Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

’n Tema wat al die teksgedeeltes in gemeen het, is die ontvouing van God se beloftes te midde van ’n onsekere aardse lewe. Die teksgedeeltes kan mekaar daarom op verskeie maniere in die liturgie oor-en-weer aanvul. Die historiese lyn beweeg van beloftes (Gen), oopstelling vir God (Ps), die roep van die skepping na voleinding (Rom) na Jesus se eie “ontknopings”-gelykenis (Matt) Die voorganger(s) sal die onderliggende beloftes van God deurentyd in herinnering moet roep terwyl mense se versugting na ’n sinvolle ontvouing van die lewe, asook van die “storie” van hierdie aardse bestaan, in Bybelse perspektief gestel word.

Ander tekste

Genesis 28:10-19a
10Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. 11Teen sononder het hy by ’n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ’n klip vir ’n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. 12Hy het gedroom: ’n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. 13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

18Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. 19Hy het die plek Bet-El q genoem.

Die stad was voorheen bekend as Lus. 20Jakob het toe ’n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ’n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ’n tiende gee.”

Psalm 139:1-12, 23-24
U omsluit my van alle kante
139 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n
Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm, 
my aanmekaargeweef 
in die skoot van my moeder. 
14Ek wil U loof, 
want U het my 
op ’n wonderbaarlike wyse geskep. 
Wat U gedoen het, 
vervul my met verwondering. 
Dit weet ek seker: 
15geen been van my was vir U verborge 
toe ek gevorm is 
waar niemand dit kon sien nie, 
toe ek aanmekaargeweef is 
diep in die moederskoot. 
16U het my al gesien 
toe ek nog ongebore was, 
al my lewensdae was in u boek 
opgeskrywe 
nog voordat ek gebore is. 
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, 
o God, 
hoe magtig hulle almal! 
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is, 
en as ek daarmee klaar is, 
sou ek nog steeds met U te doen hê. 
19As U tog maar die goddelose 
uit die weg wou ruim, o God! 
Gaan weg van my af, 
julle moordenaars! 
20Dit is hulle wat bose planne 
teen U smee, 
wat so vals teen U optree. 
21Moet ek u haters dan nie haat nie, 
Here, 
moet ek nie ’n weersin hê in mense 
wat teen U in opstand is nie? 
22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, 
want hulle is ook my vyande.

23Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie
op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Romeine 8:12-25
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Fokusteks

Matteus 13:1-9, 18-23
Ons gee die hele konteks van Matteus 13 hier.

Die gelykenis van die saaier
(Mark 4:1–9; Luk 8:4–8)
13 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 ‘n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

3“ ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5 ‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse
(Mark 4:10–12; Luk 8:9–10)
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
‘Julle sal hoor en hoor
en tog niks verstaan nie,
en kyk en kyk
en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand
is afgestomp:
hulle het hulle ore toegedruk
en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë
kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer,
en Ek hulle gesond maak nie. ‘

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Mark 4:13–20; Luk 8:11–15)
18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan? ‘28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk. ‘ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek? ‘29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van die gelykenisse
(Mark 4:33–34)
34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het:
“Ek sal gelykenisse gebruik
as Ek praat;
Ek sal bekend maak
wat geheim gebly het
van die skepping af.”

Verklaring van die gelykenis van die onkruid
36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.
“Wie ore het, moet luister.”

Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Jesus word in Nasaret misken
(Mark 6:1–6; Luk 4:16–30)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57En hulle wou niks van Hom weet nie.
Jesus sê toe vir hulle: “ ‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Ekstra stof

Ons plaas hier ekstra stof oor die hele hoofstuk om ‘n breër konteks vir die gelykenis van die saaier te verskaf.

Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
Hierdie gedeelte van Matteus – wat ‘n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.

Dit bestaan uit ‘n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse. Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ‘n verhaal wat net een punt wil maak wat ‘n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom. Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ‘n teks gee. Dit beteken dat ‘n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ‘n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put. Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie. Dit is ‘n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.

Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf. Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ‘n belangriker indeling wat ‘n mens help om die hoofstuk te verstaan.

JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34). Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23). Maar in die breë is Hy met die skare besig. In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg. “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ‘n negatiewe aanwending van die Psalm dui.

JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36). Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte. Die laaste een kan ook net ‘n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.

Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.
Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.

Die gelykenis van die grond – 13:1-9
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het. Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend. Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai. Die voëls pik die saad langs die pad op. Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog. Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs. Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons ‘n sleutel vir die wyse waarop die gelykenisse beide ontmagtigend sowel as bemagtigend in die res van die hoofstuk werk.

Die ontmagtigende effek van die gelykenisse – 13:10-18
Die dissipels ontvang ‘n verklaring van die doel van die gelykenisse. Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan”. Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende dood is en dus nie verstaan nie.” Dit, sê Jesus, is ‘n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10 (aangehaal uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX – vgl. ook Joh. 12:40 waar Johannes ook Jesaja aanhaal, sowel as Hand. 28:26-27 waar Paulus dit ook doen).

Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade. God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil. ‘n Mens kan net dankbaar wees as jy genade ontvang, nie regtig dit ten diepste begryp nie. Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit. Maar, die ander kant is ook waar. Die onbegrip is ook te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van “siende blind” en “horende doof”. Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is. Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.

Die bemagtigende verklaring van die gelykenis van die grond – 13:19-23
Jesus se verklaring van die gelykenis van die grond bevestig die feit dat gelykenisse veelvlakkig is. Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

  • Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie. Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.
  • Die rotsagtige grond dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, sogenaamde “mooiweer Christene”. Hulle hou net ‘n rukkie.
  • Die doringagtige grond dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, sogenaamde “materiële Christene”. Die wêreld en die sug na welvaart verstik die woord.
  • Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra.

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie. Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.

Daar is in dié gelykenis nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ‘n vyand, wat onkruid tussen die koring saai. Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes. Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe. Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word. Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.
Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.

Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.

Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ‘n klein begin ‘n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.

Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ‘n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.

Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ‘n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek. Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word. God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor. Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.

Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.

Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk. Die onkruid is die kinders van die Bose. Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.

Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ‘n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier. Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.

Die gelykenisse van die skat, die pêrel en die treknet – 13:44-50
Met dié drie gelykenisse gee Jesus ‘n glorieryke prentjie van wat die koninkryk van die hemele vir die kinders van die koninkryk, die dissipels en die ander volgelinge van Jesus, sal inhou. Dit is noodsaaklik in terme van die uitdaging wat dit vir hulle inhou om uit te hou en aan te hou in ‘n tyd waarin onreg en ongeregtigheid baie keer seëvier.

Die eerste twee, die gelykenis van die skat in die veld, sowel as die kosbare pêrel, dra beide die betekenis van die allesoortreffende betekenis en belang van die koninkryk van die hemele. Dit is alles wat jy besit, werd.

Die derde een, oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, versterk die boodskap van die gelykenis van die onkruid tussen die koring en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense te beurt sal val nie.

Die gelykenis van die skrifkenner met nuwe en ou skatte – 13:51-53
Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer. Daarom vra Jesus of sy dissipels verstaan. En om seker te maak, vertel hy die gelykenis van die skrifkenner (sommige dink dat Matteus hier van homself praat!) se nuwe en ou skatte as hy ‘n leerling raak in die koninkryk van die hemele.

  • Daar is diskontinuïteit – dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus. Daar is dus nuwe skatte vir die skrifkenner.
  • Daar is egter ook kontinuïteit – dinge wat dieselfde is as in die ou bedeling. Daar is dus ook ou skatte vir die skrifkenner.

Dit is ‘n baie belangrike afsluiting van hierdie toespraak van Jesus, een wat ons eintlik met reg ter harte kan neem as ons dink aan die blywende impak van die OT:

  • Daar is dinge wat net so voortgaan in die NT: God se genade en liefde, sy eis tot geloof en gehoorsaamheid.
  • En daar is dinge wat tot ‘n einde gekom het, die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat.
  • En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die bedeling van die NT verteenwoordig.

Jesus word in Nasaret verwerp – 13:54-58
Die ontvangs van Jesus se boodskap in Nasaret, sy tuisdorp, kom vervolgens onder die vergrootglas en dit illustreer die oorwegend negatiewe ontvangs wat Hy onder die Joodse volk, sowel as spesifiek die Joodse leiers, geniet het. Sy wysheid en kragtige dade word gediskrediteer omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die skrynwerker (waarskynlik eintlik ‘n bouer) wie se vrou by die naam genoem word, Maria, maar nie meer sy pa Josef nie, omdat hy waarskynlik teen dié tyd oorlede is.

Hulle neem dus aan Hom aanstoot, soveel só dat Hy vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade daar gedoen het nie.

Ons leer hier dat Jesus vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ‘n paar susters. Ons weet dat Jakobus nie net later ‘n belangrike Christelike leier in Jerusalem geword het nie, maar ook die brief van Jakobus geskryf het en wat in die NT opgeneem is. Ons weet ook dat Judas die brief geskryf het wat sy naam dra en ook in die NT opgeneem is. Dit sê nogal iets van die impak wat Jesus ná sy opstanding ook op sy eie familie gehad het. Uiteindelik is Hy dus ten minste in ‘n deel van sy huis geëer, al was dit nie die geval in sy tuisdorp nie.

Liturgie

Toetrede

Votum: Psalm 139:1-6

Seëngroet
Lofsang
Verootmoediging

Genadeverkondiging: Romeine 8:12-25

Geloofsbelydenis: (voorleser)

Gebed

Lied 254 S”preek Heer”

Skriflesing: Matteus 13:24-30, 36-40

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 584 “Ons sien die tekens van die tyd”

Seën

Respons: Lied 315 “Amen” of
VONKK 90 “Maranata!”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 139 Cloete of Spies beryming – kies verse of
Flam 142 “Kom, Jesus, kom!”
VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”

Votum: Psalm 139:1-6

Seëngroet

Lofsang
Lied 509 “Op berge en in dale” of
VONKK 139 “Ek Bewonder U, My Heer” of
Flam 57 “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)”

Verootmoediging
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek sit en of ek opstaan. 

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: en my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek reis en of ek oorbly.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
(n.a.v. Ps. 139 uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Lied 247 “Heer, wees ons genadig” of
Vonkk 30 “Al die donker is nooit net donker” of
Flam 186 ‘Arendsoë”

Genadeverkondiging: Romeine 8:12-25

Geloofsbelydenis (voorleser)
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.
Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret, die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om hom te volg.
Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.
(Uit: 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington, Lux Verbi.BM.)
of gebruik die pragtige geloofsbelydenis uit Spanje op pp 36-37 van die 2010 Handleiding vir die Erediens.

Liedere

F142. “Kom, Jesus, kom! “
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)” 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

F186. “Arendsoë”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding) Teks en musiek: Rick Moser © 2006 MAR Gospel Music Publishers

Na U sal ek kom met die laste van my lewe.
Na U sal ek kom met die sorge van my hart.
In U alleen vind ek die ware lewe.
U Lewenswoord versterk en rig my hart.

U is die Lig wat my vooruit wys.
Ek wil wandel in u weë.
’n Dader van die werk wat u my gee.
U is die wind wat my laat opsweef
om te sien met arendsoë.
Die aarde met u heerlikheid deurweek
omdat U in elke hart opnuut regeer.

Na U sal ek kom met die werke van my hande.
Na U sal ek kom met die drome van my hart.
In u gesag sal ek in hierdie lewe
u Lewenswoord in elke plek indra.

Die hele skepping wag met verwagting en verlange
om die seuns van God geopenbaar te sien.
Vader gee vir my u krag u insig en genade
om ’n draer van u lewe
’n venster van u vaderhart te wees.

Maak my u lig vir my gemeenskap
ek wil wandel in u weë.
’n Dader van die werk wat u my gee
maak my die een wat ander ophef.
Om te sien met arendsoë
die aarde met u heerlikheid deurweek
omdat U in elke hart opnuut regeer.

VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

O Christus, Here Jesus,
o Christus, Here Jesus!

O Christe Domine Jesu,
o Christe Domine Jesu!

VONKK 139 “Ek Bewonder U, My Heer (Psalm 139)”
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) Melodie: AUSTRALIS – Japie Krige 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Japie Krige 2010 (Pro Deo) Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2010
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Verwondering / Geloof en Vertroue

Keervers
Ek bewonder U, my Heer,
want U ken my deur en deur.

Psalmvers 1
U deurskyn my met u lig;
my hele lewensplan vasgevang;
’n mikroskyfie voor u aangesig.

Keervers
Ek bewonder U, my Heer,
want U ken my deur en deur.

Psalmvers 2
U skep elke sel in my;
U weef my aanmekaar, wonderbaar.
U meesterbrein het my volmaak verfyn.

Keervers
Ek bewonder U, my Heer,
want U ken my deur en deur.

Psalmvers 3
As ek van U wil ontvlug,
oorspan u wye lens elke grens,
bring U my veilig weer na U terug.

Keervers 4
Ek bewonder U, my Heer,
want U ken my deur en deur.

Psalmvers
O deursoek my keer op keer;
kyk of in my gemoed onrus woed
en lei my op die regte pad, o Heer.

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12 Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genade / Kersfees en Epifanie / Lydenstyd

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

VONKK 90 “Maranata!” 
Nav I Korintiërs 16:22b Teks: Jannie Hougaard 2004 © Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Lied 254 “Spreek Heer”

Skriflesing: Matteus 13:24-30, 36-40

Familie-oomblik

Vertel en verduidelik hierdie week se gelykenis m.b.v. tuin implemente soos ’n hark, graaf, ens. Verduidelik dat ons alle mense soos geskenke van God af behandel. Laat almal gesels oor wat dit beteken – en nié beteken nie (jy kan bv. aansluit by die probleem van bullies en veral cyber-bullying).

Vra vooraf iemand om ’n rangskikking te maak van blomme én onkruid. Laat mense raai wat is blomme en wat is onkruid. Dit sal duidelik wees dat dit nié so maklik is nie! Jy kan natuurlik ook foto’s gebruik van blomme en onkruid.

Jy kan ook ’n paar kinders vra om die Skriflesing op te voer terwyl dit gelees word. Party is goeie saad – hulle het maskers van papierborde met vriendelike gesiggies op. Ander is slegte saad, met onvriendelike papierbord maskers. Wanneer hulle “gesaai” word, sit hulle so klein as moontlik met hul rûe na die gemeente. Soos hulle groei, staan hulle regop en draai die gesiggies na die gemeente. Een of twee volwassenes kom “oes” hulle en laat die gesiggies aan verskillende kante van die liturgiese ruimte staan.

Preekriglyn

‘n Dominee vertel onlangs hoe gefrustreerd hy onder die erediens met twee jongmense geraak het. Dié twee maats sit mos reg hier voor die kansel, in een van die voorste banke van die kerk. Terwyl hy Bybellees en later preek, is hulle besig met hulle selfone. Hulle staar na die skerms, klik daarop, trek hulle vingers daaroor, gefokus op hulle handpalms.

Hy bedwing homself net-net om nie sy preek te onderbreek en die twee net daar vas te vat nie.

Na die diens, tydens die kerkraad se afsluiting, kan hy nie help om sy frustrasie te deel nie. Volgende keer gaan hy sulke jongmense nie laat wegkom nie, beloof hy almal. Om die waarheid te sê, het hy lus en ry sommer nou na hul huise toe en vra waarom hulle kerk toe kom as hulle net oë vir hulle selfone het.

“Verskoon my,” sê een van die ouderlinge. “Ek het so skuins agter hulle gesit. Hulle het hulle Bybels op die selfone oopgehad en al die tekste waarna jy verwys het, nageslaan en nagelees….”

Ook maar goed die dominee het nie so ver gekom om die jongmense te berispe nie. Hy het net sy kop laat sak en weer besef mens moenie te vinnig wees om ander te oordeel nie. Ons kennis en insig is so beperk, dat ons dikwels bloot droogmaak as ons ander beoordeel en veroordeel.

“Koninkryk van die hemel”

Ons teks handel oor een van die koninkryksgelykenisse wat Jesus opstapel in Matteus 13. Hy praat regdeur hoofstuk 13 met sy volgelinge oor die “koninkryk van die hemel.”

Slegs Matteus gebruik die term “koninkryk van die hemel.” Dit is ’n sinoniem vir “koninkryk van God”, maar Matteus verkies die uitdrukking “koninkryk van die hemel”, waarskynlik om in navolging van die Joodse gebruik van sy dag, die onnodige gebruik van die woord “God” te vermy. (Dit is gedoen uit respek vir die derde gebod en dit is só verstaan: As jy die gebruik van God se Naam in totaliteit beperk, word die kanse vir die misbruik daarvan ook soveel minder.)

Sentrale tema van Jesus se bediening

Die uitdrukking “koninkryk van die hemel” of dan “koninkryk van God”, is die sentrale gedagte in Jesus se hele bediening. Wat Hy daarmee bedoel is ’n omvattende nuwe bedeling waarin die koningskap van God op alle terreine van mense se lewe duidelik sal wees. Hy nooi sy volgelinge om medeburgers en medewerkers van hierdie koninkryk te wees (Matt 5:13 –sout en lig). Hy verduidelik aan hulle die lewensreëls in hierdie koninkryk (Bergrede).

Jesus se boodskap stel dit ook duidelik dat hierdie nuwe bedeling reeds aangebreek het met sy koms. Maar, anders as wat verwag is, behels die koms van die koninkryk nie ’n kragdadige oorname en regruk van die wêreld nie. Nee, die koninkryk kom in nederigheid. Dit begin klein en groei soos ’n mosterdsaadjie; dit deurwerk en beïnvloed byna ongesiens soos ’n suurdeegplantjie (Matt 13:31).

Die onkruid word vir eers nog verdra en toegelaat om saam met die koring te groei. Volgens Jesus is God se hart nie vol gloeiende oordeel nie, maar vol genade, liefde en geduld. Hierdie is ’n sentrale teologiese tema vir baie van die gelykenisse in Matteus 13. Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg wys daarop dat die koninkryk nie oordonderend is nie, maar klein begin en stadig groei. Die gelykenis van die onkruid tussen die koring wys daarop dat God met groot geduld teenoor die “onkruid” optree.

‘n Kragtelose koninkryk?

Jesus se volgelinge sukkel egter duidelik om in te koop in hierdie “kragtelose” koninkryk waar liefde (en nie mag, oordeel of vergelding nie) die oorheersende tema word. Johannes die Doper se verwagting van wat Jesus self, as “Agent van die koninkryk” veronderstel was om te doen, is ’n goeie voorbeeld van die algemene verwagting van sy tyd. Johannes preek vurig teen die Fariseërs en Sadduseërs. Hy gebruik skerp taal. In Matteus 3:7-8 spreek hy hulle aan as “slange” en waarsku hulle teen die “dreigende toorn” wat hulle nie sal kan ontvlug nie. In Matteus 3:10 sê hy die volgende: “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Dit is duidelik dat hy ’n kragdadige(r) koms van die koninkryk verwag het. Vandaar sy twyfel en vraag later aan Jesus: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matt 11:3).

Saam met Johannes verwag Jesus se eie dissipels ook nog, direk voor sy hemelvaart, dat dit nou tyd geword het vir Jesus om die aardse krag van die koninkryk ten toon te stel. Hulle verwag, soos Johannes, dat dit nou tyd is vir Jesus om dinge op aarde reg te ruk. Daarom vra hulle hoopvol: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (Hand 1:6).

Dit is duidelik dat ’n nederige koninkryk met ’n stille werking nie was wat hulle verwag het nie. Daar was ’n algemene verwagting dat die “regte” Messias met mag en mening die “reg en orde” gaan herstel en “niks nonsens gaan vat nie”. Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus dit nodig vind om aan sy toehoorders hierdie gelykenisse te vertel oor hoe die “koninkryk van die hemel” regtig is.

Die gelykenis van die koring en die onkruid maak ’n belangrike punt hieroor. As mens dit lees, bring dit jou daartoe om jou eie verwagtinge van die koninkryk goed te ondersoek: Wil ek ook eintlik (dalk heimlik) graag ’n magsvertoon hê, waar die onkruid met mening uitgekap en uitgeruk word, sodat ek stil en rustig en voorspoedig in God se koninkryk kan leef, of is ek tevrede om in te pas by Jesus se plan: ’n plan met geduld vir sondaars, sukkelaars, onkruid?

Die sleutel tot die koninkryk is nie een of ander magsvertoon nie. Dit lê in ’n stille vertroue in die integriteit en persoon van Jesus self. Slegs vir mense wat ernstig nadink oor Jesus self, maak die konsep van die koninkryk enigsins sin. Soos wat Herman Ridderbos sê: “The secret of belonging to the Kingdom lies in belonging to Him.”

Mense wat die “koninkryk van die hemel” ernstig wil opneem, niks meer hoef te doen as om Jesus en sy leer ernstig op te neem en hulle lewe daarvolgens in te rig nie.

Beeld uit die saaiboerdery

Die gelykenis gebruik ’n bekende beeld uit die saaiboerdery wat oor koring en onkruid handel.

Jesus gebruik ’n beeld wat vir sy toehoorders, anders as vir ons, glashelder is. Hulle weet na watter tipe onkruid Hy verwys en watter probleme dit in ’n koringland skep. Daarom kan Hy die bekende landboubeeld gebruik om hulle te help om die (moeiliker) konsep van die koninkryk te begryp.

Die onkruid waarna verwys word, is nie sommer enige onkruid nie. Die Grieks zizania verwys na ’n spesifieke tipe onkruid wat eintlik heel onbekend in Suid-Afrika is. In Afrikaans word dit “drabok” genoem; die Engels is “darnell grass”. Die wetenskaplike term is Lolium temulentum. Wikipedia het ‘n interessante artikel hieroor.

Dit is ’n bekende onkruid in koringproduserende lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Die spesifieke kenmerk van hierdie onkruid is dat dit, soos koring, ’n grasagtige plant is. Jong plante lyk op die oog af presies soos koring. Daarom is dit nie wenslik om die onkruid op ’n vroeë stadium uit ’n koringland te probeer uittrek nie. Eers wanneer die sade gevorm word, word die verskille tussen die plante duideliker en die saad self gee die verskil weg: Die drabok sade is donkerder tot swart, terwyl koringsade heuningkleurig is. ’n Verskil wat nie met die oog sigbaar is nie, maar tog noemenswaardig, is die feit dat die draboksaad matig giftig is.

Ons kan aanvaar dat Jesus se toehoorders drabok goed geken het. Vir hulle was die blote beskrywing van die drabok tussen die koring reeds verhelderend. Hulle weet hoe lyk drabok en hulle weet jy kan dit nie uittrek tussen koring terwyl die koring jonk is nie. Eers as dit begin saadskiet, is dit duidelik herkenbaar omdat die sade anders lyk. Hy kon dus hulle bestaande kennis van die landbou gebruik om hulle te help verstaan hoe God oor die koninkryk dink.

Die vyand

Die hele toneel wat Jesus voor die geestesoog oproep met sy beskrywing van die vyand wat gedurende die nag kom draboksaad in die koringland saai, is ook nie vergesog nie. Dit het skynbaar wel meermale gebeur dat vyande mekaar se oes op hierdie manier probeer saboteer. Daarom was daar ’n wet in die Romeinse reg wat presies hierdie tipe misdaad verbied het.

God se geduld en genade

’n Sentrale vraag is nou: Waarom sou Jesus dit nodig vind om die koninkryk van God so uit te beeld? Die swaartepunt van die preek gaan waarskynlik oor God se geduld en genade: Waarom sou Jesus dit belangrik ag om dit hier uit te lig?

Die antwoord lê in die verkeerde verwagting wat die mense van sy tyd van die Messias en die koms van God se koninkryk gehad het (soos hierbo verduidelik). In teenstelling met die verwagting dat God vinnig alles gaan regruk en die “goeies” van die “slegtes” skei, gaan Hy eerder nog wag en die lewe sy loop laat neem. Dat daar tog ’n premie geplaas word op gehoorsaamheid aan Hom is duidelik: Daar sal uiteindelik ’n afsnypunt, ’n uitsorteerpunt kom. Maar God kies om dit nie nou al te doen nie.

Waarom doen God dit nie nou dadelik nie? Die gelykenis gee ons natuurlik die antwoord: Terwyl die land nog nie reg is vir die oes nie, is dit moeilik om tussen die koring en die onkruid te onderskei. Meer nog, alhoewel dit op ’n koringland nie moontlik is vir onkruid om te verander in koring nie, is dit in God se koninkryk natuurlik nie net ’n moontlikheid nie, dit is ’n werklikheid waarop God groot klem lê! Dit is die hele punt van bekering; om God se oproep aan te neem, op te hou om giftige onkruid te wees, en te begin vrug dra soos koring!

Onkruid kan koring word!

Hier en nou laat God toe dat sy mense saam funksioneer met mense wat Hom nie ken nie, omdat God nog die tyd wil gebruik om van die drabok te verander sodat hulle koring word!

Petrus verstaan iets daarvan as hy in 2 Petrus 3:9 iets van God se geduld vertel:

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

In die taal van ons gelykenis, kan jy sê: Die Here wil hê drabok moet koring word! Paulus weet ook hiervan. Daarom beskryf hy “ons” lewe in Titus 3:3-7. Aanvanklik hoe “ons” was toe ons nog onkruid was, “. . . ons was haatlik en het mekaar gehaat”. Maar dan beskryf Paulus ook hoe die goedheid van God ons Verlosser verskyn het (4-7), en hoe – in die taalgebruik van ons gelykenis – God drabok in koring verander het!

Onkruid word opgesoek

Jesus het natuurlik daagliks iets van hierdie geduld van God – geduld met onkruid – uitgebeeld. Eerder as om die onkruid uit te ruk of te vermy, het Hy hulle opgesoek. Eerder as om uit te ruk, het Hy mense aangeraak en opgeroep om in die koninkryk in te kom. Hy was gedurig besig met sondaars, verraaiers, tollenaars, sukkelaars en randfigure. Hy het hoop vir hulle gehad, al het hulle soms vir hulleself min hoop gehad. Dit is een van die sterk antwoorde op die vraag, “Waarom ruk God nie sommer nou die onkruid tussen ons uit nie?”

Ons is koring én onkruid

’n Tweede antwoord is die feit dat die onderskeid tussen onkruid en koring partykeer deur ons eie harte loop! Die Russiese Nobelpryswenner vir letterkunde, Aleksander Solzhenitsyn, skryf aangrypend hieroor. Hy was ’n kritikus van die Russiese kommunistiese regime, het in botsing met die totalitêre staatsmasjinerie gekom, is uiteindelik in hegtenis geneem en het jare in ’n interneringskamp geslyt waar hy gedwing is om dwangarbeid te verrig. Hy het uiteindelik politieke asiel in die VSA gekry en kon vlug.

Hy het in die interneringskamp sekerlik genoeg van die menslike natuur gesien om goed te kon onderskei tussen “goeie” mense en “slegte” mense (Of dan: tussen koring en drabok). Hy skryf aangrypend hieroor in sy boek The Gulag Archipelago:

If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?

Jy sien, dit is ons diepste moeilikheid: nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. As ek dit verstaan, kry ek nuwe respek vir God se hantering van die saailand van die wêreld, kry ek nuwe waardering vir sy genade, sy liefde, sy geduld. As ek die boosheid in my eie hart reg verstaan, hou ek op om saam te skree in die koor van stemme wat Hom probeer aanpor om dinge nou dadelik reg te ruk en die onkruid uit te ruk. Want dan verstaan ek goed dat dit nie altyd so maklik is om die onkruid van die koring te skei nie, en waarom Hy eerder nog ’n bietjie tyd gee.

Wel ‘n einde

Daar kom wel ’n einde. Daarom eindig hierdie gelykenis ook met die duidelike oproep: “Wie ore het, moet luister.” Daar kom wel ’n oordeel, en dit sal ons loon om nie God se goeie geduld, sy duur genade en sy vriendelike liefde te minag en onverstoorbaar op ons onkruidpaaie aan te karring nie. Dit sal ons loon om die boosheid in ons lewe en ons hart te herken en na die Here te vlug daarmee, want ’n einde sonder Hom is ondenkbaar. En Jesus wys in hierdie gelykenis uit wie die “onkruid” is wat in die finale oordeel uitgeroei sal word (41): hulle wat hulleself nie aan God se wette steur nie, maar meer nog, wat ook ander mense weg van God af lei.

Ons reaksie

Hoe moet ons reageer op hierdie gelykenis? Daar is sekerlik meer reaksies wat gepas sal wees. Hier is enkele reaksies:

  • Ons kan die oordeel oor ander aan God oorlaat – dit is God wat in die laaste instansie mense verantwoordbaar hou. Ons moet vinnig wees om lief te hê en stadiger om te oordeel – soos onse dominee die dag met die selfone in die kerk geleer het;
  • Ons omarm sy wonderlike geduld, liefde en genade en dank Hom daarvoor;
  • Ons kan met geesdrif en dringendheid mee te werk daaraan om sy koninkryk aan te help en die invloed van die Bose te beperk. Dit sluit in om soos Jesus onkruid op te soek en te werk, bid, getuig en lief te hê met die oog daarop dat onkruid in koring kan verander.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 584 “Ons sien die tekens van die tyd”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, Skepper, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
Deur William Temple (1881-1944) (Uit: 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington, Lux Verbi.BM.)

Respons
Lied 315 “Amen” of
VONKK 90 “Maranata!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.