Pinksterfees

Sections

Oorsig

Anders as op die meeste feesdae in die kerkjaar, is die kleure van Pinksterdag nie wit nie, maar rooi. Die tradisionele simbole is vlamme, water en ‘n duif. Die sleutelteks in Johannes gaan oor die Gees as Voorspraak en Waarheid. Die Gees kom leer ons van Jesus as die Seun van God. Handelinge 2 vertel die verhaal van Pinksterdag. Esegiël 37 is die bekende gedeelte van die Gees wat lewe gee aan droë bene. Romeine 8 vertel dat nie net die gelowiges deur die Gees vernuwe word nie, maar die ganse kosmos. Psalm 104 is ‘n skeppingspsalm. Die Gees word wel nie direk genoem nie, maar word geïmpliseer in die psalm. Die Gees is hier die fokus as die Lewegewende God.

Ander tekste

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word. c

Esegiël 37:1-14
Ek sal julle terugbring
37 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ’n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

Psalm 104:24-34, 35b24U het baie dinge geskep, Here,

die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af
verdwyn,
mag die goddeloses
ophou om te bestaan!

Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Romeine 8:22-27
Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Fokusteks

Johannes 15:26-27; 16:4b-15
Die wêreld sal julle haat
18“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het my voor julle gehaat. 19As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. 20Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. 21Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

22“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie. 23Wie My haat, haat ook my Vader. 24As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader. 25Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’ p

26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”
Julle moet nie van My afvallig word nie

16 “Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. 2Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. 3En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. 4Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het.

Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”
Die werk van die Heilige Gees

5“Nou gaan ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Ekstra stof

Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe
Die hoofstuk val in drie dele uiteen:

  • Jesus is die ware wynstok – die Een in Wie hulle moet bly om vrug te dra – 15:1-8;
  • Jesus het hulle uitgekies om vrug te dra – hulle sal dit doen deur mekaar lief te hê – 15:9-17;
  • Soos die wêreld Jesus gehaat het, sal die wêreld hulle ook haat – Jesus stuur vir hulle die Heilige Gees wat hulle in hul getuienis sal bystaan – 15:18-27.

15:1-8: Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel. In die OT is Israel baie keer met ‘n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9–16; Jes 5:1–7; Jer 2:21; Eseg 19:10–14; Hos 10:1). Waar Israel egter ‘n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sal groei en gedy.

Die klem lê op wat God deur Jesus regkry in die lewe van gelowiges. Hy is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra.

Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie. Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het. En dit bly ‘n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrugdra word egter reg gesnoei sodat hulle nog meer vrug kan dra. Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19).

Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer – Judas egter geen: net sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3) word ons vertel.

Die reg snoei werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra. Die geheim van vrug dra is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen. Dit moet – wat ook die leuse van die Bybelskool is – ‘n huis word waarin jy woon. Dit moet jou hele lewe bepaal.

Let op weereens dat die vrug uitgespel word as gebedsverhoring en dissipelskap (vgl Joh 14:13). Dit is om in Jesus te bly, en van Hom te vra dat God verheerlik word in die lewens van mense – en Hy belowe om daardie gebede te beantwoord.

15:9-17: Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as model vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê. En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (woorde) selfs al sluit dit die dood in (vgl ook 1 Joh 3:16). Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God, wat in sy vertroue geneem word, soos ‘n Abraham van ouds (Gen 18)!

En die gehoorsaamheid hieraan ook nou weer nie afhanklik gemaak van ons keuse vir God nie, maar van Sy keuse vir ons. Anders as die dissipels van daardie tyd wat ‘n rabbi vir hulleself gekies het, het Jesus self sy dissipels uitgekies! Dit is hoe God werk!

Dit is ongelooflik vir my. Dit is Hý wat ons aangestel het om vrug te gaan dra, en wat sorg dat iemand soos Petrus die reus kan word wat ons aan die einde van sy lewe in hom kon raaksien. Dit is vir my ‘n ongelooflike troos as ek aan my eie broosheid en gebrokenheid dink. Hy kan dit ook vir my doen.

Weereens herhaal Jesus die feit dat Sy Vader ons gebede sal verhoor – daar is niks belangriker as gebed nie!

15:18-27: Soos so vele kere in die evangelie van Johannes word onmiddellik na die hoopvolle verkondiging van God se werk in ons, ook die konteks van die teenstand wat ons van die wêreld sal ervaar, geteken. Die wêreld sal ons haat.

Wat in moeilike omstandighede ons kan troos en bewaar, is die wete dat dit nie anders wat met Jesus nie, en dat teenstand die Skrifwoord bevestig: “Hulle het My sonder rede gehaat”. Dawid se woorde word op Jesus van toepassing gemaak uit Ps 35:19; 69:5 . Agitofel is waarskynlik weereens die agtergrond vir wat Dawid daaroor te sê het en laat ‘n mens dink dat Jesus vir Judas met Agitofel vergelyk.

Daarby stuur Jesus vir hulle die Heilige Gees wat self sal getuig oor Hom en hulle in hul getuienis sal versterk. Daaroor sal die volgende hoofstuk meer te sê hê.

En uiteraard kan ons nie self val vir die verleiding van die wêreld nie, en die wêreld en die wêreldse dinge leer lief kry nie, want dan versaak ons die Een wat in ons werk om vir Sy wil te vra en dit te doen (1 Joh 2:15).

Ek is verras met hoe die episodes met Judas en Petrus eintlik die agtergrond verskaf vir baie wat Jesus in hierdie toespraak op pad na Getsemane sê. En die realiteit is, ‘n mens kan God se keuse vir jou afwerp en ignoreer soos ‘n Judas, of in jou gebrokenheid aanvaar en omhels soos ‘n Petrus.

Johannes 16:1-33 – Die Heilige Gees is ons inspirasie
Die hoofstuk val in vier dele uiteen:

  • In aansluiting by die vorige waarskuwing dat die wêreld hulle sal haat, moedig Jesus hulle aan om nie afvallig te raak weens vervolging nie – 16:1-4;
  • Jesus belowe dat die Heilige Gees sal kom wat die gelowiges in die volle waarheid sal lei – 16:5-15;
  • Jesus gebruik beeldspraak om sy opstanding na ‘n “klein rukkie” te voorspel wat tot groot blydskap vir hulle sal lei asook vrymoedigheid in gebed – 16:16-24;
  • Jesus moedig hulle weereens aan om moed te hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin en hulle sal die vrug daarvan geniet – 16:25-33.

16:1-4: Dit tref my hoe pertinent Jesus die dissipels waarsku om nie afvallig van Hom te raak nie. Om Jesus te volg, is nooit eenvoudig nie. Daarvoor sal daar altyd te veel teenstand wees teen die ware gelowiges wat aan Jesus getrou wil bly. En in die dissipels se geval sal die teenstand kom van die Joodse leiers (ban uit die sinagoges) en die Romeinse ryk (vervolging het amper 4 eeue voortgeduur).

16:5-15: Jesus praat hier oor Sy hemelvaart wat die voordeel het dat Hy die Heilige Gees dan kan stuur. Die Heilige Gees se funksie sal wees om aan die een kant die sondigheid van die wêreld aan te toon, sowel as die oordeel van die duiwel (negatiewe funksie) en daarteenoor aan die ander kant dat die reg aan Jesus se kant is (positiewe funksie).

Let op dat die Gees nie net ‘n interne private funksie in die gelowiges het nie, maar ook ‘n publieke funksie. Maar Hy lei ook elke gelowiges in die volle waarheid deurdat alles wat Jesus vir die gelowiges verwerf het, deur die Gees aan hulle gegee sal word.

16:16-24: In ‘n stuk beeldspraak praat Jesus dan van sy opstanding na ‘n “klein rukkie” wat die dissipels egter nie mooi begryp nie. Dan brei Jesus verder daarop uit en praat van hulle hartseer oor sy dood, wat egter net die geboorte van die nuwe koninkryk sal wees. Hulle droefheid sal in blydskap verander. En dié blydskap sal hulle ‘n nuwe vrymoedigheid gee in hulle gebede. In Jesus se naam sal God hulle gebede verhoor.

16:25-33: Jesus los dan die beeldspraak en praat reguit oor sy aanvanklike koms van die Vader af en sy komende terugkeer na Hom toe. Let op hoe dit hulle in geloof laat reageer – hoewel hulle steeds nie standvastig kon wees in die Lydenstyd wat binnekort in Getsemane sou verdiep (daarvoor het hulle die inwoning van die Gees nodig gehad), soos Jesus inderdaad weer voorspel.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 58 of Lied 436 of Lied 444 of hierdie video

Votum: (responsories)

Seëngroet (op grond van Nicea) (responsories)

Lofsang: Lied 439

HOOR

Gebed: VONKK 24 of Flam 450 of Lied 442

O Heilige Gees van God,
kom na ons en beweeg tussen ons:
kom as wind en reinig ons;
kom as vuur en suiwer ons;
kom as dou en verfris ons:
oortuig, bekeer en wy ons harte en lewens aan U
vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se naam.
(Uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Skriflesing: Johannes 15:26-27, 16:4b-15

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Verootmoediging
Nagmaalsformulier
Voorbereiding van die Tafel

Litanie – by die Nagmaalstafel: VONKK 27 en responsoriese gebed

Instelling en gebruik van die tekens

Gebed: Almal bid saam die Onse Vader

Geloofsbelydenis: (‘n lidmaat lees dit voor)

Dankoffer

Slotsang: Lied 440

Seën: in al die tale wat in die gemeente bekend is

Respons: Flam 302 of VONKK 144 of Lied 433

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 58 Skepper Gees of
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees” of
Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!” of
Wys hierdie video – “Come alive”

Votum
V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(Uit Cas Wepener se Soos ‘n Blom na die Son draai, Bybel-Media 2011)

Seëngroet (op grond van Nicea)
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.
V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.
V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(Uit Cas Wepener se Soos ‘n Blom na die Son draai, Bybel-Media 2011)

Lofsang: Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons

Liedere

F58.”Skepper Gees”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese)  Teks en musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers  (Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.

Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
Kom in al U volheid,

kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons”
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992  Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Pinkster

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”
Teks: Veni Creator Spiritus – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992  Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Pinkster

Kom en lei my, Skepper-Gees.
Veni Creator Spiritus.

F450.” Gees Van God, Praat Met My (Praat Met My)”
(RUBRIEK: FLAM – Gebed voor Skriflesing)  Teks en musiek: Nico Bezuidenhout Kopiereg: © 2011 Urial Publishing

1. Gees van God, praat met my,
sag en stil hier in my hart.
Gees van God,  praat met my,
laat U liefde my omvou.

Refrein:
Rig my hart, genees my siel,
praat met my, want ek wil U ken.
Werk in my
O Gees van God.

2. Woord van God, praat met my,
laat die Gees my dade lei.
Woord van God, praat met my,
laat die Gees my hart berei.

Refrein:

3. Gees van God, werk in my,
Lewe, liefde maak my vry.
Gees van God, werk in my,
Brand u vuur hier binne my

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed
VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons” of
Flam 450 “Gees Van God, Praat Met My (Praat Met My)” of Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

O Heilige Gees van God,
kom na ons en beweeg tussen ons:
kom as wind en reinig ons;
kom as vuur en suiwer ons;
kom as dou en verfris ons:
oortuig, bekeer en wy ons harte en lewens aan U
vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se naam.
(Uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Skriflesing: Johannes 15:26-27, 16:4b-15

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hierdie is ’n spesiale feesdiens.  Kinders kan lekker deelneem as jy vooraf vlam-kleurige “streamers” maak van sagte lap wat aan ’n stokkie vasgemaak word.  Laat die kinders (en ’n paar volwassenes) dit tydens die lofsang swaai.

The Day When God Made Church deur Rebekah McLeod Huttois ’n pragtige storieboek wat Pinkster verduidelik.  Jy kan die hele boek hier lees – klik op “click to read” om dit vol-skerm te lees.

Hier is ’n mooi inkleurprent wat kinders kan inkleur terwyl hulle na die preek luister.

Bybel-Media se Woord-en-Fees stel voor:

Voer ‘n kort toneelstuk met die kinders op. Hulle berei nie vooraf voor nie. Verduidelik julle gaan die verhaal van Pinksterdag opvoer. Hulle moet hulle nie bekommer nie, jy gaan vir hulle die heeltyd sê wat hulle moet sê en waar hulle moet staan. Jy is hulle souffleuse. Dit beteken jy sê saggies vir hulle wat hulle moet sê en hulle herhaal dit hardop vir die mense.

Gebruik die teks van Handelinge 2 uit die Bybel vir kinders.  Na die toneelstuk verduidelik jy dat die Heilige Gees ‘n geskenk van Jesus is. Hierdie geskenk is ons Souffleuse in die lewe.

Preekriglyn

[Nota: Dit word aanbeveel dat die prediker al die Leesroostertekste vir hierdie Sondag kortliks noem. Al die tekste dra by om iets van die wonder van hierdie dag te beliggaam en vertolk. Die preek kan korter wees, en die verskillende tekste kan voorgelees word waarna ‘n kort inset – sien hieronder – oor elkeen gelewer word. Die prediking kan langer stilstaan by Johannes 15, ons primêre teksgedeelte.]

Pinksterdag word nie verniet die geboortedag van die kerk genoem nie. Op hierdie dag word die Heilige Gees, die belofte van die Vader wat oor soveel eeue verwag is, uitgestort.

Die Bybel pols van verwagting en vreugde wanneer dit oor die Heilige Gees gaan. Op ‘n dag soos vandag dink mens aan ‘n verskeidenheid tekste wat hierdie wonder verwoord.

Handelinge 2: Oesfees

Handelinge 2:1-21 vertel van die Pinksterfees in Jerusalem, vyftig dae na Paasfees. By hierdie geleentheid was die groot groep navolgers van Jesus bymekaar en is die Heilige Gees uitgestort. Hulle het iets soos vuurtonge gesien wat op elkeen neergedaal het.

Die Pinksterfees of “fees van die weke” was die tweede groot jaarlikse fees op die Joodse godsdienstige kalender. Die voorskrifte hiervoor is op verskeie plekke in die Ou Testament opgeteken. (Eksodus 23:16 en 34:22, Levitikus 23:15-21, Numeri 28:26-31 en Deuteronomium 16:9-12.)

Pinksterfees was ‘n dankdag vir die oes en is om hierdie rede ook “die fees van die eerstelinge” en “die fees van die oes” genoem. Dit het slegs een dag geduur. Pinksterfees is die fees van die volheid, waartydens die gerwe van die laaste oes aan die Here gebring word. Die latere Jode het dié fees ook beskou as fees ter herinnering aan die wetgewing op die berg Sinai.

Op hierdie feesdag word die Heilige Gees uitgestort, die Gees wat ‘n heerlike oes vir God se koninkryk inbring. Vanaf hierdie dag is die kerk met Goddelike krag vervul, en lees ons verder in Handelinge hoe die boodskap van Jesus ten spyte van teenstand oor die wêreld spoel. Die Heilige Gees skep die kerk.

 Esegiël 37: Doodsheid oorwin

Die krag wat die kerk in Handelinge 2 ontvang, is die vervulling van God se beloftes oor baie eeue.

God het ‘n volk gekies om Hom te getuig, die nageslag van Abraham wat vir die nasies tot seën moes wees. Israel het deur die eeue dikwels misluk, en het in die ballingskap byna tot niet gegaan. Die ballingskap was God se opvoedingsmaatreël vir ‘n volk wat hardkoppig hul eie koers ingeslaan het.

Tog maak God telkens weer ‘n nuwe begin. Esegiël 37:1-14 vorm deel van die groter eenheid (33:1-37:28) wat handel oor God wat van heel voor af met sy volk begin. Die profeet word na ‘n laagte geneem vol bene van mense wat lankal dood is. Esegiël ontvang opdrag om die bene in die Naam van die Here profeties aan te spreek om lewendig te word. Die bene simboliseer Israel wat hulle ballingskap as dood beleef. Die Here sal op sy tyd die ballingskap ophef en die “dooie ballinge” laat lewe as Hy Israel na hulle eie land laat teruggaan. Die Gees van die Here sal hulle dan laat lewe. Hulle sal besef Hy is die Here.

Die Gees van die Here laat die volk lewe.

Op Pinksterdag, Handelinge 2, gaan hierdie belofte volledig in vervulling.

Romeine 8: Die Gees staan ons by

In Romeine 8:22-27 praat Paulus van die Gees as die eerste gawe van God (22). Verder stel Paulus dat die Gees ons bystaan in ons swakheid en pleit self vir ons wanneer ons nie weet wat om te bid nie (26). Verder weet God wat die bedoeling van die Gees is. Die Gees pleit immers volgens die wil van God vir die gelowiges (27).

Stephan Joubert stel dit soos volg:

Van sy kant af tree die Gees ook as die groot Voorbidder vir sy aardse kerk op. Wanneer gelowiges, wat reeds die Gees as eerste vrugte van die hemelse oes ontvang het (8:23), sug en swaarkry, ondervang die Gees, as Trooster, hierdie sugte deur sy eie gebed. In sulke tye is die Gees steeds aan die werk om hierdie hulpeloosheid en biddeloosheid aan God bekend te maak in sy hemelse woonplek (8:26-27).

Johannes 15: Ons Trooster wat ons in die waarheid lei

Johannes 15:26-27; 16:4b-15 vorm deel van ‘n groter eenheid, Johannes 13-17. Stephan Joubert skryf die tema is: toerusting vir die dissipels

In hoofstuk 13-17 gee Johannes sy lesers toegang tot Jesus se laaste ete met sy dissipels, voor sy kruisiging. Al vier evangelies is dit eens dat Jesus en sy dissipels op die Donderdagaand saameet en dat die Vrydag sy sterfdag was. Met Jesus se groot uur wat aangebreek het, is hierdie ete ook die geleentheid om die dissipels vir hulle eie sending voor te berei wanneer Jesus binnekort terugkeer na die Vader toe. Die ete begin met die voetwassing (hfs 13). Op simboliese wyse illustreer Jesus hoe sy navolgers voortaan moet leef, in selflose diens en opoffering teenoor mekaar.

Die tweede deel van die toerusting vir die dissipels is die koms van die Heilige Gees, die Trooster of Parakleet (van die Griekse woord Parakletos – 14:26). God stuur die Heilige Gees (Trooster of Parakleet) na alle gelowiges (14:16) om die kinders van God na hulle ewige woonplek te begelei. Die Heilige Gees waarborg Jesus se teenwoordigheid by sy volgelinge nadat Jesus na die hemel opgevaar het (16:7).

As Parakleet is Heilige Gees Bemiddelaar van Jesus en die Vader. Stephan Joubert skryf as volg:

Saam met die Vader vorm die Seun en die Parakleet die hemelse eenheid wie se missie dit is om mense hier op aarde te verlos en deel te laat hê aan hierdie ewige Goddelike familieverwantskap.

Die Johannes-evangelie noem drie aspekte van hierdie bemiddelende teenwoordigheid:

  • Die Gees is die Agent/Spreekbuis/Advokaat van God en Jesus hier op aarde (16:2-15). Die Gees sit Jesus se werk om die eenheid tussen die Seun en die Vader aan mense bekend te maak voort, ná Jesus se hemelvaart. Die Gees werk tussen/onder/in die gelowiges hier op aarde (16:14);
  • Die Gees sit tweedens Jesus se werk onder die gelowiges voort deur die Vader en Jesus voortdurend in die gelowiges se lewe teenwoordig te stel (14:20). Die Gees is self binne die geloofsgemeenskap kenbaar (14:17b), terwyl die Gees, in navolging en voortsetting van Jesus, die gelowiges onderrig in die waarheid (14:26). Nog ‘n kenmerk van die Gees se teenwoordigheid by die gelowiges, is die profetiese funksie om Jesus nuut in die kerk aan die woord te stel (16:12-14). Die Gees maak slegs dit wat Hy van Jesus ontvang aan die gelowiges bekend (16:15);
  • Die Parakleet het derdens ‘n taak in die niegelowige wêreld, en sluit in: getuienislewering (15:26) oor Jesus as die vleesgeworde Geregtigheid en Waarheid van God (16:8-11), asook om die wêreld aan te kla en te oortuig van sonde.
Jesus leef uit die Gees

Van die kerk word nou waar wat in die eerste plek van Jesus waar was. Jesus het uit die krag van die Heilige Gees geleef. By sy doop in die Jordaan daal die Gees van God op Hom neer. Van daardie moment af speel die Gees ‘n deurslaggewende rol. Die Gees bekragtig Jesus na sy mens-wees in die woestyn om versoeking te oorwin, die Gees skenk lewe en genesing, die Gees bekragtig alreeds Jesus se woorde.

Vanaf Pinksterfees word hierdie werklikheid ook vir die kerk – vir ons – beskikbaar.

Op die eerste Pinkster

Ons verbeelding help ons om die gebeure van die dag voor oë te roep, terwyl ons opgewonde word wanneer ons oor die ervaring van die uitstorting van die Gees op Pinksterdag reflekteer. Ons sou wat wou gee om te kon ervaar wat die mense op daardie dag in die eerste eeu nC ervaar het; om te voel hoe die mense bewus word van die Heilige Gees. Dink aan die opgewondenheid en emosie van uitbundigheid – mense wat sing en juig, wat lag en praat. Dit moes chaoties gewees het – soveel geraas!

Vandag vereenselwig ons ons opnuut weer met hierdie wonderlike dag. Ons stel ons ook oop vir Gees en leef in bewussyn van die leiding van die Gees. Ons gee onsself daagliks oor in die hande van die Gees sodat die Gees ons lei.

Herwaardering van stilte

Hierdie prentjie is in skerpe kontras met byvoorbeeld Thomas Merton se prentjie van stilwees in God se teenwoordigheid. God is natuurlik ook in opgewonde geraas, maar God is eweneens teenwoordig in absolute stilte.

Ons het egter oor die jare heen ontwikkel in ‘n samelewing wat baie besig is. Om besig te wees, word gesien as ‘n aanduiding dat ons hard werk – mense werk al hoe meer van hulle huise af en die spasie tussen werk en huis word al kleiner. Ons tydjies weg of los van die beroepslewe en werksplek, word al minder. Verder is ons te alle tye met ander mense in kontak deur ons sosiale media (facebook, twitter, WhatsApp)

Ons word omring en gevul met “geraas” – van taal, van woorde. Ons fone is gedurig besig en daarom is ons besig, want ons wil op hoogte bly van alles en almal. Dalk wag die Gees van Waarheid vir ‘n geleentheid waar ons stil word om ons te ontmoet – ‘n geleentheid waar ons kan luister en nie praat nie, waar ons harte stil genoeg is om die hartklop van Jesus (die Waarheid) te hoor.

Die viering van die Pinksterfees daag ons ons uit om tot stilstand te kom sodat ons die unieke stem van die Gees as Bemiddelaar van die Vader en die Seun kan hoor. Die Gees verteenwoordig Jesus op aarde. Die Gees sit Jesus se werk onder gelowiges voort. Ons word opgeroep om stil te raak – daagliks – sodat ons die stem van die Gees kan hoor.

Reageer op die Gees

Soos wat die Gees die ballinge in Esegiël 37 tot lewe roep om te besef Hý is die Here, roep Pinksterfees ons op om in die volheid van die oes te reageer op die Gees wat die Waarheid aan ons openbaar dieper insig in die besef dat God die Skepper en Onderhouer van die ganse skepping is. Pinksterfees herinner ons steeds deur die getuienis van Paulus in Romeine 8, dat die Gees vir ons intree by God, as die Voorbidder vir die aardse kerk.

Dit is tyd om op ons knieë te gaan en onsself oop te stel vir die Gees wat van ons mense na die beeld van Jesus maak.

Ontvang en omhels Jesus se heerlike belofte in Johannes 16:13-14 (NAV):

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.

Laat ons elke daag saam met Jesus, uit die krag en onderrig van die Heilige Gees, leef.

God stuur ons om te leef

Verootmoediging: Geleentheid vir stil gebed – dink na oor die droë bene en swakheid wat jy beleef.

Nagmaalsformulier
Voorbereiding van die Tafel

Litanie – by die Nagmaalstafel

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep u kerk oor die wêreld heen …
G: met waagmoed vir geregtigheid.

V: Kom herskep u kerk in Suid-Afrika …
G: met deernis en medelye vir die nood rondom ons.

V: Kom herskep die NG Kerk en die VGK …
G: om nuwe moontlikhede vir kerkeenheid te soek.

V: Kom herskep ons in NN (naam van julle gemeente) …
G: sodat ons uit dankbaarheid u wil sal soek.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep individue in die wêreld …
G: dat hulle onrustig sal bly totdat hulle rus vind in U.

V: Kom herskep mense wat onseker is oor hulle identiteit …
G: tot ’n lewe van selfaanvaarding.

V: Kom herskep mense wat ander veroordeel …
G: tot ’n lewe van selfondersoek.

V: Kom herskep mense wat sukkel om kinders te kry …
G: met die troos van u nabyheid.

V: Kom herskep die seer van kinders wat mishandel en gemolesteer word …
G: met u genesende liefde.
V: Kom herskep misdadigers en geweldplegers …

G: met ’n hartsverandering en onderskeidingsvermoë.
V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Buiten vir die kerk en vir individue, vra ons uitkoms vir ons wêreld …

Vir die oorloë …
G: in Afganistan, Irak, Soedan en oral waar daar oorlog is.

V: Vir die vigspandemie …
G: in Suid-Afrika, Zambië, die res van Afrika en oral waar mense ly.

V: Vir hongersnood en armoede …
G: in Indië, Malawi, Amerika en oral in die wêreld.

V: Vir die mishandeling van vroue …
G: in Bangladesj, Suid-Afrika, Tsjad en oral in die wêreld.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep ook vir my …
G: haal my kliphart uit, en gee vir my ’n hart van vleis.

V: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek, bid ons …
G: Kom, Skepper-Gees!

VONKK 27 Kom En Lei My, Skepper-Gees
V: Amen!
(Uit Cas Wepener se Soos ‘n Blom na die Son draai, Bybel-Media 2011)
Instelling en gebruik van die tekens

Gebed
Almal bid saam die Onse Vader

Geloofsbelydenis (‘n lidmaat lees dit voor)
“Ek glo aan ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende oomblikke in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
(Herman Bavinck, aangehaal in Cas Wepener se Soos ‘n Blom na die Son draai, Bybel-Media 2011)

Dankoffer

Slotsang : Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”

Seën
Die gemeente herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken.
V: Die genade van ons Here Jesus Christus …
G: …

V: Die liefde van God ons Vader …
G: …

V: En die teenwoordigheid van die Heilige Gees …
G: …

V: Sal met ons wees …
G: …

Respons
Flam 302 Sonder U Gees of
VONKK 144 Vrede Van God of
Lied 433 “Kom, Skepper-Gees, kom gee u seën”

F302. Sonder U Gees
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Stass van Veuren
© 2009 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Onbeskaamd 2)

Refrein:
Sonder u Gees kan ons nie, wil ons nie beweeg nie.
Sonder u Gees is ons blind en sonder krag.
Maar met u Gees is ons sterk, kan ons werk
is ons altyd gereed om te doen wat U vra.

U roep ons om te gaan,
U roep ons om te staan,
U los ons nooit alleen
en vir u Naam sal ons staan.

VONKK 144 Vrede Van God
Johannes 14 : 25-27; 20: 20-23 Teks: Johan Bronsveld  (1951-); Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2010 ©
Musiek: BRONSVELD – Johan Bronsveld (1951-) © Afrikaanse teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Unisong Music Publishers (admin BMG Music Publishing Africa). Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Meditatief – Uitsending / Drie-eenheidsondag

1. Vrede van God, die vrede van God,
die vrede van God is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

2. In Jesus Naam, in Jesus Naam,
in Jesus se Naam gee ek jou:
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

3. Heilige Gees, die Heilige Gees,
die Heilige Gees is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.