Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

God se oordeel om die land te reinig is gereed soos ‘n mandjie ryp vrugte.
God beskerm teen bedrog.
Om te ly ter wille van die evangelie is ‘n voorreg.
Jou aandag moet op die regte saak toegespits wees.

Ander tekste

Psalm 52
God is goed
52 Vir die koorleier. ’n Gedig van Dawid,
2na aanleiding daarvan dat die
Edomiet Doëg gekom en aan Saul vertel het:
Dawid was in die huis van Agimelek.
3Jy wat jou groot hou,
jy spog verniet oor jou slegte dade!
Onthou, God sorg altyd vir my.
4Jy wil ander se ondergang bewerk,
met jou vlymskerp tong
pleeg jy bedrog.
5Jy het die kwaad liewer as die goeie,
en die leuen liewer as die waarheid.
6Jy saai graag verwarring
met jou leuens!
7Maar God sal jou vir altyd vernietig.
Hy sal jou uitruk en wegsleep
uit jou woonplek,
Hy sal jou wegruk
uit die land van die lewendes.
8As die regverdiges dit sien,
sal hulle met ontsag vervul word
en smalend van jou sê:
9“Dis nou die man
wat nie op God se krag wou steun nie,
maar op sy eie rykdom vertrou het
en hom sterk wou maak
deur inhaligheid.”
10Maar ek staan sterk
soos ’n welige olyfboom;
ek is in die huis van God
en ek steun altyd daarop
dat Hy vir my sorg.
11Ek sal U altyd loof
vir wat U gedoen het.
Voor u dienaars sal ek u Naam prys,
want U is goed.

Kolossense 1:15-28
Die voorrang van die Seun
15Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

God het ook julle met Homself versoen
21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.

Paulus se diens in belang van die kerk
24Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk, 25waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak. 26Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. 27God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. 28Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. 29Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.

Lukas 10:38-42
Op besoek by Marta en Maria
38Op hulle reis het Jesus in ’n dorp gekom waar ’n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het ’n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Fokusteks

Amos 8:1-12
Die vierde gesig:  ‘n Mandjie vrugte
8 Die Here my God het my ‘n gesig laat sien: Daar was ‘n mandjie ryp vrugte, 2en die Here het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? Ek het gesê: “‘n Mandjie ryp vrugte.”

Toe sê die Here vir my:
Die tyd is ryp vir my volk Israel,
Ek sal hom nie meer spaar nie.
3Daardie dag sal die sang in die paleis
‘n gehuil word, sê die Here my God.
Daar sal baie lyke wees,
oral neergegooi.
Bly liewer stil!
4Luister hierna,
julle wat arm mense vertrap,
julle wat die mense in nood in die land
wil uitroei.
5Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby
dat ons koring kan verkoop,
of Sabbat, dat ons ons graanwinkels
weer kan oopmaak
en minder graan vir meer geld
kan verkoop?
Ons laat die skaal mos kul
soos ons wil!”
6Julle verkoop arm mense vir geld,
behoeftiges oor ‘n paar sandale,
julle verkoop selfs die koringkaf.
7Die Here het ‘n eed afgelê by Homself,
by Hom wat die trots van Jakob
moes gewees het:
Ek sal nooit vergeet
wat hulle gedoen het nie!
8Sal die aarde nie hieroor beef nie,
sal sy bewoners nie treur nie!
Sal die hele wêreld nie in beroering kom
soos die Nyl,
wegsak soos die rivier
van Egipte nie!
9Daardie dag, sê die Here my God,
laat Ek die son helder oordag ondergaan,
maak Ek dit donker op aarde
terwyl dit nog ligdag is;
10Ek verander julle feeste
in treurgeleenthede,
julle liedere in klaagsange;
Ek trek vir julle rouklere aan
en skeer al julle koppe kaal;
Ek laat dit word soos wanneer ‘n mens
oor ‘n enigste kind treur,
julle uiteinde sal vir julle
‘n bitter dag wees.
11Maar daar kom dae, sê die Here
my God,
dat Ek ‘n honger oor die aarde laat kom:
‘n honger nie na kos nie,
‘n dors nie na water nie,
maar om die woorde van die Here
te hoor.
12Die mense sal ronddwaal
van see tot see,
rondslinger van noord tot oos
om die woord van die Here te soek,
maar hulle sal dit nie kry nie.
13Daardie dag sal die mooi meisies
en die jongmanne van dors beswyk,
14dié jongmense wat ede aflê
by wat Samaria se sonde is
en sê: “So seker as jou god leef, Dan,
so seker as daar ‘n pelgrimspad
na Berseba toe is!”
julle sal val en nie weer
opstaan nie.

Ekstra stof

Die boek Amos, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Hosea, volg derde in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, waarskynlik om die wydverspreide problematiek van ongeregtigheid aan te roer, veral sosiaal-polities (verdrukking, uitbuiting, mensehandel, afpersing, mishandeling en uitbuiting van armes en weerloses tot eie voordeel, onsedelikheid, gewelddadigheid – veral geweld teenoor vroue en kinders, verontregting en omkopery in die regstelsel, kontrakbreuk, ongebreidelde geldgierigheid) en geestelik-godsdienstig (sinkretistiese afgodediens, godsdiens sonder geregtigheid).

Amos roep ook die Noordelike tienstammeryk op tot hereniging met die Suidelike tweestammeryk van Juda, gemotiveer met die belofte van die herstelde Dawidiese koninkryk met Jerusalem as sentrum.

Amos was die eerste van die Skrifprofete en tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 v.C (1:1 – dié datum is argeologies vasgestel, hoewel daar ‘n speling van ‘n dekade weerskante toegelaat word).  Jy kan meer lees oor dié tyd in hierdie bydraes: 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk en 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here.

Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (7:14).  Hy was ‘n veewagter – nie noodwendig ‘n skaapboer soos in die NAV vertaal word nie – uit Tekoa, suid van Jerusalem (1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (7:14).  Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het.

Sy boek begin met ‘n tekening van God as ‘n Leeu wat brul uit Sion: “Die HERE brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” (Amos 1:2).  Elkeen wat al ‘n leeu hoor brul het, sal weet hoe ver dit gehoor kan word, en hoe ‘n impak dit op die omgewing het.  Alles raak stil as ‘n leeu brul.  ‘n Leeu brul om sy heerskappy oor ‘n gebied aan te kondig en niemand is onder enige illusies dat ‘n leeu dit kan afdwing nie!

Dié metafoor is dus baie gepas vir Wie God is en dra die boodskap dat ‘n mens met Hom moet rekening hou.  Die Here brul uit Sion en laat sy gramskap hoor oor dié wat Hom in hulle aanbidding versaak en daarby nie hulle naaste liefhet nie, maar onregverdiglik op allerhande maniere uitbuit.

Indeling

Die boek val uiteen in drie duidelik dele.

  • Die Here brul teen die nasies: hoofstuk 1-2 – Die eerste twee hoofstukke bevat profesieë teen ‘n hele aantal van die omringende nasies (Arameërs [Damaskus – vandag Sirië], Filistyne [Gasa – vandag Palestynse gebied], Fenisiërs [Tirus – vandag in Lebanon], Edomiete [Teman, Bosra – vandag in Jordanië], Amonniete [Rabba – vandag deel van Jordanië], Moabiete [Kerijot – vandag deel van Jordanië]) sowel as teen Juda en Israel.
  • Die Here brul teen Israel: hoofstuk 3:1-9:10 – Die res van die hoofstukke is profesieë veral gemik teen die noordelike tienstamme ryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba, afgerond met vyf visioene in hfst. 7-9:10.
    • Israel weet nie hoe om reg te doen nie – 3:1 – 4:13;
    • Vra na my wil, dan sal julle lewe – 5:1-6:14;
    • Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard – 7:1-17;
    • Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte – 8:1-14;
    • Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar – 9:1-10.
  • Die herstel van Israel: hoofstuk 9:11-15 – Die boek sluit af met ‘n heilsprofesie rondom die belofte van ‘n verenigde Dawidiese ryk wat Israel weer sal insluit in die herstelde Godsvolk.

Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte
Dit is nogal ironies dat die vierde gesig met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (8:1-3).  Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (7:14).  Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte Sy boodskap oor te dra.

Dit is egter ‘n ontstellende boodskap.  Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk.  Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie.  Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander.

In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit.  Hy beskryf die konteks van ongeregtigheid wat Hom tot dié gevolgtrekking gebring het oor hulle rypheid vir oordeel (8:4-6).  Hy verklaar dat Hy dit doodgewoon nie kan oorsien nie (8:7-10).  En Hy beskryf die nood aan Homself en sy woorde wat sal heers in sy oordeel (8:11-14).

Die onreg van die volk is wydverspreid en welbekend – 8:4-6
Die Here beskryf ‘n konteks waarin arm mense verdruk word en die fokus op onregmatige wins is.  Die godsdienstige rituele en feeste word wel nagekom, terwyl angstig gewag word vir die normale ekonomie om daarna weer in te skop.  Die Here beskryf met afsku die valsheid en onreg wat hulle in die gemeenskap pleeg.

Die Here sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie – 8:7-10
Dit is waarom die Here net nie kans sien om dit oor te sien nie.  Hy kan nie en sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie.  Die hele skepping sug eintlik saam met Hom oor die onmoontlikheid van die situasie.  Die Here moes die roem van Israel gewees het.  Nou is hulle vir hom ‘n las en ‘n skande.  Daarom laat Hy dit vir hulle word: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.”  Die uiteinde sal vir hulle bitter wees.

Wat ‘n mens waarskynlik moet raaksien in hierdie beskrywing van die leed wat die Here die volk aandoen, is dat Hy oor hulle voel: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.”  Dié mense wat sy roem en trots op die aarde moes wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom.

Mense sal ronddwaal om die woord van die Here te soek, maar nie kry nie – 8:11-14
As dit maar al was, sou ‘n mens kon sê.  Maar die ergste kom nog.

Die mees tragiese vir my van dié visioen, trouens miskien van die hele boodskap van Amos, is die feit dat die woord van die Here verlore raak.  Daar sal ‘n honger wees, sê die Here: “nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.

Die ontroerende prentjie word geskilder van mense wat ronddwaal en rondslinger op soek na die woord van die Here.  Maar vind, sal hulle dit nie vind nie.  Die pad na die Here, sê Amos, sal verlore wees, uitgewis, uitgevee … net soos die pad na die heiligdomme van hulle afgode by Dan en Berseba, dié twee heiligdomme wat op die noord- en suidgrens respektiewelik geleë was en hulle in die eerste plek verlei het om aan die Here ongehoorsaam te wees. (vgl die fliek The Book of Eli).

Boodskap
Daar is ‘n noodwendigheid in die uitkoms van ‘n lewenspad wat mense inslaan.  Waar die Here en sy wil vir die lewe gesoek word, dáár is ‘n toename in die bewussyn van God.  Waar die Here en sy wil vir die lewe nie gesoek word nie, dáár is ‘n afname in die bewussyn van God.  Soveel só dat die woord van die Here soek kan raak, trouens, dat Hy nie meer gevind kan word nie.

Dit is vir ons moeilik om te hoor, veral waar ons die woorde van die Here Jesus nog hoor weerklink: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8).

Die woorde van Jesus bly gelukkig steeds die evangelie, maar in spesifieke kritiese omstandighede, waar die Here langdurig en deurlopend geïgnoreer word, en sy stem uitgedoof word, daar raak dié prentjie van Amos se mandjie ryp somervrugte relevant, van ‘n tyd wat ryp raak vir oordeel.  Dit is daarom dat ons nooit mag toelaat dat iemand geestelik moeg raak en uitsak en doof raak vir die woord van die Here nie, soos die skrywer aan die Hebreërbrief waarsku nie (vgl. Hebr. 4:1).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 527

Votum: Nav Psalm 41:2-3, 41

Seëngroet

Lofsang: Lied 161

Verootmoediging: (Responsosries uit: “Soos ‘n blom na die son draai” deur Cas Wepener, ogv Handelinge 9:36-43)

Toewyding: Vonkk  63 [bekend]  of Flam 545 “Neem my lewe” – Lied 308

Genadeverkondiging: Kolossense 1:21-23

Geloofsbelydenis: Kolossense 1:15-20 en  Lied 468

HOOR

Gebed

Skriflesing: Amos 8:1-14

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Gebed: Terugvoer van die gemeente se Barmhartigheidsbedieninge en voorbidding.

Dankoffer

Slotsang: VONKK 158 [bekend] of Psalm 82

Seën: (Ou Franciskaanse seënbede)

Respons: Lied 533 “Stuur ons, Heer”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 527 “Leer my u wil, Heer”

Votum
Nav Psalm 41:2-3, 41
2Dit gaan goed met die mens
wat omsien na die swakke.
Die Here sal hom red
op die dag van nood,
3die Here sal hom beskerm
en in die lewe hou;
die hele land sal praat
oor hoe goed dit met hom gaan.
14Aan die Here, die God van Israel,
kom die lof toe
tot in die allerverste toekoms.
Amen, ja, amen.

Seëngroet

Lofsang: Lied 161 “Halleluja! Heer, U is ons lewe”

Verootmoediging
Voorganger: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!
(Uit: “Soos ‘n blom na die son draai” deur Cas Wepener, ogv Handelinge 9:36-43)

Toewyding
Vonkk  63 Die Here Jesus Christus [bekend] of
Flam 545 Neem my lewe – Lied 308

Genadeverkondiging
Kolossense 1:21-23
21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het

Geloofsbelydenis
Kolossense 1:15-20
15Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

Lied 468 “Christus, die Seun, is beeld van God”

Liedere

VONKK 63 “Die Here Jesus Christus”
Matteus 16 : 24-28 Teks: Die Heer oor al wat lewe – AP van der Colf 1988; Jacques Louw 2010 ©
Melodie: MORNING LIGHT – George J Webb 1837 Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2001. Met toestemming NG Kerk-Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Die Here Jesus Christus, kom alles van my vra:
“Kom dra, deur selfverloëning, jou kruis en volg My na.”
Wie vir homself wil lewe – met selfsug God wil dien –
sal nooit die nuwe hemel, Sy koninkryk kan sien.

2. Wat help dit dat ons mense so streef na aardse wins?
Hoe sal ‘n mens jou lewe kan ruil vir God se guns?
Nee, elkeen wat die lewe net vir homself wil hou,
is aan die Heer se opdrag, sy doel vir ons ontrou.

3. Die Here vra ons almal dat ons onsself verloën,
want só kan ons aan ander ons Heer se liefde toon.
Is daar ‘n blyer boodskap? Wat kan ons meer verwag?
Wie met die Here sterwe, herleef ook deur sy krag.

4. Wanneer die Here Jesus weer eendag t’rug sal kom,
kom Hy beklee met luister, met eng’le rondom Hom.
Dan kom Hy om te oordeel oor dade – goed en kwaad.
Volg jy Hom dan gehoorsaam. Dien Hom met woord en daad.

F545. “Neem my lewe – Lied 308”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue) Oorspronklik:  Take my life – Chris Tomlin Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: © 2014 Urial Publishing (Opgeneem op Nou en Vir Altyd)

1. Neem my lewe, laat dit Heer,
U gewy wees meer en meer;
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig
Neem my hande, maak hul sterk –
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
het bereidheid tot u eer

2. Neem my stem en laat my sing;
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond die boodskap dra:
hul sal vind wat na u vra.
Neem my goud en silwer, Heer,
niks noem ek my eie meer;
Al my kennis en verstand
stel ek in u Vaderhand.

Refrein:
Hier is ek, als van my
Neem my hart, dis als vir U

3. Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na u wyse raad.
Neem my liefde; hoe gering,
al sy skatte wil ek bring;
Neem dit als; ek gee dit vry,
Heer, vir ewig u gewy!

Refrein:

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©  Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833 Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Amos 8:1-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Daar is heelwat simboliek in die teks wat jy sou kon gebruik om die boodskap aan jonger deelnemers te verduidelik.

So stel Carolyn Brown voor dat jy kan gesels oor gevolge:  “It is hard for children and even teenagers to learn to identify, before they act, the probable consequences of their actions.  Even when they can identify a possible problem that will result from their action, it is easy for them to hope that it really won’t happen that way to me this time, i.e. “I’ll get away with it.”  Here Amos insists that people are doing terrible things, that God knows what they are doing and that there will be consequences.  Children will not recognize the bad things people are doing as the passage is read.  But with a little help they will find them quite familiar.  People were cheating each other.  The big and powerful were not being fair to the less powerful people.  (Think the older kid saying to the younger one, “Look we have two cookies.  Here is one for you – the littler one – and one for me –the bigger one.”)  The message to children is that God DOES care about what we do and that there will be consequences when we break God’s rules.  Though we may think we will get away with what we do, we will not.”

Sy sê dat kinders ook die konsep van die skaal kul, goed sal verstaan.  Derhalwe stel sy voor dat jy twee sakke meel bring wat dieselfde lyk, maar een met minder meel as die ander.  Weeg dan die meel voor die kinders.  Vra hoe jy sou voel as jy dit ligter sak gekoop het.  Noem voorbeelde van maniere waarop mense mekaar vandag inloop en herinner almal dat dit nie God se wil is nie.

Sien Brown se volledige voorstelle hier.

Hierdie is ook ‘n goeie geleentheid om met kinders te gesels oor die gemeente se barmhartigheidsbedieninge, oor hoe hulle minder bevoorregte mense kan help.  Wees prakties en begin dalk ‘n projek – laat hulle nie-bederfbare kos, skryfbehoeftes, of wat ook al die nood in jul omgewing is, kerk toe bring tot aan die einde van die Seisoen van Barmhartigheid.

‘n Ander manier waarop kinders die konsepte van uitbuiting wat in die teks ter sprake kom, goed sal verstaan, is deur te gesels oor boelies.  Vertel die storie “Say Something” deur Peggy Moss – beskikbaar vir Kindle, of wys die video daarvan, en herinner almal dat dit God bly maak wanneer ons iets sê wanneer mense iemand anders verkeerd behandel.

Preekriglyn

[Nota: Lees verkieslik verse 1 tot 14 as Skriflesing vir hierdie preek.]

Amos is deel van die sogenaamde klein profete. Hy word bekendgestel as ‘n landbouer uit Juda (die Suidelike twee stamme) wat opgetree het in Israel (die Noordelike 10 stamme) tydens die regering van koning Jerobeam II (786-746 vC).

In die groter politieke arena het die Assiriese mag toegeneem en was hulle verantwoordelik vir die vernietiging van Israel in 722 vC.

Volgens 2 Konings 14:23-29 was Jerobeam nie ‘n goeie koning nie. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. As mens egter sy regeringstyd vanuit politieke en ekonomiese oorwegings beoordeel, het hy Israel ‘n fase van groei en voorspoed laat beleef. Hy het die grense in die Noorde en Suide herstel. Jerobeam het dus gedurende ‘n tyd van vrede regeer en in vrede gesterf. Sy seun is egter vermoor en jare se politieke omwentelinge het gevolg tot en met ballingskap in 722 vC.

Dit was egter ook hierdie tydperk van vrede en voorspoed wat gemaak het dat die gaping tussen ryk en arm groter geword het. Argeologiese navorsing wys dat daar in dié tyd groter huise gebou is as vroeër. Amos self praat van winters- en somershuise (3:15). Die godsdiens het floreer rondom die heiligdomme en die offersisteem. Bet-El was die hoofheiligdom en gekoppel aan die koningshuis van Jerobeam. Hierdie heiligdomme het ook markte ingesluit wat handel gedryf het. Mays skryf: “The markets of Jerobeam’s kingdom traded in human misery.”

Dit is daarom verstaanbaar dat die woord van ‘n man vanuit die buurstaat wat homself ‘n profeet noem, nie so goed ontvang sou wees nie, veral nie omdat dit ‘n woord van oordeel was nie.

Vierde gesig

Ons teks dek die vierde gesig wat Amos ontvang het. In die eerste twee gesigte (7:1-6) het Amos ingetree en God het van sy voorneme afgesien om Israel te straf. In die derde en die vierde gesigte het God egter nie van sy oordeel afgesien nie.

Kom ons stap deur ons teks:
Verse 1-2. Soos met die derde gesig, is hier ‘n dialoog tussen God en Amos. God wys vir Amos ‘n mandjie ryp somervrugte. In Hebreeus is daar ‘n spel tussen die woorde “somervrugte” (qayits) en “einde” (qets). Eintlik is die somervrugte net van belang om die woordspel te laat werk. Die res van die teks fokus op hierdie “einde”: “The end has come for my people Israel.” Die 1983 Afrikaanse Vertaling vertaal dit met ryp vrugte en vorm dan die patroon met “die tyd is ryp”.

Vers 3 vorm die brug tussen die gesig en die kommentaar op die gesig. Vreugde word vervang met klag. In die 1953 Afrikaanse Vertaling lees ons: “en die liedere in die paleis sal op die dag weeklaag” (songs will wail). Die bevel van die Here kom hard oor: “Bly liewer stil!” (NRSV – “Be Silent!” of “Hush”). Dit herinner aan woorde in Amos 5:23, waar die musiek ‘n gerumoer en geraas genoem word. Godsdienstige liedere is nie so belangrik as dade van reg en geregtigheid nie.

Vers 4. Aanklag van verdelging. Die besigheidspraktyke was besig om die armes te vernietig; juis dié wat in die verbond beskerm word. Ons vind aanhalings van Amos se woorde uit vorige hoofstukke van die boek, maar met latere byvoegings rondom voorbeelde van uitbuiting.

Vers 5. Nuwemaan is die eerste dag van die maanmaand. Hier is ‘n beeld van mense wat verlang dat die heilige dae sal verbygaan sodat hulle kan aanhou geld maak uit onheilige dinge. Die gebruik van verskillende skale word in die wette aangespreek. Handelaars het verskillende gewigte vir koop en verkoop gebruik en so oneerlik wins gemaak So word mense in die proses van koop en verkoop uitgebuit.

Vers 6. Mense self word gebruiksartikels.

Vers 7. Die gewigtigheid van hulle sonde word onderstreep deur God wat ‘n eed by Homself aflê. Die trots van Jakob kan daarop dui dat God die land/grond oproep. Ook die land word uitgebuit en is getuie. Binne die groter verbondswette van Israel word juis gepoog om die minstes en die weerloostes van die samelewing te beskerm (Lev 19 en 25). Amos praat teen optredes wat hierdie gesindheid ignoreer en bewustelik verbreek. Wat dus gelyk het soos goeie besigheid en sukses, was ongehoorsaamheid aan die wette en aan Jahwe.

Verse 8-10. Die onreg sal volgens die verse ook kosmiese implikasies hê. Sewe werkwoorde dui op die totaliteit van die komende oordeel. Die gewelddadige gebeure word gesien as die gevolge van hulle eie onreg.  “Daardie dag” het meer te make met die wat as die wanneer.

Verse 11-12 dui op die droogte (afwesigheid?) van God se Woord. Geen profetiese woord om hulle te verseker/troos nie. Die honger en dors wat wel letterlik bestaan het, word nou metafories geïnterpreteer.

Verse 13-14. Hier word die bittere en wrange einde van die pad van sonde beskryf.

Erken God se wil

Ons teks vra vir ons erkenning van God se wil en ons fokus op God. Die oordele in die boek Amos het te make met woorde teenoor ‘n volk wat op verskillende maniere God se wil en woord agter hulle geplaas het, en hulle eie wil en woord laat seëvier het.

Die fokus in die vierde gesig is ekonomiese praktyke, gekoppel aan die godsdiensbeoefening wat die wil van God ignoreer. ‘n Gemeenskap wat al die regte uiterlike dinge doen, maar die sentrale fokus van die Sinai-verbond vergeet, naamlik dat God sorg en wette daar stel sodat vir almal, en juis weerloses, gesorg moet/kan word.

Ekonomiese ongehoorsaamheid

Dit is juis die ekonomiese perspektief van Amos wat dit altyd ‘n ongemaklike boek maak om oor te preek. Dit klink na ‘n aanklag, wat dit wel is. Ons moet die woorde vandag nie los van Amos se konteks gelees word nie.

Iemand beskryf die sentrale tema van ons teks as “religious hypocrisy”. Dit is ‘n ingesteldheid van skynheiligheid; meedoen aan die godsdiensbeoefening, maar terselfdertyd verryking van die self, ten koste van die weerloses.

In hierdie tyd was daar ‘n ryk hoërklas met ‘n groeiende arm deel van die samelewing. Die hoërklas het die amrs skaamteloos uitgebuit.

God se wil strek ook oor die ekonomie. Hoe ons mekaar en ander ekonomies behandel is deel van God se wil vir ons lewe.

Ekonomie vandag

Dit is so dat ons in ‘n Westerse kapitalistiese wêreld baie maklik “besigheid” dink in al die verhoudings waarin ons staan en in strukture waarby ons betrokke is. Wins en ekonomiese groei word die mantra wat baie mense se lewe beheer. Mense word ongemaklik as oor geld en besittings gepreek word. Daar is ‘n geneigdheid om seksuele sondes te verhef en stil te bly oor die uitbuiting van werkers en armes.

Amos ontvang ‘n gesig. Eintlik is die vrugte nie so belangrik nie, maar die Hebreeuse hoorders sou die spel gehoor het tussen die woord vir “somervrugte” en die woord vir “einde”. God maak nou ‘n einde. Die res van die verse kan mens nie onaangeraak laat nie. Beelde van dooies, God wat hulle stilmaak, weeklaag, die droogte van woorde en troos, kosmiese rampe, en so meer. Ons sien sulke beelde van oorloë en natuurrampe baie op televisie.

Die teks wil ons nie in oorsaak-gevolg, sonde-straf ritme laat verval nie, maar moet ons uitnooi om te kyk wat veroorsaak Israel se einde. Dit is konkrete skelm besigheidspraktyke wat ons kan vertaal in terme van ons eie tyd. Die een wat nie het nie, word uitgebuit, wins en groei is die enigste maatstawwe vir sukses. Jammer vir die wat nie kan byhou nie.

Soos ander profete, wil Amos ons eintlik stimuleer om ons te verbeel hoe lyk die wêreld waar sulke tipe goed nie gebeur nie. Soos Jesaja tereg skryf: “Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (Jes 11:9). Dit is hoe Bet-El (huis van God) moes lyk.

Die uitbuiters waarvan Amos skryf is dan nie in vandag se taal die wat “kerklos” is nie. Hulle is in die banke, maar hulle fokus is nie God en sy wil nie. Dit gaan net om hulle eie sak. Reinhold Niebuhr het geskryf ons moet onthou dat God se verlange en ons verlange nooit dieselfde is nie, nie eens ons hoogste verlange nie. Die gevaar begin dreig wanneer ons kapitalisme en ons Christelike geloof begin verwar en ons kerke besighede word, terwyl ons nie ons naaste lief het nie, maar net wil geld maak uit ons naaste.

Amos wil ons herinner dat sodanige verwewing van materiële belange en God se wil, nie ‘n speletjie is waarvoor ons net oor ons vingers getik gaan word nie. Dit is doodernstig. Dit het kosmiese implikasies. Dit het te make met hoe God se gesig gewys word vir die wêreld. Dit raak die toekoms van gemeenskappe wat nie kan groei indien moontlikhede nie vir almal oopgesluit word nie.

Dit het ook ten diepste betrekking op hoe ons ons medemens verstaan. Sien ons die medemens as geskape na God se beeld en geliefde van God, of bloot as instrument van my eie verryking? In Amos se taal gaan dit oor God wat sê: “Bly liewers stil. Dit is die einde.”

God stuur ons om te leef

Gebed
Gebruik die geleentheid om terugvoer te gee van die gemeente se Barmhartigheidsbedieninge en daarvoor te bid.  Miskien kan julle begin om lidmate voor te berei vir ‘n projek wat jule tydens die Seisoen van Barmhartigheid (wat oor twee weke begin) kan doen.

Dankoffer
Slotsang

VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe [bekend] of
Psalm 82 “God spreek die ander gode aan…”

Seën
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
(Ou Franciskaanse seënbede).

Respons: Lied 533 “Stuur ons, Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.