Sesde Sondag in Lydenstyd (Palmsondag – Feesdiens )

Picture of Woord en Fees

Sesde Sondag in Lydenstyd (Palmsondag - Feesdiens )

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Lukas19:28-40
Ander tekste: Psalm 118:1-2, 19-29; Jesaja 50:4-9a; Psalm 31:9-16; Fil.2:5-11; Lukas 22:14-23:56 of Lukas 23:1-49

Inleiding

Palmsondag is die laaste van die Lydensondae. Dit is terselfdertyd die begin van Groot Lydensweek. Daar is dus die element van triomf by die intog in Jerusalem, maar daar is ook die besef dat Jesus gekom het om te ly en te sterf in hierdie einste Jerusalem! Hierdie twee elemente moet deurlopend op Palmsondag vasgehou word. Plaas vandag ’n groot kruis in die liturgiese ruimte, as dit nie reeds aan die begin van Lydenstyd gedoen is nie.

Die liturgiese kleur vir hierdie Sondag is, soos in die res van Lydenstyd, pers en ook diep rooi, spesifiek op Goeie Vrydag, waar dit dui op die bloed van Christus.

Die volgende opsomming in ’n vorige jaar se riglyne is van groot nut. (Preekstudies met Liturgiese voorstelle, 2007/2008, bl 82)

Ekumeniese gebruike
Een of meer van die volgende gebruike kan ’n ekumeniese karakter aan die erediens verleen:

  • Deel kruisies uit wat uit palmblare gevleg is. Soms word klein houtkruise gebruik.
  • Hou ’n optog met palmtakke deur die strate na die kerkgebou. Dit kan ook ekumenies georganiseer word. ’n Houtesel met ’n Christusbeeld daarop het eens deel van die optog gevorm.
  • Die gemeente vergader buite die kerk en stap saam in prosessie die kerk binne. ’n Kruis kan gedra word. Die eerste gedeelte van die diensorde kan reeds afgehandel word waar die gemeente buite die kerkgebou byeenkom.
  • Kinders dra palmtakke by die aanvang van die erediens of tydens die lofsang in en lê dit voor in die kerk. Sommige gemeentes sluit ’n bede in die openingsgebed in waarin gevra word dat die palmtakke getuienis lewer van die dag wat herdenk word.
  • Die kerk word met palmtakke versier.
  • Drapeer ’n swart doek oor die kansel met die oog op Groot Lydensweek.
  • Waar Groot Lydensweek nie gevier word nie, word die gemeente geleentheid gebied om tydens die diens oor die “stasies van die kruis” na te dink.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Lied 370 en 179 kan vooraf gesing word.
Vertoon vooraf prente van mense met palmtakke. (Kyk by www.textweek.com vir die spesifieke Sondag en teks onder “Fine arts images” en “Graphics and bulletin materials”.)

Skriflesing
Psalm 118:1-2, 19-29; buite of binne die kerkgebou afhangende van hoe die prosessie met palmtakke ingerig word.

Prosessie met palmtakke
Enige variasie kan gebruik word afhangende van die gemeente se aard en samestelling.

Gemeentesang
Psalm 100/118:8 of Lied 326/ NSG 126 en 151

Aanvangswoord
Filippense 2:5-11

Gemeentesang
Lied 486:2,4; 401; 290:2,3,4/ NSG 186; 361

Seëngroet

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Lewende Here,
ons bid dat die lewende woorde uit u Woord
nie by ons ’n hart van klip
en ’n kop van yster sal aantref nie,
maar ’n leergierige gees wat werklik soek
na die betekenis van die nuwe lewe in U.
Laat ons werklik ervaar
dat U ons Vader is
wat ons as u kinders aangeneem het;
dat U ons Verlosser is wat namens ons gesterf
en weer opgestaan het,
en dat U deur u Gees ons harte verlig
om u stem te hoor. Amen. (Johannes Calvyn in
’n Gebedeboek met Liturgiese voorstelle, 2001, bl 46).
of
Goeie God,
U laat u waarheid straal,
stil en eenvoudig,
kwesbaar soos ’n kersvlam,
maar net so hardnekkig
soos die dag wat elke oggend opnuut breek.
Gee ons siel die antennas om
die stiltes en eenvoud van u stem op te vang.
Verhelder ons oog met die lig van u Woord.
Bevry ons verstand om die waarheid van u evangelie te registreer. Amen (Koos Fouché in Preekstudies met Liturgiese voorstelle, 2000/2001, bl 116).

Skriflesing uit Ou Testament
Jesaja 50:4-9a

Skriflesing uit psalms
Psalm 31:9-16

Skriflesing uit evangelies
Lukas 19:28-40 Die ander gedeeltes in Lukas, naamlik 22:14-23:56 behoort sekerlik ook hier gelees word. Anders mag dit gebeur dat die geleentheid net triomfantelik gevier word. Hierdie Koning het gekom om te ly en te sterf! Indien al hierdie dele gelees word, sal dit baie goed wees om dit verdeel onder verskillende voorlesers, soos ’n man en vrou, en een of twee kinders wat die lydensverhaal vertel.

Prediking

Diens van die tafel

Dankoffers
Gereedmaak van die tafel

Gemeentesang
Lied 302:1-4; 303; 376 (veral v 2)/ NSG 372; 371

Belydenis van Nicea saam hardop

Tafelgebed
U is waardig!
U is waarlik waardig
om bely te word deur elke mond,
geloof te word met elke tong,
aanbid te word deur elke skepsel.
Ons loof u glorieryke Naam,
o Vader, Seun en Heilige Gees in Een,
want U het in u genade nie net die wêreld geskep nie,
maar ook uit barmhartigheid en medelye
die wêreld gered en herskep.
Voor u majesteit en liefde, o God,
buig tienduisend maal tienduisend wesens neer,
om U sonder einde te prys en te besing:
Heilig, heilig, heilig is U, Here,
Heer van die leërskare!
Hemel en aarde is vol van u lof,
van u magtige teenwoordigheid.
Hosanna in die hoogste!
Amen” (Gebedeboek vir die lewe2007, bl 424).

Uitdeel van brood en wyn
Instelling en gebruik

Lofprysing en danksegging
Lied 525:1,3; 195:1,2; 453/ NSG 154

Uitsending

Voorbidding
’n Diaken doen voorbidding vir die gemeente wat uitbeweeg na hulle onmiddellike omgewing en vir die spesifieke behoeftes en nood wat daar bestaan. Noem die nood en behoeftes by name.

Verbintenis
Voorganger: Dank die Here want Hy is goed.
Gemeente: Sy goedertierenheid duur tot in ewigheid.

Voorganger: Almagtige en ewige God, ons dank U dat U ons in hierdie heilige geheimenis met die liggaam en bloed van u Seun ons Verlosser, Jesus Christus, gevoed het. Deur u genade behou U ons in die liggaam van u Seun, die gemeenskap van alle gelowige dissipels. Help ons om as lewende lede van daardie heilige gemeenskap te volhard en om in liefde en gehoorsaamheid volgens u wil toe te neem: deur Jesus Christus,
onse Here, wat leef en regeer met U en die Heilige Gees, een God in alle ewigheid.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Almagtige Vader,
ons gee onsself aan U
as ’n lewende offer
in Jesus Christus onse Here.
Stuur ons die wêreld in
met die krag van die Heilige Gees
om te lewe en te werk
tot U lof en eer ( ’n Anglikaanse Gebedeboek,1989, Herdruk 2007, bl 129).

Geloofsbelydenis
Die volgende kan met die dataprojektor vertoon word of afgedruk en uitgedeel word:
“Ek glo in Jesus Christus, wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder en was Hy gehoorsaam tot in die dood, ja die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is. Voor Hom buig ons die knie en erken: Jesus Christus is Here! Ons doen dit tot eer van God die Vader” Preekstudies met liturgiese voorstelle, 1998, bl 99).

In sommige kerke is dit gebruiklik om nie ’n slotsang aan die einde van die erediens op Palmsondag te sing nie, omdat die gemeente daarvandaan die Groot Lydensweek binnegaan. Indien ’n lied wel gesing word, behoort dit van gedempte aard te wees en baie sensitief.  Byvoorbeeld Lied 518 of 519/NSG 57. Ook Lied 558 of 577 of 590/ NSG 405; 50; 138

Seën
Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee (Num
6:24-26).
of
Mag God ons genadig wees en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies (Ps 67:2-3).

Preekstudie: Lukas19:28-40

Teks

Die Leesrooster se fokusteks vir hierdie Sondag staan in die Nuwe Afrikaanse Bybel (NAV) onder die opskrif “Die intog van Jesus in Jerusalem”. (I H Marshall: “Jesus approaches Jerusalem.”) Die perikoopindeling van die NAV verskil van die Leesrooster se afbakening. Eersgenoemde hanteer vers 28-44 as eenheid (ook L Morris: “The triumphal entry”), terwyl die Leesrooster slegs vers 28-40 aandui vir besinning (ook Marshall).

Die groter eenheid word deur die Jerusalemtema gebind. Daar is egter twee onderskeie tonele identifiseerbaar. Albei tonele word wel beskryf in terme van die beweging na die stad toe en die karakters se emosionele reaksie. In die eerste toneel (v 29-40) gaan dit oor Jesus se reis op die donkie en die skare se reaksie op Jesus se aantog – die skare breek uit in lofprysing oor Jesus. In die tweede toneel (v 41-44) gaan dit oor Jesus se reaksie oor die stad – sy hartseer oor Jerusalem wat blind is vir wat sy nodig het vir haar redding. Morris skryf: “Strictly Luke does not tell of Jesus’ entry to Jerusalem, triumphant or otherwise. But he does describe the approach, and the term ‘entry’ may be used without being misleading.”

Ons teks begin met ’n sin wat drie elemente bevat wat die voortgang van gebeure uitdruk: “Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad Jerusalem toe” (28). Hierdie openingsvers is “a Lucan link with the preceding section”. Die eerste frase gee ’n tydsaanduiding (“nadat”), asook ’n verwysing na ’n voorafgaande gesprek (“hierdie dinge”). Die tweede frase beskryf beweging (“voor hulle uit geloop”), as uitdrukking van ’n volgende aktiwiteit. Die derde frase beskryf die doel en bestemming (“rigting” – J Reiling & J L Swellengrebel) van die aktiwiteit of beweging (“op pad na Jerusalem toe”).

Die woord “nadat” is ’n struktuurmerker wat aandui dat die teks ’n bepaalde draaipunt bereik het en ’n volgende toneel inlui. Die uitdrukking “hierdie dinge”, verbind die huidige perikoop aan wat vooraf bespreek is. Jesus het “hierdie dinge” in Jerigo gesê, terwyl Hy in die huis van Saggeus die hooftollenaar was (Luk 19:5). Die frases van beweging (“vooruit”) en bestemming (“Jerusalem”) dui op ’n nuwe episode. “Now at last Jesus approaches Jerusalem from the east” (Marshall). Vers 28 impliseer onteenseglik dat Jerusalem Jesus se doelwit is.

Op pad na Jerusalem toe stuur Jesus twee dissipels vooruit met die opdrag om na die dorpie voor hulle te gaan en daar vir Hom ’n jong donkie te kry. Lukas beskryf in besonderhede die geografiese punt waar Jesus die opdrag aan die twee dissipels gegee het. Hy gee drie geografiese aanwysers; naby Betfage en Betanië (twee dorpies aan die oostelike hang van die Olyfberg – Reiling & Swellengrebel; Betfage beteken “house of unripe figs” & Betanië “house of dates” – Marshall; vlgs Danker is die naam onseker – “some interpret it as `house of the poor’ or ‘house of the afflicted’”), teen die Olyfberg (Reiling & Swellengrebel – die berg was bekend vir die olyfbome wat daar gegroei het).

Die volgorde waarin die plekname aangedui word is vreemd, omdat Betanië verder van Jerusalem af lê as Betfage. Marshall skryf: “it is possible that Bethany, the better-known place, was added to elucidate the situation of Bethphage. It is also notable that Bethphage appears to have marked the outer limit of the area which ritually belonged to Jerusalem itself.” In die lig van Sagaria 14:4 het die Olyfberg eskatologiese assosiasies verkry wat egter nie in die Nuwe Testament verder uitgewerk word nie. In Handelinge is dit wel die plek van waar Jesus in die hemel opgevaar het (Marshall).

Dit is ewe opvallend dat Lukas Jesus se opdrag aan die twee dissipels, asook die geografiese posisionering van die jong dier (Reiling & Swellengrebel noem verskillende betekenisse van die Griekse woord pólos hier. Hulle meen die “vul van ’n perd” is dalk die beter opsie; vgl Marshall en sy keuse vir “donkie” in konteks van die omgewing), in fyn besonderhede beskryf (v 30). Volgens Marshall is die dorpie waarheen Jesus hulle stuur, beslis Betfage. Die beskrywing dat geen mens nog op hom gery het nie, asook die opdrag om hom na Jesus te bring, roep gedagtes van afsondering vir die Here op. Die voorbereiding vir moontlike navrae ten opsigte van die weglei van die donkie uit die dorpie uit en die voorgestelde antwoord (v 31) dat die Here hom nodig het, beklemtoon die aanvoeling van spesiale roeping en diens (Groenewald praat hier van “Goddelike voorkennis”).

Die dissipels verwys na Jesus as “Here” (Gr kurios; Eng “Lord”). Volgens Reiling en Swellengrebel word hierdie titel deur die dissipels as relevante benaming vir Jesus gebruik, maar in die Lukasevangelie verklaar Jesus Homself nooit eksplisiet en uitdruklik as Here (Lord) nie (vgl Marshall vir die dubbelsinnigheid van die Griekse woord kurios hier. “It is unlikely to refer to God; it is more likely that it refers to the animal’s owner, but . . .  this is not the meaning here. Accordingly ho kúrios must mean ‘its (real) owner’ or ‘the Master’, as a term used to refer to Jesus”). Marshall skryf, met verwysing na Derrett, dat diere beskikbaar gehou is vir reisigers wat hulle kon huur vir hulle reise. Diere wat bedoel was vir “sacred use” kon ook nie aangewend word vir gewone gebruik nie. Dit geld ook vir diere wat deur ’n koninklike persoonlikheid gebruik is.

Vers 32 en 33 herhaal Jesus se opdrag in die vorm van die uitvoering van die taak deur die dissipels. Die Griekse woord hoi apestalmenoi wat in die NAV met “dissipels” vertaal word, beteken boodskappers (Reiling & Swellengrebel). Volgens Marshall beklemtoon apestalmenoi die gewyde karakter van hulle sending. Dit onderstreep die dissipels se gehoorsaamheid en die vervulling van Jesus se profesie oor wat hulle kan verwag. Dat alles presies gebeur soos wat Jesus dit geantisipeer het, versterk die besondere aard van hierdie gebeurtenis. Ook die feit dat die eienaar van die dier klaarblyklik tevrede is met die dissipels se antwoord en nie ’n opvolgvraag stel nie, versterk die buitengewone gebeure. Marshall skryf egter: “The story thus gives the impression of prescience, but may originally have referred to a normal human arrangement.” Opsommend skryf Marshall dat dit redelik moontlik is dat Jesus voor hierdie gebeure reeds goed bekend was in die gebied en kontakte in Betanië kon hê, asook dat Hy as ’n soort rabbi beskou is met gesag om hierdie soort versoek te rig. “The fact that the trivial detail of obtaining the animal is told at such length (cf. 22:7-13) suggests that the Evangelists saw some importance in it, and this lay in its testimony to the authority and perhaps the prescience of Jesus.”

Vers 35 en 36 beskryf dan hoe die twee dissipels die jong donkie na Jesus bring, dat hulle hulle klere oor die donkie se rug gooi en Jesus help om op die rug van die dier te klim. “The act is to be regarded as one of honour; such homage was a sign of kingship (1 Ki 1:33)” (Marshall). Algaande op pad na Jerusalem sprei die mense (“the people that were present” – Reiling & Swellengrebel) hulle klere op die grond voor die dier. Marshall skryf: “The placing of garments for the animals to walk over is another expression of respect, perhaps indicating willingness to let a ruler trample on one’s own property” (vgl Reiling & Swellengrebel – “a token of reverence”).

Vers 37 beskryf weer ’n draaipunt in die vertelling. Weer gebruik Lukas geografiese besonderhede om die aandag te trek en die oomblik te beklemtoon. Lukas noem twee geografiese aspekte; naby die stad en teen die afdraand van die Olyfberg. Die Griekse woord katabasis wat in die NAV met “afdraand” vertaal is (Eng “descent”; “road leading down”), wek in hierdie konteks die suggestie dat Jesus se aardse lewe na ’n laagtepunt beweeg. Of is dit ’n ongegronde interpretasie? Met dié besonderhede skep Lukas ’n spanningslyn en rek daarmee die tempo uit.

Presies op hierdie punt kom volgende karakters (groep) op die toneel – “die hele skare juigende volgelinge”
(v 37) (Reiling & Swellengrebel – “the widest circle of Jesus’ followers”). Hulle word geïdentifiseer deur hulle besondere optrede, naamlik dat hulle God prys oor die wonderwerke (motivering/grond vir) wat hulle gesien het. Dit verwys na die dinge wat vroeër in die evangelie beskryf is (Marshall). Reiling en Swellengrebel bied die volgende Engelse vertaling: “the whole throng/company of the disciples began to praise God with joy with a loud voice”, en verduidelik dit so: “here the phrase (ērxanto
. . . plēthos)
 serves to stress the unexpectedness of the following event. Ērxanto and chairontes are in the plural because plēthos, as collective singular, has plural force, chairontes denotes the mood of the disciples, phónē megalē ‘with a loud voice’, denotes the mode, or way of their praise.” Marshall skryf: “The verse is reminiscent of the praise which greeted Jesus on his entry into the world at Bethlehem in Galilee from the angels and the shepherds (2:13, 20); his entry to Jerusalem is hailed in the same way by those who have seen what has already happened.”

In die Grieks is die frase van vers 38b wat in Afrikaans vertaal word met “Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” in die vorm van ’n kruis-sinsdeel (chiasme). Reiling en Swellengrebel bied die volgende vertaling aan: “in heaven (is) peace, and glory in the highest.” Volgens hulle verwys die vrede (Gr eirēnē) hier na die “eschatological peace after the expulsion of Satan from heaven”. Die positiewe betekenis van die woord is hier dominant. Marshall noem die problematiek rondom die uitdrukking “vrede in die hemel”. Hy stel uiteindelik die volgende oplossing voor: “. . . more probably the force of the saying is the same as in Rev. 7:10 where God is praised by the ascription of salvation to him, i.e. he is praised as the author of salvation. The same liturgical use is present here, so that en ouranó is virtually a periphrasis for the name of God. The coming of the king who brings peace (Zc 9:9f) is the appropriate occasion for ascribing praise to God as the author of peace.”

Deurdat hulle God se lof besing terwyl hulle Jesus op die donkie vergesel, lê hulle bewustelik of onbewustelik ’n verband tussen God en Jesus. Die woorde van hul loflied (v 38), in aansluiting by Psalm 118:26, dui daarop dat die skare Jesus as God self identifiseer. Psalm 118:26 is as groet vir pelgrims gebruik. “In the Ps. however, it appears to have been originally a greeting addressed to the king as he approached the temple to worship God. This original force reappears in Lk. With the addition of ho Basileus” (Marshall). Vir Lukas het die koninkryk nog nie aangebreek nie (19:11), maar die Een wat koning sal wees, is naby. 

Hierdie verbandlegging wek die reaksie van nog ’n karakter (groep) in die vertelling op (v 39). ’n Paar Fariseërs in die skare is verleë en selfs ontstig oor die woorde van die skare se loflied. Hulle dring by Jesus daarop aan om sy volgelinge onder bedwang te bring en hulle stil te maak. Met hierdie versoek van die Fariseërs word die verskillende reaksies van mense op wie Jesus is, beklemtoon. Dit bring ook die konflik tussen die Jesusbeweging en die Joodse sosiaal-politieke strukture na vore. Danker skryf: “Luke’s reference to the Pharisees, his last in this Gospel, provides a cogant setting for the lament that follows. Their approach to Jesus is respectful. And their concern is legitimate. They want no disturbance of the delicate balance between their religious interests and Roman power” (ook Groenewald).

Jesus se reaksie op die versoek van die paar Fariseërs is veelseggend. “Jesus uses a vivid Semitic expression (cf. Hab. 2:11). So great is the crisis that, in the absence of any other voice, inanimate objects must cry out” (Danker). Dit beklemtoon die buitengewone aard van die gebeure wat hier beskryf word, asook die identiteit van Hom oor wie die skare lofjuigend sing. Op hierdie punt eindig ons afgebakende teks, sonder dat Jesus die bestemming wat in vers 28 aangetoon is, bereik. In vers 41 word die beweging na Jerusalem verder beskryf, maar steeds nie asof Jesus al aangekom het nie. Eers in vers 45 is dit duidelik dat Jesus Jerusalem bereik het, maar dan is dit ’n volgende toneel waar Hy in die tempel optree.

Konteks

In terme van die kerklike jaar is ons by Palmsondag. Dit vorm deel van die Groot Lydensweek (Eng Holy Week). Salmon skryf dat die verskillende weergawes oor Jesus se laaste week, van sy intog in Jerusalem tot by sy kruisiging, die sentrale narratief van die Christelike geloof vorm. Die lydenstog na die kruis gaan deur die Groot Lydensweek. Die betekenis van Jesus se lewe en dood vind uitdrukking in die kerk se vieringe gedurende hierdie week, beginnende met Palmsondag tot met die hoogtepunt in die “first Alleluia of the Easter Vigil”. Die rituele van die week is somber maar hoopvol, terwyl ons voorberei vir die Paasvieringe. Teen dié agtergrond moet predikers vir Palmsondag voorberei.

Die literêre konteks van ons Skrifdeel val binne die eenheid (19:28-24:53) wat Groenewald onder die opskrif “Jesus in Jerusalem” saamvat. Volgens Groenewald het hierdie laaste deel van die verhaal twee hoofonderdele: “eerstens die optrede van Jesus by die tempel en sy gesprekke met teenstanders en volgelinge (19:28-21:38), en dan die lydensweg self, deur die laaste nag met sy dissipels en die gevangeneming, verhoor, kruisiging, begrafnis, opstanding, verskyninge en hemelvaart (22:1-24:53).” Morris beskryf ons Skrifdeel met die opskrif, “The approach in triumph” (Groenewald praat van “Die feestelike intog in Jerusalem”). Hy sien in hierdie optrede van Jesus selfs arrogansie, aangesien die Joodse leiers vyandiggesind was en reeds opdrag gegee het dat enige persoon wat geweet het waar Jesus was, hulle daaroor moes inlig sodat Hy gearresteer kon word (Joh 11:57). “But, far from hiding in fear, Jesus came to Jerusalem publicly and triumphantly. For the present His popularity among the people prevented action being taken against Him (48). But we should overlook neither the bitter hostility of the high-priestly party nor the courage manifested by Jesus and his friends.”

Volgens M J Salmon bevat Lukas se vertelling van Jesus se intog in Jerusalem eienskappe wat uniek is aan hom. Die dissipels is hier meer prominent as in die ander evangelies. In Lukas se vertelling is die skares mense, wat Hom in die stad verwelkom as koning en later teen Hom draai, afwesig. “Rather, many disciples who had witnessed his deeds praise God loudly and joyfully. And . . . many disciples who had come with him from Galilee see him die on the cross at the end of the week in Jerusalem. The disciples who praise him when he enters Jerusalem are still there at the end of the week.”

Dit is ook net Lukas wat die Fariseërs hier noem. Volgens Salmon teken Lukas die Fariseërs deurlopend in ’n meer positiewe lig as die ander evangelies. Lukas bevat nie die skerp polemiek van Matteus en Markus nie. Volgens Handelinge 15:5 was daar Fariseërs in Jesus se gemeenskap. Salmon oordeel dat die Fariseërs se versoek in Lukas 19:39 aan Jesus om sy volgelinge stil te maak, nie noodwendig vyandig, of ’n teken van verwerping was nie. Vroeër in die verhaal waarsku hulle Jesus om nie sy reis na Jerusalem voort te sit nie, omdat Herodes beplan om Hom dood te maak (13:31). Die Fariseërs se bedoeling by dié geleentheid is klaarblyklik om Jesus die lot wat Hom in Jerusalem inwag, te spaar. “Attracting the attention of the Romans, especially invoking the title of king, will certainly bring harm to the disciples and their teacher, and perhaps to some of the Pharisees as well” (Salmon).

In sy bespreking van Lukas se weergawe van die gebeure in ons Skrifdeel, wys Marshall dat Lukas se vertelling eenvoudiger is as dié van Markus. Hy skryf dat ’n historiese analise van die gebeurtenis moeilik is. Hy noem drie elemente wat H Patsch onderskei: “The first is the story of the finding of the animal, apparently as the result of supernatural foreknowledge by Jesus, this is generally regarded as a legendary accretion to the story, made in Hellenistic-Jewish circles under the influence of the LXX. Second, . . . the riding of the ass which is seen as a fulfilment of Zc. 9:9. Third, . . . the acclamation of the disciples.” Marshall wys op probleme wat die laaste twee elemente rondom historiese vrae oplewer. Terwyl kritici die historisiteit van albei bevraagteken, is daar wel konsensus dat ten minste die feit van Jesus se intog in Jerusalem historiese gronde het, maar dat die vertelling daarvan “has been overlaid with legend and messianic colouring”. Die samevoeging van twee vertellings (Jesus se intog in Jerusalem en die dissipels se lofprysing van Jesus) verskaf probleme.

Marshall wys verder daarop dat die verhaal in die vorm van ’n legende is, maar dat dit nie historiese begronding uitsluit nie. Volgens hom het Derrett reeds aangetoon dat die besonderhede van die verhaal inpas binne die Joodse opvatting “of commandeering and borrowing animals.” Daar is messiaanse ondertone in die verhaal, maar dit is ’n vraag of Jesus dit so bedoel het. Uiteindelik skryf Marshall: “In short, there can well be a historical basis for this part of the narrative.” Hy sê voorts dat indien die historiese begronding van hierdie deel van die verhaal moontlik is, daar selfs minder probleme bestaan ten opsigte van Jesus se intog in Jerusalem. Die gebeurtenis was so gering dat dit min aandag sou trek. Die vraag wat oorbly is “whether Jesus intended some special significance to be seen in his action” (Marshall).

Indien Jesus sodanige intensies gehad het, moes Sagaria 9:9 in sy gedagtes gewees het (Marshall): “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie.” Teen dié agtergrond sou Hy dan sy optrede verstaan as dié van ’n koning wat aanspraak maak op sy stad. “Luke’s stress on the kingship of Jesus is an accurate insight into the situation. What was significant for the disciples was that it was Jesus who was coming to Jerusalem; they hoped that their messianic expectations concerning him would be fulfilled” (Marshall). Marshall meen Jesus se optrede het hierdie rol stilswyend aanvaar, maar die dissipels het moontlik nie verstaan nie dat Hy “deliberately claimed to be a figure of peace”. 

L T Johnson skryf in sy bespreking van Lukas-Handelinge ’n paragraaf oor “The Formation of the People”. Reeds in die evangelie se eerste agt hoofstukke is daar flitse van “the people of God forming around Jesus”. Hy roep sondaars as dissispels (5:1-11) en tollenaars (5:27), wat alles agterlaat, om Hom te volg (18:28-30). Uit hierdie mense kies Hy twaalf wat apostels genoem word (6:13). “After the story of the sinful woman, we begin to see the nucleus of the people gathering: Jesus and the Twelve are preaching in Galilee. With them is a group of women, who support them (8:1-3). Here is the core of the restored Israel, merely a small band of followers from Galilee.” Van Lukas 9:1 af ontwikkel Jesus ’n bediening onder sy volgelinge om die leiers wat die profeet verwerp, te vervang. Dat die Twaalf die leierskap van Israel sal oorneem, word gesuggereer in die gelykenis van die goue muntstukke (19:11-27) en die gelykenis van die wingerd (20:9-18).

Intussen word die mense geteken in terme van ’n vormingsproses, veral in die reisverhaal (9:51-19:44). Die beweging na Jerusalem domineer hierdie onderdeel. By die verheerliking op die berg praat Jesus met Elia en Moses oor die uittog (ekodus) wat Hy in Jerusalem sal voltooi (9:31). Sy toewending na die stad word in 9:51 plegtig aangekondig. Ongeveer sewentien keer in die volgende hoofstukke word gesê dat Jesus “op weg” is. Die reismotief gee aan die gedeelte ’n dinamiese kwaliteit, wat die roeping tot dissipelskap meer dramaties maak. Hier is meer ter sprake as ’n reis, selfs as ’n reis na lyding en dood (Luk 9:22; 18:31). “On the way to Jerusalem to face his rejection and death at the hands of the leaders, the prophet Jesus is forming the true people of God around himself. The journey reaches an end with Jesus’ triumphant entry into Jerusalem. The small band of followers we spotted in Luke 8:1-3 has now swelled, so that ‘the whole multitude of disciples’ (19:37) greets Jesus as king . . . The Lukan parable of the pounds (19:12-27), which is told just before the entry into the city, interprets the larger narrative. The one who is king will reward his faithful followers with authority in the kingdom. But those who resisted his kingship will be utterly cut off” (Johnson).

Met die oog op prediking van ons teks op Palmsondag en toepassing van die intog- en lydensverhale op ons lewe vandag, kan kennis geneem word van Salmon se aanduiding dat die “lectionary readings” vir die Groot Lydensweek elke jaar dieselfde is. En tog, sê sy, is dit verskillend. Waarin lê die verskil dan, as dit nie in die tekste is nie? “We are not the same people we were a year ago. The burdens we carry, the sins we bear, the paths we walk, are not the same. And so we ask, Where does death intrude this year? To what must we die, each of us individually and as a community? Where does the world most desperately need a word of hope?” Dit gaan dus ook oor die voortgaande “Formation of the People” wat die intog in Jerusalem herdenk en die lof besing van Jesus op die rug van die donkie.

Preekvoorstel

Prediking oor ons teks op Palmsondag moet noodwendig erns maak met die liturgiese viering van Jesus se intog in Jerusalem. Die twee verweefde elemente van Palmsondag, naamlik lofprysing oor Jesus as die koning op die donkie wat Jerusalem binnery enersyds, en die gedempte atmosfeer andersyds, wat deur die naderende kruisiging en dood van Jesus aan die begin van die Groot Lydensweek geskep word. Kreatiewe geeste kan die intog in Jerusalem naboots deur die interessante geografiese gegewens en vertragingstegniek van Lukas te gebruik as liturgiese voorbereiding vir ’n lofprysingsdiens en boodskap waarin die beweging na Jerusalem uitgelig word.

In die boodskap behoort die reismotief en fokus op Jerusalem as einddoel van Jesus se optrede, beklemtoon te word. Op dié punt moet die teologiese betekenis van die reis aandag kry. Lukas was oortuig dat hierdie reis na Jerusalem volgens God se doel sou ontvou. Van die begin van die Lukasevangelie af, funksioneer Jerusalem prominent in die verhaal. “In Jerusalem, in the Temple, both Anna and Simeon recognize in the infant Jesus God’s salvation for Israel (2:23-38). When he was still in Galilee, Jesus set his face to go to Jerusalem (9:51). The journey to Jerusalem is a matter of divine necessity. And so, even if Jesus were to silence his disciples, the very stones would shout out. And so we join the multitude of disciples and proceed with Jesus to Jerusalem” (Salmon).

’n Tweede fokuspunt in die prediking, wat die kern van die boodskap moet wees, is Jesus self. Hoe ontvou sy karakter in ons teks in aansluiting by die res van Lukas se verhaal oor Jesus en sy sending na die wêreld? Hoe word Jesus se identiteit geopenbaar deur sy eie optrede, die uitsprake van mense oor Hom en die interaksie tussen Homself en die groep mense wat rondom Hom versamel? Hoe dra die beskrywing van Jesus op ’n donkie by tot ’n verstaan van wie Jesus is, deur ons herinnering aan Hom op Palmsondag?

’n Derde en laaste fokus in die prediking behoort aandag te gee aan die mense rondom Jesus en hoe die geloofsgemeenskap in hul kontak met Jesus gegroei het. Die aandag moet eerstens op Lukas se ontwikkeling van die historiese gemeenskap rondom Jesus val (Johnson se gedagtes onder “Konteks”). Hoe ontwikkel hierdie profiel in die Lukasnarratief? In watter mate affekteer die erkenning of ontkenning van Jesus se koningskap mense se lewe? (Salmon se bespreking van die gelykenis oor die goue munte in “Konteks”). Tweedens moet die voortgaande vorming van die geloofsgemeenskap in navolging van Jesus aandag kry. Op hierdie punt kom die huidige hoorders en geloofsgemeenskap in die spel. Die gemeente wat op Palmsondag byeen is, moet ook identifiseer met Lukas se voorstelling van Jesus op die donkie. Ons is nie meer dieselfde mense as hulle oor wie Lukas skryf nie. Ons is selfs nie meer dieselfde mense as die vorige jaar met Palmsondag nie (Salmon in “Konteks”). Waarom sou ons dan nog wou erns maak met hierdie besondere dag in die kerklike jaar? Ons word nou geroep om as Jesus se gestuurdes (dissipels/ boodskappers) sy koningskap uit te leef.

Bibliografie

Danker, F W 1988. Jesus and the New Age. A Commentary on St. Luke’s Gospel. Fortress Press; Groenewald, E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas. NG Kerk-Uitgwers; Johnson, L T 1986. The Writings of the New Testament. An Interpretation. SCM Press Ltd; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke. A Commentary on the Greek Text. The Paternoster Press; Morris, L 1983. Luke. Tyndale New Testament Commentaries. William B. Eerdmans; Reiling, J & J L Swellengrebel 1971. A Translator’s Handbook on the Gospel of Luke. UBS. Brill; Salmon, M J 2007. Passion Sunday / Palm Sunday, in DB Lott (ed). New Proclamation. Year C, 2006-2007. Advent Through Holy Week. Fortress Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.