Sesde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag in Lydenstyd is tradisioneel ook Palmsondag wat al sedert die vierde eeu in Jerusalem gevier word. Dit is die dag waarop Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem in herinnering geroep word en, terselfdertyd, is dit ook die Sondag wat die Groot Lydensweek inlei. Hierdie feesdiens het dus ‘n tweeledige, teenoorstaande fokus:

  • Herdenking van Jesus se feestelike intog in Jerusalem.
  • Nadenke oor Jesus se kruisdood op Golgota.

Palm-/Passiesondag is ‘n dag van kontraste wat in die liturgie vasgehou moet word. In hierdie liturgiese voorstel word die laat-Middeleeuse Italiaanse kunstenaar, Giotto di Bondone, se werke benut om die belewenis van die veelkantige verhaal (vreugde met die intog; verslaentheid by die kruis; sorg by die neerlê) uit te beeld.

Kyk na die Tweede Liturgiese voorstel vir ‘n moontlike Familietyd

Ander tekste

Jesaja 50:4-9a
Filippense 2:5-11
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Psalm 118:1-2, 19-29
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Markus 11:1-11
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Luk 19:28–40; Joh 12:12–19)
11 Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 3En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”
4Hulle het toe gegaan en ’n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”
6Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.
7Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. 9Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!
10Geseënd is ons voorvader Dawid
se koninkryk
wat aan die kom is!
Prys Hom in die hoogste hemel!”
11Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Johanes 12:12-16
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt 21:1–11; Mark 11:1–11; Luk 19:28–40)
12Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!”
en:
“Die Koning van Israel!”
14Jesus het toe op ’n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:
15“Moenie bang wees nie, Sion!
Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op ’n donkie.”

16Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.
17Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. 18Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Psalm 31:9-16
U het die bedreiging van my lewe
raakgesien
9en my nie aan die mag van die vyand
oorgelewer nie;U het my ’n veilige staanplek gegee.
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!

Fokusteks

Markus 15:1-39, (40-47)
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Luk 23:1–5; Joh 18:28–38)
15 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ‘n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.
2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”
3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”
5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.
Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

(Matt 27:15–26; Luk 23:13–25; Joh 18:38–19:16)
6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was ‘n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis ‘n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.
11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.
12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”
13“Kruisig hom!” skreeu hulle.
14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”
15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Matt 27:27–31; Joh 19:2–3)
16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom ‘n pers mantel aan en vleg ‘n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”
19Hulle het Hom herhaaldelik met ‘n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Luk 23:26–43; Joh 19:17–27)
21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.
22Hulle bring Jesus toe na ‘n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.
25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ‘n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”
27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.
29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”
31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”
Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Luk 23:44–49; Joh 19:28–30)
33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”
36Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”
37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
40Daar het ook vroue op ‘n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.
44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.
46Josef het ‘n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

Ekstra stof

Ons plaas ‘n bietjie meer inligting oor beide hoofstuk 14 as hoofstuk 15, omdat die eerste vyf verse van hoofstuk 15 eintlik beter pas by die vorige hoofstuk, en dit ‘n beter geheelbeeld gee. Ons gee ook ‘n paar opmerkings oor die ander evangelies se weergawes hiervan.

Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte
Jesus word gevange geneem: As die gebed van Jesus aan jou hart geruk het in die vorige perikoop, gaan die verdere verloop van die verhaal jou met afgryse vervul.  Wat in die duister beplan is, begin nou sy ware kleure wys.  Judas kom met ‘n klomp mense (soldate en tempelwagte – Johannes) met swaarde en stokke daar aan om Jesus gevange te neem.  Hy verraai Jesus met die vooraf afgespreekte teken, die kus van ‘n leerling vir sy leermeester.

Een van Jesus se dissipels (Petrus – volgens Johannes – moontlik omdat hy wou wys dat hy by Jesus sal staan, hoewel dié bravade nie lank hou nie) slaan met ‘n kort swaard na een van hulle, ‘n slaaf van die hoëpriester (Malgus – volgens Johannes), en kry dit reg om sy (regter)-oor af te kap.  Jesus keer die res van hulle om in ‘n geveg betrokke te raak.  Markus en Matteus vertel nie dat Jesus die oor weer genees het nie, wat Lukas en Johannes wel in hulle verhale insluit.

Jesus tree wel met die mense in gesprek deur die agterbaksheid van hulle handelinge uit te wys, maar interpreteer dit steeds as die vervulling van die Skrif.  Die dissipels laat Hom hierna egter liederlik in die steek.

Markus voeg aan die einde ‘n mededeling by, dat ‘n sekere jongman wel agter Jesus aan is, soos ons later ook sal agterkom Petrus ook gedoen het.  Volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Nie een van die ander Evangelieskrywers noem egter hierdie insident nie. Moontlik het Markus net uit die bed opgestaan net met sy bokleed om, om saam met Jesus-hulle Getsemane toe te gaan en het daarom nie nog onderklere aangehad nie. Dié verloor hy in die proses en vlug kaal weg.  Later sou die dissipels soms in sy ma se huis bymekaar kom (Hand 12:12).  Dit kan ook wees dat dit in dié huis is waar die bovertrek was waar Jesus saam met sy dissipels bymekaar gekom het (Hand 1:13).

Jesus voor die Joodse Raad: Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word.  Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.  Die hoëpriester is Kajafas (Matteus).

Petrus volg op ‘n afstand tot in die binnehof van die hoëpriester se huis (Johannes vertel in sy evangelie dat dit hy is dit reggekry het om hom binne te laat, omdat die hoëpriester hom geken het).

Die Joodse Raad probeer met valse getuies ‘n aanklag teen Jesus formuleer, maar die getuienis stem nie ooreen nie.  Dan tree die hoëpriester tot die proses toe, maar Jesus weier om op die vals getuienis te reageer. Dit is eers as die hoëpriester vra of Hy die Christus, die Seun van God is, dat Jesus daaroor getuienis aflê: “Ek is” en daarop uitbrei met ‘n aanhaling uit Ps 110 en Dan 7.

Met teatrale vertoon skeur die hoëpriester sy klere oor die godslastering, ten spyte daarvan dat die wet dit verbied het (Lev 10:6), en na die Raad Hom veroordeel het, word Jesus verneder met spoeg, en vuisslanery, terwyl hulle met sy profetiese vermoë spot.

Petrus verloën Jesus: Petrus word hier drie keer gevra of Hy nie saam met Jesus van Nasaret was nie, twee keer deur een van die hoëpriester se diensmeisies, en een keer deur die ander wat by die vuur gestaan het.  Na die eerste ontkenning kraai ‘n haan, en weer na die derde ontkenning, nogal met ‘n gevloek en gesweer, val die woorde van Jesus Petrus by dat hy Hom sou verraai.  Dit laat Petrus in trane uitbars.

Jesus voor Pilatus: Die môre vroeg word Jesus na Pilatus gestuur, nadat die volle Joodse Raad Hom uitgelewer het.  Pilatus se vraag oor sy koningskap word positief deur Jesus beantwoord, maar die beskuldigings lok geen verweer by Jesus uit nie.  Dit het Pilatus verbaas.

Matteus, Lukas en Johannes
Jesus word gevange geneem: Matteus volg in breë trekke Markus se verhaal, maar voeg detail by, soos Judas wat vir Jesus: “Goeiemôre” sê (dit was nog voor hanekraai!).  Jesus noem ironies genoeg: “Vriend”.  Volgens Matteus het Jesus sy dissipels ook probeer leer dat dié wat die swaard gebruik deur die swaard sal omkom; daarom moet hulle nie daarmee probeer om goed reg te maak nie.  Jesus verwys ook na die meer as 12 legioene engele wat tot sy hulp sou kon kom.  Dit is tussen 48 000 en 72 000 engele, ‘n formidabele mag!  Matteus beklemtoon selfs meer as Markus dat dié proses nie gekeer mag word nie, want dít is hoe die Skrif daaroor skryf.

Lukas vertel die verhaal korter en voeg benewens die genesing van Malgus se oor die veelseggende frase by, dat dit nou “die tyd van die duistere magte” is – ‘n afgryslike gedagte.

Johannes het weer meer uitgebreide detail as Markus.  Die soldate kom bv. met lanterns en fakkels; hulle benoem Jesus na aanleiding van sy afkoms, van Nasaret; deins aanvanklik terug vir Jesus en val op die grond neer; en laat toe dat Jesus sy mense wegstuur, sodat die Skrif vervul sou word, dat Jesus niemand van dié wat God Hom gee, verlore laat gaan nie.

Jesus voor die Joodse Raad: Matteus vertel die verhaal in breë trekke net soos Markus met klein detail verskille.  Lukas verkort Markus se weergawe weereens, maar voeg ‘n interessante gesprek by waar Jesus op die vraag of Hy die Christus is, reageer deur hulle daarop te wys dat al antwoord Hy dit positief, sal hulle tog nie in Hom glo nie.  Soos reeds genoem, het Johannes die ekstra gegewens dat dit hy (die ander dissipel) was wat Petrus in die hoëpriester se woning ingekry het.  Hy vertel ook dat Annas betrokke was, die skoonpa van Kajafas, en die vorige hoëpriester.

Petrus verloën Jesus: Matteus se detail verskil effens van Markus s’n deurdat die tweede vraag aan Petrus in die mond van ‘n ander diensmeisie geplaas word.  Lukas sê ook dat die tweede vraag deur iemand anders gevra is en gee ‘n tydsaanduiding van die verloop van sake.  Hy skets ook die roerende prentjie van Jesus wat omdraai met die derde verloëning en Petrus aankyk.  Johannes plaas die derde vraag aan Petrus ironies genoeg in die mond van familie van Malgus, die een wie se oor hy so pas tevore afgekap het.

Jesus voor Pilatus: Matteus voeg net een detail by, dat Pilatus goewerneur was, terwyl Lukas uitbrei oor die aanklag van die Joodse Raad teen Jesus voor Pilatus: dat Hy die volk opgehits het om nie belasting te betaal nie, en dat Hy voorgee dat Hy ‘n koning is.  Pilatus vind egter geen skuld in Hom nie.  Johannes beskryf die ironie van ‘n Joodse Raad wat nie die woning van Pilatus wil binnegaan nie, omdat dit hulle onrein sou maak om die paasmaaltyd te eet, terwyl die Paaslam binne die onrein woning van Pilatus is, waarmee Jesus eintlik die boodskap gee dat Hy daar is vir almal.  Hy brei uit oor die gesprek met Pilatus wat handel oor die koninkryk en die waarheid.

Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe
Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging: Dit bly vir my interessant hoe Pilatus die waarheid skerp kan insien, maar nie daarvolgens kan handel nie.  Hy is die eerste wat die rede vir Jesus se verwerping deur die Joodse Raad insien en verwoord: afguns.  Jesus kan dinge doen wat hulle nie kan nie, en eerder as om Hom daarvoor te erken, verwerp hulle Hom.

Maar om die mense hulle sin te gee, laat los hy eerder Barabbas (Jesus Barabbas [seun van Abbas] – volgens Matteus se weergawe) as Jesus van Nasaret.  Hy is bang vir nog ‘n opstand, aangesien Rome hom vir vorige opstande al voor stok gekry het, soos ons uit die Romeinse geskiedenis kan agterkom.  Jesus word met ‘n kats geslaan wat uit ‘n aantal smal riempies bestaan waaraan stukkies yster en been vasgebind is. So gaan Jesaja 53:5 in vervulling.

Die soldate bespot Jesus: Voor sy kruisiging loop Jesus deur onder die soldate waar Hy met ‘n pers (koninklike) mantel en doringkroon bespotlik gemaak word.  Markus (en Matteus en Johannes) vertel nie die gebeure by Herodes nie, soos Lukas wel doen.

Jesus word gekruisig: Die breë trekke van die kruisverhaal is vir ons bekend: Simon van Sirene in Noord-Afrika (pa van Aleksander en Rufus – ons tref ‘n Rufus in die gemeente van Rome aan – Rom 16:13) dra die dwarsbalk van Jesus se kruis; Jesus word op Golgota (die heuwel he soos ‘n skedel gelyk) gekruisig, waar die regoppaal geplant is; sy klere word onder die soldate met die lot verdeel; die bordjie aan die kruis kondig sy misdaad aan, dat Hy die koning van die Jode is (waarmee die Jode ook eintlik beledig word), ironies genoeg presies wat Hy is; die mense laster Hom met aanhalings wat Hy vroeër gemaak het oor die tempel.  Interessant is egter dat Markus wel noem dat daar twee ander rowers saam met Hom gekruisig is, wat Hom ook beledig, maar nie dat Hy met hulle in gesprek tree nie.

Jesus sterwe: Na die 3 ure lange duister, roep Jesus na God met daardie beroemde Aramese woorde uit Psalm 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit.  Twee goed gebeur dan:

1. Die voorhangsel van die tempel (waarskynlik die een tussen die Allerheiligste en die Heilige) skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra a) dat die tempel se einde begin het en b) dat die toegang tot God nou vir alle mense oop is (Hebr 9);
2. Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra Jesus se dood reeds vir almal betekenis het.

Dit ontroer my dat dit Jesus se dood is, wat dié offisier oortuig dat dit God is. En daarmee is die klimaks van Markus se verhaal bereik.  Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ‘n heidense Romeinse offisier dit (15:39).

Markus brei dan uit oor al die vroue wat Jesus ondersteun het by die kruis, trouens deur sy hele lewe: Maria Magdalena (van Magdala waaruit Jesus 7 duiwels gedryf is– Luk 8:2), Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses (ons weet niks meer van haar af nie) en nog Salome ook (vrou van Sebedeus – Matt 27:56 en die ma van die 2 dissipel-broers, Jakobus en Johannes), moontlik ook nog die suster van Maria (Joh 19:25).  Indien laasgenoemde waar is, was Jesus en Johannes en Jakobus neefs.  Hierdie 3 vroue is dan ook op die opstandingsmôre by.

Jesus word begrawe: Josef van Arimatea (30 km noordwes van Jerusalem) wat ‘n geheime (Johannes) volgeling van Jesus was sorg dat die voorbereidings vir Jesus se begrafnis getref word en voorsien ook die graf.

Matteus, Lukas en Johannes
Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging:  Matteus brei op Markus se weergawe uit met die naam van Barabbas, Jesus, sowel as die verhale van Pilatus se vrou wat hom probeer waarsku om nie verkeerd te handel met hierdie onskuldige man nie, en Pilatus wat sy hande in onskuld was.  Hy sluit af met die ontstellende woorde van die volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus.”  Lukas noem ook dat Jesus by Herodes was, terwyl Johannes meer uitbrei oor die interaksie tussen Pilatus en Jesus, en Pilatus en die Joodse Raad.

Die soldate bespot Jesus:  Matteus volg Markus se weergawe met die een byvoeging dat Jesus ook ‘n stok in die hand gestop is, waarskynlik as ‘n soort septer.  Lukas vertel nie dié verhaal nie, en Johannes verwys net kortliks daarna.

Jesus word gekruisig: Matteus volg Markus se weergawe met twee byvoegings, die een is dat die mengsel wat hulle Hom gegee het om te drink, wyn en gal bevat het, terwyl Markus sê dat dit wyn met mirre was.  Volgens Matteus was daar ook ‘n ekstra lyntjie op die aanklag teen Hom geskrywe: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”  Lukas vertel van die interaksie van Jesus met die vroue waar Hy onder andere uit Hos 10:8 aanhaal en noem ‘n ekstra kruiswoord: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  Hy is ook die enigste wat die pragtige verhaal vertel van die een moordenaar wat saam met Hom opgehang is, se erkenning van Jesus waarna hy deur Jesus in die paradys ingenooi word.  Johannes brei nog verder uit oor die taal waarin die opskryf bo die kruis geskryf is, in Hebreeus, Latyn en Grieks, en ook oor die verdeling van Jesus se klere met ‘n aanhaling uit Ps 22:19.  Hy vertel ook van die vroue wat by die kruis was, waarvan die suster van Maria, Jesus se moeder, ‘n interessante toevoeging is, en gee ook ekstra inligting oor die ander Maria, dat sy die vrou van Klopas (vir ons onbekend, hoewel moontlik Kleopas, een van die Emmausgangers) was.  Dit wil voorkom asof Johannes – die dissipel vir wie Hy baie lief was – die enigste dissipel was wat by die kruis was, wat ook daartoe lei dat Jesus sy ma aan hom toevertrou.  Hy plaas die kruisiging ook ‘n drie uur later (19:14) moontlik om Jesus se sterwe met die slag van die paaslam te laat saamval (Geulich).

Jesus sterwe:  Matteus verkort Markus se weergawe. Lukas het ‘n ekstra kruiswoord uit Ps 31:6: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” en het sy eie weergawe van wat die offisier gesê het: “Hierdie man wat werklik onskuldig” terwyl hy vir God prys.  Johannes het twee ekstra kruiswoorde: “Ek is dors” (Ps 69:22) en “Dit is volbring!”

Hier is die sewe kruiswoorde in hulle waarskynlike volgorde:

  • “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: Lukas 23:34.
  • “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: Lukas 23:43.
  • “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: Johannes 19:25-27.
  • “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: Matteus 27:46.
  • “Ek is dors”: Johannes 19:28.
  • “Dit is volbring!”: Johannes 19:30.
  • “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”: Lukas 23:46.

Jesus word begrawe: Matteus noem dat Josef ‘n ryk man was, benewens sy invloedrykheid op die Joodse Raad, en dat Jesus in sy eie nuwe graf begrawe is.  Die “ander Maria” was waarskynlik Maria, die moeder van Klein-Jakobus, en die vrou van Klopas.  Lukas voeg ook elemente van die voorbereidings by, reukolie en salf, en dat hulle almal op die sabbatdag gerus het.  Johannes het die ekstra detail dat Nikodemus ook betrokke geraak het en 50 liter mirre en aalwyn vir die salwing gebring het, en dat die graf in ‘n tuin was.

Liturgie

RUS

Toetrede, Votum en  Seëngroet (responsories)

Palmprosessie

Lofsang: Lied 223, Lied 175, Flam 171, VONKK 100, Flam 63, Flam 82

Verootmoediging / Geloofsbelydenis: (Gebaseer op die sogenaamde “Stasies van die kruis”.)

Respons: Lied 176 en 177, Flam 216

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 15:1-47

Familie-oomblik

Interlude Lied 395, VONKK 28, Flam 208

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 391, Flam 207

Seën

Geen respons lied

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

As dit gepas is, kan die gemeente voor die kerkgebou ontmoet en saam die kerkgebou binnegaan.  So-nie, reël vooraf dat kinders, jongmense, ouers en ‘n paar ouer mense buite (of in die kerk se voorportaal) wag met palmtakke of vlae.

Toetrede
Liturg: Ons het vandag saamgekom om die begin van Jesus se Groot Lydensweek te herdenk – sy intog in Jerusalem.  Hy het die stad binnegekom oms y verlossingswerk te voltooi:  om te ly, te sterwe en op te staan uit die dood.

Votum
Liturg: Kyk, ons Koning kom na ons toe.  Hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.
Gemeente: Prys die Seun van Dawid!  Loof hom wat in die Naam van die Here kom!  Prys hom in die hoogste hemel!

Seëngroet
Liewe gemeente, ek groet julle in die Naam van die Koning – hy wat in die Naam van die Here kom!

Palmprosessie
Die gemeente beweeg nou in die kerkgebou in.  Of die lidmate wat buite wag, kom die kerkgebou binne.  Hulle stap die paadjie(s) af terwyl hulle palmtakke en/of vlae swaai.  Die gemeente sing sterk lofsange of sterk orrelspel of sterk musiek soos Handel se Halleluja-koor (“King of kings and Lord of lords”) uit die Messias.

Sing lofliedere soos
Lied 223 Aan Jesus, Koning, al die eer [’n Koor kan bv. die liedverse sing, terwyl die gemeente saam die refrein sing, of dit kan wisselsang tussen mans en vroue wees]
Lied 175 “Majesteit”
Flam 171 Hosanna In Die Hoogste [baie bekend – Hosanna in the Highest]
VONKK 100 By Die Intog In Jerusalem (kanon)
Flam 63 Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)
Flam 82 Hosanna

Verootmoediging / Geloofsbelydenis
(Gebaseer op die sogenaamde “Stasies van die kruis”.)
Voorganger (V): Here, U het vir u dissipels gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg.”  In u Naam bid ons:
Gemeente (G): Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

V: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u woord verwerp en u onskuld verag is.
G: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

V: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.
G: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

V: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.
G: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

V: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.
G: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

V: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle ’n verbyganger gedwing om dit te dra.
G: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.

V: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.
G: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

V: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.
G: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.

V: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.
G: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.

V: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.
G: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.

V: Ontbloot en bespot, het U die vernedering verduur sonder om daaroor te kla.
G: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.

V: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.
G: Wees ook so tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.

V: Toe U offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.
G: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.

V: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.
G: Maak ons trou en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.

V: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.
G: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.

V: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof, skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God. Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van  liefde vir ons. Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan, waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.
G: Amen.

Geloofsbelydenis [Jy sou kon volstaan met bogenoemde, maar julle kan ook voortgaan met die geloofsbelydenis na aanleiding van die Apostoliese Geloofsbelydenis en Filippense 2:5-11.)
Gemeente (G): Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader.
Voorganger (V): Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G: Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.
G: Amen.

Respons
Lied 176 “Halleluja! U is Koning” en 177 “Jesus gróót bo almal”
Flam 216 Heilig, Heilig, Heilig, Heer

Liedere

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK: Gemeentesang – Lof) Oorspronklike titel: Hosanna in the highest
Teks en musiek: Carl Tuttle Afrikaanse vertaling: Jan de Wet  © Mercy Publishing / Universal Songs

1. Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

2. Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd) Teks en musiek: Jan de Wet © 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

F63. “Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Chardi Visser © 2009 MAR Gospel Music (Opgeneem op Uitverkoop)

Hoe goed is die Heer.
Hoe goed is u wysheid en krag.
Hoe goed is u guns en genade oor my elke dag.
Ek sal U loof, ek sal U eer.

Refrein:

Hosanna in die hoogste hemele.
Hosanna aan die Koning.
Hosanna ook hier oop die aarde.
Hosanna sal ons sing.

VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem (kanon)”
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010 Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Lydenstyd (Palmsondag) / Kindwees

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

F216. “Heilig, Heilig, Heilig, Heer”
(RUBRIEK: Kersflam / Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: Holy, holy, holy Lord  Teks en musiek: Peter Scholtes
Afrikaanse vertaling: Johan Engelbrecht © 2007 © 1966 FEL Publications (Geadministreer deur Sheer Music Publishing)

Heilig, heilig, heilig, Heer,
U is heilig, Heer.
Hemel en aarde buig voor u grootheid neer.
Hosanna, hosanna
in die hoogste!

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd) Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en musiek: Mark Altrogge Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise CCLI Song No. 24047; CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid.
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam: “Kom na My”.

Vir ewig is ek dankbaar, o, Heer,
dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra.
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 15:1-47

Familie-oomblik

Interlude
Lied 395 “My Verlosser aan die kruis”
VONKK 28 Ons Aanbid U, Jesus Heer
Flam 208 U Het Nie Gewag Op My [bekend:  You did not wait for me]

Preek

Familie-oomblik

Hierdie is weer een van daardie geleenthede waar jy gewoon die verhaal van die Bybel kan vertel.  Lees dit uit ’n goeie Kinderbybel.  Of gebruik hierdie video’s van die Australiese Bybelgenootskap – jy sou dit as deel van jou Skriflesing kon doen.  Lees Markus 15:1-21.  Laat die gemeente ’n lied sing. Wys dan hierdie video van Markus 15:33-39 en lees dan die res van die Skrifgedeelte.

Hier is ’n “colour by numbers” inkleurprent wat kinders tydens die preek kan inkleur of help hulle om kruisies te maak van palmtakke.

Bybel-Media se Woord-en-Fees stel die volgende voor (as jy hierdie opsie gebruik, oorweeg om die hele liturgie hieraan te wy.  Neem die fokus op Palmsondag weg en sing liedere na die verskillende bewegings in die verhaal):

Met die lees van die onderstaande passienarratief, kan gemeentelede gebruik word as “stil-akteurs” om die onderskeie gedeeltes van die narratief uit te beeld. Die gedagte is dat ‘n voorganger die tekste lees en die karakters van daardie betrokke teks net in een spesifieke posisie hulle plek die liturgiese ruimte inneem om die spesifieke gedeelte van die narratief uit te beeld. Die karakters kom ook net op vir hulle teksgedeelte en verdwyn weer daarna soos die volgende karakters opkom.

Passienarratief
Sameswering teen Jesus
Voorganger lees Markus 14:1-2.

Uitbeelding
Leierpriesters staan in halfsirkel en lyk asof hulle saamsweer.

Die salwing in Betanië
Voorganger lees Markus 14:3-9.

Uitbeelding
Jesus sit op stoel en vrou staan met fles oor sy kop. Mense, onder andere Judas van die volgende uitbeelding, staan met hande voor monde en aankyk.

Judas Iskariot onderneem om Jesus te verraai
Voorganger lees Markus 14:10-11.

Uitbeelding
Weer halfsirkel van leierpriesters met Judas Iskariot hierdie keer by.

Die pasga
Voorganger lees Markus 14:12-21.

Uitbeelding
Jesus en sy dissipels sit rondom gedekte nagmaaltafel gereed om te eet.

Jesus stel die nagmaal in
Voorganger lees Markus 14:22-31.

Uitbeelding
Jesus en sy dissipels bly sit rondom die tafel, maar Jesus tel nou die nagmaalbeker op en hou dit in die lug.

Jesus in Getsemane
Voorganger lees Markus 14:32-42.

Uitbeelding
Jesus sit eenkant en bid en drie dissipels sit-lê in ander hoek teen mekaar en slaap.

Jesus word gevange geneem
Voorganger lees Markus 14:43-52.

Uitbeelding
Judas staan eenkant en toekyk hoe soldate Jesus gryp en die drie voorheen slapende dissipels lyk bang.

Jesus voor die Sanhedrin
Voorganger lees Markus 14:53-72.

Uitbeelding
Leierpriesters sit nou in ‘n halfsirkel op stoele en kyk na Jesus wat in die soldate se hande voor hulle staan.

Jesus verskyn voor Pilatus
Voorganger lees Markus 15:1-15.

Uitbeelding
Jesus in soldate se hande staan nou voor Pilatus. Met die lees van vers 15, kan Pilatus sy regterhand oplig as bevel dat Jesus gekruisig moet word.

Die soldate bespot Jesus
Voorganger lees Markus 15:16-20.
Uitbeelding

Jesus staan in die middel met soldate rondom Hom wat lag.

Jesus word gekruisig
Voorganger lees Markus 15:21-41.

Uitbeelding
Jesus staan teen kruis – arms op. Soldate is nog steeds laggende rondom Hom, maar daar is ook vroue en dissipels wat huil. Met die lees van vers 34 kan Jesus opkyk en met die lees van vers 37 sy kop laat sak asof hy sterf.

Jesus word begrawe
Voorganger lees Markus 15:42-47.

Uitbeelding
Jesus lê nou in ‘n “graf” met Josef van Arimatea en twee vroue wat by kruis gehuil het wat ook toekyk.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preekskets werk met Markus 15:1-47 as tekskeuse.]

Ons vier vandag Palmsondag. Dit is die Sondag net voor Goeie Vrydag. Op hierdie dag herdenk ons Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem, aan die begin van sy laaste week voor sy dood aan die kruis.

Terwyl Jesus die stad op ‘n donkie, ‘n nederige dier van vrede en diens, binnegery het, het mense hulle klere en takke voor Hom neergesit om Hom feestelik te ontvang. Opvallend was hy nie op ‘n perd, ‘n oorlogsdier nie. Tog sou die weerstand teen Jesus binne ‘n week só opbou dat Hy op die mees gewelddadige manier tereggestel is.

Op Palmsondag was die skare aan sy voete. Binne een week sou hulle houding omswaai en hulle skree: “Kruisig hom!”

Palmtakke was in die Grieks-Romeinse wêreld waarin die Nuwe Testament afspeel ‘n teken van oorwinning. ‘n Generaal wat van ‘n oorwinning op die oorlogsfront terugkeer, sou met palmtakke ontvang word. Palmtakke is later as simbool vir die Christenmartelare en hulle oorwinning oor die dood gebruik. In Openbaring 7:9 staan die skare wat in die geloof oorwin het voor die troon van God en die Lam met palmtakke.

Palmsondag word in baie kerke gevier met ‘n optog van mense wat palmtakke in die kerk indra. In lande waar palmbome nie algemeen voorkom nie, word ander takke gebruik. Die optog vier Jesus as Prins van vrede, sy helde-ontvangs, die oorwinning aan die kruis, maar bely ook ons vermoë om Jesus te verraai en te verloën, net soos die skare voor die einde van daardie week sou doen.

Kontraste

Palmsondag is daarom ‘n dag van kontraste. Ons ervaar aan die een kant die vreugdevolle uitbeelding van lojaliteit aan Jesus wat in die Naam van die Here kom (Intog in Jerusalem).

Tog is die Hosanna-uitroepe bedek met die skaduwee van die kruisiging wat voorlê. Die gemeente ervaar opnuut haar eie konfrontasie met die teenstrydighede van ons eie deelname in die triomfantelike intog en lyding (passie) van ons Here. Daar is ook duisternis binne ons.

‘n Verhaal in drie bewegings

Markus se evangelie word beskryf as die lydingsverhaal van Jesus met ‘n lang inleiding. Van die begin af is dit duidelik dat Jesus gaan sterf. Jesus wil ook sy identiteit regdeur die evangelie geheim hou, omdat Hy weet sy identiteit kan eintlik net reg vanuit die kruis verstaan word.

In hierdie sin is hoofstuk 15 die hoogtepunt van die evangelie se lydingsverhaal. Die verhaal word in drie bewegings vertel:

  • Jesus se verhoor en die beslissing dat Hý en nie Barabbas nie, gekruisig moet word (1-19);
  • Jesus word na Golgota gelei, aan die kruis gehang en Hy sterf (20-39); en
  • die afloop van die kruisiging en versorging van Jesus se liggaam (40-47).
Vele karakters

Reeds met ‘n eerste lees van Markus 15 is dit opvallend hoeveel karakters in hierdie laaste fase van Jesus se aardse lewe in die verhaal betrek word:

  • Vers 1 verhaal die vroegoggend vergadering waar besluit is om Jesus uit te lewer. By dié vergadering was verskeie mense betrokke: “die leierpriesters saam met die oudstes en skrifgeleerdes en die volle Sanhedrin”.
  • In dié vers kom die naam van Pilatus ter sprake, as die vergadering besluit om Jesus aan die Romeinse Prokurator uit te lewer. Tot by vers 15 is Pilatus deel van die verhaal.
  • Die leierpriesters of priesterhoofde kom weer in vers 3 ter sprake met beskuldigings teen Jesus asook in vers 10 waar Pilatus bewus is van hulle motiewe. Hulle tree in vers 11 op as opswepers van die skare. Later, met Jesus aan die kruis, is dit die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat Jesus spot omdat Hy Homself nie kan red deur van die kruis af te kom nie (31-32).

Pilatus se rol in die verhoor en teregstelling van Jesus, word in verskillende handelinge beskryf. Hy bring Jesus se identiteit ter sprake met ‘n vraag (3). Hy ondervra Jesus verder, dring aan op antwoorde van Jesus en wys op die aanklaers se talle beskuldigings (4). Hy is selfs bewus van die leierpriesters se afguns teenoor Jesus (10). Jesus se stilswye laat Pilatus verbaas (5).

Vers 6 bring ‘n gebruik van Pilatus op die Paasfees en fees van die ongesuurde brood (14:1) ter sprake, wat die volgende karakters in die verhaal betrek: Barabbas en ‘n klomp mense.

Barabbas

Barabbas was in die tronk omdat hy deel was van ‘n groep oproermakers wat tydens die opstand moord gepleeg het. Barabbas word deel van Pilatus se Paasfeesplanne om Jesus vry te laat. Die skare kom as nog ‘n karakter in die verhaal op die toneel (8) en Pilatus kies uiteindelik om die skare tevrede te stel (15).

Na die kruisiging is dit Pilatus wat verbaas is om van Josef van Arimatea te hoor dat Jesus reeds dood is (44). Hy wil bevestiging hê van die offisier. Daarna gee hy Jesus se liggaam aan Josef oor (45).

Skare

Die skare dring aan op Pilatus se Paasfeesgebruik, naamlik om ‘n gevangene vry te laat. Maar anders as wat Pilatus gedink het (9), wil hulle nie vir Jesus laat vry gaan nie. Hulle dring aan op die vrylating van Barabbas.

Pilatus doen selfs moeite om Jesus vry te laat, as hy by herhaling vra of hy Jesus moet laat gaan (13) en by die skare aandring op bewyse van kwaad deur Jesus (14). Die skare reageer egter soos redelose kuddediere, met die histeriese mantra: “Kruisig Hom!” (13, 14). Die skare kry hulle sin by Pilatus as hy Barabbas vry laat, terwyl hy Jesus laat gesel en oorlewer om gekruisig te word (15).

Later, wanneer Jesus reeds aan die kruis hang, ontmoet ons weer die skare as mense wat verbyloop en Jesus laster deur smalend na sy uitspraak te verwys oor die afbreek van die tempel (29; vgl. 13:1-37; 14:58) en Hom uitdaag om van die kruis af te kom (30). Die skare tree ook op as enkele mense by die kruisiging wat Jesus hoor roep. Hulle is verward oor die betekenis van wat Hy sê (35-36). Aan die kruis bring een van die mense selfs vir Jesus suur wyn op ‘n stok om te drink (36).

Die soldate

In vers 16 kom die volgende karakters op die toneel. Die soldate lei Jesus weg na die binneplein van hulle hoofkwartier en hulle roep die hele afdeling byeen sodat hulle pret kan hê met Jesus. Die soldate het Jesus bespotlik gemaak deur op sy sogenaamde Joodse koningskap te fokus (17, 18). Die soldate het Jesus fisiek aangerand met ‘n rietstok (IB), Hom vernederend gespoeg en spottend aan Hom eer bewys deur voor Jesus te kniel (19).

Nadat die soldate genoeg pret met Jesus gehad het, het hulle Hom geneem om te kruisig (20). Die soldate het Jesus by Golgota gebring (22) en wou vir Hom wyn gee met mirre daarin (23). Die soldate het Jesus gekruisig en sy klere onder mekaar verdeel (24). Een van hierdie soldate was die Romeinse offisier van vers 39. Hy bevestig uiteindelik Jesus se identiteit: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Simon van Sirene

Op pad van die soldate se hoofkwartier na die plek van teregstelling op Golgota kom die volgende karakter in die verhaal op die toneel. ‘n Sekere Simon van Sirene, ‘n man van die platteland, vader van Aleksander en Rufus (Was hulle bekendes dat hulle name genoem word?), wat net verbygekom het op pad na ‘n ander bestemming, word gekommandeer om Jesus se kruis te dra (21).

Vroue

Op die plek van teregstelling – Golgota (Kopbeenplek) – ontmoet ons nog twee karakters in die drama. Dit was twee rowers wat weerskante van Jesus gekruisig is (28). Hulle het self ook Jesus beledig terwyl hulle in hulle eie ellende aan die kruis hang (32). Daar is ook die vroue wat op ‘n afstand toekyk (40). Twee van hulle word by name genoem; Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses en Salome. Hulle het reeds ‘n pad saam met Jesus gestap (41). Hulle het ook gekyk waar Josef van Arimatea Jesus se liggaam neergelê het (47).

Nadat Jesus gesterf het, laatmiddag voor die Sabbatdag, verskyn nog ‘n karakter op die toneel. Hy was Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad. Hy het ‘n koninkryksverwagting gehad en het vir Pilatus gevra om Jesus se liggaam te versorg (43). Hy doen veel moeite om Jesus se liggaam menswaardig weg te lê (46).

Wie is Jesus?

Die groot getal karakters in hierdie vertelling laat mens diep nadink oor met wie jy self identifiseer. Dit roep noodwendig die vraag na vore oor hoe Jesus se karakter en identiteit hier aangebied word.

Volgens die vertelling is Jesus meestal passief en stilswyend (5). Hy gebruik die minimum woorde (2, 34). Hy is geboei en aan Pilatus uitgelewer (1); Jesus bevestig sy identiteit teenoor Pilatus met drie Griekse woorde: legei su legeis (“Dit is soos u sê.”) (2); Jesus is van baie dinge beskuldig (3); Hy word ondervra (4); Hy word uit afguns oorgelewer (10); Daar word oor Jesus se lot beslis (9, 12-15); Jesus word gegesel en oorgelewer om gekruisig te word (15); Die soldate vat Jesus (16), bespot Hom (17-19) en lei Hom weg om gekruisig te word (20). Simon van Sirene dra Jesus se kruis (21) en Jesus word by Golgota gebring (22).

In vers 23 bied Jesus wel weerstand as Hy nie die wyn met mirre wil drink nie, maar Jesus word gekruisig en sy klere verdeel (24). Jesus word verder aan die kruis gelaster (29), bespot (30-32) en selfs deur die ander misdadigers beledig (32). Aan die kruis, om drie-uur, uiter Jesus sy laaste vier woorde: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (34).

Sy laaste aktiewe handeling –ook aan die kruis – is ‘n harde roep en uitblaas van sy laaste asem (37). Jesus se identiteit word deur ander geformuleer (Pilatus – 2; die offisier – 39), asook as motivering vir sy kruisiging, met ‘n kennisgewing aan die kruis (26). Jesus se identiteit word misken en daar is verwarring oor wat sy enkele kruiswoorde beteken (35-36).

Ons sleutelteks daag die prediker uit om vanuit Jesus se lyding (passie) te reflekteer oor Jesus se intog in Jerusalem (Palmsondag Feesdiens) en die juigende skare wat met palms en klere Hom begroet: “Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takke wat hulle langs die pad afgebreek het. Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep: ‘Prys Hom! Loof Hom wat in die naam van die Here kom!'” (Mark 11:8-9, NAV).

Offisier by die kruis

Die Romeinse offisier wat by die kruis diens gedoen het, herken Jesus se ware identiteit as die Seun van God. In die lig hiervan verstaan mens Jesus se vroeëre verbod dat mense of duiwels oor Hom praat. Jesus wil sê: “Wag eers tot by die kruis. Dan sal julle besef wat dit regtig beteken dat Ek die Messias is.”

Niemand kon verstaan wie Jesus regtig as Messias, as Seun van God is, voordat jy Hom aan die  kruis sien sterf nie.

Die Romeinse offisier kom juis tot daardie gevolgtrekking, omdat hy gesien het hoe Jesus ly en sterf. Dit is wat hom oortuig Jesus is die Messias.

Dat die Romeinse offisier hierdie belydenis doen, is merkwaardig. Die Romeinse keiser is juis in daardie tyd deur baie as “Seun van God” beskou en vereer. Markus sê egter vir sy eerste lesers binne die konteks van die magtige Romeinse Ryk, dit is nie die Romeinse keiser wat die Seun van God is nie. Hoor net die ironie as die offisier hier bely dat Jesus se ware identiteit is, dat Hy die Seun van God is!

Teoloog Luke Johnson stel dit só:

With consummate irony Mark chooses this moment to have the ultimate outsider, Jesus’ executioner, become the only human character in the narrative to identify Jesus properly: ‘Truly this was God’s son’ (15:39). This is hidden revelation, indeed.

Boodskap van ons gedeelte

Die eerste boodskap van ons teks is die lyding van Jesus. Dit loop regdeur dié gedeelte. Dink aan sy verhoor deur die leierpriesters saam met die oudstes en skrifgeleerdes en die volle Sanhedrin, asook in die oorgee aan Pontius Pilatus en deur hom weer aan die mense en aan die soldate. Ook Jesus se lyding en vernedering deur bespotting en fisieke aanranding, om uiteindelik aan die kruis genael te word en in Godverlatenheid sy laaste asem uit te blaas.

In sy lyding gee Jesus Homself egter oor in die hande van sy Vader en daarin lê die troos en verlossing vir die mensdom.

Die lyding word vererger deur die lof wat Jesus by sy intog in Jerusalem ervaar. Terwyl die skare skaars “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” (11:9) uitgeskree het, swaai hulle houding en gesindheid om wanneer hulle later met dreunsang by Pilatus aandring om Jesus skuldig te verklaar: “Kruisig Hom!”

Tweedens ly Jesus vir elke denkbare mens. Dink aan die groot getal karakters wat deel uitmaak van die verhaal wat Markus oor die gebeure tot ná Jesus se kruisiging vertel. Die ontleding van die rol van die verskillende karakters in die drama, maak mens bewus van die feit dat Jesus se lyding en sterwe vir alle menslike karakters en vir elke vorm van verraad en verwerping bedoel was en is. Die verlossing wat Jesus deur sy vernedering, lyding en dood bewerk het, sluit niemand uit nie. Op die pad na Jerusalem en Golgota kyk Jesus self elkeen van hierdie ja-nee-sêers in die oë, om aan ons elkeen te verklaar dat Hy dit vir my, vir ons, doen!

In die derde plek help ons teks om Jesus se identiteit te openbaar. In ons Skrifdeel is dit Pilatus wat die vraag vra met verwysing na Jesus as koning van die Jode. Hierop antwoord Jesus: “Dit is soos u sê.” Jesus se identiteit as koning van die Jode, word ook op ‘n bordjie aan die kruis geskrywe, terwyl dit die klag teen Jesus verwoord. Uiteindelik is dit die Romeinse offisier wat Jesus se ware identiteit uitspreek as hy hoor hoe Jesus aan die kruis uitroep, en sien hoe Jesus sy laaste asem uitblaas en sterf. Die “ultimate outsider” kondig Jesus se identiteit aan (39). Hy was toe al die tyd die Een wat in die Naam van die Here kom (11:9).

N T Wright herinner aan die verwarring onder die mense by die kruis toe Jesus uitroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (34). Hulle het gedink Jesus roep na Elia. Die mense was weliswaar verkeerd, maar volgens Wright gebruik Markus juis dié verwarring om die leser te herinner Elia het inderdaad gekom soos Jesus voorheen gesê het, en hy kom om alles weer reg te maak. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word” (9:12).

Die omstanders by die kruis, soos die dissipels voorheen, het steeds vir Elia gewag. Jesus het sy roeping deur die werk van die ware Elia begin, Johannes die Doper, maar het nou die punt van lyding en veragting verbygesteek. Elia het gekom, het die weg voorberei en het self ook daarvoor gely. Nou het die Seun van die mens, deur eie vernedering en lyding, finaal die koninkryk van God gebring.

His work was complete, and with another shout het died. Mark, perhaps, intends us to understand that he was conscious of this being his last breath (Wright).

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 391 “Vervul, o Heer, my hart”
Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer

Seën
Geen respons lied, omdat ons die Groot Lydensweek binnegaan.  (Oorweeg ook om geen orrelnaspel of musiek met die uitgaan uit die kerk te hê nie)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.