Pinksterfees

Sections

Oorsig

Pinksterfees is ‘n hoogtepunt in die kerklike jaar waartydens die uitstorting van die Heilige Gees feestelik gevier word. Die kleure wat gebruik word om die liturgiese ruimte te verhelder is rooi, oranje en geel. Simbole wat gebruik word sluit in vuur, ‘n duif en water.

Die sleutelteks is Esegiël 37, en die “vallei van droë bene” is seker die bekendste en mees geliefde visioen in die boek Esegiël. Die beskrywende beelde, die wonder van die ontvouende verhaal en visuele appèl van die simboliek trek die leser by hierdie wonderlike verhaal in. Ons word deur hierdie teks herinner dat die Heilige Gees nuwe lewe in ons elkeen blaas. Handelinge 2 vertel die verhaal van die Pinkstergebeure. Johannes 15 vertel van Jesus wat weggaan, maar die Voorspraak na ons toe sal stuur. Psalm 104 is ‘n skeppingspsalm wat aansluit by die nuwe lewe wat in die dooie bene geblaas word.

Ander tekste 

Psalm 104:24-34, 35b
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35b
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Handelinge 2:1-21
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

Johannes 15:26-27, 16:4b-15
26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”
Julle moet nie van My afvallig word nie
164b Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”
Die werk van die Heilige Gees

5“Nou gaan ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Sleutelteks

Esegiël 37:1-14
Visioen van doodsbeendere 
1 Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. 2 Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog!

3 Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” 4 Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. 5 So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. 6 Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”‘”

7 Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was ‘n geluid net toe ek profeteer – ‘n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. 8 Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie.

9 Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”

10 Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – ‘n buitengewone groot leër!

11 Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’

12 Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. 13 Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. 14 Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” Dit is die uitspraak van die Here. (Die Bybel 2020-vertaling).

Ekstra stof

Op soortgelyke wyse as wat Esegiël aan die begin van sy bediening na ‘n vallei geneem is – hfst. 3:22 – neem die mag van die Here weer van Esegiël besit, waarskynlik so 10 jaar ná die eerste gebeure, en bring hom deur die Gees van die Here uit en sit hom neer in ‘n laagte. Dit is waarskynlik dieselfde plek, omdat dieselfde Hebreeuse woord gebruik word.

Waar met die eerste besoek aan die plek die Here vir Esegiël ‘n gesig van Homself gegee het wat hom op die grond laat neerval het, gee die Here hier vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle. Waar Esegiël die eerste keer nie enigiets mag gesê het vir die “weerbarstige” volk nie, word hy dié keer ‘n opdrag gegee om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat in opdrag van die Here om op tree (37:1-14).

Soos die vorige keer beveel die Here hom ook om ‘n simboliese handeling uit te voer, as kragtige verbeeldingryke metafoor, hierdie keer deur op twee stukke hout te skryf en hulle tot een stuk in sy hand saam te voeg (37:15-28). Daarmee hou die Here die droom van eenheid onder dié wat Hom aanbid, lewendig. Die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.

37:1-14 – “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.
Die Here gee vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle. Die Here gee hom ‘n opdrag om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat om op tree in opdrag van die Here.

Let op hoe beide die woord van God sowel as die Gees van God die lewe bring. Die profetiese “prediking” skep die verwagting en bereidheid om te luister. Die profetiese “gebed” – by gebrek aan ‘n beter woord om die gesprek met die Gees te benoem – laat mense in beweging kom as direkte resultaat van die Gees wat lewe bring. Só bewerk die praat met mense en die praat met God die hernuwing wat nodig is.

Albei is nodig, maar die praat met mense kan nie slaag sonder die praat met God nie. Soos John Taylor sê: “What preaching by itself failed to achieve, prayer made a reality.” (Ezekiel).

Die belofte van God is dus dat die volk uit die doodsbestaan in die vreemde – die duisternis dooie bene dui op die volk en die grafte op die ballingskap – verlos sal word en na hulle eie land teruggebring sal word. “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.”

Die evangelie van Johannes gebruik waarskynlik perspektiewe uit hierdie gedeelte op ten minste twee plekke. In Jesus se gesprek met Nikodemus is Jesus verbaas dat hy nie verstaan dat ‘n mens van bo-af gebore moet word nie – hfst. 3. En in Joh. 5:25 verwys Jesus op soortgelyke wyse na die lewe wat Hy bring vir dooies: “Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe.” Dit is inderdaad iets wat Jesus ook fisies geïllustreer het met die opstanding van Lasarus en natuurlik uiteindelik van Homself.

Geen wonder dat hierdie gelykenis van volksherstel in die tyd van Esegiël uiteindelik ‘n gelykenis en belofte van geestelike geboorte en ook herstel in die tyd van die kerk geword het nie.

37:15-28 – “Ek sal van hulle een volk maak in die land.
Soos die vorige keer in hfst. 4 vv. beveel die Here Esegiël om ‘n simboliese handeling uit te voer.  Hy skryf die name van die twee dele van Israel op twee stukke hout – Juda en hulle bondgenote, Josef en hulle bondgenote – en voeg hulle tot een stuk in sy hand saam (vgl. Moses se soortgelyke aksie met twaalf kieries – Num. 17:1 – asook die omgekeerde simboliek in Sagaria met die twee kieries welwillendheid en samehorigheid).

Die belofte van die Here is dat Hy hulle weer een volk sal maak in die land.  Terloops: Efraim was Josef se eersgebore seun en mettertyd die belangrikste stam in die voormalige noordryk.  Die name Efraim en Josef is dus ook as name vir Israel in die betekenis van die noordryk gebruik.

Dit is belangrik om te besef dat geen poging ooit voorheen daarin kon slaag om die verdeling tussen die suid- en noord-ryk – wat ná die tyd van Salomo gekom het met die konflik tussen Jerobeam en Rehabeam (1 Konings 12) – te deurbreek nie.  Hiskia en Josia het ná die ballingskap van die noordryk pogings aangewend om die volk te verenig rondom die gesamentlike viering van die Paasfees, maar tevergeefs.

Esegiël se aksie wys egter dat die Here nooit dié droom laat vaar het nie.  God se droom bly altyd een van eenheid onder dié wat Hom aanbid.  Hy self sal die droom van eenheid lewendig hou soos ook Hosea, Jesaja en Jeremia dit verwoord het.  God gee nooit moed op vir eenheid nie, soos Jesaja so pragtig in sy hfst. 11 geskrywe het.

Die volk sal daarom nie net terugkeer nie, maar die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.  Hulle sal een nasie in hulle eie land wees, aan die een kant onder die heerskappy van die beloofde (messiaanse) Dawidiese koning en aan die ander kant in die teenwoordigheid van die Here, soos verder deur die bou van die tempel in hfst. 40-48 geïllustreer sal word.

Dit is in hierdie visie wat die NT prentjie van die verenigde geloofsgemeenskap as die “twaalf stamme van Israel” (Matt. 19:28) gewortel is.  Dit sluit die gelowige Jode in, want Paulus sê bv. van die Jode die volgende: “Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het.” (Hand. 26:7).  Soos Jakobus ook daaroor skryf: “die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is.” (Jak. 1:1). Maar uiteindelik gebruik Johannes dit as ‘n metafoor vir die kerk as die ware Israel soos ons in sy Openbaring lees.  Vgl.  Openb. 7 en Openb. 21.

Boodskap
Hierdie gedeelte word baie keer gelees net as ‘n belofte van geestelike hernuwing sonder om die historiese konteks daarvan in ag te neem.  Die impak van die boodskap van hernuwing word egter verhoog as ‘n mens dit in die eerste plek hoor as ‘n belofteaan die volk in ballingskap.  Hoekom?  Want hierdie profesie van Esegiël hét in vervulling gegaan met die terugkeer van die ballinge in 538 v.C. soos Esra en Nehemia dit vir ons vertel.

Natuurlik was dit net ten dele: sommige aspekte van die hernuwing is immers eers vervul in die tydvak wat met Jesus Christus aangebreek het; sommige aspekte sal eers aan die einde van die tyd vervul word, bv. die omvattende eenheid waarvan hier sprake is.  Maar, die terugkoms en vestiging in Juda is ‘n genoegsame bewys van die konkrete vervulling van die belofte om as inspirerende getuienis van God se waarmaking van sy beloftes vir ander kontekste te dien.  Esra en Nehemia wys immers hoe die herbou van die tempel, die fokus op die Woord en die herbou van die mure van Jerusalem die geloofsgemeenskap weer hernuwe het.  Dít kan God altyd weer doen.

Dit beteken daarom dat ons met ‘n nog groter vrymoedigheid in ons eie kontekste op hierdie God kan staatmaak wat belowe: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.” (37:4,14).  Hy het dit op ‘n spesifieke manier in die verlede bewaarheid.  Hy kan dit ook in die hede in nuwe kontekste laat gebeur.  Esegiël teken dus vir ons ‘n prentjie van ‘n aktiewe God wat op soewereine manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring. Ons kan daarop vertrou en daarvoor bid, totdat ons ook ervaar wat Israel ervaar het: “‘Ek het dit (immers) gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (37:14).

Esegiël leer ‘n mens egter ook hoe belangrik die regte tydsberekening is.  Die eerste boodskap in hierdie laagte/vallei was om stil te bly en simboliese handelinge van oordeel uit te voer.  Die tweede boodskap in dié plek was om die woord van lewe aan beide die volk en die Gees te verkondig sowel as om simboliese handelinge van hoop daar uit te voer.  Ons het daarom ook vandag nog hierdie tipe profetiese onderskeiding nodig om te weet watter boodskap op watter tyd die woord van God is, sodat dit nie maar net die vrug van ons eie verbeelding is nie.

Daarin speel die Woord en die Gees, die eenheid van die geloofsgemeenskap in al sy diversiteit, sowel as die prediking en gebed van sy leiers ‘n belangrike rol.  En as ‘n mens die dubbele opdrag in gedagte hou – preek en bid – is die praat met die Gees van God van selfs nog groter belang as die praat met mense, trouens van beslissende belang.  Iets wat gerus ons manier van doen kan verander!

Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om só naby die Here te lewe, om só met Hom in gesprek te tree, dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van dié dinge wat God besig is om te doen, sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.  Dan sal ons woorde aan mense die oortuigingskrag hê wat van die Gees self af kom.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 444 of Flam 58

Votum: (Responsories)

Seëngroet: (Responsories, n.a.v. die Geloofsbelydenis van Nicea)

Lofsang: Lied 443

Toewyding: Flam 339 of VONKK 45

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees: (Herman Bavinck,)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Esegiël 37:1-14b

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 436 of VONKK 367

Seën: Handelinge 2:17-18

Respons: Lied 189

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 444 Kom kyk!  Kom kyk! of
Flam 58 Skepper Gees 

Votum
Voorganger: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
Gemeente: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Seëngroet
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(N.a.v. die Geloofsbelydenis van Nicea, uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lofsang
Lied 443 “Wind kan jy nie sien nie”

Toewyding
Flam 339 Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam) of
VONKK 45 Gees van Christus, hoor ons bede

[onderstaande uit die Seisoen van Luister se 2015 liturgie is ook in 2020 voorgestel]
My Gees is uitgedor, want dit het vergeet om deur U gevoed te word.
Here, ons smeek U om ons te bevry van ons

  • vrees vir die onbekende toekoms
  • vrees vir mislukking
  • vrees vir armoede
  • vrees vir verlies en hartseer
  • vrees vir eensaamheid
  • vrees vir siekte en pyn
  • vrees vir ouderdom
  • vrees vir die dood
  • vrees vir…. (voeg by of gee kans vir stil gebed)

[Gee geleentheid vir ‘n simboliese handeling – dat mense hul “droeë bene” vorentoe bring en iewers op die liturgiese ruimte sit:  op/in die doopfont, naby die Nagmaalstafel, ens.  Gee óf vir mense papiertjies om hul vrese/”droeë bene” neer te skryf, of iets wat die droeë bene simboliseer.  Laat hulle dink wat dié doodsheid in hul eie lewens is wat roep om lewe en díe simbolies na God bring.]

Laat die gemeente rustig lusiter na Lauren Daigle se “Come Alive (Dry Bones) – hierdie video is van die lirieke, wat dit maklik maak om te volg.

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees
Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien,
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsing en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende oomblikke in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
(Herman Bavinck, aangehaal in Gebed van die hart deur Willem Nicol)

Liedere

F58. “Skepper Gees
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese) Teks en musiek: Ioannis Dekas © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.

Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
Kom in al U volheid,
kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

F339. “Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Gebed) Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: Ó 2009 Flam Musiek-Uitgewers
(Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Gees van God, kom neem nou beheer
van ons denke en ons harte,
van ons vrese en ons vlees.
Gees van God, kom lei ons vandag
in ons passie en aanbidding,
in u wysheid en u krag.

En ons hef ons hande op na U
en ons sing uit ons harte vir U.

Ons roem in u Naam
in u grootheid en u heerlikheid.
Ons roem in u Naam
in u liefde en u heiligheid.
Want U is ons God,
God van elke stam en taal.
Ja, U is ons God. Amen.

VONKK 45 “Gees van Christus, hoor ons bede”
Teks: Njoo kwetu, Roho mwema – Wilson N Niwagila (Swahili); Afrikaanse teks: Breda Ludik 2016 ©
Melodie: NJOO KWETU, ROHO MWEMA – Wilson N Nwagila (Tanzanië) Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2016 ©
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2016 © © Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking – 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Swahili-teks en melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede, Pinkster, Liefde, Dankbaarheid en Diens / Missionaal

1. Gees van Christus, hoor ons bede:
Hoor hoe u kinders pleit.
Gee ons lewe, gee ons vrede.
Breek ons verganklikheid.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

2. Al ons kennis is nie wysheid
sonder u leiding, Heer.
Kom en leer ons, dan begeer ons
om U te ken al meer.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

3. Neem ons denke, ons begeerte;
vul ons met liefde, Heer.
Kom beheer ons, inspireer ons
om U te dien al meer.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

4. Gee ons ywer as getuies;
oral, die wêreld deur.
Lê u woorde in ons monde;
Heilige Gees, kom weer!

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

Swahili
Njoo kwetu, Roho mwema.
Mfariji wetu.
Tufundishe yam bi nguni,
Tuwe watu wapya.
Njoo, njoo, njoo, Rohomwema.
Njoo, njoo, njoo, Roho mwema.

VONKK 367 “Blaas nou oor my, o Heer”
Nav Johannes 20:21-22 Teks: Hannes van der Merwe 2017 © Musiek: TRETHAM – Robert Jackson 1888
Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2017 © © 2017 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Klassiek – Gebede / Pinkster

1. Blaas nou oor my, o Heer,
laat ek u Gees ontvang.
Vul my met nuwe vrede, Heer,
en maak my lewe heel.

2. Blaas nou oor my, o Heer,
laat ek u Gees ontvang.
Gee my die gawes uit u hand,
gebruik my tot U eer.

3. Blaas nou oor my, o Heer,
laat ek u Gees ontvang.
Gee my die lewe, ewig, Heer,
waar ek by U kan wees.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Esegiël 37:1-14b

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Ons hou daarvan om op Pinkstersondag die uitstorting van die Gees met vlamme uit te beeld, soos met hierdie lekker aktiwiteit waar kinders krone met vlamme maak. Vanjaar is egter ‘n goeie geleentheid om op die wind-simboliek te fokus. Kyk by Daniellesplace vir baie oulike idees. Vir vanjaar hou ek veral van die wind en vuur streamers idee. Sny vooraf repe kreukelpapier – rooi en geel vir vlamme en blou en wit vir wind. Laat kinders 4 blou/wit of rooi/geel repe aan ‘n stokkie vasmaak. Terwyl julle sing, kan hulle dan hul stokkies swaai. Of hier is ‘n patroon vir ‘n papier windmeul met prentjies van vlamme en duiwe op.

2015 se voorstel, herhaal in 2020:
“Vertel die storie met geluide.  Carolyn Brown sê:  Provide castanets, rain sticks, rattles of all sorts, cans filled with dried beans, or anything that rattles for the verses about the bones.  Several people blow on live microphones or rub sandpaper blocks together to produce the wind sound for verses about God’s breath.  A children’s class could be enlisted to serve as a sound choir practicing in advance.  Or, children could be invited forward to provide sounds as the scripture is read.  In either case, they will need a director leading them during the reading.  It will also help to read the passage twice, first without the sounds, then with them.”

2020 se voorstel:
Jy kan ook na die Skriflesing hierdie video van die liedjie “Dem Bones, Dem Dry Bones” wys.  Vir ‘n lekker prettige opsie kan almal die verskillende bene wys soos die liedjie daarvan praat.  As die gemeente kans sien vir enige iets, kan julle die liedjie saam sing en dit al vinniger sing, terwyl almal na die verskillende bene wys.  ONTHOU:  kinders voer nie hul geloof vir grootmense op nie.  Ons woon eredienste sáám by en aanbid sáám.  Daarom noem ons hierdie ook nie ‘n “kinder-oomblik” nie.  Daag die grootmense uit om deel te neem aan die aktiwiteit, sodat die kinders nie voel hulle moet “perform” of dat hulle daar is vir die grootmense se vermaak nie.

Hier is ‘n templaat wat kinders kan gebruik om met “split bins” geraamtes te maak.

Bybel-media se Woord en Fees stel voor:

Vir die kinders kan jy “Bible for kids” aflaai. Daar is verskeie kinderverhale spesifiek oor Handelinge 2.

Preekriglyn

Dit is vandag Pinksterfees. Ons vier die uitstorting van die lewendmakende Heilige Gees. Pinksterdag is eintlik die geboortedatum van die kerk. Dit is immers die Gees, wat reeds met die skepping lewegewend oor die waters gesweef het, wat die kerk skep. Dit is die Gees wat gelowiges bemagtig om God se kerk te wees. Die Gees vul ons met krag.

Sonder die Gees – hoor ons in vandag se teks – is daar net droë bene.

Dit is presies die toestand waarin ons die Ou Testamentiese volk van God in Esegiël 37 ontmoet: in ballingskap, geestelik gesproke ʼn vallei vol doodsbeendere.

Agtergrond

Hoe het dit gebeur dat God se volk in hierdie gedeelte as ʼn vallei vol doodsbeendere beskryf word?

In 597 v.C. het die leër van Babilon Jerusalem binnegeval en die Judese koning, die weerbare soldate en talle leiers en vooraanstaandes in ballingskap weggevoer. Esegiël is tydens hierdie wegvoering as ‘n jongman van om en by 25 jaar oud saamgeneem (2 Kon 24:10-16; Eseg. 1:1-3). Tien jaar later in 586 v.C., nádat Jerusalem weer sy rug teen die Babiloniërs styf gemaak het, is die stad binnegeval, die tempel aan die brand gesteek en die koning in kettings saam met ‘n tweede groep mense in ballingskap weggevoer.

Gedeeltes soos Psalm 137 beskryf hoe neerslagtig die ballinge was. Hierdie was die spreekwoordelike en letterlike derde keer van ballingskap. Reeds in 722 v.C. is die noordelike stamme weggevoer. Met die wegvoering in 597 v.C. sou mens ‘n inkeer verwag het, maar dit het nie gebeur nie.

Die ballingskap is beskou as noodwendige oordeel van God, maar het ook vir God se volk na die absolute einde gevoel. Volgens 2 Samuel 7 het die nasionale godsdiens van Israel op drie pilare berus:

  • die beloftes van ‘n Sionstad (Jerusalem),
  • ‘n woning vir die Here (tempel) in die stad, en
  • ‘n koning uit die huis van Dawid op die troon van dié stad.

Met die gebeure van 586 v.C. het al drie hierdie pilare verkrummel. ‘n Mens kan die verbystering en ontreddering aanvoel. Méér nog het dit ‘n groot vraag opgeroep: Beteken die oorwinning van die heidense koning dat sy god sterker as die God van Israel is (vgl. Ps. 42:3, 10; 79:10; 115:2)?

Klaaglied

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom dele van Esegiël 37 in die vorm van ʼn klaaglied geskryf is. Luister bv. Na Esegiël 37:11:

Hy (die Here) sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’

Die lewende God se volk is ʼn hoop droë beendere, leweloos. Wanneer die volk in Esegiël 37:11 weeklaag dat hulle bene droog is, word dit verklaar asof hulle hoop daarmee saam gevou het. Hulle het afgesny gevoel, van hulle verlede, mekaar en ook van hulle God. Anders gestel, daar was niks wat hulle uit hulle eie te voorskyn kon bring om lewe te gee nie.

God gryp in

Die volk was gestroop van al hulle vastigheid. In hul eie oë was hulle verspreide droë bene.

In ons teks kom God aan die woord. Eensydig, sonder enige verdienste aan die volk se kant, kondig God vernuwing en genesing aan, Israel kon vroeër dalk dink dat God dalk swakker as die gode van die Babiloniërs was. Daarom het hulle in ballingskap beland.

Nou kan daar egter geen twyfel meer wees nie. In hierdie aangrypende teks kondig God die herstel van die droë beendere tot lewende wesens aan. Die agent van die vernuwing is die Gees van God. Soos wat die Gees in die eerste skeppingsverhale lewe in die mens gebring het, gebeur dit wéér.

Die herstel verloop in twee fases:

  • Ná die eerste fase waartydens die bene in nuwe liggame herskep word, is die proses nog nie voltooi nie (verse 7-8).
  • In die tweede fase van herstel word die Gees geroep om nuwe lewe in die herskepte liggame te bring. Dit is eers ná die Gees asem ingeblaas het wat die herstel en herskepping volledig was (verse 9-10).
Belofte

In die finale verse van ons teks word die herstel van Israel as ʼn toekomstige belofte geskets. Die Here belowe om dit vorentoe in die toekoms te laat gebeur. Luister weer na hierdie aangrypende woorde (12-14):

Daarom, profeteer en sê vir hulle,
‘So sê my Heer, die Here:
“Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.”
Dit is die uitspraak van die Here.

Die vraag is egter wanneer hierdie gawe van die Gees sou plaasvind. Die verwagting was dat die belofte vervul sou met die volk se terugkeer uit ballingskap na die beloofde land. Die presies tydstip is nie so belangrik nie. Ons teks onderstreep eerder dat die mens sonder die Heilige Gees eintlik meestal droë beendere is. Met die Heilige Gees word ons lewe egter ‘n volwaardige lewe.

Die vervulling van hierdie teks sou eers ten volle met Pinksterdag gebeur, die dag van die uitstorting van die Heilige Gees, die dag wat ons vandag vier.

Werk van die Gees

Ons teks bring die hand van die Here en die werk van die Gees van God in verband met mekaar. Die Gees van God voer die lewegewende werk van God uit. Die lewe wat deur die Gees bewerk word, staan teenoor die sterflikheid en sondigheid van die mens. Deur die werk van die Gees, kom ‘n nuwe identiteit en ‘n totaal nuwe werklikheid tot stand.

Dit gebeur in Handelinge 2 wanneer die Gees uitgegiet word. Ons sien dit ook met die sg. “klein Pinkster” in die Johannesevangelie waar die nuwe lewe wat Jesus bekendmaak, ‘n werklikheid vir die dissipels word wanneer Hy die Gees oor hulle blaas (Joh. 20:22) en hulle op dié wyse nuwe lewe gee.

Volgens Esegiël 37 is dit duidelik dat die profeet ‘n verkondiger was, maar dat God self die lewe bewerk. Dit is ook die klem dwarsdeur die Handelingeverhale. Die Gees waai waar Hy wil en kan nie deur menslike pogings gestuit of geskep word nie. Die eensydigheid van die genade van die heil in Esegiël het geen oorsaaklike verband met die getrouheid van die volk nie.

Die boodskap van Esegiël is duidelik: God werk, en Hy betrek die mens daarby. Dit is nooit iets waarop die mens uit verdienste kan roem nie. Selfs in die duisternis van die oordeel in die eerste gedeelte van Esegiël, is daar sprake van die ware genade van God wat eensydig en weerbarstig openbaar word.

Treffend word in Esegiël 33 vir die profeet gesê dat die mense deur sy arbeid na hom toe stroom om die woorde van die Here te hoor, maar helaas, hulle gehoorsaam nie hierdie woorde nie. Die volk se woorde en dade rym nie. Die hartsverandering is nie mensewerk nie, maar die werk van God se Gees.

Boodskap

Hierdie teks het ʼn ryke boodskap wat so gepas is vir Pinksterdag.

Ons ontmoet God as die Lewegewer en herskepper in hierdie teks. Dit is die wese van God: nie in die eerste plek op oordeel en verwoesting gerig nie, maar ʼn God wat herstel en lewe skep. God doen dit in die wêreld, maar spesifiek ook in God se kerk. Geen kerk is so leweloos dat God dit nie met ʼn skeppende magswoord kan herstel nie. Daarom bly ons bid vir God se kerk, ook ons gemeente. Ons lewe as gemeente is ʼn gawe van God.

Daar is in groot dele van die wêreld en selfs kerke weinig meer oor as net droë bene van wanhoop. Net God kan dié situasie omdraai. ‘n Voëlvlug oor die historiese verloop van die ballingskap en Israel se terugkeer, maak die hand van God daarin sigbaar. God bring nuwe lewe in morsdooie beendere omdat Hy kan en wil. Ongeag die moegheid en doodsheid van die wêreld, stu God se liefdevolle heilswerk voort.

Ons kom – wat die kerkjaar betref- nou uit die Paastyd, met die Pinkstertyd wat nou op die voorgrond staan. Die opstanding van Christus kry nuwe betekenis en lewe deur die werk van die Gees van God. Wat God aan Christus gedoen het toe God Hom uit die graf opgetel het, doen God nou deur die Gees aan ons. Dit is nie mensewerk nie. Dit is God se lewegewende werk wat by die skepping begin het toe dieselfde Gees in die mens ingeblaas is. Met Pinkster word nuwe lewe deur die werking van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees moontlik gemaak.

Die Pinksterboodskap is: God se nuwe seisoen is hier. Dit staan lynreg teenoor menslike verwagtings, iets baie meer positiefs as wat jy jou in jou stoutste drome kon verbeel. Dit is letterlik soos ‘n gedagtevlug na ‘n plek waar dit nie herfs en winter is nie, maar lente en somer. Die tekens van nuwe lewe is oral te sien. Die nuwe lewe word oral en in alles ingeblaas. Hoe is dit moontlik? Deur die Gees van God!

Teenoor die wanhoop van kleiner wordende gemeentes en kerke wat hulle deure sluit, stoot hierdie nuwe lewe op. Al sê talle gelowiges soos die volk van ouds “dit is klaar met ons … ons bene is droog!” moet ons hoor dat God sê: “Ek sal my Gees in julle blaas (dieselfde Hebreeuse woord as in Genesis met die skepping van die mens) en julle sal lewe.” Moed opgee? Nooit!

Hoe werk ons dan mee in hierdie saak? Ons moet tog sekerlik ‘n bydrae lewer? Die boodskap van die Esegiëlboek is treffend. God se heil hang nie van menslike samewerking of prestasie af nie. Ons ontvang die Gees nie op grond van ons waardigheid om die Gees te ontvang nie. God se heilsplan is presies dit: God se plan. Die mens word daarby ingesluit, maar is nie ‘n inisieerder daarvan nie. Vreemd genoeg staan ons nooit daarbuite nie. God het die mens op die oog as sy heilsplan ontvou. Ons bydrae? Ons bydrae is om die heil wat vrylik en gratis aangebied word, te omhels.

God se liefde brand van die begin af vir die mens. Die storie van die Bybel begin en eindig met God wat saam met die mens in die tuin stap. Deur die oop graf ná Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees, word die mens volledig herskep om te kan reageer op God se liefdesuitnodiging om saam te gaan stap. Namate Koninkrykstyd in die komende weke ontvou, word die ter plaatse implikasies van hierdie saamstap (wat uiteindelik navolging van Jesus se treë is), verder uitgewerk. Pinkster is nie die einde van ‘n reis nie. Inteendeel, dit is die aankondiging van die begin van die saamstap met God, want God se somer kom!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees” of
VONKK 367 Blaas nou oor my, o Heer

Seën
“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:
Ek sal my Gees uitstort op alle mense:
julle seuns en julle dogters sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
Ja, op my dienaars en my dienaresse
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.”
(Handelinge 2:17-18)

Respons
Lied 189 “Halleluja!”

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.