Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die laaste Sondag van Koninkrykstyd is ook die einde van die kerklike jaar en staan beken as Sondag van Christus die Koning.

Hierdie Sondag is ook die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat mens geword het en wat weer in heerlikheid sal kom.

Die liturgiese kleure vir hierdie Sondag is wit en goud wat ook aangevul kan word met die koningsblou/pers van Advent. Simbole van koningskap soos ‘n kroon en ‘n septer kan die kanselkleed of banier in die aanbiddingsruimte versier. Dit is verkieslik om hierdie simbole met ‘n kruismotief te kombineer om te verseker dat die viering nie te triomfalisties verloop nie.

Indien die responsoriese gedeeltes om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ‘n gemeente is, kan ‘n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

Ander tekste

2 Samuel 23:1-7
23 Hier volg die laaste woorde van
Dawid:
“Dit is Dawid seun van Isai
wat praat.
Dit is ’n man wat praat,
een wat hoog geplaas is,
die gesalfde van
die God van Jakob,
die gevierde in die liedere
van Israel:
2“Die Gees van die Here het
deur my gepraat,
ja, sy woord was op my lippe.
3Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4is soos die môrelig as die son opkom
op ’n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5“God het my koningskap
goed gevestig,
Hy het aan my ’n verbond
vir altyd gegee,
behoorlik opgestel en goed bewaar.
Al my hulp, al my vreugde,
dit kom van Hom af.
6Maar die goddelose is
soos doringtakke
wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand
daaraan nie.
7Wie daarmee werk, doen dit
met yster of hout.
In ’n vuur brand hulle
heeltemal uit.”

Psalm 132:1-12 (13-17)
Die Here het ’n eed teenoor Dawid afgelê

132 ’n Pelgrimslied.
Dink tog aan Dawid, Here,
aan alles wat hy deurgemaak het,
2aan die eed wat hy teenoor die Here
afgelê het,
sy gelofte aan
die magtige God van Jakob:
3“Ek sal nie in my slaapkamer
ingaan nie
en nie op die bed
wat vir my reggemaak is,
gaan lê nie,
4ek sal my geen slaap gun nie,
en sal nie eens insluimer nie,
5totdat ek ’n plek vir die Here
gereed gemaak het,
’n woning
vir die magtige God van Jakob!”
6Ons het van die verbondsark gehoor
in Efrata,
ons het dit gevind in die Jaärsveld.
7Kom ons gaan sy woning binne,
kom ons buig daar in aanbidding
voor Hom.
8Kom na u rusplek toe, Here,
U en die ark, die teken van u mag.
9Gee aan u priesters die oorwinning,
laat u troue dienaars juig.
10Ter wille van u dienaar Dawid,
moet tog nie u gesalfde verstoot nie.
11Die Here het ’n eed
teenoor Dawid afgelê,
en dit staan vas, Hy sal daarvan
nie afwyk nie:
“Ek sal een van jou eie seuns
in jou plek laat koning word.
12As jou nakomelinge
hulle aan my verbond hou
en aan die verordeninge
wat Ek hulle leer,
sal ook hulle seuns vir altyd
op jou troon heers.”
13Ja, die Here het Sion gekies
en dit vir Hom as woning begeer:
14“Dit is my rusplek vir altyd;
hier wil Ek woon, dit is my begeerte.
15Ek sal Sion ryklik seën
met wat hy nodig het,
aan sy armes voedsel
in oorvloed skenk.
16Ek sal aan sy priesters
die oorwinning gee
en my troue dienaars sal juig.
17Daar sal Ek die heerskappy
vir Dawid vestig,
vir my gesalfde
’n nageslag op die troon verseker.
18Sy vyande sal Ek magteloos
laat toekyk,
maar sý kroon sal bly skitter.”

Openbaring 1:4-8
Aanhef van die brief
4Van Johannes.
Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!
8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Fokusteks

Johannes 18:33-37
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”

Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ‘n rower.

Ekstra stof

Hoofstuk 18-20 is die verhaal van 1) Jesus se inhegtenisneming en verhoor, 2) sy kruisiging, 3) sy opstanding en 4) verskyning aan sy dissipels. Hoofstuk 21 sluit die evangelie af met die herstel van Petrus se verhouding met Jesus.

Ons teks pas in die verhaal van Johannes 18:1–40 waar Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir ons. Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

18:28-40: Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC. Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ‘n verdediging van hulle optrede. Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ‘n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het. Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie. Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek. Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ‘n keuse tussen Barabbas, ‘n bewese misdadiger, en Jesus te gee. Hy meen dat hy ‘n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart. Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie. Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging. Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

Watter opeenstapeling van verspilde kanse. Judas verspeel sy kans op inkeer. Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer. Pilatus verspeel sy kans om Jesus ‘n regverdige verhoor te gee. En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen. Hy gaan nie die verraaier teë nie. Hy dwing die Jode nie tot verering nie. Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie. Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 168 of VONKK 34 of Flam 21

Votum: Openbaring 1:7-8

Respons: VONKK 32

Seëngroet: Openbaring 1:4-6

Lofsang: Lied 427 of Flam 77

Toewyding: Lied 271 of VONKK 28

Geloofsbelydenis: (Fragment van Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan)

Respons: VONKK 37

HOOR

Gebed: Lied 471 of Flam 51

Skriflesing: Johannes 18:33-37

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 264 of Flam 57

Seën

Respons: Lied 189

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 168 “Heilige Jesus” of
VONKK 34 “O Christus, Here Jesus” of
Flam 21 “In Die Hemel Is Die Heer”

Votum: Openbaring 1:7-8
Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!
“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Respons 
VONKK 32 “Ons Aanbid U, Christus Heer”

Seëngroet: Openbaring 1:4-6
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Lofsang
Lied 427 “Alle volke, loof die Koning!” of
Flam 77 “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”

Toewyding
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe” of
VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”

Geloofsbelydenis
Ek glo in hierdie Seun
die Timmerman van Nasaret
wat gekom het
en kom om ons te ken
elkeen na sy naam ­
in die fynheid en die grofheid van sy grein
en in die jaarringe van sy pyn.
Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ‘n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota ­
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ­–
styf teen die braille van Sy lyf.
(Fragment van Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan, uit “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)

Respons
VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Gebed) Teks en musiek: Rick Moser © 1994 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart,
koning van my lewe,
U wil ek bemin,
U lof besing vir ewig.
U het my bevry
my sondeskuld vergewe.
Koning van my lewe,
koning van my hart.

F21. “In Die Hemel Is Die Heer” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Verwondering) Teks en musiek: Tom Hiemstra Teks: (strofes 3,4 onbekend) © 2001 MAR Gospel Music Publishers (vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD Ons Koning kom weer)

1. In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in sy Woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

2. Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

3. Drie maal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

4. Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

O Christus, Here Jesus, o Christus, Here Jesus!
O Christe Domine Jesu, o Christe Domine Jesu!

VONKK 32 “Ons Aanbid U, Christus Heer”
Teks: Adoramus te Domine – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

O _______
Ons aanbid U, Christus, Heer.

O _______
Ons aanbid U, Christus, Heer.

O _______
Adoramus te, O Christe.

O _______
Adoramus te, O Christe.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”
Teks: Oculi nostri – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008 Musiek: Jacques Berthier 192301992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed / Geloof en Vertroue

Ons hou ons oë op Jesus, die Here.
Ons hou ons oë op Jesus, ons Here.
Our eyes are turned to the Lord, Jesus Christ.
Our eyes are turned to the Lord God, our Saviour.

Oculi nostri ad Dominum Jesum,
oculi nostri ad Dominum nostrum.

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)” 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

F77. “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Soekie Rautenbach en Danny Anthill © Brettian Publishers
(Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

1. Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja!
Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!

2. Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja!
Jesus, sterke God, eer Hom!
Halleluja!

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God” of
Flam 51 “Koning Van My Hart”

Skriflesing: Johannes 18:33-37

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Sluit aan by die kerkjaar: Sondag van Christus die Koning.
Jy kan ‘n skildery van Jesus voor Pilatus aflaai hier (om die waarheid te sê, meeste kunswerke van Jesus voor Pilates sal werk).

Gesels met die kinders en gemeente:
Wie lyk soos ‘n koning op die prent? Hoekom sê jy so?
Wie lyk nié soos ‘n koning nie? Waarom dink jy so?

Verduidelik dan wie Pilatus en wie Jesus is. Dan kan jy praat oor wie regtig die koning is en kan julle gesels oor wat ons van Jesus se koningskap leer uit die skildery.

Jy kan dieselfde tipe gesprek – waarin jy Jesus se koningskap met wêreldse koningskap kontrasteer – hê met behulp van ‘n goue speelgoed kroon en ‘n doringkroon. Wys almal daarop dat Jesus die doringkroon gekies het.

Jy kan ook aansluit by die gesprek oor wat waarheid is (dalk meer gepas vir die grootmense, maar dis twee vlieë met een klap!) deur die storie van die Sewe Blinde Muise deur Ed Young te vertel. Eendag het daar ‘n vreemde nuwe ding by die muise se watergat verskyn. Deur die verloop van ‘n week, gaan elke muis om dié ding te ondersoek. Elkeen kom op iets anders af en en sê dus ook dat dit iets anders is as wat die ander muise gesê het. Op die sewende dag gaan die sewende muis. Die muis slaag daarin om al die ander muise se inligting bymekaar te sit en te besef dat die nuwe besoeker by die watergat ‘n olifant is.

Pilatus probeer verstaan wie Jesus is, maar sukkel om te verstaan omdat hy net van een hoek af kyk. Om Jesus en sy koningskap beter te verstaan, moet ons van verskillende hoeke af kyk.

Kry ‘n video van die Sewe Blinde Muise hier.

Preekriglyn

[Nota: Die preek gebruik Johannes 18:33-40 as teksafbakening.]
Vandag het ‘n besondere tema in die kerklike jaar. Ons vier die Sondag van Christus die Koning. Ons aandag fokus op die koningskap van Jesus, en die betekenis daarvan vir ons lewe.

Ons teks kom uit die laaste ure van Jesus se lewe voor sy kruisiging. Jesus is hier in gesprek met Pilatus, die senior Romeinse staatsamptenaar (prokurator) in beheer van Judea. Die Joodse godsdienstige leiers het hom vroeër by Pilatus aangekla. Op die manier kon hulle ‘n groep soldate kry om Jesus gevange te neem.

Pilatus sou hom natuurlik nie inmeng by ‘n interne godsdienstige twis nie. Daarom moes die Joodse leiers Pilatus oortuig dat Jesus ‘n gevaar vir die Romeinse ryk inhou. Hulle beeld Jesus uit as ‘n revolusionêre figuur wat die staat omvêr wou gooi.

Hulle diepste vrees en afsku is natuurlik Jesus se afwysende houding teenoor die tempel en die Jode se godsdienstige gebruike. Daarmee is die godsdienstige leiers se houvas op die tempel in gevaar. Vir hulle is Jesus se optrede moeilikheid en gevaar.

Vandag sal ons sê Jesus se hutsmerke (hash tags) staan hulle nie aan nie: #TempleMustFall #RomeMustFall #OneTrueKing #KingdomOfGod.

Die leiers van die Joodse Raad is absoluut verkeerd as hulle dink Jesus kry sy gesag by die mense en hulle ondersteuning. Hulle is verkeerd, want Jesus is nie ‘n Malema wat die skare oprui nie.

Ui sy gesprek met Pilatus blyk duidelik dat Jesus, die Koning, sy gesag nié van die aarde kry nie. Sy gesag is wel vir die aarde, want Hy leer sy dissipels om te bid dat God se koninkryk op die aarde sal kom. Maar sy gesag is nié van die aarde afkomstig nie. Dit het ‘n goddelike oorsprong.

In gesprek met Pilatus

Op die oog af lyk die gesprek tussen Jesus en Pilatus eenvoudig en op die man af. Pilatus wil weet of Jesus die Koning van die Jode is.

Jesus reageer deur te sê Hy is inderdaad ‘n Koning. Jesus beskryf sy koninkryk egter só dat Pilatus deur die valsheid van die Jode se aanklag kan sien. Hy doen dit op twee maniere:

Eerstens definieer Jesus sy koninkryk negatief:

My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. (36)

Dan definieer Jesus sy koningskap positief. Ja, sê Jesus (37): “Ek is ‘n Koning.” Jesus se koningskap bestaan uit die volgende:

Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.

Koninkryk

In Afrikaans word die Griekse woord basileia met koninkryk vertaal, maar wanneer Jesus dit begin verduidelik, is dit verstaanbaar dat dit nie vir Hom gaan oor ‘n “plek” nie, maar oor die wyse waarop God se regering uitgevoer word. Koninkryk of koningskap is eintlik ‘n werkwoord, ‘n funksie. Wanneer Jesus dan sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie . . .” verwys hy na die oorsprong daarvan en nie na ‘n fisieke plek nie.

Die Johannes-evangelie verwys herhaaldelik daarna dat Jesus se oorsprong uit God is (3:31; 8:23; 16:28) en dat sy koninkryk dieselfde oorsprong het.

Dit is duidelik dat Jesus God se regering anders toepas as wat die Romeinse Ryk of ander aardse konings. Dit word in vers 36b onderstreep: ” As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie.”

Dit wys vir ons op die kontras tussen om aan God of aan die wêreld te “behoort”. Die Griekse woord huperetai wat met dienaars of volgelinge vertaal kan word, is dieselfde woord wat op ander plekke vir die tempelpolisie gebruik word (bv Joh 18:3; 19:6). Op hierdie wyse is Jesus eintlik besig om op ironiese wyse sy “offisiere / volgelinge” en die tempel se “offisiere/volgelinge” met mekaar te kontrasteer. Jesus se koninkryk, anders as wat die geval met Pilatus se koninkryk is, is op diens gerig en nie op die handhawing van sekuriteit met behulp van mag nie.

Deur God gestuur

Jesus is deur God gestuur om oor die waarheid van God getuienis af te lê. Jesus kom God en mens met mekaar verbind, en vestig so ‘n totale nuwe manier van lewe op aarde. Let weer op sy woorde in vers 37:

Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.

Eerstens, bevestig dit die verbinding tussen Jesus se oorsprong in God en sy getuienis oor die waarheid. Daarmee plaas dit Jesus se koningskap in lyn met Jesus se sending na die wêreld en bevestig dat die oorsprong van Jesus se koningskap nie “van hierdie wêreld” is nie.

Tweedens, herinner die uitdrukking, “Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat ek sê”, aan die verhaal van die goeie herder in Johannes 10. Daar beteken dit om aan die waarheid te behoort, om een van Jesus se skape te wees. Om “aan die waarheid te behoort” is dus om ‘n dissipel van Jesus te wees en in Jesus God se waarheid te ontdek, om sodoende die woorde van God in Jesus se woorde te hoor.

Beelde van herderskap het politieke ondertone in Israel gehad. Die herder was ‘n algemene beeld vir die koning. Hiermee wil Johannes ons ook wys op die regte raamwerk waarbinne Jesus se koningskap geïnterpreteer moet word.

Oorsprong by God

Reeds die eerste vers van die evangelie wys op Jesus se koningskap (Johannes 1:1): “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Die oorsprong van Jesus se koningskap is by God.

Johannes gaan met die tema voort wanneer hy in vers 14 skryf: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” In die oorspronklike Grieks word die woord sarks (vlees) gebruik – dus die koningskap as vleesgeworde Woord. In Johannes 18:38, in die vers wat volg direk na ons teksgedeelte, reageer Pilatus op Jesus se getuienis aangaande sy koningskap deur te vra: “Wat is waarheid?”

Ons moet hierdie drie verse (Joh 1:1, 14; 18:38) as raamwerk in gedagte hou wanneer ons nadink oor Christus die Koning. Ons moet vra: Watter gebeure in die evangelie het daartoe aanleiding gegee dat Jesus oor sy koningskap soos volg teenoor Pilatus bely het? “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie . . . as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (18:36).

Beide verborge en openbaar

Oor hierdie koninkryk kan ons baie dinge sê, maar een saak wat in die Johannes-evangelie duidelik na vore kom, is dat hierdie koninkryk beide verborge en openbaar is. Dit is dus ‘n paradoksale koninkryk en koningskap. By Jesus se doop is dit Johannes die Doper wat ‘n visie van hierdie koningskap, wat aan die kruis geopenbaar sal word, soos volg verwoord: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29) en dan in Johannes 1:34 verklaar: “Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Soos wat die verhaal oor Jesus se koningskap in die eerste hoofstuk van die evangelie begin ontvou, reageer Jesus op twee van Johannes se navolgers met ‘n belofte: “Kom saam, dan sal julle sien.” Een van hulle is Andreas wat op sy beurt sy broer Simon uitnooi met die belydenis: “Ons het die Messias gekry!” Jesus neem weer die inisiatief en roep Filippus wat op sy beurt weer vir Natanael uitnooi: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het” (Joh 1:45), en Natanael roep uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus se eie visie van die Seun van die mens voltooi hoofstuk 1: “Verder sê Jesus vir hom: ‘Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe’.”

Belydenisse aangaande die koningskap van Jesus kom dus dwarsdeur die eerste hoofstuk van die Johannes-evangelie voor. Tog vind ons dat die koningskap van Jesus vir die wêreld verborge bly in die res van die evangelie. Mens ontdek die regering van Jesus deur jou onder die regering van Jesus te plaas.

Die geheim van die koninkryk bly verborge, omdat Jesus se regering kom in die vorm van diens en selfprysgawe, in die vorm van ‘n kruis.

‘n Lydende Koning

Die eerste openbare handeling in Jesus se bediening vind by die bruilofsfees van Kana plaas. Soos wat die wyn voorraad begin uitgeput raak, maak Jesus se moeder hom van die probleem bewus. Aanvanklik klink Jesus se woorde amper soos ‘n vorm van verwerping, maar in werklikheid laat dit die fokus op die kruis val: “Waarom sê U dit vir my? My tyd het nog nie gekom nie” (Joh 2:4). Dit is die eerste keer wat Jesus na die uur van die kruisiging verwys as “die uur” wanneer sy koningskap die duidelikste sigbaar sal raak en ook vir almal duidelik sal wees. ‘n Vreemde koppeling van kruisiging en koningskap?

Aan Nikodemus openbaar Jesus die waarheid van sy kruisiging met die gedagte van verhoging of om “op gelig te word”. Die teken van verlossing vir die Israeliete van die dodelike slange in die wildernis (Num 21:4-9) is die teken van Jesus se kruis: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”

Gekruisig, nie gestenig nie

Iemand wat gekruisig is, is as ‘n vervloekte beskou. Daarom is dit betekenisvol dat Jesus spesifiek gekruisig word deurdat die Jode Hom na Pilatus neem om verhoor te word.

Sy eie mense lewer valse getuienis voor Pilatus deur te sê: “Ons mag nie iemand teregstel nie” (Joh 18:31). Volgens Levitikus 24:16 was dit wettig om iemand te stenig wat aan godslastering skuldig was. (In Handelinge 7 huiwer hulle nie om Stefanus te stenig nie.) Verskeie kere het Jesus Homself met die Naam van God geïdentifiseer: “Dit verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.” Die identifisering van Jesus met die “Ek is” (ego eimi), dit wil sê met die Naam van God (Eks 3:13-15), is teenwoordig in al die ander “Ek is”-uitsprake van Jesus in die Johannes-evangelie. As hulle wou, sou hulle Jesus kon stenig.

Die godsdienstige leiers mislei Pilatus egter om gekruisig te kry. Die doel is om Jesus absoluut in die publiek te verneder, en Hom op die ergste denkbare manier te laat sterf. Ironies word die “teken” van Jesus se dood deur die Romeinse kruisiging ‘n profesie van Jesus se koningskap: “Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe” (Joh 18:32). Jesus sal dus fisiek aan die kruis opgelig word en daarmee sal Jesus verhoog en aan die kruis gekroon word. Die kruis is Jesus se kroon. Sy lyding en diens is sy koningskap.

“Koning van die Jode”

Uiteindelik vrees Pilatus ‘n volksoproep en besluit om Jesus te laat kruisig. Hy skryf die klag bokant Jesus se kop: “Koning van die Jode.” Pilatus bevestig ironies genoeg Jesus se koningskap, soos wat die titel op die kruis getuig. Die hoëpriesters kla oor die titel, maar Pilatus weier om die titel te verander wat in Hebreeus, Aramees en Grieks aangebring is: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode” (Joh 19:19-22).

Waarheid

Jesus is die ware Koning. Die waarheid is in Jesus Christus beliggaam. Waarheid is daarom nie ‘n stelling wat bewys kan word nie. Waarheid is ‘n Persoon wat ons met God verbind. Waarheid is die Een wat op verhoor voor Pilatus gestaan het. Daarom is dit so betekenisvol dat Pilatus aan die einde van die gesprek vra: “Wat is waarheid?” (Joh 18:38). Ons het die ware getuienis, omdat die waarheid as Jesus Christus voor ons staan. Die Waarheid is “die Woord wat vlees geword het” (Joh 1:14).

Dit is inderdaad Christus die Koning en die ware getuienis en verkondiging van Christus is die Koning Sondag. Jesus is die manier waarop God weer Koning word oor God se wêreld.

Ons kan dit van die dakke uitroep en selfs tweet: #JesusIsWaarheid #JesusIsHerder #JesusIsDiens.

Wat beteken dit vir ons? Almal wat Jesus volg, word kinders van God. Ons word deur Jesus geleer hoe om onder God se regering te lewe. Vir ons beteken dit om ‘n lewe van diens en gehoorsaamheid te lei. Soos Jesus, moet ons ook ons lewe vir ons naaste gee. Totdat Hy weer kom.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!” of
F57. “Ek Sien In My Gees” (Oorwinningslied)

Seën
Mag die leifde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(William Temple in Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Respons: Lied 189 “Halleluja!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.