Pinksterfees (Omgewingsondag)

Sections

Oorsig

Pinkster is ‘n Christelike fees wat vol blydskap uitdrukking gee aan ons geloof dat God sy werk in ons kom voltooi. Wat Hy deur Jesus Christus doen, vind deur die Heilige Gees in die lewe van sy kerk neerslag. So voltooi God alles wat Hy op aarde, maar ook in elke mens se lewe tot stand bring.

Die fees het ten doel om gelowiges te herinner aan die wonder dat die Heilige Gees God se verlossing in ons voltrek. God bly nie die “vreemde” Wese in die verte nie, maar is die Een wat in ons almal met liefde, vreugde en vrede leef en werk.

Elke Christen word opnuut genooi om sy/haar deelname aan die volheid van God se werk feestelik te omhels. Ons kry geleentheid om te juig daaroor dat God “ons” vermoëns en bydraes deel van sy volheid laat word.

Ander tekste

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

24Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. 25Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s’n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27’n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”

28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.

Psalm 104:24-34, 35b
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af
verdwyn,
mag die goddeloses
ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Johannes 20:19-23
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Johannes 7:37-39
Strome lewende water
37Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” g

39Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.

Fokusteks

1 Korintiërs 12:3b-13
Die verskeidenheid van geestelike gawes
12 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en

niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

7Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. 17As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? 18Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. 19As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? 20Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. 28En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?

31Lê julle toe op die beste genadegawes.

Ekstra stof

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid
Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het.  Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ‘n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtigewerkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is.  Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).

Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31).  Hy gebruik die beeld van ‘n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon.  ‘n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik.  Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding.  Dit wys dat die gawes nie ‘n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 435 “Heilge Gees U bou ‘n tempel vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 104

Seëngroet: 1 Korintiërs 1

Lied 191 “Grote God ons bring U eer vs1,2,3” (kan op melodie van 190 gesing word)

Skriflesing: (Pinkstergebeure)
Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees

Pinksterlitanie
Lied 438 “Gees van God o Gees van lewe vs 1,2”

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 431 “O Gees van Vader en van Seun vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:3b-13

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 440 “Die Here salf ons met Sy Gees vs 1,2,3,4”

Seën: Johannes 20

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 435 “Heilge Gees U bou ‘n tempel vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 104
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Seëngroet: 1 Korintiërs 1
2Aan die gemeente van God, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort…
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Lied 191 Grote God ons bring U eer vs1,2,3 (kan op melodie van 190 gesing word)

Skriflesing: (Pinkstergebeure)
Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Pinksterlitanie
Voorganger: Gees van die lewende God, werk in ons op hierdie Pinksterfees.
Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.

Voorganger: Kom en maak ons een; breek die mure van skeiding tussen u kinders af.
Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.

Voorganger: Maak ons harte brandend om van u oorwinning en u troos te getuig.
Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.

Voorganger: Vul ons met krag te midde van  beproewings.
Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.

Voorganger: Bring ons, u gemeente, in beweging.
Gemeente: Kom, Heil’ge Gees.
(Uit: Van der Merwe, J (red) Gebedeboek met liturgiese voorstelle LV BM 2001, bl 8 Outeur onbekend)

Lied 438 “Gees van God o Gees van lewe vs 1,2”

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 431 “O Gees van Vader en van Seun vs 1,2”

Liedere

VONKK 24
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Gees Van God, Kom Woon In Ons
Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Teks: Jacques Louw 2010 ©
Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe, my krag, my vermoëns,
aan U kan toewy –
u dien met my gawes.
Ek wil gehoorsaam U dien in liefde.
Ek lê myself, Heer, voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, die uitstorting van u Gees herinner ons dat U in ons leef, deur ons asemhaal. U laat elke dag, o Heilige Gees, Jesus deur elkeen van ons weer nuut mens word. Dit is te groot en wonderlik vir ons om te verstaan, maar ons gee ons onvoorwaardelik vir dié avontuur.

Mag ons nadenke van u woorde
lewenskrag in ons ontketen.
Laat ons vreugde vind in hierdie bestaan.
Laat die beweging van u Gees
ook in ons doen en late verder stroom.
Mag  ons deelname aan hierdie bestaan
groter lof en eer aan U bring
in ons lewe en ons sterwe.

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:3b-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Roep 10 kinders, wat minstens 10 jaar en ouer is, vorentoe. Hang ’n plakkaat om elkeen se nek waarop staan:  Die Griekse teks aan die voorkant en aan die agterkant die volgende tale: Grieks, Russies, Frans, Portugees, Spaans, Italiaans, Duits, Nederlands, Engels en Afrikaans.

Leer hulle almal die Griekse weergawe van “Ek het jou lief”  Σας αγαπώ  (Sas agapó).

Sê dan dat die kinders ’n belangrike boodskap vir die gemeente het.  Laat hulle almal dan, gelyk, in ’n koor aan die gemeente sê: Σας αγαπώ  (Sas agapó)

Vertel almal dat God vir mense ’n belangrike boodskap het wat Hy nog deur alle eeue heen vir die mense wou sê en dat met Pinksterdag, toe Hy sy Gees gestuur het, Hy die mense toegerus het om in almal se moedertale die boodskap te kon hoor en verstaan.

Laat die kinders dan almal een vir een vorentoe tree, hulle plakkaat omdraai en daardie taal wat agterop hulle plakkaat staan se vertaling van Σας αγαπώ, hardop vir die gemeente sê. (Party van die uitsprake moet jy dalk eers vir daardie kind inoefen as jy self weet hoe om dit uit te spreek!)

Σας αγαπώ Grieks
YA L’ubl’u Vas Russies
Je Vous aime Frans
Amo-o Portugees
Le amo Spaans
Ti amo Italiaans
Ich liebe dich Duits
Ik houd van u Nederlands
I love you Engels
Ek het jou lief Afrikaans

Vra dan vir die gemeente of die impak van die boodskap nie opgetel het soos die taal van baie onbekend na meer bekend toe gegaan het nie?

Preekriglyn

Ons vier vandag die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Hoewel die Heilige Gees reeds vroeër in die Ou Testament werksaam was, word die Gees op Pinksterdag in oorvloed deur die Vader en die Seun oor al die die gelowiges uitgestort.

Daarom word van die uitstorting van die Heilige Gees ook as die geboorte-uur van die Nuwe Testamentiese kerk gepraat. Vroeër vertel die Bybel van die era van God (die Vader) as die Skepper. Daarna word Jesus mens en vertel die Bybel van die era van die Seun. Natuurlik is God ‘n verhoudingswese, wat beteken die Seun en die Gees was ook by die skepping betrokke. Die Gees het ook die Seun, vir Jesus, bemagtig om sy lewenstaak te verrig.

Maar met Pinksterdag breek die era van die Heilige Gees in sy volle swang aan. Die Heilige Gees sit Jesus se werk deur mense op aarde voort. Die boek Handelinge is ‘n goeie voorbeeld: die kerk handel, maar dit is die Gees wat die kerk bemagtig. Baie kenners sê ons kan Handelinge nie net die Handelinge van die Apostels noem nie, maar ook die Handelinge van die Gees.

Vier die gawe van die Gees

Ons vier dus vandag ‘n ongelooflike groot gawe wat vryelik aan die kerk gegee is: die gawe van die Heilige Gees, wat vir eeue deur die Vader beloof was.

Die Heilige Gees word altyd as aktief in die Nuwe Testament uitgebeeld.

In die eerste drie Evangelies (Sinoptici) is die Heilige Gees byvoorbeeld altyd besig om groot gebeure te begelei. Jesus is deur die Heilige Gees in Maria verwek. Toe Johannes Jesus doop, daal die Gees soos ‘n duif bemagtigend op Jesus neer. Die Gees stuur Jesus die woestyn in, en versterk Hom tydens sy versoekinge. Die Gees spreek ook selfs deur Jesus, soos met Jesus se kragtige maar aardskuddende boodskap in die sinagoge Nasaret (Lukas 4). Jesus is die Gawe van God, en sy lewe en bediening word begelei deur beide die Vader en die Heilige Gees.

Dieselfde gebeur in Handelinge. Van feitlik elke groot gebeurtenis in dié boek word gesê die Heilige Gees was beslissend betrokke. Die Gees begelei die kerk deurentyd.

Die Johannes-evangelie belig vir ons ander, ook belangrike kante van die Gees se werk. Die Gees volg Jesus se bediening op deur Jesus by die kerk lewend te hou na Jesus se hemelvaart. Die Gees lei die kerk in die volle waarheid, en sorg dat die kerk binne die wil van God kan bly.

Paulus gaan in groot detail in op die Gees se werk in die lewe van die gemeente. Dieselfde Gees wat Jesus begelei het, is ook aktief in die lewe van die gemeente aanwesig. Die Gees ontwikkel die gemeente. Die gawes, vaardighede en leiers word deur die Gees aangewys. Die Gees is die Persoon wat die gemeente in Jesus se Naam ontwikkel en laat groei. Die Gees gee aan die gemeente wat dit nodig het om die Here te dien.

Ons kan dus vandag met verwondering die gawe van die Heilige Gees vier. Ons kan onsself oorgee aan die Gees, wat elke gelowige ontvang het, en uit vervulling met die Gees lewe. Ook die Gees word onverdiend aan ons gegee. Die Gees help ons om sonde te oorwin en gee aan ons die krag om God se wil te doen as dissipels van Jesus.

Opbou van die gemeenskap van gelowiges

Terwyl ons die gawe van die Heilige Gees vier, moet ons nie onkundig wees oor die Gees nie.

Die sentrale waarheid oor die Gees is dat die Gees altyd besig is om die gemeente op te bou. Die Gees word beide aan individue en ook die gemeente gegee. Die Gees se werk het ten doel om individue in geloofsgemeenskap saam te bind. Die Gees maak van vreemdelinge vriende, geloofsgenote, medebouers aan die gemeente van Christus. Sodat die gemeente haar dienswerk in die wêreld kan verrig.

Die Gees bind ons aan Christus

Voordat ons oor die gawes van die Gees praat, fokus ons eers op Paulus se eerste woorde in ons teks: “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees.”

Die Heilige Gees doen hierdie werk nie los van Christus nie. Die Gees skep gemeenskap deur ons aan Christus te bind, en ons in Christus deel van die geloofsgemeenskap te maak.

In die destydse gemeente van Korinte was daar blykbaar mense wat gesê het die Heilige Gees lei hulle. Hulle lewe was egter ver van die lering, voorbeeld en styl van Jesus. Waarskynlik het hulle net met hulle eie individuele oortuigings en gevoelens gewerk. Hulle het gedoen wat hulle gedink het reg is, en wat hulle gevoel het reg is. Hulle wou hulle nie aan ander steur nie, want hulle het aanspraak gemaak op die leiding van die Gees.

Vir Paulus is die gevaar dat hulle as Christene deur eiesinnigheid en verblinding meegevoer word, net soos hulle vroeër “blindelings deur stom afgode” meegevoer is.

Ons ken ook vandag hierdie gevaar. Daar is individualistiese gelowiges wat net op eie oortuiging of gevoelens werk.

Paulus wys uit dat die Gees ons aan Christus bind. Meer nog: dat die Gees ons onderdanig aan Christus maak. Die Gees laat ons sê Jesus is die Here. Ons neem Jesus as openbaring van God, God se wil en God se weg, danksy die Heilige Gees ernstig. Deur die Gees volg ons Jesus doelbewus na, verloën onsself en gee onsself aan God se wil prys.

Wanneer mense in Paulus se tyd gesê het “Jesus is die Here” het hulle ook gesê “Die keiser is nie die Here nie.” Daarmee het hulle die styl van geweld en mag van die keiser prysgee. Maar daarmee het hulle veral ‘n geweldige risiko geloop, want so ‘n belydenis kon jou jou lewe kos. Baie martelare het inderdaad gesterf. Daarom sou niemand Jesus as Here kon bely anders as deur die werk van die Heilige Gees nie.

Met Jesus as Here het ons onder totaal nuwe bestuur beland. Ons leef anders. Mens kan nie God se werk doen in ‘n styl wat nie by Jesus se lering en voorbeeld pas nie. Nie as jy jou deur die Heilige Gees laat lei nie.

Die Drie-eenheid

Wanneer Paulus oor die gawes van die Gees begin praat, beklemtoon hy nie alleen die band tussen Christus en die Gees nie, maar bring die drie-eenheid ter sprake (4-6):

  • “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee;
  • “daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee;
  • “daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.”

Wanneer ek as gelowige ‘n taak het om uit te voer, het ek drie dinge nodig: die nodige gereedskap, ‘n taak, en die energie om die taak te verrig. Gee vir my ‘n besem, sê ek moet die kamer uitvee, en gee my die nodige energie – dan kan ek dit doen.

Paulus verbind die drie-eenheid met hierdie drie aspekte van dienslewering:

  • Eerstens het ek ‘n spesifieke “gawe” nodig (die besem);
  • Dan ‘n duidelike taakomskrywing (“bedieninge”)
  • Derdens die energie (“kragtige werkinge” in ons teks)

Hierdie drie aspekte van die gemeente se werk en bediening kom direk van die Vader, Seun en Heilige Gees af. Die Heilige Gees gee aan ons die geestelike gawes, die “genadegawes” wat die instrumente word waarmee ons ons taak verrig. Die Here Jesus gee aan ons spesifieke take of bedieninge, en God die Vader gee vir ons die krag en energie om ons taak te verrig.

Die bediening van die Christelike gemeente wat Jesus as Here bely, wat haar deur die Gees laat lei, met die krag wat God die Vader gee, is dus ten diepste begrond in die lewe en werk van die drie-enige God.

Ons kan nie ‘n gemeente bedink anders as die direkte openbaring van God se voortgaande werk in die wêreld nie. Waar die gemeente haar roeping uitvoer, sien ons God aan die werk.

Gawes van die Gees

Paulus gaan nou voort om ‘n lysie te maak van die gawes wat die Gees aan die gemeente gee. Hy plaas as’t ware ‘n raam om die lys gawes. Beide aan die begin en aan die einde van die lys sê hy dit is gawes van die Heilige Gees. Letterlik vertaal:

  • Aan elkeen word ‘n manifestasie van die Gees tot gemeenskaplike voordeel gegee (7)
  • Elkeen van hierdie gawes word deur die een Gees geïnspireer soos Hy wil (11)

Die gawes is nie maar vir die geestelike selfverryking van die individu nie. Dit is tot gemeenskaplike voordeel (sumpheron beteken dit wat nuttig is, wat die common good dien).

Voorts kry elke individuele gelowige die gawes wat die Gees aan daardie persoon wil gee. Dit beteken ‘n paar dinge:

  • Niemand het al die gawes nie – ons is afhanklik van mekaar.
  • Ons kies nie self ons gawes volgens eie voorkeur van ‘n spyskaart af nie – dit word aan ons gegee.
  • Niemand se gawe is belangriker as iemand anders se gawe nie. Ons moet wyer leer kyk as ons eie gawes en nie sommige gawes as onbelangrik afmaak nie.
  • Ons kan nie enkele gawes vat en dit die voorwaarde maak vir behoort aan die gemeente nie.
  • Elke gawe in die gemeente moet ontvang, geëer en aangewend word.
  • ‘n Gawe is nie bloot ‘n aangebore talent nie – ‘n gawe is die wyse waarop die Heilige Gees manifesteer in my lewe, tot voordeel van die gemeente
  • Dit is nie moontlik om gawes te hê en te gebruik los van die gemeente nie – ‘n gelowige wat Christus volg maar nie aan die kerk (wil) behoort nie, slaan ‘n eie koers nie, nie die koers van die gemeenskapskeppende Gees nie.
Soorte gawes

Pauls gaan voort om ‘n klompie voorbeelde van geestelike gawes te gee (8-10):

  • Wysheid (sophia, die gawe om die misterie van God se plan te ken en daarvolgens op te tree – 2:17)
  • Kennis (gnosis, die regte kennis van God en sy wil om die gemeente by die waarheid te hou)
  • Geloof (pistis, die vaste vertroue op God en God se weg)
  • Gesondmaking (ianis, die gawe om genesing te bring, deur gebed of geneesmiddels)
  • Wonders (tekens van God se teenwoordigheid wat nie deur ‘n eng wêreldbeeld waarvolgens die wêreld net uit materie bestaan, verklaar kan word nie)
  • Profesie (die verkondiging van God se boodskap en pad vorentoe
  • Onderskeiding (tussen waar en vals, tussen wat nou reg is en wat nie)
  • Gebruik van ongewone tale (“spreke in tale” – kommunikasie met God in ‘n ongewone taal)
  • Gawe om ongewone tale uit te lê (om wat in ‘n ongewone taal gesê is, uit te lê).

Die aanwending van hierdie gawes is vir die opbou van die gemeente. Dit is egter nie ‘n volledige lys nie, want Paulus verwys op ander plekke na nog gawes.

Betekenis vir ons

Ons het reeds op verskeie plekke in die boodskap geraak aan die betekenis van hierdie teks vir ons. In verse 12 en 13 som Paulus dit self op deur te sê ons ontvang Jesus as Here en die gawes van die Gees, tesame met die bemagtiging van ons hemelse Vader, om die gemeente op te bou vir haar diens in die wêreld.

Wanneer ons almal saamwerk, kom die gemeente tot haar reg.

In die Westerse kultuur is individualisme die grootste bedreiging vir die kerk. Ons teks help ons om daardeur te werk, en onsself tot voordeel van mekaar te gee.

Ons leef ook in ‘n siniese kultuur wat dikwels worstel om God raak te sien. Westerlinge het ‘n klein wêreld. Ons dink al wat is, is dit wat waargeneem kan word. Daar is net materie. Daar is net wetenskap en wetenskaplike metodiek. Dan is ons geneig om godsdiens as bygeloof af te maak.

Ons teks help ons om te verstaan die gemeente is ‘n openbaring van God se teenwoordigheid. Die gemeente is ‘n uitdrukking van God se aktiwiteit in die wêreld.

Verder kan niemand sê ons gemeente het nie alles wat ons nodig het om God se wil te doen nie. Aangesien die Heilige Gees die gawes gee wat ons vir ons roeping van Christus nodig het, waarvoor die Vader ons die energie gee, het ons alles wat ons nodig het.

Ons teks leer ons ook nederigheid. Ek het nie alles wat aan gawes nodig is nie. Ek kan ook nie my gawe verhef nie, of neersien op ander se gawes nie.

Ons teks smoor ook kompetisie in die kiem. Die vraag is nie watter die beste gawes is, of wie se gawes nie ‘n prioriteit is nie. Ons het mekaar almal nodig.

Dit is belangrik om kennis te neem van die wye verskeidenheid gawes wat die gees aan die gemeente gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(Uit Wepener, C. 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai.  Bybelmedia, Wellington.) 

Offergawes

Wegsending: Lied 440 “Die Here salf ons met Sy Gees vs 1,2,3,4”

Seën: Johannes 20
21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.