Sesde Sondag in Lydenstyd – Passiesondag

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag wil die gemeenskap help om hulle voor te berei vir die Groot Lydensweek. Daar is dus ‘n sterk klem op Jesus se heerlikheid en lyding in afwagting van Goeie Vrydag en Paassondag. Hierdie Sondag staan bekend as Palmsondag en Passiesondag. Die liturgie se klem val nie op Jesus se koningskap nie (sien die ander liturgiese voorstel), maar eerder op sy lyding. Baie kerke begin Palmsondag se diens buite die kerk waar palmtakke aan die gemeentelede uitgedeel word. ‘n Mens sou dit so kon doen of die diens in die kerkgebou begin. Baie gemeentes deel palmkruisies uit as ‘n teken van die palmtakke wat mense gebruik het om Jesus se intog in Jerusalem te vier. ‘n Mens sou ook kon kies om net die takkies uit te deel en die gemeente saam hulle eie palmtakkies in ‘n kruis te laat vou. Dit sou ‘n mooi kinder- of familie-oomblik kon wees.

Ander tekste

Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Psalm 31:9-16
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.

Markus 14:1–15:47
Jesus se dood word beplan
(Matt 26:1–5; Luk 22:1–2; Joh 11:45–53)
14 Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ’n plan om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf
(Matt 26:6–13; )
3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ’n vrou gekom met ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai
(Matt 26:14–16; Luk 22:3–6)
10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ’n plan gesoek om Hom by ’n geskikte geleentheid te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Matt 26:17–19; Luk 22:7–13)
12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”
13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’15Hy sal julle dan ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”
16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai
(Matt 26:20–25; Luk 22:14, 21–23; Joh 13:18–30)
17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”
19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die instelling van die nagmaal
(Matt 26:26–29; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy ’n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën
(Matt 26:30–35; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:
Ek sal die herder doodmaak,
en die skape sal uitmekaar
gejaag word.
28Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”
29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ’n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
En al die ander het dieselfde gesê.

Jesus in Getsemane
(Matt 26:36–46; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
32Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47–56; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ’n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”

45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ’n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.
47Een van dié wat daarby gestaan het, het ’n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ’n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”
50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.
51’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Matt 26:57–68; Luk 22:54–55; 63–71; Joh 18:15–16, 24)
53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.

54Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.

55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ’n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.

57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.

62“Ek is,” het Jesus geantwoord,
“en julle sal die
van die mens sien
waar Hy sit aan die regterhand
van Hom wat magtig is,
en wanneer Hy kom
op die wolke van die hemel.”
63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”
Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”

65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n bietjie!”
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus
(Matt 26:69–75; Luk 22:56–62; Joh 18:17–18, 25–27)
66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”

68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ’n haan gekraai.

69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.

’n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër.”

71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”

72En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”
En hy het in trane uitgebars.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Luk 23:1–5; Joh 18:28–38)
15 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ’n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”
5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Luk 23:13–25; Joh 18:38–19:16)
6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was ’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis ’n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.

12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13“Kruisig hom!” skreeu hulle.

14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Matt 27:27–31; Joh 19:2–3)
16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom ’n pers mantel aan en vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19Hulle het Hom herhaaldelik met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Luk 23:26–43; Joh 19:17–27)
21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22Hulle bring Jesus toe na ’n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ’n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom. 28

29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”

31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”
Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Luk 23:44–49; Joh 19:28–30)
33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36Een van hulle het toe gehardloop, ’n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ’n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40Daar het ook vroue op ’n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

Sleutelteks

Filippense 2:5-11
Aansporing tot volharding en eensgesindheid 
27 Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is,  sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees h vasstaan, en een van hart en siel i saam stry vir die geloof in die evangelie, 28 en julle in geen opsig deur julle teenstanders laat afskrik nie. Vir hulle is dit ‘n teken van ondergang, maar vir julle is dit ‘n teken van verlossing – en dit kom van God.

29 Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.

30 Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het, en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry.

1 Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige meelewing en ontferming,

2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; 3 deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;  4  deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
5 Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6 Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,  7 maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem c en aan mense gelyk te word.  En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,

8 het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.

9 Daarom het God Hom
ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is,

10 sodat in die Naam van Jesus
elke knie sal buig –
van diegene in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde –

11 en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!”
tot eer van God die Vader.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (pp. 3919-3920). Kindle Edition.

Ekstra stof

Die brief aan Filippi
Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon). Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit Rome skrywe, wat klop met die interne getuienis in die brief self: die “keiserlike wag” (Fil. 1:13), “die huis van die keiser” (Fil. 4:22), en natuurlik dat hy uit die gevangenis skryf (Fil. 1:7). Dit beteken dat Paulus die brief waarskynlik in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu geskryf het, so 10 jaar na die stigting van die gemeente.

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem. Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 n.C. Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand. 16:8-10). Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 n.C. – die fees van die ongesuurde brode (Hand. 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld 

Hierdie is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi. Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog
Die lied in Filippense 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf. Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis. Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ‘n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel. “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “OmdatHy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hierdie antieke lied is daarom nie net ‘n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ‘n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ‘n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees
Daar is ‘n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh. 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ‘n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is. Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. Voetewas is dus ‘n praktiese metafoor waarmee ‘n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Ligdraers in die wêreld
Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (Fil. 1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (Fil. 1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (Fil. 2:3-4) – op in Filippense 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (Fil. 2:6-11). En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt. 5:14). Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee. Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ‘n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ‘n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom. 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ‘n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas. Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”. Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl. veral Fil. 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne). Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak. Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil. 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl. Petrus in Joh. 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).

Ander se belange is Jesus Christus se belange
‘n Mens kry in die volgende perikoop ‘n kykie in die diep-persoonlike verhouding wat Paulus met hierdie gemeente gehad het. Hulle belange staan regtig voorop in sy gedagte. Daarom wil hy vir Timoteus (Fil. 2:19) na hulle toe stuur – Paulus het hom ook na Korinte (1 Kor. 4:17) en Tessalonika (1 Tes. 3:2) gestuur – iemand wat hulle van die begin van hulle geloofspad af ken, om te hoor hoe dit met hulle gaan. Hy wil ook vir Epafroditos (Fil. 2:25 – “julle apostolos” [apostel/ gestuurde/ boodskapper] staan daar in die oorspronklike Grieks) – wat namens hulle vir Paulus kom bystaan het – na hulle toe terug stuur, om hulle kommer oor Epafroditos se siekte (hy is intussen genees) asook sy groeiende verlange huis toe te verlig. Trouens, Paulus sou self graag by hulle wil uitkom (Fil. 2:24). Let op hoe hy hiermee vir hulle ook drie verdere voorbeelde gee (Timoteus, Epafroditos en hyself) van hoe hulle self teenoor mekaar moet optree, presies soos hy in vroeër in die hoofstuk geskrywe het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil. 2:4). Dit sluit die onderlinge gasvryheid in, asook die agting vir geestelike leiers (Fil. 2:29), in ‘n netwerk van onderlinge diens. Let ook op hoe hierdie tipe omgee ten diepste illustreer watter prioriteit ‘n mens aan die belange van Jesus Christus gee, in Wie hierdie gesindheid die allerbeste geïllustreer is (Fil. 2:6-11). Deur aan ander se belange te dink, is ‘n mens inderdaad besig om Jesus se belange te dien. Anders gestel: Jesus kom na ons in die gedaante van “die ander“!

Ons hele lewe word “in die Here Jesus” geleef
Paulus werk hier met ‘n baie belangrike beginsel in sy beplanning en bediening: “Ek hoop/vertrou in die Here Jesus …” (Fil. 2:19, 24 – ongelukkig voorwaardelik vertaal in die NAV: “as die Here Jesus wil“). Om te hoop of te vertrou in die Here beteken nie dieselfde as om onnadenkend iets ondergeskik te maak aan die Here se wil, of soos ons soms met die gesegde DV (Deo Volente) uitdruk nie. “In die Here” beteken dat Paulus doelbewus wat hy doen “in verhouding met die Here Jesus” doen. Of dit nou iets is waarop hy hoop (elpizô in Fil. 2:19 – vgl. ook Fil. 1:23), of iets waarop hy met meer sekerheid vertrou (peithô in Fil. 2:24 – vgl ook hierdie Griekse woord se ander voorkomste en vertalings in hierdie brief: Fil. 1:6 [oortuig], 14 [vertroue] 25 [oortuig]; 3:3 [vertrou], 4 [vertrou] – sien ook 2 Tes. 3:4: “In die Here het ons vertroue in julle …”), dit geskied in verhouding met die Here. Dit is om doelbewus die Heerskappy van Jesus te soek en aanvaar, presies dit wat in die tweede helfte van die gedeelte oor Jesus se selfontlediging en verheerliking in Filippense 2:6-11 verklaar is. Dit herinner ‘n mens aan die 17de eeuse boekie ThePractice of The Presence of God waarin briewe van en ook ‘n paar gesprekke met Nicholas Herman – wat die naam Brother Lawrence gekry het in ‘n klooster in Parys waar hy as kok gewerk het – deur Joseph de Beaufort opgeteken is. Nicholas het ‘n direkte benadering tot die geestelike lewe beoefen en hom dit ten doel gestel om alles wat hy doen en dink “in die Here” en “vir die Here” te doen en dink. Paulus het hierdie beginsel op ‘n harde manier geleer op sy tweede sendingreis, net voor hy die roeping na Europa ontvang het wat tot die stigting van die gemeente van Filippi gelei het (Hand. 16:6-9). Die Gees van Jesus het Paulus twee keer verhinder om sy eie kop in die bediening te volg, voor hulle (almal was betrokke!) deur die gesig van die Masedoniese man oortuig is om die evangelie in Europa te verkondig. En dié direkte benadering het nie net sy eie lewe daarna bepaal nie, maar ook die praktiese geestelike lewe wat hy aan die gemeentes voorgehou en voorgeleef het. Dit is ook waarom ‘n onderskeidende lewe vir hom so belangrik was, soos ons in Filippense 1:9-10 gesien het.

Liturgie

RUS

Toetrede: [prosessie] Lied 545 of VONKK 100 of Flam 82

Votum
Seëngroet 

Lofsang: Flam 207 [nav Fil 2:5-11 bLied 215 of Lied 223

Skuldbelydenis

Lofsang: Lied 223,  Flam 63

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Lofsang: Lied 175, VONKK 142 [bekend: Zion’s daughter],  

Skriflesing: Filippense 2:5-10

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 271 of Lied 541

Seën: (William Temple in “Gebedeboek met liturgiese voorstelle”.)

Respons: Flam 164 of Lied 176

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
[as julle ‘n prosessie doen, kan die gemeente buite staan en die liedere luister of neurie – Covid-19 regulasies in ag genome – terwyl hulle inkom. Sommige kan palmtakke swaai.]
Lied 545 “Jesus kom na Jerusalem toe” (kanon of wisselsang) of
VONKK 100 By Die Intog In Jerusalem (kanon)  of
Flam 82 “Hosanna”

Votum
Voorganger: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

Voorganger: Mag die Here met julle wees.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Laat ons saam bid:
Here God van ons verlossing,
verleen in genade aan ons u bystand
terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink,
die groot dade waarmee U vir ons die ewige lewe bewerk het;
deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen.

Seëngroet 

Lofsang
Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer [nav Fil 2:5-11) of
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam” of
Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer”

Skuldbelydenis
Here Jesus Christus,
Ons weet dat u lewe onder ons ’n lewe van offer was,
Dat U gekom het om die haat, vrees, geweld en boosheid in ons te genees.
Dat U gekom het om die tafels van gierigheid en ongeregtigheid in ons om te keer.
Vergewe ons wanneer ons U koms weerstaan.
Wanneer ons U verwerp en
U veranderende stem in ons lewe probeer stilmaak.

Stil gebed
Heer, wees ons genadig.
Moenie ophou om na ons te kom en ons te roep tot lewe nie.
Help ons om ons kruis op te neem
En te leef in die krag van U liefde.
Amen.
(Sacredise)

Lofsang
[t.w.v. die feesdiens is hier heelwat lofsang. Jy kan dit ook verder deur die diens versprei]
Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer”
Flam 63 Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader
Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word

Gemeente: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
Voorganger: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Gemeente: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Gemeente: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel/ en op die aarde/ en onder die aarde is,/ die knie buig,/ en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
Voorganger: Tot eer van God die Vader.
Gemeente: Amen

Liedere

VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem  (kanon)”
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010 Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Lydenstyd (Palmsondag) / Kindwees

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd) Teks en musiek: Jan de Wet © 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010  Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746;  harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent  / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

F63. “Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Chardi Visser © 2009 MAR Gospel Music
(Opgeneem op Uitverkoop)

Hoe goed is die Heer.
Hoe goed is u wysheid en krag.
Hoe goed is u guns en genade oor my elke dag.
Ek sal U loof, ek sal U eer.

Refrein:
Hosanna in die hoogste hemele.
Hosanna aan die Koning.
Hosanna ook hier oop die aarde.
Hosanna sal ons sing.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Die Koning kom.
Ons God arriveer, op die rug van ’n eenvoudige donkie, geklee in ’n brose menslike liggaam.

Ons weet, Here God, dat dit nie die eerste keer is wat U na ons toe gekom het nie.
Die geskiedenis van die mensdom is die geskiedenis van U koms tussen ons
As Skepper,
Doel-gewer
Bevryder
Profetiese stem
En Priesterlike teenwoordigheid.

Die storie van elkeen van ons sê lewens is die storie van U koms na ons
As Trooster,
Vriend,
Voorbeeld,
Gewer van lewe in oorvloed.

Daarom loof ons U,

Maak ons oë oop vir U teenwoordigheid.
Kom steeds na ons toe, Here.
Hosanna,
Ons eer U,
Want U is ons God.
Amen
(Sacradise)

Lofsang
Lied 175 “Majesteit”
VONKK 142 Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer [bekend: Zion’s daughter]

Skriflesing: Filippense 2:5-10

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Fokus op Palmsondag. Sluit die kinders deurlopend by die liturgie in. Laat die kinders of die hele gemeente ‘n prosessie dien met (versigtig) swaaiende palmtakke. Hierna kan almal kruise vou van palmblare – hier word dit gedemonstreer. Die simboliek werk goed, omdat dit wys hoe die feesviering van Palmsondag oorgegaan het in die Passie van die kruis – waarna vandag se fokusteks verwys.

John Stephens stel voor dat jy die beginsel gebruik van die spons-vingers wat mense tydens sportbyeenkomste gebruik. Jy het nie die sponsvinger nodig nie, jy kan bloot met jou vinger in die lug wys. Dis hoe almal vir Jesus gevier het met die intog – soos vingers in die lug wat sê “nommer 1 nommer 1 nommer 1”.  (Laat almal met hul vingers in die lug juig.”) Maar kort daarna het dieselfde vingers gedraai en gesê:  “Kruisig hom!”

Of gebruik een van ons vorige voorstelle:
Uit 2013:
Die diepgang van die gedeelte sal vir kinders te moeilik wees om te volg.  Fokus op kinders se sin vir regverdigheid – hulle verwag dat hulle sal kry wat hulle toekom.  Jesus se weiering om vereer te word, wat eerder ander se belange eerste gestel het, wat vriende gemaak het met mense wat ons vermy, en bereid was om aan die kruis vir ons sonde te hang, wys dat Hy regtig anders was.  Hoekom het Jesus dít gedoen?  Omdat Hy vir ons lief was.  Hierdie verhaal wys dus vir ons hoe spesiaal ons is vir Hom.  Hy wil egter ook hê dat ons sal doen wat Hy doen.  Só maak ons ‘n verskil aan ander se lewens en van die wêreld ‘n beter plek.

OF vertel die verhaal van “Yertle the Turtle”
Fil. 2 sê: “3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”  Dan herinner hy die mense in Filippi aan Jesus se voorbeeld.

Dr. Seuss se storie “Yertle the Turtle” vertel van ‘n koning wat nié nederig is nie.  Inteendeel, hy staan sommer op die rûe van ander skilpaaie.  Totdat een skilpad, Mack, dit nie meer kan hanteer nie.  Die gevolglike rebellie laat die koning in die modder, want hy was nie nederig nie.

Lees die volledige storie hier en vertel dit in jou eie woorde oor (soek op Google Image vir Yertle the Turtle prente om saam met die vertelling te gebruik).  Of laai ‘n video van Yertle the Turtle.

OF gesels oor ‘n Gunsteling Lied
Die teks wat ons vandag lees, is ‘n lied wat ons herinner aan God se liefde vir ons.  Laat kinders gesels oor hul gunsteling liedjies wat hulle herinner aan Jesus se liefde.  Vandag se teks is ‘n lied wat mense vir honderde jare gesing heet wanneer hulle nodig gehad het om te onthou hoe lief God hulle het.

Lees dan die teks terwyl die kinders saam met jou die volgende gebare wys:
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:  6Hy wat in die gestalte
van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
Hande in die lug, gesig na bo
7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
Swaai arms soos wanneer jy ‘n baba sus
En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Arms na die kant uitgestrek soos aan ‘n kruis
9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
Hand in die lug, gesig na bo
10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,
Kniel, hande gevou in gebed
11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
Bly op knieë, hande in lug, gesig na bo.

Uit 2017:
Wat van ‘n Kersverhaal?  Die skattige “Unexpected Christmas” herinner ons op ‘n humoristiese manier hoe onverwags Christus se selfontlediging is.  Dit sluit wonderlik aan by die konsepte van vandag se Skrifgedeelte.

Nog ‘n manier om selfontlediging te verduidelik, is die storie van “Charlotte’s Web“.  Hier is die boek en hier is ‘n gedeelte van die fliek.

Carolyn Brown stel voor dat die teksgedeelte met liggaamlike bewegings gelees word.  Kyk by die liturgie onder “skriflesing”.  Veral kinders sal dit geniet om saam met die skriflesing te beweeg.  As jy ‘n danser of twee in die gemeente het, sal hulle ook kan help met die interpretasie.

Preekriglyn

Dit is vandag Palmsondag. Ons word voorberei vir die Groot Lydensweek, die herdenking van die laaste week van Jesus se bediening voor sy kruisiging. Ons sien die heerlikheid van die lydende Christus wat doelbewus afstuur op Goeie Vrydag.

Vandag val die klem op Jesus se lyding. Ons maak gebruik van palmtakke om ons aan Jesus se intog in Jerusalem te herinner. Die skare het palms geswaai om Jesus as koning te verwelkom. Daarmee het hulle die pad eintlik voorberei vir die lydende kneg van die Here om op die finale fase van sy lydingsweg te gaan.

Ons teks

Ons teks is die bekende Filippense 2:5-11. Dit is ‘n aangrypende teks wat besondere lig op die betekenis van Jesus se lyding laat val.

Mens kan hierdie teks lees wanneer jy nadink oor Jesus se voetewassing van sy dissipels. Net soos Jesus by die voetewassing in die bovertrek eers sy bokleed uitgetrek het, toe gedien het, en daarna weer aangetrek het, so vertel ons teks hoe Jesus Homself tot ons diens ontklee het, in nederigheid tot in die dood kom dien het, en daarna weer beklee is met besondere heerlikheid.

Die tema is ontklee en beklee.

Kom ons stap kortliks deur ons teks. Hou julle Bybels oop:

  • Vers 5 roep ons op om die evangelie en ons onderlinge verhoudinge met dieselfde gesindheid as Jesus uit te leef
  • Vers 6 beskryf Jesus se identiteit sowel as sy optrede op grond van sy gesindheid: Jesus is self God, Hy het egter nie toegelaat dat sy identiteit as God, sy uitvoering van die Vader se wil dwarsboom nie. Hy het nie aan sy Godgelyke natuur vasgeklem nie.
  • Vers 7. Jesus het Homself prysgegee deur vernedering: Hy het sy gestalte as God afgelê vir die gestalte van ‘n slaaf. Die Griekse teks beskryf hierdie handeling as ekenōsen (self-leegmaking / ontlediging). Deur dié handeling het Jesus mensgelykvormig geword. Christus Jesus – God – slaaf – mens.
  • Vers 8. Jesus se selfvernedering het uit gehoorsaamheid tot die dood toe bestaan. Die manier waarop Jesus gesterf het, was teregstelling aan die kruis.
  • Vers 9 begin met die frase woord “daarom”. Die “daarom” beklemtoon die teenstelling van Jesus se vernedering en sy verhoging. Jesus se gehoorsaamheid het tot selfvernedering gelei, wat deur God as verheffing tot hoogste eer aanvaar word. Vernedering word verhoging – ‘n omkering van waardes en werklikheid.
  • Vers 10 verwoord die resultaat van Jesus se verhoging deur God. God se bedoeling met Jesus se buitengewone verhoging en sy Naam bó enige naam, was dat God die Vader eer ontvang. God die Vader ontvang die eer wanneer “elke knie van hemelse en aardse en onderaardse wesens” (DV) in die Naam van Jesus buig, asook wanneer elke tong bely : “Jesus Christus is Here!” Die gevolg van Jesus se verhoging is: Alles en almal buig die knie, bely Jesus is Here en eer God die Vader. Die oorgang is van Jesus se gehoorsaamheid tot vernederende menswording – tot buitengewone verhoging – tot aanbidding van Jesus tot eer van God die Vader.
Laaste week

Hierdie aangrypende teks vertel op ‘n dieper vlak wat daardie laaste week gebeur het. Terwyl al die sigbare gebeure hulleself afspeel, is daar ‘n dieper dimensie in die teenwoordigheid van God. Jesus ontklee Homself in nederigheid ter wille van ons, en dit stuur op sy verhoging af, tot eer van God die Vader.

Maar wat het alles in daardie laaste week van Jesus se aardse lewe gebeur? ‘n Kort lysie lyk as volg:

  • Triomfantelike intog in Jerusalem,
  • Laaste maaltyd,
  • Jesus deur Judas verraai,
  • Getsemane,
  • Sy verhore,
  • Golgota, en
  • Jesus se begrafnis.

Philip Yancey skryf in The Jesus I never knew:
Despite the shame and sadness of it all, somehow what took place on a hill called Calvary became arguably the most important fact of Jesus’ life.
Dit het die kerk van Christus ‘n geruime tyd geneem om die skande van die kruis te verwerk. Eers in die vierde eeu het die kruis simbool van geloof in Christus geword.

CS Lewis sê iewers:
… the crucifixion did not become common in art until all who had seen a real one died off.
Miskien is dit die rede waarom die film The passion of the Christ steeds soveel aandag trek.

Geen voorspoedsteologie

Die huidige geslag het dalk nog nooit werklik hierdie verhaal gehoor nie! Ons verkies immers die voorspoedsteologie. Vreemd genoeg het die Christelike geloof die godsdiens van die kruis geword. In moderne taal: godsdiens van die galg, elektriese stoel en gaskamer.

Daar is twee moontlike reaksies op Jesus se kruisdood, soos verteenwoordig deur die twee misdadigers aan weerskante van die kruis:

  • Een het met Jesus se magteloosheid gespot, ‘n Messias wat Homself nie eers kan red nie.
  • Die ander een het Jesus se andersoortige mag herken en die risiko van geloof geneem: “Dink aan my wanneer U in die koninkryk kom.”

‘n Aardskuddende magsverskuiwing gebeur op Golgota. Die kruis herdefinieer God as een wat ter wille van liefde bereid was om gewelddadige mag, die mag van die swaard, prys te gee. Dorothee Sölle verwys daarna as “God’s unilateral disarmament”.

Jesus verander die wêreld deur nederige diens, deur selfontlediging, deur te weier om gewelddadige aardse mag te gebruik om sg. Verandering af te dwing.

Ware Goddelike mag

Aardse mag, hoe goed bedoel ook al, is geneig om lyding te veroorsaak. Liefde daarenteen, absorbeer lyding. Op Golgota het God die een vir die ander verruil – méér as verruil! God is juis in lydinge teenwoordig en gebruik nederig diens as die ware krag en mag wat die wêreld verander.

Soms is daar die mees bisarre verhale van lyding, bespotting en vervolging uit die lewens van Christus se volgelinge. Net soos Jesus se dood. Daardie verskriklike vervolging word die groeimedium waaruit God verheerlik word.

Yancey verwys na Pierre van Paassen se Memoirs van die jare voor die Tweede Wêreldoorlog, ‘n vertelling oor verontmensliking. Nazi-troepe het ‘n bejaarde Joodse rabbi gevange geneem en na hulle hoofkwartier gevat. In ‘n ander hoek van dieselfde vertrek was twee kollegas besig om nog ‘n Jood te martel. Die rabbi se vervolgers het besluit om ‘n bietjie pret met hom te hê. Terwyl hulle hom verneder het hulle hom gevra om die komende Sondag se preek te preek. Die bewende rabbi het in ‘n rasperagtige stem sy boodskap oor wat dit beteken om nederig voor God te wandel daar in die Nazi-hoofkwartier gelewer. Die hele tyd is hy deur skreeuende soldate geslaan en gespot.

Dit is deur hierdie soort lyding en getrouheid dat God se koninkryk kom. Geen voorspoedsteologie nie. Slegs getrouheid. Niemand kon dink dat iets goeds uit die kruis sou kom nie. Dit het na vernietiging en oorwinning gelyk. Die einde van die pad vir Jesus. Tog gebruik God dit as die moment om alle aardse mag te ontmasker en die wêreld te vernuwe.

Wat moet ons doen?

Paulus verwoord twee hooftemas in Filippense 2:

  • die werk van die evangelie waaraan hy en sy lesers deel het, en
  • die geestelike groei van sy lesers in liefde. Daar moet eenheid/eensgesindheid in die kerk wees, gebaseer op nederigheid/onderdanigheid.

Jesus is hiervan by uitnemendheid die voorbeeld. Die tema is nederigheid en diens. Dit bereik sy hoogtepunt in die verhoging/verheerliking van Christus. Dieselfde gesindheid moet in julle wees (v 5) wat ook in Christus Jesus was. Hoe behoort die kerk van Christus te lyk?

Wat is die belangrikste deug of karaktertrek wat Christene moet vertoon? Paulus sê helder en eenvoudig: “Julle moet nederig wees, soos Christus Jesus.”
Jesus was bereid om voete te was,
jou en my voete te was:
En toe Hy as mens verskyn het,
Het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
Ja, die dood aan die kruis.

Omdat Hy daartoe bereid was, het God Hom tot die hoogste eer verhef.
Die kerk van Christus waar ook al in die wêreld, word deur God opgeroep tot nederige onderwerping aan mekaar.

Nuwe waardesisteem

Met hierdie omkering van die waardesisteem, vestig God sy koninkryk. Hy stel ‘n radikaal nuwe norm daar hoe om eer te verstaan. Jesus wat Homself tot in die dood toe verneder het, kry die mees eervolle naam in die hele heelal. Deur sy opwekking en hemelvaart word Jesus tot die hoogste posisie verhoog. Hy kry nou die nuwe titel van Here of Kurios. 

Alle ánder name, titels en posisies van aardse maghebbers, is hieraan ondergeskik. Almal sal dit uiteindelik met hulle liggaamshouding en woorde bevestig as hulle buig en bely dat Jesus Christus die Kurios is.

Vir almal belangrik

Jesus se kruisiging en verhoging het vir almal op aarde betekenis. Soos wat sy menswording en vernedering in die openbaar afgespeel het, so sal sy verheerliking en dié van God uiteindelik in die openbaar geskied. As Heerser oor die heelal, is alles reeds aan die verhoogde Christus onderworpe.

Die Rabbi wat so gemartel is deur die Nazi’s, sal uiteindelik publiek as deel oorwinnaar aangekondig word. Dit geld vir almal wat ter wille van hulle geloof in Jesus vervolg is.

Covid-19

Vanjaar vier ons Palmsondag of Passiesondag in die greep van Covid-19. Te midde van dié wêreldwye pandemie en menslike tragedie, is uitsprake van ‘n “nuwe normaal” gemaak en dat ons leefwêreld nooit weer dieselfde sou wees nie.

Dit is die agtergrond waarteen die kerk van Christus op Passiesondag oor die betekenis van Jesus se lyding op aarde reflekteer en oor Paulus se lied dat God die Vader die eer sal ontvang wanneer “elke knie van hemelse en aardse en onderaardse wesens” (DV) in die Naam van Jesus buig en elke tong bely (DV; erken – 1983) “Jesus Christus is Here!” Paulus se Christuslied (ons teks) lei ons deur die oorgang van Jesus se gehoorsaamheid tot vernederende menswording, sy buitengewone verhoging deur God en die skepping se aanbidding van Jesus tot eer van God die Vader.

Wat is die situasie in die jaar 2021? Vertoon Christus se kerk as sy liggaam op aarde groter eensgesindheid in navolging van Jesus? Is daar tekens van die globale eer vir God deur mense wat die naskokke van ‘n pandemie beleef wat die fondamente van menslike selfvoldaanheid geskud het?

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe” of
Lied 541 ‘Ons bring aan U, Heer Jesus’

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly
(William Temple in “Gebedeboek met liturgiese voorstelle”.)

Respons
Flam 164 laaste strofe:  “Jesus is die Heer”
Lied 176  “Halleluja! U is Koning”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.