Pinksterfees

Sections

Oorsig

Inleiding

Die Bybelskrywers wys ons op verskillende maniere op die verbande tussen skepping en herskepping. Volgens die skeppingsverhaal van Genesis 2 het die mens ’n lewende wese geword toe God sy asem in hom geblaas het. (Die verse uit Ps 104 herinner ons hieraan.) God se beeld in die mens is egter in so ’n mate verduister dat diep klowe mettertyd tussen lede van die menslike ras ontstaan het (vgl Gen 11). ’n Fundamentele nuwe begin was nodig om die beeld van God in die mens te herskep. Dit gebeur toe God, met die uitstorting van sy Gees, op ’n nuwe manier sy asem aan mense gegee het. Die Gees is ons band met God, ons nuwe begin, ons lewenskrag; ’n lewe in Christus is onmoontlik sonder Hom. ’n Nuwe familiekring ontstaan waar die ou verdelingslyne deurbreek word (deur die gawe van verskillende tale op Pinksterdag) terwyl die volgelinge van Jesus in sy voetspore gelei word.

Fokusteks

Johannes 14:8-17

Ander RCL tekste

Handelinge 2:1-21,
Psalm 104:24-34,
Romeine 8:14-17 of
Genesis 11:1-9

Johannes 14:8-17
Jesus gaan na sy Vader toe
14 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêrel is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Eksegeties

Hierdie teks is vir Pinksterfees 2007 deur G D Cloete en dele daarvan (14:1-14, 15-21) deur E Orsmond in Pase 2005 behandel. Ons teks maak deel uit van wat Nuwe-Testamentici “afskeidsgesprekke” (Joh 13-17) noem. Ons moet dus volledig rekening hou met die Johannese kommunikasieproses (Du Rand). Die struktuur van Jesus se “afskeidsgesprekke” kan soos volg uiteengesit word:
13:31-14 :31 – eerste basiese redevoering
15:1-16, 4a – herhaling
16:4b-31 – herhaling
17:1-26 – die gesprek met God (gebed)

Du Rand dui twee vervlegte vertellyne in Johannes 13-17 aan (die Jesussending en die dissipelsending). “Jesus se gesprekke interpreteer die komende lydensgebeure en terselfdertyd is dit ’n retrospektiewe interpretasie en inspirasie vir die sending van die dissipels” (Du Rand). Die eenheid van die dissipels word volgens Du Rand gekonstitueer deur die woorde van Jesus en die begeleiding van die Parakleet (vgl 14:15-17, 25-27).

In die gedeelte wat hoofstuk 13:31-14:31 beslaan, kan vier gespreksonderbrekings deur die dissipels en drie bemoedigings deur Jesus waargeneem word:
Eerste onderbreking: Petrus (13:36 ev)
Tweede onderbreking: Thomas (14:4-7)
Derde onderbreking: Filippus (14:8 ev)

’n Reeks bemoedigings kom vanaf vers 12 voor:
Eerste bemoediging (12-14) – groter werke as Christus s’n is moontlik;
Tweede bemoediging (15-17) – die koms van ’n ander Trooster;
Derde bemoediging (18-21).

Toe daar in die derde bemoedigende gesprek van die Parakleet melding gemaak is, gee dit aanleiding tot ’n vierde onderbreking – deur Judas (22-24) – in vers 25 hervat Jesus sy gesprek oor die werk van die Parakleet en word die gesprek afgesluit met vrede as erflating (25-31).

Vers 8: Ons fokusteks begin onmiddellik na die tweede onderbreking in die gesprek – deur Thomas in vers 4-7. Vers 8-14, soos reeds aangedui, is die derde onderbreking – deur Filippus. Dit was blykbaar ’n groot behoefte onder die Jode om God te mag sien. Moontlik verwag Filippus dat ’n sigbare verskyning (vgl Eks 33:18) toegestaan sal word. Filippus se vraag open die weg vir Jesus se onderrig oor die intieme verhouding tussen Jesus en sy Vader.

Vers 9: Filippus se verwagting is duidelik ’n fout, want Jesus korrigeer hom, deur die bevrediging van sy behoefte in ’n ander rigting te soek. Dit wil voorkom asof Filippus verwyt word omdat Jesus so lank by hulle is, en hy nog met versoeke vorendag kom soos in vers 8, naamlik om God te sien. So ’n versoek is tekenend van iemand wat Jesus nie ken nie. Jesus stel dit verder ronduit: Wie my gesien het, het die Vader gesien.

Vers 10: Hier is sprake van wedersydse inwoning (“mutual interpenetration”, Morris): die Seun in die Vader en die Vader in die Seun. Die eenheid tussen die Vader en die Seun is onbetwisbaar, want volgens Jesus het die woorde wat Hy uiter hulle oorsprong by die Vader. Dit is nie anders gesteld met die dade (“tekens”) wat Jesus doen nie, ook dit doen die Vader!

Vers 11: Die Vader en Seun is innig verbonde aan mekaar. So getuig Jesus. ’n Dubbele oproep kom dat Jesus geglo (prae impt) sal word, blywend geglo sal word – aan die begin en aan die einde van die vers. In vers 10 is Jesus se vraag aan Filippus so geskryf dat dit ’n bevestigende antwoord verwag.

Vers 12: Vanaf vers 12-21 kry ons drie stelle bemoedigings: vers 12-14 (eerste), vers 15-17 (tweede) en die derde stel aangaande die Parakleet in vers 18-21. Ons perikoop stop by die tweede stel bemoedigings van Jesus. Jesus gee die versekering dat dié wat in Hom glo – sy dissipels – groter werke sal doen as Hy. Die rede wat Hy aanvoer: “want ek gaan na My Vader” (v 12).

Vers 13: Twee opvallende konstruksies kom in die vers voor; ’n onbepaalde frase – “wat julle ook al in My Naam vra . . .”, en ’n doelsaanduiding – “sodat die Vader in My verheerlik kan word”. Gebed is baie belangrik.

Vers 14: Die konstruksie wat ons in vers 14 teëkom is ’n kondisionele stelling wat ’n toekomstige feitelikheid weergee – “As iemand iets in My Naam vra, sal Ek dit doen”. Die “Ek” word beklemtoon.

Vers 15: Vers 15 bring ons by die tweede stel bemoedigings (v 15-17). Vers 15 is ’n kondisionele stelling wat tegelykertyd ’n feit rakende die toekoms aandui – “As julle my liefhet (prae subj), bewaar die gebooie van My”. Die dissipels se liefde vir Jesus word in die stelling bevestig. Daaruit vloei die opdrag voort – “Bewaar (aor impt) die gebooie van My”. Die etiese implikasies daarvan om volgeling van Jesus te wees, setel hier in die getroue uitleef van die gebooie van Jesus. Bouma vertolk “gebooie” as “die geheel van Jesus se wilsuitdrukking as Middelaar” en nie “losstaande wetsbepalinge” nie.

Vers 16: “En Ek (beklemtoon) sal die Vader vra . . .” Die Vader sal ’n ander Trooster (Parakleet) skenk. Jesus is die eerste Trooster wat opgevolg word/is deur ’n ander Parakleet. ’n Konstruksie in die sin (hina plus die subjunktief), word gebruik as aanduiding van doel – “om by julle te bly tot in ewigheid”. Dit beklemtoon op ’n troosvolle manier dat die dissipels nie alleen gaan wees wanneer Jesus weggaan nie.

Vers 17: Die ander Parakleet is ook die Gees van die Waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang (ook die woord om gasvryheid mee uit te druk, Joh.1:11-12) nie. Die twee redes wat aangedui word hoekom dit nie vir die wêreld moontlik is nie, is: Hulle kan Hom nie sien nie (vgl v 8) en hulle ken Hom nie. In Galasiërs 3:2 en 1 Korintiërs 2:12 word ’n soortgelyke stelwyse aangewend om die “ontvangs van die Gees” aan te dui. Die dissipels sal oor kennis van die Parakleet beskik as gevolg van die Gees se inwoning en teenwoordigheid by hulle.

Johannes 14:25-27. Vers 25 kom net na die vierde onderbreking en is deel van vers 25-31 wat dien as die slot van die gesprek.

Vers 25: Die durende aard van die woorde van Jesus word uitgedruk in die vorm van die werkwoord (perf).

Vers 26: Die verwagte ander Parakleet word aangedui as die “Heilige Gees”. Die Heilige Gees sal in die Naam van die Seun, deur die Vader na die dissipels gestuur word om hulle te leer en te herinner aan die inhoud van Jesus se leringe. Dit dui op die innige verbondenheid tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Vers 27: Die gewone vaarwelwens word hier in die slotrede verander in ’n erflating – Vrede. “Vrede” word hier as ’n nuwe onderwerp ter sprake gebring en moet waarskynlik hier in sy wydste sin verstaan word, wyer ten minste as die Grieke se verstaan daarvan, naamlik as die afwesigheid van oorlog. Vrede (en liefde) is ’n kenteken van ’n dissipel van Jesus (Bouma).

Die fokusteks sluit af in die presiese woorde van ’n deel van vers 1: “laat julle hart nie ontsteld word nie . . .” Die diskoers open en sluit op min of meer dieselfde wyse. Dit mag die eenheid van dié gedeelte (Joh 14:1-27). aandui.

Hermeneuties

Pinksterfees as deel van die seisoen van Pinkster in die kerklike jaar, is feitlik die laaste groot Christelike feesgebeure voor Koninkrykstyd aan die beurt kom.

’n Breë oorsig oor die indeling en inhoud van die Johannesevangelie (Du Rand, Brown):
1:1-18 – Proloog;
1:19-12:50 – Jesus openbaar sy heerlikheid deur tekens;
13:1-20:31 – Jesus openbaar sy heerlikheid aan sy “eie”.
21:1-25 – Epiloog

Ons teks val, wat bovermelde indeling betref, in die gedeelte 13:31-14:31; Jesus se weggaan en die dissipels se agterbly.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Jesus stuur die Heilige Gees om ons te bemoedig

Rus

Voorganger
Ons vier vandag die wonder dat Joël se profesie ook in ons lewe waar geword het.

Voorlesing: Handelinge 2:17-18

Aansteek van die Christuskers

Vra ’n kind om dit te doen.

Sang
Lied 440:1-4 “Die Here salf ons met sy Gees”

Voorganger
“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is”  (Rom 8:15-16).

Seëngroet
Jesus deel vandag op ’n nuwe manier sy Gees met ons.

Simboliese handeling
Gee aan die gemeente die kans om kerse by die Christuskers aan te steek en voor in die kerk te plaas as teken dat die Pinkstervlam ook op elkeen van ons rus.

Lofsang
Lied 334:1-4 “God is liefde” of
Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!”en/of
Flam 52 “Laat almal weet”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed
Here, die uitstorting van u Gees herinner ons dat U in ons leef, deur ons asemhaal. U laat elke dag, o Heilige Gees, Jesus deur elkeen van ons weer nuut mens word. Dit is te groot en wonderlik vir ons om te verstaan, maar ons gee ons onvoorwaardelik vir dié avontuur.

Sang
Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

Familie-oomblik

Sluit by die Pinksterfees aan en ontdek saam met die kinders die betekenis van die wind en vuur simbole van die eerste Pinksterdag, sodat hulle ’n begrip kry vir die teenwoordigheid van God se Gees op daardie dag.  Laat hulle eers praat (of laat die families met mekaar praat, as jy dit van vooraf moet begelei) oor ’n “geweldige stormwind” en vra uit oor hulle ervaring.  ’n Ligte briesie voel baie keer verfrissend en koel ’n mens af as dit warm is.  Ons speel baie keer in die wind met vlieërs.  ’n Stewiger briesie laat ons die krag van die wind voel.  As die wind regtig sterk begin waai, waai dit die blare en papiere weg.  En dan waai dit eintlik die hele wêreld skoon.

So is die Gees se teenwoordigheid ook in ons lewe.  Die Gees maak skoon as Hy sterk waai, en Hy gee ons krag.

Daarna kan jy met hulle praat oor die “tonge van vuur”. Vra die kinders of hulle kan ’n kampvuur kan onthou as hulle by ’n kampeerterrein oornag.  ’n Vuur gee lig en maak ’n mens warm.  So is God se Gees ook.  Hy wys ons wat ons moet doen, en Hy verseker ons dat God by ons is.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Nota:  Vir die doel van hierdie preekriglyn word Johannes 14:25-26 ook by die woordverkondiging ingesluit.  Dit word dus aanbeveel dat die prediker 14:8-17 én 25-26 voorlees.

“Wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg,” vra Filippus (14:8)  Mens wonder hoeveel mense hierdie versugting deel:  “As ons net vir God kan sien!”  Selfs die mees prominente ateïste (“Daar is nie ’n God nie”) of agnostici (“Ons kan nie met sekerheid sê daar is ’n God nie”) sal glo as hulle God kan sien.  Dan kan ons immers God se bestaan verifieer, en met sekerheid wéét dat God bestaan.

Filippus vra om die Vader te sien, terwyl Jesus in die nag voor sy sterwe verduidelik dat Hy weggaan.  Waar Hy gaan, kan die dissipels nie gaan nie.  Hulle bly agter.  Mens kan die angs so goed verstaan.  Vandaar die versugting: “Wys vir ons die Vader!”  Agter die behoefte om God te sien, sit ’n hele wêreld van angs, onsekerheid, die pyn van mens-wees in ’n bedreigende wêreld, die soeke na ’n vaste ankerpunt vir jou lewe.

Jesus sien en verstaan Filippus se hart.  Daarom antwoord Hy met bemoediging.  Mens kan trouens in hierdie teks drie bemoedigings onderskei:

  • Daar kom ’n ander Trooster, ’n Voorspraak, die Heilige Gees (14:15);
  • Die Gees van Waarheid leer ons om Jesus te volg, en herinner ons altyd aan alles wat Jesus gesê het (14:25);
  • Jesus en die Vader is een, Jesus gaan na die Vader, daarom “sal julle groter dinge as Ek doen,” tot eer van die Vader (14:12-14);

Kom ons dink na oor Jesus se bemoediging:

Bemoediging EEN:  Daar kom ’n ander Trooster, ’n Voorspraak (14:15)
Die Vader is in die Seun, en die Seun in die Vader.  Die Heilige Gees is ook God, en net soos Vader en Seun deel het aan mekaar, deel die Heilige Gees ook in die Goddelike bestaan.  Wanneer Jesus weggaan, kom die Gees en word God-by-ons.  Deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon, woon Vader en Seun ook by ons.

Die God wat ons aanbid laat ons dus nooit alleen nie.  God is by ons.

Uit die Evangelies blyk duidelik dat Jesus sy bediening uitgevoer het deur die krag van die Gees.  Hy was vervul met die Gees en volledig in kontak met die Vader deur die Gees.  Die Heilige Gees het Hom in versoeking bygestaan, en Hom bemagtig om die Vader volkome te gehoorsaam.

Die Heilige Gees word ook vir ons gegee.  Die Gees is met ons, troos ons en bemagtig ons tot gehoorsaamheid.

Bemoediging TWEE:  Die Gees van Waarheid leer ons om Jesus te volg, en herinner ons altyd aan alles wat Jesus gesê het

Die teoloog HJ Iwand skryf dat daar twee sirkels in hierdie Skrifgedeelte onderskei kan word.  Die eerste (binneste) sirkel is die krisis en ontsteltenis van die dissipels.  Hulle word binnekort geskei van Jesus.  Hulle gaan alleen agterbly, hulle geloof word getoets.  “Die skeiding met Jesus plaas hulle in ’n situasie van uiterste aanvegting”, skryf Iwand.

Hierdie binneste sirkel word egter omsluit deur die groter sirkel van die trooswoorde  en gerusstelling van Jesus.  Die troos is dat sy dood en weggaan die tyd en hul situasie gaan verander.  Sy weggaan lui die tyd van die Heilige Gees, die Voorspraak, die Trooster, in.  Die buitenste sirkel, die Gees wat in die nuwe tyd gegee word, oorweldig die binneste sirkel.  Die donkerheid sal deur troos verlig word.  Die Godverlatenheid en Godsverduistering word vervang met die Gees deur Wie Vader en Seun by die dissipels teenwoordig sal wees.

Wie kreun: “Wys ons die Vader!”, kan hoor:  Deur die Heilige Gees is Vader en Seun teenwoordig by die volgelinge van Jesus.  Die Gees troos deur die teenwoordigheid van God in ons lewens in te dra.

Hoe dra die Gees die teenwoordigheid van die drie-enige God in ons lewens in?  Hoe “wys” die Gees vir ons God?  Hoe troos die Gees prakties?

Die Gees troos prakties deur twee dinge te doen (14:26):

Die Gees herinner ons aan alles wat Jesus gesê het (14:26)
Die Gees messel ons lewens vas op die fondament van Jesus se woorde en dade.  Die Gees ent ons lewens in op die Wynstok, sodat ons as lote oorvloedig kan lewe.  Die Gees stel Jesus se lewe, lering en werke teenwoordig in ons lewens en verbind ons daaraan.

Die aansprake van die Christelike geloof is dramaties.  Die Nuwe Testament getuig dat Jesus die Seun van God is, God self, en dat God in Jesus op hierdie wêreld aangekom het, mens geword het en tussen ons kom woon het.  Die aanspraak is dat ons die diepste hart en wese van God in die God-mens Jesus leer ken.  Ons word geleer dat Jesus se teregstelling, asof Hy ’n misdadiger was, die versoening vir ons sonde behels, en dat God hierdie offer aanvaar het deur Hom volledig uit die dood op te wek.  Ons verneem dat die God-mens Jesus opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God regeer oor ons lewens en ons wêreld.  Die hele wêreldgeskiedenis sal nêrens anders as voor Sy troon eindig nie.

Hoe is dit moontlik vir gewone vlees en bloed om hierdie dramatiese aansprake te glo en daaruit te lewe?  Hoe is dit moontlik om die getuienis van die Skrifte as die Waarheid te aanvaar?

Die Heilige Gees verlig ons hart en verstand om die getuienis van die Skrif te omhels en te aanvaar.  Dit is die Gees wat ons herinner aan alles wat Jesus ons geleer het.  Die Gees help ons om leë hande uit te steek en God te omhels.  Die Gees bring ons na die Vaderhuis waar ons in God se arms val en liefde beleef.

Die taak van die Gees om ons te herinner het met die verlede te doen, met die feite van God se werk in die geskiedenis.

Die Gees het egter ook ’n taak gerig op die hede en die toekoms…

2.2 Die Gees leer ons alles (14:26)
Ons het die opdrag om Jesus in die hede te volg en besluite te neem wat ons toekoms indringend raak.  Die taak van die Gees is om ons met geloofsonderskeiding te help.  Die Gees lei ons, om in die lig van die getuienis van die Skrifte en dit wat Jesus ons geleer het, met die oog op die hede en die toekoms die regte besluite te neem.

Bemoediging DRIE: Ons sal groter dinge as Jesus doen
Die bekommernis van die dissipels is dat die tyd leeg sal wees tussen Jesus se weggaan en sy terugkeer aan die einde van die tyd.

Jesus se belofte is dat die tyd gevul sal wees met betekenis, waaronder betekenisvolle dade in sy Naam.  Jesus gaan na die Vader.  Hy regeer aan die regterhand van die Vader en sal in ons lewens en in ons wêreld deur die krag van die Heilige Gees besig wees.  Daarom sal ons selfs groter dinge as Hy doen.  Hierdie groter dinge geskied dus nie in ons eie krag nie, maar deur die krag van die verhoogde Jesus wat vanaf die Vader se regterhand in ons werk, en deur ons werk.

Die krag van Jesus word deur die Heilige Gees in ons gewerk.  Hierdie krag mag nooit geringgeskat word nie.  Die Gees doen kragtige dinge deur ons.  Daarom is Hebreërs 11 ’n getuienis van die werk wat God in die lewe van gelowiges doen:

Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.  Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ‘n beter lewe deelagtig word.  Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap.  Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel.  (Heb 11:34-37)

Die kapasiteit om te ly, vir God se reg op te staan, vervolging te verduur, die dood in die oë te staar, en sosiale marginalisasie te aanvaar, is die gevolg van die kragvolle werk van Jesus deur die Gees.

Daar is geen grense vir dit wat Jesus deur ons kan doen, ons wat ons deur die Gees laat lei nie.

Hoe die bemoediging van Jesus in die praktyk werk
Ons sluit af met twee verhale wat die bemoediging van die Gees en die groter werke deur die krag van Jesus illustreer.

–  Om die liefde van Christus te deel:
Professor Yohanna Katanacho doseer by ’n Bybel-Kollege en is ook predikant van ’n klein gemeente in Jerusalem.  As Palestyn word hy aan vervolging blootgestel.  Israelse soldate patrolleer die stad voortdurend op die uitkyk vir potensiële terroriste en mag spontaan beperkings op die bewegings van Palestyne plaas.  Hulle beskik oor die reg om te skiet op Palestyne wat nie vinnig genoeg op hul opdragte reageer nie.

Yohanna het werklik probeer, maar misluk in sy pogings om sy vyande lief te hê.  Die soldate se daaglikse kontrolemaatreëls om Palestynse identiteitskaarte na te gaan – wat soms tot oponthoud wat ure lank duur aanleiding gee – het Yohanna se vrees en woede aangevuur.  Terwyl hy sy onvermoë om lief te hê voor God bely het, het Yohanna iets betekenisvol gesnap.  Die radikale liefde van Christus is nie ’n emosie nie, maar ’n keuse, ’n besluit.  Daarop besluit hy om liefde te betoon.

Hy kies, ietwat teësinnig, om die goeie nuus van Jesus as liefdesdaad met die soldate te deel.  Yohanna begin om afskrifte van ’n brosjure, geskryf in Engels en Hebreeus, by hom te dra met ’n aanhaling uit Jesaja 63 en die woorde “Werklike liefde” as opskrif.  Elke keer wanneer ’n soldaat hom stop, oorhandig hy sy identiteitskaart en die brosjure.  Aangesien die aanhaling in Hebreeus is, vra die betrokke soldaat hom gewoonlik daaroor uit voor hy hom laat gaan.

Na ’n paar maande het Yohanna agtergekom dat sy gevoelens teenoor die soldate verander het.  “Ek is verrays, weet jy,” sê hy.  “Dit was ’n proses, maar ek het nie regtig aandag aan die proses gegee nie.  My vorige gevoelens was nie langer daar nie.  Ek stap steeds in dieselfde strate, sien dieselfde soldate as voorheen, maar kom agter dat ek nou spontaan bid: ‘Here, laat hulle my stop, sodat ek die liefde van Christus met hulle kan deel.’” (“When love is impossible” – Trinity Magazine, 2005)

–  Seën my vyande:
Die Serbiese biskop Nikolai Velimirovic het homself in die vroeë 1940’s teen Nazisme uitgespreek.  Daarvoor is hy gearresteer en na die Dachau Konsentrasiekamp gestuur.  Daar het hy gebid:

“Seën my vyande, o God.  Ook ek seën hulle en vervloek hulle nie.  Vyande het my in u arms gedryf, meer as wat vriende gedoen het.  Vriende het my die teenswoordige wêreld leer liefkry, vyande het my losgemaak van die wêreld, en al my aardse aspirasies tot niet gemaak.

“Net soos diere op wie jag gemaak word, soek om veiliger skuilplekke te kry as diere op wie se spoor geen jagter is nie, het ek – vervolg deur vyande – gevlug tot in die diepste skuilplek van U teenwoordigheid, waar nóg vriende nóg vyande op my lewe beslag kan lê.

“Seën my vyande, o God.  Ook ek seën hulle en vervloek hulle nie.”

Deur die Gees in wie se teenwoordigheid ons leef en werk is ons tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee.  Wanneer die Gees in ons lewens manifesteer, sien ons God aan die werk.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n voorstel om dit liturgies aan te voer:

  • Vra lidmate om te getuig van God se teenwoordigheid en groot krag in hul lewens.
  • Vra ‘n lidmaat om die Serbiese biskop Nikolai Velimirovic se gebed hardop namens die gemeente te bid.

Slotlied:  Lied 439

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.