:
Voorganger: Christus het opgestaan!
Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Christus het opgestaan!
Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!

Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Terwyl die lied gesing word, word die Christus-kers aangesteek.

Voorganger 1: Dit is die dag
Voorganger 2: waarop trane afgevee word;
waarop stukkende harte heelgemaak word;
waarop vrees met vreugde vervang word.

Voorganger 1: Dit is die dag waarop die Here
Voorganger 2: die klip van vrees wegrol;
dood se klere uittrek;
voor ons uitstap God se toekoms in.

Voorganger 1: Dit is die dag wat die Here gemaak het.
Voorganger 2: Die dood maak ons nie meer bang nie;
die sonde het nie meer houvas op ons nie;
God maak die grafte van ons harte oop en vul ons met nuwe lewe.

Voorganger 1: Dit is die dag – Opstandingsdag – Paasfees.

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Seëngroet
Die lewende Here, wat hier teenwoordig is, groet julle:
Ek gee vir julle my vrede.
Die Vader het my gestuur. Nou stuur Ek julle ook.
Ek gee julle die Heilige Gees.

(Opsioneel:  Lof 196 O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4)

Verootmoediging
Voorganger: O Here, God van genade,
verlos ons om Jesus ontwil van ons louheid.

Gemeente: Lied 247
“Heer wees ons genadig”
Voorganger: Steek die vuur van die Gees in ons aan.
Neem die hart van klip in ons binneste
en maak dit ʼn hart wat vir U ontvanklik is.
ʼn hart wat U sal liefhê, loof en aanbid
wat U volg en vreugde daarin vind.

Gemeente: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

GELOOFSBELYDENIS AHV KOL 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.

Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.

Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.

Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Liedere

VONKK 10″Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig”
(Tollenaarsgebed)

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

Lukas 18:13
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: TOLLENAAR – Jannie Hougaard  © en Francé Ludik  © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

F13. “Tel My Op”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Til mij op
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1999 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Deut 1:31 en Jes 63:9)

1 & 2 Ek wil naby aan U wees,
soos ‘n seun op sy vader se skoot.
Ek wil naby aan U wees.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:
En U tel my op, neem my in U arms.
En U tel my op, druk my styf teenaan U vas.
En U tel my op, dra my in U arms.
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

Ek wil naby aan U bly,
soos ‘n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:

Brug:
Dra my deur die diepe water,
waar ek self nie meer kan staan
In U arms is ek veilig,
wanneer U my dra as ek nie verder kan gaan.

Koda:
Ek mag naby aan U bly,
soos ‘n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly,
dit is die plek waar ek hoor.
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, voed ons geloof deur u Woord en u Gees,
want soos pasgebore kindertjies smag na melk,
smag ons na u Woord,
na die suiwer geestelike melk
sodat ons daardeur kan opgroei
en die saligheid verkry. Amen (uit 1 Pet 2:2).

Skriflesing: 1 Petrus 3:13-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die Lewe is nie Altyd Regverdig nie
13–18 Gewoonlik sal mense nie lelik met julle maak as julle probeer om goed te leef nie. Partymaal gebeur dit tog. Jy doen wat goed is, maar iemand behandel jou sleg. Moenie hartseer raak of moed verloor nie. Wys liewer jy is ’n Christen wat vir Jesus lief is. Vertel vir ander mense op ’n mooi manier van God as jy ’n kans het.

Sorg dat jou kant altyd skoon is. Mense wat so lelik van jou praat omdat jy ’n Christen is, sal dan skaam kry. Hulle sal weet hulle is verkeerd. Laat mense julle liewer sleg behandel omdat julle reg optree as dat hulle julle sleg behandel omdat julle stout is.

Jesus het Gewen
19–22 Hulle het mos dieselfde met Jesus gedoen. Hy het niks verkeerds gedoen nie. Hy moes egter vir ons sterf. Al het Hy niks verkeerds gedoen nie, moes Hy so vir ons sonde* betaal. Hy het ons gehelp om by God uit te kom. Sy liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. Die Gees het Hom toe na die ander geeste toe gevat. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het. Dit was die geeste van die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was baie geduldig met daardie mense terwyl Noag sy skip gebou het. Maar hulle wou nie hoor nie en het hulle nie aan God gesteur nie. Toe die reën begin, is net agt mense in die skip in. Net hulle is gered.

Dit is amper soos met die doop*. Daar word God se mense van sy vyande geskei. Dit is nie so belangrik dat die water die vuilgoed afwas nie, maar dat jy van binne skoon gewas word. Jy moet God vra om alles weg te vat waarvan Hy nie hou nie. Daarvoor het Jesus mos uit die dood opgestaan. Nou sit Hy op die belangrikste plek langs God en heers saam met God oor alles. Hy heers selfs oor die onsigbare geeste en engele*.

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Probleem
16 Woorde uit bogenoemde fokusteks is weggesteek in die meegaande tabel. Kyk hoeveel jy kan herken. Die woorde kan in enige rigting lees, selfs agterstevoor (soos Hebreeus).

Oplossing

Die Lewe is nie Altyd Regverdig nie
13–18 Gewoonlik sal mense nie lelik met julle maak as julle probeer om goed te leef nie. Partymaal gebeur dit tog. Jy doen wat goed is, maar iemand behandel jou sleg. Moenie hartseer raak of moed verloor nie. Wys liewer jy is ’n Christen wat vir Jesus lief is. Vertel vir ander mense op ’n mooi manier van God as jy ’n kans het.

Sorg dat jou kant altyd skoon is. Mense wat so lelik van jou praat omdat jy ’n Christen is, sal dan skaam kry. Hulle sal weet hulle is verkeerd. Laat mense julle liewer sleg behandel omdat julle reg optree as dat hulle julle sleg behandel omdat julle stout is.

Jesus het Gewen
19–22 Hulle het mos dieselfde met Jesus gedoen. Hy het niks verkeerds gedoen nie. Hy moes egter vir ons sterf. Al het Hy niks verkeerds gedoen nie, moes Hy so vir ons sonde betaal. Hy het ons gehelp om by God uit te kom. Sy liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. Die Gees het Hom toe na die ander geeste toe gevat. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het. Dit was die geeste van die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was baie geduldig met daardie mense terwyl Noag sy skip gebou het. Maar hulle wou nie hoor nie en het hulle nie aan God gesteur nie. Toe die reën begin, is net agt mense in die skip in. Net hulle is gered.

Dit is amper soos met die doop. Daar word God se mense van sy vyande geskei. Dit is nie so belangrik dat die water die vuilgoed afwas nie, maar dat jy van binne skoon gewas word. Jy moet God vra om alles weg te vat waarvan Hy nie hou nie. Daarvoor het Jesus mos uit die dood opgestaan. Nou sit Hy op die belangrikste plek langs God en heers saam met God oor alles. Hy heers selfs oor die onsigbare geeste en engele.

Preekriglyn

Ons leef in die tyd van die koronavirus van ‘n ernstige siekte, Covid-19 veroorsaak. Die stryd om die verspreiding van die virus te verstadig plaas geweldig druk op baie mense: emosioneel en finansieel.

1 Petrus is geskryf in ‘n tyd van lyding, lyding ter wille van Christus. Die brief vra hoe geloof in ‘n opgestane Christus – wat aan die regterhand van God in die hemel sit – gelowiges help om te midde van lyding sin te vind en hoop te behou.

Die hemel

Die skrywer van 1 Petrus praat van die hemel. Hemel is die plek waarheen Jesus ná sy opstanding gegaan het en nou aan die regterhand van God is, waar Hy heers oor alle magte (v 22); hemel is die plek vanwaar die Heilige Gees gestuur is om die evangelie aan ons bekend te maak (1:12); hemel is die plek waar ‘n ewige erfenis vir gelowiges in bewaring gehou word (1:4).

Die briefskrywer se hoop op die hemel as werklikheid is ook nie ‘n vae hoop nie. Inteendeel, hy besing geesdriftig God se “groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood” (1:3a). Hierdie historiese gebeure word die Godsdaad waardeur gelowiges “opnuut verwek [is] sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word” (Direkte Vertaling van 1 Pet 1:3b-4).

Lyding

Die skrywer van 1 Petrus meen verder ook dat nadenke oor die hemel die potensiaal het om lewenskwessies aan te roer: hemelse realiteite verander inderdaad ons aardse benoudhede!

Die lesers van die Petrusbrief het egter te kampe gehad met groot moeilikhede. Allerhande beproewings kom oor hulle pad: Hulle word sleg behandel, daar word kwaad gepraat van hulle, hulle word beledig, beswadder, gelaster, geskel. Dié soort behandeling word deur hulle beleef as intense swaarkry, oftewel “vurige beproewing” (4:12).

Die punt is: Dit gaan oor hoe ons lewe in navolging van Christus. Dit lei direk daartoe dat venynig teenoor Christene opgetree word en dat hulle hierdie kwaadwillige optrede as lyding beleef.

Ons moet vandag ook nadink oor die lyding wat ons beleef Wanneer ons Christus navolg. Het ons al swaargekry omdat ons reg doen?

  • Kinders op skool beleef dikwels spot omdat hulle nie meedoen aan dit wat verkeerd is nie – is dit waar van jou?
  • Voel jy dat jou loopbaan benadeel is omdat jy liewer nie aan die verkeerde wou deelneem nie, of omdat jy die eerlike een was?
  • Word jy dalk deur ‘n huweliksmaat verbied om kerk by te woon of aan ander geloofsaktiwiteite deel te neem – omdat jy glo?
  • As ‘n Christen laat ek my inperk en ly ek – veral ter wille van ander wat nie in staat is om die koronavirus so effektief soos ek te weerstaan nie. Selfs as die amptelike inperking verslap word, beperk ek my bewegings doelbewus – omdat ek Christus navolg en ander dien deur hulle te beskerm.
Nuut gedink oor lyding

Lyding is ‘n werklikheid. Die brief 1 Petrus gaan egter verder as net ‘n beskrywing van lyding. Die brief help ons om nuut te dink oor ons lyding. Dit gee vir ons ander raamwerke waarbinne ons ons lyding kan plaas, raamwerke wat ons kan help om ons lyding in die lig van die werk van God en Christus te verstaan.

Iemand skryf:
If suffering for Christ should be the believer’s experience, Peter reframes it as a reason not for bitterness or despair but for joy.

Cognitive reframing, as ‘n terapeutiese tegniek om ‘n situasie vanuit ‘n nuwe, meer hoopvolle, perspektief te beskou en te benader, is hier ter sprake.

‘n Eenvoudige voorbeeld kan help: vriende van ons se seun, 23 jaar oud, val op die plaas van die windpomp af en sterf feitlik onmiddellik. Die familie is deur hartseer verskeur, maar die pataloog doen die ongewone ding om hulle te nooi vir ‘n gesprek. Hy verduidelik dat die seun aan ‘n ongewone soort kanker gely het, wat nog nie simptome getoon het nie, maar feitlik seker tot ‘n uitgerekte, pynlike dood sou ly.

Daarna kon die vriende nie meer heeltemal dieselfde dink oor die traumatiese dood van hulle seun nie. Sy onverwagse dood moes skielik ook vanuit ‘n ander oogpunt bedink word.

Ander raamwerke

Petrus help gelowiges om anders oor die werklikheid van lyding in Jesus se Naam te dink, deur dit in ander raamwerke te plaas. Hy vertel die verhaal van God se werk. Die vertel van God se storie kan gelowiges help om sowel die storie van die verlede as die toekoms só te herformuleer dat dit nuwe betekenis aan die hede gee. Vanuit God se verhaal, kan ons ons eie verhale herinterpreteer.

Ons kan dit ook só sê: Petrus plaas die gelowiges se ervaring van lyding binne ‘n Christus-raamwerk om hulle sodoende te help sin maak van hulle lyding.

Petrus doen dit op vier maniere in 1 Petrus 3:13-22:

Een: Christus se lyding
Ook Christus het eens gely en is liggaamlik doodgemaak (3:18). Omdat Christus gely het, kan sy volgelinge ook verwag om lyding te ervaar. Ons word geroep om in sy spore te volg (2:21; 4:1-2, 13-16).

Stephan Joubert skryf: “Christus se lyding is eerstens eksemplaries van aard … dit dien as ‘n model vir die kerk van die enigste soort onskuldige lyding wat God se goedkeuring wegdra”.

Twee: Lyding volg uit lojaliteit aan Christus
Petrus sê Christene jaag nie lyding na, asof lyding iets goeds is nie. Ons is nie bedoel om te soek om martelaars te wees nie. Ons jaag regverdigheid en gehoorsaamheid na – en as lyding daaruit voortvloei, aanvaar ons dit.

God vra blindelingse lojaliteit aan Hom te midde van teenstand, onsekerheid en selfs lyding. Let wel: Dit is lojaliteit aan Christus wat voorop staan, nié ‘n strewe daarna om ‘n martelaar te wees nie; lyding word nie ‘n doel op sigself nie, maar is eerder die gevolg van die navolging van Christus as “die Regverdige” (3:18).

Drie: Christus het lyding oorwin
Petrus sê: Deur die Gees is Christus lewend gemaak om te triomfeer (3:18-19), en is Hy nou die Heerser in die hemel, aan die regterhand van God (3:22).

1 Petrus 3:18-22 word op baie maniere uitgelê, maar dít is duidelik Christus se opwekking uit die dood bevestig saam met sy hemelvaart, sy triomf en heerskappy, dat “magte en kragte aan Hom onderwerp is” (3:22)

Coenie Burger skryf:
Deur sy ganse lewe, maar veral deur sy kruis, sy opstanding en hemelvaart behaal Jesus ‘n oorwinning oor die magte wat teen God opgestaan het en die skepping bedreig het. Dit is in die eerste plek ‘n oorwinning oor die Bose en oor al die magte in die lug. Saam daarmee is dit egter ook ‘n oorwinning oor al die magte wat ons lewens bedreig en oor die gevolge van die sonde, wat dinge insluit soos die dood, lyding …

Dit is die essensie van die Paasboodskap: sonde, dood, lyding het nié die laaste sê oor Christus gehad nie!

Vier: Moenie vrees nie
Wanneer gelowiges hulle lyding binne hiérdie raamwerk sien, hoef hulle nie bang te wees vir mense of hulle te laat afskrik nie (3:14b); inteendeel: die hoop wat in hulle leef sal dan só konkreet word vir ander, dat hulle gereed sal moet wees om ‘n antwoord te gee aan dié wat ‘n verduideliking van hulle eis (3:15).

Hierdie “hoop wat in ons leef” (3:15; vgl 1:3 “nou het ons ‘n lewende hoop”), het álles te doen met Pase. Jesus het gely, is gekruisig en begrawe, maar is deur God die Vader opgewek uit die dood. Jesus het dit namens ons gedoen. In Hom het ons die hoop op ons eie opstanding uit die dood.

Onverdiende lyding, wat hoopvol deurleef word, word daarom ‘n poort tot getuienis aangaande Christus. Die wêreld sal vrae daaroor stel aan gelowiges. Hoe kry julle dit reg om so hoopvol te leef in lyding? Om só hoopvol te leef, is kontra die kultuur. Vir Westerlinge hoop mens op beter tye – jy hoop nie weens slegte tye nie.

Ten slotte kan dan teruggekeer word na die spinnekop in Sally se kamer: Hoe verander dié hemelse realiteit – dat Christus aan die regterhand van God regeer – ons ervaring van lyding wat ons weens ons navolging van Christus beleef? Help dit ons om met méér hoop te leef? Kan hierdie “hoop wat in ons leef, selfs só sigbaar word vir ander dat hulle ons sal vra om dit te verduidelik – dat dit ‘n geleentheid word om wég te wys van onsself, na Jesus as die opgestane Here!?

Moenie vrees nie

Te midde van die nuwe koronavirus is die heel belangrikste wat ons vir mekaar kan sê dat ons lewe veilig in Christus se hande is. Ons ly op maniere wat nie een van ons verdien het nie. Tog weet ons ons is veilig in Jesus se hande, wat ook al gebeur.

Daarom vrees ons nie. Jesus is by os, tot aan die einde van die tyd.

 

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën
Die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees,
is vir julle die Algenoegsame in alles,
te alle tye en in alle omstandighede,
van nou af tot in ewigheid.
Hy sal julle seën en vul met sy lig
sodat julle die lig vir die wêreld kan wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.