Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 10:38-42
Ander tekste: Amos 8:1-12; Psalm 52; Kolossense 1:15-28

Inleiding 

Hier is geleentheid om die klem wat die teks lê op Maria wat by Jesus se voete sit liturgies kreatief uit te beeld. ’n Keuse vir ’n eenvoudige liturgie, teenoor ’n bedrywige liturgie, kan instrumenteel wees in die vestiging van die besef dat Jesus wil hê sy dissipels sal die koninkryk sien wat nou naby is, en dit nie sal miskyk nie. Daar kan met vrug van stilte en kontemplatiewe elemente gebruik gemaak word. Help die kinders om te besef dat ’n besige en bedrywige lewe ons soms blind maak vir belangrike dinge wat by ons verbygaan.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Flam 3 “Aan u voete, Heer”

Aanvangswoord 
V: Halleluja! U is Koning.
G: Ons aanbid U in u woning. 

V: U’s die Alfa en Omega,
G: daarom sing ons: Halleluja! 
– uit Lied 176 “Halleluja! U is Koning”

Seëngroet
Sien die basisliturgie.

Lofprysing
Flam 34 “Daarom”
Flam 45 “Die heel beste rede”
Lied 215/NSG 130 “Besing die lof van Jesus saam”

Diens van die Woord

Kindertyd 
Soms moet ons keuses maak. Wat is dit wat die skaal na die een of die ander kant laat swaai? Wat is ons prioriteite, en wat bepaal ons prioriteite? Om by Jesus se voete te sit en by Hom te leer is belangrik. Dan weet ons beter wat om te doen en wat om te los. In ons besige lewe versuim ons dikwels om die belangrike dinge te doen, en ons mors tyd met onbelangrike dinge. Gesels met die kinders oor die verskil. Moedig hulle aan om elke dag tyd te maak om stil by die Here se voete te gaan sit – en na Hom te luister.

Gebed om die opening van die Woord 
Soos mense honger na brood en dors na water, so is ons vandag honger en dors vir u Woord. Ons kom sit nou by u voete. Leer ons, o Heer, om u dissipels te wees. Amen.
– uit Amos 8:11

Lied 254 “Spreek, Heer”

Diens van die Tafel

Sien die basisliturgie.
’n Nagmaal waartydens lidmate vorentoe stap om die tekens te ontvang en in stilte weer gaan sit en die tekens gebruik, kan die ervaring skep van sit aan die voete van die Here.

God stuur ons uit

Slotlied
Vonkk 243 “Laat my nooit die grond verlaat nie”

Seën
Christus is in julle, die hoop op sy heerlikheid.
Die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, is by julle, waar julle ook al gaan.
God is nader aan jou as die klere aan jou lyf.
– uit Kolossense 1:27 en woorde van Karl Barth

Musiek en sang

Aanvangslied: Flam 22 “Ek soek U, o God”; Flam 145 “Hier is ek”; Flam 87 “Maak my nou stil, Heer”; Lied 157/NSG 345 “Here Jesus, ons is saam”; Lied 163 “Soos ’n wildsbok”; Vonkk 21 “Wag op die Heer”; Vonkk 146 “My gees, my siel, my liggaam”
Lofliedere: Flam 76 “Die Woord van God”; Lied 224 “Kom prys Hom alle nasies”
Skuldbelydenis: Lied 231/NSG 61 “Heilig, heilig, heilig, Here”; Lied 240/NSG 211 “Heiland, as in ootmoed stil”; Lied 241/NSG 255 “Troue Here van my lewe”; Lied 245/NSG 226 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
Geloofsbelydenis: Lied 266/NSG 325 “Ons Vader wat woon in die hemel”; Lied 244/NSG 227 “Alles, alles is genade”
Slotlied: Flam 105 “Hy’s die Een wat ek liefhet”; Flam 51 “Koning van my hart”; Lied 284 “Laat, Heer, u vrede”

Preekstudie – Lukas 10:38-42

Teks en konteks

In die voorafgaande én volgende Sondag se preekstudies is struktuuranalises te vind wat hierdie kort perikoop binne konteks plaas. Jesus en sy dissipels se reis van Galilea na Jerusalem (Luk 9:51–19:27) is belangrik as verteller-konteks vir Lukas 10:28-42 – nie sodanig die geografiese plek nie, maar wel “as ’n verdere insident … waarin die belangrikheid beklemtoon word van die aanhoor van en nadink oor [Jesus se] woorde” (Groenewald), asook waar hierdie gebeure aan die motief van gasvryheid gekoppel word (Green; sien Luk 9:53; 10:5-16). Marshall plaas Lukas 10:25–11:13 onder die opskrif: “The characteristics of disciples”, wat ook help om ’n betekenisvolle tematiese verband te skep.

Indien veronderstel word – soos in al die kommentare wat ek onder oë gehad het – dat hier gepraat word van dieselfde Maria en Martha (die susters van Lasarus) as in Johannes 11, is daar chronologiese probleme met die plek waar die gebeure afspeel. Volgens Johannes 11:1 en 12:1-3 was dié Martha en Maria woonagtig in Betanië teen die Olyfberg, digby Jerusalem, wat eers teen die einde van Lukas se reisverhaal bereik word (Luk 19:29). Lukas praat hier egter bloot van “’n sekere dorpie” (10:38).

Deur by Jesus se voete te gaan sit, neem Maria die posisie van ’n dissipel in en luister na sy onderrig (10:39). Sy is gefokus en gretig om van Jesus te leer. Martha, daarenteen, is periespato (“baie besig”, 1953-vertaling; “baie bedrywig”, 1983-vertaling) – met pollēn diakonen wat letterlik “baie bediening” beteken. Marshall wys daarop dat periespato meer letterlik suggereer dat Martha óók graag na Jesus sou wou luister, maar haar aandag word afgelei deur die druk wat sy op haarself plaas om eerder ’n goeie gasvrou te wees. Sy kies dus een ding bo ’n ander.

In terme van die kulturele verwagtings van haar tyd, doen Martha presies wat sy behoort te doen: Sy bied gasvryheid aan Jesus. Maria tree teen die kulturele norm op deur die rol van student in te neem – dit is nié wat ’n vrou behoort te doen nie. Maria betree hier die ruimte van die mans. Deur haar dit toe te laat, tree Jesus eweneens nie volgens die kulturele verwagting op nie.

Wright beskou hierdie kontra-kulturele (skandalige) optrede as die sleutel tot die verstaan van die teks: “We would be wrong, then, to see Martha and Mary, as they have so often been seen, as models of the ‘active’ and the ‘contemplative’ styles of spirituality. Action and contemplation are of course both important. Without the first you wouldn’t eat, without the second you wouldn’t worship. And no doubt some people are called to one kind of balance between them, and others to another. But we cannot escape the challenge of this passage by turning it into a comment about different types of Christian lifestyle. It is about the boundary-breaking call of Jesus.”

Wright wys daarop dat Lukas pas, met die interaksie tussen die wetgeleerde en die gepaardgaande gelykenis (10:25-37), aangetoon het hoe die grense van God se mense veel wyer getrek word deur Jesus as Messias: Die “naaste” is die een wat liefde bewys het, ’n Samaritaan! Met die vertelling oor Maria wat die plek van ’n man inneem, word ’n tradisionele grens binne Israel (die grens tussen mans en vroue) óók uitgedaag, selfs uitgevee: “… to sit at the feet of a teacher was a decidedly male role … Mary has quietly taken her place as a would-be teacher and preacher of the kingdom of God. Jesus affirms her right to do so.”

Martha neem hierdie uitdaging van sosio-kulturele grense baie persoonlik op. Sy keur nie haar suster se gedrag én Jesus se stille aanvaarding daarvan goed nie, en sy bring haar afkeur onder Jesus se aandag: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” (10:40). Waar Maria positief gefokus is op Jesus, is Martha negatief gefokus op haar suster wat nie help nie, en op haarself; die gevoel dat sy alles “alleen” moet doen (Bock).

Jesus se reaksie op dié aanklag teen Hom en Maria laat val die kollig op albei vroue se prioriteite: Martha kwel en ontstel haar oor baie dinge, terwyl net een ding nodig is (10:41-42); Maria het die beter deel gekies wat nie van haar weggeneem sal word nie (10:42). Martha gee voorrang aan sosiale konvensie; dít bepaal haar prioriteit en aktiwiteit. Maria ag Jesus belangriker – Hy is nóú hier en sy gee dus onverdeelde aandag aan sy lering.

Bock skryf: “Luke 10:38-42 highlights a major feature of discipleship: choosing to order one’s affairs properly. One of the facts of life is that its demands are often all consuming. In fact, much of life is spent fulfilling these demands. Such was Martha’s situation when Jesus visited her. She was diligent in preparing an appropriate meal for the teacher. In contrast, Mary simply sat down. She was not lifting a finger to help, and Martha was disturbed. But Mary had made the right choice, according to Jesus. The disciple who reflects on Jesus’ teaching receives a meal that is never removed. To sit at Jesus’ feet is the disciple’s priority. The worries of life should never prevent one from consuming God’s word. This is Luke’s message to disciples: sit at Jesus’ feet and devour His teaching, since there is no more important meal.”

Preekvoorstel

Ter aanvang sou die prediker dalk die tematiese verband van die fokusteks met die voorafgaande gedeeltes kon uitwys. Om selfs verder terug te gaan as Marshall se “The characteristics of disciples”, kan die aanvang van Lukas se reisverhaal (9:51-62) in herinnering geroep word: Dissipels wat Jesus volg, kan verwerping te wagte wees (9:52-53), en hulle moet weet dat die koninkryk belangriker is as om ’n naasbestaande te begrawe (9:59-60) of behoorlik afskeid te neem van huis en haard (9:61-62). Kortom: Dit gaan hier oor dissipels wat gekonfronteer word met die allesoorheersende dringendheid van die koninkryk. Niks en niemand moet hoër prioriteit geniet as die koninkryk wat “op hande” (10:9) is nie. Dissipels het die voorreg om te sien en hoor waarvan profete en konings maar net kon droom (10:21-24). Dié werklikheid bepaal dat hulle kring van naastes grensloos is en dat hulle hulle naaste daadwerklik moet liefhê (10:25-37).

In Martha en Maria sien ons nie bloot uiteenlopende persoonlikhede of spiritualiteite nie, maar eerder twee mense wat gekonfronteer word met die koninkryk, in die Persoon van Jesus.

Martha se lojaliteit en prioriteite is verdeeld. Gevolglik is sy bekommerd en ontsteld oor baie dinge, en in die proses mis sy vir Jesus – die koninkryk, die “een ding” – wat nóú en hiér onder hulle eie dak is.

Die meeste predikers sal waarskynlik sommer uit eie ervaring, met ’n paar voorbeelde, kan aantoon hoe maklik ons aandag verdeel en afgelei word, hoe ons fokus verloor en net soos Martha die “een ding” mis …

Hoe reageer Maria? Soos ’n dissipel behoort te reageer: verwerping pla haar nie; huis en haard kan wag – Jesus nié. Sy sién en hóór: Die koninkryk is op hande; sosiale konvensie pla haar min; vroeëre grense val weg; sy kies die één ding.

(Dit is ’n bondige teks. As die gedagte is om die gemeente te help fokus om sélf by die “een ding” uit te kom, moet die boodskap liefs ook kort en kragtig wees, met ruim geleentheid aan die einde van die diens vir mense om na te dink oor waar hulle staan ten opsigte van die “een ding”.)

Bibliografie

Bock, DL 1996. Luke: Baker evangelical commentary on the New Testament. Baker Academic; Green, JB 1997. The Gospel of Luke. Eerdmans; Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the Greek text. Paternoster Press; Malina, BJ & Rohrbaugh, RL 2003. Social science commentary on the synoptic Gospels. Fortress Press; Wright, NT 2001. Luke for everyone. John Knox Press.

© Missio 2024 | All rights reserved.