Pinksterfees

Sections

Oorsig

Pinkster is ‘n groot hoogtepunt van die kerkjaar in dié sin dat God se verlossingswerk deur die uitstorting van sy Heilige Gees verder gevoer en gelowiges opnuut, elke jaar, daarvan bewus kan word.

Ons vier fees oor die feit dat God Sélf, deur die inwoning van sy Gees, ons van die waarheid van verlossing oortuig, die geloof in ons harte wek en ons daagliks in hierdie waarheid lei.

Meer as dit, deur sy Gees wat in ons woon, word ons uiteindelik wat God ons geskep en geroep het om te wees deur die vrug van die Gees in ons te laat groei.

Verder het ons groot rede tot feesviering en jubelsange omdat God ons ook deur sy Gees toerus vir ons dienswerk in sy koninkryk deur aan elkeen van ons, afsonderlik, ‘n geestelike gawe te skenk waarmee ons Hom in hierdie lewe kan dien en eer!

Simbole
Duif en vuur

Kleure
Rooi, oranje en geel

Ander tekste

Genesis 11:1-11( alternatief)
Die toring van Babel
11 Die hele wêreld het net een taal gepraat. 2Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by ’n vlakte in Sinar en daar gaan woon. 3Hulle het op ’n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”

Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, 6en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. 9Daarom het hulle die stad Babel g genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

Die nageslag van Sem
(Vgl Gen 10:22–29)
10Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming. 11Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

Psalm 104:24-34, 35b
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

35Mag die sondaars van die aarde af
verdwyn,
mag die goddeloses
ophou om te bestaan!

Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Johannes 14:8-17 (25-27)
8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Fokusteks

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:
Ek het die Here altyd voor oë.
Hy is aan my regterhand;
ek sal nie wankel nie.
26Daarom is my hart bly
en my tong jubel,
ja meer, ek het die verwagting
dat my liggaam sal lewe,
27want U sal my nie
aan die doderyk oorlaat nie;
U sal nie toelaat dat u troue dienaar
vergaan nie.
28U het my die paaie van die lewe
geleer;
u teenwoordigheid sal my
met vreugde vul.

29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ‘n profeet en hy het geweet dat God met ‘n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:
Hy is nie aan die doderyk
oorgelaat nie,
en sy liggaam het nie
vergaan nie.

32God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:
Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
35totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.

36Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Ekstra stof

In ‘n vorige bydrae in die leesrooster reeks vind ‘n mens die volgende perspektiewe:

In die poging om die teks in die konteks van vandag te plaas, kan dit nuttig wees om te let op ‘n aantal preke en meditasies oor hierdie gedeelte. Soos wat ‘n mens kan verwag is daar heelwat preke oor die Pinkstergebeure. ‘n Paar word uitgelig:

Noordmans
In Noordmans se Versamelde werke (vol. 7), is daar ‘n viertal preekmeditasies oor Handelinge 2:1-14. In ‘n eerste meditasie wys Noordmans daarop dat Pinkster ‘n fees van die vervulling is. Jesus is die een wat gesê dat hy gekom het om die wet en die profete te vervul. In Pinkster begin hierdie vervulling in werking tree. Nadat Jesus alles op aarde volbring het, is die mense waarvoor hy gesterf en opgestaan het nog steeds in sonde en ellende. Op Pinksterfees vaar die evangelie soos op die vleuels van ‘n stormwind aarde toe. Sedert Pinkster sweef die Gees van God soos in die Genesis-verhaal weer op die water, maar nou nie om visse en voëls tot lewe te roep nie, maar om in die harte van mense geloof, hoop en liefde te werk. As ons die Heilige Gees nie ontvang nie, is ons inderdaad sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef 2:11).

Die werk van die Heilige Gees is verborge. In die veld kan elkeen ‘n stormwind hoor en die eerste dissipels kon Jesus se lering hoor. Maar wie, vra Noordmans, kan die beweging van die Gees onderskei? Wie sal daarop reageer? Ten spyte van die verborge manier waarop die Gees werk, kom die Gees na mense soos ons – kom werk die Gees in ons harte.

Voorts hoort die Heilige Gees en die volkere hoort byeen. Elkeen verstaan die Heilige Gees. Dit is ‘n wonderlike seën: God kan tot elke mens spreek. As ons na die natuur en ook die Skrif kyk is daar so baie dinge wat ons nie verstaan nie. Ons is immers nie elkeen ‘n Lorentz of ‘ n Einstein, of ‘n Skrifgeleerde nie. Maar die Gees is nie bloot deur menslike genialiteit toeganklik nie. Die Gees kom ons gedagtes binne en lei dit. Die Gees kom ons hart binne en troos ons. Ons het tog nodig om te verstaan en verstaan te word. Die Gees help ons om te verstaan. Dit is ‘n wonderlike gawe – alle vrede en rus hang daarmee saam.

Dalk kan ‘n aantal kort aanhalings uit die ander drie meditasies van Noordmans die verbeelding prikkel:

“Op Pinkster sien ons skielik die dissipels van Jesus in ‘n heel ander lig. Let op die onderskeid tussen Paasfees en Pinkster. Tydens Paasfees is daar onsekerheid, vrees en verstrooiing by die dissipels. Die Herder is daar wel, maar die skape is verstrooid. Met Pinkster het die skape self herders geword.”

“Pinkster beteken dat ons lewens na bo – na die hemel oop is”

“Jesus spreek so tot ons dat Hy ons woorde tot ‘n voertuig van sy Gees en evangelie kies. Die woorde wat ons daagliks gebruik kom vul die Gees om op so ‘n manier dat dit ‘n blye woord word. Woorde wat bedreiging inhou word woorde van belofte. Die woord ‘sonde’ word nou: vergewing. ‘Dood’ heet nou: opstanding. As Jesus tot ons spreek, vind in elke taal sodanige vertaling plaas. Dit is die uitstorting van die Heilige Gees”.

Miskotte:
In 1938 preek die Nederlandse teoloog K H Miskotte op Pinksterdag ‘n preek met Handelinge 1:17 en 1 Korintiërs 13:13 as teksverse:

Op Pinksterdag doen die mense ‘n vreemde ding – hulle spreek in vreemde tale. Hulle praat in vervoering op ‘n manier wat ander ook meevoer. Sommige konkludeer dat hulle dronk moet wees. Petrus wys daarop dat daar wel ‘n geestelike dronkenskap is – ‘n vervoering wat die gewone grense van die denke en die sintuie deurbreek. Seuns en dogters sal profeteer.

Wat is profeteer? Is dit blote entoesiasme? Nee, profeteer is om van God te spreek vanuit ‘n nuwe, deurleefde kennis. Dit is geensins vanselfsprekendheid dat ons as mense van God kan spreek nie, want God is tog die Gans Andere. Van al die tekens op Pinksterdag is die taal-wonder daarom die gewigtigste van al die tekens van die uitstorting van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is die mag wat profeteer moontlik maak.

Miskotte wys voorts op die verborge werking van die Gees. Die Heilige Gees bly self op die agtergrond. Die Gees is die inspireerder van die kerk, maar kan nêrens vasgepen word nie. Deur die werking van hierdie Gees vind die wonder plaas dat gewone mense (seuns en dogters en ou mense) oor die grense van hulle eie begrip meegesleur word. Die swakhede en beperking van die menslike spreker word oorwin. Hierdie profesie sal weerklink deur die geskiedenis van ons angstige, bedreigde wêreld heen tot die ‘laaste dae’. Ten spyte van gasmaskers en bomaanvalle sal daar geprofeteer word. Mense sal met hulle spot, maar die profesie sal voortgaan.

Wat is die inhoud van die profesie? In ‘n sin is dit onuitspreeklik ryk en wyd. Die ganse Skrif is daarin opgesluit. Tog kan ons sê: die inhoud van die profesie is verwagting – ‘n verwagting van geloof, hoop en liefde. Woorde soos geloof, hoop en liefde is woorde waaroor ook ander stemme oor praat. Soos die mense wat op ‘n humanistiese wyse hoop, geloof en liefde vaag maak, sodat dit inhou wat hulle in elk geval glo. Of diegene wat dink dit is naïewe woorde van hulle wat nie tred hou met die werklikheid van die krag van mag nie.

Geloof, hoop en liefde is egter daarteenoor Pinksterwoorde wat die Heilige Gees op ons lippe lê. Dit is nie vae woorde nie. Die geloof is die geloof in Jesus Christus; die hoop is die hoop op sy koms en vernuwing; die liefde is die liefde tot die liggaam, tot die huisgenote van die geloof.

Na Pinkster ontdek ons dat onsself nie instaat is tot geloof, hoop en liefde nie, behalwe deur die Heilige Gees nie.

Nou kom ons by die geheim van Pinksterdag. Daar staan nie in die Bybel dat jy moet glo en dan sal mense ook glo nie. Of dat jy moet hoop dat sal daar hoop wees nie. Of dat jy moet liefhê dan sal daar liefde wees nie. Nee, Een (dit is, Jesus Christus) het geglo te midde van die diepste Godverlatenheid; Een het gehoop toe dit gelyk het of alle hoop verlore is. Een leef liefde uit waar die hele wêreld in die gifgas van veragting gestik het. In Hom is geloof, hoop en liefde bewaar en opgespaar. En ons geloof, hoop en liefde is ‘n deelhê en ‘n deelneem deur die Heilige Gees aan die geloof, hoop en liefde wat daar in Jesus Christus is. Hierdie geloof, hoop en liefde van ons is daarom ‘n wonder.

Miskotte sluit sy preek af met die versugting: “Mag elkeen van ons leer van profeteer. Mag ons van hierdie heilige dinge spreek. God gee sy Gees aan elkeen wat te midde van matheid en moegheid oprys en teen menslike ervaring in sê: En nou bly geloof, hoop en liefde”.

Will Willimon:
Will Willimon het ‘n preek met die titel The Prevailing Spirit op Pinksterdag 1998 gehou

Hy begin met ‘n aanhaling van John McIntyre wat na Pinkster as die ‘wholehearted expression of the almost unlimited imagination of God’ verwys.

Tydens Pinkster vier ons die triomf van die Gees. Die Gees seëvier oor al ons verskille – verskille van nasionaliteit, taal, klas, ras, geslag.

Ons sien hierdie triomf in Handelinge 2.

Dit gaan nie tydens Pinkster oor die triomf van die menslike gees nie.  Die Heilige Gees triomfeer soms selfs genadiglik oor ons menslike gees.

Pinkster was ‘n Joodse fees. Die eerste kerk het uit Jode bestaan. Die eerste beloftes was duidelik beloftes vir die Jode. Tog lees ons dat kort na Pinkster Petrus ‘n visie gehad het oor onreinheid. Die gevolg: die evangelie versprei ook onder die sogenaamde ‘onreines’. Die Heilige Gees seëvier.

Vyftienhonderd jaar later, was daar wydverspreide korrupsie en magsmisbruik in die kerk. ‘n Monnik in Duitsland met die naam van Martin Luther roep die kerk terug na die Bybel. Die Heilige Gees seëvier.

Agtiende eeuse Engeland gaan deur die trauma van verstedeliking en industrialisasie. Die kerk lyk ver verwyderd van hierdie realiteite. ‘n Priester met die naam van John Wesley beleef hoe sy hart vreemd warm word en ‘n dramatiese herlewing volg. Die Heilige Gees triomfeer.

Willimon noem nog ‘n aantal voorbeelde uit die kerkgeskiedenis en wys hoe te Gees te midde van menslike swakhede triomfeer. Ons is daarom nie sonder hoop nie. Die Heilige Gees lei nog steeds die kerk: ‘Just when we get all settled down, comfortable with present arrangements, our pews bolt securely to the floor, all fixed and immobile, there comes a rush of wind, or a still small voice, a breath of fresh air, tongues of fire and … the Holy Spirit prevails!’

Hauerwas
Die Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas begin ‘n artikel oor narratiewe teologie (en ter ere aan Hans Frei) met ‘n Pinksterpreek wat Genesis 11:9; Handelinge 2:1-21 en Johannes 15:26-16:11 as Skriflesing neem.

Tydens Pinkster vier ons die geboorte van die kerk. Die wind van die Gees skep ‘n nuwe nasie wat nie uitgelewer is aan die beperkinge van die verlede nie. So kry ons deel aan ‘n nuwe tyd – God se tyd.

Ons glo dat God met Pinkster ongedaan gemaak het wat by Babel gebeur het.

Die probleem van Babel was nie menslike kreatiwiteit nie, die probleem was eerder dat mense nie besef het dat hulle bestaan en talente ‘n gawe van God is nie. ‘n Versplintering vind daarom plaas. God bedoel die versplintering as ‘n gawe om die mense iets van egte nederigheid te leer. Maar die mense aanvaar nie hierdie gawe nie, en gebruik die versplintering om hulle eie klub te versterk en ander te dwing om hulle taal te praat. Dus word oorlog by Babel gebore. Die moord van Kain op Abel kring wyer uit.

Dit is teen die agtergrond van Babel dat ons Pinkster kan verstaan. ‘n Nuwe verstaan word moontlik gemaak. Die wond van Babel word geheel. Die vreugde van die heling maak mense ekstaties. Hulle word bevry van die eindelose sirkel van haat en wraak. Daar is ‘n vreugde van eenheid.

Daar is ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe taal. Die nuwe taal is nie een of ander universele taal wat niemand praat nie en wat die realiteit van ander ontken nie.

Nee, ‘at Pentecost God created a new language, but it was a language that is more than words.  It is instead a community whose memory of its saviour creates the miracle if being a people whose very differences contributes to their unity’ (53).

Ons noem hierdie nuwe skepping kerk. Die kerk moet die storie van God vertel en beliggaam. Deur die uitleef van die verhaal word die kerk, soos Israel, ‘peculiarly a people who live by our remembering the history of God’s redemption of the world’.

Die kerk het ‘n storie om te vertel, om uit te leef. ‘

‘(T)he church has a story to tell in which God is the main character. But the church cannot tell the story without becoming part of the tale’ (54).

En verder:  ‘(I)t is our belief that what God did at Pentecost he continues to do to renew and sustain the presence of the church so that the world might know there is an alternative to Babel’ (54).

Ons het nie net ‘n alternatief vir die taal en tyd van die wêreld nie, ons is die alternatief: ‘We do not have a story to tell but in the telling we are the story being told”

2.3 Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 113 of VONKK 270 of Flam 104 [bekend] of Lied 444

Votum: (Responsories uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Seëngroet: (Responsories uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lofsang: Lied 439

Pinkster-litanie: VONKK 27 of Flam 58 met responsoriese litanie uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”

Lied: Flam 302 of Lied 436

Geloofsbelydenis: Voorleser: Herman Bavinck

HOOR

Gebed: deur Eric Milner-White; VONKK 24 of  Flam 178 of Lied 442

Skriflesing en Familie-oomblik: Handelinge 2:1-21

Preek

LEEF

Gebed

Nagmaalgebed: (Responsories uit Handleiding vir die Erediens)

Dankoffer

Slotsang: VONKK 211 of Flam 339 of Lied 440

Seën: (Erediensgangers herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken)

Respons: VONKK  207

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 113 Kom, Heilige Gees of
VONKK 270 Gees van God, o lewende God of
Flam 104 Weet Jy Nie, Jy’s ’n Tempel? [bekend] of
Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!”

Votum
Voorganger: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
Gemeente: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Seëngroet
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lofsang
Lied 439 “O Heil’ge Gees, o God in ons”

Pinkster-litanie
VONKK 27 Kom En Lei My, Skepper-Gees of
Flam 58 Skepper Gees

Kan aangepas word na gelang van omstandighede
V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep u kerk oor die wêreld heen …
G: met waagmoed vir geregtigheid.

V: Kom herskep u kerk in Suid-Afrika …
G: met deernis en medelye vir die nood rondom ons.

V: Kom herskep die NG Kerk en die VGK …
G: om nuwe moontlikhede vir kerkeenheid te soek.

V: Kom herskep ons in NN (naam van julle gemeente) …
G: sodat ons uit dankbaarheid u wil sal soek.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep individue in die wêreld …
G: dat hulle onrustig sal bly totdat hulle rus vind in U.

V: Kom herskep mense wat onseker is oor hulle identiteit …
G: tot ’n lewe van selfaanvaarding.

V: Kom herskep mense wat ander veroordeel …
G: tot ’n lewe van selfondersoek.

V: Kom herskep mense wat sukkel om kinders te kry …
G: met die troos van u nabyheid.

V: Kom herskep die seer van kinders wat mishandel en gemolesteer word …
G: met u genesende liefde.

V: Kom herskep misdadigers en geweldplegers …
G: met ’n hartsverandering en onderskeidingsvermoë.

V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Buiten vir die kerk en vir individue, vra ons uitkoms vir ons wêreld …

Vir die oorloë …
G: in Afganistan, Irak, Soedan en oral waar daar oorlog is.
V: Vir die vigspandemie …

G: in Suid-Afrika, Zambië, die res van Afrika en oral waar mense ly.
V: Vir hongersnood en armoede …

G: in Indië, Malawi, Amerika en oral in die wêreld.
V: Vir die mishandeling van vroue …

G: in Bangladesj, Suid-Afrika, Tsjad en oral in die wêreld.
V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep ook vir my …

G: haal my kliphart uit, en gee vir my ’n hart van vleis.
V: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek, bid ons …

G: Kom, Skepper-Gees!
V: Amen!
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lied
Flam 302 Sonder U Gees of
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees”

Geloofsbelydenis
Voorleser:
Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien,
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van
die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook  in beslissende oomblikke in my
lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel wou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my
moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
Herman Bavinck
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Liedere

F339. “Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Gebed) Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: © 2009 Flam Musiek-Uitgewers
(Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Gees van God, kom neem nou beheer
van ons denke en ons harte,
van ons vrese en ons vlees.
Gees van God, kom lei ons vandag
in ons passie en aanbidding,
in u wysheid en u krag.

En ons hef ons hande op na U
en ons sing uit ons harte vir U.

Ons roem in u Naam
in u grootheid en u heerlikheid.
Ons roem in u Naam
in u liefde en u heiligheid.
Want U is ons God,
God van elke stam en taal.
Ja, U is ons God. Amen.

F302. “Sonder U Gees”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Stass van Veuren © 2009 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Onbeskaamd 2)

Refrein:
Sonder u Gees kan ons nie, wil ons nie beweeg nie.
Sonder u Gees is ons blind en sonder krag.
Maar met u Gees is ons sterk, kan ons werk
is ons altyd gereed om te doen wat U vra.

U roep ons om te gaan,
U roep ons om te staan,
U los ons nooit alleen
en vir u Naam sal ons staan.

F178. “Die Kleur Van Die Kruis”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding) Teks en musiek: Ioannis Dekas © 2006 MAR Gospel Music Publishers

Lig op lig en donker teen donker
genade, u liefde, u trou
al u rykdom, die spektrum so wyd
U volheid, die kleur van die kruis.

Vul my lewe opnuut met u kleur.
Maak u Woord
soos ’n verfkwas met kleurpalet.
Laat u Gees kom,
u lewe publiek maak deur my.
Dis die krag en die kleur van die kruis.

Kom, Gees, op my gees
kom, Woord, op my woord
kom verf met die kleur van geloof.
Ek gee U my hande
ek gee U my woorde,
my wese, die kleur van die kruis.

Al kos dit my lewe, al vra dit my alles,
dis hier waar die offer gemaak
en gevra word.
Die kleur van ’n Man
wat daar hang aan die kruis
word die kleur van my lewe,
die kleur van my lof aan die Lam.

Halleluja!
Halleluja!

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ’n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering) Musiek: Tradisioneel Teks: Jan de Wet © 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Jy is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

2. Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
jy is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

3. Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ek is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese) Teks en musiek: Ioannis Dekas © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.

Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
Kom in al U volheid,
kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Teks: Jacques Louw 2010 © Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 © Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 © © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Pinkster

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe, my krag, my vermoëns,
aan U kan toewy –
u dien met my gawes.
Ek wil gehoorsaam U dien in liefde.
Ek lê myself, Heer, voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

VONKK 270 “Gees van God, o lewende God”
Teks: Hannes van der Merwe 2013 © Musiek: RUIMTE – Anton Esterhuyse 2013 © Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2013 ©
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping  / Voorbereiding om God se
Woord te hoor /  Gebede / Pinkster

Gees van God, o lewende God,
stort oor ons u heilige vuur.
Maak ons wakker vanuit ons slaap;
vul ons met u waarheid en lig.
Vul ons tot ons oorloop
en u Gees ons nuut maak.

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”
Teks: Veni Creator Spiritus – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.  Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Pinkster

Kom en lei my, Skepper-Gees.
Veni Creator Spiritus.

VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons”

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 211 “Heilige Gees, U, Die Trooster”
Teks: Pieter Malherbe 2011 © Melodie: UITGESTUUR – Pieter Malherbe 2012 © Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012 Musikale verryking 1: Gerrit Jordaan 2012 Musikale verryking 2: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Pinkster

1. Heilige Gees, U, die Trooster,
tree vir ons in by die Vader.
U ken die kreet van ons harte.
Laat ons u vrede ontvang.

2. Heilige Gees, U, die Leidsman,
leer ons die woorde van Jesus.
U gee aan elkeen ’n gawe.
Laat ons mekaar daarmee dien.

3. Heilige Gees, as Gestuurde,
stuur U ons uit in die wêreld.
U gee ons woorde van deernis.
Laat ons met vreugde getuig.
U gee ons woorde van deernis.
Laat ons met vreugde getuig.

God praat met ons en ons luister

Gebed
O Heilige Gees van God,
kom na ons en beweeg tussen ons:
kom as wind en reinig ons;
kom as vuur en suiwer ons;
kom as dou en verfris ons:
oortuig, bekeer en wy ons harte en lewens aan U
vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se naam.
Eric Milner-White (1884-1964)
(Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”, red Johan van der Merwe)

VONKK 24 Gees Van God, Kom Woon In Ons of
Flam 178 Die Kleur Van Die Kruis of
Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

Skriflesing en Familie-oomblik: Handelinge 2:1-21

Preek

Familie-oomblik

Integreer die familie-oomblik en Skriflesing.  As jy die video’s van “The Jesus Storybook Bible” het, kan jy byvoorbeeld die video “God sends help” wys.  Of lees die gedeelte op jou tablet vanaf die YouVersion Bybel vir Kinders.  Dis lekker interaktief, so kinders kan op die skerm druk om verskillende dinge te laat gebeur.  Hier is ‘n video van die Engelse weergawe daarvan.

By dinkjeug is ‘n dokument met inkleurprente en aktiwiteite.  Kinders sal dit veral geniet om krone van vuurtonge te maak.  Hier is ‘n templaat, met instruksies hier.

Preekriglyn

Op Pinksterfees vier ons die geboorte van die kerk. Tot nou toe was Jesus se volgelinge ‘n onseker en bangerige, oorversigtige groep. Wanneer hulle met die Heilige Gees vervul word, word die kerk lanseer.

Die koms van die Heilige Gees bemagtig die kerk op maniere wat nie voorheen vir God se hele volk beskikbaar was nie. Pinksterfees herinner ons aan die oneindige krag wat God vir die taak van die kerk voorsien: die Heilige Gees. Ons lewe as dissipels vertoon maar middelmatig wanneer ons die werklikheid van die derde Persoon in die Drie-eenheid wat in ons leef en werk onderskat.

Groter prentjie

Ons moet die wyse waarop Lukas die Pinkstergebeure oordra in die groter raamwerk van Lukas en Handelinge verstaan:

  • Jesus se publieke bediening begin in Lukas 4:18-19 waar Jesus noem dat Hy deur die Heilige Gees bemagtig word. Net so begin die kerk se bediening met die aankondiging van die kerk se bemagtiging deur die Heilige Gees.
  • In Jesus se aankondiging haal hy uit die Ou Testament aan (Jesaja), wat ook in Handelinge 2 met ‘n aanhaling uit Joël gebeur.
  • Die Lukas-evangelie beweeg van die tempel na Galilea en weer terug na Jerusalem, terwyl Handelinge ook in Jerusalem begin maar na die eindes van die aarde beweeg.

Regdeur Lukas se geskrifte – Lukas-evangelie en Handelinge – is die werk van die Gees deurslaggewend, dinamies en skeppend. Daar is nie groter krag, energie of mag in die skepping aanwesig as die krag van die Heilige Gees nie.

Krag ontvang

Jesus het sy dissipels voorberei vir die koms van die Heilige Gees met die belofte van Pinkster (Hand 1:4-8). Hy het beloof dat sy volgelinge “met die Heilige Gees gedoop” sal word.

Verskillende kerklike tradisies interpreteer die “doop” met die Heilige Gees op uiteenlopende wyses. Een van die redes is die geweldige wye reeks dinge wat die Heilige Gees in gelowiges se lewens bewerk. Die Heilige Gees doen dinge soos:

  • herskep ons geestelik waneer ons Jesus se volgelinge word
  • bewerk die beeld van Christus in ons
  • vul ons met die krag van God.
Krag tot getuienis

Lukas beklemtoon egter hoofsaaklik een taak van die Gees: gelowiges word geïnspireer om God se boodskap te verkondig (2:17-18). Die Gees maak gelowiges profete, verkondigers. Hierdie profetiese aktiwiteit van die Gees word dikwels in die Ou Testament genoem, kom in Joodse geskrifte voor en word ook in die Nuwe Testament vermeld. Lukas fokus byna net hierop wanneert hy die werk van die Heilige Gees beskryf.

Daarom staan Hand 1:8 so sterk uit as opsomming van die werk van die Heilige Gees: die Gees gee gelowiges krag om Jesus se getuies te wees. Soos die Lukas-evangelie Jesus se bediening aan mense op die kantlyn van die samelewing beklemtoon, beklemtoon Handelinge die dissipels se getuienis aan mense oorkant die grense, die mense wat in die Joodse samelewing gemarginaliseerd was, die heidene. Getuienis is wat gelowiges oor die grense stuur (Hand 1:8).

Vir die eerste dissipels sou hierdie belofte van krag tot getuienis dadelik opval. Die profete het die finale uitstorting van die Heilige Gees met die eindtye in verband gebring (Jes 44:3, Eseg 36:26-27; Joël 2:28-3:1). Daarom reageer hulle met die vanselfsprekende vraag: aangesien hierdie die eindtyd is, wanneer aan U die koninkryk van Israel weer oprig (1:6)?

Jesus antwoord dat hulle nie hoef weet watter tye God bepaal het nie. Wat hulle moet weet, is dat hulle in hierdie tyd getuies sal wees, net soos Jesaja verklaar het die dienaars van Here sal God se getuies in die eindtye wees (Jesaja 43:10, 12; 44:8). Deur hulle getuienis oor grense sal die dissipels die inbreek van God se kragtige werk in die geskiedenis beleef.

Voorbereiding

Steeds by die groter, inleidende prentjie. Lukas laat die klem ook op die dissipels se voorbereiding vir Pinkster val (1:12 – 2:1). Die dissipels het bly bid en eensgesind vergader. Hulle het hul vertroue geplaas in Jesus se belofte van die Heilige Gees, en het hul leierskap in orde gebring met die verkiesing van ‘n apostel in Judas se plek.

Dit beklemtoon Lukas se begeerte dat die kerk van sy tyd – en ons tyd – gekenmerk word deur gebed, eenheid en voorbereiding om God se werk se doen en in te val by God se beweging na die wêreld.

Hoewel die uitstorting van die Heilige Gees ‘n afgehandelde gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis is, gaan God voort om God se Gees uit te stort (4:31 en 8:17), soms op maniere wat soortgelyk aan die eerste Pinksterdag is (4:32–35; 10:44–45; 19:6) en soms in beantwoording op gebed (4:30; 8:15; vgl. Lukas 11:13). Wanneer ons die aktiewe bemagtiging deur die Gees in ons eie gemeente verlang, bly dit iets waarvoor ons moet bid.

Tekens

Nadat Handelinge van die voorbereiding vir Pinkster vertel, word dit gevolg met die tekens wat Pinkster vergesel het: die klank van ‘n geweldige stormwind, die verskyning van vlamme, en die praat in ander tale.

Stormwind

Op ander plekke in die Bybel blaas God lewe in die mensheid, of verskyn God in ‘n sagte wind. Hier het ons ‘n kragtige, dinamiese wind, wat God se lewegewende krag in die mensheid simboliseer. Dit herinner aan Esegiël 37:9 waar die Gees uit die voer windstreke kom om lewe in die dooie bene van Israel te blaas.

Vuurtonge

Vuur simboliseer verskeie dinge in die Bybel, meestal oordeel en veral die eindoordeel. Dit is hoe Johannes die Doper dit bedoel het toe hy gesê het dat die Messias met vuur en Gees sal doop: die Gees is Christus se gawe aan die gelowiges en die vuur die teken van sy oordeel oor die bose. Vuur is ook ‘n teken van reiniging, want met die eindoordeel word God se wêreld van sonde gereinig.

Die vuurtonge wat op elke gelowige land, is ‘n teken van God se toekoms wat deur die Gees reeds ‘n werklikheid word, en van die krag wat elke gelowige deur die Gees ontvang.

Praat in verskillende tale

Die gelowiges ontvang die gawe om in verskillende menslike tale te praat, sodat die sprekers van daardie ander tale hulle kan hoor en verstaan. Hierdie is ongetwyfeld ‘n Goddelike wonderwerk wat daarop dui dat die nuwe lewe (wind) en die bemagtiging van die Gees (vuurtonge) die verskeurdheid tussen mense oorbrug en begrip en kommunikasie moontlik maak. Die verbrokkeling wat op die spraakverwarring by Babel ontstaan het, word nou deur die eenheidskeppende krag van die Gees oorwin en deurbreek.

Lukas vermeld spesifiek dat die praat in ander tale weer voorkom wanneer die Gees ook op ander plekke uitgegiet word (10:46 en 19:6). Daarmee gaan Jesus se belofte dat die dissipels krag sal ontvang en Jesus se getuies onder die nasies sal wees (1:8) in vervulling. God gee die Goddelike vermoë om die evangelie in verskillende tale te verkondig, sodat die apostels daardie opdrag kan uitvoer.

Petrus bring die spreek in ander tale in verband met die profeet Joël se profesie oor die eindtye, die laaste dae. Die wind, vlamme en tale is tekens dat die era van God se nuwe hemel en aarde nou al reeds in hierdie wêreld inbreek. Die Heilige Gees maak God se komende koninkryk nou al reeds ‘n werklikheid.

Wanneer mense na die lewe van die kerk kyk, moet hulle kan sien hoe die toekoms van God en die volledige aanbreek van God se koninkryk gaan lyk.

Pinkstermense

Nadat Handelinge 2 vertel het van die tekens wat Pinkster vergesel, verskuif die aandag na die eerste mense van Pinkster. Dit is godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son (2:5). Hulle word die brug waaroor die evangelie alle moontlike kulturele grense oorsteek (2:5-11). Sommige uitleggers vergelyk die tabel van nasies hier vermeld met die lys nasies in Genesis 10, hier opgedateer om tale en nasies uit Lukas se tyd weer te gee.

Daarom sê ons dat die uitstorting van die Heilige Gees God se oordeel oor die Toring van Babel omkeer. Soos God eens die nasies versprei het deur hulle uiteenlopende tale te gee, so bemagtig God nou sy kerk om hierdie grense oor te steek.

Die Heilige Gees lei die kerk uit die kerk se gemaksones, en bemagtig die kerk om die grense oor te steek. Die Gees werk die verskeuring en verbrokkeling sedert Babel teë.

Daarom is die Here se kerk vandag steeds ‘n agent vir versoening tussen kulture, rasse en tale. Christus se kerk beywer haar vir kulturele sensitiwiteit, kruis-kulturele bediening en kerkeenheid. Dit is alles gegee in Christus se opdrag dat ons onder die nasies moet getuig en die Gees se oopbreek van taalgrense in Handelinge 2. Nooit weer sou die kerk taal, nasionaliteit en etnisiteit as ‘n onoorkombare grens sien nie.

Dronkgeslaan

Die omstanders is dronkgeslaan en wonder of diegene wat so in verskillende tale praat, dronk is. Natuurlik nie, sê Petrus. Petrus bring die talewonder in verband met die profesie van Joël oor God wat mense bemagtig om te praat soos die Gees hulle lei. Hierdie bemagtiging deurbreek ook geslag en generasie-grense: seuns, dogters, jongmense en oumense, dienaars en dienaresse.

Die Gees se bemagtiging is om te profeteer, om God se Woord te verkondig.

Petrus meld ook allerlei tekens wat hierdie verkondiging vergesel. Dit is tekens wat met die finale koms van God se koninkryk aan die einde van die tyde verband hou. Dit sê dat God se koninkryk nou al reeds ‘n werklikheid word waar gelowiges van Jesus getuig. Ons beleef in Jesus se Naam reeds ‘n voorsmaak van God se komende koninkryk.

Ons vandag

Hierdie teks het ‘n kragtige boodskap vir ons vandag.

Eerstens was die dissipels gewone, gebroke mense soos ons. Nie een van hulle was besonders nie. Dit is ‘n bang klompie mense wat biddend wag op die bemagtiging van die Heilige Gees.

Pinkster beklemtoon dat niks uit ons eie krag gebeur nie. God bereik God se doelwitte deur ons, nie omdat ons so sterk is nie, maar omdat God God se krag deur ons betoon.

Daar is geen groter krag as die krag van die Heilige Gees in die universum nie. Daardie krag werk deur ons, maak ons getuies. Bewerk heling en versoening deur ons, en plaas God se skepping onherroeplik in ‘n wentelbaan wat uitloop op die volledige koms van God se koninkryk.

God stuur ons om te leef

Gebed

Nagmaalgebed
Voorganger (V): Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die brood, die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.
Gemeente (G): Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

V: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die wyn, die vrug van die wingerdstok.
Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.
G: Prys die Here, nou en vir ewig!

V: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was en die druiwe wat oor die heuwels versprei was, op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn, mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af saamgebring word in u koninkryk.
G: Maranata! Kom, Here Jesus!

V: Mag die Here met julle wees!
G: En ook met jou!

V: Hef op julle harte.
G: Ons hef dit op tot die Here.

V: Kom ons bring dank aan die Here ons God.
G: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

V: Aan U kom ons dank toe, Here ons God, oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.
Want U het die Heilige Gees uitgestort oor die mense in wie U ’n welbehae het.
Daarom juig die hele aarde en roem die volke in velerlei tale.
Daarom sing ons saam met die engele en hemelwesens die lof van u heerlikheid:
G: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.
Hosanna vir die Seun van Dawid!
Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!
Hosanna in die hoogste hemel!

V: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.
Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.
G: Kom, Skepper-Gees!

V: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.
Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem, en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê: “Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit  drink, tot my gedagtenis.”
G: Ons verkondig u dood, Here Jesus!
Ons vier u opstanding uit die dood!
Ons wag op u koms in heerlikheid!

V: Here ons God, ons roep vandag in herinnering die uitstorting van u Heilige Gees, die Voorspraak wat U vir ons gestuur het, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan en oor Christus getuig.Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees sodat ons een liggaam en een van gees kan wees, ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.
G: Kom, Skepper-Gees!

V: Deur Christus, saam met Christus, in Christus, behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader, in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.
G: Amen.

V: Ons is deur die Heilige Gees beseël as die eiendom van God.
Laat ons dan nou saam bid:
G: Ons Vader wat in die hemel is …
(of Lied 266).
Uit Handleiding vir die Erediens)

Dankoffer

Slotsang
VONKK 211 Heilige Gees, U, Die Trooster of
Flam 339 Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam) of
Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”

Seën
(Erediensgangers herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken)

V: Die genade van ons Here Jesus Christus …
G: …

V: Die liefde van God ons Vader …
G: …

V: En die teenwoordigheid van die Heilige Gees …
G: …

V: Sal met ons wees …
G: …
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Respons
VONKK  207 Tshollela / Laat kom u Heilige Gees

Teks: Tshollela – tradisioneel Sesotho; Afrikaanse weergawe: VONKK-Werkgroep 2012
Musiek: TSHOLLELA – Tradisioneel Suid-Afrika Kantoryverwerking: Tradisioneel © Sesotho-teks en melodie: Openbare besit
© Afrikaanse teks: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Tradisioneel – Gebede / Pinkster

Sesotho:
Tshollela moya wa hao, Jesu.
Tshollela moya wa hao, Jesu.
Dipelong tsa rona, Jesu.
Tshollela moya wa hao, Jesu.

Afrikaans:
Laat kom u Heilige Gees, o Heer.
Laat kom u Heilige Gees, o Heer.
Laat kom u Gees hier in ons hart.
Laat kom u Heilige Gees, o Heer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.