Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag

Sections

Oorsig

Die psalms leen hulle meer tot liturgiese materiaal as preektekste. Die belangrikste in die preek van die psalms is om te hou by die oorspronklike genre en aard van die spesifieke psalm. In Lydenstyd verskaf psalms aan ons die woordeskat om ook Jesus se verhaal van lyding en verwerping beter te verstaan. Koester skryf: “No book of the Bible is more forthright about human experience, and none more militantly declares God’s faithfulness, even when God seems absent.” Die fokus hierdie Sondag is beide Palmsondag en Passiesondag.

Hierdie preekstudie fokus op die teks vir Passiesondag, naamlik Psalm 31:10-17. Die paradoks tussen die intog in Jerusalem (Palmsondag) en die daaropvolgende lyding van Christus kan tog ook deur die prediker vrugbaar gebruik word. Dit is dieselfde skare wat roep; “hosanna” én “kruisig Hom”. Dit is altyd problematies om net ‘n gedeelte uit ‘n groter geheel van ‘n perikoop te hanteer. Daarom sal ‘n paar opmerkings oor die psalm as geheel ook gemaak word.

Ander tekste

Matteus 21:1-11
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)
21 Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”
4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
5“Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ’n donkie,
op die vul van ’n pakdier.” n
6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom! o
Prys Hom in die hoogste hemel!”
10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”
11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Filippense 2:2-11
2 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Matteus 26:14-27:46
Judas onderneem om Jesus te verraai
(Mark 14:10–11; Luk 22:3–6)
14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Mark 14:12–21; Luk 22:7–14)
17Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”
18Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’”
19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

Jesus wys sy verraaier aan
(Mark 14:17–21; Luk 22:21–23; Joh 13:21–27)
20Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”
22Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”
23Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
25Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”
Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die instelling van die nagmaal
(Mark 14:22–26; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
26En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”
30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Petrus sal Jesus verloën
(Mark 14:27–31; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:
‘Ek sal die herder doodmaak,
en die skape van sy kudde sal
uitmekaar gejaag word.’
32Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”
33Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”
34Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”
35Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
Al die ander dissipels het ook so gesê.

Jesus in Getsemane
(Mark 14:32–42; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
36Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”
37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”
39Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
40Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
42’n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
43Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.
44Hy het hulle weer alleen laat bly en ’n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Mark 14:43–50; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
47Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was ’n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48Die verraaier het met die manne ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” 49Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.
50Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”
Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. 51Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. 52Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek ’n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”
Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Mark 14:53–65; Luk 22:54–55; 63–71; vgl Joh 18:13–14; 19–24)
57Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. 58Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

64Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
Van nou af sal julle
die Seun van die mens sien
waar Hy aan die regterhand sit
van Hom wat magtig is,
en julle sal Hom sien kom
op die wolke van die hemel.”
65Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. 66Wat dink julle?”
Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap 68en gesê: “Jy is mos ’n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

Petrus verloën Jesus
(Mark 14:66–72; Luk 22:56–62; Joh 18:15–18; 25–27)
69Petrus het buite in die binnehof gesit toe ’n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”
70Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
71Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ’n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”
72Weer het Petrus dit ontken en met ’n eed gesê: “Ek ken die man nie!”
73’n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. ’n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”
74Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”
75En op daardie oomblik het daar ’n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word aan Pilatus uitgelewer
(Mark 15:1; Luk 23:1–2; Joh 18:28–32)
27 Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

Die dood van Judas
(Hand 1:18–19)
3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man verraai.”
Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”
5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.
6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”
7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as’n begraafplaas vir vreemdelinge.
8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.
9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:
“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

Jesus voor Pilatus
(Mark 15:2–5; Luk 23:3–5; Joh 18:33–38)
11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”
12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.
13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”
14Maar Jesus het hom op geen enkele woord ’n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Mark 15:6–15; Luk 23:13–25; Joh 18:39–19:16)
15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.
19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ’n vreeslike droom oor hom gehad.”
20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.
21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” antwoord hulle.
22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.
23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”
24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”
25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”
26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Mark 15:16–20; Joh 19:2–3)
27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ’n pers mantel om. 29Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ’n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Mark 15:21–32; Luk 23:26–43; Joh. 19:17–27)
32Toe hulle uitgaan, kry hulle ’n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by ’n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom ’n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.
37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.
39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”
41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”
44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Mark 15:33–41; Luk 23:44–49; John 19:28–30)
45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Matteus 27:11-54
47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”
48Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ’n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”
50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Fokusteks

Psalm 31:9-16
My tye is in u hand
31 Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
2By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!
Bevry my, want U is getrou.
3Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug,
‘n bergvesting om my te red.
4Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam
sal U my voorgaan en my lei.
5Bevry my uit die vangnet
wat hulle vir my gestel het,
want U is my toevlug.
6In u hande gee ek my lewe oor,
want, Here, troue God,
U het my vrygemaak.
7Ek haat mense wat waarde heg
aan die nikswerd afgode;
my vertroue stel ek in die Here.
8Ek wil jubel en juig oor u troue
liefde:
U was nie onverskillig
teenoor my ellende nie;
U het die bedreiging van my lewe
raakgesien
9en my nie aan die mag van die vyand
oorgelewer nie;
U het my ‘n veilige staanplek gegee.
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
‘n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ‘n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!
17Verskyn tog tot my redding,
18Here, laat my nie teleurgestel staan
in my verwagting
as ek U aanroep nie.
Laat die goddelose teleurgestel staan
in hulle verwagting,
laat hulle die stilte van die doderyk
ingaan.
19Bring die leuenaars tot swye,
dié wat vol is van hulleself
en in hoogmoed en veragting
teen die regverdige praat.
20Hoe groot is u goedheid:
dit is altyd daar vir dié wat U dien,
U bewys dit
voor die oë van die mense
aan dié wat by U skuil.
21Deur u teenwoordigheid
beskerm U hulle teen
die sameswering van mense.
U steek hulle weg
vir dié wat vir hulle beskuldig.
22Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het sy trou
op wonderbaarlike wyse
aan my betoon
toe ek beleër was.
23Ek het in my angs gedink:
Dit is klaar met my,
selfs U het my verwerp.
Tog, U het geluister na my gesmeek
toe ek na U om hulp geroep het.
24Betuig julle liefde vir Hom,
julle almal wat die guns van die Here
geniet.
Die Here beskerm dié
wat aan Hom getrou is,
maar dié wat teen Hom opstandig is,
straf Hy swaar.
25Wees dus sterk en hou goeie moed,
julle almal wat julle vertroue
in die Here stel.

Ekstra stof

Psalm 25-33 fokus op gebed, lof en geloofsvertroue.  Hy roep ons op om moed te hou, want Hy is die Skepperkoning. ‘n Mens kan ‘n chiastiese patroon in dié Psalms raaksien.

  • Psalm 25 en 33 besing God se genade in Sy verbond en die genade van Sy heerskappy.
  • Psalm 26 en 32 besing die geluk van een wat blaamloos lewe, sowel as een wat vergifnis ontvang het.
  • Psalm 27 en 31 bid om verlossing van valse beskuldigings en eindig telkens met die oproep tot vertroue in God en sterk wees en moedhou.
  • Psalm 28 en 30 hou verband deurdat die eerste die gebed is van een wat gevaar loop om onder te gaan (in die kuil/put – vers 1), en aan die ander kant die gebed van een wat verlos is van ondergang (uit die kuil/put – vers 4)!
  • Die sentrale Psalm, Psalm 29, besing dan die Skepperkoning se stem soos dit in die natuur met ‘n donderstorm gehoor kan word en krag gee aan sy volk en hulle seën met oorvloed (vgl Psalm 19).

Psalm 27 + 31 – Vertrou God, wees sterk en vol moed
Hierdie 2 Psalms teken die worsteling van Dawid om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed. Dit word saamgebind deur die appèl aan die einde aan die hoorders-lesers omsterk te wees, moed te hou en te bly vertrou (vgl dieselfde opdrag aan Josua met sy inname van die beloofde land – Deut 31:23; Jos 1:6,7,9).

Psalm 31 – My toekoms is in u hande
Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam (vers 8-13).  Hy voel “soos iemand wat lankal dood is”, hy’t “geword soos ‘n ding wat lê en vergaan” (vers 13) … “Maar ek vertrou op U, Here” … “ek sê, U is my God” (vers 15).

Vertroue kom dus meer tot sy reg in die smeltkroes van die lewe.  Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye.  En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16).  Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand” (Craigie).

Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.

Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – sy getrouheid (vers 5, 21), sy getroue en onfeilbare liefde (vers 7, 16), dat Hy raaksien (vers 7), dat Hy ‘n veilige staanplek gee (vers 8), sy goedheid (vers 19) en sy guns en beskerming (vers 24).  Hoe hy vashou, is om te vertrou, sterk te wees, moed te hou.

Dat die Here wel die uitkoms voorsien het, wat Dawid gevra het, is wonderlik: “U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het” (vers 23).  Daarom vorm dit deel van sy appèl aan die geloofsgemeenskap, om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is …” (vers 24).

Uit ‘n NT hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46).  Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)!  Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ‘n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit.

Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe.  Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, nog soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou.  En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe.

Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ‘n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat.  Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie.  En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Liturgie

In die Basisliturgie vir Lydenstyd in van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17 word die volgende sinvolle suggesties gemaak om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • simbole soos die kruis, ’n doringkroon en ’n gésel kan dwarsdeur die seisoen gebruik word;
  • op Aswoensdag kan ’n meditatiewe diens gehou word waartydens ’n kruis van as gemeng met olyfolie op die voorkoppe van lidmate gemaak word;
  • palmtakke kan ’n prominente deel van liturgiese versierings op Palmsondag uitmaak;
  • ’n Tenebrae-diens kan op een van die aande gedurende Groot Lydensweek gehou word: die verhaal van die passie van Christus (van die Paasmaaltyd tot die kruisiging) word uit een van die sinoptiese evangelies (vanjaar die evangelie volgens Matteus) gelees en op sekere punte word die voorlesing onderbreek deur die doodblaas van 12 kerse;
  • dit is gepas dat nagmaal op die Donderdagaand van Groot Lydensweek gevier word, verkieslik nie op Goeie Vrydag nie;
  • die diens op die Donderdagaand word afgesluit  met die verwydering van alle versierings uit die liturgiese ruimte.

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: (Uit Matteus 21)

Seëngroet 

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Herinnering aan Jesus se intog in Jerusalem
of

Kruiswoorde
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis (ahv Filippense 2)

Loflied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Psalm 31:9-16

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 377 “O Lam van God onskuldig vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: (Uit Matteus 21)
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ’n donkie,
op die vul van ’n pakdier.”
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom! o
Prys Hom in die hoogste hemel!”

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle
van God ons Vader
en die Here Jesus Christus
deur die werking van die Heilige Gees. Amen

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Herinnering aan Jesus se intog in Jerusalem
Laat iemand Matteus 21:1-11 voorlees.

Gebed
Voorganger: Kom ons dank die Here ons God.
Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Ons loof en dank U , o God,
vir die groot liefdesdade waarmee u ons verlos het
deur u Seun Jesus Christus, ons Here.
Op hierdie dag het Hy die heilige stad Jerusalem
triomfantelik binnegegaan en is Hy deur
die skares as Seun van Dawid en
Koning van die konings verwelkom.
Help ons dat ons Hom altyd sal eer
as ons Here en Koning
En Hom sal volg met volkome vertroue.
Ons vra dit in sy Naam,
Hy wat saam met U
En die Heilige Gees leef en regeer.
Een God, nou en vir ewig.
Amen.

Voorganger: Loof Hom wat in die naam van die Here kom!
Gemeente: Hosanna vir die seun van Dawid.
of
Kruiswoorde
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Jesus het 7 maal aan die kruis gepraat. Geen enkele evangelis maak melding van al die woorde nie, en daarom is dit nie so maklik om die volgorde v.d. kruiswoorde aan te gee nie. Meestal word die volgorde as volg aangegee:

Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4″

Geloofsbelydenis (ahv Filippense 2)
V: Ek glo in Jesus Christus
G: die eniggebore Seun van God die Vader…

V: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word
G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

V: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.

V: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.
G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!

V: Tot eer van God die Vader.

Loflied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Liedere

F175. “Vry” 
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Vergifnis / Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Vry ons is vry
Deur sy bloed en sy genade is ons vry
Ons is vry. Van die pyn
En smart het Jesus ons bevry

Heer, elke dag is ‘n belofte
Elke oomblik net geleen
Die ganse heelal bring U ere
Deur U Seun is ons vergeef
Verlos van sonde en die dood
Aan die kruis het U gely
En Here, ons sê dankie
Dankie Here ons is vry

Heer, U verlos ons deur genade
U vergewe en vergeet
Die kruis van Golgota bring lewe
En reddingskrag is hier vir my
Deur Jesus Christus is daar lewe
Elke knie sal voor Hom buig
U’t ons vrygemaak van sonde
En die vyand is oorwin.

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Here I Am To Worship (AKA Light of the World)
Teks en Musiek: Tim Hughes
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
©  2000  Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.

Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.
Nuwe jaar… nuwe genade

Skriflesing: Psalm 31:9-16

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Kinders dra palmtakke by die begin van die erediens in en sit dit voor in die kerk neer.

Kruisies wat uit palmblare gevleg is (daar is talle webwerwe op die internet beskikbaar wat stap-vir-stap wys hoe om dit te doen) word by die deure aan elke kind uitgedeel. Dié kruisies word ’n jaar lank (byvoorbeeld) as ’n boekmerk gebruik en op Aswoensdag van die volgende jaar verbrand om die as te gebruik om ’n kruisie op die voorkoppe van die kinders mee te maak.

Die voorganger roep ‘n paar kinders vorentoe en maak askruise op hulle voorkoppe.

Vertel die storie van Jesus en sy reis Jerusalem toe. Laat die kinders verstaan dat Jesus baie keer vantevore in Jerusalem was, maar dat Hy nou geweet het dit is die laaste keer.

Jesus en die dissipels het Jerusalem toe geloop. Op pad soontoe het Jesus vir een van hulle opdrag gegee om vir Hom ‘n baba-donkie te vind. Dit was deel van God se plan dat die donkie reeds vir Hom gewag het.

Demonstreer met palmtakke hoedat die skare Jesus ingewag het. Hulle het palmtakke in die lug gewaai. Party het hulle klere neergegooi sodat die donkie daaroor kon loop.

Hoekom was die skare so opgewonde oor Jesus? Omdat hulle sulke wonderlike goed oor Hom gehoor het oor hoe Hy ander mense gehelp het. Daar was egter ook mense in Jerusalem, veral die leiers van die kerk, wat glad nie bly was om Hom te sien nie.

Die skare het bly “hosanna” skree vir Jesus terwyl Hy en sy dissipels op pad was na die gemeente se bidplek toe, die tempel soos wat hulle dit genoem het. Die meeste van hulle het egter verwag dat Hy die slegte regeerders wat die mense so laat swaarkry het, sou aanvat. Toe hulle sien dat Hy dit nie doen nie, het baie van hulle belangstelling in Hom verloor. Hulle het iemand gesoek wat sterk is en goed kon baklei om vir hulle ‘n leier te wees.

Natuurlik kon Jesus maklik en op een slag met die slegte mense van Jerusalem en die regeerders van Rome afgereken het.

Die as van die palmtakke waarvan ons die kruisies gemaak het vertel egter vir ons dat Jesus nie ‘n koning wou wees soos ‘n groot held vir wie almal toejuig en waai nie. Nee, palmtakke kan verbrand en as word. Net so kom groot helde dikwels tot ‘n val – en in elk geval gaan hulle ook maar soos enigiemand anders dood.

Jesus het gekies om op ‘n ander manier as die gewone sterkman- en held-manier vir mense te wys hoe ‘n mens ‘n regte leier is: Jy kan jou ander wang draai as jy geslaan word; jy gee om vir die mense waaroor ander mense hulle nie bekommer nie, omdat hulle nie belangrik en ryk genoeg is nie. Daarvan het baie van hulle niks gehou nie – veral nie die kerkleiers nie. Daarom, enkele dae later (op wat as Goeie Vrydag bekend sou word), het hulle Jesus aan ‘n kruis opgehang.

Preekriglyn

“Dit het vir my gevoel asof ek nooit enige sukses onder die Indiane sal hê nie. Inteendeel, ek was in my diepste mens-wees moeg vir die lewe. Ek het na die dood verlang, meer as wat ek in woorde kan beskryf. Sou ek tog maar liewer kon sterf!”

Dit is die woorde wat David Brainerd in die vroeë 1700’s oor sy eerste weke as sendeling onder die Amerikaanse Indiaan-boorlinge geskryf het. Omstandighede het nie veel verbeter oor die loop van sy eerste twee jaar as sendeling nie. Brainerd het na ‘n mislukking gevoel en begin dink die moontlikheid dat hy enige bekerings gaan sien is omtrent nul – “so donker soos die middernagtelike uur,” het hy gesê.

Na drie jaar was daar ‘n plotselinge geestelike oplewing onder die Indiane. Agttien maande later het reeds 150 persone besluit om Jesus as Here en Verlosser te volg. Dit was – vir die omstandighede – ‘n besondere hoë getal.

David Brainerd is na vyf jaar op sy sendingveld oorlede. Hy was 29 jaar oud.

Na Brainerd se dood het Jonathan Edwards, wat tot vandag as een van die VSA se grootste teoloë beskou word , sy joernaal gepubliseer. Die joernaal is wyd in die VSA en in Europa gelees.

William Carey, die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging, waaruit miljoene bekerings wêreldwyd gevolg het, het gesê Brainerd se joernaal was een van die groot bronne van inspirasie in sy bediening. Carey het danksy Brainerd besluit om hom aan buitelandse sendingwerk toe te wy.

Wie kan besluit of iemand se lewe en se lewenstaak die moeite werd is, of vrug sal hê? Veral te midde van groot lyding? Wie kan dink of droom dat daar uit intense lyding, swaarkry en mismoedigheid enige vrug kan kom? Dis nie hoe mense gewoonlik oor lyding dink nie.

Tog is dit wat God doen. God het dit deur die lewe van David Brainerd gedoen. Maar God het dit veral in die onmeetlike lyding en sterwe van Jesus Christus gedoen. Sy wonde, sy sterwe en gebroke liggaam het dié bron van lewe geword.

Op Jesus se lippe

Psalm 31 pas op Jesus se lippe.

Toe Jesus tydens sy verlatenheid en lyding gebid het, het Hy uit dieselfde psalms gebid waaruit ons bid. Ook vir Jesus was die psalms ‘n bron van troos en het dit aan Hom woorde gegee in sy situasie. Psalm 31 vertolk die lyding van Jesus en die vertroue wat Hy in God gehad het om Hom deur die  dood te dra en daaruit te red.

Daarom lees die kerk deur die eeue Jesus se verhaal so geredelik in Psalm 31 in. Veral die klag in nood en die vertroue op God in lyding pas volkome by Jesus se lewe.

Inhoud van die psalm

Psalm 31 is ‘n klaagpsalm deur ‘n individuele gelowige, wat bestaan uit:

  • ‘n gebed (verse 2 – 19), en
  • Danksegging en lof (verse 20 – 25).

Die gebed bestaan uit ‘n hulpgeroep en ‘n beskrywing van die nood wat die gelowige beleef. Dit word gevolg deur ‘n roerende uitdrukking van die verlatenheid wat iemand beleef wat deur vriende verlaat en deur vyande sleggesê word. Dit is nie duidelik presies wat die siekte of nood is nie, maar dit maak ook nie saak nie. Die psalm gee ons taal om siekte of lyding te verwoord voor God se aangesig.

Ten spyte van die benoudheid is daar ook intense vertroue op God:

  • Vers 6: “In U hande gee ek my lewe oor…” (Jesus haal hierdie woorde in Lukas 23:46 aan);
  • Vers 15-16: “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand.”

Ons teksgedeelte begin en eindig met versoeke dat God sy beskerming sal verleen. Die taal skep die gevoel van iemand wat vasgevang voel in groot ellende. Die beskrywing is van so aard dat die leser daarmee kan identifiseer: “my oë is dik van verdriet”, “my lewe kwyn weg”, “my kragte gee mee”, “my ledemate swel op”, “‘n verskrikking vir my kennisse”, “gebreekte kleipot”. (Direkte Vertaling).

Bespotting

Die lyding en benoudheid word dramaties vererger deur die houding wat die psalmdigter se bure vanweë sy lyding inneem (12-14):
Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
‘n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ‘n ding
wat lê en vergaan.
Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.

Die gevolg van die fisieke lyding en sosiale verwerping is dat die digter soos ‘n dooie mens geword het, gou vergeet, soos ‘n gebreekte houer wat nie meer gebruik kan word nie en daarom weggegooi word.

Vertroue op God

Te midde van die baie grafiese beskrywing van lyding en verwerping is ‘n volkome vertroue op God baie duidelik. God is die enigste een waartoe die lydende nog kan draai. Voor God, en in God se hand, word die lyding draaglik. Die digter kies om sy lewe opnuut vanuit God se hand te ontvang, ten spyte van die pyn en swaarkry. Die lyding dryf die lydende in die hande van God.

In die Bybel is die hand die instrument van gesag en mag. Net God het mag om met God se hand die toekoms te bepaal. God se hand is die instrument van God se verbondsliefde, oftewel sy troue liefde.

Sosiale verwerping

Psalm 31 spel die implikasies van lyding uit. Lyding het fisieke sowel as sosiale gevolge. Die liggaam kwyn weg en die kragte gee in. Die gevolg is dat vriende en vyande die lydende verwerp, bedreig, weggooi en nie meer ag nie. Miskien kan jy daarmee identifiseer, of ken jy iemand wat so aangeraak was.

In haar boek Waiting for God, fokus Simone Weil op die sosiale implikasies van lyding. Volgens haar maak lyding, wat sy eerder wil beskryf as beproewing of ellende (“affliction”), negatiewe kragte in verhoudings wakker. Sy was ‘n Jood, wat Christen geword het. Sy self het gesterf omdat sy haar fisiek in solidariteit by noodlydendes, werkers en hongeres van die Tweede Wêreldoorlog geskaar het. Haar liggaam het nie die verwaarlosing oorleef nie.

Weil skryf: “Beproewing en ellende ontwrig en ontwortel jou lewe. Jy word ‘n lewende dooie, en jou gemoed, emosie en siel word deur fisieke en ander pyn aangeval. So ‘n diepgaande, donker beproewing het altyd sosiale implikasies. Dit lei tot verwerping of dat jy eenkant toe geskuif word.”

Volgens Weil word mense wat sulke donker aanvegtinge beleef altyd geïgnoreer. Ons verkies om draaie om hulle te loop omdat ons in die lig van ons geloof nie weet wat om met hulle lyding te maak nie. In die lyding, in die ontmoeting met daardie dimensie, word ons werklik gekonfronteer met die uitdaging om God en menswees te probeer verstaan. Dit is asof mense dink daar moet groot fout met jou wees omdat jy so ly. En jyself – in jou lyding – sien die ongemak en vermyding in die oë en liggaamshouding van ander raak. Jy mag selfs begin glo dat jou lewe sinloos en waardeloos is.

Die lydendes word verwerp want hulle herinner ons aan ons weerloosheid en menslikheid. Dat die lewe nie altyd uitwerk soos dit moet nie. Ons is bang, letterlik en figuurlik, dat ons sal aansteek. Daarom stoot ons weg, verwerp ons, viktimiseer ons. Ten diepste miskien omdat ons die magteloosheid vrees.

In God se hande

Die wonderwerk is egter dat die lyding en die sosiale verwerping die psalmdigter na God laat gryp. Jesus is ook vir ons ‘n voorbeeld hiervan. Hy gryp op verskillende maniere in die nag voor sy dood, en in die kruisigingsgebeure, na God.

Die psalmskrywer besef God se hande is die veiligste plek. Hy of sy kan maar sy tye in daardie hande plaas. Die hande herinner aan die lig van God se teenwoordigheid, die getrouheid van sy liefde: “Maar ek, ek vertrou net op U Here!”

Dit beteken dat gemeentes en gelowiges ‘n alternatiewe soort bure vir lydendes moet wees. Gemeentes is gemeenskappe van voorbidding vir die wat ly, ruimtes waar ons nie leed en lyding ignoreer, verkleineer, of aan die lydende self toeskryf nie. Ons moet anders as die wêreld wees. Die Psalms help ons om hierdie soort gemeenskap te wees.

Ons optrede word gestempel deur die sentrale simbool van ons geloof: die kruis. Ons beleef hoedat nuwe lewe uit die onmeetlike lyding van Jesus gevloei het. Daarom verduur en omhels ons lydendes.

Ook Jesus

Ook Jesus was alleen, uitgestoot, verag. Ook Christus het gevrees dat Hy selfs deur God verlaat sal word. Tog was die vertroue daar, al was dit bloot in die uitroep en aanspreek van God se naam tot aan die einde.

Gelowiges het deur die eeue heen besef, na baie eksistensiële stryd, dat God wel in die alledaagse teenwoordig is, bowenal daar waar ander ly en in benoudheid verkeer – daar is God. Jesus help ons om ons eie pyn te dra, al bring dit ons net terug aarde toe en maak ons bewus van ons afhanklikheid, maar Hy moet ons help om nie lydendes te verstoot nie.

En: Onthou as jy die psalms bid, Jesus het ook.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 377 “O Lam van God onskuldig vs 1,2,3”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.