Sesde Sondag in Lydenstyd / Palmsondag

Sections

Oorsig

Ander tekste

(Palm) Psalm 118:1-2, 19-29; Matteus 21:1-11; (Passie) Jesaja 50:4-9a; Psalm 31:9-16; Filippense 2:5-11 of Matteus 27:11-54

Fokusteks

Matteus 26:14-27:46
Jesus se dood word beplan
(Mark 14:1–2; Luk 22:1–2; Joh 11:45–53)
26 Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: 2“Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” 3In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. 4Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 5Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf
(Mark 14:3–9; Joh 12:1–8)
6–7Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het ’n vrou by Jesus gekom met ’n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.

8Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so ’n verkwisting?” vra hulle. 9“’n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.”

10Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. 11Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. 12Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. 13Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai
(Mark 14:10–11; Luk 22:3–6)
14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Mark 14:12–21; Luk 22:7–14)
17Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’“

19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

Jesus wys sy verraaier aan
(Mark 14:17–21; Luk 22:21–23; Joh 13:21–27)
20Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”
Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die instelling van die nagmaal
(Mark 14:22–26; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
26En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Petrus sal Jesus verloën
(Mark 14:27–31; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:
‘Ek sal die herder doodmaak,
en die skape van sy kudde sal
uitmekaar gejaag word.’

32Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

33Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

34Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”

35Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
Al die ander dissipels het ook so gesê.

Jesus in Getsemane
(Mark 14:32–42; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
36Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42’n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44Hy het hulle weer alleen laat bly en ’n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Mark 14:43–50; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
47Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was ’n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48Die verraaier het met die manne ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” 49Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. 51Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. 52Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek ’n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”
Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Mark 14:53–65; Luk 22:54–55; 63–71; vgl Joh 18:13–14; 19–24)
57Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. 58Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”
64Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
Van nou af sal julle
die Seun van die mens sien
waar Hy aan die regterhand sit
van Hom wat magtig is,
en julle sal Hom sien kom
op die wolke van die hemel.”

65Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. 66Wat dink julle?”
Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap 68en gesê: “Jy is mos ’n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

Petrus verloën Jesus
(Mark 14:66–72; Luk 22:56–62; Joh 18:15–18; 25–27)
69Petrus het buite in die binnehof gesit toe ’n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

70Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

71Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ’n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

72Weer het Petrus dit ontken en met ’n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

73’n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. ’n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

74Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

75En op daardie oomblik het daar ’n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word aan Pilatus uitgelewer
(Mark 15:1; Luk 23:1–2; Joh 18:28–32)
27 Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

Die dood van Judas
(Hand 1:18–19)
3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man verraai.”
Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

Jesus voor Pilatus
(Mark 15:2–5; Luk 23:3–5; Joh 18:33–38)
11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14Maar Jesus het hom op geen enkele woord ’n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Mark 15:6–15; Luk 23:13–25; Joh 18:39–19:16)
15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ’n vreeslike droom oor hom gehad.”

20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” antwoord hulle.

22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Mark 15:16–20; Joh 19:2–3)
27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ’n pers mantel om. 29Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ’n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Mark 15:21–32; Luk 23:26–43; Joh. 19:17–27)
32Toe hulle uitgaan, kry hulle ’n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by ’n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom ’n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”
44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Mark 15:33–41; Luk 23:44–49; John 19:28–30)
45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ’n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55Daar was ook baie vroue wat op ’n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

Jesus word begrawe
(Mark 15:42–47; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
57Laat die middag het daar ’n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ’n volgeling van Jesus was. 58Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai 60en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

Die graf word bewaak
62Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’64Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle ’n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Ekstra stof

Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën
Ons kom by die laaste drie hoofstukke van Matteus, die slot van sy evangelie, hoofstuk 26-28. Alles wat hy tot dusvêr vir ons vertel het, mond uit op:

  • die omvattende Lyding van Jesus – hoofstuk 26. Dit sluit sy verwerping deur die Joodse leiers en sy dissipel Judas, sy worsteling in Getsemane en sy gevangeneming, sy verhoor deur die Joodse Raad en die verloëning deur Petrus in, sowel as die salwing vir sy begrafnis en die laaste Pasga saam met sy dissipels wat op die instelling van die Nagmaal uitloop.
  • die onskuldige Kruisiging van Jesus – hoofstuk 27. Dit sluit sy oorlewering aan Pilatus, sy ondervraging, sy oorlewering vir die kruisdood in stede van Barabbas, sy bespotting deur die soldate en uiteindelik sy kruisiging op Golgota, sy sterwe en begrafnis in. Die hoofstuk vertel ook van die selfdood van Judas.
  • die verrassende Opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hoofstuk 28. Die enigste getuies van die Opstanding waaroor Matteus uitbrei, was Maria Magdalena en Jesus se ma Maria. Daarna haas Matteus hom na die laaste opdrag wat Jesus gee met sy Hemelvaart, die opdrag wat as die Groot Opdrag bekend sou word. Die leuens van die Jode oor die opstanding van Jesus word ook in die verbygaan vermeld.

Jesus word verwerp deur die Joodse leiers – 26:1-5
Twee gesprekke vind ná Jesus se profetiese rede plaas, waarskynlik op die Woensdag. Die een is tussen Jesus en sy dissipels om die Pasga (vgl. Eks 12) te reël wat oor twee dae sou plaasvind. Die ander is tussen die leierpriesters en die familiehoofde om die kruisiging te reël wat oor twee dae voltrek sou word.

Let op dat hulle eintlik nie wou hê dat Jesus se dood op die Paasfees moes plaasvind nie, maar dat Jesus duidelik is daaroor dat dit juis die tyd vir sy kruisiging sal wees, soos Hy vir sy dissipels inlig. Hulle slinkse planne speel dus ironies genoeg in God se hande.

Jesus word gesalf vir sy begrafnis – 26:6-13
In die huis van Simon, ’n geneesde melaatse, in Betanië, salf ’n ongenoemde vrou, waarskynlik Maria (Joh. 12:3), die suster van Marta en Lasarus, Jesus se kop met ’n albasterfles baie kosbare reukolie. Op die dissipels se verontwaardiging dat die armes eerder hierby kon baat vind, prys Jesus die simboliek van die daad in die konteks van sy begrafnis.

Jesus word verraai deur sy dissipel Judas – 26:14-16
Vir dertig denarii verraai Judas vir Jesus, ’n bedrag van ongeveer R3 000 in vandag se terme – gegewe dat ‘n denarius die normale dagloon van daardie tyd was en met die aanname dat R100 ‘n minimum loon vandag verteenwoordig. Matteus wy nie uit oor die redes vir sy verraad nie.

Jesus hou die laaste Pasga saam met sy dissipels – 26:17-25

Die laaste Pasga word die Donderdagaand gehou in Jerusalem by nog ’n ongenoemde persoon se huis, waarskynlik Maria s’n (Hand. 12:12), die ma van Johannes Markus wat later saam met Paulus en Barnabas sou reis en vir die evangelie van Markus verantwoordelik sou wees.

Onthou die Joodse dag het altyd die vorige aand begin, d.w.s. Donderdagaand het die Vrydag ingelui, soos Vrydagaand die Sabbat ingelui het. Dit was daarom ook die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood (Eks 12).

Jesus se bekendmaking van iemand wat Hom gaan verraai, is ontstellend vir die dissipels, maar natuurlik uiteindelik ’n nagmerrie vir dié een wat Hom sal verraai, soos in hoofstuk 27 vertel sal word. “Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” sê Jesus oor Judas, sodat net hy die boodskap kry, maar nog nie die ander dissipels nie.

The line between commitment and betrayal can be a thin one as the disciples themselves were to discover in the very near future.” (Hagner, Word kommentaar).

Jesus stel die Nagmaal in – 26:26-30
Jesus transformeer dié Pasga ete deur gewone elemente van die Pasga maaltyd, brood en wyn, te neem en die voortdurende viering daarvan met sy dood te verbind waardeur Hy ’n verbond met hulle en dié wat ná hulle sou kom, sluit tot vergifnis van sondes. Dié Nagmaal is ook vir Jesus ’n moment van beslissing, ’n eie verbintenis, dat Hy self nie weer brood en wyn sal geniet, totdat Hy dit met die volle aanbreek van die koninkryk van sy Vader, weer saam met sy dissipels sal kan doen nie.

Jesus voorspel dat Petrus en die ander dissipels Hom sal verloën – 26:31-35
Let op dat dit nie net Petrus is wat dié nag sy lojaliteit aan Jesus sal verbreek nie, maar de laaste ander dissipel. “Julle almal sal in hierdie nag oor My struikel.” Jesus haal Sag. 13:7 aan as bevestiging van sy verwagting van verwerping. Petrus sal Jesus baie prominent verloën. Maar, Hy gee ook die hoopvolle opdrag dat Hy hulle weer in Galilea sal ontmoet, ná Hy opgewek is uit die dood.

Jesus worstel in Getsemane – 26:36-46
Die drie dissipels wat die ervaring op die berg van verheerliking gehad het, is dié keer saam met Jesus in Getsemane, maar kry dit nie reg om Hom by te staan in die geweldige worsteling wat Hy het om die beker van lyding wat vir Hom voorlê, te drink nie. Hy onderwerp uiteindelik Homself aan die wil van die Vader, ’n keuse wat Hy lank gelede reeds gemaak het, maar nou ’n realiteit word. Hy sê ja vir die bestemming wat God vir Hom het, die verlossing van die wêreld deur die dood aan die kruis.

Jesus word in hegtenis geneem in Getsemane – 26:47-56
Judas verraai Jesus met ’n soen terwyl Jesus hom as vriend aanspreek – hoe ironies! Jesus weier egter om met geweld daarop te reageer en leer selfs in sy oomblik van grootste nood sy dissipels om dieselfde te doen. Dit is nie dat Jesus nie die vermoë het om met geweld te reageer nie. Hy het immers meer as twaalf legioene engele tot Sy beskikking. ’n Legioen was 6 000 mense sterk, d.w.s. 72 000 engele! Dit dui dus op ’n groot getal. Maar, Hy kies om die pad van die Skrif te volg, die pad van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring. En Hy laat hulle toe om Hom in hegtenis te neem.

Dit is egter te veel vir die dissipels se lojaliteit en moed en hulle slaan op die vlug.

Jesus word verhoor deur die Joodse Raad – 26:57-68
Jesus verskyn dan voor die Joodse Raad en uiteindelik met twee valse getuies wat Jesus se woorde oor die afbreek van die tempel van God verdraai as lasterlik, word Jesus tot die dood veroordeel.

Dit is duidelik dat die Joodse leiers bevooroordeeld teenoor Jesus was en dat dié verhoor nie aan die eise van geregtigheid voldoen het nie. Hulle wou egter alles in hulle vermoë doen om Jesus se stem so vinnig as moontlik stil te maak, sodat Hy nie nog ’n groter impak in Jerusalem sou hê nie. Dat Jesus erken dat Hy die Seun van God is, al is dit retories: “Ú het dit gesê,” is genoeg rede vir hulle om Jesus oor te lewer aan die Romeine om die doodsvonnis te voltrek. Jesus haal boonop uit Daniël 7:13 aan en identifiseer Homself met God self wat al is wat die hoëpriester nodig het om sy lot te beseël.

Jesus word verloën deur Petrus – 26:69-75
Die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus laat ons sin vir regverdigheid opvlam, maar die wyse waarop Petrus Jesus in die steek laat deurdat hy nie die moed het om selfs te erken dat hy Hom ken nie, maak ’n mens net hartseer. Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee. Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim 1:7).

Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe
Matteus vertel die laaste dag van Jesus se lyding in nege episodes. Dit strek van die besluit om Hom dood te maak deur die leierpriesters en familiehoofde (27:1-2) – let op dat dit almal van hulle was – sluit die selfdood van Judas in (27:3-10) en beweeg deur die ondervraging van Pilatus (27:11-14), sy oorlewering van Jesus om gekruisig te word (27:15-26), wat die bespotting deur die soldate insluit (27:27-31) tot by sy kruisiging self (27:32-44). Jesus sterf net ná drie die Vrydagmiddag (27:45-56) en word begrawe in die graf van Josef van Arimatea (27:57-61) met die Joodse leiers wat die graf beveilig teen enige moontlike menslike ingrype om dit te laat lyk asof Jesus opgestaan het (27:62-66).

Die leierpriesters en familiehoofde besluit om Hom dood te maak – 27:1-2
Vroegdag breek die nuus dat die Joodse leiers teen Jesus ’n besluit geneem het om Hom dood te maak. Hulle kon egter nie die doodstraf uitvoer nie en moet Hom oorlewer aan Pilatus, die prokurator wat namens die Romeinse keiser in beheer van Palestina was.

Judas pleeg selfdood – 27:3-10
Judas se spyt kom te laat. Ek weet nie wat hy gedink het nie, maar sy verraad het tot die veroordeling van Jesus gely en die feit dat hy die geld teruggegee het, kon nie sy bose daad ongedaan maak nie. Hy neem daarom sy eie lewe met die leierpriesters wat die “bloedgeld” vir ’n begraafplaas vir vreemdelinge aangewend het. Matteus sien in dié gebeure ’n vervulling van ’n profesie van Sagaria 11:12-13. Hy noem verkeerdelik dat dit Jeremia is, waarskynlik omdat die verwysing na ’n pottebakker hom aan Jeremia laat dink het (vgl. Jer. 18 en 32).

Pilatus ondervra Jesus oor sy koningskap – 27:11-14
Pilatus ondervra Jesus oor sy koningskap, maar volgens Matteus het Hy hom niks geantwoord nie tot verwondering van Pilatus. Sy waardigheid in die aangesig van die aanslag op Hom, beïndruk hom. Soos die Joodse leiers Hom aan die kruis wil sien, is Jesus se fokus ook op die kruis. Waar hulle Hom wil seermaak, wil Hy die hele wêreld genees deur hierdie daad. Dieselfde houtkruis, totaal verskillende doelwitte.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word eerder as Barabbas – 27:15-26
Onthou dat dit Paasfees is en volgens gebruik mag ’n gevange vrygelaat word. Pilatus probeer Jesus vrylaat deur die skare ’n keuse tussen Jesus van Nasaret en ’n berugte gevangene Jesus Barabbas (dit is onseker of sy naam ook Jesus was) te gee. Dit is tragies dat hy geweet het dat die Joodse leiers afgunstig op Jesus was en boonop nog deur sy vrou gewaarsku is om nie onregverdig op te tree nie en hy nogtans sy hande in onskuld was en Jesus laat gesel en oorlewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus – 27:27-31
Die soldate dryf op liederlike wyse met Jesus se koningskap die spot – waarna Hy weggelei word om gekruisig te word – min wetende dat hulle eendag voor Hom as ware Koning sal staan en geoordeel sal word.

Jesus word gekruisig – 27:32-44
Die verhaal van Simon van Sirene word hier vertel – moontlik dieselfde man wat later in Antiogië een van die leraars was – wat Jesus help met sy kruis (Hand. 13:1). Jesus kry ’n verdowingsmiddel – ’n wyn-gal mengsel – wat hy nie wou drink nie. Sy klere word verdeel en bo sy kop die klag teen Hom aangebring: “Hy is Jesus, die koning van die Jode.” Die ironie is skreiend!

Anders as die ander evangeliste spot albei rowers met Jesus, soos ook die verbygangers, leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. As hulle maar net geweet het, hoe waar dit is wat hulle spottenderwyse sê. Jesus kan inderdaad Homself nie red nie, want dan sou Hy nie die vermoë hê om ander te rede nie!

Jesus sterf net ná drie die Vrydagmiddag – 27:45-56
Die finale uur het vir Jesus aangebreek, laat die Vrydagmiddag, om ongeveer drie-uur. Net na die duisternis oor die hele land het Hy na God geroep en sy laaste asem uitgeblaas.

Die voorhangsel skeur as ’n getuienis daarvan dat die toegang tot God vir almal geopen is en die grafte van baie ontslape heiliges het oopgegaan en van hulle is opgewek, as voorafskaduwing van die opstanding van Jesus. Die Romeinse hektatontarg, ’n offisier oor honderd manskappe, kom tot inkeer en sê: “Waarlik, hierdie man was God se Seun.”

Let op die vroue wat by die kruis genoem word, want van hulle sal ook die eerste wees wat getuies van die opstanding van Jesus sou wees: Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, wat natuurlik ook Jesus se ma was (Matt. 13:55), en die ongenoemde moeder van die seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, wat moontlik die naam Salome gehad het (Mark. 15:41).

Dit is betekenisvol dat die vroue by die kruis is tot aan die einde. Al die dissipels het gevlug, maar die vroue het gebly!

Jesus word begrawe in die graf van Josef van Arimatea – 27:57-61
Die ryk dissipel van Jesus, Josef van Arimatea, nader vir Pilatus en laat Jesus in ’n nuwe graf begrawe. Maria Magdalena en Maria het by die graf gewaak nadat ’n groot klip oor die opening gerol is.

Die Joodse leiers beveilig die graf teen menslike ingrype – 27:62-66
Die Saterdag is ’n wag van soldate deur Pilatus gegee op versoek van die leierpriesters en Fariseërs om die graf te beveilig, omdat hulle bang was dat die dissipels die liggaam sou steel sodat hulle sou kon sê dat Jesus opgestaan het. Die feit was dus redelike algemene kennis, dat Jesus gesê het dat Hy gaan opstaan. En op ironies wyse versterk die Joodse leiers dié gedagte met hulle vrees vir iets wat na die opstanding kan lyk.

Liturgie

Op hierdie Sondag (lydenstyd 6) word daar gewoonlik ‘n keuse gemaak tussen ‘n viering van Palmsondag (intog in Jerusalem) of Passiesondag (die hele lydensverhaal tot by die kruisiging). Die skriflesing is laasgenoemde. Die preek slaan egter ‘n brug tussen die intog en lyding, wat ‘n mens ook dmv die liturgie kan doen (sien in die verband ook Woord en fees).

Kyk ook gerus na die volledige Palmsondag liturgie in Bybel-Media se Handleiding vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2010, bl. 303ev.

RUS

Palm-prosessie: Lied 545 of Flam 82

Votum: (n.a.v. Psalm 118)

Seëngroet

Lofsang
Lied 370 of Vonkk 100 of Flam 63

Geloofsbelydenis: (uit Handleiding vir die Erediens)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 26:14-27:46

LEEF

Gebed (Litanie gebaseer op die “Stasies van die kruis” uit Handleiding vir die Erediens.)

Dankoffer

Slotsang: Lied 389 of Flam 192

Seën

Respons: Lied 370 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Palm-prosessie
Lied 545 Jesus komna Jerusalem toe (oorweeg om die koor die verse te laat sing, gemeente die refrein, of kanon tussen koor en gemeente of verskillende groepe in die gemeente)
of
Flam 82 “Hosanna
As dit enigsins moontlik is, kan dit goed wees as die hele gemeente die kerkgebou met palmtakke binnekom. Jy kan ook reël dat die koor singend binnekom terwyl sommige lede palmtakke swaai. Nooi veral die kinders om saam te stap – dalk kan die koor sing en die kinders die takke swaai. Wees kreatief met wie en hoe daar aan die prosessie deelgeneem word. Wees egter versigtig om nét kinders aan die prosessie te laat deelneem – dit skep die idee dat dit net “vir die kinders” is, terwyl die hele gemeente die intog herdenk.

Votum: (n.a.v. Psalm 118)
Kind: Loof die Here, want Hy is goed,
Gemeente: aan sy liefde is daar geen einde nie!

K: Israel moet getuig:
G: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

K: Die huis van Aäron moet getuig:
G: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

K: Dié wat die Here dien, moet getuig:
G: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

K: Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.
G: Begin die fees! Wuif met takke!

K: U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed,
G: aan sy liefde is daar geen einde nie.

Seëngroet

Lofsang
Lied 370 vv 1, 4-5 “Eng’le uit die hoogste hemel” (oorweeg weer om die koor die vers te laat sing, gemeente refrein, of wisselsang) of
Vonkk 100 “By die intog in Jerusalem” of
Flam 63 “Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)”

Geloofsbelydenis: (uit Handleiding vir die Erediens)
Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader,
Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en hy stel hom aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het hom tot die hoogste eer verhef en hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buit en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.
G: Amen.

Liedere

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)Teks en musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste.
Ons sing hosanna want die Koning het gekom.
En Hy is hier vir ons.
Ons sing hosanna want God het ingetree.
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee.
Hy is hier vir ons.

Refrein:
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my lewe.
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my hart.

2. Ons sing halleluja want God is op die troon.
Ons sing halleluja want die dood het verloor
by die kruis van Jesus.
Ons sing halleluja want die lig het gekom.
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom.
Hy’t gekom vir jou en my.

Refrein:

VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem (kanon)”
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010 Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Lydenstyd (Palmsondag) / Kindwees

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

F63. “Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Chardi Visser © 2009 MAR Gospel Music
(Opgeneem op Uitverkoop)

Hoe goed is die Heer.
Hoe goed is u wysheid en krag.
Hoe goed is u guns en genade oor my elke dag.
Ek sal U loof, ek sal U eer.

Refrein:
Hosanna in die hoogste hemele.
Hosanna aan die Koning.
Hosanna ook hier oop die aarde.
Hosanna sal ons sing.

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd) Teks en musiek: Jan de Wet
© 2002 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 26:14-27:46
Hierdie is ’n baie lang skrifgedeelte en kan vir enige iemand (nie net kinders) ’n uitdaging wees. Dis dalk ’n goeie idee om gedeeltes te kies. Kry verskillende lesers vir verskillende “afdelings” van die storie. Laat hulle op verskillende plekke in die gebou staan.
Of wys ’n video, soos hierdie gedeelte uit die Matteus-video.

Familie-oomblik

Soos altyd is dit belangriker dat kinders die Bybelverhale hoor, eerder as ’n lessie daaroor. Moenie bang wees om gewoon die storie van die intog in Jerusalem of die passie (of dele daarvan) te vertel nie. Of fokus op die oorgang van Palm na Passie: toe Jesus in Jerusalem inry, steek almal hul vingers in die lug (amper soos die spons vingers by sportbyeenkomste): “Jesus is nommer een! Jesus is nommer een!” Maar kort daarna word dieselfde vingers veroordelend teen Jesus gedraai: “Kruisig hom!”

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek werk met ‘n kleiner afbakening van die teks, nl. Matteus 27:27-44]
Ons teks vertel die somber verhaal van die bespotting van Jesus. Die aanloop tot kruisiging, en die kruisiging self, was daarop gemik om die veroordeelde na liggaam en gees te breek. Dit is bedoel om die mens in sy diepste wese te verkrag en te verwerp. Ons sien hoe alles in ons teks daarop gemik om Jesus te verneder en Hom met skande uit die weg te ruim.

Palmtakke

Verstommend genoeg het die mense van Jerusalem Jesus ‘n paar dae vantevore toegejuig en hulde aan Hom betoon. In Matteus 21 word vertel van die intog van Jesus in Jerusalem. Jesus het op ‘n donkie gery, ‘n teken van nederigheid. Tog het ‘n groot skare versamel. Sommige het klere op die pad oopgesprei, terwyl ander palmtakke op die pad gelê het. Dit is ‘n teken van hulde en verering.

Die skare wat Jesus op hierdie dag omring, roep:
Hosanna vir die Seun van Dawid
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.
Hosanna in die hoogste!

Toe Jesus Jerusalem binnegaan, vertel Matteus, was die hele stad in rep en roer oor die profeet Jesus van Nasaret in Galilea.

Van eerbetoon na verwerping

Skaars ‘n paar dae later verwerp Jerusalem Jesus. Wanneer Jesus op aanklagte voor goewerneur Pilatus verskyn, laat hy die skare kies tussen Jesus en die berugte misdadiger Barabbas. Aangevuur deur die priesterhoofde en familiehoofde skreeu die skare oor Jesus: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Daarop lewer Pilatus Jesus oor, word Hy gegesel, deur die soldate bespot met ‘n koningkleed, ‘n doringkroon en ‘n riet vir ‘n koninklike septer. Só beland die onskuldige Lam van God aan die kruis, bespot en verlate. Sy klere is weggeneem. Hy is gemartel. Hy dra ‘n doringkroon. Die woorde van Lied 389 kom onwillekeurig by mens op:
Is dit, is dít my Koning –
Kyk daar, aanskou die Mens!
Is dit, is dít sy kroning –
Wie het dit só gewens?
Is dit sy koningshulde –
Dié riet, dié kleed, dié kroon?
Boet Hy só vir my skulde,
Word só Gods Seun vertoon!

Bespotting

In sy lydensverhaal fokus Matteus nie net op die onskuld van Jesus, en sy verwerping nie. Die geleenthede waarop Jesus bespot is, vorm ‘n belangrike tema in Matteus se verhaal oor Jesus se verhoor en kruisiging:

  • Tydens die verhoor voor die hoëpriester spoeg die mense Jesus in die gesig, slaan Hom met die vuis, klap Hom en sê as profeet moet Hy sê wie Hom geslaan het (26:67);
  • Die soldate bespot Jesus met ‘n nagebootste koningskleed, riet as septer en doringkroon. Hulle buig spottend voor Hom en noem Hom Koning van die Jode;
  • Aan die kruis laster en bespot die verbygangers Jesus. As Hy die tempel kan afbreek en in drie dae kan opbou, en die Seun van God is, kan Hy Homself sekerlik van die kruis red;
  • Die Skrifgeleerdes en familiehoofde spot Jesus ook. Hy is dan die koning van Israel en die Seun van God – Hy kan sekerlik van die kruis afkom.

Al die belangrike titels vir Jesus funksioneer in die bespotting: profeet van God, Seun van God; Koning van die Jode; tempelbouer (die Een deur Wie ons gemeenskap met God het); en Koning van Israel.

Die skokkende is dat die omstanders die woorde nie bedoel nie. Tog is dit waaroor Jesus besport word, presies dit wat ons van Hom glo. Dit is presies soos die Bybel Hom aan ons bekendstel.

Fyn lyn tussen spot en geloof

Daar is inderdaad ‘n dun lyn tussen geloof en bespotting. Die ongeloof waarmee die spotters Jesus gadeslaan sit juis agter hulle bespotting. Vir hulle maak wat Jesus van Homself sê geen sin nie. Hulle kan nie daarmee rekening hou dat dit waar is nie. Daarom verwerp hulle Jesus.

Diegene wat met die oë van geloof na Jesus kyk, sien in hierdie titels die waarheid oor Jesus. Natuurlik was dit op daardie verskriklike Vrydag, toe Jesus gekruisig is, moeilik om deur die oë van geloof na Hom te kyk, en aan God vas te hou. Daarom vlug die dissipels, verloën Petrus vir Jesus, en het Judas Hom die vorige dag verraai. Slegs enkelinge, waaronder die vroue, bly by Jesus staan.

Daar is ‘n dun lyn tussen verraad, verloëning, spot en geloof.
Toe God die dooie Jesus uit die graf optel en lewend maak, blyk die waarheid oor Jesus. Sedertdien kan almal sien dat Jesus se vertroue op God nie verniet was nie. Sy gehoorsame dood het tot die lewe gelei. Sedertdien kan almal sien dat Hy die Seun van God is, en dat God inderdaad behae in Hom het.

Sedert die opstandingsdag moet mens doelbewus kies vir ongeloof en bespotting. Want die getuienis is daar dat Jesus inderdaad die Seun van God, die Koning van Israel, die boodskapper van God, die Een met die koningskleed en die koninklike septer in sy hand.

Die sinvolle ding is om soos die ongelowige Tomas te sê: “My Here en my God!”

Jesus se reaksie op die bespotting

Dit is opvallend dat Jesus nie reageer op die bespotting nie. Hy bly stil. Hy vertrou inderdaad op God en weet dat God Hom op die regte tyd sal red en verhoog. Hy laat sy verdediging aan God oor. Soos inderdaad op Paassondag en met Hemelvaart gebeur het.

Ons sou dit waarskynlik anders hanteer. Die slagoffer van ‘n boelie word bv. aangemoedig om die boelie op sy plek dit te sit. Ons kry ander met geweld en weerwraak terug. Ons wil dit ook sien gebeur, die seermaak van die een wat seermaak.

Ons glo in geweld. Geweld red. Dit laat mens dink aan Al Kaïda wat Amerikaanse geboue platgevlieg het. Toe skiet die Amerikaners ‘n land of twee plat.

Ons sou ook verleë gestaan het voor die kruis. Jesus word juis uitgedaag word met geweld te reageer, los te kom van die kruis, te toon dat God aan sy kant is. Maar Hy doen dit nie. Waarom? Omdat Hy vas hou daaraan dat sy Vader getrou is en ook sy eie mag aan sy Vader oorgee. Dit verg ongelooflik naie moed om God toe te laat om reg te doen.

Daarmee leer Jesus ons die krag van geweldlose reaksie. Dit is die reaksie wat bid vir diegene wat jou vervolg, en wat weet dat vredemakers geseënd is.

Geweld ontmasker

Jesus leer ons deur sy reaksie hoe om mag en gesag in die lig van God se koningskap te verstaan. Jesus reageer nie-gewelddadig, en sterf aan die kruis. Daarmee val die Romeinse Ryk. Die Romeine het geweet hoe om rebelle vernederend aan die kruis dood te maak. Hulle het nie geweet wat om te doen met die Seun van God wat sy lewe in diens van God aan die kruis aflê nie. Hulle het nie geweet wat om te doen met iemand wat nie-gewelddadig reageer en daarmee geweld ontmasker nie.

Die Romeinse Ryk loop hom letterlik te pletter teen die kruis van Jesus. Na sy opstanding begin al hoe meer Romeine Jesus volg, en kies vir Jesus se lewe van nie-gewelddadige gehoorsaamheid aan God. Uiteindelik is Jesus ook die Koning van die Romeine.

Werklike mag is dus nie gewelddadige krag nie. Werklike mag is om God te gehoorsaam en die wil van God te doen. Die kruis demonstreer hoe leeg die politieke verstaan van mag is. Daarom moet ons as kerk ook versigtig wees om nie ‘n verkeerde verstaan van mag aan te hang nie. Dit is nie ons getalle, ons geld en die grootte van ons programme wat aan ons mag gee nie. Dit is nie die regsien van mense wat ons nie aanstaan nie, wat ons saak gaan bevorder nie.

Die mag wat Jesus uitbeeld, gehoorsame vertroue en toewyding aan God, is dikwels steeds vandag vir die kerk en gelowiges ’n aanstoot. Die kruis moet ons juis lei tot kritiek op enige vorm van gewelddadige uitoefening van mag, anders word ons maar weer die goewerneur, soldate, skares en rebelle in die verhaal.

Volg Jesus na

Laat ons die lydende Jesus navolg in ons lewe van elke dag. Die woorde uit Hebreërs 12 kom onwillekeurig by mens op:

Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (Hebreërs 12:1b-3)

God stuur ons om te leef

Gebed (Litanie gebaseer op die “Stasies van die kruis” uit Handleiding vir die Erediens.)

Voorganger (V): Here, U het vir u dissipels gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg.” In u Naam bid ons:
Gemeente (G): Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

V: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u woord verwerp en u onskuld verag is.
G: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

V: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.
G: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

V: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.
G: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

V: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.
G: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

V: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle ’n verbyganger gedwing om dit te dra.
G: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.

V: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.
G: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

V: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.
G: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.

V: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.
G: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.

V: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.
G: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.

V: Ontbloot en bespot, het U die vernedering ring verduur sonder om daaroor te kla.
G: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.

V: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.
G: Wees ook so tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.

V: Toe U offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.
G: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.

V: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.
G: Maak ons trou en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.
V: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.

G: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.

V: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof, skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God. Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons. Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan, waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.
G: Amen.

Dankoffer

Slotsang
Lied 389 “Is dit, is dít my Koning” of
Flam 192 “Die Koning is hier”
(let op dat die lied-keuse hier bepalend gaan wees vir die tipe boodskap en atmosfeer waarmee die diens geëindig word – F192 is baie meer opgewek)

Seën

Respons
Lied 370 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.