Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Na Saul se dood, word Dawid eenstemmig deur al die stamme van Israel aangewys as die opvolger tot die troon en ons lees “die Here die Almagtige was by hom”.

Die ander tekste versterk die boodskap dat God vir ons genoeg is. Psalm 48 loof God, die ware koning van die heelal.

In 2 Korintiërs 12:2-10 sê Paulus dat menslike tekortkominge die genoegsaamheid van God se genade aan ons beklemtoon en in Markus 6 stuur Jesus sy dissipels met leë kossakke en leë beursies uit om die Goeie Nuus te gaan verkondig.

Ander tekste

Psalm 48
Die stad van die Groot Koning
48 ’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.
2Die Here is groot!
Aan Hom kom al die lof toe
hier in die stad van ons God,
hier op sy heilige berg,
3mooi, hoog geleë,
en ’n vreugde vir die hele aarde,
Sionsberg teen die noorde,
die stad van die Groot Koning.
4In hierdie goed versterkte stad
het God Hom as beskermer geopenbaar.
5Konings het bymekaargekom
en as een mag opgetrek,
6maar skaars het hulle die stad gesien
of hulle het bang geword
en verskrik op die vlug geslaan.
7Angs het hulle daar beetgepak,
vrees soos dié van ’n vrou
wat ’n kind in die wêreld bring,
8angs soos toe U met die oostewind
die skepe van Tarsis verpletter het.
9Soos ons daarvan gehoor het,
het ons dit self ervaar
hier in die stad van die Here,
die Almagtige,
in die stad van ons God,
die stad wat Hy vir altyd vas laat staan.
10Hier in u tempel oordink ons u trou,
o God.
11Net soos u Naam, o God,
so strek u lof oor die hele aarde.
U mag het groot redding gebring.
12Sionsberg moet bly wees,
die stede van Juda
moet oor u reddingsdade juig!
13Gaan om Sion, trek reg rondom,
tel sy torings,
14bewonder sy mure,
bekyk sy versterkings,
sodat julle dit aan ’n volgende geslag
kan vertel!
15Dié God is ons God vir altyd;
Hy sal ons altyd lei.

2 Korintiërs 12:2-10
Gesigte en openbarings
12 Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 
2Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3–4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Markus 6:1-13
Jesus word in Nasaret verwerp
(Matt 13:53–58; 9:35; Luk 4:16–30)
6 Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. 2En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie ’n timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Die mense wou niks van Hom weet nie.

4Jesus sê toe vir hulle: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

5Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.

Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.

Fokusteks

2 Samuel 5:1-5, 9-10
Dawid word gesalf tot koning oor Israel
(Vgl 1 Kron 11:1–3)
5  Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:
Jy moet vir my volk Israel
‘n herder wees;
ja, jy moet heerseroor Israel wees!”

3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here ‘n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. 4Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. 5In Hebron was hy sewe en ‘n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.

Dawid verower Jerusalem
(Vgl 1 Kron 11:4–6)
6Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon.

Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!” 7En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad.

8Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ‘n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.”

Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word ‘n blinde of ‘n kreupele mag nie in die tempel inkom nie.

Dawid gaan woon in Jerusalem
(Vgl 1 Kron 11:7–9;  14:1–7)
9Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis. 10Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.

11Koning Hiram van Tirus het ‘n afvaardiging na hom toe gestuur en ook sederhout en skrynwerkers en messelaars. Hulle het vir Dawid ‘n paleis gebou. 12Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel.

13Nadat Dawid uit Hebron verhuis het, het hy vir hom uit Jerusalem meer byvrouens en vrouens geneem. Daar is toe vir hom nog seuns en dogters gebore. 14Dit is die name van sy kinders wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo, 15Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia, 16Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid verslaan die Filistyne
(Vgl 1 Kron 14:8–16)
17Toe die Filistyne verneem dat Dawid tot koning oor Israel gesalf is, het hulle almal teen hom opgetrek. Dawid het dit te hore gekom en op ‘n strategiese plek gaan stelling inneem. 18Die Filistyne het gekom en die Spooklaagte binnegeval.

19Dawid het die Here geraadpleeg en gevra: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?”

Die Here het hom geantwoord: “Ja, trek op, want Ek gee hulle beslis aan jou oor.”

20Dawid het toe deur ‘n groot kloof getrek en hulle daar verslaan.

Hy het gesê: “Die Here het my vyand voor my gekloof soos water ‘n wal kloof.”

Daarom het hy die plek Grootkloof genoem. 21Die Filistyne het selfs hulle afgodsbeelde net daar gelos, en Dawid en sy manskappe het dit opgetel.

22Toe die Filistyne weer opruk en die Spooklaagte binneval, 23het Dawid die Here geraadpleeg.

Die Here het gesê: “Moenie optrek nie. Draai na hulle agterhoede toe en val hulle aan regoor die melkbosse. 24Wanneer jy ‘n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”

25Dawid het gemaak soos die Here gesê het en die Filistyne van Geba af tot by die ingang na Geser verslaan.

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1. OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd,  na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2. AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3. KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4. LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 5
Die troonbestyging van Dawid gebeur met baie intriges en konflik met Saul se nageslag, uit die stam van Benjamin, en sy onderdane (vgl. Abner se rol), hoewel die skrywer telkens duidelik laat blyk dat Dawid nie persoonlik daarby betrokke geraak het nie.  Die kloof tussen Noord en Suid bly egter groot, en hoewel Dawid dit regkry om uiteindelik koning van al die stamme van die twee “ryke” te word, bly dit sluimerend tot met die skeuring van Israel na die dood van Salomo.

In hoofstuk 5-7 word vier opeenvolgende gebeure vertel wat gelei het tot Dawid se koningskap van die hele Israel: 1) die verowering van Jerusalem; 2) die oorwinning oor die Filistyne, 3) die Ark se terugkeer na Jerusalem, en 4) die verbond wat God met Dawid sluit dat sy koningskap vir ewig sal wees.

In hoofstuk 5 word God se keuse van Dawid as koning by Hebron deur die hele volk erken: “Ons is tog almal u eie mense.”

Let op hoe Dawid se koningskap verbind word aan herderskap en charismatiese leierskap (die woordjie nagid word gebruik wat hier met heerser vertaal word).  Dit bly twee belangrike aspekte van leierskap:

  • om om te gee soos ‘n herder vir mense,
  • en deur die Gees en sy gawes leiding te gee.

Ook al die leiers van Israel sluit met hom voor die Here ‘n verdrag.  Die lang en stormagtige pad na die troon is voltooi.

Vers 8 is moeilik om te verstaan.  Die verwysing na die watertonnel kan beteken dat Dawid dit gebruik het om in die stad in te kom.  Die verwysing na die blindes en kreupeles word moontlik sarkasties gebruik.

Die keuse van Jerusalem was briljant.  Nie net was dit neutrale grond tussen Juda en Benjamin nie, maar dit was ook ‘n strategiese plek wat maklik verdedig kon word.  Geen wonder dat dit steeds vandag die hoofstad van Israel is nie.

Daarmee het Dawid polities die volk verenig, sodat daar nie ‘n stryd kon wees oor watter stam belangriker as ander sou wees nie.

Die stryd teen die Filistyne verhewig, met die gevolglike oorlog wat tot hulle ondergang lei.  Let weereens op hoe Dawid die Here raadpleeg voor enigiets wat hy doen, en hoe die raad van die Here telkens by die situasie aanpas.  Dit bly die Here se oorlog wat Dawid aanvoer: “Wanneer jy ‘n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”

Ons gebed moet ook altyd iets inhou van ‘n wag op wat God doen.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 195 of Flam 187

Votum

Lofsang: Psalm 48 of VONKK 117

Skuldbelydenis

Vryspraak & Toewyding: Lied 202 of Flam 88

Doopherinnering en genadeverkondiging

Geloofsbelydenis: Lied 290

HOOR

Gebed

Skriflesing: 2 Samuel 5:1-5, 9-10

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 440 of Flam 256 

Seën

Respons: VONKK 87

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 195 “U, o God, wat ewig op die troon is” of
Flam 187 “Net Soos Ek Is” (Raak My)

Votum
Voorganger: Net soos u Naam, o God, so strek u lof oor die hele aarde.
Gemeente: U mag het groot redding gebring.

Voorganger: Sionsberg moet bly wees, die stede van Juda moet oor die u reddingsdade juig!
Gemeente: U mag het groot redding gebring (uit Ps 48:11-12).
(Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Lofsang
Psalm 48 of
VONKK 117 “Die Here God Is Groot” (Psalm 48)

Skuldbelydenis
Voorganger: As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog kon bestaan?
Gemeente: Luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep (Ps 130:2-3).
(Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Vryspraak & Toewyding
Voorganger: Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.
Gemeente: Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.

Voorganger: Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
Gemeente: Hy alleen sal ons verlos van al ons sondes.
(Verwerking van Ps 130:4-8 uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors” of
Flam 88 “Here, Ek Wil By U Wees”

Doopherinnering en genadeverkondiging
Voorganger: God het ’n verbond met ons gesluit net soos met Abraham. Getrou aan hierdie verbond, sê God vir ons, soos vir Dawid: “Oral waar jy gegaan het was ek by jou.”
Gemeente: God het ons gekies sodat ons aan Christus kan behoort.

Voorganger: Die doop verseker ons dat God ons liefhet en vir ons sorg.
Gemeente: Ja, God het ons gekies voordat Hy die wêreld gemaak het.

Voorganger: Die doop verseker ons dat Jesus Christus ons verlosser is.
Gemeente: God het vir Jesus Christus gestuur sodat ons God se kinders kon word.

Voorganger: Die doop verseker ons dat die Heilige Gees in ons woon, van ons nuwe mense maak en ons lei.
Gemeente: Ja, ons het die Heilige Gees, en daarom weet ons God sal vir ons alles gee wat Hy vir ons belowe het. Hy sal ons heeltemal vrymaak, ons wat aan Hom behoort. Daarom prys ons God, ons Koning!
(Verwerking van die Formulier vir die bediening van die doop aan die kinders van gelowiges (2), Ef 1:4-5, 14, Die Bybel vir Almal, en 2 Sam 7:9, NAV uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Geloofsbelydenis
Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Liedere

VONKK 87 “Mag, Heer, U Seën Oor Ons Stroom  (Psalm 67)”
Psalm 67 Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)  Melodie: REËN IN DIE NAMIB – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding 1: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo) Orrelbegeleiding 2 & 3: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2011 Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2011 Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2011
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) Rubriek: Kontemporêr – Uitsending

Mag, Heer, u seën oor ons stroom soos sagte reën;
Mag u hand ons uitred en bewaar..
Mag ons u goedheid elke dag opnuut ervaar;
mag ons lewens uit dankbaarheid U loof en eer,
dat die wêreld kan weet dat U regeer.

VONKK 117 “Die Here God Is Groot”
Nav Psalm 48 Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) (:1) en Jacus Krige 2011 (:2 & :3)
Melodie: BERGVESTING – Jacus Krige 2009 Orrelbegeleiding: Jacus Krige 2010 © 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

1. Die Here God is groot;
kom loof en prys sy grootheid!
Die Here God is groot;
kom bring Hom al die eer.

2. Die Heer is goed en groot;
Hy vul ons hart met vreugde.
Die Heer is goed en groot;
ons jubel oor sy trou.

3. O Heer, u Naam is groot!
U is ons God vir ewig.
O Heer, u Naam is groot!
U sal ons altyd lei.

F88. “Here, Ek Wil By U Wees”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering) Teks en musiek: Arno Mattheus © 2007 MAR Gospel Music Publishers

Here, ek wil by U wees
voor u voete wil ek kniel
meer en meer van U leer
dat ek meer soos U kan wees.

Here, ek wil by U wees
soos Dawid vir U sing
en in verwondering
laag voor U buig.

U is my lewe
U is my alles
daarom sing ek tot U.
U is my Koning
U is my beste Vriend
daarom sing ek tot U.

F187. “Net Soos Ek Is (Raak My)”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Juan Weber © MAR Gospel Music Publishers

1. Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.
Net soos ek is soek na u aangesig
sonder motiewe wat geheime hou.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin
maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U …

Refrein:
Raak my, raak my en maak my met U een.
Raak my, raak my en trek my na u Seun.

2. Vuil soos ek is soek ek na u genade Heer
met die merke van my sondes.
Stukkend soos ek is vra ek genesing vir my seer
met die salf van u liefde.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin.
Maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U…

Refrein:

Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.

F256. “Ons Is U Liggaam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis) Teks en musiek: JA de Beer en Zander van der Westhuizen © 2007 Urial Publishing

Ons leef u liefde in ’n wêreld wat uitroep.
Ons neem u water na mense wat dors.
Laat ons u liefde deur ons dade uitdra.

Ons neem u brood na ’n sterwende land.
So kom U naby aan elkeen wat nood het.
Laat u wil geskied deur ons gehoorsaamheid.

Want ons is u liggaam,
ons sal U vir altyd volg,
ons is die gesalfdes
wat opstaan vir u Naam.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 2 Samuel 5:1-5, 9-10

Familie-oomblik

As jy die hele reeks deur ’n prent van Dawid gebruik, kan jy hierdie week ’n goue kroon op sy kop plak.

Wys die kinders daarop dat Dawid waarskynlik 9 of 10 jaar oud was toe hy as koning gesalf is – en 30 toe hy gekroon is (koning geword het)!  Kinders hou nie van wag nie.  Gesels oor die goed waarvoor ons soms moet wag.  Jy kan lekkers sigbaar in die liturgiese ruimte uitstal – almal moet wag daarvoor tot by die slotsang.  (Of, as jy dapper is, deel die lekkers uit.  Laat kinders met die “belofte” in hul hande sit totdat jy sê hulle mag dit maar eet.)

Laat kinders krone maak en gesels oor wat dit beteken dat Dawid koning was.
Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015:

Wat is salwing? Hoekom het hulle dit met die nuwe koning gedoen?
In antieke Israel het hulle ‘n olie wat lekker ruik op die nuwe koning se voorkop gesmeer. (Kry ‘n botteltjie lekkerruikolie, bv. teeboom of laventel, en laat die kinders ‘n druppeltjie voel op hulle hande en daaraan ruik.) Dit was soos om ‘n kroon vir die eerste keer op ‘n koning of koningin se kop te sit.

Dit was ‘n teken dat God self hierdie persoon gekies het om hierdie spesiale werk te doen daarom lees ons in vers 10: “. . . die Here die Almagtige was by hom.”

Dit herinner ons ook aan ons doop waar ons druppels water op ons koppe kry as teken dat God ons gekies het om sy kinders te wees. God is ook by elkeen van ons soos wat Hy by koning Dawid was.

Preekriglyn

Die stryd tussen Dawid en Saul is briljante stof vir ‘n spannende TV-reeks. Ons teks sou die slottoneel kon wees. Aan die een kant was daar die jong gesalfde wat op God vertrou het. Aan die ander kant die hardkoppige koning Saul wat alles dikwels in sy eie hande geneem het en gemaak het wat hy wou.

Saul was tot koning van Israel gesalf, maar het nie die Here geraadpleeg en sy leiding gevolg nie. Terwyl Saul nog lewe, gee die Here opdrag dat ‘nm nuwe koning gesalf word. Dit is ‘n jong seun, Dawid. Die spanning tussen die twee bereik naderhand breekpunt, maar die verhaal ontknoop as Saul in ‘n veldslag sterf, en Dawid eers koning van die suidelike deel van die land word, en later – in ons teks – die koning van die hele Israel.

Verder terug

Op hierdie punt flits die draaiboek van ons TV-reeks terug na die verlede, jare voor Dawid se kroning tot koning oor die hele Israel en Juda.

Saul was die eerste koning van Israel. Baie jare voor hierdie gebeure het Saul in onguns by God geraak. Sy sonde? Hy het toenemend op sy eie insig vertrou, self besluite oor sy eie optrede geneem en God al hoe meer geïgnoreer.

Twee uitstaande insidente in hierdie verband word in 1 Samuel 13 vertel. Daar besluit Saul in ongeduld en in weerwil van God se opdragte, om self die offer te bring voor ‘n oorlog teen die Filistyne. ‘n Tweede uitstaande insident was toe hy God se uitdruklike opdrag oor die Amalekiete verontagsaam het (1 Sam 15 – onthou Samuel se skerp woord in vers 22: “. . . gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme”).

Hierna het God Saul as koning verwerp en aan Samuel opdrag gegee om ‘n ander koning te salf (1 Sam 16) en het daar ‘n langdurige stryd tussen Saul en Dawid ontstaan.

Onweerswolke

Aanvanklik lyk dit of Saul met die jong en begaafde Dawid oor die weg kom en gaan woon Dawid selfs by Saul in sy paleis. Saul ervaar baie gou dat Dawid ‘n bedreiging vir sy koningskap is en probeer om hom – as politieke opponent – om die lewe te bring. Aanvanklik is Dawid jonk en byna weerloos. Dit is net die beskerming van God en sy goeie verhouding met Saul se seun Jonatan en Saul se dogter Mikal, wat Dawid se lewe verskeie kere red.

Vlugteling

Later vlug Dawid en swerf in die woestyn rond, waar Saul gedurig veldtogte loods om van hom ontslae te raak. Dawid versamel met die tyd ‘n klein maar gedugte “bende” soldate om hom, maar weier om Saul dood te maak, al het hy verskeie geleenthede om dit te doen. Sy motivering: Hy het respek vir God en daarom ook respek vir die koning as gesalfde van God. Dawid weier ook om met sy manskappe in ‘n direkte konfrontasie met Saul se soldate betrokke te raak.

Die patroon op daardie tydstip was dus dat Dawid en sy groeiende getal volgelinge in onherbergsame gedeeltes van die land geskuil het en gedurig moes vlug van veldtogte wat Saul teen hulle geloods het. Dawid vlug later selfs na die Filistyne toe en kry politieke asiel by ‘n Filistynse koning, Akis (1 Sam 27). Hier raak hy so byna, as bondgenoot van die Filistyne, in ‘n direkte geveg teen Saul en Israel se soldate betrokke, maar onttrek op die laaste oomblik uit die geveg omdat sommige van die Filistynse leiers hom nie vertrou het nie. In die daaropvolgende geveg tussen Israel en die Filistyne sterf sowel Saul as Jonatan (1 Sam 31).

Koning oor Juda

Na Saul se dood trek Dawid, nadat hy die Here geraadpleeg het, met al sy manskappe terug uit die grondgebied van die Filistyne en gaan bly in Hebron in die hartland van die Judastam. Die burgers van Juda salf hom toe as hulle koning. Onthou, Dawid self was uit die stam van Juda. Dawid was sewe jaar lank koning in Juda voordat hy ook oor Israel tot koning gesalf is, waarvan ons teks ons vandag vertel.

Nog meer intrige

Intussen het Saul se hoof van die leer, Abner, die geveg oorleef en besluit om Saul se seun, Is-Boset, as koning in Saul se plek te salf. Dit is duidelik dat Is-Boset nie sy pa se leierseienskappe gehad het nie en dat Abner eintlik maar die mag in sy hande gehad het. Die volk was ook toenemend verdeeld – al hoe meer Israeliete wou Dawid as koning oor hulle hê. Die spanning het opgelaai tussen Juda en Israel. Daar was selfs vir ‘n jaar of twee ‘n paar burgeroorlog gevegte tussen hulle.

Toe Is-Boset egter op ‘n dag vir Abner aanvat nadat Abner een van Saul se byvrouens vir homself gevat het, was die vet in die vuur. Abner besluit toe om in die geheim met Dawid en die leiers van die stamme van Israel te onderhandel om Is-Boset as koning te ontsetel en die koningskap onder Dawid te verenig. Abner het met verskeie leiers in Israel en ook met Dawid hieroor onderhandel, maar voordat hy die onderhandelinge kon voltrek, is hy vermoor, asook Is-Boset.

“Hierna”

Maar die tafel was reeds gedek vir Dawid om koning te word. Dit is waar ons teks van vandag inkom. “Hierna”. Die eerste woord van ons teks, verwys na die dood van Is-Boset. Daarmee was die laaste ernstige aanspraakmaker op die koningskap van Israel uit Saul se huis dood en het al die leiers van Israel met Dawid ‘n verdrag gesluit om hulle koning te word.

Dit is betekenisvol dat die Bybel (3) dit duidelik stel dat Dawid “in die teenwoordigheid van die Here” as koning oor Israel gesalf is. Nou was die twaalf stamme van Israel en Juda weer verenig, met een koning. Hierna het Dawid ‘n strategiese besluit geneem om sy setel te verskuif vanaf Hebron, wat in die Judese platteland geleë was, na Jerusalem, wat meer sentraal geleë was. Jerusalem was nog nie in Israelitiese hande nie en na die verowering kon geen stam dus voel hulle word bevoordeel of benadeel deur die keuse van ‘n hoofstad nie.

Die Here was by hom

Dawid was teen hierdie tyd ‘n gesoute militêre strateeg en ‘n bewese leier. Daar was egter iets anders, iets meer wat Dawid se sukses verklaar het. Kom ons lees 2 Samuel 5:9-12. Vers 10 vertel dat Dawid al hoe sterker geword het en dat die Here die Almagtige by hom was. Die verskil tussen Saul en Dawid was hulle verhouding met die Here die Almagtige.

Saul word aan die begin van sy koningskap uitgebeeld as ‘n groot en sterk jong man wat ‘n uitstekende soldaat en militêre leier is – soos Dawid ook uitgebeeld word. Beide se skadukante word ook uitgewys: Saul se twyfelagtige karakter kom miskien die sterkste na vore daarin dat hy keer op keer sy woord vir Dawid gee dat hy sy onregmatige vervolging van Dawid sal staak, net om Dawid se dood elke keer met meer ywer te soek. Saul gee selfs sy eie dogter, Mikal, vir Dawid met die doel om van Dawid ontslae te raak. Soos wat Saul ouer word, word dit toenemend duidelik dat hy eintlik geen verhouding met God het nie en daarom op meer as een geleentheid God se uitdruklike opdragte verontagsaam.

Dawid staan lynreg teenoor Saul, maar nie as onkreukbare held nie. Dawid se foute en skadukante word net so uitgewys – hy mislei koning Akis die Filistyn en maak baie mense onnodig dood (sien bv 1 Sam 27, 2 Sam 1:13 vv en 2 Sam 4:12).

Die verskil

Wat is dan die verskil tussen Saul en Dawid?
Net dit: Dawid het met sy hele hart aan die Here sy God vasgehou. Selfs na sy owerspel met Batseba en moord op haar man, maak hy die saak met God uit. Dan loop God en Dawid die lewenspad weer verder saam. Saul het egter iewers langs sy lewenspad besluit dat hy dinge liewer op sy eie manier wil doen as om dit te doen soos die Here voorstel. Hy was vas oortuig daarvan dat hyself beter weet hoe om te lewe as wat God se voorskrifte sê.

Wat sê hierdie gedeelte vir ons?

Die eerste is dat dit Saul niks gebaat het dat hy fisiek kop en skouers bo almal uitgetroon het en die hele staatsmasjinerie aan sy kant gehad het nie. Omdat hy God verlaat het, het God hom ook verlaat. Sy pogings om met sy eie krag en krom planne aan die koningskap van God se volk vas te klou was vergeefs. Die dieptepunt van sy verval was sekerlik toe hy uiteindelik by die heks van Endor aanklop om hom te help. Bid jou aan, die koning van God se volk vra vir ‘n heks om hom te help! Daar is eenmaal geen hulp te soek of te vind by dinge wat lynreg teen God se wil ingaan nie.

Teenoor Saul staan Dawid, ‘n gewone mens wat baie foute gemaak het. Maar een ding van Dawid staan uit: by al sy foute het hy die Here liefgehad! Daarom het die Here hom ook vasgehou en was die Here by hom, soos vers 10 sê. Vers 12 noem dat God sy koningskap bevestig het.

Dit laat mens dink aan Psalm 127 – wat toegeskryf word aan Dawid se seun Salomo – waar die sterk woord “tevergeefs” so baie mense se lewenspogings beskryf. Ook Saul s’n. Alles wat hy gedoen het, was tevergeefs, omdat hy God verlaat het.

Daarteenoor staan Dawid, in die idioom van hierdie Psalm (2), ‘n voorbeeld van een wat die Here liefhet. Dawid het in sy eie lewe die seën van God ervaar, waarvan ons teks ons van ‘n besondere hoogtepunt vertel, naamlik: sy salwing as koning. God se liefde vir Dawid het egter verder gestrek as Dawid se eie lewe. God maak aan hom beloftes van seën vir sy nageslag ook (2 Sam 7), en ‘n duisend jaar later loop dit daarop uit dat Jesus Christus, ons Verlosser en Here, uit die geslag en stam van Dawid gebore sou word.

In die teenwoordigheid van God

Dawid spoor elkeen aan om bewus te raak dat ons in groot geselskap leef. God is nie ver weg nie, God is naby. God is nie ‘n saak, krag of teorie nie, God is ‘n Persoon. God is nie passief nie, maar aktief. God is lewend. God handel.

In Dawid se lewensverhaal sien ons hoe God mense gebruik om God se storie op aarde te skryf. Dawid is ‘n Bybelkarakter. Sy lewe nooi ons uit om ook met ons hele lewe en al ons gawes in God se storie in te klim, en self Bybelkarakters te word.

Die Een uit die geslag van Dawid, die koning vir ewig op die troon, Jesus Christus, wys ons hoe ons deelname aan God se verhaal in die wêreld lyk. Jesus self het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook…” (1 Joh. 20:21). Ons word deur Jesus ingetrek in ‘n lewende verhouding met God, en bemagtig deur die Heilige Gees, tot medewerkers in God se koninkryk.

Soos Dawid dit reeds gedoen het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees” of
Flam 256 “Ons Is U Liggaam”

Seën

Respons
VONKK 87 “Mag, Heer, U Seën Oor Ons Stroom” (Psalm 67)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.