Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se sleutelteks sluit aan by verlede week se tema dat God die geroep van die noodlydendes hoor. In die Evangelielesing sien ons dat Christus genees en insluit – oor alle grense heen; dat Hy die waardigheid van mense herstel en hulle sodoende weer insluit by die gemeenskap.

In Psalm 130 vind ons ‘n baie sterk skuldbewustheid by die salmdigter, maar ook ‘n diep vertroue in God se getrouheid, liefde en verlossing.

2 Korintiërs 8 moedig gelowiges aan om Christus se liefdeswerk – spesifiek oorvloedige vrygewigheid – voort te sit.

Ander tekste

2 Samuel 1:1, 17-27
Dawid verneem van Saul se dood
1 Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom. Dawid was toe al twee dae terug in Siklag na sy oorwinning oor die Amalekiete. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het die man voor hom op sy knieë geval en gebuig.

Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan
17Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. 18Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.
19“Jou trots, Israel—
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
20Moet dit nie in Gat vertel nie;
moet dit ook nie bekend maak
in Askelon se strate nie,
anders sal die Filistynse meisies
bly wees
en die dogters van die heidene jubel.
21Gilboaberge! Offerland!
Nòg dou, nòg reën vir julle!
Waarlik, dáár is die heldeskild
besoedel.
Saul se skild—dit is nie
met olie ingesmeer nie
22maar met bloed van gesneuweldes,
met vet van helde!
Jonatan se boog—dit het
pal gestaan.
Saul se swaard—dit het sy werk
goed gedoen.
23Saul en Jonatan, geliefde
en beminde mense—
in lewe en sterwe nie geskei nie.
Hulle was vinniger as arende,
sterker as leeus.
24Israelitiese dogters,
julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee
met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop
laat aanbring.
25Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes,
26Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart.
Jou liefde was vir my wonderliker
as die liefde van enige vrou.
27Hoe het die helde geval?
Met die wapen in die hand
het hulle omgekom!”

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

2 Korintiërs 8:(6)7-15
6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. 7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:

“Dié met baie, het nie
te veel gehad nie,
en dié met ’n bietjie,
nie te min nie.”

Fokusteks

Markus 5:21-43
Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing
(Matt 9:18–26; Luk 8:40–56)
21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ‘n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ‘n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ‘n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Ekstra stof

Markus 5:21-43 – “Bly maar net glo!”
Dit tref ‘n mens hoe belangrik geloof en vertroue in Jesus is in die twee verweefde verhale van die raadslid, Jaïrus, van die sinagoge (heel waarskynlik van Kapernaum), en die vrou wat aan bloedvloeiing (vgl Levitikus 15:25–30 vir ‘n beskrywing – sy was ‘n sosiale uitgeworpene, omdat sy voortdurend onrein was) gely het.  Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, en word inderdaad daardeur genees.  Die man se vertroue lê in die feit dat hy aanhou glo, al is sy dogtertjie al dood, soos Jesus Hom aanraai:
“Bly maar net glo!”

Jaïrus se naam beteken onder andere “hy staan op” wat moontlik simboliese betekenis kon hê.  Dit is ook interessant dat die vrou 12 jaar gely het aan ‘n volwasse vroue siekte, en dat die dogtertjie 12 jaar oud was en op die rand van volwassewording gestaan het.  Die ooreenkoms van hierdie wonderwerk met soortgelyke gebeure in die lewe van Elia (1 Kon 17) en Elisa (2 Kon 4) is ook merkwaardig.

Let op hoe drie dissipels genoem word, Petrus, en die twee broers, Jakobus en Johannes, wat ‘n soort binnekring van die dissipels vorm en hier toegelaat word om die opwekkingswonder te ervaar.  Hulle is ook die enigste wat teenwoordig is op die berg van verheerliking waar Moses en Elia aan Jesus verskyn.

Matteus en Lukas
Matteus plaas die verhaal direk na die gesprek oor die vastyd (Mark 2:18-22) en vermeld dat die dogtertjie al dood was toe Jaïrus met Jesus begin praat het.  Hoewel hy die verhaal met ‘n ekonomie van woorde vertel, gee hy tog ‘n ekstra stukkie detail oor die fluitspelers by die huis.  Hy vertel nie van die drie dissipels wat saam met Jesus daar was nie.

Lukas plaas die verhaal ook soos Markus na die gebeure met Legio, en volg die orde en detail van Markus se verhaal met kleiner wysigings, soos deur die vraag oor wie Jesus aangeraak het in die mond van Petrus te plaas.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam  of Lied 155

Votum: Psalm 130:5-6

Seëngroet: Psalm 130:7-8

Lofsang: Flam 457 of Lied 207 of  VONKK 258

Skuldbelydenis en genadeverkondiging: Sing Psalm 130; Liturg lees Psalm 130:1b-3

Geloofsbelydenis: Lied 519 “Wees stil en weet Ek is die Heer”

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 5:21-43

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 322

Seën

Respons: Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 461 Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U) of
Lied 155 “Verhef ons harte tot U, Heer”

Votum: Psalm 130:5-6
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.

Seëngroet
Psalm 130:7-8
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Lofsang
Flam 457 Ek Wil U Lof Verkondig (Psalm 30)
Lied 207 “Eer aan die Vader”
VONKK 258 Groot en getroue God

Skuldbelydenis en genadeverkondiging
Sing Psalm 130
Liturg lees Psalm 130:1b-3
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.

Geloofsbelydenis: Lied 519 “Wees stil en weet Ek is die Heer”

Liedere

VONKK 258 “Groot en getroue God”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 © Musiek: STEPHANUS – Cecilia van Tonder 2014 ©
© 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Kontemporêr – Gebede / Geloof en Vertroue / Oggend- en Aandliedere

Groot en getroue God, U is ons Vader;
op u beloftes kan ons altyd bou.
U sal ons nooit in ons lewe verlaat nie
en in blymoedigheid kan ons vertrou.

Refrein:
Groot en getroue God, groot en getroue God,
met elke môre kniel ons voor U neer.
Als wat ons nodig het, kom uit u hande.
Groot en getroue God, ons sal U eer!

Somer en wintertyd, voorjaar en najaar,
saam met die sterre, son en maan daarbo,
is die getuies van u groot versorging.
In u standvastige trou kan ons glo.

Refrein:
Groot en getroue God, groot en getroue God,
met elke môre kniel ons voor U neer.
Als wat ons nodig het, kom uit u hande.
Groot en getroue God, ons sal U eer!

Sondevergifnis, ewige vrede,
en u teenwoordigheid – dit gee ons krag.
Here, ons leef uit u oorvloed en liefde.
Gee ons ‘n toekoms en seën ons vandag.

Refrein:
Groot en getroue God, groot en getroue God,
met elke môre kniel ons voor U neer.
Als wat ons nodig het, kom uit u hande.
Groot en getroue God, ons sal U eer!

Flam 457 “Ek Wil U Lof Verkondig (Psalm 30)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Ek wil U lof verkondig, Heer
want U het my gered en meer.
U het my hulp geroep gehoor
en my genees.
U het my uit die dood gered
toe dit te laat gelyk het.
En U het in goedheid my laat heers
oor elke vrees.

Refrein:
U het my rouklere uitgetrek,
my feesklere aangetrek.
Daarom sal ek sing vir U
sal ek nie stilbly nie.
My rouklere uitgetrek,
my feesklere aangetrek
daarom sal ek hulde bring
daarom sal ek aanhou sing.

2. Gister was weer ’n donker dag
maar ek weet môre sal ek lag.
U plaas my op ’n hoë berg
en hou my veilig.
Ek het benoud U hulp gevra,
U het my deur die nag gedra.
En U’t genade my betoon
O Here, heilig.

Refrein:

Kan stof U loof,
U trou verkondig?
Here genadig,
ek sal U loof,
U lof verkondig.
Ek was in rou
U’t my van vreugde laat dans.

Refrein:

Flam 461. “Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz  Kopiereg: © Urial Publishing

Uit die dieptes roep ek na U,
hoor my hulpgeroep, o God.
Sou U my sonde my toereken
wat sou van my oorbly, Heer?

Maar by U is daar vergifnis
daarom sal ek U bly dien.

Refrein:
Ek stel vertroue in die Here
op die vervulling van u Woord.
Meer as wat die wagters op die môre wag
wag ek op U,
wag ek op U

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 5:21-43

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Dit is heeltemal voldoende om gewoon die Bybelverhale vir kinders te vertel, sonder om ‘n morele lessie daaruit te probeer haal.  Jy kan die Skriflesing dramaties doen met mooi prente uit ‘n Kinderbybel, of m.b.v. ‘n video.  Die Jesus Storybook Bible is ’n pragtige interpretasie van die hele verhaal, van die vrou en die dogtertjie.  As jy die inleiding en einde uitsny, is die video net meer as 4 minute lank.  Hier is ’n hele les-plan met hulpmiddels, op grond van die Jesus Storybook Bible se weergawe van vandag se teks.

Of jy kan hierdie video gebruik, wat net een en ’n halfminuut lank is.  Dis ’n direkte voorlesing uit die CEV Bybel, nét van die dogtertjie se verhaal.

Gee vir die kinders hierdie inkleur-uitknip aktiwiteit om te maak terwyl hulle luister na die preek.

Preekriglyn

In ‘n onlangse studiestuk waaraan kerke reg oor die wêreld saamgewerk het, word gevra waarmee God op aarde besig is? Waar kan mens God verwag?

Die gevolgtrekking is dat God lewe gee aan God, ware lewe, lewe in oorvloed. Lewe vry van sondebande, herstelde lewe in verhouding tot God, tot mekaar en tot die wêreld.

Die Bybel is vol van God wat die wêreld so lief gehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het. So het lewe in volheid, die ewige lewe, moontlik geword. Jesus het gekom sodat ons lewe, en dit in oorvloed, kan hê.

In ons teks van vandag sien ons hoe Jesus lewe bring vir mense wat sukkel en kwyn. Ons sien hoe Jesus mense aanraak en vir hulle lewe in oorvloed bring. Waar God beweeg, floreer lewe in sy volste en rykste betekenis.

Ons teks

Ons teks bestaan uit twee verhale wat ineen gevleg is. Die verhaal van die dogtertjie wat op twaalf sterf (5:21-24a; 35-43), word onderbreek deur die verhaal van die vrou wat al twaalf jaar siek is (5:24b-34).

Dit is tipies van Markus en staan as sy “toebroodjietegniek” bekend. Die tegniek laat toe dat die twee verhale vergelyk kan word. Die twee verhale praat met mekaar, verryk mekaar en help ons om God helderder en beter in sy Seun, Jesus Christus, aan die werk te sien.

Net in die vorige verse het ons Jesus leer ken as die een van mag oor die natuur het, en ook oor bose magte. Nou ontdek ons Jesus se mag oor dood en siekte, en sy passie dat mense floreer.

Ons teks bestaan uit twee wonderverhale. Ons moenie aan hierdie wonders eenvoudig dink as die werk van ‘n God wat ingryp wanneer ons nie verder weet hoe nie. Die God wat ons hier leer ken, is die God wat aanwesig is in ons nood en wat vir ons op wonderbaarlike wyse van oomblik tot oomblik gee wat ons nodig het. God is nie ver nie, maar hier. God werk nie net as ons nie kan nie, God is in ons midde en gee vir ons wonderlike dinge. God laat lewe floreer.

Wat is die wonderlike van God wat die vrou en die dogtertjie in ons teks ontdek?

Jesus ag hulle mens-wees

Die genesingswonder was vir hulle wonderlik omdat die Here hulle waarlik ag, hulle waardig ag, hulle menswaardig, as waarlik en volwaardig mens ag. Jesus het skaars teruggevaar en was nog by die see toe ‘n groot menigte om Hom kom staan (21). Tog, wanneer een van die presidente, offisiere of raadslede van die sinagoge, ‘n geagte posisie in die Joodse samelewing, vir Hom van sy dogter vertel (22), Hom smeek om sy hande op haar te lê (23), gaan Hy saam met hom (24).

Wanneer Hy, die raadslid en die menigte op pad is na die dogter toe, stop Hy as daar aan Hom geraak word (30). In die gedrang draai Hy om en vra wie dit was (30). In die op pad wees kyk Hy rondom Hom om te sien wie dit gedoen het (32).

En dít is alreeds wat vir die dogter en die vrou wonderlik sou wees! Dat hierdie Jesus hulle in so ‘n mate ag, dat Hy Hom deur hulle laat onderbreek, “interrupt”.

Jesus stel sy goddelike gesag in diens van twee noodlydende mense. Hy doen dit asof dit vanselfsprekend is dat die Seun van God sy program deur nietige mense laat onderbreek.

Dit is wonderlik.

Onrein

Dat dit vir hulle wonderlik sou wees, is selfs duideliker wanneer daar gevra word wie hierdie vrou en dogter was. Dat Jesus juis hulle genees, hulle ag, dat Hy hulle genadig is, dit is wonderlik! Want die vrou wat hy genees, het aan bloedvloeiing gely (25). Die erns van haar probleem word uitgelig in die aantal jare wat sy al siek was en alles wat sy al probeer het. Sy het alles wat sy gehad het daaraan bestee. Maar deur dit alles het haar toestand vererger (26).

As sy net aan Hom kon raak, het sy by haarself gedink, sou sy genees kon word (28). Maar die bloedvloeiing het nie net haar onrein gelaat nie: Dit het vir haar én almal met wie sy in aanraking kom, onrein gelaat. Almal wat sy aangeraak of teen wie sy geskuur het in die skare, was ook onrein.

Iemand skryf:
This woman was not only defiled, she defiled anything and anyone she touched”.

Dit is dus hierdie onrein vrou wat van agter af aan die Here se klere raak (27, 28). Dit is hierdie onrein vrou wat die Here aan Hom laat raak. Hy genees hierdie onrein vrou (34) nie net deurdat Hy haar toelaat om aan Hom te raak en so haar skynbare onreinheid op Hom te neem nie. Hy genees deurdat Hy in haar afgeslotenheid met haar assosieer, al beteken dit dat die toeskouers Hom dalk afskryf.

Jesus laat toe dat die vrou aan Hom raak en neem so haar onreinheid op hom. Teoloog Jürgen Moltmann skryf:

“Jesus’ healing power is not to be found in his supreme power over sickness and disease. His power to heal is the power of his suffering. He heals by ‘carrying our sicknesses’ . . . God heals the sicknesses and the griefs by making the sicknesses and the griefs his suffering and his grief.”

Dogtertjie

Die wonderlike daarvan dat die Here hulle juis genees, word ook duidelik in die dogter wat gesterf het (35). Hy laat hierdie dogter, wat diep slaap, wat dood is, wat nie meer in staat is om woorde – hetsy van geloof of ongeloof – te uiter nie, wakker word (41). Dit is sy wat opstaan en loop (42).

Gemeenskap herstel

Die wonderlike van die verhaal is verder duidelik in die wyse waarop die Here hulle deel maak van die gemeenskap. Die wonderlike is juis daarin dat die Here hulle plek in die gemeenskap weer herstel en hulle ook op so ‘n wyse waarlik genees.

Dit word in detail in die teksgedeelte beskryf. Die menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk (24). Wanneer die vrou egter deur die gedrang nader kom en van agter af aan Hom raak, draai Hy om en vra wie dit was (30, 32). Dit is dan dat Jesus se eie volgelinge wonder hoe hy so iets kan vra terwyl Hy tog self sien dat die menigte van alle kante af teen Hom druk (31). Hulle wys Hom doelbewus daarop dat dit enige een van die menigte kon wees wat aan Hom geraak het.

Dit is juis die punt, want dit is belangrik dat almal sien wie aan Hom geraak het. Dit is waarom Hy die vraag vra. Hy wou die aandag vestig op die spesifieke een wat aan Hom geraak het. Hy wou hê dat hulle sien wie dit is wat aan Hom geraak het, dat hulle sien wie Hy toegelaat het om aan Hom te vat. Hy wou hê dat almal moet sien dat dit sy is, dat dit hierdie vrou is, wat nou heeltemal gesond is, rein is.

Hoekom is dit so belangrik dat almal van die genesing en reiniging moet weet? Want Hy wil hê dat almal haar weer, opnuut, in die gemeenskap ontvang. Daarom is dit belangrik dat sy haar hele geskiedenis vir Hom vertel (33), dat Hy voor almal beklemtoon dat sy genees is (34).

Dogtertjie herstel

Dat die Here juis ook hulle plek in die gemeenskap herstel, word ook duidelik in die dogter wat gesterf het (35). Waar die vrou weens haar bloedvloeiing vir twaalf jaar van die gemeenskap vervreem was (25), is die dogter twaalf jaar oud (42). Dit is die ouderdom wat sy in ‘n vaste verhouding met iemand kon tree en moontlik mee kon trou en op ‘n nuwe manier deel kon word van die gemeenskap.

Wanneer die Here dus die dogter se hand vat en vir haar vra om op te staan (Hy gebruik die Aramese woorde, talitha koum) (41), wanneer sy inderdaad dan dadelik opstaan en loop, word haar plek in die gemeenskap herstel. Dit is dalk daarom dat hulle vir haar iets te ete moes gee (43).

In die woorde van Moltmann:
Whenever sicknesses belong in the context of disrupted human relationships, the relationships in which, and from which, the person lives have to be healed too . . . Healing consists of the restoration of disrupted community, and the sharing and communication of life (191).

Ook daarin is die verhaal se wonderlike verbeeld.

Gesond en lewend

Dit is op hierdie manier – deurdat die Here hierdie vrou en hierdie dogter ag, aan hulle genade betoon, hulle laat deel in die gemeenskap – wat die Here nuwe lewe aan hulle en diegene wat die wonderwerke meegemaak het, gee.

Dit is daarom dat “gesond word” “en lewe” in dieselfde sin gebruik word (23).

Moltmann sê:
Healings are signs of the new creation and the rebirth of life . . .  In every grave illness we fight for our lives. In every healing we feel that we have been restored to life and as if we were new born.

Die wonderwerke wys dus op ‘n groter werklikheid as die blote genesing of gesond word van die spesifieke dogter en vrou. Dit het ook met die ewige lewe te doen. Dit gaan hier egter nie bloot daaroor dat die wonderwerk vooruit wys op die ewige lewe wat ons eendag verwag nie. Dit gaan juis ook oor die ewige lewe wat in hierdie werklikheid deurbreek, oor die werklikheid in die hede van dit wat verwag word!

Geloof in Jesus

Dit is in die sin dat geloof in Jesus genesend is (34, 36). Geloof weet dat dit die Here is wat ons ag, dat dit die Here is wat genade betoon, dat dit alleen Hy is wat ware gemeenskap tussen mense, wat van mekaar vervreem was, vestig.

Dit gaan in die gedeelte oor die inhoud van geloof. Dit gaan oor die Here Jesus in wie geglo word, en nie oor die geloof van mense, selfs oor die hoeveelheid geloof wat hulle dalk het nie. Dit gaan nie oor ‘n geloof in die geloof nie, maar oor die geloof in die Here wat waarlik gesond maak.

Wanneer Jesus vir die vrou sê haar geloof het haar gered (34), gaan dit juis daaroor dat dit die Here Jesus is wat haar genees het, en nie om die waagmoed wat sy gehad het om aan Hom te raak nie. Wanneer die dogter se vader maar net moet bly glo (36), gaan dit juis nie oor sy geloof nie, maar oor die Here Jesus wat haar ten spyte van haar vaakheid opwek.

Moenie vertel nie

Die wonderlike van die verhaal word ook duidelik in die Here se opdrag om niemand anders van die wonderwerk te vertel nie (43). Waar Hy toelaat dat ‘n menigte saam met Hom loop wanneer Hy die vrou genees, laat Hy by die dogter niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes toe om verder saam met Hom te gaan nie (37). Waar Hy doelbewus almal se aandag op die vrou wou vestig om haar volledig in die gemeenskap te laat deel (30), het Hy die hele gedoente van mense wat verskriklik gehuil en tekere gegaan het (38) beveel om uit te gaan (40).

Waarom die opdrag om niemand anders van die wonderwerk te vertel nie?

Die rede is dat Jesus sy identiteit primêr deur die kruis en opstanding bekend wil maak. Jesus wil nie as ‘n towenaar, ‘n wonderwerker, los van sy kruis en opstanding bekendstaan nie. Slegs deur die kruis en opstanding word dit duidelik dat Jesus die Verlosser vir die wêreld is wat mense en groepe van alle tye die volle lewe wil gee. Hy doen dit deur self te ly, te sterf en opgewek te word uit die dood. Jesus loop nie kortpaaie nie, en is nie net enkeles – soos hierdie vrou en dogter – se geneser nie.

Moet vertel!

Daarom leef ons nou in die tyd dat ons móét vertel oor Jesus, oor die Een wat sy lewe gegee het sodat ons genees, gered en die ontvangers van die ewige lewe kan word.

Die boodskap van Jesus is die boodskap van hoop. Die hoop is dat God ons almal wat in Jesus glo sal optel uit die dood, ons volkome sal genees, ons die ewige lewe sal gee. Wie Jesus ken, en hoop op God, weet dat hierdie wonderwerke eintlik doodnatuurlik is. Dit is wat ons van God kan verwag. Jesus se wonders is herinneringstekens wat ons help onthou wat ons in die komende koninkryk van God as doodnatuurlik kan verwag.

Van hierdie hoop wat in ons leef, getuig ons.

Ons taak

As liggaam van Christus het ons ook ‘n genesingstaak.

Waar ook al mense deur die liggaam van Jesus waarlik geag word; waar ook al mense deur die liggaam genade beleef; waar ook al mense opnuut in die liggaam deel, waar ook al daar hoop is – dáár vind genesing plaas!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 322 “God se liefde, so oneindig”

Seën

Respons: Lied 313

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.