Seisoen van die Skepping – Op soek na ekologiese deugde

Picture of Woord en Fees

Seisoen van die Skepping – Op soek na ekologiese deugde

Inleiding

Daar is meer en meer kerke, vanuit verskillende konfessionele tradisies regoor die wêreld, wat ’n Seisoen van die Skepping in Koninkrykstyd vier, veral in die tyd na 1 September elke jaar. Dit volg op ’n voorstel in die verband van die Ekumeniese Patriarg Dimitri I van die Ortodokse kerk in 1989. In ’n aanbeveling van die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke na aanleiding van die Wêreld-beraad vir Volhoubare Ontwikkeling (Johannesburg 2002) word kerke ook aangemoedig om 1 September elke jaar af te sonder as ’n dag van gebed vir die skepping en volhoubaarheid. Sedertdien het kerke in Australië, Nieu-Seeland, die Filippyne en die VSA gekom met inisiatiewe om liturgiese materiaal te ontwikkel vir só ’n Seisoen van die Skepping (sien www.seasonofcreation.com). Die European Christian Environment Network nooi insgelyks alle kerke in Europa uit om ’n “Time for Creation” in die tydperk van 1 September tot die tweede Sondag in Oktober te vier. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in Februarie 2007 ingestem dat ’n Seisoen van die Skepping by die kalender toegevoeg word en die Network of Earthkeeping Christian Communities in South Africa het ook reeds hierdie voorstel ondersteun. So ’n Seisoen van die Skepping, saam met die viering van Omgewingsondag (6 Junie 2010) en verskeie ander kerklike feesdae, kan kerke in Suid-Afrika inderdaad help om hierop te fokus.

God se groot werk met die aarde kan verwoord word onder die temas van skepping, geskiedenis, sonde, God se sorg, verlossing, kerk en sending, en voleinding. In die Seisoen van die Skepping staan ons, heel gepas in Koninkrykstyd, stil by die tema van die skep­ping. God se skepping is lank verstaan as bloot die verhoog waarop die drama van verlos­sing tussen God en mens afspeel. Die ekologiese krisis het ons gehelp om met nuwe oë te kyk na God se gawe van die skepping, na die gevolge van die mens se sonde vir die skep­ping en na die verlossing van die skepping, saam met die mens.

Daar is talle gedeeltes in die Bybel wat met God se skepping te make het. Hier kan ’n mens dink aan geliefkoosde tekste soos Genesis 1, 2 en 9, Psalm 8, 19 en 104, Jesaja 40-66, gedeeltes uit Jesus se bergrede, Romeine 8, Kolossense 1 en Openbaring 21. Daar is egter nog veel meer as dit ter sprake. Wanneer jy die Bybel lees met ’n lens wat jou sensitief maak vir verwysings na dit wat aards is, ontdek jy gou-gou dat die Bybel tot barstens toe daarvan vol is. Dit help jou om te sien dat daar op elke bladsy van die Bybel gepraat word van berge en heuwels, lig en lug, grond en water, riviere en die see, wind en vuur, lewe en sterwe, plante en bome, diere en voëls, en ook oor die mens. Dit gaan nie net hier oor iets interessants wat die Bybel byvoorbeeld oor bome te sê het nie. Elkeen van hierdie temas kan ons help om die hele boodskap van die Bybel vanuit ’n ander oogpunt te verstaan – juis omdat die hele drama van skepping, sonde, verlossing en voleinding óók (bv) met bome te make het. Heel dikwels, as mense dit nie wil doen of verstaan nie, is dit berge of bome wat God se Woord bring. Ons sou daarom kon sê dat elkeen van hierdie temas ons kan help om vanuit ’n nuwe hoek na die hart van die evangelie te kyk.

In die Seisoen van die Skepping sal ons elke jaar na een van hierdie temas kyk. In September / Oktober 2010 kyk ons veral na die rol van deugde, insluitende die sogenaamde ekologiese deugde. Daar word deesdae baie klem gelê op ’n herwinning van ’n deugde-etiek. Net so word die belangrikheid van ekologiese deugde soos matigheid, eenvoud, soberheid, sorgsaamheid en wysheid wêreldwyd beklemtoon. In al vier die teksgedeeltes uit Paulus se briewe aan Timoteus word die rol van deugde beklemtoon. Kyk byvoorbeeld na die rol van tevredenheid, toewyding en eerbaarheid in
1 Timoteus 2:2; na tevredenheid in 1 Timoteus 6:6, 8 (teenoor allerlei ondeugde) en minsaamheid in
1 Timoteus 6:11; na moed en selfbeheersing in
2 Timoteus 1:7; na verdraagsaamheid en volharding in
2 Timoteus 2:10-11. Elkeen van hierdie deugde kan ekologies ingeklee word, veral as ’n mens soek na ’n manier van lewe wat volhoubaar kan wees vir almal op aarde – want die lewenstyl van die verbruikersklas is net eenvoudig nie volhoubaar nie.

Die briewe aan Timoteus gaan egter nie net oor die belangrikheid van hierdie deugde nie. Dit is een ding om dit te beklemtoon, dit is ’n ander ding om dit ook te beoefen. Waar kan die inspirasie en energie daarvoor vandaan kom? In hierdie teksgedeeltes kom ’n mens op die spoor van die geheim van só ’n manier van lewe. Wat is hierdie geheim? In elkeen van die teksgedeeltes kom iets hiervan na vore: die krag van die opstanding, die blye boodskap, volkome toewyding aan God, kennis van die waarheid van die evangelie, getrouheid aan daardie waarheid teenoor dwaalleer, die genade­gawes wat God gee, die krag wat God ons gee, die betroubaarheid van die Woord en, miskien bo alles, die trou van God – aan gelowiges, maar ook aan God se hele skepping. Dit is alleen wanneer ’n mens deur die wonder van die evangelie oorweldig word dat hierdie deugde daaruit voortvloei.

Gemeentes word aangemoedig om hierdie tekste te bestudeer met die oog op die viering van ’n Seisoen van die Skepping, om te besin oor die betekenis daarvan vir hulle onmiddellike omgewing, om moontlikhede vir spesiale liturgiese geleenthede te ondersoek en om lidmate en groepe in die gemeente aan te moedig om tydens hierdie seisoen in die kerklike jaar by toepaslike vorms van omgewingsorg betrokke te raak.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.