Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag

Sections

Oorsig

Palmsondag lei Groot Lydensweek in, ’n week waarin die kerk nadink oor die lydensweg van Christus. Iets van die paradoks wat hierdie hele week kleur, word besonder sigbaar as die kerk Jesus se intog in Jerusalem herdenk. Jesus word deur die skare verwelkom met lofliedere en palmtakke, tog kom Hy nie die stad in prag en praal binne nie, maar op die rug van ’n donkie. Hy kom ook nie om die stad met geweld te oorrompel nie, maar om die bitter pad van lyding te stap. Die gemoeds-verandering wat in hierdie week by die skare plaasvind is opmerklik. Dieselfde skare wat op Palmsondag skree: “Loof die Seun van Dawid . . .” omvorm in minder as ’n week in die stemme wat Jesus na sy dood stuur met die woorde: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Dit is onder andere hierdie paradokse en veranderings wat ons in die verhaal opmerk wat bydra tot die wonder en misterie van die evangelie. ’n Evangelie wat vertel van broosheid, gebrokenheid en die dood wat die weg baan tot die lewe. Mag ons in die seisoen nie net krities van die kant af kyk na die verhaal van Jesus wat weer voor ons afspeel nie, maar mag ons onsself ook in daardie skare vind in die dae wat voorlê.

Dit is gebruiklik dat palmtakke sterk figureer tydens hierdie erediens. Gebruik dit in ’n optog deur die strate na die kerkgebou, om die kerkgebou te versier of tydens die lofsang.

Gevlegte kruisies van palmblare word ook op die dag aan gemeentelede uitgedeel.

Verduidelik aan die gemeente met die aanvang van die diens die besondere aard van Palmsondag en die week wat dit inlei.

Ander tekste

(Palm) Psalm 118:1-2, 19-29
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Markus 11:1-11
Die intog van Jesus in Jerusalem

(Matt 21:1–11; Luk 19:28–40; Joh 12:12–19)
11 Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 3En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”

4Hulle het toe gegaan en ’n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”

6Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.

7Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. 9Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!
10Geseënd is ons voorvader Dawid
se koninkryk
wat aan die kom is!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
11Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

(Passie) Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.

Psalm 31:9-16
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Markus 14:1-15:47
Jesus se dood word beplan

(Matt 26:1–5; Luk 22:1–2; Joh 11:45–53)
14 Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ’n plan om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf
(Matt 26:6–13; )
3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ’n vrou gekom met ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai
(Matt 26:14–16; Luk 22:3–6)
10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ’n plan gesoek om Hom by ’n geskikte geleentheid te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Matt 26:17–19; Luk 22:7–13)
12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’15Hy sal julle dan ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”

16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai
(Matt 26:20–25; Luk 22:14, 21–23; Joh 13:18–30)
17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”
20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die instelling van die nagmaal
(Matt 26:26–29; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy ’n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën
(Matt 26:30–35; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:
Ek sal die herder doodmaak,
en die skape sal uitmekaar
gejaag word.
28Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”
29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ’n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
En al die ander het dieselfde gesê.

Jesus in Getsemane
(Matt 26:36–46; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
32Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47–56; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ’n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”

45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ’n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.

47Een van dié wat daarby gestaan het, het ’n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ’n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”

50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

51’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Matt 26:57–68; Luk 22:54–55; 63–71; Joh 18:15–16, 24)
53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.

54Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.

55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ’n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.

57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.
62“Ek is,” het Jesus geantwoord,
“en julle sal die
van die mens sien
waar Hy sit aan die regterhand
van Hom wat magtig is,
en wanneer Hy kom
op die wolke van die hemel.”

63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”
Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”

65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n bietjie!”
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus
(Matt 26:69–75; Luk 22:56–62; Joh 18:17–18, 25–27)
66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”

68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ’n haan gekraai.

69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.

’n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër.”

71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”

72En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”
En hy het in trane uitgebars.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Luk 23:1–5; Joh 18:28–38)
15 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ’n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”

5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Luk 23:13–25; Joh 18:38–19:16)
6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was ’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis ’n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.
12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”
13“Kruisig hom!” skreeu hulle.
14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”
15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Matt 27:27–31; Joh 19:2–3)
16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom ’n pers mantel aan en vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19Hulle het Hom herhaaldelik met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Luk 23:26–43; Joh 19:17–27)
21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22Hulle bring Jesus toe na ’n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ’n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom. 28

29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”

31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”

Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Luk 23:44–49; Joh 19:28–30)
33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.

34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36Een van hulle het toe gehardloop, ’n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ’n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40Daar het ook vroue op ’n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

Fokusteks

Johannes 12:12-16
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf

(Matt 26:6–13; Mark 14:3–9)
12 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Die besluit om Lasarus ook dood te maak
9Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. 10Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, 11omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Mark 11:1–11; Luk 19:28–40)
12Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!”
en:
“Die Koning van Israel!”
14Jesus het toe op ’n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:
15“Moenie bang wees nie, Sion!
Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op ’n donkie.”

16Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.

17Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. 18Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Die tyd van sy verheerliking het gekom

20Daar was ook ’n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”
Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”

30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”

Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Ekstra stof

Drie feeste vorm die agtergrond vir hierdie deel van Johannes, hfst. 8-12:

  1. die Huttefees (7:1-10:21) in die herfs,
  2. die fees van die tempelwyding (10:22-42) in die winter, en
  3. die laaste Paasfees (11:1-12:50) in die lente, wat ook die agtergrond vir die kruisiging en opstandingsgebeure vorm wat later volg.

Die perikope het die volgende temas:

  1. Jesus tree met die Jode in gesprek oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is – 8:12-59.
  2. Jesus genees ’n man wat blind geboreis as teken daarvan – 9:1-41.
  3. Jesus maak Homself bekend as die Goeie Herderwat sy lewe aflê vir sy skape – 10:1-42.
  4. Jesus genees vir Lasarus as teken van sy herderskap en om Homself as die opstanding en die lewe bekend te maak – 11:1-54.
  5. Jesus word gesalf vir sy komende lyding en kom daarvoor in Jerusalem aan vir sy laaste paasfees – 11:55-12:50.

Ons teksgedeelte val dus in hierdie laaste fase.

Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra
Let op hoe die gedeelte ’n geheel vorm.  Dit word in 6 episodes vertel:

  • die pelgrimstog na Jerusalem vir die Paasfees vir die reiniging – 11:55-57;
  • die verhaal van Jesus se salwing met die oog op sy begrafnis deur die nardussalf van Maria – 12:1-8;
  • die verskillende reaksies op Jesus – die toeloop van die skare en die gramskap van die Joodse Raad – 12:9-11;
  • die intog in Jerusalem onder die toejuiging as Koning van Israel – 12:12-19;
  • die Grieksereaksie wat Jesus laat besef dat sy uur gekom het – 12:20-35;
  • die opsomming van Jesus se bediening wat deur beide geloof en ongeloof begroet word en ewige konsekwensies het – 12:37-50.

11:55-57: Die verhaal van die Intog begin met die plattelanders wat vir die Paasfees optrek na Jerusalem vir die reiniging, by die poel van Siloam, en waarskynlik ook by Betesda.  Die eerste ding wat hulle in Jerusalem daarna doen is om vir Jesus te soek.  Hulle wil sien wat gaan gebeur in die konflik met die Joodse Raad.  Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ’n groot groep was wat Jesus ontmoet en in Jerusalem in begelei het.

12:1-8: Jesus doen eers op pad by Betanië aan, waar hy vermoedelik ook in die week gebly het – net 3 km van Jerusalem af.  Dit is ses dae voor die Paasfees, die Sondag van die laaste week van sy aardse lewe.  Dan bewys Maria aan Jesus ’n groot eer deur ’n halfliter baie duur nardusolie te neem en Jesus se voete daarmee te salf, dié voete wat binnekort deur spykers deurboor sou word (’n mens dink ook onmiddellik aan die voetewas episode van hoofstuk 13).  Toe Judas, die verraaier en dief, kritiek daarop lewer, verdedig Jesus dit op grond van die feit dat dit ’n profetiese daad is met die oog op sy begrafnis.

12:9-11: Die gewildheid van Jesus en ook Lasarus sorg vir ’n groot toeloop van mense, maar ook vir die gramskap van die Joodse Raad, wat besluit om ook vir Lasarus dood te maak, om die groeiende beweging in die kiem te probeer smoor.

12:12-19: Op die Maandag versprei die nuus dat Jesus op pad is Jerusalem toe soos ’n veldbrand en ’n skare gaan Hom tegemoet om Hom in Jerusalem te begelei.

Let op die verskillende reaksies in die skare:

  • Sommige is uiteraard geïnteresseerd in die gebeure rondom die wonders (vers 17-18),
  • ander om te sien wat in die konflik met die Fariseërs gaan gebeur (11:56).
  • ’n Groot deel van die skare haal OT gedeeltes aan om Hom as die Koning van Israel te verwelkom (Ps 118:26) en wuif Hom met palmtakke die stad binne, terwyl Hy op ’n donkie ry in vervulling van die profesie (Sag 9:9) – aan die einde van die tyd sal ons Hom ook met palmtakke vereer (Open 7:9).
  • Die dissipels is egter verward oor al dié dinge – onthou hulle was nie lus om te kom nie, omdat hulle die konflik met die Joodse Raad gevrees het – en het dit eers later verstaan, soos Johannes ons inlig.
  • En die Fariseërs is net nog meer oortuig dat hulle Hom uit die weg moet ruim, want die hele wêreld gaan agter hom aan (en die Grieke se storie kom nog!).

12:20-35: ’n Aantal Griekssprekendes (godvresendes?) het ook gekom om die Paasfees te vier en staan ook nader om Jesus te ontmoet.  Let op hoe Filippus (Griekse naam) en Andreas saamwerk om die nuus aan Jesus oor te dra (soos met die eerste ontmoeting by die see, en die verhaal van die broodvermeerdering).

En dan is dit asof alles in plek val – Jesus weet die tyd van sy kruisdood (verheerliking) het gekom, interpreteer vir hulle wat aan die gebeur is, en onttrek Hom van die gedrang.

Let op hoe Jesus die metafoor van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf om vrug te dra op Sy eie bediening van toepassing maak.  Dit verheerlik Hom en maak van Hom ’n man van groot betekenis – die tyd van die nasies het gekom, en vir daardie fase van die bediening om aan te breek, moet Hy die pad van die kruis stap.

Sy ontsteltenis oor die pad wat Hy nou moet loop word egter oorwoeker deur die bewussyn van sy roeping (vir die nasies) wat op dié manier tot sy logiese vervulling kom. En daarmee offer Hy sy lewe op – voor die Joodse Raad ’n hand aan Hom slaan.  Jesus gee Homself dus oor in die dood – op sy eie terme en vrywillig.

En Hy nooi sy volgelinge uit om Hom in dieselfde ontlediging en vrug-deur-dood-dra te volg.  Dit is juis in die vrywillige keuse van opoffering wat die krag van nuwe lewe vir ander lê.  En dit is die opofferende voorbeeld wat mense oortuig van die integriteit en betekenis van Jesus (en enige van sy navolgers) se lewe.

En God verseël sy offergawe met sy goedkeurende stem uit die hemel, wat tot verdere oortuiging lei, nie net vir Jesus nie, maar veral vir die skare wat om Hom saamgedrom is.
Jesus verduidelik weereens vir die skare hoe sy lyding inpas in God se plan, maar met min begrip by hulle.

12:37-50: Johannes sluit dié gedeelte af met ’n terugblik op Jesus se wondertekens wat op verrassende wyse met soveel ongeloof begroet is, en vind die verklaring daarvoor in die profesie in Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6:10) en die beskrywing van die reaksie op die Dienaar van die Here (Jes 53:1) dat ongeloof deel van God se oordeel oor mense se sonde is.

Tog bars daar geloof op verrassende plekke deur – selfs ’n paar lede van die Joodse Raad (onthou Nikodemus en later Josef van Arimatea) het tot geloof gekom, hoewel hulle stil gebly het daaroor om nie uit die sinagoge geban te word soos die blinde man wat genees is en tot geloof gekom het nie.

En Johannes gee ons ’n laaste publieke toespraak van Jesus as opsomming van sy bediening – sommige luister na Hom en kry die ewige lewe; ander luister nie, en sal aan die einde van die tyd geoordeel word (waarna Johannes reeds in sy proloog in Johannes 1 verwys het).

Dit bly aan die een kant ontroerend om Jesus se insig in wat moet gebeur en sy onverskrokke moed om Homself daarvoor te gee, te sien.  Aan die ander kant is dit ongelooflik inspirerend omdat Hy daarmee vir ons ’n model gee van hoe enigiets van betekenis werk – in positiewe rekenaartaal: “wat jy insit, is wat jy uitkry”.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 391 “Vervul o Heer my hart met stille wyding vs 1,3,4,5”

Aanvangswoord
“Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!” (Uit Markus 11)

Groet
Genade en vrede van Hom-
wat in die gestalte
van God was,
wat sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou het as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
maar Homself verneder het
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sal buig,
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.
(Uit Fillipense 2)

Verootmoediging

Dieselfde skare wat geskree het, “Prys Hom!  Loof Hom wat in die Naam van die Here kom, die Koning van Israel”, het toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen nie, geskree, “Kruisig Hom”. Ons dien ’n heeltemal ander God, ’n God wie se wysheid vir die wêreld soos dwaasheid lyk en ’n God wie se krag vir die wêreld soos swakheid lyk. Ons dien ’n God wat oorwin het deur te sterf. Om onsself daaraan te herinner, gaan ons met dieselfde palmtakke wat ons gebruik het om “Prys Hom” te sing, palmkruisies vou. (Die palmkruise kan vooraf gevou word en uitgedeel word of in die diens self gevou word.  Dit is ’n baie lekker familie aktiwiteit, maar maak seker jy oefen die vou van die kruisies voor die tyd met ’n hele paar helpers, min mense kry dit die eerste keer reg. Daar is stap vir stap verduidelikings op die internet.)

Herinnering aan Jesus se intog in Jerusalem

Skriflesing: Markus 11:1-11

Lofsang
Kom ons voeg ons stemme by die van die skare as ons Jesus se lof besing.
223:1-3 “Aan Jesus, koning, al die eer” en/of
547:1-3 “Alle volke, klap julle hande”

Skriflesing: Ou Testament: Jesaja 50:4-7
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Stilte vir nadenke

Nuwe Testament: Johannes 12:23-36
23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”

Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”

30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”

Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Stilte vir nadenke

Liedere

F44. “Bring Hom Hulde”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Bring Hom hulde, bring Hom ere
Bring Hom hulde, ere, lof en majesteit
Soos in die hemele, so ook op die aarde
Aan Jesus alleen kom toe die eer en heerlikheid.

Aan die kruis het Hy die vyand uitgeklee 
en in die openbaar oor hom getriomfeer.
Die poorte van die doderyk is uitmekaar geskeur
en die leë graf verkondig steeds: Hy alleen regeer!

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK:  Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Hosanna in the highest
Teks en Musiek: Carl Tuttle
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
©  Mercy Publishing / Universal Songs

Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)
Teks en Musiek: Stass
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste
Ons sing hosanna want die Koning het gekom
En Hy is hier vir ons
Ons sing hosanna want God het ingetree
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee
Hy is hier vir ons

Refrein:
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my lewe
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my hart

2. Ons sing halleluja want God is op die troon
Ons sing halleluja want die dood het verloor
By die kruis van Jesus
Ons sing halleluja want die lig het gekom
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom
Hy’t gekom vir jou en my

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Lied 254 “Spreek Heer (2X)”

Evangelie: Johannes 12:12-16

Prediking

Familie-oomblik

Reël vooraf met kinders om terwyl die verhaal gelees word met palmtakke en vlae deur die mense te stap en verspreid in die gebou te gaan staan. Sing ’n paar lofprysingsliedere wat spesifiek fokus op Jesus as Koning. Terwyl liedere gesing word, word die palmtakke en vlae gewaai en aan die einde op die grond neergesit. Simbolies van die gooi van palmtakke en klere kry die gemeente kans om tydens die lofprysing hulle offergawes te gee.

Kyk ook by ons preek van 3 Julie 2011 oor Sagaria 9:9-12 vir inligting oor donkies. http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2010-11/categories/5_c591ea94c1fd450c32026e1afce7869d

In bogenoemde preekriglyn verwys ons ook na die video van die donkie Ollie se reis na Jerusalem (laai dit met ‘n gratis FLV Converter program af): http://www.youtube.com/watch?v=24dRZ37-XRk asook na Carike Keuzenkamp se “Donkie se Kerslied”.  Leer dit vir die kinders en laat hulle die vers saam sing!  Die liedjie is om die CD/DVD  “Carike in Kinderland Volume 2”. Jy kan ook die snit vir R8 koop by die Nokia winkel http://music.ovi.com/za/en/pc/Product/Carike-Keuzenkamp/Donkie-Se-Kerslied/12963983 of vir R10 by http://www.lookandlisten.co.za/mp3/track/6067473/DonkieSeKerslied/

Donkie se Kersfees
Ek was maar net ‘n donkie –
‘n donkie, en niks meer.
Tog het daar ook ‘n wonder,
iets wonderliks gebeur.
Vir Iemand maak my lewe
en wat ek doen ook saak.
Het ek my dit verbeel?
My kruis het lig geraak!

Hie-hô, Hie-hô

Op elke donkierug
is daar ‘n kruis.
Ook op ‘n donkierug
kom maak die Heer Hom tuis.

Laat die kinders Palmkruisies maak – as hulle tydens die diens lekker baie maak, kan hulle dit na die tyd vir die gemeente gee!  Kry instruksies hier:  http://www.wikihow.com/Make-a-Palm-Frond-Cross  Daar is stap-vir-stap foto’s, wat jy groter kan maak as jy dit in die powerpoint wil sit.  (Dit lyk vreeslik ingewikkeld, maar as jy dit probeer, sal jy sien dis baie eenvoudig – dan kan jy self vir die kinders wys hoe!)

Preekriglyn

Dit het in Oktober 1991 gebeur.  Die bemanning van die vissersboot Andrea Gail, van Gloucester, Massachusetts, VSA, was 800 km van land af in die Atlantiese Oseaan.  ‘n Kouefront, gepaardgaande met ‘n hoëdruksisteem was aan die opbou.  Hierdie weerstelsel val saam met ‘n inkomende laedruksisteem.  Die invloed van hierdie twee stelsels op mekaar het ‘n kragtige Noordoostewind veroorsaak, wat opsigself al genoeg sou wees om ‘n sterk storm oor die see te veroorsaak.

Naas hierdie twee sisteme, kom Orkaan Grace ook op die toneel.  Dit was soos om petrol op ‘n vuur te gooi.  Die ontsettende tropiese energie van die orkaan span saam met die hoëdruk en lae-druksisteme om die perfekte storm oor die Atlantiese Oseaan te veroorsaak.

Die drie natuurkragte, uit die Weste, Noorde en Suid-Ooste sak op die Andrea Gail toe.  Die siedende winde en onstuimige golwe verbrokkel die vissersboot.  Slegs enkele wrakstukke is later gevind.  Hoewel daar ook ander perfekte storms was, is hierdie een beroemd gemaak deur die boek en fliek getiteld “Perfect storm.”

Perfekte storm in Jerusalem

Wanneer Jesus Jerusalem op ‘n donkie binnery, is ‘n perfekte storm aan die opbou.  Daar is – figuurlik gesproke – drie weersisteme aan die opbou wat Jesus sy lewe binne ‘n week sou kos.  Die eerste sisteem is die mag van die Romeinse Ryk, die tweede die Joodse verwagtings en vrese in Jesus se tyd, en die derde die werk wat God besig was om te doen.

Die punt waar die kragte van hierdie storms gekonsentreer was, was Jerusalem.  Op antieke Joodse kaarte word Jerusalem as die sentrum van die wêreld uitgebeeld, die naelstring waar hemel en aarde bymekaar kom, en waaruit lewe na die wêreld vloei.  In die laaste week voor Jesus se kruisiging, het Jerusalem die fokuspunt van die perfekte storm geword.

Die mag van die Romeinse Ryk

Die wêreldmoondheid van Jesus se tyd was die Romeinse Ryk.  Die mag van Rome het oor die twee tot driehonderd jaar voor Jesus se geboorte stadig maar seker toegeneem.  Maar tot dertig jaar voor Jesus se geboorte was Rome ‘n republiek.  ‘n Gesofistikeerde sisteem van wigte en teëwigte het veroorsaak dat niemand absolute mag gehad het nie.  Rome het eeue vantevore sy tiranne gehad, maar het van hulle ontslae geraak.

Dit het alles met Julius Caeser verander.  “Caeser” was aanvanklik bloot sy familienaam.  ‘n Groot militêre held op die slagveld, het Caeser die ondenkbare gedoen.  Hy het sy weermag Rome toe gebring en homself as oppermagtige gevestig.  Hy het selfs gesuggereer dat hy goddelik is.

Die tradisionaliste was woedend en het Julius Caeser vermoor.  Dit het Rome egter in ‘n bloedige burgeroorlog gewerp, waaruit een persoon as oorwinnaar getree het:  Caeser se aangenome seun, Octavianus.  Octavianus het titel “Augustus” geneem, wat “majestueus” en “eerbiedwaardig” beteken.  Saam met “Caeser” het dit sy, en sy opvolgers, se titel geword.  (Woorde soos keiser en tsjaar is afgelei van Caeser)

Octavianus het verklaar dat sy aanneem-vader, Julius Caeser, inderdaad goddelik was.  Dit het beteken dat hy, Augustus Octavianus Caeser, nou amptelik “seun van god” of “seun van die goddelike Julius” was.  As jy enigiemand in die Romeinse Ryk, van Duitsland tot Egipte, van Spanje tot Sirië sou vra wie die “seun van god” mag wees, sou die polities-korrekte antwoord “Octavianus” wees.

Rome het geweet hoe om godsdiens vir politieke gewin aan te wend.  Augustus het daarom ook die hoofpriester (“pontifex maximus” in Latyn) geword.  Die propaganda-masjien van Rome het begin om die geskiedenis te herskryf.  Die voorstelling was dat Rome na eeue se soeke nou sy hoogtepunt bereik het.  Die goue era het nou begin deur ‘n nuwe kind wat gebore is en deur wie vrede en voorspoed oor die hele wêreld sou versprei.

Augustus self laat oor die hele Ryk inskripsies aanbring wat sê: “Goeie nuus!  Ons het ‘n keiser.  Geregtigheid, vrede, veiligheid en voorspoed is nou vir ewig met ons!  Die seun van god het koning van die wêreld geword!”

Augustus het van 31 v.C. tot 14 n.C. oor die steeds groeiende Romeinse Ryk geregeer.  (Hy was die keiser wat opdrag gegee het dat ‘n volkstelling gehou moes word waarvoor Josef en Maria na Bethlehem moes gaan.)  Na sy dood is hy ook as god verklaar, en sy opvolger, Tiberius, het dieselfde eretitels aangeneem.  Op die munte van daardie tyd het gestaan “Augustus Tiberius Caeser, seun van die god Augustus.”  Dis so ‘n munt wat hulle vir Jesus gewys het toe hy gevra is of hulle belasting aan die keiser moet betaal, of nie.

In Jesus se tyd was Israel deel van die Romeinse Ryk.  Die gehate Romeine het oor God se volk geheers.  Waar ons vandag afhanklik is van olie uit die midde-Ooste, was die Romeinse Ryk afhanklik van graan en ander landbouprodukte uit Israel en omstreke.  Rome kon nie sy eie bevolking voed nie.

Die Jode het na hul vryheid gesmag.  Hulle wou die Romeinse koloniale juk afgooi.  Hulle wou die ware God se koningskap ten volle beleef.  Hulle belange het reëlreg met Rome se belange gebots.

Wanneer Jesus Jerusalem in Johannes 12 binnery, soek hulle ‘n bevryder.  Daarom swaai hulle die palmtakke en sing lofliedere.  Natuurlik sou Rome nie daarmee verlief neem as sy gesag uitgedaag word nie.

Daar is ‘n perfekte storm aan die opsteek.

Joodse verwagtings

Die Jode het oor eeue die verwagting gekoester dat God sal ingryp en God se regering op aarde sal vestig.  Hulle God is die enigste ware God en Hy sal sy goddelike doel met sy volk bereik.  Soos Moses die volk veilig na die beloofde land gelei het, so sal God nou weer ingryp en die volk se lotgevalle verander.  Die bevryding uit die mag van Egipte sal nou – na die ballingskap – weer herhaal word in die bevryding van die Romeinse juk.

Die groot profete het deur die eeue die verwagting lewend gehou dat ‘n koning uit die nageslag van Dawid geregtigheid, vrede en voorspoed sou bring.

Die Paasfees was die godsdienstige fees waar die bevryding uit Egipte herdenk is.  Dit is nou weer Paasfees wanneer Jesus Jerusalem binnery.  Is dit nou die tyd dat Israel weer bevry word?

Die palmtakke het heengewys na die gebeure meer as 150 jaar tevore toe Judas die Makkabeër (letterlik: Judas die Hamer) ‘n bevrydingsbeweging in Israel gelei het.  In daardie tyd het die Siriese koning Antiochus Epifanes die tempel in Jerusalem aan die heidense god Zeus gewy en die Jode geforseer om varkvleis te eet.  Judas die Hamer het ‘n suksesvolle gorilla-strategie oor drie jaar geïmplementeer, die tempel oorgeneem en geheilig.  Judas het die oorwinning met palmtakke gevier.  Sy oorwinning het nie lank geduur nie.  Kort voor lank is die land deur Rome oorgeneem.

Wanneer Jesus Jerusalem binnery, waai die Jode palmtakke om die verwagting te vier dat daar nou weer bevryding gaan kom.  Hulle sing Jesus ook die woorde uit Psalm 118 toe: “Prys hom!  Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!  Die Koning van Israel!”  Soos Moses die Egiptiese Farao uitgedaag het, en Judas die Hamer Antiochus Epifanes aangevat het, so gee die skare nou ‘n kragtige sein aan die Romeinse oorheersers.  “Die ware Koning is hier.  Kyk, dis ons Caeser!”

Daar is ‘n perfekte storm aan die opsteek.

God aan die werk

Jesus se agenda is om die wil van God te doen.  In Jesus kom God se regering na die aarde.  Jesus bring die genesing, geregtigheid en vrede wat God gee.

Wat doen Jesus?  Jesus klim op ‘n jong donkie.  Sou Jesus ‘n tweede Judas die Hamer wees, sou Hy op ‘n oorlogsperd klim.  ‘n Fier oorlogsperd was ook die simbool van Julius Caeser en die Romeinse staatsmag.

Die goddelike kommentaar is duidelik: God se koninkryk kom nie deur mag en geweld nie.  Nie deur die mag en geweld van Julius, Octavianus, Tiberius, Antiochus Epifanes, Judas die Hamer of wie ook al nie, en ook nie deur die verwagte geweld van Jesus van Nasaret nie.

Vergeesteliking gevaarlik

Hier moet ons katvoet loop.  Jesus se nie-gewelddadige keuse om op ‘n nederige pakdier te ry, beteken nie dat Jesus se werk en God se koninkryk ‘n nie-materiële, geestelike saak is nie. God se koninkryk is ook ‘n aardse werklikheid.  Daarom het Jesus sy volgelinge leer bid: “Laat U wil geskied op aarde…”  God se koninkryk is bedoel om op hierdie aarde beliggaam te word – hande en voete te kry.  Dit maak ‘n verskil vir die hier en die nou, hoe groot ons verwagting van God se genesing in die toekomstige nuwe hemel en nuwe aarde ook al is.

Terwyl die lofsange uit Psalm 118 daardie dag by Jerusalem weerklink, sit Jesus met die donkie die noot in vir die wyse waarop die lied van God se koninkryk gesing en gedoen moet word.

Die koninkryk kom nie deur geweld nie, maar deur nederige diens.  Die koninkryk kom nie deur dominasie van bo af nie, dit kom deur diens van onder af.

Jesus beliggaam die koninkryk

Jesus aanvaar die lofsange van Israel se verwagting en eien die swaai van die palmtakke as teken van bevryding toe.  Maar Hy doen dit in die toonaard van die donkie.  Nederige diens en selfverloëning.

Jesus se aanspraak dwarsdeur sy bediening is dat die koninkryk naby kom in die werk wat Hy doen en die lewe wat Hy lei.  Jesus verteenwoordig die werk en bedoelinge van die Vader.  Hy bring vrede, maar dis nie die vrede van die swaard nie.  Dis die vrede van God.  Hy heers, maar Hy heers deur te ly en te sterf en aan die kruis verhoog te word ter wille van ons sonde.  Hy sterf en word begrawe, ter wille van ons.  Hy word opgewek uit die dood en so die eerste teken en seël van die nuwe lewe wat God anderkant die dood gee – ook vir ons wat glo.  Hy vaar op na die hemel en gaan sit aan die regterhand van God waar Hy oor alles regeer.  Ter wille van ons.

Dit alles gebeur in die toonaard van die donkie.  Nederige diens.  Pakdier, wat die las van ander opneem en dit dra.  Werkesel in diens van ander.

Die vroeg-Christelike loflied aan Jesus druk die betekenis hiervan onvergelyklik uit:

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Die uitdagende Jesus

Juis deur hierdie nederige diens aan God die Vader en aan mense is die mees uitdagende daad wat Jesus kon verrig.  Die owerhede van Jesus se tyd het geen vrede gehad met sy styl en aansprake nie.  Jesus raak inderdaad vasgevang in die Romeinse en Joodse tsunami.

Die hoëpriester en die tempelhiërargie het geen vrede met Jesus se aansprake dat Hy die weg tot die Vader is nie.  Hulle gaan nie toelaat dat God se aksie in die wêreld deur Jesus en Jesus se volgelinge plaasvind nie.  Dit bedreig die sentraliteit van die tempel.  Daar is nie plek vir hierdie indringer uit Nasaret nie.

Die Romeinse oorheersers vrees opstand meer as enigiets anders.  Die mite dat Augustus god is, en dat vrede en voorspoed deur die Romeinse ryk kom, laat hom nie uitdaag nie.  Wanneer Pilatus gekonfronteer word met die moontlikheid van ‘n volksopstand deur die Jode, weet hy goed wie hy met geweld moet uitsorteer.  Jesus kry die straf wat hulle gekry het wat die Romeinse staatsgesag uitgedaag het.  Hy word gekruisig.

Daar is nie plek op die aarde vir nederige diens in gehoorsaamheid aan God, soos beliggaam deur Jesus nie.  Die gewaande gode en maghebbers wat alles verstaan van politieke palmtakke en oorlogsperde kan dit nie uithou hiermee nie.

God se aksie, soos beliggaam deur Jesus, laat Jesus die volle geweld van ‘n eerste-eeuse perfekte storm beleef.  Dit kos Jesus sy lewe.  Hy word tereggestel.  Hierdie teregstelling aan ‘n kruis word egter die boom van lewe waaruit strome van seën vloei

Jesus is Keiser

Die uiters gewelddadige dood van Jesus, is die oorwinning van die donkie oor die perd.  Sy vermorseling aan die kruis word deur God omskep in die vermorseling van gewelddadige politieke aksie.  Die tempel word in 70 n.C. verwoes en nooit weer herbou nie.  Jesus is in sy persoon die weg tot die Vader.  Die Romeinse ryk word self verpletter teen die kruis.  Binne drie eeue is die aansprake dat die vrede deur goddelike Caesers kom aan skerwe.  Die Romeinse ryk word Christelik.

Dit het geweldige stryd en opoffering van Christene geverg.  Baie bloed van martelare het gevloei op grond van hul getuienis oor Jesus en hul trou aan Jesus.

Die weerstand teen valse goddelike aansprake, magsvertoon, dwang, misbruik van mag, en selfsug is beliggaam in die aanspraak: “Jesus is die Here!” Die Griekse woord vir “Here” is “Kurios” – die Griekse vorm van die Latynse ” Caeser.”  Reg van die begin was die Christelike aanspraak: Jesus is Caeser.  Jesus regeer.  Jesus verdien ons hoogste trou en gehoorsaamheid.

Ons keuse

Ons het vandag keuses oor die wyse waarop ons ons lewens belyn.  Ons kan ons aan die “empire,” die styl en agenda van die groot magte in die samelewing belyn.  Ons kan ingestel wees op die inpalm van soveel mag as moontlik, om ons eie lewe te beveilig.  Ons kan die Romeinse weg volg.

Ons kan ons eie tempels bou en die aanspraak dat ons kerk of ons gemeente of ons godsdienstige programme die weg tot die Vader is probeer volhou.

Of ons kan van ons agendas vergeet en vir Jesus volg.  Deur nederige, selfopofferende diens.

In ‘n onlangse voordrag sê die moderator van die Gereformeerde Kerk in Japan, ds Yoshida, dat die verwoestende, perfekte tsunami van 2011 hom geleer het hoe belangrik, uitdagend en hoopvol dit is om die Onse Vader te bid, op die rug van ‘n donkie, dienend, soos Jesus:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel….

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Dit sal goed wees om die doopgeloofbelydenis op die Sondae in Lydenstyd te gebruik:
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees.
(Uit Basisliturgie in Lydenstyd, Preekstudies 2012 (Bybel-Media))

Wegsending: Lied 406 “Ons loof U Vader op die troon vs 1,2,3,4”

Seën
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
(Uit Psalm 118)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.