Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag in Lydenstyd is Palm- of Passiesondag. In hierdie liturgie word gefokus op die Passietekste. Pas die sleutelteks, Markus 14 en 15, so by  die preekvoorstel aan dat soveel as moontlik van die teks in die diens gelees word. Langs hierdie weg sal die teks die sentrale rol in die diens speel. Die prediker is welkom om dele van die voorlesing weg te laat, ten einde meer spesifiek te fokus op die elemente wat hy/sy in die preek wil uitlig. Dit sou ook raadsaam wees om met behulp van visuele media stasies te verander deur elke keer ’n prent/skildery te wys wat die daarop-volgende voorlesing uitbeeld.

Ander tekste

Markus 11:1-11(Fees)
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Luk 19:28–40; Joh 12:12–19)
11 Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 3En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”

4Hulle het toe gegaan en ’n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”

6Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.

7Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. 9Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:
“Prys Hom!

Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom! o
10Geseënd is ons voorvader Dawid
se koninkryk
wat aan die kom is!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
11Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Psalm 118:1-2 , 19-29 (Fees)
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!d
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.
Jesaja 50:4-9a (Passie)
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.
Psalm 31:9-16 (Passie)
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!
17Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.

Filippense 2:5-11 (Passie)
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Fokusteks

Markus 14:1-15:47
Die hele Lydensverhaal uit Markus word hier geplaas:
Jesus se dood word beplan
(Matt 26:1–5; Luk 22:1–2; Joh 11:45–53)
14 Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ’n plan om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf
(Matt 26:6–13;)
3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ’n vrou gekom met ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai
(Matt 26:14–16; Luk 22:3–6)
10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ’n plan gesoek om Hom by ’n geskikte geleentheid te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Matt 26:17–19; Luk 22:7–13)
12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’15Hy sal julle dan ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”

16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai
(Matt 26:20–25; Luk 22:14, 21–23; Joh 13:18–30)
17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die instelling van die nagmaal
(Matt 26:26–29; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy ’n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën
(Matt 26:30–35; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:
Ek sal die herder doodmaak,
en die skape sal uitmekaar
gejaag word.
28Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”
29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ’n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
En al die ander het dieselfde gesê.

Jesus in Getsemane
(Matt 26:36–46; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
32Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47–56; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ’n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”

45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ’n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.

47Een van dié wat daarby gestaan het, het ’n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ’n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”

50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

51’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Matt 26:57–68; Luk 22:54–55; 63–71; Joh 18:15–16, 24)
53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.

54Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.

55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ’n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.

57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.
62“Ek is,” het Jesus geantwoord,
“en julle sal die
van die mens sien
waar Hy sit aan die regterhand
van Hom wat magtig is,
en wanneer Hy kom
op die wolke van die hemel.”
63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”

Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”
65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n bietjie!”
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus
(Matt 26:69–75; Luk 22:56–62; Joh 18:17–18, 25–27)
66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”

68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ’n haan gekraai.

69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.

’n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër.”

71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”

72En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”
En hy het in trane uitgebars.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Luk 23:1–5; Joh 18:28–38)
15 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ’n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”
3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”

5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Luk 23:13–25; Joh 18:38–19:16)
6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was ’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis ’n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.
12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”
13“Kruisig hom!” skreeu hulle.
14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Matt 27:27–31; Joh 19:2–3)
16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom ’n pers mantel aan en vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19Hulle het Hom herhaaldelik met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Luk 23:26–43; Joh 19:17–27)
21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22Hulle bring Jesus toe na ’n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ’n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom. 28

29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”

31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”
Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Luk 23:44–49; Joh 19:28–30)
33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36Een van hulle het toe gehardloop, ’n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ’n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40Daar het ook vroue op ’n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

Liturgie

Hoewel die Skriflesing en Prediking nie daarop fokus nie, is vandag Palmsondag.  Die liturgie sluit gevolglik by die Palmsondag tema aan.  Hierdie is ‘n feesdiens, wat beteken die liturgie en prediking is deur mekaar verweef.  Daar is ook nie ‘n spesifieke Familie-oomblik nodig nie, aangesien die kinders saam met hul families aan die diens deelneem.    Kry vooraf lidmate van verskillende ouderdomme om die skriflesings te doen.  Kry ook lidmate om die “voorganger” gedeelte van die verskillende gebede te doen.  Reël vooraf vir ‘n groot – sigbare – kruis en die nagmaalsbeker en ‘n mooi brood.  Reël lidmate om dit op die gepaste tye in te bring.  Berei ook ‘n mooi, sentrale plek voor waar die verskillende simbole neergesit kan word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Hoewel die Skriflesing en Prediking nie daarop fokus nie, is vandag Palmsondag.  Die liturgie sluit gevolglik by die Palmsondag tema aan.  Die hele gemeente kan voor die kerkgebou ontmoet en saam instap.  As dit nie moontlik is nie, kan die kinders en enkele volwassenes tydens die diens instap.  Hulle kan palmtakke swaai (volwasse toesig en ‘n waarskuwing om versigtig te wees, is gepas).  Julle kan ook landsvlae van reg oor die wêreld kry en dié swaai, omdat Jesus die Koning van elke volk en nasie is.

Toetrede
Liturg verduidelik Palmsondag (en die verloop van die diens).
Terwyl gemeente instap (of kinders en enkele volwassenes met palmtakke/vlae):
Lied 545 “Jesus kom na Jersualem toe” of
VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem”
(Albei bogenoemde liedere kan goed werk as ‘n voorsanger of die koor die verse sing en die hele gemeente die refrein.  Die lied is ook geskryf om in kanon gesing te word, waarmee julle kreatief kan werk.)
of Flam 82 “Hosanna”

Aanvangswoord
Voorganger (V): Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Gemeente (G): Hosanna vir die Seun van Dawid!

V: Mag die Here met julle wees.
G: En ook met jou.

V: Here God van ons verlossing, verleen in genade aan ons u bystand terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink, die groot dade waarmee U vir ons die ewige lewe bewerk het; deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.
G: Amen.
(Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 deur Bybel Media)

Lofsang
Flam 171 “Hosanna In Die Hoogste”
Lied 400 “Juig, juig in Hom” (wisselsang kan ook hier goed werk)

Liedere

VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem “
(kanon)
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010
Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd)
Teks en musiek: Jan de Wet
© 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK: Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Hosanna in the highest
Teks en musiek: Carl Tuttle
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© Mercy Publishing / Universal Songs

1. Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

2. Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047; CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid.
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam: “Kom na My”.

Vir ewig is ek dankbaar, o, Heer,
dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra.
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks: Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Gebed: (Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 deur Bybel Media, Gebaseer op die sogenaamde “Stasies van die kruis”.)
[Kry vooraf ‘n lidmaat om die “voorganger” gedeeltes te lees]
Voorganger (V): Here, U het vir u dissipels gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën,sy kruis dra en My volg.” In u Naam bid ons:
Gemeente (G): Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

V: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u woord verwerp en u onskuld verag is.
G: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

V: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.
G: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

V: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.
G: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

V: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.
G: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

V: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle ’n verbyganger gedwing om dit te dra.
G: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.

V: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.
G: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

V: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.

G: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.
V: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.

G: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.
V: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.

G: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.
V: Ontbloot en bespot, het U die vernedering ring verduur sonder om daaroor te kla.

G: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.
V: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.

G: Wees ook so tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.
V: Toe U offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.

G: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.
V: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.

G: Maak ons trou en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.
V: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.

G: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.
V: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof, skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God. Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons. Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan, waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.
G: Amen.

Skriflesing
(Deel van prediking)

Familie-oomblik

As jy moeite doen om die diens visueel en deelnemend aan te bied, is ‘n spesifieke familie-oomblik nie nodig nie – veral as die kinders deelneem aan die “intog” en die skriflesings.
Of lees Die Donkie Waarop Niemand Kon Ry Nie deur Anthony Destefano – beskikbaar by Loot.

Preekriglyn

[Nota: Aangesien die voorgeskrewe teks vir vandag baie lank is, word aanbeveel dat die hele teks wel voorgelees word, maar dat daar minder aandag aan prediking gegee word, sodat die teks self die oorwig van die Woordbediening vorm. Doen dus besondere moeite met die voorlees van die teks, wat deur Woordbediening en liturgiese momente, soos sang en aanbidding, aangevul word.]

Prediking – Deel 1

(Inleiding tot Markus 14)
Markus 14 vertel van die gebeure in die onmiddellik aanloop tot Jesus se sterwe. Die momente stapel vinnig die een op die ander. Die verhaal ontplooi in episodes, wat op ‘n besondere manier op mekaar volg. . In hoofstuk 14 dra die episodes altyd ‘n karakter wat met A of B aangedui kan word, waar:

  • A altyd die dissipels en/of mense rondom Jesus, en
  • B die fokus op Jesus verteenwoordig.

Kom ons gee ‘n voorskou van die verhaal deur die episodes as volg op te som:

  • A Die Joodse leiers beplan om Jesus dood te maak (14:1-2).
  • B Jesus word in Betanië gesalf (14:3-9).
  • A Judas onderneem om Jesus te verraai (14:10-11).
  • B Jesus sorg vir die reëlings van die Paasmaaltyd (14:12-16).
  • A Jesus voorspel dat een van die twaalf Hom sal verraai (14:17-21).
  • B Jesus deel die maaltyd met sy dissipels (14:22-25).
  • A Jesus voorspel Petrus se verloëning en die ander dissipels se vlug (14:26-31).
  • B Jesus bid in Getsemane (14:32-42).
  • A Judas verraai Jesus en al die dissipels vlug (14:43-52).
  • B Jesus onthul Homself tydens die Joodse verhoor (14:53-65).
  • A Petrus verloën Jesus drie keer (14:66-72).

Ons luister na die voorlesing van hoofstuk 14, waarin ons meer leer van wie Jesus is, en hoe Hy aan ons bekendgestel word in sy lyding.

Lees Markus 14 voor

[Kry minsens twee lesers – een om die “A” gedeeltes te lees en een wat die “B” gedeeltes lees.  Sodoende word die bogenoemde boodskap sterkter oorgedra.  Laat die lesers vooraf oefen om die gedeeltes dramaties, gevoelvol voor te lees.]

Gemeentesang

[Terwyl ‘n aantal lidmate die Nagmaalsbeker en brood inbring en prominent in die liturgiese ruimte staan maak]
Lied 379 “Jesus Christus, Lam van God” (kanon) of
VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer” of
Flam 208 “U Het Nie Gewag Op My”

Prediking – Deel 2

Markus 14 bestaan uit 11 episodes waarin die optrede van die dissipels en die mense rondom Jesus telkens afwissel. Ons A-B-A-patroon wys dit duidelik uit.

In hierdie elf tonele word voorspellings en uitbeeldings van die dissipels se mislukkings afgewissel met voorstellings van Jesus. Hoe nader aan die kruis, hoe meer radikaal raak die dissipels se afvalligheid totdat dit uitmond in Petrus (wat in hierdie evangelie die hoofkarakter onder die dissipels is) wat Jesus al vloekend ontken.

Die sesde toneel waar Jesus die maaltyd saam met sy dissipels gebruik, is die hart van hierdie hoofstuk. Ten spyte van die dissipels se ontrou bevestig Jesus hier sy verbondenheid en lojaliteit aan sy dissipels en gee Hy aan hulle ’n belofte van ’n herontmoeting in Galilea.

Dit is wie die lydende Jesus is. Ten spyte van sy dissipels se ontrou en groeiende afvalligheid, sê Hy sy teenwoordigheid aan hulle toe by die tekens van brood en wyn.

Daar is nie groter trou, toewyding en passie om God se koningskap te vestig te kry, anders as by die lydende Messias nie. Dit is wie Jesus vandag nog is. Hy gaan voort om sy teenwoordigheid aan ons toe te sê, en ons daarvan te verseker by die breek van die brood en die drink van die wyn.

Daarvoor kan ons Hom loof en prys.

Gebed

[Kry vooraf ‘n lidmaat om die “voorganger” gedeeltes te lees]
Voorganger (V): Kom ons dank die Here ons God.
Gemeente (G): Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

V: Ons loof en dank U, o God, vir die groot liefdesdade waarmee U ons verlos het deur u Seun Jesus Christus, ons Here.  Help ons dat ons Hom altyd sal eer as ons Here en Koning en Hom sal volg met volkome vertroue. Ons vra dit in sy Naam, Hy wat saam met U en die Heilige Gees leef en regeer, een God, nou en vir ewig.
G: Amen.
(Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 deur Bybel Media)

Prediking – Deel 3

(Inleiding tot Markus 15)
In Markus 15 word die patroon voortgesit en verteenwoordig A die mense rondom Jesus, terwyl B steeds op die onthulling van Jesus fokus. Waar hoofstuk 14 by A (oor die dissipels) opgehou het begin hoofstuk 15 by B, met ’n onthulling van Jesus. Dit lyk dan soos volg:

  • B Jesus se selfbekendmaking tydens die opening van die verhoor (15:1-5).
  • A Barrabas word vrygelaat in plaas van Jesus (15:6-11).
  • B Pilatus verklaar Jesus onskuldig en op ironiese wyse verklaar hy vir Jesus tot Koning
    (15:12-15).
  • A Die Romeinse soldate vertel (ironies) die waarheid omtrent Jesus terwyl hulle Hom
    spot (15:16-20a).
  • B Jesus word gekruisig (15:20b-25).
  • A Die verbygangers en Joodse leiers vertel (ironies) die waarheid omtrent Jesus terwyl
    hulle Hom spot (15:26-32).
  • B Wanneer Jesus sterf verklaar ’n offisier dat Hy die Seun van God is (15:33-39).
  • A ’n Groep vroue hou die kruisiging op ’n afstand dop (15:40-41).
  • B Jesus word begrawe (15:42-47).
Lees Markus 15 voor

[Kry minsens twee lesers – een om die “A” gedeeltes te lees en een wat die “B” gedeeltes lees.  Sodoende word die bogenoemde boodskap sterkter oorgedra.  Laat die lesers vooraf oefen om die gedeeltes dramaties, gevoelvol voor te lees.]

Gemeentesang

[Terwyl ‘n lidmaat ‘n kruis inbring en prominent in die liturgiese ruimte staan maak, by die brood en wyn]
Lied 401 “Wie sal ons glo as ons vertel” of
Lied 384 “Jesus, o dink aan my” of
Flam 207 “U Het U Heerlikheid, O Heer”

Prediking – Deel 4

Soos in hoofstuk 14, is ook die sesde toneel in hoofstuk 15, Jesus se kruisiging, die fokuspunt van die vertelling. Die hoogtepunt van die hoogtepunt is wanneer die Romeinse hoofman by die kruis by Jesus se sterwe sê: “Waarlik, hierdie man was die Seun van God.”

Dit is soos Jesus, volgens die Markusevangelie geken wil word as Here: Hy is die Seun van God, die Een wat getrou bly tot in die dood aan die kruis.

Vir Markus is die Koningskap van Jesus en die kruis ten nouste met mekaar verbind. Hy doen groot moeite om ons bewus te maak dat Jesus as die “Koning van die Jode” gekruisig is. In die eerste 32 verse van hoofstuk 15 word Jesus ses keer die “Koning van die Jode/Israel” genoem. Die salwing in Betanië waaroor aan die begin van hoofstuk 14 berig word, sou ook as ’n heenwysing na Jesus se koningskap gelees kon word, dat Hy gesalf is tot Koning.

In Jesus se kruisiging is dit die Romeinse Ryk en sy Joodse meelopers, en die koninkryk van God wat in botsing kom. Twee koninkryke sê mekaar die stryd aansê en kom in konfrontasie.

Het Jesus die stryd verloor? Is sy kruisiging ’n laagtepunt wat dan later in die opstanding omgekeer word? Vir Markus word Jesus nie eers Koning deur of na sy opstanding nie! Dit is in sy kruisiging wat Hy as Koning geopenbaar word!

‘n Skrifkenner skryf die volgende:
Die verhaal lei die hoorders om die kruisiging te sien as die diepste paradoks van God se regering: die Gesalfde is Koning presies omdat Hy bereid was om vir ander te lewe, selfs al beteken dit hierdie vernederende dood. Slegs toe Jesus uiteindelik om hierdie verskriklike manier sterf, laat Markus die eerste keer in sy evangelie toe dat iemand Hom die “Seun van God” noem.

Hierdie is inderdaad die eerste keer in Markus se evangelie dat Jesus deur ’n mens (die Romeinse soldaat) die “Seun van God” genoem word! Nou, op hierdie oomblik! Waar Jesus voorheen (in die Markusevangelie veral!) mense belet het om sy Koningsgeheim, sy Messiaanse geheim te verklap, word dit nou tydens sy kruisiging by herhaling uitgelap. Volgens Markus is dit die aangewese oomblik om sy koningskap aan die lig te bring. Só oefen God sy heerskappy in die gekruisigde Christus uit.

In die teken van die kruis

[Die liturg gaan staan by die tekens en beweeg vanaf die Nagmaalstekens na die kruis, of lig eers die een op, dan die ander]
Die kern van hoofstuk 14, die nagmaal, en die kern van hoofstuk 15, die kruis, is die manier waarop Christus deur die eeue by sy kerk teenwoordig is. Hy sê sy teenwoordigheid aan ons toe deur die bediening van brood en wyn, wat herinner aan sy gebreekte liggaam en sy uitgestorte bloed.

Hierdie bediening van die kruismoment verskaf ook die toonaard waarin die kerk in die wêreld aanwesig is: deur nederige, selfopofferende diens. Só word die regering van God deur ons ‘n werklikheid.

Gebed/geloofsbelydenis

(Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 deur Bybel Media, na aanleiding van die Apostoliese Geloofsbelydenis en Filippense 2:5-11.)
Gemeente (G): Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader.
Voorganger (V): Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G: Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.
G: Amen.

Gemeentesang

Lied 397 Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart of
VONKK 55 Jesus, Toe U Mens Geword Het of
Flam 91 U Genade Vir My Is Genoeg

God stuur ons om te leef

Dankoffer

Slotsang
(Dit is gepas om nié ’n uitsendingslied aan die einde van die erediens op Palmsondag te sing nie, omdat die gemeente daarvandaan die groot lydensweek binnegaan.  Beklemtoon die onvoltooitheid en afwagting waarmee die diens eindig.)

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, Skepper, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
Deur William Temple (1881-1944) (Uit:  2001.  Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle.  Wellington, Lux Verbi.BM.)

Respons
Die gemeente verlaat die kerkgebou in stilte.