Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Ons sleutelteks vertel van Jesus se optrede en prediking op sy weg na Jerusalem. Hy reis vasbeslote en dapper na Jerusalem. Na drie agtereenvolgende konflik episodes word die praktiese gevolge en die koste van dissipelskap uitgespel. Ware dissipelskap vra dat jy God letterlik bo alles anders sal stel.

In 2 Konings 2 lees ons dat die volgeling gesalf word om die bediening van die voorganger voort te sit. Hy rus ons toe met sy Gees. Om Hom te volg beteken dat jou eie wil en begeertes sekondêr is.

Om Jesus te volg, bring vryheid. Prakties beteken dit om jou te beywer vir liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid en getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (die vrug van die Gees).

Ander tekste

2 Konings 2:1-2, 6-14
Elia word in die hemel opgeneem
2 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ’n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.” Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle is toe na Bet-El toe.
3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.
7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ’n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.

8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”

Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”

10Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. 13Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”

Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

1 Konings 19:15-16, 19-21
15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg.

17Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”

19Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 20Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”

Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”

21Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Psalm 77:1-2, 11-20
Sal die Here vir altyd verstoot?
77 Vir die koorleier. Ter herinnering.
Van Asaf. ’n Psalm.
2Ek roep na God om hulp,
ek roep na God, want Hy sal my hoor.
3In my nood soek ek hulp by die Here;
ook in die nag bly my hande
in gebed uitgestrek
sonder om moeg te word;
maar ek vind geen troos nie.
4Ek dink aan God en ek sug, 
ek dink na en ek is verslae. Sela
5U laat my wakker lê, 
ontsteld en sprakeloos.
6Ek dink aan vroeër dae, 
aan jare lank gelede.
7As ek so in die nag lê en terugdink
en peins, vra ek my af:
8“Sal die Here vir altyd verstoot
en nooit weer genade betoon nie?
9Het daar vir altyd ’n einde gekom
aan sy trou?
Geld sy beloftes dan
glad nie meer nie?
10Het God vergeet om
medelye te hê?
Het Hy in sy toorn
sy ontferming onttrek?” Sela
11En ek sê:
“My grootste smart is
dat die Allerhoogste nie handel
soos voorheen nie.”
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig, o God.
Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.
16U het u volk deur u krag gered,
die kinders van Jakob en Josef.
17Toe die waters U sien, o God,
toe die waters U sien, het hulle gebewe,
die diep waters het gesidder.
18Die wolke het water uitgegiet,
uit die donderwolke het dit gedreun,
u weerligte het in alle rigtings geblits.
19U donderslae het die lugruim gevul,
weerligstrale het die wêreld verlig,
die aarde het geskud en gebewe.
20U het deur die see gekom,
u weg deur magtige waters gebaan.
Niemand het u spoor gesien nie.
21U het u volk soos ’n kudde gelei
deur die hand van Moses en Aäron.

Psalm 16
Niks goeds nie behalwe by God
16 ’n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie
behalwe by U.
3Die afgode in die land,
so aantreklik vir baie-
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ’n ander god vereer,
baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers
uitgiet nie,
hulle name sal ek nie
op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar
nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Galasiërs 5:1, 13-25
5 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Die Christelike vryheid
2Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. 5Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? 8Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 9’n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. 10Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat ’n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim. 12Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Die Gees van God en ons sondige natuur
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” j15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Fokusteks

Lukas 9:51-62
’n Samaritaanse dorp wys Jesus af
51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.

54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. 56Daarna het hulle die reis voortgesit na ’n ander dorp toe.

Hoe Jesus gevolg moet word
(Matt 8:19–22
57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”
58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”
59Aan ’n ander een sê Hy: “Volg My.”
Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”
62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Ekstra stof

Waar Jesus se bediening in hoofstuk 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”. Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31). Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk. En dit kan Hy net in Jerusalem doen.

Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
Die vasbeslotenheid van Jesus tref ‘n mens. Hy weet wat Hy moet doen. En Hy weet wat die einde van daardie pad is. Tog fokus Hy met passie op hierdie roeping, al beteken dit dat Hy soos Johannes die Doper met sy lewe daarvoor sal moet boet.

Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.

Tog roep Hy ook steeds mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).

In die proses stuur Hy nou die 72 twee-twee uit om op die pad na Jerusalem – elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan – die evangelie te verkondig. Daarmee gee Hy aan die kerk ’n model van bediening wat, hoewel nie noodwendig op presies dieselfde wyse nie, nagevolg kan word.

Hier kom ‘n mens nou ook agter waarom Hy nie sterker reageer op die weerstande of huiweringe nie. Afrekening kom aan die einde van die tyd, net soos die heerlikheid ook dan wag vir dié wat gehoorsaam is. Dit motiveer Hom, en vorm die rasionaal agter sy bedieningstyl.

En wat vir Jesus geld, geld ook vir sy dissipels: wie na hulle luister, luister na Jesus, en wie nie luister na hulle nie, luister nie na Hom nie.

Die blydskap van Jesus oor die sukses van sy uitstuur-opdrag roer ‘n mens (10:21-22). Wat begin het met ’n alleen-pad wat Hy geloop het, opgevolg is deur die kern-groep van 12 dissipels uit te stuur, is nou ook suksesvol met 72. God se plan, soos dit begin ontvou, werk inderdaad.

Let op hoe Jesus dan drie groot lesse vir die dissipels leer:

  • Die feit dat hulle grense moet oorsteek soos die barmhartige Samaritaan (in kontras met dorpie wat Hom verwerp het) en hulle liefde vir God moet demonstreer in hoe hulle vir ander ’n naaste is (10:25-37). Let op hoe dit ook ’n eksplisiete korreksie op die Farisese idee is, wat gedink het jy kan met God ’n verhouding via die wet hê, sonder om aandag te gee aan die wyse waarop hulle ander mense insluit.
  • Die feit dat Jesus en sy woorde die fokus van hulle lewe moet wees, en nie net om reg te staan en bedrywig te wees nie – verhaal van Marta en Maria (10:38-42).
  • Die feit dat alles in ’n gebedsafhanklikheid van God gedoen moet word (11:1-13) waarby God se oorvloedige gewilligheid om te antwoord met ’n pragtige gelykenis uitgedruk word.

Dan skuif Jesus se aandag na die skare mense, waaronder ’n klomp Fariseërs, en gee lering oor die impak van die koninkryk wat Hy verkondig, en spel dit uit in terme van:

  • die effek op die koninkryk van die duiwel, waarmee Hy duidelik die kloof tussen die twee uitwys – jy kan nie in altwee kampe wees nie (11:14-23);
  • die noodsaak van toewyding aan God as teenvoeter vir ’n terugval in die mag van die duiwel (11:24-26 en 27-28) – “hoor en onderhou”;
  • die noodsaak om die tekens te kan onderskei – Jesus is hier, en mense weier om in sy lig te wandel (11:29-32 en 33-36);
  • die dwaasheid van die godsdienstige Fariseërs en wetgeleerdes wat hulle oor uitwendige goed bekommer, maar nie oor wat binne in hulle harte aangaan nie, en nie na Jesus kyk om sy boodskap te begryp nie, maar hoe om Hom uit te vang in ’n strik van een of ander aard – vir hulle, sê Jesus, wag daar net ellende (11:37-53)

Opmerkings oor Lukas 9:51-62:
Jesus is op pad na Jerusalem om God en mens te versoen deur sy kruisdood.

  • Hy wil mense insluit deur die goeie nuus van die evangelie deur sy volgelinge te verkondig
  • Jesus se dissipels steek verskeie grense oor om by alle mense uit te kom
  • Sommige wil Hom nie ontvang nie en verwerp daarmee sy boodskap van versoening
  • Sy volgelinge wil teenstanders verwoes
  • Jesus wys egter daarop dat dit nie nou deel van sy plan is nie, hoewel dit natuurlik later sal kom
  • Wat beteken volgelingskap dan?
    • Die moed om verwerping te hanteer as jy as vreemdeling grense oorsteek met die boodskap van versoening
    • Die moed om die gemak en beperking van normale familieverpligtinge te versaak in die uitvoering van die roeping om grense te oorskry
    • Die moed om gefokus te bly op die uitdagings van die koninkryk ten spyte van die suigkrag van normale familieverpligtinge

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 512 of F318

Votum (gebed): Ps 77:12–16

Refleksie
Seëngroet

Lofsang: Lied 492 of VONKK 264 of F416

Wet: Galasiërs 5:13–26

Skuldbelydenis: Lied 511 of VONKK 63

Genadeverkondiging Galasiërs 5:1

Toewyding Lied 505 of Lied 491 of F288

HOOR 

Gebed

Skriflesing: Lukas 9:51-62

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: “Will you come and follow me? (The Summons)”

Dankoffer

Slotsang: Lied 517 of VONKK 219

Seën

Respons: F386

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 512 “Nader, my God, by U” of
F318. Nader Tot Die Here

Votum (gebed)
Ps 77:12–16
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig, o God.
Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.
16U het u volk deur u krag gered,
die kinders van Jakob en Josef.

Refleksie
Gee geleentheid vir stilte waarin lidmate nadink oor die afgelope week en oor God se dade

Seëngroet

Lofsang
Lied 492 “In U is vreugde” of
VONKK 264 Kom ons prys sy Naam of
F416. U Is My Lig

Wet
Galasiërs 5:13–26
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Skuldbelydenis
Lied 511 “Lei U ons, Lig” of
VONKK 63 Die Here Jesus Christus [bekend]

Genadeverkondiging
Galasiërs 5:1
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Toewyding
Lied 505 “Jesus, U gaan voor” of
Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag” of
F288. Hy Is Die Een

Liedere

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede)
Teks en musiek: Neil Büchner
© Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.

2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.
U is naby aan ons Here.
Ons nader tot die Here.

F416. “U Is My Lig”
(RUBRIEK: Kruisfuur / Kersflam – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Dawid Brits
© Flam Musiek-Uitgewers

U is my lig – U is my weg.
U is waarheid – U’t my bevry.
U is my Rots – U is my hoop.
U lewe – ek’s los gekoop.
U is lewe – U is heilig.

Refrein:
Heilig is die Rots wat ewig staan,
waardig is die liefde wat nooit vergaan.
U is my lig – U is my weg.
U is waarheid – U’t my bevry.
U is my Rots – U is my hoop.
U lewe – ek’s los gekoop.
U is lewe – U is heilig.

Refrein:

Brug:
U’s almagtig – U is heilig – U is lewe.
U is die Een – God se Seun
my Redder – my Redder!
Refrein: (x2)

Einde:
U is heilig – U is lewe – U is heilig.

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo,
hy is die enigste waarheid nou vir my.
Hy is die een wat ek glo
en elke woord wat Hy sê dra ek met my.

Pre-refrein:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
sonder dat ek dit ooit kan verdien.

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
elke dag in u voetspore loop.
Jesus, ek sal U volg
en waar U my ook lei, sal ek gaan.

2. Hy is die een wat genees,
Hy is die een wat die blind in my laat sien,
Hy is die een wat genees,
en ook die een wat my lymkoud hart laat voel.

Pre-refrein:

Refrein:
3. Hy is die een wat ek soek
as ek alleen en onseker rond bly dwaal.
Hy is die een wat ek soek
die einde en die begin van my verhaal.

Pre-refrein:

VONKK 264 “Kom ons prys sy Naam”
Teks: Heri ni jina – tradisioneel Oos-Afrika, oorgelewer deur Deogratias Mahamba; Afrikaanse weergawe: Breda Ludik 2013
Melodie: HERI NI JINA – tradisioneel Oos-Afrika
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012 ©
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2012 ©
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lofprysing / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Kom ons prys sy Naam.
Kom ons prys sy Naam.
Kom verheerlik Jesus se Naam.

Kom ons prys sy Naam.
Kom ons prys sy Naam.
Kom verheerlik Jesus se Naam. (Ons prys Hom)

Halleluja! Halleluja!
Kom verheerlik Jesus se Naam. (Ons prys Hom)

Halleluja! Halleluja!
Kom verheerlik Jesus se Naam.

Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg vir Jesus alleen.

Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg vir Jesus alleen. (Ons volg Hom)

Halleluja! Halleluja!
Kom ons volg vir Jesus alleen. (Ons volg Hom.

Halleluja! Halleluja!
Kom ons volg vir Jesus alleen.

VONKK 63 “Die Here Jesus Christus”
Matteus 16 : 24-28
Teks: Die Heer oor al wat lewe – AP van der Colf 1988; Jacques Louw 2010 ©
Melodie: MORNING LIGHT – George J Webb 1837
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2001. Met toestemming NG Kerk-Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Die Here Jesus Christus, kom alles van my vra:
“Kom dra, deur selfverloëning, jou kruis en volg My na.”
Wie vir homself wil lewe – met selfsug God wil dien –
sal nooit die nuwe hemel, Sy koninkryk kan sien.

2. Wat help dit dat ons mense so streef na aardse wins?
Hoe sal ‘n mens jou lewe kan ruil vir God se guns?
Nee, elkeen wat die lewe net vir homself wil hou,
is aan die Heer se opdrag, sy doel vir ons ontrou.

3. Die Here vra ons almal dat ons onsself verloën,
want só kan ons aan ander ons Heer se liefde toon.
Is daar ‘n blyer boodskap? Wat kan ons meer verwag?
Wie met die Here sterwe, herleef ook deur sy krag.

4. Wanneer die Here Jesus weer eendag t’rug sal kom,
kom Hy beklee met luister, met eng’le rondom Hom.
Dan kom Hy om te oordeel oor dade – goed en kwaad.
Volg jy Hom dan gehoorsaam. Dien Hom met woord en daad.

VONKK 219 “Wat die toekoms ook mag inhou”
Teks: Wat de toekomst brengen moge – Jacqueline E van der Waals (1868-1922); Is die toekoms blink of duister – Attie van der Colf 1989; nuwe teks: Jacques Louw 2012 ©
Melodie: BEECHER – John Zundel 1870
Orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Albert Troskie 1987 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Hoop en Voleinding

1. Wat die toekoms ook mag inhou,
wat daar alles wag op my,
kan ek aan U, Here, vashou,
want U sal my altyd lei.
Leer my, Vader, sonder vrae
U te volg as onweer woed.
Leer my, Here, sonder klae
U te loof, want U is goed.

2. Ek wil sing van al u liefde,
liefde ver bo my verstand.
Dankie, Vader, vir genade,
al die goedheid uit u hand.
Lyk die toekoms dikwels duister,
vra ek soms ook: “Waarom, Heer”? –
weet ek, ek sal fyn moet luister
wat U, Heer, vir my wil leer.

3. Wat die toekoms ook mag inhou,
hoe onseker alles is –
ek sal altyd aan U vashou,
omdat U my Vader is.
Lei my soos ’n kind wat soekend
in die donkerte moet loop.
Hoor my, Vader, as ek roepend
in my nood op U bly hoop.

F386. “Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul” (Benedictus)
(RUBRIEK: Flam – Seënbede)
Teks: Neil Büchner
Musiek: Neil Büchner
© Flam Musiek-Uitgewers
(Rom 15:13)

Mag die God van hoop
deur geloof jou vervul
met alle vreugde en vrede
sodat jou hoop
sterker kan word
deur die krag van Sy Gees.

Tweede:
Laat dit so wees: Amen.
(“jou” kan ook vervang word met “jul” as mense dit vir groep, bv uitreik-groep wil sing)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 9:51-62

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Kombineer die voorstel van Carolyn Brown en die uitstekende lesmateriaal.

“Lesson plans that work” som die boodskap as volg op:  “Rejection. To the disciples’ horror, the people of the village did not receive Jesus. Retribution, they insisted! “No,” said Jesus, moving on. Follow, they decided. But what would follow mean? Maybe to follow is to hold focus. Staying on focus involves choosing the important and not getting bogged down in the urgent. What is the important that we follow?”

Speel eers vinnig “Follow The Leader”.  Dan:
Kom ons verbeel ons daar is ‘n vierde moontlike dissipel, iemand wat Jesus graag wil volg:  ‘n kind.  Wanneer Jesus sê “Volg My”, antwoord die kind:  “Ek is nog ‘n kind.  Al wat ek nou kan doen, is om te leer om U te volg.  Ek sal ‘n dissipel wees wanneer ek groot is.” Maar kinders kan nou al dissipels wees!  Dink saam hoe kinders dissipels kan wees.  [“The premise for very young children is that most of the following they do is defined by someone else. One area they have open to them is to be who they are, bringing their fresh insight to those who will listen to them. They are also deeply prayerful persons, so the focus of this session is that to pray is to follow.”- LPTW]  Voeg dan by dat kinders veral vir Jesus kan volg deur te bid.  Laat hulle noem vir wie hulle almal kan bid.  Reël vooraf iemand om die kinders verder deur die kerkgebou te begelei – kombineer “Follow the Leader” en ‘n gebedstap.  Hulle stap saggies op hul tone en bid by spesifieke plekke:  vir die mense wat in die kerkkantoor werk, vir die kategete, vir die dominee, ens.
OF
Kinders kan goed met verse 51-56 identifiseer.  Die Samaritane sê dat Jesus en sy dissipels nie welkom is nie.  Kiknders het baie ervaring van uitgesluit word – deur grootmense, vriende, geheime klubs, spanne, ens.  Hulle sal verstaan hoe Jakobus en Johannes gevoel het, dat hulle die dorp wou vernietig.  Wat hulle moet hoor, is dat Jesus weier om mense wat hom uitsluit, terug te kry.  Hulle kan dan dink hoe ons ook soos Jesus kan optree wanneer ons uitgesluit word.

Preekriglyn

Daniel Berrigan se lewe is gekenmerk deur ‘n helder roeping en fokus. Hy was ‘n Amerikaanse professor, Jesuïete-priester, digter (15 volumes), outeur van meer as 50 boeke en vredesaktivis. Hy het sy lewe deur gefokus op die goeie nuus van Jesus, sê iemand, eerder as die slegte nuus van die keiser (die spesifieke party en maghebbers wat aan bewind was). Soos Elia van ouds was hy ook iemand wat mense se gewetes aangespreek en sosiale beroering gebring het – alles op grond van die goeie nuus van Jesus van Nasaret.

Berrigan is op 30 April 2016 oorlede, slegs ‘n paar dae voor sy 95ste verjaardag.

Hy het uit die moed van sy oortuiging opgetree. Hy het publieke protes teen die Viëtnam-oorlog gelei. In 1980 het hy General Electric se kernplofkopaanleg binnegesluip en bloed oor die missiele gegooi. Vir hierdie, en ander soortgelyke aksies, was hy op die FBI se lys van mees gesoektes en het hy ook verskeie kere tronkstraf uitgedien.

Vir Daniel Berrigan was sy optrede verbind aan sy geloof in Jesus Christus. Hy moes Jesus meer gehoorsaam wees as mense. Sy Credo spel dit uit:

I can only tell you what I believe; I believe:
I cannot be saved by foreign policies.
I cannot be saved by the sexual revolution.
I cannot be saved by the gross national product.
I cannot be saved by nuclear deterrents.
I cannot be saved by aldermen, priests, artists,

plumbers, city planners, social engineers,
nor by the Vatican,
nor by the World Buddhist Association,
nor by Hitler, nor by Joan of Arc,
nor by angels and archangels,
nor by powers and dominions,
I can be saved only by Jesus Christ.

Berrigan was ‘n realis wat ook met diep teleurstelling moes leer saamleef. Sy worsteling was dat hy die regte ding wou doen, mense se aandag op die regte prioriteite wou fokus, maar diep binne-in geweet het hy sal waarskynlik bitter min bereik. Nadat omtrent almal in die VSA die katastrofiese oorlog in Irak en Afghanistan gesteun het, het Berrigan gesê hy het nog nooit só ‘n lae verwagting gehad dat iets goeds sal gebeur nie.

Hy skryf dat al waaraan hy lewenslank vasgehou het was sy geloof in God. Sonde, selfsug en geweld het nie die laaste woord nie. Dit is nie die finale werklikheid nie In sy No Gods but One (2009) skryf hy:
There has occurred an intervention of God, for healing and reconciliation. An intervention named Jesus. We have to behave as though the truth were true.
Waarom leef “asof” die waarheid waar is? Want mens sien so min van die waarheid rondom jou.
In sy The Kings and their Gods (2008) vermaan hy gelowiges om te onthou hulle moet Christus uitleef. Hy gee die volgende raad:

Read the gospel closely, obediently. Welcome no enticements, no other claim on conscience. Mourn the preachers and priests whose silence and collusion signal plain revolt against the gospel. Enter the maelstrom, the wilderness; flee the claim that would possess your soul. Earn the blessing; pay up. Blessed — and lonely and powerless and intent on the Master — and, if must be, despised, scorned, locked up — blessed are the makers of peace.

Waar het Daniel Berrigan hierdie fokus op die evangelie en die verbetering van menslike lewe ontvang? Waar het hy die kapasiteit ontvang om te ly vir die toekoms wat hy nét met sy geloofsoë kon sien?

Hy het dit by Jesus geleer. In ons teks ontmoet ons hierdie gefokusde Jesus – gefokus op God se roeping en toekoms vir sy lewe. Ten spyte van die ontwrigting wat Jesus se lewensreis van gehoorsaamheid vir Hom ingehou het, het Hy God die Vader gehoorsaam nagevolg.

‘n Reis ontwrig

Jesus is in ons teks op reis na Jerusalem. Die eerste deel van sy bediening het in die noordelike provinsie van Israel, Galilea, afgespeel. Hier het Jesus die mense geleer en wonderwerke verrig. Dan kondig Jesus aan dat Hy moes ly en deur die mense verwerp sou word. Dit sou in Jerusalem gebeur. Daarvoor is dit nodig dat Jesus na Jerusalem moes gaan. Daarom sê ons teks Jesus het vasbeslote die reis na Jerusalem begin.

Reis in die antieke wêreld was ‘n ontwrigtende ervaring. Mens laat die veilige en bekende agter, en loop die risiko om onderweg wees, sonder beskerming te wees, aangewese op die beskerming van ander. Dit was dikwels onveilig om in die oop veld te oornag, sodat die ontvangs in ‘n dorp of stad belangrik was vir jou oorlewing.

Ons teks vertel van hierdie risiko. Die Samaritane en Jode sit nie langs dieselfde vuur nie. Hulle dink ook nie Jerusalem is die regte aanbiddingsplek nie. Daarom wil ‘n Samaritaanse dorpie Jesus nie ontvang nie. Jesus het mense vooruit gestuur om al die oornagreëlings te tref. Toe Jesus opdaag en die dorpie hoor Hy is op pad Jerusalem toe, gee hulle hom spreekwoordelik ‘n klap deur die gesig. Hulle gaan Hom nie ontvang nie.

Jesus bly vasberade reis, en verduur al die risiko wat dit meebring, ter wille van sy roeping. Daarom wys Hy sy dissipels tereg wat vuur uit die hemel op die dorpie wil afbid.

Hindernisse op die weg

Dit is belangrik om op te let hoe Jesus hierdie hindernis op sy weg hanteer.

Jesus skort oordeel oor die dorp op, omdat Hy juis op pad is om versoening tussen mens en God te gaan bewerk. Sy taak, roeping en fokus op wat voorlê, stempel sy optrede in die hede. Hy bly op die pad wat Hy ingeslaan het. Sy doel (toekoms) rig sy optrede in die hede. Hulle sit doodgewoon die reis voort na ‘n volgende dorp.

Jesus se prioriteit, soos ons nou gaan sien, is om steeds mense te roep om Hom te volg. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).

Hiermee gee Jesus ook vir ons ‘n patroon om na te volg. Ons leer by Hom dat opoffering ter wille van jou roeping ‘n feit is waarmee jy moet saamleef. Daar kom hindernisse op die pad, maar dit moet in die styl van Jesus hanteer word. Opponente van die evangelie moet Jesus se roepstem hoor, nie veroordeel en uitgewis word nie. Ons het ‘n uitnodigende styl om te volg op reis na die vervulling van ons roeping.

Oorsteek van grense

Die ontwrigting van die reis het baie met die oorsteek van grense te doen. Jesus is nie langer op sy tuisveld (Galilea) nie, maar in Samaritaanse gebied. Hier is vyandigheid, vooroordeel, persepsies oor die Jode, wat die wêreld moeilik maak.

Die reis is egter daarop ingestel om meer en meer mense te nooi na die koninkryk van God. Juis daarom is die oorsteek van grense, die ongerief en die uithou met die onvoorspelbaarheid van die vreemdelinge so belangrik.

Agter hierdie oorsteek van grense sit ‘n Goddelike drang – Jesus “moet” dit doen om by mense uit te kom wat kans moet kry om ingesluit te word. Juis daarom bevestig Jesus nooit in sy lering gerief en voorspelbaarheid nie. Die koninkryk plaas mens nie in ‘n veilige binnekring waar niks ooit uitgedaag of alles bloot voorspelbaar en gerieflik is nie.

Fokus, fokus, fokus

Ons teks onderstreep met dik, rooi lyne die belangrik rigting wat Jesus se roeping in sy lewe gebring het. Dit laat Hom die reis aanpak (die Goddelike “moet”), en oriënteer sy optrede terwyl hulle op reis is.

Langs die pad begin mense met Jesus te praat. Die gesprekke gaan oor die navolging van Jesus. Mense maak opmerkings, en Jesus antwoord, op ‘n manier wat ons help verstaan wat dit beteken om Jesus te volg.

‘n Eerste persoon sê hy sal Jesus volg waar Hy ook al gaan. Vir Hom wys Jesus op die ontwrigtende aard van dissipelskap, en ook op die risiko daarvan. “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie.” Wie Jesus wil navolg, moet weet dat dit jou hele lewe verander, en dat Jesus die nuwe oriënteringspunt word, wat jou lewe geweldig kan kompliseer.

Wanneer Jesus iemand anders nooi om Hom te volg, wil die persoon eers sy pa gaan begrawe. Hy wil nie sy fokus op sy oorlede vader prysgee voordat hy Jesus volg nie. Hy moet hoor dat die dooies hulself sal begrawe, maar dat die koninkryk van God die primêre uitgangspunt in sy lewe moet wees. Daar daag nuwe fokus in Jesus op.

‘n Derde persoon wil Jesus volg, maar net eers sy familie gaan groet. Ook hier antwoord Jesus deur roeping en fokus te beklemtoon. Iemand wat aanmekaar agtertoe kyk na hy of sy hand aan die ploeg geslaan het, is nie geskik vir die koninkryk van God nie. Die probleem is die wegkyk van Jesus, die agtertoe kyk, die besluiteloosheid oor watter rigting om in te slaan.

Die verlange na pa se begrafnis en die familie by die huis, is die verlange na die bekende stabiliteit en die gevestigde ordening van jou lewe. Die reis waarop Jesus is, en die navolging van Jesus, ontwrig hierdie ou orde. Dit skep nuwe koers en prioriteite. Die lewe gaan nie normaal voort wanneer mens besluit om Jesus te volg nie.

Twee lesse

Om saam te vat, kan ons sê hierdie gedeelte het vir ons twee lesse vir mense wat Jesus volg:

  • Jesus plaas ons op ‘n reis saam met Hom wat ons lewe in ‘n nuwe koers stuur.
  • Jesus leer ons om die kompas van ons lewe op God se roeping vir ons in te stel.

Wie sal vrywillig op so ‘n reis saam met Jesus gaan? Ons ontmoet ‘n oorredende Jesus in ons teks. Hy praat met ons, nooi ons, en stuur ons in ‘n nuwe rigting. Jesus is die Seun van God, en Een wat met die krag van sy woorde en werke mens nadertrek. Hy skep sin en betekenis in mense se lewens. Wie sy pad kruis, en wie se ore en hart oopgaan vir Jesus se identiteit en boodskap, weet net: sonder hierdie Jesus sal daar nooit weer sin, vrede en vervulling in my lewe wees nie.

Jesus soek egter nie bewonderaars wat ver, op die kantlyn, bly staan nie. Jesus soek mense wat saam met Hom reis, wat dit ook al verg. Jesus is op soek na toegewyde volgelinge.

Vir ons, wat Jesus dalk so lank al volg, is die versoeking om Jesus eintlik maar net as die een wat ons lewe en ons prioriteite seën en beskerm. Jesus is die een wat ons besittings, ons families en ons keuses veilig bewaar. Baie mense behoort aan ‘n kerk juis omdat hulle in die middelpunt wil wees, en deur Jesus en sy volgelinge vertroetel en versorg wil word.

Natuurlik roep die Bybel ons op om mekaar se laste te dra en mekaar lief te hê. Maar Jesus is nie so veilig en onskuldig soos ons Hom dalk dikwels sien nie. Ons kan maar net weer aan van die laaste woorde dink wat Daniel Berrigan geskryf het:

Read the gospel closely, obediently. Welcome no enticements, no other claim on conscience. Enter the maelstrom, the wilderness; flee the claim that would possess your soul. Earn the blessing; pay up. Blessed — and lonely and powerless and intent on the Master — and, if must be, despised, scorned, locked up — blessed are the makers of peace.

Dit klink soos ‘n dissipel wat Jesus nie net verstaan het nie, maar ook daadwerklik gevolg het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gebruik die lied “Will you come and follow me? (The Summons)”: laat die koor dit sing, leer dit as gemeente en sing dit saam, laat iemand dit voorsing, of speel die lied/video.

1. Will you come and follow me
If I but call your name?
Will you go where you don’t know
And never be the same?
Will you let my love be shown,
Will you let my name be known,
Will you let my life be grown
In you and you in me?

2. Will you leave yourself behind
If I but call your name?
Will you care for cruel and kind
And never be the same?
Will you risk the hostile stare
Should your life attract or scare?
Will you let me answer pray’r
In you and you in me?

3. Will you let the blinded see
If I but call your name?
Will you set the pris’ners free
And never be the same?
Will you kiss the leper clean,
And do such as this unseen,
And admit to what I mean
In you and you in me?

4. Will you love the ‘you’ you hide
If I but call your name?
Will you quell the fear inside
And never be the same?
Will you use the faith you’ve found
To reshape the world around,
Through my sight and touch and sound
In you and you in me?

5. Lord, your summons echoes true
When you but call my name.
Let me turn and follow you
And never be the same.
In your company I’ll go
Where your love and footsteps show.
Thus I’ll move and live and grow
In you and you in me.

Dankoffer

Slotsang
Lied 517 “Leer ons U vertrou, o Here” of
VONKK 219 Wat die toekoms ook mag inhou

Seën

Respons
F386. Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul (Benedictus)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.