Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Seisoen van die Voleinding
Die Skriflesing wat handel oor rampe en vervolging is moeilik om te lees en nog moeiliker om te hoor. Die liturgie moet die gemeente geleentheid bied om die woorde van troos  en die versekering van die Here hoor.

Ander tekste

Jesaja 65:17-25
’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde
17Ek gaan ’n nuwe hemel
en ’n nuwe aarde skep;
aan dié wat daar nou is,
sal daar nie meer gedink word nie,
hulle sal nie onthou word nie.
18Wees bly, en jubel sonder ophou
oor wat Ek gaan skep:
Ek gaan ’n Jerusalem skep
wat vol blydskap is,
sy inwoners sal vreugde hê.
19Ek sal jubel oor Jerusalem,
Ek sal bly wees oor my volk.
Daar sal in Jerusalem
nie meer iemand gehoor word
wat huil of om hulp roep nie.
20Daar sal geen kind sterf
wat maar ’n paar dae oud is nie
en geen grysaard wat nie sy jare
uitgeleef het nie.
As iemand op honderdjarige leeftyd
sterf,
sal dit beskou word
asof hy jonk gesterf het;
as hy nie honderd word nie,
sal hy beskou word
as iemand wat vervloek is.
21Dan sal mense huise bou
en self daarin woon,
hulle sal wingerde plant
en self die druiwe eet.
22Hulle sal nie huise bou
waarin ander sal woon nie,
hulle sal nie wingerde plant
waarvan ander die druiwe sal eet nie.
My volk sal so oud word
soos ’n boom.
Dié wat Ek uitverkies het,
sal self die vrug van hulle handewerk
geniet.
23Hulle sal hulle nie
tevergeefs vermoei nie,
hulle sal nie kinders hê
vir wie daar rampe wag nie,
want hulle sal ’n volk wees
wat deur die Here geseën word,
hulle en hulle afstammelinge.
24Voor hulle nog roep,
sal Ek antwoord,
terwyl hulle nog praat,
sal Ek hulle gebed verhoor.
25Die wolf en die lam sal saam wei,
die leeu sal strooi vreet soos ’n bees,
en stof sal die kos van die slang wees.
Op my heilige berg
sal niks verkeerds gedoen word nie,
niks vernietig word nie,
sê die Here.

Psalm 12
Die Here hou oor ons wag
12 Vir die koorleier: met basstem.
’n Psalm van Dawid.
2Help tog, Here,
want daar is geen vrome meer nie,
daar is geen betroubare mens
meer oor nie.
3Die mense bedrieg mekaar;
hulle mislei mekaar met vleitaal.
4Die Here sal al die vleitaal uitroei
en die grootpratery
van die mense 5wat sê:
“In ons tong lê ons krag.
Ons lippe help ons.
Ons buig vir niemand nie.”
6Maar die Here sê:
“Die swakkes word mishandel
en die armes kla.
Daarom gryp Ek nou in
en gee uitkoms aan dié
wat daarna smag.”
7Daar is niks vals in wat die Here sê nie.
Sy woorde is soos silwerwat oor en oor in ’n oond gesuiwer is.
8U, Here, hou oor ons wag.
U sal ons vir altyd
teen sulke mense beskerm,
9selfs al pronk goddeloses nog rond
en al heers die gemeenheid nog
tussen die mense.

2 Tessalonisense 3:6-13
Die plig om te werk
6Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.

7Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê 8of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ’n las te wees nie. 9Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle ’n voorbeeld wees wat julle moet volg. 10Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”

11Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. 12Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

13Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. 14En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry. 15Moet hom egter nie soos ’n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos ’n broer.

Fokusteks

Lukas 21:5-19
Die klein gawe van die arm weduwee
(Mark 12:41–44)
21 Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2Hy sien toe ook ’n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt 24:1–2; Mark 13:1–2)
5Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6“Alles wat julle sien—daar sal ’n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt 24:3–14; Mark 13:3–13)
7Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”

8Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”

10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.

12“Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens ’n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Die profetiese rede: die verwoesting van Jerusalem
(Matt 24:15–21; Mark 13:14–19)
20“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21Dan moet dié wat in Judea is, die berge invlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid.

23“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf.

24“Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Mark 13:28–31)
29Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid

34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

37Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

Ekstra stof

Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed
Die tempel bly die middelpunt van hierdie fase van Jesus se bediening.  Hy lewer ’n kort stukkie kommentaar op die gawes wat mense bring (21:1-4 – die klein gawe van die arm weduwee) en ’n langer profetiese rede in 6 dele:

  • 21:5-6: die tempel sal afgebreek word in die afsienbare toekoms;
  • 21:7-19: allerlei rampe en vervolginge sal daarop volg;
  • 21:20-24: Jerusalem sal verwoes word;
  • 21:25-28: Die Seun van die mens sal terugkeer;
  • 21:29-33: Die koninkryk van God sal kom (gelykenis van die vyeboom);
  • 21:34-38: Die dissipels moet waaksaam en biddend bly.

Die profetiese rede
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling, waarvan die belangrikste die wederkoms is.

21:7-19
Dit tref my dat Jesus vroeër vrylating vir gevangenes verkondig het as ’n integrale deel van sy bediening (4:18), en inderdaad ook gevangenes bevry het, bv van siekte of besetenheid, maar NIE fisiese vrylating noodwendig vir Homself of sy dissipels in die vooruitsig stel nie.  Hy staan aan die vooraand van sy eie inhegtenisname (22:47 vv) en spel die pad van sy volgelinge in die profetiese rede uit as een wat baie keer juis in die gevangenis sou eindig (21:12), soos Johannes die Doper al aan die begin van sy bediening ervaar het (3:20), en Petrus, Johannes (Hand 4 en 5), Stefanus (Hand 6 en 7), Paulus, Silas (Hand 16) en nog talle ander sou ervaar hierna.

Die koninkryk kom dus nie deur prag en praal nie, en verseker nie sonder lyding en opoffering nie. Daarom is die arm weduwee se geskenk ook so belangrik, omdat sy juis uit haar gebrek vrygewig is, want dit is hoe die koninkryk kom, deur mense wat alles feil het vir God.

Sulke geleenthede is gulde geleenthede vir getuienis (21:13), en kan letterlik soms IN die gevangenis vir mense vrylating beteken (Hand 5 – bv deur engele).  Maar daarby moet ’n mens ook onthou dat Jesus se woorde nie net op letterlike bevryding dui nie, maar ook – en moontlik is dit nog belangriker – die vrylating van vergifnis en ‘n verhouding met die Here self.

21:20-24
Lukas verbind die verdrukking wat aan die kom is aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die verowering van Jerusalem in 66-70 nC verbind kan word.

21:25-28
Lukas praat hier van kosmiese tekens (son, maan, sterre word ontwrig) wat die wederkoms sal voorafgaan, en van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe”(tsunamis?).  Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is.  Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!

21:29-33
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk.  “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus.  Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word.  En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.  Maar uiteraard is daar dele wat nog wag om vervulling.

21:34-38
Jesus sluit af deur sy dissipels te waarsku teen die gevare wat beide die lekker en die sorge van die lewe inhou (onthou die gelykenis van die saaier) en moedig hulle aan om te volhard in waaksaamheid en gebed.

Let op dat die hoofstuk afsluit met ’n beskrywing van Jesus wat in ‘n ritme van lering in die tempel bedags, en stilword op die Olyfberg snags besig is, terwyl die Joodse leiers ook besig is … om sy dood te beplan (22:2).

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 481 of VONKK 90 of Lied 602

Votum: Ps 84:2-4

Seëngroet

Lofsang: Flam 57 of Lied 213

Toenadering
Toewyding
Geloofsbelydenis
Getuienis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 21:5-19

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 174 of Lied 584

Seën

Respons: Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
F481. Ek Sien ’n Nuwe Hemel Kom of
VONKK 90 Maranata! of
Lied 602 “Ek sien ’n nuwe hemel kom”

Votum
Ps 84:2-4
2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. 4Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!

Seëngroet

Lofsang
Flam 57 Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) of
Lied 213 “Kom, volk van God, verhef jul stem”

Toenadering
Met vandag se teks beweeg ons tussen vrees en vertroue.  Wanneer ons die voorspellings van rampe en vervolging lees, kan ons nie anders asom angstig om ons rond te kyk nie.
[Gee geleentheid vir stil gebed, waar mense alles wat hulle bang maak na God kan bring.  Of noem ‘n paar goed uit jul konteks wat mense bang maak en sing telkens, na elke saak, ‘n lied soos 242 Here, onferm U, of 243 Heer, wees genadig of 278 Hoor ons bid, o Heer.  Sing die “amen” eers na die laaste saak.  In ’n gemeente met ’n meer moderne styl, speel Joe Niemand se Ek sal nie bang wees nie]

Toewyding
Ons bely dat ons misluk.
Ons erken U glorie, Heer, en ons onthou dankbaar U reddingsdade.
Maar die wêreld word donker en bedreigend.
Ons geloof vervaag en ons verloor moed.
Wanneer dit waarop ons hoop, vertraag word,
word ons teleurgesteld en ontnugter.
Wanneer liefde en waarheid moeilik en pynlik raak,
Kies ons eerder gemak en selfbelang.
Wanneer U ver en stil voel,
Word ons ontrou en traag.
Verdryf die donker uit ons harte,
Die sinisme en die spot,
Vul ons harte en gedagtes met herinneringe van U liggaam aan die kruis
En van die leë graf,
Vul ons ore met eggo’s van vergifnis
En vul ons lewens met weerkaatsings van Jesus se glorie.
Amen

Geloofsbelydenis
Tussen vrees en vertroue, bely ons dat ons bly glo [‘n lidmaat lees voor]:
Ek glo in ’n geheimsinnige Iemand wat naby my is, wat binne-in my is, wat my armsalige gespartel en gespook sien, wat my dan stilletjies vashou en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.  Ek het dit vele male in my lewe ervaar as ek wegsing en meegevoer word deur die strome van die lewe wat my na onder wil trek.  Maar ek het ook in beslissende oomblikke in my lewe ondervind dat ek opgetel en b=hoog bo die water gedra word.  Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.  Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.  En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees, Iemand wat my vashou, Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.  Ek glo.  (Herman Bavink aangehaal in Wepener, Cas:  Soos ’n Blom na die son draai)

Getuienis
Gee kans vir getuienis van vertroue te midde van rampe, vervolging en vrees.

Liedere

VONKK 90 “Maranata!” 

Maranata! Maranata! Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus! Kom, Heer Jesus! Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

F481. “Ek Sien ’n Nuwe Hemel Kom”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en voleinding)
Teks: Izak de Villiers 1978;  Geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers
Musiek: Retief Burger Kopiereg: © Urial Publishing (Opgeneem op Luidkeels Dieper)

Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry.
Die see en al wat skei verdwyn, God kom by ons bly.

Vers2:
Die nuwe stad Jerusalem daal uit die hemel neer.
Skoon soos ’n bruid in heerlikheid, geliefde van die Heer.

Koor:
Kyk, Hy kom (die Hemelkoning kom vir ons).
Kyk, Hy kom (’n glorieryke wederkoms).
Kyk, Hy kom (die bruid deur al die eeue sing): Jesus kom!

Vers3:
Die Heer droog al die trane af. Verby is droefheid, dood.
Ja, pyn en smart wyk uit die hart; ons moeite, angs en nood.

Vers4:
“Kyk Ek maak alles nuut,” sê God. “Laat hom wat dors het, kom,
en hy sal vind, hy is my kind. Ek is ‘n God vir hom”.

Koor:

Brug:
Oorwinnaars, sal ons alles erf.
Oorwinnaars, drink uit die fontein
van lewenswater, heerlik, rein en God sal oor ons skyn. (x2)

Einde:
Jesus kom, Jesus kom…

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) “
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit  © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882;  Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883 Kantoryverwerking: James McGranaham 1883
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Hier is ons Here, mense wat hier saamgekom het met ons kommer en hartseer, met ons vreugde en drome.
Hier is ons Here, mense wat druk besig is met studie en werk en meestal maar meegesleur word in die stroom van oppervlakkige gejaagdheid.
Hier is ons Here, mense wat daagliks die godsdiens van geld, mag en status inasem en meedoen aan onreg en boosheid.
Ons bid:  Laat ons tog nie goddeloos word en té gewoond raak aan die realiteit om ons nie.
Laat die skare van geloofsgetuies van alle tye ons bemoedig en uitdaag tot volharding in die geloof.
Amen
(Deur Jan de Jongh, aangehaal in Gebedeboek met liturgiese voorstelle, Luk. Verbi.BM)

Skriflesing: Lukas 21:5-19

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hierdie is ‘n moeilike gedeelte om aan kinders oor te dra.  Jy kan dalk fokus op die gedagte dat Jesus sê dat dit nie gaan oor “goed” (“stuff”) nie.  Dit gaan om die nuwe ding wat God doen.  Dis nie geboue – selfs kerkgeboue – wat belangrik is nie.  Geboue hou nie.  Dit is ons liefde vir God wat blywend is.

Verduidelik dat vandag se teksgedeelte gaan oor van God se gunsteling goed.  Jesus en sy vriende staan buite die tempel.  Die tempel as ‘n reusagtige, pragtige plek van aanbidding, amper soos ons kerke vandag.  Mense het vir baie jare gewerk om hierdie reusagtige aanbiddingsplek te bou en almal het gedink dis wonderlik.  Tog het Jesus iets gesê wat hulle gedink het baie vreemd is.  Jesus sê die tempel is mooi, ja maar dit gaan eendag inmekaarval.  Dit gaan nie staande bly nie.  Tempels is okay, maar dit is nie een van God se gunsteling goed nie.  God se gunsteling goed is mense wat lief is vir God.  God se gunsteling goed is woorde:  die goed wat ons oor God sê, die goed wat ons vir God sê.

Sing ‘n lied saam met mooi woorde oor of vir God.  Kies ‘n lied met lekker bewegings.  Verduidelik die bewegings vooraf en doen dit saam terwyl julle sing.
OF
Gesels oor die idee van “when the going gets tough, the tough get going” – om te volhard wanneer dinge moeilik is:  Pas Sharon Blezzard se idees aan met jou eie stories en voorbeelde en vra die gemeente om ook voorbeelde te noem:  “When I was a little child, I had a horrible time learning to tie my shoes. No matter how many times my mother would show me, no matter how many clever analogies or illustrations she tried to employ, it took me a long time to master the fine motor skills needed for the task. I kept working at it, and now tying my shoes is second nature. In high school, I had trouble with math and chemistry. I STILL haven’t mastered those subjects well, but I keep trying to hone my skills and understand. There will always be things that are hard in life. Invite the children to share some things that are difficult for them. Jesus told his disciples that following him was going to be tough, but he promised them they were not alone. We need to persevere, to keep going, trusting that God is with us.”

Preekriglyn

Ons teks begin deur te vertel hoe sommige dissipels oor die luisterryke tempel gepraat het, die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was (5).

Markus vertel dat een van die dissipels so opgewonde geraak het, hy wou hê Jesus moet ook deelneem aan die gesprek: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!” (13:1).

In Jesus se tyd was die tempel in Jerusalem inderdaad ongelooflik mooi, ‘n argitektoniese meesterstuk wat enige wêreldstad tot vandag toe sou begeer om te hê. Salomo se tempel is eeue vantevore verwoes, maar ‘n tweede tempel is later gebou. In Jesus se tyd het koning Herodes die Grote die tempel uitgebrei en omskep in ‘n pragtige, ryklik versierde gebou.

Die tempelkompleks het uit die Allerheiligste gedeelte bestaan, wat slegs die hoëpriester een keer per jaar op die Groot Versoendag kon betree. Dan was daar die heilige gedeelte waar priesters offerandes gebring het. Die Lukasevangelie begin met ‘n toneel waar Johannes die Doper se pa, Sagaria, offerandes in die heilige bring. Daar was ook verskeie ander voorhowe en ruimtes in die tempelkompleks.

Die tempel self was sowat 16 verdiepings hoog, glinsterend wit van buite. Die tempel was op die tempelberg geleë, wat omring was met stutmure. Die hele tempelterrein was sowat 450 meter lank. Wat ons vandag as die klaagmuur ken, is ‘n oorblyfsel van die oorspronklike stutmuur van Herodes se tempel. Besoekers weet hoe groot en indrukwekkend die klippe of stene waaruit die stutmuur gebou is, vandag nog lyk.

Dit is egter net die stutmuur wat oor is. Van die tempel self het nie een klip op die ander gebly nie. Die tempel is in 70 n.C. verwoes, toe die Jode in opstand teen die Romeine gekom het. In ruil daarvoor het Rome die tempel platgevee.

Jesus en die tempel

Ons teks speel in die laaste week van Jesus se lewe voor sy kruisiging af. In Lukas 20 en 21 het ons talle voorbeelde van Jesus se lering en optrede, telkens by die tempel. In hoofstuk 19 bereik Jesus die einde van sy lang reis na Jerusalem. Hy dryf die handelaars uit die tempel, en bring dan sy dae by die tempel deur, besig om die mense te leer. Lukas vertel dat die Joodse leiers vyandig was en Jesus graag om die lewe wou bring (20:19), terwyl die mense behoorlik aan sy lippe gehang het (19:48).

Die Joodse leiers was fyn ingestel op Jesus se woorde, om iets te vind waarmee hulle Hom kon aankla (20:20). In hoofstuk 20 word Jesus herhaaldelik in die openbaar getoets, en maak Hy sy aanklaers dikwels stil. In hoofstuk 21, ons teks, wend Hy Hom tot sy dissipels en praat met hulle oor wat voorlê. Hy profeteer oor die toekoms, praat hulle moed in en sê deursettingsvermoë sal beloon word.

Dit gebeur daar by die tempel, terwyl sy dissipels so diep onder die indruk van die skoonheid van die tempel is. Hulle moet hoor Jesus sê alles sal afgebreek word, daar sal nie een klip op die ander bly nie.

Lang toespraak

Ons teks vorm die begin van ‘n lang toespraak deur Jesus, gerig aan sy dissipels. Dit is gerig aan die binnekring, die kerk, hulle wat hul vertroue op Jesus stel en aan Hom getrou bly.

Teen die tyd dat Lukas se evangelie neergeskryf was, het Lukas se lesers al geweet – nes ons – dat baie van hierdie profetiese voorspellings reeds waar geword het. Jerusalem het geval, die tempel is verwoes, daar was reeds aardbewings en hongersnode. Volgens Handelinge, nog ‘n boek uit Lukas se pen, is Jesus se volgelinge inderdaad voor konings en goewerneurs gebring, en het hulle geleentheid gehad om oor Jesus te getuig. Sommige is doodgemaak vir hulle geloof.

Verse 6 (“alles sal afgebreek word”) en verse 8 tot 17 (misleiding, oorloë, opstande, gevangeneming en verhore, verraad en doodmaak) toon duidelik aan dat Jesus die waarheid gepraat het oor wat sou gebeur. Dat Jesus reg was oor dinge wat sou gebeur, maak sy voorspellings oor dinge wat nog sal plaasvind ook geloofwaardig, al het dit nog nie gebeur nie. (Vergelyk bv. verse 25vv.)

Jesus se vervulde voorspellings maak Hom ook geloofwaardig t.o.v. die instruksies wat Hy aan die dissipels gee. Hierdie instruksies maak die kern uit van ons teksgedeelte. Dit is vandag nog vir ons net so belangrik soos dit was vir Jesus se eerste dissipels daar in die skaduwee van die indrukwekkende tempel.

Geen tydtafel vir die einde nie

Die dissipels vra Jesus vir ‘n teken om aan te dui wanneer die verwoesting van die tempel sal gebeur. Mens kan verstaan ‘n teken is vir hulle belangrik. Die tempel was groot, indrukwekkend, pragtig, met die magtige Herodes as beskermheer. Agter Herodes lê die mag van die wêreldryk van Rome. As die tempel so volkome verwoes sou word dat nie een klip op die ander sou bly nie, sou die wêreld soos dit vir die dissipels sin gemaak het, tot ‘n einde kom. Dit sal goed wees as mens ‘n teken het wat jou kan waarsku die groot verandering en instorting gaan gebeur.

Jesus gee egter nie vir hulle ‘n teken nie. Hy gee vir hulle wel ‘n lysie van letterlike en figuurlike aardskuddende gebeurtenisse, van oorloë en opstande tot plae en epidemies. Dit klink of hier tekens gegee word wat die einde aandui, maar dan tree Jesus terug en sê: “Maar nog voordat dit alles gebeur…” (12). Waarmee Jesus bedoel: daar is nie tekens wat die onmiddellike einde duidelik aandui nie. Al hierdie dinge sal deur al die tye gebeur.

Maar voor dit, en tydens die slegte dinge, gaan daar nog ander moeilikhede ook wees. Die dissipels sal deur al die tye gevange geneem, opgesluit, vervolg en onderdruk word. Die vraag is nie wanneer die einde kom nie, maar hoe die dissipels deur al die tye getrou gaan bly.

Jesus gee dus nie ‘n tydtafel en ‘n vaste teken vir die einde nie. Jesus verduidelik hoe die tye gaan wees. Eintlik weier Hy om ‘n tydtafel te gee of selfs ‘n duidelike opeenvolging van gebeure te gee.

Presies dieselfde gebeur in Handelinge 1:6-7 wanneer die dissipels vra: “Here, is dit nou die tyd….”  “Here, wanneer gaan U….” Jesus antwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en die omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” (1:7)

Die tydtafel na die einde toe is nie vir Jesus ‘n prioriteit nie. Daarom ook nie vir die dissipels nie. Die prioriteit is die instruksies wat Jesus regdeur hoofstuk 21 aan sy dissipels gee. Hy gee trouens ‘n reeks instruksies, waarvan sommige negatief is, en ander positief.

Negatiewe instruksies

In ons teks word ‘n klompie negatiewe instruksies gegee:

  • Moenie mislei word nie (8)
  • Moenie agter valse messiasse aanloop nie (8)
  • Moenie beangs of paniekerig raak nie (9)
  • Moenie vooraf julle verdediging opstel nie (14)

Uit hierdie instruksies blyk duidelik Jesus wil nie hê ons moet ons met allerlei tekens oor die einde van die tye besig hou nie. Die opdragte dek reeds die tafel vir Jesus se belangrikste instruksie: dat geduld, volharding en die regte onderskeiding van wat om te doen die eienskappe is wat Christene en Christelike geloofsgemeenskappe moet inoefen.

In sy toespraak sê Jesus die tekens en gebeure sal daar wees en niemand kan dit mis nie. Sommige van hierdie gebeure gaan ‘n geleentheid wees vir persoonlike en gesamentlike getuienis; ander gebeure gaan vra vir geduld, lydsaamheid en hoop te midde van chaos.

Net so min soos gelowiges ‘n tydtafel vir die einde kan opstel, of ‘n lysie stappe na die einde toe kan afmerk, net so min moet hulle tyd spandeer om angstig oor daardie einde te wees.

Angs pas nie by dissipels nie. Wat pas, is om altyd seker te maak hulle word nie mislei, en bou nie hulle lewe op valse sekerhede nie.

Positiewe instruksies

In sy toespraak het Jesus ook positiewe instruksies en beloftes vir sy dissipels. Hierdie positiewe opdragte en beloftes maak trouens die kern van sy toespraak uit. In ons teks wys Jesus op die volgende:

  • Hierdie sal vir julle ‘n geleentheid wees om van  Jesus te getuig (13)
  • Jesus sal aan hulle die woorde en wysheid gee wat deur geen teenstander weerspreek of weerlê kan word nie (15)
  • Daar sal nie ‘n haar van julle koppe val nie (18)
  • Julle volharding sal julle redding wees (19)

Al die aanvalle op die dissipels is ten diepste positief, want dit is ‘n geleentheid om van Jesus te getuig. Hoe reg Jesus was, word wonderlik in die boek Handelinge geïllustreer:

  • Dink aan die teregstelling van Stefanus, waar hy Jesus aan die regterhand van God sien en van Hom getuig (Hand 7);
  • Dink aan Petrus en Kornelius en Petrus se getuienis oor wat God in daardie vreemde omstandighede gedoen het (Hand 10);
  • Dink aan Paulus in Malta, waar ‘n slang hom pik, maar hy niks oorkom nie, en hy Publius se siek pa en baie ander gesond maak (Hand 28)
  • Verder ook Paulus se getuienis teenoor die Filippense dat sy gevangeskap hom die geleentheid gee om te getuig van Jesus (Fil 1:12-14)

Jesus se opdrag om vreesloos te getuig, en die voorbeeld van baie volgelinge van Jesus wat inderdaad onder moeilike omstandighede vreesloos getuig het, was ‘n tema wat die vroeë kerk diep gevorm het. Jesus se beloftes dat vervolging die teater vir getuienis sou word, en dat Hy die woorde vir sy dissipels sou gee, het inderdaad waar geword en die vroeë kerk gedra.

Volharding

In vers 19, die laaste vers van ons teks, sê Jesus sy dissipels se volharding sal hulle red. Hy bedoel dat die pad van geloof ‘n pad is waar mens bly vasstaan in die geloof, natuurlik omdat Jesus self jou vashou. Dit is hierdie geduldige, dag-vir-dag vashou aan Jesus, al krummel die wêreld en tuimel die omstandighede, wat so belangrik is op die pad van geloof.

Die Griekse woord vir volharding in vers 19, hypomonē, verskyn net op een ander plek in Lukas se evangelie, en wel in Lukas 8:15. Hierdie versie is die klimaks en afsluiting van Jesus se uitleg van die gelykenis van die saaier:

Die deel wat in die goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding (hypomonē) vrug dra.

Die ander evangelies eindig die vertelling van die gelykenis met die noodsaak om goeie vrug te dra. Dis net Lukas wat verder gaan en Jesus aanhaal om te sê dat ons die “woord moet vashou” en goeie vrug “met volharding” en geduld moet voortbring. Dis ook net Lukas wat sê die saad moet ryp word, en self saad skiet, ‘n oes lewer, telesphoreō, ‘n Griekse woord wat net hier in die Nuwe Testament voorkom.

Hierdie twee woorde, hypomonē (volharding) en telesphoreō (volwasse word, oes lewer), kom net in die Lukasevangelie voor. Lukas vertel hoe Jesus hierdie woorde aan die begin en die einde van sy bediening gebruik. Dit, sê Jesus, is die vrugbare manier waarop Christene moet lewe, terwyl hulle nie die einde kan ken of voorspel nie. Jesus se bediening tussen hierdie twee verse (8:15 en 21:19) getuig van ‘n veelheid van maniere waarop geloof volwasse kan word en volhardend vrug kan dra.

Voorbeelde

Dink maar aan die volgende voorbeelde:

  • Die opdrag om jou kruis op te neem en Jesus bo alles te volg (9:23v)
  • Om barmhartigheid te bewys teenoor elke naaste wat jou pad kruis, soos die barmhartige Samaritaan (10:25vv)
  • Die opdrag om te volhard in gebed, soos Jesus ons leer bid (11:1vv)
  • ‘n Uitnodigende, gasvrye lewe, veral teenoor buitestanders (14:15vv)
  • Om te leef soos Saggeüs leer leef het (19:1vv)

Hierdie verhale en opdragte is almal voorbeelde van die harde werk, die geduldige, volhardende werk van lewe in die wêreld met God se koninkryk in ons, rondom ons, en net om die draai voor ons. Dit is in al hierdie situasies, waar ons gekonfronteer word met armoede, lyding, nood, teenstand, selfsug en ons eie sonde, dat ons geroep word om geduldig vrug te dra en te groei tot volwassenheid in die geloof.

Ons getuienis oor Jesus is die vrug wat ons dra, en die woorde wat Hy ons gee om mee te getuig is die bron van ons lewe as geloofsgemeenskap. Vers 19 is die enorme uitdaging aan die kerk: om dag vir dag te volhard.

Vir Jesus is daar belangriker dinge vir die Christelike geloofsgemeenskap om op te fokus as op die einde van die tye. Hoe reg Jesus was, het spoedig geblyk. Telkens wanneer mense gedink het dit is nou die einde, alles stort nou in duie, het die einde toe nie gekom nie. Juis omdat die einde van die tye uitgestel word, is die kerk se volharding so belangrik. Jesus help ons verstaan dat geloof iets vir die lang pad is. Gelowiges, en die kerk, moet langafstand atlete wees, eerder as naellopers.

Daarom gee Jesus negatiewe en positiewe instruksies wat die kerk voorberei en reg instel vir die lang pad van geloof.

Leef in vertroue

In ons teks leer Jesus ons wat die kern van die lewe van die kerk is. Ons leef met die belofte dat ons die lewe sal verkry deur dag vir dag te vertrou op die woorde en die getuienis wat Jesus vir ons gee. Ons volharding sluit in dat ons volwasse vrugte in die geloof dra, dat die saad van die Woord in ons groei en ryp vrug oplewer.

Dit is ons roeping om mekaar te bly herinner dat God aan die kom is, hoe swaar die tye ook al is. En dat ons – in die swaar tye – getrou aan Jesus moet vashou, sodat ons ryp vrug kan dra. Ons moet mekaar ook bly herinner hoe die vrug lyk wat Jesus wil hê ons moet dra: dit gaan oor ons getuienis, ons gehoorsaamheid, ons barmhartigheid, mededeelsaamheid, vreugde in lyding, volhardende gebed, gasvryheid, berou oor sonde en voortgaande bekering, en ons getrouheid aan Jesus.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gebruik die geleentheid om spesiaal in te tree vir die Vervolgde kerk.  As julle sendelinge ondersteun, kan julle terugvoer gee oor hul bediening.  Of kry meer inligting, video’s en gebedsriglyne by Geopende Deure.

Dankoffer

Slotsang
VONKK 174 Strome Van Seën Uit Die Hemel [bekend – ou Halleluja-lied] of
Lied 584 Ons sien die tekens van die tyd

Seën
Voorganger: Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie.”  Vertrou op sy beloftes en gaan die wêreld in om in sy naam die gemeenskap te dien.
Gemeente: In die naam van Christus.  Amen.
(Uit:  Woord en Fees 2015-2016, Bybelmedia)

Respons: Lied 313

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.