Sesde Sondag in Lydenstyd

Sections

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 31

Votum: Psalm 31:2-4

Seëngroet

Lofsang: Flam 155 of VONKK 71 of Lied 470

Wet: Filippense 2:5-11

Verootmoediging: Flam 274 of Lied 239

Geloofsbelydenis: Flam 452 of Lied 476

HOOR

Gebed

Skriflesing: Psalm 31

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Flam 102 of Vonkk 230 of Lied 562 of Lied 563

Seën

Respons: Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Psalm 31

Votum: Psalm 31:2-4
2By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!
Bevry my, want U is getrou.
3Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug,
‘n bergvesting om my te red.
4Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam
sal U my voorgaan en my lei.

Seëngroet
Gemeente, wees gegroet in die Naam van die Drie-enige God, ons rots en ons bergvestig, by wie daar vir ons genade en vrede is.

Lofsang
Flam 155 U is die lewende God (Lewende God) of
VONKK 71 Groot Is U Trou, O Heer of
Lied 470 “U, Here, is ons koning”

Wet: Filippense 2:5-11
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Verootmoediging
Flam 274 Vrygemaak (Ps 31:6)” of
Lied 239 “Jesus, rots vir my geslaan”

Geloofsbelydenis
Flam 452 O Heer, My God Waar Sal My Hulp Vandaan Kom (My Redder en My Rots) of
Lied 476 “‘n Vaste burg is onse God”

Liedere

F155. “U is die lewende God (Lewende God)”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering / Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Hannes Bosman © Hannes Bosman

U is die lewende God, die groot EK IS
U, die Ewige Rots, ’n kragtige skans!
U is die Here HERE, ons Banier
U, ’n sierlike kroon, ’n pragtige krans!

Vader van hemelse lig,
die Erekoning, geweldig is Hy.
God van glorie, die hemele sing
want ewig duur u heerskappy!
Meesterbouer van die hemelse leër
die sterke Redder wat mense bevry!
Die God wat sien, U sien ook vir my.

VONKK 71 “Groot Is U Trou, O Heer”
Teks: Great is Thy faihfulness – Thomas O Chisholm 1923; Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: FAITHFULNESS – William Marion Runyan 1923
© Teks en Musiek: © 1923, hernu. 1951 en in hierdie vertaling © 2009 Hope Publishing Company, Carol Stream, IL 60188, USA (admin CopyCare South Africa). Alle regte voorbehou.. Met toestemming gebruik.
For permission to use this hymn, contact www.hopepublishing.com RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Geloof en Vertroue

1. Groot is u trou, o Heer, my God en Vader:
rotsvas u woorde en blywend u Gees.
U trou wyk nooit en u goedheid duur ewig –
U wat vir altyd dieselfde sal wees.
Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

2. Somer en winter, en lente en oestyd,
son, maan en sterre in stralende baan,
sing juigend saam oor die Skepper se grootheid,
loof God se trou waardeur alles bestaan.
Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

3. Sondevergifnis en blywende vrede,
u liefdestrou wat vertroos en my lei,
krag vir vandag en ‘n hoopvolle môre:
Duisende seëninge gee U vir my.
Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

F274.”Vrygemaak”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Tradisioneel Verwerking (Teks en musiek): Cornel Driessen © 2001 Urial Publishing

In u hande gee ek my lewe oor
want Here troue God,

U’t my vrygemaak (herhaal x4)
U’t my vrygemaak (herhaal x3)
U maak my vry.

F452. O Heer, My God Waar Sal My Hulp Vandaan Kom (My Redder en My Rots
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering / Geloof en vertroue) Teks en musiek: Franco Gagiano Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

1. O Heer, my God, waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp kom van U, die God wat voorsien,
U wat my beskerm.

As doodskadu dreig, weet ek
u hand ondersteun my, U help my.

Refrein:
Want U is my God my redder en my rots.
By U is ek veilig
want U kom omvou my in u trou, in u vadersvlerke.

2. Waar ek ookal gaan, is U reeds daar, U ken my.
My dae was beplan nog voor my bestaan
vir U is niks geheim nie.

As doodskadu dreig, weet ek
u hand ondersteun my, U help my.

Refrein:

F102. “Ek Is Veilig”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en vertroue) Teks en musiek: Soekie Rautenbach © 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid)

Refrein:
Ek is veilig, veilig in die Here.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As ek bang is in gevaar
weet ek God is altyd daar.
Ek is veilig, veilig in die Heer.

Ek is veilig, veilig in die Here.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As dit donker is om my
weet ek God is naby my.
Ek is veilig, veilig in die Heer.

1. Die Here is ’n rots en ’n skild vir my
’n huis en ’n skuilplek waar ek veilig kan bly.
Hy’s ’n muur van vuur en ’n toring wat staan
en ’n eng’le-mag wat rondom my ’n laer opslaan.

2. Die Heer is soos ’n hen wat haar kuikens toevou
soos ’n arend wat sy vlerke vir sy kleintjies oopvou.
Die Here is ’n held; ’n redder is Hy
as ek Sy Naam aanroep, dan beskerm Hy my.

Refrein:

VONKK 230 “By die Heer vind ek rus (Psalm 62)”
Psalm 62 Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo); gewysig VONKK-Werkgroep 2012 Melodie: DRIEKIE – Anton Esterhuyse 2012 ©
Orrelbegeleiding: Anton Esterhuyse 2012 © © 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue / Lyding en Nood
Keervers:
By die Heer vind ek rus,
Hy’s my rots en my redding.
Net by Hom staan ek sterk,
Hy’s my veilige vesting.

1. Net God kan help en red in nood,
alleen sý krag sal my behou.
Stort al jul sorge uit voor Hom,
Hy sal sy kinders veilig hou.
Keervers:
By die Heer vind ek rus,
Hy’s my rots en my redding.
Net by Hom staan ek sterk,
Hy’s my veilige vesting.

2. Op mense kan jy min vertrou,
geweld en rykdom kom tot niks.
Die mag behoort aan God alleen;
net Hy, die Here, kan beskik.
Keervers:
By die Heer vind ek rus,
Hy’s my rots en my redding.
Net by Hom staan ek sterk,
Hy’s my veilige vesting.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Psalm 31

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gesels oor die konsep van God wat ‘n rots of ‘n bergvesting is. Jy kan weer dieselfde konsep as dié van 3 Februarie (Psalm 71) gebruik – wys bloot terug daarna en laat die kinders die gemeente herinner wat julle toe gesê het. (Bou natuurlik weer ‘n kombers-fort!)

Hier is 3 Feb se familie-oomblik:
“Bou vooraf ‘n fort van komberse en laat die kinders saam met jou in die fort sit terwyl julle gesels. Of, as jy nie kans sien vir die fort nie, vra wie van hulle soms kombers forte in hul huise bou, hoe die forte lyk, hoe hulle dit bou, ens.
Verduidelik dat die skrywer van die Psalm bang was. Daarom bid hy dat God vir hom ‘n plek sal wees waar hy veilig voel, soos ‘n rots waaragter hy kan wegkruip. Gesels oor nog plekke waar ‘n mens veilig voel, bv in jou ma se arms.
Wys almal op die manier waarop die skrywer van die Psalm skuif: eers vra hy God om vir hom ‘n veilige plek te wees, dan begin hy bely dat God vir hom ‘n veilige plek is.
Ons kan ook op die manier vir God vra om vir ons ‘n veilige plek te wees – en vir God dankie sê en vertrou, omdat hy vir ons daardie veilige plek is.”

Julle kan ook gesels oor watter ander dinge vir ons sulke veilige plekke simboliseer, bv jou ma se arms.
‘n Ander konsep om die beeld mee te verduidelik, is ‘n “den” vir wanneer ‘n mens speletjies soos aan-aan speel. As jy in die “den” is, kan niemand jou “aan” nie – jy is veilig! Ons is ook veilig by God.
Gee vir die kinders klippe om te versier tydens die preek. Jy kan vir hulle verf gee om dit mee te versier, as jy dapper is, nie ‘n koster het nie of daar ‘n aparte tafel is waar kinders kan werk. So-nie kan jy vir die kinders kilppe en gekleurde stukkies wol gee. Hulle kan die klippe versier deur die wol om die klippe te draai. Hier kan jy sien hoe om klippe met wol toe te weef.
Hierdie konsep waar kinders ‘n tent met ‘n foto (of prentjie) van hulleself in maak, is ook oulik.
Hier is ‘n video van Psalm 31:15, as die kinders Engels verstaan. Jy kan natuurlik ook jou eie klankbaan opneem.

Preekriglyn

Die psalms is wonderlike ruimtes wat ons help om ons eie gevoelens te verwoord en oor ons diepste pyn – en oorwinnings – te praat. Jesus Self haal twee keer uit die psalms aan terwyl Hy aan die kruis hang:

  • Die een keer vra Hy: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” en dit kom uit Psalm 22:2.
  • Die tweede keer kom uit Psalm 31:6 wat ons vandag lees: “In u hande gee Ek my lewe (gees) oor” (sien Luk 23:46).
Vier soorte psalms

Al die psalms is egter nie van dieselfde aard nie. Daar is ten minste vier soorte psalms.

  • Een soort psalm is liedere, himnes. ‘n Voorbeeld is Psalm 8. Luister na ‘n deel van hierdie pragtige lied: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” Ons dink altyd dat die psalms almal liedere is, en inderdaad is hulle almal gesing, maar net ‘n vyfde (31) van die psalms is werklik himnes.
  • ‘n Tweede soort psalm is die wysheidspsalms, die psalms wat ons iets leer, wat ons vaardighede vir die lewe gee. Die bekende Psalm 1 is so ‘n psalm. Luister wat dit ons leer: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind en dit dag en nag oordink.”
  • Die derde soort psalm is koninklike psalms, wat die koning besing. Psalm 72 is so ‘n psalm – dit is gebruik wanneer die koning gekroon is. Hoor hoe bid die volk tot God en wat vra hulle dat Hy vir die koning sal doen: “Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil, sodat hy regverdige beslissings oor die volk sal vel en aan die verdruktes reg laat geskied.”
Klaagpsalms
  • Meer as die helfte van die psalms (83 uit die 150) is egter klaagpsalms, treurpsalms, psalms waarin mense hulle smart uitdruk. Party van hierdie psalms word deur die gemeenskap, die hele volk, uitgespreek. Soos die bekende Psalm 137 waar die hele gemeenskap treur: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei wanneer ons aan Sion dink.”

Daar is die treurpsalms wat deur ‘n individu uitgespreek (oftewel gesing) is. Daarmee kom ons by Psalm 31 waaroor dit vandag gaan. Psalm 31 is ‘n treurpsalm, ‘n lydenspsalm. In vers 9 tot 15 stort die psalmis sy hart uit oor al die lyding waardeur hy moes gaan. Maar Psalm 31, soos al die lydenspsalms, bly nie vassteek in lyding nie. Dis waarom die lydenspsalms goed is om in terapie te gebruik: Daar is altyd ‘n skuif na uitkoms en lig, ‘n skuif na God en sy redding. So ook is Psalm 31 se eerlike beskrywing van pyn en lyding, omring deur uitinge van God wat die psalmis in sy arms opvang.

Vertrou God, wees sterk en vol moed

Hierdie Psalm teken die worsteling van Dawid om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed. Dit word saamgebind deur die appèl aan die einde aan die hoorders-lesers om sterk te wees, moed te hou en te bly vertrou (vgl dieselfde opdrag aan Josua met sy inname van die beloofde land – Deut 31:23; Jos 1:6,7,9).

My toekoms is in u hande

Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam (vers 8-13). Hy voel “soos iemand wat lankal dood is”, hy’t “geword soos ‘n ding wat lê en vergaan” (vers 13) … “Maar ek vertrou op U, Here” … “ek sê, U is my God” (vers 15).
Vertroue kom dus meer tot sy reg in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye. En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand”.
Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.
Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – sy getrouheid (vers 5, 21), sy getroue en onfeilbare liefde (vers 7, 16), dat Hy raaksien (vers 7), dat Hy ‘n veilige staanplek gee (vers 8), sy goedheid (vers 19) en sy guns en beskerming (vers 24). Hoe hy vashou, is om te vertrou, sterk te wees, moed te hou.
Dat die Here wel die uitkoms voorsien het, wat Dawid gevra het, is wonderlik: “U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het” (vers 23). Daarom vorm dit deel van sy appèl aan die geloofsgemeenskap, om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is …” (vers 24).

Aan die kruis

Uit ‘n Nuwe Testamentiese hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46). Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood! Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ‘n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit.
Dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, nog soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe.
Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ‘n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie. En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Boodskap

Kom ons dink na oor die beteken is van hierdie psalm vir ons lewe. Watter temas kan ons raaksien? Daar is ten minste twee.

God is teenwoordig

Psalm 31 word in baie kerke op Palmsondag gelees. Palmsondag is die Sondag voor Goeie Vrydag en herdenk Jesus se intog in Jerusalem. Jesus ry op ‘n donkie, wat vir die Jode ‘n eredier was, en hulle onderskei het van die vyand (soos die Egiptenare en die Filistyne) wat altyd op perde gery het. Terwyl Jesus op die donkie ry, gooi mense palmtakke voor Hom en eer Hom as koning. Vandaar die naam Palmsondag.

Maar voor Jesus lê daar helse lyding. En God laat Hom dit nie vryspring nie. God lei nie Jesus met ‘n ompad om die lyding nie. Hy ly Hom daardeur. Totdat Jesus in sy laaste woorde aan die kruis sê: “In u hande gee ek my lewe oor”, die woorde wat ons in Psalm 31:6 kry.

Deur Jesus se verskriklike lyding – en dwarsdeur die lyding van die psalmis – was God altyd teenwoordig, sodat Jesus en die psalmis kan sê: “In u hande gee ek my lewe oor.”
God is teenwoordig, ook en veral in ons swaarkry. Wanneer ons uitroep vir hulp; wanneer ons oë dof geword het van smart; wanneer ons ons binnegoed uitgehuil het – weet net dat God teenwoordig is. En dat God uitkoms bring.

Hoe is God teenwoordig?

Maar hoe is God teenwoordig? Hoe beleef die psalmis God se teenwoordigheid? Hy noem ten minste drie dinge wat hy van God se teenwoordigheid leer in sy lyding:

  • Een. God is goedheid: Die woord “goedheid” kom drie keer in die psalm voor. God is nie in ons lyding teenwoordig as die Een wat straf, oordeel, selfs lekkerkry wanneer ons ons verdiende loon kry nie. God is goedheid. God wil dat dit met ons goed gaan. Dis waarom die psalmis kan sê: God is teenwoordig in sy goedheid.
  • Twee. God is veiligheid: God is ‘n rots, ‘n bergvesting, sê die psalmis. ‘n Mens kan na Hom toe vlug. God kan vertrou word. God is veiligheid. God is vertroue.
  • Drie. God is sinvolheid: God gee sin aan ons lewe. Deur God verstaan ons lyding beter. Deur God word ons meer as ons lyding en bekommernisse. Deur God gaan die lewe voor ons oop.

Deur God kan ons hoop op en werk aan dinge wat ons lewe sinvol maak. Terwyl ons aan sinvolle dinge werk, kan ons leef in die wete dat lyding ook sin het, dat dit ons lewe vorm en in ‘n rigting stuur waar ons opnuut kan dink oor wat die lewe sinvol maak.

God het die mens net minder as ‘n hemelse wese gemaak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 102 Ek is veilig of
Vonkk 230 By die Heer vind ek rus of
Lied 562 of 563 “Aan U, o God, my dankgesange”

Seën

Respons: Lied 313 “Amen”