Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Genesis 29:15-28 (Die bedrieër word bedrieg)
Nadat Jakob ’n maand lank by hom gebly het, 15het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. 17Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. 18Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ’n paar dae, want hy het haar liefgehad. 21Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, 23maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. 24Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat ’n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. 27Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou.

Psalm 105:1-11, 45b (Die Here bly by sy vaste toesegging en verbintenis)
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy
aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy
met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig
as ’n vaste toesegging,
vir Israel as verbond
wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”
45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Romeine 8:26-39 (Sy Gees pas ons op, kyk na ons, pleit vir ons. Ons het hoegenaamd geen vrees nie en Hy is ons beskutting)
26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:
“Dit is oor U dat die dood
ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape
behandel word.” u
37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Matteus 13:31-33, 44-52 (Die geweldige potensiaal van ’n klein begin. Wie dit raaksien gee alles daarvoor)
Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg

(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ’n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ’n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ’n vrou gevat en in ’n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ’n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ’n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ’n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Fokusteks

1 Konings 3:5-12
Salomo gaan offer op Gibeon

(Vgl 2 Kron 1:2–13)
2In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie ’n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie. 3Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.

4Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.

5Daar in Gibeon het die Here die nag in ’n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

6Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom ’n seun gegee wat vandag op sy troon sit. 7Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare 8en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, ’n groot volk, te veel om te tel. 9Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

10Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het. 11Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou ’n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, 12sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie.

13Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. 14As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog ’n lang lewe gee.”

15Toe Salomo wakker word, het hy besef dat die Here in ’n droom aan hom verskyn het. Hy is toe terug na Jerusalem toe, en daar het hy voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hy het ook ’n feesmaal vir al sy amptenare gegee.

OAV: 5Toe verskyn die Here in Gíbeon in ’n nagtelike droom aan Salomo; en God het gesê: Begeer wat Ek jou moet gee.

6En Salomo sê: U het aan u kneg, my vader Dawid, ’n groot guns bewys, net soos hy voor u aangesig gewandel het in trou en in geregtigheid en in opregtheid van hart met U; en U het vir hom hierdie groot guns bewaar, dat U hom ’n seun gegee het wat op sy troon sit, soos dit vandag is.

7Nou dan, Here my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.

8En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie.

9Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

10En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.

11En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ’n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor,

12so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ’n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.
Die Bybel : Ou Vertaling. 1996, c1954 (electronic edition of the 2nd edition.) (1 Ki 3:5-12). Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Suffolk, England

Liturgie

RUS

Lied 161:1

Aanvangswoord
Laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid. (Ps 105)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Open 1)

Lof: Lied 449:1,2,3,4

Verootmoediging
Matt 22: 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis (Uit Preekstudies 2011)

Skuldbelydenis (Voorganger staan by die doopvont)
Voorganger: Ons het gefaal om U lief te hê met ons hele wese en om goeie rentmeesters van u skepping te wees: Here, wees ons genadig.
Gemeente: Sing Lied 247 1x

Voorganger: Ons het gefaal om die kruis van dissipelskap op te neem en om goeie rentmeesters van die Goeie Nuus te wees. Christus, wees ons genadig.
Gemeente: Sing Lied 247 1x

Voorganger: Ons het gefaal om getroue lidmate van u gemeente en goeie rentmeesters van u geestelike gawes aan ons te wees.
Here, wees ons genadig.
Gemeente: Sing Lied 247 1x

Vryspraak
God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. (Rom 8)

HOOR

Epiklese: Lied 258:2,3

Skriflesing: 1 Konings 3:5-12

Prediking

LEEF

Apostoliese Geloofbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die
regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog
lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Uitsending
Lied 467: 1, 2

Seën
Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom 8)
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Kor 13)

Musiklae Amen: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Sien liturgie

Liedere

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en Musiek: Adrian Howard & Pat Turner
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani & Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gebruik die verhaal van die twee prostitute om Salomo se wysheid te illustreer (1 Kon 3:16-28):

Salomo se raad aan twee prostitute
16Op ’n keer het twee prostitute met ’n saak na die koning toe gekom.

17“U Majesteit,” sê die een vrou, “ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek ’n kind in die wêreld gebring het. 18Drie dae daarna het sy ook ’n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. 19Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. 20Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. 21Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.”

22Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!”
En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!”
So het hulle voor die koning gestaan en stry.

23Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.”

24Toe beveel die koning: “Bring vir my ’n swaard!”
Hulle het die swaard gebring, 25en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ’n helfte!”

26Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.”
Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!”

27Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!”

28Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.
(Prentjie deur Phillip Martin. Sy gratis Clip Art is hier beskikbaar)

Of wys vir die kinders ‘n stereogram (hierdie een is ‘n duif). Dit lyk na niks, maar as jy reg kyk, amper deur die prent kyk, dan sien jy ewe skielik ‘n drie-dimensionele prent. Verduidelik vir hulle dat ons nie alles wat belangrik is, onmiddelik met ons sintuie kan waarneem nie. Soms het ons nodig dat die Here ons help om helder te sien. (Jy kan ook jou eie stereogram maak – Google “Stereogram Maker”.)

Jy kan ook gesels oor hoe mense en diere verskillend sien en daarmee aansluit by die preek.

Preekriglyn

Mense kan omtrent 30% van die lig wat die son uitstraal fisies waarneem, en slegs sowat een sewentigste van die spektrum van elektromagnetiese energie. Van die res is ons sintuiglik onbewus. Baie diere oortref die mens se vermoë. Vlermuise gebruik sonar om insekte waar te neem, duiwe navigeer met magnetiese velde, bloedhonde neem ’n wêreld van reuke waar waarvan ons niks weet nie.

Nie alles wat belangrik is, is vir ons sintuie waarneembaar nie. Nie alle feite wat nodig is vir die regte besluite is outomaties binne die bereik van ons vermoë nie. Soos Jesus gesê het, kan mens die koninkryk van God nie sien as jy nie nuut gebore is nie. (Joh. 3:3). Paulus het gesê: “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word” (1 Kor. 2:14).

Daar is waarheid en wysheid beskikbaar vir mense wat geestelik lewend is, oop vir God is.

Salomo se gebed

Salomo was die derde koning van Israel. Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief.” (2 Sam. 12:25).

Salomo volg sy pa op, die charismatiese koning Dawid. Dawid het Israel gekonsolideer tot ’n volk, ’n hoofstad gevestig wat die volk verenig het, en ’n legitieme koningshuis gevestig. Dis groot skoene wat Salomo moet volstaan, en dis nie vanselfsprekend dat alles reg sal uitwerk nie.

Salomo het die Here lief gehad. Hy het hierdie liefde betoon deur alles te doen wat sy pa, Dawid, hom voorgeskryf het. 1 Kronieke 28:9 vertel van Dawid se opdragte:

En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ‘n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.

Aangesien daar nog nie ’n tempel was nie, gaan hy offerandes op die hoogte by Gibeon (10 km noord van Jerusalem) aan die Here bring. Dit is egter nie die offerandes nie, maar Salomo wat met sy hele hart na God soek wat die Here na Salomo laat luister. Daarom verskyn die Here in die nag in ’n droom aan Salomo en vra hom wat hy wil hê.

So ’n oop, ruim aanbod kan byna as ’n versoeking gehoor word. Salomo gee egter ’n wyse antwoord. Hy roep eers God se goeie trou teenoor Dawid en ook teenoor homself in herinnering. Hy dink daaraan dat hy die werk van ’n merkwaardige koning, wat die Here opreg gevolg het, moet voortsit. Sy roeping is om die volk te lei. Maar, hy is jonk en onervare. Daarom vra hy dat die Here letterlik aan hom ’n luisterende of ’n horende hart sal gee, ’n hart wat kan onderskei tussen reg en verkeerd. Hy vra dat hy die volk reg sal kan lei, en dat die Here vir hom insig sal gee.

Mense het nie die vermoë uit hulleself om God se volk reg te lei nie. Ons kan nie eers naastenby al die lig wat die son uitstraal waarneem nie. Hoe sou ons kon aanneem ons het die vermoë om alles in ag te neem wat goed en reg is, wat nodig is om die Here getrou te volg? Vandaar Salomo se gebed: gee vir my ’n luisterende, horende hart. Hy vra die Here moet hom opskerp, sodat hy kan hoor waarop die aankom.

Die Here gee ruimskoots

Die Here beloon Salomo se versoek met ’n regmerkie. Dit is inderdaad wat ’n koning na God se hart moet vra: gehoorsaamheid, ’n luisterende hart, die vermoë om reg te regeer, en om met goddelike wysheid op te tree. Dit sal hy op ’n ongeëwenaarde manier ontvang: Trouens, omdat Salomo die regte gawe gevra het, kry hy ook die res by: ’n lang lewe, rykdom en aansien. Daar is egter ’n eis aan hierdie beloftes verbonde: Salomo moet die Here lewenslank gehoorsaam, net soos Dawid hom aan die Here se voorskrifte en gebooie gehou het.

Wysheid bring uitkoms, rigting en lewensruimte

Die wysheid wat God gee, is onmiddellik sigbaar in Salomo se lewe:

  • Twee moeders stry voor die koning wie se kindjie dood is en wie die dooie baba met die lewende omgeruil het, of nie (1 Kon 3:16-28). Salomo se hantering van die saak laat hom hoë agting by die volk kry, want dit het vir hulle duidelik geword hy het by God self die wysheid gekry (3:28);
  • Salomo se wysheid raak deur die hele midde-Ooste bekend, en mense kom van ver af om na sy wysheid te luister (4:29-34);
  • Daar kom voorspoed vir die volk waaroor hy regeer, en die volk was gelukkig (4:20);
  • Salomo heers oor die grootste gebied van al Israel se konings. Hy verwesenlik die belofte aan Abraham om die land te besit van Dan tot in Berseba. Elke landgenoot het sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom waaronder hy kan sit (4:25).

Die wysheid van God dra die belofte van ’n gelukkige lewe.

’n Ryk tradisie van wysheid ontwikkel

Van Salomo word gesê:
Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse. (1 Kon 4:32-33)

Salomo se gebed om wysheid is oorvloedig gehoor. Hy begin om die wysheid te beoefen, en word só die oorsprong van ’n lang wysheidstradisie in Israel. Israel lewer ongelooflike wysheid op, soos blyk uit die talle wysheidsboeke in die Ou Testament. Geleerdes meen dat daar ander wyses na vore gekom het, reeds in Salomo se tyd, wie se verantwoordelikheid dit was om die koning te help om met wysheid te regeer. Teen die tyd dat die profeet Jeremia optree, is die “amp” van wyse aan die koninklike hof reeds sterk gevestig.

Deur die werk van hierdie mense, wat uit wyse raadgewers (2 Sam. 17), persone wat wysheidspreuke versamel en opteken (Spr. 25:1), en leermeesters wat jong mense voorberei vir die lewe (Spr. 25:2-7; 31:1-9) bestaan het, het ons vandag verskeie wysheidsboeke in die Ou Testament. Dink aan Job, Spreuke, Prediker, Hooglied en die wysheidspsalms.

Reg oor die wêreld is daar vandag miljoene mense wat hulle lewe volgens die Bybelse wysheid inrig, met luisterende, gehoorsame harte leef en positief reageer op wat God van hulle vra. Hierdie mense beïnvloed almal ander mense se lewens ten goede. Van hierdie mense is in hoë posisies met groot verantwoordelikheid, wat hulle tot eer van God en tot seën van hulle medemens uitvoer.

Salomo se gebed en die Here se antwoord daarop het ’n impak op die hele wêreld.

Wysheid kan ontspoor

Salomo het later in sy lewe ontspoor. Deur verskeie huwelike met heidense vroue het hy hom vir afgodediens oopgestel, wat hy later begin navolg het. Salomo begin goed, maar eindig sleg. Sy ryk skeur ook in twee na sy dood, en sy latere optrede dra nie die goedkeuring van die Here weg nie.

Wysheid is ’n gawe. Wysheid is ook iets wat gedoen moet word. Wysheid word gegee met die oog op ’n wyse lewe. Die luisterende hart moet gekonnekteer wees met ’n gehoorsame hand en voete wat die regte paaie loop. Wilskrag en ondernemingsgees moet hulle laat lei deur die sensitiwiteit van die horende hart wat God se bedoelinge fyn opvang.

Waar dit nie gebeur nie, stel mens jouself bloot aan mislukking en verydeling. Die slotsom van die wysheid is immers: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.” (Pred. 12:12)

Jesus die Wysheid van God

Die Nuwe Testament teken Jesus ook as die wysheid wat van God kom. Sy woorde is die wysheid wat die koninkryk van God naby bring. Anders as die Ou Testamentiese wysheid, bied Jesus nie net insig aan uit die skepping afgelei is nie, maar openbaar Hy op ’n meer direkte manier die wysheid wat van God kom. Hy gebruik egter tipiese wysheidspreuke, soos gelykenisse, saligsprekings, raaisels en segginge. “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom….,” is ’n tipiese wysheidsegging of aforisme.

Soos Paulus later sou sê, Jesus “…is die krag van God en die wysheid van God.” (1 Kor. 1:24). Deur Jesus maak God die wysheid van die wêreld tot niet, en openbaar wat ware wysheid is (1 Kor. 1:21). Wie die wysheid van God soek, moet na Jesus kyk. Hy beliggaam die ware wysheid wat lewe gee.

Toepassing

Ons begeer almal ’n betekenisvolle lewe. Ons wil nie ons lewens op die sand bou, en vermors nie. Ons kan gerus Salomo se gebed leer bid: “Gee vir my ’n luisterende hart, maak my sensitief vir U wil, gee vir my wysheid om U te gehoorsaam.”

Hierdie soort wysheid is spesifiek in die Bybel, en by die lewende Here Jesus te vind. Jesus het vir ons sy Gees gegee wat ons in alle waarheid lei. Die Gees doen dit deur ons met Jesus, die Lewe-gewer te verenig, en ons op die pad van gehoorsaamheid te lei. Daarom moet ons nie die Gees bedroef of uitblus nie. Laat ons self in wysheid lewe.

Ons kan ook wysheid vir ander mense van die Here afbid. Die Bybel leer ons om te bid vir mense wat in verantwoordelike posisies is. Laat ons daarom bid vir die regering wat oor ons gestel is, bid dat die Here vir hulle wysheid sal gee om reg oor ons te regeer. Laat ons ook op ander vlakke van die lewe bid vir mense wat daar in leiersposisies is. Ons het God nodig om ons op te pad van wysheid te lei.

God stuur ons om te leef

Sien liturgie