Pinksterfees

Sections

Oorsig

Pinksterfees is ‘n hoogtepunt in die kerklike jaar waartydens die uitstorting van die Heilige Gees feestelik gevier word met prediking, getuienis, musiek, sang, kleure (rooi, oranje en geel) en simbole (vuur, duif en water). In die steutelteks, Johannes 20, verskyn die opgestane Jesus aan die dissipels, blaas oor hulle en hulle ontvang die Heilige Gees. Handelinge 2 vertel die verhaal van die Pinkstergebeure. Die opskrifte van 1 Korintiërs 12 se twee perikope is “Die verskeidenheid van geestelike gawes” en “Een liggaam met baie lede”. Psalm 104 is ‘n skeppingspsalm wat gereeld tydens Pinksterfees gelees word.

Ander tekste

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word. C.

Psalm 104:24-34;35b
Ek wil my in die Here verbly
104Ek wil die Here loof! 
Here my God, U is baie groot, 
U is beklee met koninklike luister, 
2U is met ’n kleed van lig omhul. 
Dit is U wat die hemelkoepel 
soos ’n tentdoek gespan 
3en vir U ’n woonplek ingerig 
het oor die waters daarbo, 
em>U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind, 
4U wat die winde u boodskappers maak, 
die weerligte u dienaars, 
5U wat die aarde stewig gevestig het, 
sodat dit nooit sal wankel nie. 
6Die groot waters het die aarde 
soos ’n kleed oordek, 
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek, 
het hulle gevlug, 
voor die krag van u stem 
het hulle die wyk geneem. 
8Hulle het oor die berge gespoel 
en in die laagtes weggevloei 
na die plek toe wat U 
vir hulle bestem het. 
9U het ’n grens gestel 
waaroor hulle nie mag gaan nie: 
hulle mag die aarde 
nie weer oordek nie. 
10U laat fonteine in die valleie ontspring 
en tussen die berge deur stroom. 
11Daar kom al die wilde diere drink 
en die wildedonkies hulle dors les. 
12Die voëls maak hulle neste 
langs die water 
en kwetter tussen die takke. 
13Uit die hemel laat U dit 
op die berge reën, 
die aarde word versadig 
deur die reën wat U gee. 
14U laat gras uitspruit vir die diere, 
en groen plante vir die mens 
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: 
15wyn om mense se harte bly te maak, 
olie om die gesig te versorg, 
kos om die mens nuwe krag te gee. 
16Die bome van die Here 
kry volop reën, 
die seders op die Libanon, 
dié wat Hy geplant het, 
17waar die voëls hulle neste maak, 
en die reier sy huis 
in die boomtoppe bou. 
18Die hoë berge is ’n tuiste 
vir die klipbokke, 
die rotse is ’n skuilplek vir die dassies. 
19U het die maan gemaak 
om die vaste tye mee aan te gee, 
die son weet wanneer om onder te gaan. 
20As U die donker bring 
en dit nag word, 
roer al die diere in die bos. 
21Die leeus brul op soek na prooi: 
hulle vra hulle kos van God. 
22As die son opkom, sluip hulle weg 
en gaan lê in hulle skuilplekke. 
23Dan gaan die mens na sy werk toe, 
en hy werk tot die aand.

24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

35Mag die sondaars van die aarde af 
verdwyn, 
mag die goddeloses 
ophou om te bestaan! 

Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

1 Korintiërs 12:3b-13
Die verskeidenheid van geestelike gawes
12 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

7Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.

Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

Fokusteks

Johannes 20:19-23
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16-20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

Votum
Voorganger: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
Gemeente: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)
OF
Voorganger:  Vir almal wat geestelik moeg is en rus soek,
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V: Vir almal wat treur en soek na troos,
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V:  Vir almal wat sukkel en oorwinning soek,
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V: Vir almal wat sondig en ‘n verlosser nodig het,
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V:  Vir almal wat alleen is en gemeenskap soek
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V: Vir almal wat honger en dors na geregtigheid,
Gemeente: die Heilige Gees is vir ons gegee.

V:  En vir almal wat kom, maak die kerk haar deure oop en verwelkom hulle in die Naam van die Here Jesus Christus. [of, tydens inperking: Almal wat saamkom, word ingenooi en verwelkom in die Naam van die Here Jesus Christus.]
Gemeente: laat ons God aanbid in die krag van die Heilige Gees.
(Verwerk vanaf Pittsburgh Theological Seminary)

Seëngroet
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(N.a.v. die Geloofsbelydenis van Nicea, uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lofsang
Verootmoediging

Liedere

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Johannes 20:19-23

Familie-oomblik
Preekriglyn

Familie-oomblik

Gesels oor dinge wat julle bang maak.  Slange, die donker…  Maar ook goed soos alleen wees of misluk.  Jesus het ons gestuur om vir hom te leef en mense van hom te vertel.  Maar ons hoef nie bang te wees nie.  Sy Gees is altyd by ons, daarom is ons nooit alleen nie.  Die Gees sal ons help.

Jy kan aansluit by die idee van “vrede” en mense leer om “vrede” in verskillende tale te sê.  Gebruik die boek “Can you say peace?” deur Karen Katz.  Hier is ‘n video daarvan.  Jy kan die video net so gebruik, of sit die klank af en lees dit interaktief in Afrikaans.

“Truman” deur Jean Reidy is die pragtige storie van ‘n skilpadjie wat alleen by die huis gelos word.  Hy is baie bang!  Aan die einde besef hy dat Sarah hom nooit alleen sal los nie en dat daar allerhande nuwe avonture vir hom wag.  Dit is effens langer – so 7 minute – maar jy kan dit verkort.  Beskikbaar op Kindle of gebruik hierdie video.

Illustrated Ministy het vanjaar ‘n gratis inkleurprent vir Pinkster.  Laai dit hier af.

Preekriglyn

Nota: Op Paassondag is die eerste deel van Johannes 20 as fokusteks benut (v 1-18). Op die Pinksterfees word die verhaal uit Johannes 20 voortgesit, met die fokus op vers 19-23. Op Paassondag en met  Pinksterfees kan ons dus die verband lê tussen hierdie twee hoogtepunte van die kerklike jaar.

Die Covid-19-pandemie het groot dele van die wêreld is vrees vasgevang. Sommige mense vrees die virus. Ander vrees samesweringsteorieë. Ander ontken die gevaar, en word sodoende gevrees deur mense wat vrees. Politici vrees die ekonomiese impak. Ekonome vrees die politieke impak en laat die markte tuimel en tol.

Ons leef in ‘n wêreld gedryf deur vrees. Dit ontlok tipies een van twee reaksies by mense: veg, of vlug.

Geroep te midde van vrees

In ons teks is vrees ook ‘n realiteit. Merkwaardig genoeg roep Jesus sy dissipels midde-in hierdie wêreld van vrees om sy gestuurdes te wees.

Kom ons stap eers deur ons teks, en vra dan daarna wat dit vir ons wêreld beteken.

Vrees op ‘n Sondagaand

Ons begin by vers 19.
In vers 18 is vertel dat Maria Magdalena na afloop van haar ontmoeting met die opgestane Jesus na die dissipels gegaan en vir hulle gesê het dat sy die Here gesien het. Méér nog, sy het vir hulle vertel wat Hy vir haar gesê het, naamlik dat Hy op die punt staan om op te vaar na hulle Vader en hulle God, dit wil sê die verheerliking te volbring.

‘n Mens sou verwag dat die dissipels met die ontvangs van hierdie nuus aan’t jubel en juig sou wees oor die opgestane Jesus met die eerstehandse getuienis daarvan by monde van Maria Magdalena. Die toneel in vers 19 eggo egter iets van die graftoneel van vers 1: donkerte en vrees op die Sondagaand – en die dissipels bymekaar agter toe deure, uit vrees vir “die Jode”. Daar is geen aanduiding van die grootte van die groep nie. Verwysings na “die Jode”, moet in die Johannes-Evangelie nie as algemene verwysing na alle Jode verstaan word nie, maar eerder as verwysing na spesifiek daardie Jode (gewoonlik leiers) wat teen Jesus se boodskap en bediening gekant was.

Hierdie vrees is nie ongegrond nie. Die dissipels was pynlik bewus daarvan dat dit die Joodse leiers was wat Jesus skuldig bevind en na Pilatus vir teregstelling gestuur het, aangesien hulle nie by magte was om dit te doen nie. Alhoewel Pilatus niks fout in Jesus kon vind nie, het hy dit aan die Jode oorgelaat om te besluit watter gevangene hulle tydens die Paasfees sou loslaat. In geen onsekere terme nie was dit Barabbas, nie Jesus nie. As Jesus se volgelinge was daar dus ‘n goeie kans dat dieselfde lot hulle sou tref, naamlik dat die Joodse leiers ook op hulle spoor sou wees om seker te maak dat van elkeen wat met Jesus assosieer, geraak sou word. Hulle ontmoetings was dus waagstukke deur vrees gekleur.

Jesus by hulle

Nog steeds vers 19.
Jesus het nie oop deure nodig om teenwoordig te wees nie. Ten spyte van die deure wat toe was weens hulle vrees, het Hy tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Hiermee paai hulle nie net nie. Hy spreek lewe oor hulle uit. Dit is dieselfde woorde waarmee Hy hulle gegroet het vóór die passie (14:27).

Met “vrede” word shalom – heelheid – weer aan hulle gegee, soos vantevore. Jesus herinner hulle: “Mag God aan jou elke goeie ding skenk.” Daar is samehang tussen wat hulle vóór sy kruisiging en dood by Hom beleef en gehoor het, en dit wat nou volg. Anders as in die geval van Maria Magdalena, is daar geen sprake van verwarring oor die feit dat dit Jesus is wat hier in hulle midde staan nie. Hy is herkenbaar en verskyn aan hulle in ‘n liggaam.

In hierdie onsekere ruimte van vrees en donkerte, bring Jesus se teenwoordigheid bekendheid en lig. Alhoewel hierdie woorde ‘n bekende groetwoord in die antieke wêreld was, het dit tog hier besonderse betekenis, in teenstelling met die vrees wat die dissipels aan hulle lywe beleef.

Dit is opvallend dat Jesus se besoek aan die dissipels agt dae later – wéér agter geslote deure – op bykans presies dieselfde wyse begin: Hy kom die vertrek binne, gaan staan tussen hulle en spreek weer die vredesgroet oor hulle uit (20:26).

Jesus toon sy wonde

Nou staan ons by vers 20 stil.
Jesus volstaan nie by ‘n blitsverskyning en ‘n (alombekende) groetewoord nie. Kort nadat Hy die vredeswoorde uitgespreek het, wys Hy sy gewonde hande en sy sy vir hulle – dieselfde liggaamsdele wat weer tydens sy ontmoeting met Tomas ter sprake sal kom (20:27).

Die bewyse van hierdie wonde is belangrik, aangesien dit aandui dat Jesus werklik gely het en bevestig dat Hy fisies teenwoordig is. Dit bevestig ook die lewende verband tussen die gekruisigde en opgestane Jesus. Terselfdertyd bevestig dit ‘n paradoks: Die opgestane Jesus word nie deur fisiese hindernisse soos toe deure ingeperk nie, maar die werklikheid van sy liggaamlike opstanding kan ook nie betwyfel word nie.

Dit wil voorkom of hulle Hom eers dán ten volle herken. Die dissipels se vrees het in blydskap verander: Hulle het die Here gesien. Die boodskap wat Maria Magdalena gebring het, is as waar bewys. Hulle beleef nou eerstehands dit wat sy aan hulle verkondig het.

Vrede lei tot ‘n opdrag

Vers 21 is nou aan die beurt.
‘n Tweede maal sê Jesus vir hulle: “Vrede vir julle!” Onmiddellik volg ‘n opdrag. Die patroon wat tussen die Vader en die Seun gevestig is, word tussen die Seun en die dissipels voortgesit. Die Vader het Jesus gestuur. So word hulle ook nou deur Jesus gestuur. Jesus gaan terugkeer na die Vader. Daarom word ‘n voortsetting van die patroon op aarde by monde, hande en voete van die dissipels vereis.

Die teenoorgestelde geld ook: Indien hulle nie hulle gestuurdheid in navolging van Jesus opneem nie, sal die boodskap wat Jesus tydens sy bediening op aarde by hulle verkondig het, ‘n dooiepunt bereik. Jesus is afhanklik van die dissipels om voort te gaan waarmee Hy begin het. Hulle is nie bloot byvoegings tot sy bediening nie. Hulle speel ‘n sentrale rol in die totstandkoming van ‘n nuwe werklikheid.

In dieselfde asem is die dissipels ten volle afhanklik van Jesus om aan te hou om hierdie boodskap te verkondig. Dit is volgens sy voorbeeld wat hulle dit behoort te doen. Dit is Jesus, wat hulle die opdrag gee om die werk voort te sit. Sonder Hom, is daar geen inhoud aan hulle boodskap nie. Hulle het sáám met Hom geleef, geëet en gedrink, gewandel en gesien wie Hy is en hoe Hy optree. Hulle moet nie bloot net sy voorbeeld volg (doen soos Hy gedoen het) nie; hulle moet getuig oor Hom as Persoon – as die Een wat uit liefde (3:16) deur God gestuur is na die ganse wêreld. Hy is terselfdertyd die voorganger en die inhoud van hulle boodskap van hierdie punt af verder.

Jesus benadruk in sy opdrag aan die dissipels die intieme verhouding tussen Homself en die Vader. Dit is die raamwerk waarbinne die opdrag van gestuurdheid geplaas word. Dit is nie om dowe neute nie. Die volgelingskap van die dissipels behoort ‘n refleksie van die verhouding tussen die Vader en die Seun te wees. Dit is ‘n verhouding van gehoorsaamheid, wederkerigheid en nabyheid. Gestuurdes van Jesus word ingenooi in dié heilige ruimte van die verhouding tussen die Seun en die Vader.

Die Gees aan hulle gegee

Vervolgens vers 22.
Nog voordat iemand kan vra hoe dit moontlik is en uit watter krag hulle dit sal kan doen, vind die Pinkstergebeure van die Johannes-Evangelie plaas. Jesus blaas sy asem oor hulle uit en gee hulle weer ‘n opdrag: “Ontvang die Heilige Gees!”

Die opdrag word nie aan individue nie, maar aan die groep gegee. Om die sentrale rol wat in die opdrag van Jesus vervat is te vervul, word ‘n transformasie van almal teenwoordig vereis: ómvorming van hulle huidige vreestoestand en hulle afhanklikheid van die visuele kontak met Jesus. Jesus asem sy voortgesette lewe in die dissipels. Dit het die effek van ‘n tweede geboorte.

Daar is noue verbande tussen hierdie woorde en temas in die Bybel:

  • Hierdie woorde roep die skeppingsverhaal in Genesis 2 in herinnering, waar die mens uit die stof van die aarde gevorm is en lewensasem in sy neus geblaas is. Daarná was die mens ‘n lewende wese.
  • Dit herinner ook aan die visioen van Esegiël in die laagte vol droë bene waar hy die opdrag ontvang het om die Here op te roep om deur sy gees lewe in die dooies te blaas (Eseg. 37:1-14).
  • Dit skakel ook nou met die skeppingsbeelde van die openingsverse van die Johannes-Evangelie, waar die klem val op die teenwoordigheid van die “logos” in die skepping.
Die boodskap bring vergifnis en lewe

Vers 23 is vir baie mense ‘n uitdagende vers. Hoe moet ons dit verstaan?
Tydens Jesus se bediening op aarde, was mense altyd voor die keuse gestel of hulle sy woorde gaan aanvaar of nie. Hierdie keuse het implikasies: Hulle wat dit nie aanvaar nie, ontvang nie vergifnis nie; hulle wat dit wél aanvaar, ontvang die ewige lewe.

Die dissipels gaan van nou af as verteenwoordigers van God optree. Hulle het deur die asem van Jesus die gesag ontvang om verkondigers van dieselfde boodskap as Jesus te wees. Soos in die geval van die Seun, geld dieselfde beginsels as tevore: Die mense wat hulle boodskap aanvaar, ontvang vergifnis en die ewige lewe. Diegene wat nie die dissipels se boodskap aanvaar nie, ontvang nie vergifnis nie.

Dit gaan dus hier in die eerste plek om vryspraak deur God, nie om onderlinge vergifnis tussen mense nie. Die dissipels gaan nie iets nuuts of anders doen nie. Hulle sit Jesus se bediening in sy aardse afwesigheid voort. Dit is ‘n bediening gerig op God, die Vader, wat die wêreld in liefde ontmoet.

Hierdie vers moet met groot omsigtigheid gelees en allermins buite konteks aangehaal word. Die fokus is hier op vryspraak, die soort vergifnis wat die belofte van die ewige lewe inhou. Die bedoeling is nie dat die dissipels God moet speel en as hekwagters van verlossing optree nie.

Binne die opdrag wat Jesus aan hulle gegee het, is hulle in die eerste plek gestuurdes — verkondigers van vergifnis. Indien hulle erns maak met die liefde van God vir die wêreld, wat tasbaar geword het deur sy Seun en tydens Jesus se bediening op aarde verkondig is, sal dit beteken dat hulle, in navolging van Jesus (wat op sy beurt weer in navolging van God optree), eers op alle moontlike maniere hierdie verkondiging van vergifnis moet uitput, alvorens vergifnis van enigeen sal weerhou kan word.

Daarom is daar ‘n reuseverantwoordelikheid op hulle skouers geplaas: Hulle moet kan verseker dat hulle in elke opsig van hulle lewe en bediening in navolging van Jesus se bediening optree, elke oomblik van die dag en nag. Daar word geen melding gemaak van die dissipels se reaksie op hierdie gewigtige uitspraak van Jesus nie. In vers 24 verskuif die toneel na Tomas, wat die volgende episode van ontmoetings inlui.

Angs en woede

Die sterk emosies van angs wat in ons teks aanwesig is, is ook in ons samelewing. Ons Suid-Afrika kan ons woede hierby voeg.

Kyk ons na die groeiende aggressievlakke van mense in alledaagse omgang met mekaar, op sosiale media, op die paaie, in huise, by skole, in werkplekke en in die politieke arena, dan besef ons dat geweld elke vlak van ons bestaan en samelewing deurtrek.

Die Suid-Afrikaanse samelewing word besonders diep deur aggressie en woede geraak. Ons buitensporige hoë vlakke van geweld en misdaad word aangevuur deur ‘n gewelddadige geskiedenis en voortslepende aanvaarding van gewelddadigheid, minagting en haat wat tipies uitspeel op enigeen wat as “die ander” op grond van ras, godsdiens, gender, seksuele identiteit, klas, politieke affiliasie en etnisiteit getipeer word.

Trek laer

Ons is ewe effektief met ontvlugting tegnieke: onttrekking uit omgewings wat enigiets meer van my verg as my en my se welstand, veiligheid en gesondheid.

Ook as kerk trek ons al te dikwels laer en beskou ons gemeentes as “bakens van stabiliteit”, te midde van die onstuimigheid van ons wêreld. Ongelukkig verg hierdie stabiliteit tipies ‘n “volstruis in die sand”-benadering – ‘n afsluiting van die werklikhede rondom ons. Ons bou al hoe hoër mure en hoop dat as ons lank genoeg ons ore en oë toedruk en toeknyp, sal die woeste waters bedaar.

Jesus staan tussen ons

Die opgestane Jesus gaan staan in die middel van vreeservarings. Hy is tegelykertyd die Een wat vrees oorwin aan die kruis en deur die dood, die Een wat ten diepste weet hoe om daarmee te identifiseer. Hy spreek vrede in donker vertrekke en bewys sy egtheid en nabyheid deur ons te nooi om sy wonde te bekyk. Jesus laat Hom nie deur ons vrees afsit nie; Hy los ons egter ook nie waar Hy ons gevind het nie.

Juis in die vreeservaring, stuur Jesus die dissipels. Jesus wag nie totdat hulle aandui dat hulle gereed voel of hulle vrese oorwin het nie. Hy blaas in daardie oomblik van verwarring en ongemak en onsekerheid nuwe lewe in hulle in. Hy transformeer hulle in daardie vreesmoment en trek hulle uit hulle put van warboel. Deur die Vader maak Hy hulle onmiddellik deel van die gestuurdheid in die wêreld.

Nog voordat hulle verskonings kan begin uitdink of teëpraat, maak Hy dit duidelik: Hulle wat die Heilige Gees ontvang het, het nou ‘n taak om te vervul. Hulle is toegerus daarvoor. En Hy wat Jesus is, het reeds die aanvoerwerk gedoen: Ons hoef slegs sy voorbeeld te volg.

Verantwoordelikheid

Daarmee saam kom ‘n reuseverantwoordelikheid. Ons word aangestel as die verkondigers van vergifnis – ‘n boodskap met ‘n implikasie van lewe of dood. Ons kan nie ons rol as gestuurdes ligtelik opneem nie. In ‘n wêreld waar mense instinktief reageer op grond van hulle vrees – hetsy deur te veg of te vlug – moet ons erns maak daarmee dat ons ‘n vredesboodskap het om te verkondig: van vrede wat alle verstand te bowe gaan, wat herstel bring, wat ‘n leë graf in ‘n teken van hoop verander, wat wonde as herinnerings van egtheid voorstel.

Om daardie rol as verkondigers van vergifnis te kan vervul, moet ons gereeld en aanhoudend toelaat dat Jesus oor ons asemhaal, dat die Heilige Gees wat ons as geskenk ontvang het en ons toerus en stuur, ons daaraan sal herinner dat dit nooit uit ons eie krag is wat ons verkondig nie, maar altyd in die voetspore van Jesus.

God stuur ons om te leef

Nagmaal

[Hier word ‘n volledige liturgie, met Nagmaal, gegee t.w.v. ons databasis wat opgebou word.  Tydens afsondering sal die liturg moet kies hoe die Nagmaal hanteer word.  Baie gemeentes waarsku lidmate vooraf om brood en wyn/sap gereed te hê.  ‘n Ander opsie is om bloot die tekens beskikbaar te hê, maar die sakrament as ‘n teken van hoop voor te hou – en dus nie nou saam te gebruik nie.]

Dit is reg en goed
om God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde,
altyd en oral met vreugde te bedank.
In die begin het u Gees oor die waters beweeg.
U het ons gevorm na U beeld en die asem van die lewe in ons ingeasem.
Toe ons wegdraai, en ons liefde misluk, het u liefde standvastig gebly.
U Gees het op profete en leraars gekom en hulle gesalf om u Woord te spreek.
Daarom, saam met almal op aarde en in die hemel, prys ons u naam en sluit aan by hul voortdurende lofsang:

Gemeente:  “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”
Heilig is u, en geseënd is u Seun Jesus Christus.
Met sy doop in die Jordaan het u Gees op hom neergedaal en hom verklaar as u geliefde Seun.
Met u Gees op hom het hy die versoekings van sonde weggewys.
U Gees het hom gesalf om aan die armes goeie nuus te verkondig,
om vrylating aan die gevangenes te verkondig en om blindes te herstel,
om onderdruktes vry te spreek,
en om aan te kondig dat die tyd aangebreek het
wanneer u u mense sou red.
Hy het siekes genees, hongeres gevoed en saam met sondaars geëet.
Deur die doop van sy lyding, dood en opstanding,
U het u Kerk gebaar, ons verlos van slawerny tot sonde en dood,
en ‘n nuwe verbond deur water en die Gees met ons gesluit.
Toe die Here Jesus opgevaar het, het hy belowe om altyd by ons te wees,
ons met die Heilige Gees en met vuur te doop, soos op Pinksterdag.

Liturg hou die brood omhoog:
In die nag waarin Hy oorgelewer is, het Jesus brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir julle.  Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Die nag waarin hy homself vir ons prysgegee het, neem hy brood,

Liturg hou die wyn omhoog:
“Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’

Toe U hom uit die dood opgewek het, het sy dissipels hom erken toe hy die brood gebreek het,
en in die krag van u Heilige Gees het u Kerk voortgegaan
met die breek van die brood en die deel van die beker.

En so, in herinnering aan hierdie kragtige dade in Jesus Christus,
gee ons onsself in lof en danksegging
as ‘n heilige en lewende offer, in ooreenstemming met die offer van Christus vir ons,
terwyl ons die gawe van die geloof verkondig.

Gemeente:  Christus het gesterf; Christus is opgewek; Christus sal weer kom.

Leraar hou brood en wyn omhoog.

Maak ons deur u Gees een met Christus,
een met mekaar en een in diens aan die hele wêreld,
deur die vrug van die Gees te wys totdat Christus weer kom.

[Nagmaal kan hier gebruik word, of tydens inperking:
Met hierdie tekens voor oë,
In die sekerheid van die teenwoordigheid van die Gees,
Wat ons deelagtig is deur die lewe, doop en opstanding van Jesus
Ook nou waar ons elkeen in afsondering is,
Sien ons uit daarna om weer saam om ‘n tafel te sit.
Ons dank U vir ons gemeenskap van gelowiges,
Ook wanneer ons mekaar nie kan vashou nie.
Ons dank U vir die versekering van U genadige teenwoordigheid,
Ook wanneer ons nie saam aan Tafel kan wees nie.]

Deur u Seun Jesus Christus, met die Heilige Gees in u heilige Kerk,
alle eer en eer is u, almagtige Vader (God), nou en vir altyd.
Die pastoor mag hande sak.

Heilige, heilige, heilige Here, God van krag en mag,
hemel en aarde is vol van u heerlikheid. Hosanna in die hoogste.
Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Hosanna in die hoogste.

Geloofsbelydenis
Slotsang
Seën
Respons

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.