Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die goue draad wat deur vandeesweek se tekste loop, is om ‘n beslissing of keuse te maak. Jakob laat Esau kies tussen sy eersgeboorte reg en die lensiesop in Genesis 25. In Psalm 119 verheug die Psalmskrywer hom oor die keuse wat hy gemaak het vir die Woord van die Here as die lig op sy pad, terwyl hy terselfdertyd impliseer dat ‘n alternatiewe keuse tot goddeloosheid sal lei. Paulus skryf uitvoerig in Romeine 8 oor die keuse wat gelowiges het om hulle nie deur hulle sondige natuur te laat beheers nie, maar deur die Gees wat aan hulle die lewe in Christus Jesus gee. Die gelykenis van die saaier in Matteus 13 roep die keuse by gelowiges op om eenvoudig net die Woord as saad te ontvang sodat dit by hulle ‘n honderdvoudige oes kan lewer.

Ander tekste

Genesis 25:19-34
Die tweeling Esau en Jakob
19Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham:
Abraham was Isak se pa, 20en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, ’n Arameër uit Paddan-Aram, en ’n suster van Laban die Arameër. 21Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword. 22Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?”

Sy het toe die Here gaan raadpleeg, 23en Hy het vir haar gesê:
“Daar is twee nasies in jou,
twee volke uit jou
sal van mekaar geskei word.
Een sal sterker wees as die ander,
die oudste sal die jongste dien.”

24Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. 25Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos ’n veljas, en hy is Esau genoem. 26Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob m genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is. 27Die seuns het grootgeword. Esau was ’n ervare jagter, ’n man van die veld; Jakob was ’n rustige mens, hy het tuis gebly.

28Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.

29Op ’n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan 30en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!”

Daarom is hy Edom n genoem.
31Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”
32Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?”
33Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met ’n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.”

Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. 34Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.

Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.

Psalm 119:105-112
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
107Ek ly swaar, Here,
hou my in die lewe, soos U beloof het.
108Neem tog my dank aan, Here.
Leer my u bepalings.
109My lewe is gedurig in gevaar,
maar u wet verontagsaam ek nie.
110Die goddeloses stel vir my ’n strik,
maar van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.

Romeine 8:1-11
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Fokusteks

Matteus 13:1-9, 18-23
Die gelykenis van die saaier
(Mark 4:1–9; Luk 8:4–8)
13  Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2‘n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

3“‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7‘n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse
(Mark 4:10–12; Luk 8:9–10)
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
‘Julle sal hoor en hoor
en tog niks verstaan nie,
en kyk en kyk
en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand
is afgestomp:
hulle het hulle ore toegedruk
en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë
kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer,
en Ek hulle gesond maak nie.’
16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Mark 4:13–20; Luk 8:11–15)
18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Ekstra stof

Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal.  Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige dade (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke optredes (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.

Hy is ook beide die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) as die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging), titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon.  Dié Jesus, sê Matteus, Hý is Koning beide as nakomeling van Dawid sowel as nakomeling van God.

Matteus skryf sy evangelie aan Joodse Christene waarskynlik in die omgewing van Antiogië (Sirië) om hulle aan te moedig om voort te gaan om die evangelie regdeur die wêreld te neem ten spyte van die volskaalse teenstand wat hulle van die Joodse gemeenskap in die diaspora (verstrooiing ná die sesde eeu v.C., ook nou ná die beleg en val van Jerusalem in 66-70 n.C.) ondervind, onder andere ten opsigte van hulle Christologiese interpretasie van die wet.

Daarom doen Matteus baie moeite om Jesus se leringe as die vervulling van die wet aan te bied (Matt. 5-7), Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van die hele OT boodskap te koppel, en sy voortgaande teenwoordigheid ná sy opstanding in hulle uitvoering van die Groot Opdrag (Matt. 28:19) te beklemtoon.

Die vier dele van die Groot Opdrag vat Matteus se boodskap kernagtig saam:

  1. Die bediening aan die nasies is van primêre belang;
  2. Dissipelskap as navolging van Jesus self (“my dissipels“) is die fokus van die bediening ;
  3. Die doop in die Naam van die Drie-enige God word gevestig as teken van die gemeenskap van gelowiges;
  4. Die leringe van Jesus word as die primêre inhoud van die nuwe lewenstyl waartoe hulle opgeroep word, aangebied (“om alles te onderhou wat Ek julle beveel het“).

Matteus verweef op ‘n baie integrale manier die oorgelewerde verhale oor Jesus (geboorte, voorbereiding, bediening, wonderwerke, optredes, verhoor, kruisiging, opstanding en uitsending) met sy leringe (Bergrede – hfst. 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst. 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst. 13; Verhoudinge in die kerk – hfst. 18; Koms van die koninkryk – hfst. 23-25).  Dit gee aan die historiese gegewens van Jesus se lewe, bediening, kruisdood en opstanding ‘n sterk verkondigingskarakter.

Trouens, telkens as Matteus ná een van die vyf blokke van Jesus se leringe, dit opvolg met ‘n gelykluidende frase soos: “Toe Jesus klaar gepraat het …” (Matt. 7:28; vgl. ook 11:1; 13:53; 19:1; 26:1) word nie net die reaksie van die mense op sy boodskap verwoord nie (“… was die skare verbaas oor sy onderrig …” – Matt. 7:29), maar ook die verdere verloop van sy verhaal aangebied met die uitsluitlike doel om sy lesers te beweeg om dié Jesus as Messias en Verlosser te erken en volg.

Met die verhale oor Jesus gekoppel aan Sy boodskap wil Matteus dus sy lesers beweeg om nie net te glo in Jesus op grond van sy woorde nie, maar Hom na te volg in alles wat Hy gedoen het, soos Matteus dit inderdaad self gedoen het.

Vir Matteus is die verkondiging van die koms van die koninkryk van die hemel die sentrale boodskap van sy evangelie.  Met die koms van die Koning het dit aangebreek as ‘n teenwoordige werklikheid veral in die lewe en wonderwerke van Jesus Christus.  Daarom skryf hy oor die koninkryk as iets wat ‘n mens hier en nou mee rekening moet hou en met jou hele lewe daarop moet fokus (Vgl. bv. Matt. 6:33; 11:12; 12:28; 13:24-30, 36-43; 16:19; 23:13).

Dit is egter ook ‘n toekomstige werklikheid (4:17; 5:19; 8:12; 16:28; 25:1-13; 26:29) wat eers met die wederkoms van die Seun van die mens (13:24-30, 36-43, 47-50; 16:28; 25:1-13) volledig tot stand sal kom (Marius Nel).  Daar is dus steeds ‘n wederkomsverwagting wat ons oë ook op die toekoms gerig hou.

‘n Mens kan daarom die evangelie volgens Matteus indeel op grond van wyse waarop die verhale oor Jesus verweef is aan sy leringe sowel as in terme van die oorhoofse verkondiging van die koms van die koninkryk van die hemel/God (Matt. 4:17):

Inleiding – Jesus se geboorte en die voorbereiding vir sy publieke bediening – hfst. 1-4
1.  Die goeie nuus van die koninkryk – hfst. 5-7
2.  Die krag en missie van die koninkryk – hfst. 8-10
3.  Die gemengde ontvangs van die koninkryk – hfst. 11-13
4.  Die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18
5.  Die impak en koms van die koninkryk – hfst. 19-25
Slot – Die verhoor, kruisdood, opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hfst. 26-28

Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
Hierdie gedeelte van Matteus – wat ‘n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.

Dit bestaan uit ‘n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad).  As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem.  Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse.  Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ‘n verhaal wat net een punt wil maak wat ‘n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom.  Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ‘n teks gee.  Dit beteken dat ‘n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ‘n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put.  Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie.  Dit is ‘n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.

Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf.  Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ‘n belangriker indeling wat ‘n mens help om die hoofstuk te verstaan.

JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34).  Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23).  Maar in die breë is Hy met die skare besig.  In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg.  “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ‘n negatiewe aanwending van die Psalm dui.

JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36).  Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte.  Die laaste een kan ook net ‘n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.

Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.

Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.

Die gelykenis van die grond – 13:1-9
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het.  Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend.  Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai.  Die voëls pik die saad langs die pad op.  Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog.  Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val.  Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs.  Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons ‘n sleutel vir die wyse waarop die gelykenisse beide ontmagtigend sowel as bemagtigend in die res van die hoofstuk werk.

Die ontmagtigende effek van die gelykenisse – 13:10-18
Die dissipels ontvang ‘n verklaring van die doel van die gelykenisse.  Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan“.  Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende dood is en dus nie verstaan nie.”  Dit, sê Jesus, is ‘n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10 (aangehaal uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX – vgl. ook Joh. 12:40 waar Johannes ook Jesaja aanhaal, sowel as Hand. 28:26-27 waar Paulus dit ook doen).

Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade.  God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil.  ‘n Mens kan net dankbaar wees as jy genade ontvang, nie regtig dit ten diepste begryp nie.  Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit.  Maar, die ander kant is ook waar.  Die onbegrip is ook te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van “siende blind” en “horende doof”.  Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is.  Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.

Die bemagtigende verklaring van die gelykenis van die grond – 13:19-23
Jesus se verklaring van die gelykenis van die grond bevestig die feit dat gelykenisse veelvlakkig is.  Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

  • Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie.  Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.
  • Die rotsagtige grond dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, sogenaamde “mooiweer Christene”.  Hulle hou net ‘n rukkie.
  • Die doringagtige grond dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, sogenaamde “materiële Christene”.  Die wêreld en die sug na welvaart verstik die woord.
  • Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra

Liturgie

Aanvangslied: Lied 469 “O diepte van die rykdom 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 121

Seëngroet 

Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Wet: Uit 1 Johannes 4

Skuldbelydenis: Lied 528 “Leer my U wil Heer vs 1,2,3”

Vryspraak: Uit Romeine 8

Doopherinnering

Loflied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Epiklese: Uit Psalm 119

Skriflesing: Matteus 13:1-9, 18-23

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309

Seën: Num 6 BDV en Gen 12

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 469 “O diepte van die rykdom 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 121
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet 
Aan almal in ……………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit Romeine 1)

Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Wet: Uit 1 Johannes 4
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God,
en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God.
8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar:
sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Skuldbelydenis: Lied 528 “Leer my U wil Heer vs 1,2,3”

Vryspraak: Uit Romeine 8
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.

t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.

3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.

4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.

5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.

10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Doopherinnering
(Leef uit jou doop, Adrio König. 2011:137)
Skrifgedeeltes uit Kolossense 2 en 3. Let op die voegwoorde wat toon hoe ons hele lewe uit die doop voortvloei…

Omdat julle gedoop is en deur die doop met Christus verenig is, sodat julle klaar is met julle ou lewe en aan Christus se lewe deelneem:

Daarom is julle nie meer gebonde aan die feesgeleenthede van die Ou Testament nie (2:16-19).

Dus moet julle nie wetties allerhande reëls probeer hou nie (2:20-23).

Aangesien julle deur die doop met Christus verenig is, moet julle julle gedagtes op Hom rig. Hy is immmers julle lewe (3:1-4).

Daarom moet julle breek met die aardse dinge, die sonde (2:5-8).

Want julle lewe nou die lewe van die nuwe mens waar Christus alles en in almal is (2:9-11).

Daarom moet julle ‘n lewe lei van ‘n bepaalde kwaliteit en styl (3:12-4:1).

Fisiese handelinge kan hiermee gepaard gaan, soos lidmate wat hulle hande in die water in die doopvont kom druk of water wat oor die gemeente gesprinkel word.

Die suggestie uit vandag se preekstudie is die volgende:
(Berei ’n gesin voor vir die doopherinnering). Nooi hulle om by die doopbak te kom staan. Gee hulle almal die geleentheid om hulle geloof in die Drie-enige God te bevestig en daarna kan hulle doop gevier word. Laat hulle hulle hande op mekaar plaas bo-oor die doopbak. Die voorganger kan die water dan oor die gesin se hande uitgiet met die woorde: “Vandag vier ons in dankbaarheid julle doop in die Naam van God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees.”

Hierna kan die voorganger Romeine 8:1-5 lees, waarna die gemeente ’n lied (sien voorstel by musiek) kan sing

Loflied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Liedere

F159. “Leef In My”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding)
Oorspronklike titel: Live In Me
Teks en Musiek: Stass van Veuren
Afrikaanse vertaling: Anita Erasmus
© 2006  MAR Gospel Music Publisher

Ek is honger en ek dors na U, o Heer
U maak als,  buig af
en roep my op my naam
Kom vloei deur my en
stap nou met my saam
Ek gee my hart, kom leef U droom deur my
Leef in my,  leef in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my

F172. “Meer En Meer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Meer en meer, Vader, meer soos U
Meer en meer soos U, Heer
Meer en meer, Jesus, meer soos U
Meer en meer buig ek voor U neer
1. Meer en meer, Vader, meer soos U
Ek vra myself elke dag:  Laat my lewe U glimlag?
Meer en meer, Christus, meer soos U
Heer, ek gee myself aan U meer en meer

Refrein:
Meer en meer, Vader, gee my meer van U
Meer en meer smag ek na U
Meer en meer, Here, meer van u Beeld
Deur u Gees word ek meer en meer soos U

Brug:
U’s die pottebakker,  ek die klei
Vorm my net soos U wil

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Uit Psalm 119
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.
Amen

Skriflesing: Matteus 13:1-9, 18-23

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vra vir die kinders wie van hulle al boontjies in watte laat ontkiem het.  Almal wat in kleuterskole was of is, sou dit al die een of ander tyd moes doen.  Dit sou goed wees as jy ook ’n paar boontjies in watte kon laat ontkiem om vir die kinders te wys.

Benodighede:

  1. Boontjies wat vir ’n week in ’n botteltjie met water lê
  2. Boontjies wat in droeë watte is
  3. Boontjies wat in nat watte was, maar wat nou hard gevries is
  4. Boontjies wat in nat watte teen kamer-temperatuur is, maar nog net ’n paar uur daarin is.

Vra vir die kinders wat ’n mens moet doen om saad te laat ontkiem?

Daar is 4 goed nodig:

  1. Lug
  2. Vog
  3. Warmte
  4. Tyd

Die eerste groep boontjies sal net geswel wees en niks ontkiem het nie – hulle sal net mooi gereed wees vir boontjiesop!

Die 2de groep sal nog net soos die oorspronklikes lyk, want daar is nie vog nie.
Die 3de groep sal ook niks verander nie, want daar is nie warmte nie.
Die 4de groep sal ook nog niks verander het nie – alles is reg, maar dit vat tyd.

Die saad van die woord het ook die 4 goed nodig:

  1. Lug – nie versmoor deur die dorings van die sonde nie.
  2. Vog – die klipbanke
  3. Warmte – die pad
  4. Tyd – dit bly ’n reis (journey), ’n wedloop, later word daar vertel van die boer wat nie weet wat is onkruid of koring nie, en dat daar die gevaar is dat koring saam met die onkruid uitgetrek kan word.  Dan sê Jesus dat dit gelos moet word, gee dit tyd, en met oestyd sal die Vader die onkruid bymekaar maak en in bondels verbrand.

Laat die kinders daaroor praat waar die 4 noodsaaklikhede vandaan kom.

Ek dink al 4 kry ons in die familie van God.
By hierdie webtuiste is ‘n groot verskeidenheid inkleurprente oor die gelykenis van die saaier beskikbaar.

Preekriglyn

Gedurende die rampspoedige droogte van 2016 het dit gelyk of die landbou op sy knieë is. Verstommende milde reëns het geval, waarna Suid-Afrikaanse saaiboere teen ‘n geweldige tempo begin saai het. Dit word bereken dat sowat 1,2 miljoen sade per uur gesaai is. Die oorvloedige saai lei tot ‘n wonderlike oes. Dit word berig dat Suid-Afrika vanjaar (2017) ‘n rekord graan-oes gaan hê. Die Nasionale Oesskattingkomitee het sy voorspelling in April met 3% opwaarts aangepas na 14.3-miljoen ton. Indien dit gebeur, sal vanjaar se oes die tweede grootste ná die 1980/81 rekordoes van 14.6-miljoen ton wees.

Ons verstaan vandag steeds die gelykenis van die saaier op ‘n baie diep vlak. Ons ken die teleurstelling van saad wat nie ‘n oes oplewer nie, maar ook die vreugde van saad in goeie grond wat dertig-, sestig- of hondervoudig oes oplewer.

Wanneer die oes ons verwagtinge te bowe gaan, is die vreugde en dankbaarheid teenoor die Gewer van alle goeie gawes, veral reën, sonskyn en vrugbare grond, uitermate groot.

Die verstaan van gelykenisse

So gepraat oor die verstaan van die gelykenis: dalk moet ons tog iets sê oor hoe mens gelykenisse verstaan.

Vir lank is gelykenisse beskou as ‘n verhaal wat net een punt wil maak. Ons taak is om agter te kom wat hierdie een punt is. Dit kan ons dan op onsself toepas. Hierdie benadering word toenemend afgewys. Dit hou nie rekening met die rykdom van tipiese beeldverhale, soos gelykenisse nie.

Vandag is ons meer oop vir die vele vlakke en baie kante aan gelykenisse. Gelykenisse is verhale en het – soos geslypte diamante – vele vlakke en kante wat die lig van God weerkaats. Die verhaal en sy karakters maak op verskillende vlakke vir mense sin, en dit spreek ons op verskillende vlakke aan. Ons kan dus baie aspekte in so ‘n verhaal raaksien en onderskei.

Veranderde lewens

Die vraag is verder of gelykenisse net bloot verstaan wil word? Het die gelykenis sy doel met ons bereik wanneer ons dit verstaan het, en nuwe inligting oor die koninkryk van God verkry het? Die antwoord is nee. Die gelykenisse wil nie begryp word nie, maar eerder lei tot ‘n lewe wat verander het, ‘n nuwe lewenswyse.

Die belangrikste vraag by die lees van ‘n gelykenis is daarom: “Hoe wil die Here hê moet ons lewe?” Die verstaan van ‘n gelykenis moet uitmond in ‘n ander manier van leef. Daarom kan ons ook sê dis nie soseer ons wat die gelykenisse uitlê nie, maar dis die gelykenisse wat ons lewens uitlê, op sensitiewe punte in ons lewens raak, en ons nooi om vernuwe te word, soos dit pas by ‘n lewe op voetspoor van Jesus.

Troos én ontwrig

Daar is nog meer te sê oor die uitlê en verstaan van die gelykenisse, spesifiek die wyse waarop dit jou lewe wil verander.

Iemand skryf: “Parables want to comfort the afflicted and afflict the comfortable.” Die gelykenis van die saaier het presies dié invloed op hoorders. Die oomblik wat jy snap hoe ryk en wonderlik die boodskap van die oorvloedige saaiproses is (“comfort to the afflicted”), kom die etiese vraag op: “tot watter mate is daar vrug te sien?” (“affliction to the comforted”).

Ons kan ook sê die gelykenisse troos ons, of bevestig ons, maar dit ontwrig of ruk ons ook. Jy hoor van die genade van God, maar jy hoor ook jy word geroep om daarop te reageer. Die reaksie wat God vra, eis van jou om jou lewe te vernuwe. Die gelykenisse dompel ons in ‘n groeiproses.

Dit is ook wat in ons teks gebeur. Kom ons gee dan nou aandag aan ons gelykenis.

Hoe die saaier boer

Saaiboerdery het ‘n wetenskap van effektiwiteit geword. Hedendaagse saaiers is duur meganiese masjiene wat met rekenaarpresisie die diepte van die grond en hoeveelheid saad per hektaar bepaal. Met hedendaagse saaiboerdery word die voortjie getrek, die saadkorrel op die regte diepte geplant en die saadvoor toegetrek in een beweging, sodat daar geen kans is dat die saad verlore gaan nie.

Die verhaal in die gelykenis van Matteus 13 vertel egter ‘n verskillende verhaal. Met ons moderne ore klink dit na vermorsing! Die saaier het uitgegaan en op drie van die vier plekke die saad effektief verlore laat gaan. Op die gedeelte wat uiteindelik voetpad sou wees, het die voëls die saad opgepik. Op die gedeelte waar die bolaag grond baie dun bo-oor die klipperige bodem was, het dit opgeskiet en eweneens verdor en tot niks gekom nie. Selfs op ‘n derde deel van die grond waar onkruidsaad ook ontkiem het, het die saad geen vrug gelewer nie.

Ons kan maklik hieroor dink as vermorsing, maar die rede vir die gelykenis wek eerder verwondering. In die vorige twee hoofstukke kry die goeie nuus van God se nuwe wêreld (koninkryk) op talle plekke die wind van voor. Die skare, die godsdienstige leiers en selfs Jesus se eie bloedfamilie het negatief reageer op die goeie nuus. Kort te vore het Jesus die dissipels uitgestuur om die goeie nuus te gaan vertel in die omgewing. Hulle sou ongetwyfeld dieselfde negatiewe reaksie ervaar wat Jesus ervaar het.

Die gelykenis wil begrip en troos bring vir die wat saai en ervaar dat die saad nie altyd ontkiem, groei en vrug voortbring nie (“comfort to the afflicted”). Hiervoor kan ons talle voorbeelde vind; korporatief as kerk, maar ook individueel as gelowiges. Helaas wil dit elke saaier aanmoedig om aan te hou saai – soos die saaier in die gelykenis – aangesien die ploeg eers later in die grond sal kom. Die saaier kan nie voortydig bepaal waar saad vermors sal wees nie.

Die saailand is ook saaiers

Die gelykenis bevat ‘n interessante spel tussen plekke en gehore wat die saak onderstreep. Die gesprek vind plaas tussen Jesus en die skare en ook met die dissipels. Enersyds, ‘n gesprek waarin die saad oral gesaai word, maar andersyds ook spesifiek in die binnekring tussen sy volgelinge. Hiermee saam vind dit buite die huis plaas in die boot op die see – weereens in die algemeen – maar ook spesifiek binne-in die huis om dit weereens ‘n spesifieke fokus te gee. Dit wil help om die feit te onderstreep dat die saailand self uiteindelike saaiers is en omgekeerd.

In die ontwikkeling van die verhaal ontdek elke saaier dat hy of sy ook en self saailand is. Terwyl elkeen aangemoedig word om aan te hou saai, is die herinnering ook dat daar in elke saaier se eie lewe ingesaai is. Die vraag is gevolglik tot watter mate is daar vrug te sien (“affliction to the comforted”).

Die Matteusevangelie fokus op die vrug wat in gelowiges se lewe sigbaar moet wees. Die profetiese rede in Matteus 25, die verhaal van die twee fondamente (Matt 7:24-27), die gedeelte in 7:15-20 en die waarskuwingswoord in 7:21-23, onderstreep die klem op die vrug soos duidelik word uit die dade van gelowiges.

Wanneer die gelykenis daarom van die wonderlike opbrengs praat, is dit duidelik dat net God dit kan bewerk. Die luisteraar weet egter dat die vrugtoets ook ‘n persoonlike karakter het. God werk nie buite ons om nie. Die kerkvader het geleer: bid en werk . . . (ora et labora). Dit maak dus appèl op elke hoorder se lewe wanneer besef word die saad van die goeie nuus in my lewe gesaai is.

Uiteenlopende reaksie op die saad

In die lewe van talle mense het die saad tot niet gegaan aangesien die voëls dit gewoon van die hardepad (harde hart) opgepik het. Vir ander het die saad ontkiem en met lewenskragtigheid begin groei, net om onder die druk van kwelling en bekommernis in die vlak grond te verwelk en te sterf. Al die goeie voornemens van ‘n naweekbekering wat teen Donderdag by die werk iets van die verlede is!

Daar was ook bekerings wat langer gehou het. Soos die saad tussen die dorings het dit opgekom en fluks gegroei. Toe die aanloklikheid van status en goed egter begin druk uitoefen, het die groeiproses verstik, vergeel en verdor. Dink byvoorbeeld aan die jong gelowige entrepreneur wat skielik sukses in die besigheid beleef. Die aanvanklike belewenis van seën en dankbaarheid maak gou plek vir langer ure op kantoor, groter drome oor sukses en ideale van oorsese vakansies, met uitspattige partytjies wat geloofstrou op die agtergrond skuif. Ook hier het die saad tot niks gekom.

Maar, helaas, die gelykenis eindig op ‘n hoë noot. ‘n Noot so hoog dit is direk uit die hemel: ‘n oes wat honderd-, sestig- en dertigvoudig opbrengs gelewer het. Die blote gedagte aan so ‘n wonderlike opbrengs laat jou na bo kyk. Dit is net deur God se seën wat so iets moontlik is. Dit is waarskynlik waar die gelykenis nou eers goeie nuus kommunikeer.

Die goeie Saaier van bo

Terwyl saaiers op die ondermaanse negatiewe reaksie op die saad van die goeie nuus ervaar en selfs in hulle vrugloosheid mismoedig kan word, herinner die gelykenis aan die goeie getroue Vader in die hemel. Die Een wat heers oor die koninkryk van die hemel. Die vrygewige eerste Saaier wat die saad van die goeie nuus sonder maat of perk in die lewe van die gelowiges gesaai het. Ook die Een wat getrou gereed staan om die saad te laat groei in die lewe van die gelowiges. Bo alles die Een wat ‘n wonderlike oes moontlik maak.

Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak gevat: “God roep ons om getrou te wees. nie suksesvol nie.” Saaiers wat voortdurend rekening hou met hulle eie identiteit as saailand kan die lewe kwalik anders aanpak as met die oog gevestig op Hom. Daarom: “laat dié wat ore het, hoor.”

God stuur ons om te leef

Gebed
Hemelse Vader, U saai opnuut u lewende Woord
onder ons in hierdie sondige en gebroke oord.
Ons meng so dikwels in met u werk, want ons is bang
dat méér nodig is as om u Woord bloot te ontvang.
En dan is daar nog ons vrees dat die Bose sal steel
van die saad wat U so uit liefde met ons kom deel.
En tóg weet ons, Here, dat u Woord kragtig kom werk
en al verdien ons dit nie, laat dit u lewe in ons versterk.
Wanneer ons in eenvoud u Woord kom ontvang,
is dit U wat die vrugte aan hierdie bome laat hang.
Waarlik, u Woord is kragtig, en selfs onder gevaar
kan U die lewe van Christus in ons kom baar.
Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 309
Voorganger: Vandag het die saad van God se Woord in goeie grond geval.
Gemeente: Ons oë is bevoorreg om te sien en ons ore om te hoor.

Voorganger: Laat die Woord deur julle ’n oes lewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
Gemeente: Ons gaan om vir u koninkryk vrug te dra, Here!

Voorganger: Die koninkryk van God het inderdaad naby gekom!

Seën: Num 6 BDV en Gen 12
Mag die Here jou seën en jou beskerm.
Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die Here Sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.
En mag jy vir ander tot seën wees. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.