Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Kolossense 1:1-14
Ander tekste: Amos 7:7-17 met Psalm 82; of Deuteronomium 30:9-14 met Psalm 25:1-10; Lukas 10:25-37

Inleiding

Temas
In die erediens vereer ons die God wie se liefde en genade  mense verander. In Hom het mense hoop vir die toekoms, leef hulle in vertroue en betoon liefde aan ander (Kol 1) Sy verlossende genade word reeds duidelik wanneer Hy ’n suiwer maatstaf (skietlood) aanlê waarmee Hy die lewe van sy volk op koers wil kry (Am 7). Sy heilige karakter eis ook dat alle gesaghebbers reg moet laat geskied (Ps 82). Die weg tot verlossing loop deur God se groot gebod, die liefde, wat nie net die gedrag van mense aan die lig bring nie, maar ook versorgend en helend is soos wat Jesus met sy gelykenis van die barmhartige Samaritaan verduidelik (Luk 10:25-37).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Tot U, Here, rig ek my,
my God, op U vertrou ek.
Gemeente: Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie (uit Ps 25:1-4).

Skulderkenning
Lees Amos 7:7-8 en Lukas 10:25-28.

Vryspraak
Lees Lukas 10:25-37. So verduidelik Jesus genade en vryspraak en die effek wat dit op die lewe van ’n gelowige het.

Diens van die Woord

Bybel-en-kers ritueel voor Skriflesing: Laat twee lidmate (jongmense) die Kanselbybel en ’n groot kers indra. Lees Psalm 25:8-10 (verkieslik uit Die Boodskap).

Diens van die tafel

Nagmaal
Lees weer Kolossense 1:13-14 asook Lukas 10:34-35.
Lees uit die tweede “Formulier vir die bediening van die Nagmaal”, punt 5: “Die Nagmaal is ’n vreugdefees . . .” (Vir die Erediens – ’n handleiding, bl 80.)

Voorbidding
Neem die bede uit Psalm 82 in die gebed op.

Uitsending

Seën
Die Here sal jou help in alles wat jy aanpak.
Die Here sal dit laat goed gaan met jou.
Die Here sal Hom oor jou verbly.
Die Here sal jou seën met sy teenwoordigheid (uit Deut 30:9-11).

Musiek en sang

Toewyding: Lied 504 “Kom laat ons saam tot Jesus nader”
Loflied: Lied 200/ NSG 43 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie” ; NSG 223 “Van Jesus wil ons almal sing”
Vryspraak: Lied 506 “O Heer, u liefde wondergroot”
Uitsending: Lied 522 “U liefde en u trou” ; Flam 142 “Lê my lewe neer”; NSG 264 “Heer, wees ons naby”

Preekstudie: Kolossense 1:1-14

Teks

Vers 1-2: Die brief is van Paulus en Timoteus, wat saam met hom is, en getuig van sy apostelskap in Christus. “Hierdie brief is bedoel vir al die mense van Kolosse wat spesiaal net God s’n is . . . vir julle wat in Jesus glo en daarom deel van God se hegte familie is” (Die Boodskap). Wat hier uitstaan, is dat Paulus die gemeente met die begrippe “gelowiges” en “heiliges” soos ook elders (Fil 1:1; Rom 1:7) kwalifiseer as “eenkant gesit, verkore, uitgesonder wees vir die Here, mense wat aan God behoort”.

Vers 3-14: Struktureel vorm hierdie openingsperikoop ’n eenheid. Die gedeelte bevat eerstens gebede wat begin by vers 3 en eindig by vers 12. In vers 3-8 “dank” Paulus God vir wat dit hy van die gemeente gehoor het en ook vir God se gawe in Christus aan die gelowiges. In vers 9-11 doen hy “voorbidding” vir die gemeente. In vers 13 en 14 volg dan belangrike geloofsmotivering vir dit wat voorafgaan. Dié begronding vorm egter ook ’n oorgang na die dramatiese hoogtepunt in die lied, by vers 15-20, wat die persoon en werk van Christus besing (Du Plessis).

a. Dank – vers 3-8: Paulus se “gebedsfokus van dank aan die Vader van die Here Jesus Christus” (die kurios), vir die gelowiges in Kolosse om “twee” besondere “redes”. Die getuienis van hulle “geloof wat berus op Christus” (Du Plessis) het hom bereik waar hy in die gevangenis sit. Daarby is aan hom vertel van hulle “liefde” vir al die gelowiges. Hy is beïndruk dat die Kolossense se geloof in Christus Jesus, hulle liefde vir al die heiliges, bou op die “hoop” (Paulus se bekende geloofstrilogie) wat vir hulle as “onaantasbare skat” in die hemel bewaar en geanker word. Juis hierdie hoop stel hulle in staat om te volhard in liefdesdiens.

Die “waarheid van die evangelie” (dit beteken die evangelie wat die waarheid is) is aan hulle verkondig. Dit staan teenoor enige dwaling of valse waarhede. Nie alleen het hulle die evangelieboodskap gehoor nie, maar hulle aanvaarding daarvan het hulle hele lewe verander en beteken ’n nuwe lewenswyse. Juis op grond hiervan skryf Paulus aan hulle.

Paulus beklemtoon dat “die evangelie van Christus hulle bereik het”, alreeds verder versprei het en vanuit Kolosse verder oor die hele wêreld versprei. Teenoor die lokaliteit, beperktheid van die destydse dwalinge, word die evangelie wat die eindes van die aarde bereik, beklemtoon as die oorheersende krag waarin God self aan die werk is. Dié uitbreiding hier is in ooreenstemming met Paulus se gerigtheid om destyds die evangelie na die hele bekende wêreld uit te dra (bv sy destydse plan om Spanje te bereik – Rom 15:24). Paulus herinner hulle daaraan dat die vrugte van die evangelie wat hulle self dra, gegroei het vanaf daardie dag dat hulle van God se genade gehoor het en juis dít as die waarheid (soos dit werklik is) erken het. God se genade in Jesus is die eintlike fokus en hulle is daarin onderrig deur Epafras (1:7; vlg 4:12 een van hulle in Kolosse). Paulus noem hom sy geliefde mededienskneg (Gr sundoulos – letterlik medeslaaf; vgl Fil 2:7 waar Christus Jesus se dienswerk as slawewerk gekwalifiseer word) en dienaar (Gr diakonos dui op algemene diens – anders as ons verskraalde begrip van die diakenamp, sluit dit beide prediking en pastoraat in ter wille van die gemeente) van Christus. Epafras se getuienis teenoor Paulus was die goeie nuus van die onderlinge liefde in die gemeente, ten spyte van die dwalinge. Dit is belangrik dat Paulus die bestaan van hierdie onderlinge liefde identifiseer as die werk van die Heilige Gees (liefde in die Gees).

b. Voorbidding – vers 9-12: Juis “daarom”, omdat hulle bestaan en die karakter daarvan God se werk is, doen Paulus naas sy dankgebede onophoudelik “voorbidding” vir die gemeente in Kolosse, van die eerste dag dat hy van hulle bestaan gehoor het.

Vers 9-10: Sy “voorbidding” fokus op hulle vervulling met kennis (vgl ook Fil 1:9), wysheid en insig. Teenoor moontlike selftevredenheid bid Paulus dat die gelowiges in Kolosse, die gemeente, sal kom tot die volle kennis van God deur al die wysheid en insig wat die Gees gee. Die vorm van die werkwoord beklemtoon dat God die kennis, insig en wysheid in gelowiges bewerk. Dit gaan ten diepste om die wil van God en nie om die spekulatiewe kennis van die destydse samelewing nie. Wysheid en insig dui hier op die praktiese bekwaamheid om reg en verkeerd te onderskei en God se wil te kan verklaar. Paulus bid dit met die oog op die gemeente se praktiese geloofslewe, tot eer van die Here, deur net te doen wat die Here verlang. Die vrugte van so ’n lewe word sigbaar in die doen van goeie werke en die groei in die kennis van God (1:10). Daarom is Paulus se fokus in vers 9 daarop gerig dat die Here die gemeente sal volmaak met kennis, wysheid en insig.

Vers 11: In dié merkwaardige vers bid Paulus verder: Mag julle (die gemeente) met sterkte/krag (Gr dunamei) bekragtig (Gr dunamoumenoi) word (die werkwoord dui op ’n voortgaande aksie) deur/vanuit die mag (Gr kratos – die begrip word in die NT slegs vir God se krag gebruik) en die heerlikheid (Gr doxés) waaroor God beskik. Dit is vir Paulus duidelik dat juis God se inherente krag en heerlikheid (in sommige vertalings “the glorious power” of “the glorious might of God”) die Kolossense bekragtig, hulle bron van krag en van energie is, sodat hulle altyd (in alle omstandighede) met lydsaamheid (Gr makrothumian – beteken om in die konteks van weerstand/provokasie/vervolging nie die natuurlike reaksie van bitterheid en wraak te openbaar nie, maar Christus se gebedshouding en vergewensgesindheid) sal volhard, geduldig sal aanhou (Gr hupomonen – vgl Heb 12:1 waar dieselfde woord die atleet aandui, wat met volharding hardloop om sy doel te bereik, ten spyte van moeilike uitdagings en ontbering). Die begrip “met blydskap” (G. charas) word in sommige Griekse tekste hierby gevoeg (vgl die OAV). Die NAV laat dit egter in die lig van die jongste tekskritiese navorsing uit.

Vers 12: Paulus vermaan die gemeente hier om self ook die Vader met blydskap te dank omdat Hy hulle geskik gemaak het om saam met die heiliges (hulle wat vir die Here afgesonder, uitgesonder is) deel te kry aan die erfenis wat wag in die ryk van lig. Hier, soos elders in die brief, motiveer Paulus die gemeente se veronder-stelde houding en handelinge vanuit hulle gerigtheid op die toekoms, die waarborg op dit wat daar vir hulle wag (eskatologie). Terwyl hulle vooruitkyk op dit wat in die toekoms wag, word hulle opgeroep om God nou te dank.

c. Grondslag en motivering – vers 13-14: Die laaste twee verse van die perikoop is baie belangrik vir die Kolossense brief se boodskap in die geheel. Paulus onderstreep hierin die grondredes vir sy eie dank- en voorbede.

Vers 13: Dit wat van die gemeente in Kolosse waar is, dit wat reeds met hulle gebeur het (die tydsvorm van die werkwoorde is aoristus – dit dui op ’n afgehandelde daad wat nou geld), motiveer sy voorbidding vir die gemeente en sy aandrang by hulle om hulle geloof prakties uit te leef en God so te eer en biddend te dank.

Die gemeente (Paulus praat nou in die eerste persoon en sluit homself ook in) word hierby daaraan herinner dat hulle tevore in die absolute mag, onder die absolute oorheersing, wettige heerskappy (Gr exousia) van die duisternis (Gr skotous – ook by Matt 27:45; Luk 22:53) was (vgl Rom 6 – slawe van die sonde). Die duisternis dui nie slegs op die afwesigheid van lig nie, maar op teenstand teen die lig, dus nie slegs ’n bestaan sonder God nie maar teen God (Carson)

Die gemeente is daaruit weggeruk (Gr érrusato – verlos;  (uit die magsgebied van hierdie rebelle-koninkryk) en is nou onder die heerskappy (Gr Basileia – koninkryk) gestel van “sy Seun wat Hy liefhet” (vgl Hand 26:18 “om hulle oë te open dat hulle hulle uit die mag van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God . . .”; die gedagte is volop in die OT). Die koninkryk van die Seun vorm die teenpool van die mag van die duisternis. “Seun van sy liefde” beklemtoon dat Jesus self die voorwerp van God se liefde is (vgl Ef 1:6) en juis dit waarborg aan die onderdane in sy koninkryk ook God se seën en sorg wat hulle versorg en vorm.

Vers 14: Deur die Seun het ons die verlossing
(Gr apolutrosin – vrygekoop uit gevangenskap; die woord het ’n OT oorsprong en wys dikwels na die volk se verlossing uit Egipte) verkry,  die vergewing (Gr afesin) van ons sondes (Gr amartioon – beteken om kort te kom aan God se verwagtinge).

Die dwaalleer in en om Kolosse het ’n sinkretistiese verlossingsweg gebied, waardeur mense hulle eie heil deur middel van ’n nuwe godsdienstigheid kon help bewerk (sien “Konteks”). Paulus beklemtoon egter die absolute teendeel. Die wesenlike van die Paasboodskap is juis dat die ommekeer van ons posisie vir Christus ’n onvoorstelbare stryd gekos het (Uitman) waarin “die lewe die oorwinning behaal en die dood verslaan is” (uit ’n Paasgesang van Luther). Ons “verlossing” is “deur die Seun bewerk”. Anders as by die dwaalleer wat wesenlik ’n ontvlugting van die werklikheid is, bring Christus se verlossing (deur sy lewe as losprys [Gr lutron, Mark 10:45] te gee vir baie; deur Homself te gee as losprys [Gr antilutron, 1 Tim 2:6]) fundamentele verandering op alle terreine. Dié fundamentele verandering (verlossing) word hier aangedui met die “vergewing” van ons sondes en oortredinge (vgl Ef 1:7). Dit alles gebeur oor ons en sonder ons, buite ons om, maar vir ons (Uitman verwys hiermee na Kohlbrugge se uitleg van die HK So 23, antw 61). Daarom praat Luther van die ryk van God as ’n “ryk van sondevergifnis en genade”.

Konteks

1. Die stad Kolosse is soos Laodicea en Hiërápolis in die Lykosvallei, in die landstreek Frigië in Klein-Asië, geleë, in vandag se Suidwes Turkye. Paulus noem beide stede in die brief (2:1; 4:13-16). Kolosse was voor die Romeinse oorheersing ’n belangrike stad. In Paulus se tyd het die stad se kommersiële belangrikheid afgeneem. Daar was egter ’n gemeente van Christus en die gemeenskap was waarskynlik redelik kosmopolities. Dit is onwaarskynlik dat Paulus Kolosse self besoek het (Carson). Paulus se bekeerlinge het die evangelie heel waarskynlik na hierdie gebied gebring (Du Plessis). Naas Epafras, wat die gemeente se leier was, het Filemon ook in die gebied gewoon (4:9 verwys na sy slaaf Onesimus). Lukas skryf in Handelinge, na aanleiding van Paulus se twee jaar lange bediening in Efese gedurende sy derde sendingreis, dat deur sy daaglikse onderrig in die skool van Tiránnus “almal wat in Asië gewoon het die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke” (Hand 19:10). Epafras het tydens Paulus se bediening in Efese tot geloof in Christus gekom en was waarskynlik die stigter van die gemeente in Kolosse (Ridderbos).

2. Die brief aan die Kolossense is sterk Christus-gesentreer. Dit was ’n ferm herbeklemtoning van sy heerskap op ’n tydstip dat allerlei valse leringe in Kolosse en omgewing versprei is (Carson). Dit is “Paulus se boodskap in ’n neutedop” (Die Boodskap). Hy sit in die tronk, bes moontlik Rome, wanneer hy sy brief skrywe, waarskynlik tussen 61 en 63 nC.

Mense in Kolosse en omstreke het destyds gestry oor “hoe ’n mens gered word”. Party het allerlei slim maar misleidende argumente aangevoer oor dit wat ’n mens self moes doen en hoe jy die geestelike magte tevrede kan hou (2:2). Die dwaalleer by Kolosse en omstreke, waarteenoor Paulus die hart van die evangelie uiteensit, het verskillende kante vertoon (filosofieë en wêreldmagte, wettiese godsdienstige reëls 2:8, valse, selfgemaakte godsdienstigheid en askese 2:23 – Du Plessis) en het verskillende wortels gehad. In die Frigiese natuurgodsdiens, waarin die lewensiklus ’n belangrike rol gespeel het, is natuurgode aanbid met gepaardgaande askese en selfverminking om die gode en hulle tussengangers tevrede te hou. In die Persiese godsdiens daarnaas is die elemente van aarde, vuur, water en wind vereer omdat dié oerkragte openbaringe van God sou bring. Hierby is in die Hellenistiese Jodedom, wat soos die ander met die kalender verband gehou het (bv Joodse Sabbat en nuwemaan), wets-gehoorsaamheid beklemtoon. ’n Mengelmoes godsdiens (sinkretisme), misteriegodsdiens is uit die verskillende godsdienste gevorm en dit is as wysheid in die omstreke van Kolosse voorgehou. Die soort godsdiens het ’n groot aantrekkingskrag gehad en mense verlei. Mense is hierdeur onder die indruk gebring dat die wêreld onder die beheer was van bonatuurlike en engelemagte. As ’n mens die verhouding met dié magte egter reg sou bestuur, binne ’n soort godsdienstigheid, religie wat onderhouding van allerlei feeste en die onthouding van kos en drank inhou, kon jy volgens die dwaalleraars hierdie bonatuurlike en engelemagte, die tussengangers tussen God en mens, behaag.

In die Kolossensebrief gee Paulus aan Epafras, die leier in die gemeente, fundamentele raad teenoor hierdie “lewensgevaarlike bedreiging” (Du Plessis) – teenoor hierdie godsdienstigheid, die poging tot eie heil-bewerking. Hy beklemtoon dat ons deur Jesus alleen gered word. Sy middelaarskap is algenoegsaam. Ons leer God in Jesus ken. Hy is Here! Hy “alleen” heers oor alle dinge, oor sy kerk en oor die hele wêreld, en is die unieke integrasiepunt daarvan. Hy “alleen” maak as die Herskepper nuut wat die sonde stukkend breek. Slegs as ons lewe deur die Gees in Jesus gewortel is en opgebou word, word alles anders. Sonder ons eie toedoen word die sonde soos ou, vuil klere uit ons lewe weggeneem. Ons lewe word daagliks vernuwe en meer en meer aan Jesus gelyk (vgl ook Ef 2:5-7).

3. W D Jonker hou in 1997, aan die hand van Romeine 6 en 8, vyf kort lesings/preke oor “Ons posisie in Christus en ons aardse realiteite”. (Dit is tydens ’n konferensie te Chongoni in Malawi wat  vir die buitelandse personeel van die Kommissie vir Getuienisaksie van die NG Kerkfamilie in Wes-Kaapland gehou is.) In die eerste lesing fokus hy op  die objektiewe karakter van die heil, as grondslag van ons lewe as gelowiges.

“Paulus”, so skryf Jonker, “praat van ’n goddelike beskikking oor ons, van die objektiewe stand van sake, van ons heil soos dit in Christus vaslê. Nie ons geloof en bekering nie, nie ons groot bekeringservarings nie, maar Gods gawe en genadige beskikking oor ons bepaal ons posisie in Christus.”

“Daarom lê ons heil vas in Jesus. Sy bloed is vir ons gestort. Sy Naam is vir ons die soetste naam. Die eerste gebedjie wat my moeder my geleer het, was eintlik geen gebed in die gewone sin van die woord nie. Dit was eenvoudig 1 Johannes 1:7 volgens die Nederlandse vertaling: Het bloed van Jesus Christus reinigt mij van alle zonden. As ek as voorskoolse kleuter soggens in die kombuis opdaag vir ’n bietjie koffie, het sy gevra: “Het jy al ‘het bloed’ gesê?” As dit nie die geval was nie, moes ek terug om by die bed te gaan kniel om dit uit te spreek. Eers later het ek die sin daarvan verstaan: die volle objektiwiteit van die heil, ons posisie in Christus – daaruit moet ons lewe; daarmee moes ek my dag ingaan. Niemand van ons kan iets beters as dit doen nie”.

4. In die LXX word die begrip “vergifnis” (vgl Jak 1:14) by Levitikus 25 gebruik in verband met die merkwaardige Jubeljaar/Hersteljaar as die jaar van vrylating, verlossing, afskrywing. Mense met onbetaalbare skuld moes in die Hersteljaar daarvan volledig vrygemaak word (bv 25:10). Mense moes ook hulle grond terugkry om dan weer nuut te kon begin sonder enige skuld. Sodoende word mense se lewensituasie sonder verdienste, uit genade, grondig verander, nuut gemaak.

Preekvoorstel

Calvyn het nie anders gepreek nie as juis om perikope uit te lê. Sodoende het hy die gemeente in Genève sistematies met goeie Bybelkennis toegerus en in die grondslae van die Christelike geloof opgebou. Lidmate se gebrekkige Bybelkennis tans is rede vir diep besorgdheid. Die voorstel vir prediking na aanleiding van Kolossense 1:1-14 wat hier volg, is daarom aan die prediker om die hele perikoop sistematies te belig met die hoofklem op vers 13 en 14. As tema kan die volgende oorweeg word: Ons bid en getuig blymoedig en dankbaar, want Christus het ons verlos! Die volgende aspekte kan in dié verband behandel word.

1. Fokus weg van jouself en dank die Here vir ander se geloof en liefde (1:3-8).
Die prediker kan daarop wys dat Paulus aan ons ’n besonder navolgenswaardige voorbeeld stel. Hy fokus weg van homself op die werk van die Here in ander mense se lewe! Paulus skryf sy brief aan die Kolossense vanuit die tronk in Rome. Hy het volgens ons menslike standaarde alle rede om mismoedig en ontevrede te wees, om te kla oor die onreg wat hy ly, homself te bejammer en hom oor sy eie lot te bekommer. Die teendeel is egter waar. Hy kla glad nie, fokus nie op sy eie treurige lot nie, maar verheug hom daaroor dat mense in die stad en landstreek van Kolosse in Christus glo en oor hulle liefde vir al die gelowiges, vir mekaar. Dáárop is sy fokus! Daarby is hy bly oor hulle hoop (Christus en sy heerskappy) wat vas is in die hemel. Hy is verder verheug dat die evangelie hulle ook bereik het deur sy dissipel Epafras (vgl “Konteks 1”). Hy vertel vol vreugde aan hulle dat Epafras aan hom berig het hoe die Heilige Gees die liefde in hulle gewek het. Nog meer. Paulus fokus nie op die gemeente self nie. Al hierdie gegewens is vir Paulus die inhoud van ’n dankgebed tot God. Lof en dank aan God – met ander se geloof en liefde in gedagte – so fokus hy sy energie.

Die prediker kan in dieselfde styl die gemeente help om weg van hulleself af te fokus en die Here in gebed positief te dank vir die geloofsvrugte en onderlinge liefde wat sigbaar is by ander gelowiges, naby ons en/of ver van ons af.

2. Fokus weg van jouself en pleit by die Here vir ander (1:9-11).
Paulus gee steeds nie toe aan selfbejammering oor sy eie omstandighede nie. Hy doen nou verder pleitend by die Here voorbidding om die gemeente se onthalwe. Hy het goed en in detail verstaan wat hulle geloof en onderlinge gemeenskap in hulle dag eintlik uitgedaag het (vgl “Konteks 1 en 2”). Dáárom bid hy om onderskeidings-vermoë (wysheid en insig), kennis van God se wil – waarvan die Gees hulle volmaak – geduld (lydsaamheid) en volharding (uithouvermoë) om te doen net wat die Here verlang, in al hulle uitdagings (vgl uiteensetting van die woordbetekenisse by “Teks”).

Die prediker kan die gemeente help om die hedendaagse, kontekstuele uitdagings goed raak te sien – dit wat die medegelowiges vir wie dankgebede gedoen word – tans in die gesig staar. En die gemeente tot voorbidding vir hulle medegelowiges aan te spoor, op voetspoor van die inhoud van Paulus se voorbidding.

3. Dank die Here saam, met blydskap vir ons verlossing uit genade (1:12-14).
Steeds met die fokus weg van sy eie gevangenskap af, maar nou met insluiting van homself, vermaan Paulus die gelowiges om self die Here met blydskap te dank vir “ons verlossing in Christus”. Niks hiervan toon enige ooreenkoms met die besondere dwaalleer van sy tyd, die mengelmoes godsdiens van die Kolossense konteks nie (vgl “Konteks 2”). Paulus se vermaning, sy oproep, gaan nie om gebed as die navolging van rituele, die uitleef van ’n besondere godsdienstigheid of die nakoming van bepaalde reëls of wette nie. Sy vermaning fokus op die feit dat God in Christus ons heil bewerk het, buite ons om. Alles wat hy self sê en doen, sy eie geloof, werk, getuienis, dank en voorbedes, asook sy vermaninge aan die gelowiges, word vir Paulus op hierdie verlossing gebou, op die vergifnis van ons sondes en skuld.

Die prediker kan die gemeente ten slotte help om nou ook met insluiting van hulleself die Here te dank vir die verlossing waaraan ons almal deel het. Hier behoort klem gelê te word op die feit dat Christus self ons heil bewerk het, ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons ingesluit in sy “ryk van sondevergifnis en genade” (Luther). Dit alles gebeur oor ons en sonder ons, buite ons om, maar vír ons (HK So 23, antw 61), nog voor ons begryp, kon bid of vra. Ons (klein) kinderlike aanvaarding hiervan as genadegawe van die Here, ons groeiende insig in Christus se bewerking van ons verlossing gee rede vir oorvloedige blydskap en dank. Immers, “Het bloed van Jesus Christus reinigt mij van alle zonden” (vgl “Konteks 3 & 4”).

Bibliografie

Kommentare: H M Carson (Tyndale new Testament Commentaries); Werner de Boor (Wuppertaler Studienbibel); Herman Ridderbos (Commentaar op het Nieuwe Testament); I J du Plessis, Die Brief aan die Kolossense; C F D Moule (The Cambridge Greek Text Commentary); J E Uitman (De Prediking van het Nieuwe Testament).

Ander studies: I J du Plessis, Christus as Hoof van kerk en kosmos;
W D Jonker, Ons posisie in Christus en ons aardse realiteite; L Morris, the Cross in the New Testament; John Stott, The Incomparable Christ; G F Wessels, Missiological dimensions in the Letter to the Colossians.

Homileties: D J Smit, Christus is die Heer! – oordenkings en Bybelstudies uit die Kolossensebrief. Dank en Voorbidding, bl 11-24; D J Smit, Kol 1:14-23, WtL 1/2, bl 207.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.