Sesde Sondag in Lydenstyd Palm-/Passiesondag

Sections

Oorsig

Ander tekste: Psalm 118:1-2, 19-29; Jesaja 50:4-9a; Psalm 31:9-16; Filippense 2:5-11

Ander tekste

Psalm 118:1-2, 19-29
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.

Psalm 31:9-16
8Ek wil jubel en juig oor u troue
liefde:
U was nie onverskillig
teenoor my ellende nie;
U het die bedreiging van my lewe
raakgesien
9en my nie aan die mag van die vyand
oorgelewer nie;
U het my ’n veilige staanplek gegee.
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Fokusteks

Matteus 20:29-21:11 en 26:14–27:46
Jesus maak twee blindes gesond
(Mark 10:46–52; Luk 18:35–43)
29Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het ‘n groot menigte Jesus gevolg. 30Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

31Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

32Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
33Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.”
34Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

Die intog van Jesus in Jerusalem
(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)
21  Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n donkie kry wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
5″Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ‘n donkie,
op die vul van ‘n pakdier.”
6 Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Die reiniging van die tempel
(Mark 11:15–19; Luk 19:45–48; Joh 2:13–22)
12Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.”

14Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. 16Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”
“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”
17Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

Jesus vervloek die vyeboom
(Mark 11:12–14; 20–24)
18Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19Toe Hy ‘n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”
En die vyeboom het dadelik verdroog.
20Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

21Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

Judas onderneem om Jesus te verraai
(Mark 14:10–11; Luk 22:3–6)
14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na ‘n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Mark 14:12–21; Luk 22:7–14)
17Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.'”

19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

Jesus wys sy verraaier aan
(Mark 14:17–21; Luk 22:21–23; Joh 13:21–27)
20Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
25Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”
Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die instelling van die nagmaal
(Mark 14:22–26; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
26En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”
30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Petrus sal Jesus verloën
(Mark 14:27–31; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:
‘Ek sal die herder doodmaak,
en die skape van sy kudde sal
uitmekaar gejaag word.’
32Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”
33Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”
34Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”
35Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
Al die ander dissipels het ook so gesê.

Jesus in Getsemane
(Mark 14:32–42; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
36Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42‘n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44Hy het hulle weer alleen laat bly en ‘n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem
(Mark 14:43–50; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)
47Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was ‘n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48Die verraaier het met die manne ‘n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” 49Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. 51Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. 52Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek ‘n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”
Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad
(Mark 14:53–65; Luk 22:54–55; 63–71; vgl Joh 18:13–14; 19–24)
57Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. 58Petrus het op ‘n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”
64Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
Van nou af sal julle
die Seun van die mens sien
waar Hy aan die regterhand sit
van Hom wat magtig is,
en julle sal Hom sien kom
op die wolke van die hemel.”
65Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. 66Wat dink julle?”

Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”
67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap 68en gesê: “Jy is mos ‘n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

Petrus verloën Jesus
(Mark 14:66–72; Luk 22:56–62; Joh 18:15–18; 25–27)
69Petrus het buite in die binnehof gesit toe ‘n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

70Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

71Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ‘n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

72Weer het Petrus dit ontken en met ‘n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

73‘n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. ‘n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

74Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

75En op daardie oomblik het daar ‘n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word aan Pilatus uitgelewer
(Mark 15:1; Luk 23:1–2; Joh 18:28–32)
27  Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

Die dood van Judas
(Hand 1:18–19)
3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.”

Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

Jesus voor Pilatus
(Mark 15:2–5; Luk 23:3–5; Joh 18:33–38)
11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”
12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.
13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”
14Maar Jesus het hom op geen enkele woord ‘n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Mark 15:6–15; Luk 23:13–25; Joh 18:39–19:16)
15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar ‘n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ‘n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ‘n vreeslike droom oor hom gehad.”

20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” antwoord hulle.

22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Mark 15:16–20; Joh 19:2–3)
27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. 29Hulle vleg ‘n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Mark 15:21–32; Luk 23:26–43; Joh. 19:17–27)
32Toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by ‘n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom ‘n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Mark 15:33–41; Luk 23:44–49; John 19:28–30)
45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”
48Een van hulle hardloop toe gou, vat ‘n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ‘n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”
50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55Daar was ook baie vroue wat op ‘n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

Jesus word begrawe
(Mark 15:42–47; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
57Laat die middag het daar ‘n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ‘n volgeling van Jesus was. 58Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai 60en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ‘n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

Die graf word bewaak

62Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’64Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle ‘n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Liturgie

Inleidingswoorde
Gemeente van …, ons kom vanoggend bymekaar om die reis van Groot Lydensweek te begin. Vandag kom ons met ons broers en susters van verskillende kerke bymekaar om Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem te vier en ons deel in die verhaal van sy lyding, sterwe en opstanding.

Skriflesing: Matteus 21

Die intog van Jesus in Jerusalem

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 2,3”

Aanvangswoord: Psalm 118

Seëngroet

Sang: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Oproep tot verootmoediging
Soos die mense in Jerusalem Jesus met hosannas begroet het en later “kruisig hom!” geskree het, is ons onbestendig en wankelend in ons getrouheid aan Christus en ontken ons Hom dikwels in ons gedagtes, woorde en dade. Ons staan vanoggend saam voor die kruis as mense wat ’n Verlosser nodig het – laat ons ons in afhanklikheid en ootmoed voor God oopstel wat ons in Christus kom red het.

Filippense 2

Geloofsbelydenis: ahv Romeine 5
of
Geloofsbelydenis (uit Handleiding vir die Erediens)

Toewyding: Filippense 2

Loflied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 26:14-27

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3′

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Inleidingswoorde
Gemeente van …, ons kom vanoggend bymekaar om die reis van Groot Lydensweek te begin. Vandag kom ons met ons broers en susters van verskillende kerke bymekaar om Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem te vier en ons deel in die verhaal van sy lyding, sterwe en opstanding.

Skriflesing: Matteus 21

Die intog van Jesus in Jerusalem
(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)
21  Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
5“Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ’n donkie,
op die vul van ’n pakdier.”

6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”
11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 2,3”

Aanvangswoord: Psalm 118
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Seëngroet  
Voorganger: Vrede vir julle.
Gemeente: En vrede ook vir jou.

Sang “209 Heer met my hele hart 1”

Oproep tot verootmoediging
Soos die mense in Jerusalem Jesus met hosannas begroet het en later “kruisig hom!” geskree het, is ons onbestendig en wankelend in ons getrouheid aan Christus en ontken ons Hom dikwels in ons gedagtes, woorde en dade. Ons staan vanoggend saam voor die kruis as mense wat ’n Verlosser nodig het – laat ons ons in afhanklikheid en ootmoed voor God oopstel wat ons in Christus kom red het.

Filippense 2
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.

Geloofsbelydenis: ahv Romeine 5

Voorganger: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.
Gemeente: Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Voorganger: Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.
Gemeente: En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 

Voorganger: Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding …
Gemeente: en volharding kweek egtheid van geloof …

Voorganger: en egtheid van geloof kweek hoop …
Gemeente: en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het 
of
Geloofsbelydenis (uit Handleiding vir die Erediens)
Gemeente:  Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader,
Voorganger:  Hy wat in die gestalte van God was, maar homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G:  wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V:  Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G:  Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en hy stel hom aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V:  God het hom tot die hoogste eer verhef en hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G:  In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buit en elke tong sal erken:  Jesus Christus is die Here!
V:  Tot eer van God die Vader.

G:  Amen.

Toewyding: Filippense 2
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.

Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.

10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Loflied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Liedere

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)Teks en musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste.
Ons sing hosanna want die Koning het gekom.
En Hy is hier vir ons.
Ons sing hosanna want God het ingetree.
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee.
Hy is hier vir ons.

Refrein:
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my lewe.
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my hart.

2. Ons sing halleluja want God is op die troon.
Ons sing halleluja want die dood het verloor
by die kruis van Jesus.
Ons sing halleluja want die lig het gekom.
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom.
Hy’t gekom vir jou en my.

Refrein:

VONKK 100  “By Die Intog In Jerusalem  (kanon)”
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010 Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Lydenstyd (Palmsondag) / Kindwees

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ewige God,
u woord maak die geskreeu van die magtiges stil.
Laat die verhaal van u Seun se lyding en dood ook nou deur die stemme in ons kop indring
sodat ons deur die krag van u Gees
die genade sal ontvang om in Christus se liefde
ons lewe aan u diens te wy.

Skriflesing: Matteus 26:14-27

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Soos altyd is dit belangriker dat kinders die Bybelverhale hoor, eerder as ’n lessie daaroor.  Moenie bang wees om gewoon die storie van die intog in Jerusalem of die passie (of dele daarvan) te vertel nie.  Of fokus op die oorgang van Palm na Passie:  toe Jesus in Jerusalem inry, steek almal hul vingers in die lug (amper soos die spons vingers by sportbyeenkomste):  “Jesus is nommer een! Jesus is nommer een!”  Maar kort daarna word dieselfde vingers veroordelend teen Jesus gedraai:  “Kruisig hom!”
Aangeheg die verhaal van die intog in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus in Jerusalem
21     1–5 Hierna kom hulle by ’n dorpie, Betfage, aan die voet van die Olyfberg. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus stuur toe twee dissipels* na die dorpie toe. “As julle daar inkom,” sê Hy, “sal julle ’n donkie kry met ’n jong vul by haar. Maak haar los en bring haar vir My. As iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, sê dan: ‘Die Here het die donkies nodig. Later sal ons die donkies terugbring.’

“Jesaja het mos al lankal gesê:
‘Sê vir almal in Jerusalem:
Julle koning kom na julle toe.
Hy dink nie te veel van Homself nie.
Daarom ry Hy op ’n donkie, op die vul van ’n gewone werksdier.’”
6–9 Die twee dissipels* is toe vooruit. Hulle het alles gedoen wat Jesus gesê het. Later, toe hulle met die donkie en haar vul by Jesus aankom, het hulle met hulle klere ’n saal gemaak waarop Jesus kon sit. Langs die pad het ’n groot skare mense saamgedrom. Toe hulle vir Jesus sien aankom, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander het blare en takke afgebreek en dit voor Jesus in die pad gestrooi. Hulle het Hom soos ’n koning ontvang. Die skare het hard uitgeroep:
“Welkom, Seun van koning Dawid!
Ons prys* U wat in die Naam van God na ons toe kom!
Laat die hemele weergalm van ons vrolike welkomsgroet!”

10–11 Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het mense van oral af soontoe gestroom. Almal wou weet wat aan die gang is. “Wie is hierdie man? het hulle vir mekaar gevra. Toe antwoord die mense wat saam met Jesus stap: “Dit is Jesus. Hy is die boodskapper van God wat uit Nasaret in Galilea kom.”
Inkleurprent (geen kopiereg)

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek werk met ‘n kleiner afbakening van die teks, nl. Matteus 27:27-44]
Ons teks vertel die somber verhaal van die bespotting van Jesus. Die aanloop tot kruisiging, en die kruisiging self, was daarop gemik om die veroordeelde na liggaam en gees te breek. Dit is bedoel om die mens in sy diepste wese te verkrag en te verwerp. Ons sien hoe alles in ons teks daarop gemik om Jesus te verneder en Hom met skande uit die weg te ruim.

Palmtakke

Verstommend genoeg het die mense van Jerusalem Jesus ‘n paar dae vantevore toegejuig en hulde aan Hom betoon. In Matteus 21 word vertel van die intog van Jesus in Jerusalem. Jesus het op ‘n donkie gery, ‘n teken van nederigheid. Tog het ‘n groot skare versamel. Sommige het klere op die pad oopgesprei, terwyl ander palmtakke op die pad gelê het. Dit is ‘n teken van hulde en verering.

Die skare wat Jesus op hierdie dag omring, roep:
Hosanna vir die Seun van Dawid
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.
Hosanna in die hoogste!
Toe Jesus Jerusalem binnegaan, vertel Matteus, was die hele stad in rep en roer oor die profeet Jesus van Nasaret in Galilea.

Van eerbetoon na verwerping

Skaars ‘n paar dae later verwerp Jerusalem Jesus. Wanneer Jesus op aanklagte voor goewerneur Pilatus verskyn, laat hy die skare kies tussen Jesus en die berugte misdadiger Barabbas. Aangevuur deur die priesterhoofde en familiehoofde skreeu die skare oor Jesus: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Daarop lewer Pilatus Jesus oor, word Hy gegesel, deur die soldate bespot met ‘n koningkleed, ‘n doringkroon en ‘n riet vir ‘n koninklike septer. Só beland die onskuldige Lam van God aan die kruis, bespot en verlate. Sy klere is weggeneem. Hy is gemartel. Hy dra ‘n doringkroon. Die woorde van Lied 389 kom onwillekeurig by mens op:
Is dit, is dít my Koning –
Kyk daar, aanskou die Mens!
Is dit, is dít sy kroning –
Wie het dit só gewens?
Is dit sy koningshulde –
Dié riet, dié kleed, dié kroon?
Boet Hy só vir my skulde,
Word só Gods Seun vertoon!

Bespotting

In sy lydensverhaal fokus Matteus nie net op die onskuld van Jesus, en sy verwerping nie. Die geleenthede waarop Jesus bespot is, vorm ‘n belangrike tema in Matteus se verhaal oor Jesus se verhoor en kruisiging:

  • Tydens die verhoor voor die hoëpriester spoeg die mense Jesus in die gesig, slaan Hom met die vuis, klap Hom en sê as profeet moet Hy sê wie Hom geslaan het (26:67);
  • Die soldate bespot Jesus met ‘n nagebootste koningskleed, riet as septer en doringkroon. Hulle buig spottend voor Hom en noem Hom Koning van die Jode;
  • Aan die kruis laster en bespot die verbygangers Jesus. As Hy die tempel kan afbreek en in drie dae kan opbou, en die Seun van God is, kan Hy Homself sekerlik van die kruis red;
  • Die Skrifgeleerdes en familiehoofde spot Jesus ook. Hy is dan die koning van Israel en die Seun van God – Hy kan sekerlik van die kruis afkom.

Al die belangrike titels vir Jesus funksioneer in die bespotting: profeet van God, Seun van God; Koning van die Jode; tempelbouer (die Een deur Wie ons gemeenskap met God het); en Koning van Israel.

Die skokkende is dat die omstanders die woorde nie bedoel nie. Tog is dit waaroor Jesus besport word, presies dit wat ons van Hom glo. Dit is presies soos die Bybel Hom aan ons bekendstel.

Fyn lyn tussen spot en geloof

Daar is inderdaad ‘n dun lyn tussen geloof en bespotting. Die ongeloof waarmee die spotters Jesus gadeslaan sit juis agter hulle bespotting. Vir hulle maak wat Jesus van Homself sê geen sin nie. Hulle kan nie daarmee rekening hou dat dit waar is nie. Daarom verwerp hulle Jesus.

Diegene wat met die oë van geloof na Jesus kyk, sien in hierdie titels die waarheid oor Jesus. Natuurlik was dit op daardie verskriklike Vrydag, toe Jesus gekruisig is, moeilik om deur die oë van geloof na Hom te kyk, en aan God vas te hou. Daarom vlug die dissipels, verloën Petrus vir Jesus, en het Judas Hom die vorige dag verraai. Slegs enkelinge, waaronder die vroue, bly by Jesus staan.

Daar is ‘n dun lyn tussen verraad, verloëning, spot en geloof.
Toe God die dooie Jesus uit die graf optel en lewend maak, blyk die waarheid oor Jesus. Sedertdien kan almal sien dat Jesus se vertroue op God nie verniet was nie. Sy gehoorsame dood het tot die lewe gelei. Sedertdien kan almal sien dat Hy die Seun van God is, en dat God inderdaad behae in Hom het.

Sedert die opstandingsdag moet mens doelbewus kies vir ongeloof en bespotting. Want die getuienis is daar dat Jesus inderdaad die Seun van God, die Koning van Israel, die boodskapper van God, die Een met die koningskleed en die koninklike septer in sy hand.
Die sinvolle ding is om soos die ongelowige Tomas te sê: “My Here en my God!”

Jesus se reaksie op die bespotting

Dit is opvallend dat Jesus nie reageer op die bespotting nie. Hy bly stil. Hy vertrou inderdaad op God en weet dat God Hom op die regte tyd sal red en verhoog. Hy laat sy verdediging aan God oor. Soos inderdaad op Paassondag en met Hemelvaart gebeur het.

Ons sou dit waarskynlik anders hanteer. Die slagoffer van ‘n boelie word bv. aangemoedig om die boelie op sy plek dit te sit. Ons kry ander met geweld en weerwraak terug. Ons wil dit ook sien gebeur, die seermaak van die een wat seermaak.

Ons glo in geweld. Geweld red. Dit laat mens dink aan Al Kaïda wat Amerikaanse geboue platgevlieg het. Toe skiet die Amerikaners ‘n land of twee plat.

Ons sou ook verleë gestaan het voor die kruis. Jesus word juis uitgedaag word met geweld te reageer, los te kom van die kruis, te toon dat God aan sy kant is. Maar Hy doen dit nie. Waarom? Omdat Hy vas hou daaraan dat sy Vader getrou is en ook sy eie mag aan sy Vader oorgee. Dit verg ongelooflik naie moed om God toe te laat om reg te doen.
Daarmee leer Jesus ons die krag van geweldlose reaksie. Dit is die reaksie wat bid vir diegene wat jou vervolg, en wat weet dat vredemakers geseënd is.

Geweld ontmasker

Jesus leer ons deur sy reaksie hoe om mag en gesag in die lig van God se koningskap te verstaan. Jesus reageer nie-gewelddadig, en sterf aan die kruis. Daarmee val die Romeinse Ryk. Die Romeine het geweet hoe om rebelle vernederend aan die kruis dood te maak. Hulle het nie geweet wat om te doen met die Seun van God wat sy lewe in diens van God aan die kruis aflê nie. Hulle het nie geweet wat om te doen met iemand wat nie-gewelddadig reageer en daarmee geweld ontmasker nie.

Die Romeinse Ryk loop hom letterlik te pletter teen die kruis van Jesus. Na sy opstanding begin al hoe meer Romeine Jesus volg, en kies vir Jesus se lewe van nie-gewelddadige gehoorsaamheid aan God. Uiteindelik is Jesus ook die Koning van die Romeine.

Werklike mag is dus nie gewelddadige krag nie. Werklike mag is om God te gehoorsaam en die wil van God te doen. Die kruis demonstreer hoe leeg die politieke verstaan van mag is. Daarom moet ons as kerk ook versigtig wees om nie ‘n verkeerde verstaan van mag aan te hang nie. Dit is nie ons getalle, ons geld en die grootte van ons programme wat aan ons mag gee nie. Dit is nie die regsien van mense wat ons nie aanstaan nie, wat ons saak gaan bevorder nie.

Die mag wat Jesus uitbeeld, gehoorsame vertroue en toewyding aan God, is dikwels steeds vandag vir die kerk en gelowiges ‘n aanstoot. Die kruis moet ons juis lei tot kritiek op enige vorm van gewelddadige uitoefening van mag, anders word ons maar weer die goewerneur, soldate, skares en rebelle in die verhaal.

Volg Jesus na

Laat ons die lydende Jesus navolg in ons lewe van elke dag. Die woorde uit Hebreërs 12 kom onwillekeurig by mens op:
Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (Hebreërs 12:1b-3)

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Mag die onderstebo wysheid van God,
wat die maghebbers van die wêreld oorwin het deur,
ontklee van alle mag,
aan ’n kruis te sterf,
aan ons die krag gee om in Jesus se voetspore te volg.
Mag dieselfde dienende gesindheid in jou wees wat daar ook in Jesus Christus was.
Mag God jou leer om die regte woorde te gebruik
sodat jy die wat moeg is, kan moed inpraat.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.