Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag in Lydenstyd is tradisioneel ook Palmsondag. Dit is die dag waarop die kerk Jesus se intog in Jerusalem in herinnering roep, maar terselfdertyd is dit ook die Sondag wat Groot Lydensweek inlui. Die erediens het op hierdie Sondag dus ’n tweeledige fokus:
Herdenking van Jesus se juigende intog in Jerusalem.
Nadenke daaroor dat die kerk weer op die vooraand van die herdenking van Jesus se lyding, sterwe en opstanding staan.

Ander tekste

Psalm 118:1-2, 19-29
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Johannes 12:12-16
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Mark 11:1–11; Luk 19:28–40)
12Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!”
en:
“Die Koning van Israel!”
14Jesus het toe op ’n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:
15“Moenie bang wees nie, Sion!
Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op ’n donkie.”
16Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.

Psalm 31:15-16a
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Lukas 23:1-49
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Mark 15:1–5; Joh 18:28–38)
23 Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”
3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”
Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”
4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”
5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

Jesus voor Herodus
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan ’n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ’n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom ’n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.

12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.

Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Mark 15:6–15; Joh 18:39–19:16)
13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.” 17y
1819Laat Barabbas vir ons los!”
Barabbas was in die tronk oor ’n opstand in die stad en oor moord.
20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:31–44; Mark 15:21–32; Joh 19:17–27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’
30“Dan sal hulle vir die berge sê:
‘Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’ z
31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”
32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Joh 19:28–30)
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” a

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Fokusteks

Lukas 19:28-40
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Mark 11:1–11; Joh 12:12–19)
28Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30“Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar ‘n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”

32Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.

37Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38Hulle het gesing:
“Loof die Koning,
Hy wat in die Naam
van die Here kom!
Vrede in die hemel
en eer aan God
in die hoogste hemel!”
39‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”

40Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

41Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil 42en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. 43Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Die reiniging van die tempel
(Matt 21:12–17; Mark 11:15–19; Joh 2:13–22)
45Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. 46Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”

47Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, ‘n plan gesoek om Hom dood te maak. 48Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.

Ekstra stof

Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord
Onthou dat Jesus steeds vasbeslote op pad is na Jerusalem.  Sy gesprekke en gelykenisse het dus ‘n dringendheid en skerpheid om sy boodskap finaal tuis te bring.  Hy praat oor:

  • volharding in gebed (18:1-8 – gelykenis van die weduwee en die regter),
  • nederigheid teenoor God (18:9-14 – gelykenis van die Fariseër en die tollenaar),
  • kinders wat welkom is by Hom en in die koninkryk (18:15-17) en oor
  • die ewige lewe wat ‘n geskenk van God is vir elkeen wat Jesus navolg (18:18-30 – die verhaal van die ryk jongman).

Jesus word met juiging in Jerusalem verwelkom
Jesus kondig vir die derde keer sy naderende dood aan vir die twaalf, hoewel hulle dit steeds nie begryp het nie (18:31-34).  Jesus se genesing van die blinde man by Jerigo (18:35-43) staan dus skerp in kontras met hulle geestelike blindheid.

Let op hoe die blinde man Jesus se identiteit bevestig met sy uitroep: “Jesus, Seun van Dawid”.  En Jesus ontferm Hom oor die blinde, en doen dan presies wat die blinde oor Hom bely het.  Let ook op hoe die blinde Jesus onmiddellik begin volg, anders as die ryk jongman van 18:18-30.

Die innemende verhaal van Saggeus (19:1-10), die hooftollenaar wat tot bekering kom en met oorvloed restitusie doen – vierdubbel teruggee wat hy afgepers het – en die helfte van sy goed met die armes deel, staan ook in skerp kontras met die verhaal van die ryk jongman.  Hy ontvang Jesus met blydskap en reageer met dieselfde tipe vrygewigheid waarmee God in die gelykenis van die weduwee en die regter geteken word.

Die tema van besittings wat ‘n deurlopende motief in die verhaal op pad na Jerusalem is (hfst. 9-19) word voortgesit met die gelykenis van die goue muntstukke (19:11-27) wat aan die een kant die belang van betroubaarheid illustreer, en aan die ander kant ‘n veroordeling van die Fariseërs en die Joodse leiers is wat Hom nie as Koning erken het nie.  Let ook op dat Jesus aan die begin uitspel dat Hy ook die mense se spoedige verwagting van die koms van die koninkryk wou inperk, waarskynlik aangesien Hy geweet het dat die evangelie die hele wêreld nog moes in.

Uiteindelik bereik Jesus dan Jerusalem en ry met ‘n donkie die stad binne, in vervulling van die profesie in Sagaria 9:9 met die hele skare juigende volgelinge wat God uit volle bors prys oor al die wonderwerke wat hulle al gesien het (Ps 118:26).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 326 of Lied 545 of Flam 82

Votum: (uit Luk 19:29-40; Joh 1:1)

Seëngroet

Loflied: Lied 547 of Flam 171 of VONKK 171
Die Palmsondag optog kan by enige van hierdie bewegings pas

Verootmoediging

Genadeverkondiging  / Toewyding: Flam 91

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 19:28-40

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 585 of VONKK 158 of Flam 149

Seën: (Aangesien dit die begin van Groot Lydensweek is, kan die seën en responslied ook weggelaat word.)

Respons: Flam 149 Refrein of Lied 309

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

As omstandighede dit toelaat, begin buite die gebou en beweeg dan na binne met ‘n Palmsondag optog.

Toetrede
As julle in die kerkgebou begin, kan die optog tydens die toetrede-lied gebeur.
Lied 326 “Maak oop die oorte, deure, wyd!of
Lied 545 “Jesus kom na Jerusalem toeof
Flam 82 Hosanna 

Votum (Uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015/2016)
Voorganger: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem.
Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim.
Gemeente: Terwyl Hy aanry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei.
Toe hulle naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.

Voorganger: Hulle het uitgeroep:
Gemeente: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here!
Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!”

Voorganger:  Sommige van die Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe jou dissipels!” Maar Hy het hulle geantwoord:
Gemeente:  “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”
(uit Luk 19:29-40; Joh 1:1)

Seëngroet

Loflied
As julle van buite na binne beweeg, kan julle dit tydens die lofsang doen.
Lied 547 Alle volke, klap julle hande of
Flam 171 Hosanna In Die Hoogste of
VONKK 171 Jesus Is Koning

Verootmoediging
Dieselfde skare wat geskree het, “Prys Hom!  Loof Hom wat in die Naam van die Here kom, die Koning van Israel”, het toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen nie, geskree, “Kruisig Hom”. Ons dien ’n heeltemal ander Koning, ’n Koning wie se wysheid vir die wêreld soos dwaasheid lyk en ’n Koning wie se krag vir die wêreld soos swakheid lyk. Ons dien ’n Koning wat oorwin het deur te sterf.

Genadeverkondiging  / Toewyding
Flam 91 U Genade Vir My Is Genoeg 

Geloofsbelydenis: (uit Handleiding vir die Erediens)
Gemeente:  Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader,
Voorganger:  Hy wat in die gestalte van God was, maar homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G:  wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V:  Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G:  Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en hy stel hom aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V:  God het hom tot die hoogste eer verhef en hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G:  In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buit en elke tong sal erken:  Jesus Christus is die Here!
V:  Tot eer van God die Vader.
G:  Amen.

Liedere

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©  Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel © Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

VONKK 171 “Jesus Is Koning”
Jesus is Koning. Hy woon in my hart.
Hy is oral by my, ek kan altyd met Hom praat.
Hy is lief vir kinders en Hy kom nooi vir my,
dat ek God se kind kan word deur net in Hom te glo.
Jesus is Koning. Hy is groot en sterk.
Oor die hele wêreld is Hy Koning van sy kerk.
Hy roep alle mense en sê ook in sy Woord:
Hul wat soos ’n kindjie glo, ontvang sy Koninkryk.

F149. U Is Die Lig Wat Skyn (Kom Heers In My)
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Retief Burger © 2009 Urial Publishing (Opgeneem op Oorgegee)
Teks: Uit Laat die kindertjies na My toe kom – kleuterkantate van Gerrit Jordaan 1995/2011 (:1); Jacques Louw 2011 © (:2)
Musiek: JESUS IS KONING – Gerrit Jordaan 1995 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
Volledige kleuterkantate beskikbaar by musikale verryking van VONKK 170. © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kleuterlied – Geloof en Vertroue / Kindwees

1. U is die lig wat skyn, in hierdie donker tyd.
U is die Woord wat bly al sou ook als verdwyn.
U alleen wat tot in alle ewigheid regeer, kom heers in my.

2. Ek sal op U vertrou, my oë op U bly hou.
U wat die Anker is, al is daar duisternis.
U alleen wat tot in alle ewigheid regeer, kom heers in my.

Refrein 1:
Jesus, (Jesus), U is, (U is)
lewe in oorvloed, oorwinning wat binne my leef
en binne my heers.
Kom heers in my!

Refrein 2:
Jesus, Jesus, U is, U is
meer as my Redder, U’s Koning en Meester wat heers
en binne my leef.
Kom heers in my!

Brug: (x2)
Daar is geen ander voor wie ek sal buig,
om te doen wat U sê is om my liefde te wys.
In hierdie hart sal net een Naam regeer
dit is Jesus.

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK: Gemeentesang – Lof) Oorspronklike titel: Hosanna in the highest Teks en musiek: Carl Tuttle
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet  © Mercy Publishing / Universal Songs

1. Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

2. Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd) Teks en musiek: Jan de Wet © 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding) Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Skriflesing: Lukas 19:28-40
Jy kan hierdie video wys terwyl jy die skriflesing doen.

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hierdie kan ‘n gunsteling fees wees vir kinders as julle iets van die Palmsondag optog maak.  Die hele liturgie kan familie-vriendelik wees.  Begin óf die diens buite die kerkgbebou en laat die hele gemeente aan die optog in die gebou in deelneem.  Of laat dit elders in die diens gebeur.  Dit is belangrik dat die kinders dit nie alleen doen nie.  Onthou, volwassenes is nie toeskouers van kinders se geloof nie.  Die kinders moenie voel dat hulle die vermaak van die dag is nie.  Die Palmsondag optog is ‘n gesamentlike daad van lofprysing.Laat mense van verskillende ouderdomme in die paadjies afgestap kom.  Laat daar hier en daar in die banke mense ook palmtakke* swaai.  As julle dit tydens ‘n lied doen, maak seker dat dit ‘n lied is wat die kinders ken en sal kan saam sing.  Jy kan ook oorweeg om die optog aan die einde van die diens te doen, wanneer die betekenis reeds “uitgepak” is.

*Palmtakke is swaar en gevaarlik.  Jy kan gerus vlae gebruik, of lang stroke baie ligte lap.  Vlae kan julle of self maak, of gebruik verskillende landsvlae.  Laasgenoemde werk goed, want jy kan daarby aansluit deur daarop te wys dat Jesus die Koning van die hele wêreld is, dat “elke volk en nasie” Jesus moet eer.  Jy kan die vlae hou en elke jaar weer gebruik.

As julle wel palmtakke gebruik, kan jy hier vir die gemeente wys hoe om palmkruisies te maak.  Veral kinders sal dit geniet om tydens die preek – terwyl hulle luister – kruisies te maak.

Lees gewoon die Bybelverhaal dramaties.  Ons hoef nie altyd “morele lessies” uit skrifgedeeltes te haal nie – dis juis belangrik dat kinders die Bybel leer ken.

Jy kan ook die betekenis van Jesus se koningskap deurgesels.  Die kontras tussen Jesus op ‘n donkie en ‘n belangrike man wat met prag en praal op ‘n perd ry, is ‘n baie goeie illustrasie wat aansluit by Ackermann se vertelling in die preek se inleiding.  Kry ‘n prent van ‘n belangrike man op ‘n grand perd hier.

As jy dit nie vantevore gebuik het nie, kyk na “The Donkey that no one could ride

Preekriglyn

“Ek onthou daardie oggend asof dit net gister gebeur het,” vertel prof. Denise Ackermann in haar boek, Surprised by the man on the borrowed donkey. Sy sit daardie oggend in die indrukwekkende Katedraal van Canterbury terwyl ‘n prosessie biskoppe van die Anglikaanse Kerk besig is om hul plek in te neem. Die bekende Lambeth-konferensie van die Anglikaanse Kerk is besig om te konstitueer. Die prosessie, meestal mans maar ook ‘n paar vroue, is in pragtige duur gewade geklee. Hul togas is onder andere van sy en helderkleurige brokaat gemaak, met goue omboorsels, en hooftooisels vol tossels.

“Ek leun vooroor om te kyk wie kom almal die kerk binne. Die deure begin toegaan agter die Aartsbiskop van Canterbury. Wie kort nog? Wie mis ek?” ‘n Verrassende prentjie spring helder op in haar gedagtes. Sy mis Jesus, die Man op die geleende donkie. Hoe sou dit lyk as Jesus op sy donkie die katedraal binnekom?

Stel jou Jesus op ‘n geleende donkie voor in ‘n swierige Anglikaanse prosessie in ‘n indrukwekkende Gotiese katedraal, sê Denise Ackermann. Met hoog-Britse pomp and circumstance. Dit is byna komies, met respek gesê. Tog is Jesus op sy geleende donkie die sentrale figuur in ons geloof. Van Hom bely Christene dat Hy die lewende God is wat mens geword het. Hy het nêrens ‘n plek gehad om sy hoof neer te lê nie. Hy het sy dissipels se voete gewas, en moes ‘n donkie leen op sy bittersoet intog in Jerusalem, onderweg na die kruis. Dieselfde Jesus, wat op die donkie na sy teregstelling asof Hy ‘n krimineel is ry, het drie dae later opgestaan uit die dood.

Die geleende donkie beeld Jesus se nederigheid en almag uit. Die paradoks van sy mag en diens, uitgebeeld in sy triomfantelike intog op ‘n geleende donkie is die krag wat Denise Ackermann in haar eie pad van geloof, met al sy hoogtepunte en laagtepunte, begelei.

Christus die Koning

Jesus word in ons teks as koning voorgestel. Ons sien dit alreeds in die twee dissipels wat Hy na die dorpie Betfage stuur om die ongebruikte donkie te gaan haal. Die twee wat gestuur is, is apostels wat met die gesag van Christus optree.

Jesus is bewus van die plek waar die donkie gevind sou word, die toestand daarvan en die gesprek wat sou plaasvind om die donkie in die hande te kry. Dit beklemtoon sy goddelikheid en sy gesag, asook dat Hy Jerusalem met oorleg en voorkennis betree. Die jong donkie wat nog nooit deur iemand gery is nie word spesifiek genoem. Die rede is omdat diere wat vir heilige gebruik geoormerk is (Num 19:2; 1 Sam 6:7) of deur koninklikes gebruik sou word, nie vir enige anders doel gebruik kon word nie. Die ongebruikte donkie (en die ongebruikte graf) hou in die Lukasevangelie verband met Jesus se koninklike waardigheid.

Die woorde “Die Here het hom nodig” beteken dat die donkie vir goddelike gebruik benodig word. Dis nie sommer enige Eienaar wat die donkie nodig het nie. Die eintlike, Goddelike Eienaar, het die donkie nodig om sy inisiatief en koningskap te dien.

Juigende skare

Die dissipels help Jesus op die donkie. Sy “saal” bestaan uit van hulle klere wat hulle uit eerbetoon op die donkie se rug gooi. Die klere wat op die pad voor Jesus gegooi word, is die spreekwoordelike rooi tapyt wat vir koninklikes oopgerol word.

Wanneer Hy by die stad kom, word sy koningskap erken. Die skare juigende volgelinge begin God prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. Daar ontspring ‘n loflied uit die skare:
Loof die Koning,
Hy wat in die Naam van die Here kom!
Vrede in die hemel
En eer aan God in die hoogste hemel!

Dit is duidelik dat die skare in Jesus die Messias van God herken. Hulle interpreteer Jesus se rit op die ongebruikte donkie in terme  van Sagaria 9:9:
Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!
Jou koning sal na jou toe kom.
Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar,
Hy is nederig en hy ry op ‘n donkie.

Die skare se woorde egge ook Psalm 118: 26:
Prys hom wat in die Naam van die Here kom!

As gemeente vier ons vandag ook hierdie triomfantelike en openbare voorstelling van Jesus as koning. Ons verwelkom Hom as koning en vier sy koningskap saam met die dissipels, die profeet en die psalmdigter.

Ons vier saam met die skare dat Jesus se intog, dood en opstanding vrede tussen God en mens tot stand gebring het. Die tyd het aangebreek en niks sou Jesus stop nie. Die koor van die skare gryp vooruit na die groot gebeure wat sou volg. Dit eggo die koor van die hemel in Lukas 2:14. Kersfees en Palmsondag het dieselfde boodskap. God versoen Hom met die mens!

Ander soort koningskap

Die geleende donkie help onthou dat Jesus se koningskap anders is – dat dit nie was wat mense verwag het nie. Die intog in Jerusalem bevat al die elemente van die menslik-absurde: die arm koning; die waarheid wat op ‘n donkie ry. Al juig die skare het hulle nie besef waaroor hulle regtig juig nie. Daar is ‘n misverstand.

In die voorafgaande hoofstukke beklemtoon Lukas die koningskap van Jesus as Messias. Daar is egter een groot misverstand wat Lukas voor die intog reeds begin regstel. Lukas plaas Jesus se gelykenis van die drie slawe wat tien, vyf en een muntstuk ontvang het net voor die intog. Die gelykenis vertel dat daar eers ‘n periode van menslike arbeid en verantwoordelikheid in die koninkryk is voordat die eindoordeel plaasvind. In Lukas 19:11 word die rede aangegee hoekom Jesus die gelykenis vertel het: “Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.”

Die verwagting dat die koninkryk van God op ‘n sigbare wyse sou aanbreek word dus reeds reggestel. Die skare het dit duidelik misverstaan, omdat die entoesiasme van Jesus se intog vinnig verdwyn. Binne ‘n week sou hulle Hom uit die stad met ‘n kruis op sy rug jaag. Vir hulle was dit sonder twyfel ‘n politieke gebeurtenis, terwyl God in Jesus iets anders in gedagte gehad het.

Met verwysing na die misverstand oor Jesus se koningskap, skryf die teoloog Wilcock:

Like so many religious ideas, it was a half truth, and as such even more dangerous than a lie. The Jews of Jesus’s time thought they knew what was meant by the kingdom of God. People today think they know what is meant by Christianity, the church, the gospel. More often than not, however, the message has been misunderstood, and needs to be clarified. This Luke sets out to do.

Jesus se koningskap is anders. Daarom pas Hy nie op ‘n wêreldse troon nie, al is Hy die Koning van die heelal. Daarom lyk die Man op die geleende donkie vreemd as jy ‘n Anglikaanse prosessie met die mentaliteit van ‘n empire sien.

Triomf deur lyding

Ons onthou dat Jesus presies geweet het wat op Hom gewag het. Hoewel Jesus openlik en triomfantelik die stad binnegaan, het Hy vroeër duidelik gemaak dat die koninkryk van God nie dadelik sal kom nie (Luk 19:11). Hy móés eers ly, sterf en opstaan. Christene kyk na Palmsondag en Jesus se triomf deur die bril van sy verhoging en heerskappy aan die regterhand van God. Ons weet egter ook dat dit nie bereik is sonder die dood en lyding van Christus nie.

Dis waarvan Paulus in Filippense 2 praat.

Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets
waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,

het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis. (Fil. 2:6-8)

As pelgrims op pad na die nuwe Jerusalem staan ons daarom juigend en aanbiddend voor die Koning van alle konings. Ons sien ons Heer op pad na die nuwe Jerusalem, waarvan Openbaring vertel. Saam met stemme in die hemel en die 24 ouderlinge roep ons uit: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid . . . Ons dank U, Here God, Almagtige, U wat is en wat was, dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers” (Op 11:15-17).

Alreeds en nog nie

Ons weet egter ook dat ons in die “nog-nie” realiteit lewe. Hy is Heer, maar die stryd met die magte rondom ons en in ons duur voort. Sy koningskap word steeds nie oral erken nie, maar ons Heer is Heer! Individue word steeds verstrengel in die soeke na eer en mag, in oorheersing en onderdrukking, maar ons Heer is Heer. Kerke en denominasies wil indrukwekkend en magtig wees, maar ons Heer is Heer. Ons misverstande en sondigheid ontneem Hom nie van sy heerskappy nie.

Die intog in Jerusalem gryp vooruit na die dag wanneer elke knie sal buig en elke tong bely dat Hy Heer is (Fil 2). Dit gryp vooruit na die dag wanneer die pyn van oorlog en magsmisbruik, onderdrukking en manipulasie verby sal wees. Ons Heer is Heer!

In Karl Barth se Dogmatics in Outline, skryf hy in die voorwoord dat hierdie lesings in die semi-ruïnes van die eens statige Kurfürsten Schloss in Bonn gelewer is. Ongeveer 7-uur in die oggend het hulle ‘n psalm of gesang gesing om hulle op te beur. Ongeveer 8-uur het hulle die stootskrapers gehoor wat besig was om die rommel bymekaar te maak. Dit was ‘n tyd waarin hulle moes leer om weer te glimlag.

In hierdie omstandighede skryf hy: “Hy sit aan die regterhand van die Vader. Dit is wat ons vandag in ons tyd moet sê. Dit is die eerste en laaste ding wat saak maak. Watter voorspoed of nederlaag ons ook al in ons ruimte beleef, wat ook al kom of gaan, daar is een vaste sekerheid, een saak wat bly en voortgaan: Jesus sit aan die regterhand van God.”

Vir mense wat deel is van hierdie feesvierende skare in die “nog-nie” van ons aardse bestaan, wag daar uiteraard ook ‘n kruis. Die oorwinning kom nie sonder die kruis nie. Dit mag vreemd klink op ‘n Palmsondag wanneer ons saam met die dissipels en skare juig oor die Messias as Koning.

Die volgelinge van Jesus kan nie sy lof besing sonder om Hom na te volg nie.

As ons terugkyk op die gebeure na die intog in Jerusalem, op sy dood en opstanding, weet ons dat die oorwinning plaasgevind het. Al is die oorwinning behaal, die oorlog gewen, vind daar nog veldslae plaas. Ja, die onreg duur voort. Ja, die pyn duur voort. Dit is veral die stryd met onsself as Jesus se navolgers wat voortduur. Ons is huiwerig om Hom te volg tot in die nuwe Jerusalem. Ons “misverstaan” ons Heer. Jy sien, om Hom te volg beteken dat ons ideale en drome, ons planne en skemas, ons verwagtinge en koninkryk onder die kritiek van die kruis staan.

Daarom, al wil die wêreld ons stilmaak omdat dit gevaarlik is vir ons eie drome om te verkondig dat Hy die Heer is, is ons ‘n juigende en feesvierende skare – al kos dit ons reputasie. As dit gevaarlik raak om in ons samelewing te verkondig dat Jesus die vervulling van God se droom vir die wêreld is, staan ons by Jesus – al word ons as onverdraagsaam uitgekryt. Al kos dit alles, sal ons sy lof besing, want dit is slegs deur Hom dat vrede tussen hemel en aarde tot stand gebring is. As ons dit nie doen nie, sal die klippe uitroep!

Selfondersoek

Sadhu Sundar Singh  het gesê:
As ons nie die kruis van die Heer dra nie sal ons die kruis van die wêreld met al die aardse dinge moet dra. Die wat die kruis van die Heer dra weet uit ervaring dat hierdie kruis hulle dra en veilig by hulle bestemming sal bring. Die kruis van die wêreld, daarenteen, trek ons af en lei tot vernietiging. Watter kruis dra jy? Word stil en dink.

Met hierdie gesindheid van selfondersoek skryf NT Wright:
Terwyl ons saam met Jesus in Jerusalem aankom, moet ons op ‘n dringende vraag antwoord. Reis ons saam met Jesus met die hoop dat Hy sommige van ons eie verwagtinge en ambisies sal vervul? Is ons reg om lofsange te sing, maar net solank dit lyk of Jesus doen wat ons wil hê? Die lang, stowwerige pad van ons pelgrimsreis gee ons genoeg tyd om die motiewe waarmee ons Jesus volg, uit te sorteer. Is ons gereed om nie net ons klere op die pad voor Hom te gooi nie, is ons gereed om nie net die vertonerige en flambojante ding te doen nie, maar ook om Hom te volg wanneer moeilikheid, kontroversie, verhoor en dood volg?

Ons sien vandag die heerlikheid van die Man op die geleende donkie. Agter hierdie man aan neem ons ons kruis op en volg Hom na.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 585 “O Jesus, laat ons nooit vergeet” of
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe of
Flam 149 U Is Die Lig Wat Skyn (Kom Heers In My)

Seën
Aangesien dit die begin van Groot Lydensweek is, kan die seën en responslied ook weggelaat word.

Respons
Flam 149 Refrein of
Lied 309 “My lewe bly aan U gewy

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.