Sesde Sondag in Lydenstyd (Palmsondag)

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 118:1-2; 19-29; Jesaja 50:4-9a; Filippense 2:5-11; Matteus 21:1-11;Matteus 26:14-27: 66

Fokusteks

Ps 31:10-17
Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
2 By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.
3 Luister na my, red my tog gou. Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug, ‘n bergvesting om my te red.
4 Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.
5 Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het, want U is my toevlug.
6 In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
7 Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode; my vertroue stel ek in die Here.
8 Ek wil jubel en juig oor u troue liefde: U was nie onverskillig teenoor my ellende nie; U het die bedreiging van my lewe raakgesien
9 en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie; U het my ‘n veilige staanplek gegee.
10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.
11 My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes. Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie; dit dreig van alle kante af. Baie span teen my saam en smee planne om my lewe te neem.
15 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand. Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!
17 Verskyn tog tot my redding, red my deur u onfeilbare liefde.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Voorganger: Loof Hom wat in die naam van die Here kom!
Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

Voorganger: Mag die Here met julle wees.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Here, God van ons verlossing,
verleen in genade aan ons u bystand
terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink,
die groot dade waarmee U vir ons
die ewige lewe bewerk het;
deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen.

Lied: Liedboek 326:1 en 4

Herinnering aan Jesus se intog in Jerusalem
Laat iemand Matteus 21:1-11 voorlees.

Gebed:
Voorganger: Kom ons dank die Here ons God.
Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Ons loof en dank U , o God,
vir die groot liefdesdade waarmee u ons verlos het
deur u Seun Jesus Christus, ons Here.
Op hierdie dag het Hy die heilige stad Jerusalem
triomfantelik binnegegaan en is Hy deur
die skares as Seun van Dawid en
Koning van die konings verwelkom.
Help ons dat ons Hom altyd sal eer
as ons Here en Koning
En Hom sal volg met volkome vertroue.
Ons vra dit in sy Naam,
Hy wat saam met U
En die Heilige Gees leef en regeer.
Een God, nou en vir ewig.
Amen.

Voorganger: Loof Hom wat in die naam van die Here kom!
Gemeente:Hosanna vir die seun van Dawid.
(Uit: Handleiding vir die erediens. Bybel-Media 2010, bl 304/5)

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Kinders dra palmtakke by die begin van die erediens in en sit dit voor in die kerk neer.

Kruisies wat uit palmblare gevleg is (daar is talle webwerwe op die internet beskikbaar wat stap-vir-stap wys hoe om dit te doen) word by die deure aan elke kind uitgedeel. Dié kruisies word ’n jaar lank (byvoorbeeld) as ’n boekmerk gebruik en op Aswoensdag van die volgende jaar verbrand om die as te gebruik om ’n kruisie op die voorkoppe van die kinders mee te maak.

Die voorganger roep ‘n paar kinders vorentoe en maak askruise op hulle voorkoppe.

Vertel die storie van Jesus en sy reis Jerusalem toe. Laat die kinders verstaan dat Jesus baie keer vantevore in Jerusalem was, maar dat Hy nou geweet het dit is die laaste keer.

Jesus en die dissipels het Jerusalem toe geloop. Op pad soontoe het Jesus vir een van hulle opdrag gegee om vir Hom ‘n baba-donkie te vind. Dit was deel van God se plan dat die donkie reeds vir Hom gewag het.

Demonstreer met palmtakke hoedat die skare Jesus ingewag het. Hulle het palmtakke in die lug gewaai. Party het hulle klere neergegooi sodat die donkie daaroor kon loop.

Hoekom was die skare so opgewonde oor Jesus? Omdat hulle sulke wonderlike goed oor Hom gehoor het oor hoe Hy ander mense gehelp het. Daar was egter ook mense in Jerusalem, veral die leiers van die kerk, wat glad nie bly was om Hom te sien nie.

Die skare het bly “hosanna” skree vir Jesus terwyl Hy en sy dissipels op pad was na die gemeente se bidplek toe, die tempel soos wat hulle dit genoem het. Die meeste van hulle het egter verwag dat Hy die slegte regeerders wat die mense so laat swaarkry het, sou aanvat. Toe hulle sien dat Hy dit nie doen nie, het baie van hulle belangstelling in Hom verloor. Hulle het iemand gesoek wat sterk is en goed kon baklei om vir hulle ‘n leier te wees.

Natuurlik kon Jesus maklik en op een slag met die slegte mense van Jerusalem en die regeerders van Rome afgereken het.

Die as van die palmtakke waarvan ons die kruisies gemaak het vertel egter vir ons dat Jesus nie ‘n koning wou wees soos ‘n groot held vir wie almal toejuig en waai nie. Nee, palmtakke kan verbrand en as word. Net so kom groot helde dikwels tot ‘n val – en in elk geval gaan hulle ook maar soos enigiemand anders dood.

Jesus het gekies om op ‘n ander manier as die gewone sterkman- en held-manier vir mense te wys hoe ‘n mens ‘n regte leier is: Jy kan jou ander wang draai as jy geslaan word; jy gee om vir die mense waaroor ander mense hulle nie bekommer nie, omdat hulle nie belangrik en ryk genoeg is nie. Daarvan het baie van hulle niks gehou nie – veral nie die kerkleiers nie. Daarom, enkele dae later (op wat as Goeie Vrydag bekend sou word), het hulle Jesus aan ‘n kruis opgehang.

Preekriglyn

As daar één ding is wat in dié Psalm duidelik na vore kom, is dat dit nie waar is dat geloof ‘n mens van ellende spaar soos wat die voorspoedsteologie ons wil wysmaak nie.

Net onlangs met die ellende wat Japan oorval het, skryf iemand nog weer op die internet dat dit nou die beste bewys is dat gebed niks beteken nie. Hoekom het so iets in die eerste plek gebeur? Omdat daar foutlyne in die aardkors is! En al die gebede van al die jare het nog nooit iets daaraan verander nie. En selfs al sou God gebede verhoor, wat beteken dit vir die mense van Japan wie se huise en lewe vernietig is (of al die baie mense wat al rampspoed beleef het)? Geloof en gebed gaan dit tog nie weer regmaak nie!

Dit is ‘n valse geloofsopvatting wat mense laat dink dat geloof per definisie suksesvol moet wees; dat die uiteindelike gevolg van goeie geloof altyd beteken dat dit goedgaan en die foutlyne van hierdie wêreld weer herstel is – of nog beter, dat die “foute van hierdie wêreld” jou nie tref nie: Jou aartappelland word nie verwoes nie omdat die donderstorm net betyds kom om die aankomende vuur te blus; die wurms wat in al die omringende boere se koringlande die oeste verniel, word deur ‘n “muur van gebed” van jou lande af weggehou. Natúúrlik kan dit ook so gebeur! Natúúrlik kan God ook soms sy eie natuurwette ophef en op wonderbaarlike maniere mense se gebede verhoor! Maar vandag se Skrifgedeelte help ons in ons geloof wanneer dit juis nié so gebeur nie, wanneer ons juis kniediep in die ellende is en dit moeilik vind om nog steeds bo-oor die rand van die moeilikheid vir God raak te sien.

Vandag se Skrifgedeelte is ’n eenvoudige smeekgebed van iemand wat diep, diep in die nood is, al is hy ‘n gelowige. Maar juis as ‘n gelowige, gaan hy met sy nood na God toe.

Luister wat bid die skrywer in vers 10: “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood.” Jy hoor in dié paar eenvoudige woorde ‘n diep emosie wat jou laat wonder wat die arme mens se probleem tog kan wees.

As hy begin vertel, is dit of ‘n keerwal breek. Hoor wat sê hy in vers 10b tot 14:
10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.
11 My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes. Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie; dit dreig van alle kante af. Baie span teen my saam en smee planne om my lewe te neem.

Die digter vertel van verdriet, van hartseer wat sy oë swak gemaak het sodat hy nie meer kan sien nie. Dat hy nie meer raad of oplossings of ’n uitweg of ’n toekoms kan sien nie. Hy vertel van vretende bekommernis en jare van swaarkry. Hy vertel hoe sy probleme hom kragteloos maak en hoe dit sy gesondheid geknak het. Hy vertel van teëstanders, mense, wat alles vir hom nog erger maak. Hy vertel hoe sy vriende en bure hom vermy, hulle eintlik ’n bietjie vir hom skaam.

Dié Psalm is ’n baie ou gebed van iemand wat so tussen 2 500 en 3 000 jaar gelede geleef het. Kyk ‘n mens in die geheel daarna, kan dit duidelik in twee dele verdeel word, eers vers 2-9 en dan vers 10-25. Die ooreenstemming tussen die twee gedeeltes is opvallend. In albei gedeeltes is daar sprake van ernstige en groot nood, en terselfdertyd van vertroue in God.

Dié Psalm kon net sowel gister geskryf gewees het. Niks van wat hier staan, is regtig vir ons vreemd nie.

Ken ons dit nie? Vretende bekommernis wat jy dikwels stoksielalleen moet dra? Al die verskillende sake waaroor ons soms in die nanag wakker lê omdat die kommer aan ons vreet: finansies – vir nou of vir aftrede? Ons huwelike of ander verhoudings wat sukkel? Kinders wat die pad byster geraak het? Gesondheidsprobleme en die bekostigbaarheid van gesondheidsorg? Werksekerheid? Misdaad? Jare van swaarkry? Vriende wat van jou wegdraai en jou alleen los? Openlike konflik en vyandskap waar die situasie net eenvoudig nie bygelê word nie? Dit is alles dikwels genoeg om depressie van te kry!

Die Nuwe Testament skram nie daarvan weg dat swaarkry en lyding deel van ’n gelowige se lewe is nie. In sy nuwe boek, Dit is amper dag (CUM-uitgewers), lê die bekende teoloog, Jaap Durand, klem daarop dat vir Paulus geloof ‘n lewenslange stryd was. Hoofstuk 1 heet nie verniet: “Die ononderbroke stryd van die geloof” nie. “Wanneer ons luister na wat Paulus te sê het oor geloof, … moet ons besef dat ons besig is om te luister na ‘n gelowige wat net soos ons weet van die hoogtes en die dieptes, die blydskap en die droefheid, die vrede en die onrus van ‘n lewe in geloof”. Daarom verkies Durand eerder die 1933-vertaling van 2 Timoteus 4:7: “Ek het die goeie stryd gestry” (versus die 1983-vertaling: “Ek het die goeie wedloop afgelê”).

Nou as geloof dan so ‘n stryd is, wat is die nut daarvan? Het dit enige sin om jouself dié stryd ook nog op te lê by al die stryde wat die lewe reeds bied?

15 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. 
16 My tye is in u hand. Red my uit die hande van my vyande en vervolgers! 
17 Verskyn tog tot my redding, red my deur u onfeilbare liefde.

Hierdie verse is inderdaad ‘n direkte voorspel tot Paulus se bekende lofprysing in Romeine 8:
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 
39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here is nie.

Só is dit om op God te vertrou. Só is dit om jou tye in sy hand te hê. Só is dit as God jou deur sy onfeilbare liefde red: Jy ondek die geheim van ‘n geloof wat nie ophou nie, al kom die nood van allerlei ellende, selfs die dood, lewensgroot voor jou staan.

Wat is die inhoud van dié geheim?

Paulus gee daarop vir ons één antwoord: Die onveranderlikheid van God se genade en trou teenoor ons. “Nie alleen het Hy sy kant gebring deur die fondament van ons geloof in Jesus Christus vas en seker te maak nie, maar Hy het ook vir ons ons kant gebring deur in ons ‘n geloof te bewerk wat nie ophou nie, selfs wanneer dit vir ons voel die geloof nie meer daar is nie,” skryf Durand.

Dit is nie verniet dat Paulus op ander plekke daarvan praat dat ons deur die Heilige Gees “beseël” is, vasgemaak, gewaarborg nie. God maak vas en niemand kan losmaak nie. God beseël en niemand kan die seël breek nie.

En wat sê al dié teologie nou vir ons wanneer die nood vir ons soos vir die Psalmdigter oorval?
Miskien het jy al ervarings gehad wat jy kon vertolk as dat God jou gebede verhoor het. Dan het jy ekstra rede om bly te wees. Maar jy hoef nie God se hand net raak te sien in “wonderwerke” nie. Hy hoef nie sy natuurwette te verbreek voordat jy sy hand in gebeurtenisse bespeur nie. Om die waarheid te sê, ek dink die normale ding vir God is dat Hy juis gewoonlik nie sy eie natuurwette verbreek nie.

Die bekende kerksakejoernalis, Neels Jackson, skryf onlangs: “Daar is ʼn denkkonstruksie in omloop, ook soms onder Christene, dat alles moet goed gaan waar God is. En as daar pyn of lyding is, beteken dit God is afwesig. Ek dink nie dis ʼn denkkonstruksie wat uit die Christelike tradisie kom nie, veel eerder een wat uit die verbruikersamelewing gebore is en deur die kitskultuur gevoed word. Ons is gewoond dat alles vinnig en gerieflik moet gebeur, van twee minute noodles tot by vervoer halfpad om die aarde waaroor mense kla as dit 48 uur duur. Wanneer daardie kitskultuur oorgeplaas word na geloofsake toe, verwag ons kitsoplossings op allerlei probleme en kitsverhoring van alle gebede. Hierteenoor is vroeë Christene deur Jakobus aangemoedig om hulle te verbly oor allerlei beproewinge, omdat dit hulle leer om te volhard.”

Geloof en gebed help jou nie om lyding te vermy nie, dit help jou om dit te hanteer. Geloof en gebed verander nie noodwendig die gelowige se omstandighede nie – maar verseker verander dit die een wat glo! Geloof is die versekering dat die toorn van God wat ons dikwels ervaar, net “‘n oomblik lank duur, maar sy goedheid lewenslank” (Ps 30:6). Dié vaste wete is die geheim daarvan om op God te vertrou, om te weet dat jou tye in sy hand is. Dit is die rustigheid wat geloof bring, die sekerheid wat daarmee saam kom.

Ferdinand Deist het gebed vergelyk daarmee dat ’n mens inprop by ’n groot kragnetwerk. Dáár kry die gelowige bidder krag om te gaan doen.

As ’n mens regtig glo en bid, begin jy om sáám met die armes en elkeen anders wat in nood verkeer, te huil – en só, vanuit die rustigheid en die sekerheid van die geloof, bring dit jou in beweging om te stry en iets aan die nood en die armoede en die onreg te gaan doen.

Is dít nou nie genoeg rede om op Palmsondag vrolik feestelik te wees nie, al is dit Lydenstyd?

  1. God stuur ons om te leef

Gee geleentheid dat gemeentelede situasies van nood in hulle eie midde of elders voorlê, met die oog op voorbidding en vir ander lede om dalk iets daaromtrent te gaan doen.

Uitsending en seën (nav Joh 20:21):

Voorganger: Soos die Vader Jesus gestuur het
Stuur Hy julle ook.
Vrede vir julle!

Gemeente: Amen.

(Uit: Handleiding vir die erediens. Bybel-Media 2010, bl 62)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.