Pinksterfees 

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 2:1-21 of
Esegiël 37:1-14; Psalm 104:24-34, 35b of
Handelinge 2:1-21; Johannes 15:26-27, 16:4b-15

Fokusteks

Rom 8:22-27

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied by aanvang
Flam 4 “O, Heilige Gees, kom maak my nuut”
Liedboek 212 “Loof die Heer, Hy is goed”

Liedere

Lof: Liedboek 212 “Loof die Heer, Hy is goed”

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
Lees:
Eseg 37:1-6; 10 en 14

Liedboek 442 “Gees van God wat in my woon”

Familie-oomblik 

Begin deur ʼn appel vir die kinders te wys. Vra een of twee om vorentoe te kom en goed na die appel te kyk. Vra dat hulle sal beskryf wat hulle sien.

Sny die appel(s) in die helfte deur sodat die appel saadjies sigbaar is. Laat die kinders weer beskryf wat hulle sien.

Wys die kinders daarop dat elke appel in sy kern saadjies dra wat die potensiaal het om elkeen ʼn appelboom te word wat in die draseisoen met appels oortrek kan wees.

Verduidelik die begrip hoop.

Hoop kan as ʼn selfstandige naamwoord gebruik word: “Ek het hoop.” Dit wys op ʼn bepaalde houding wat jy in ʼn situasie het. Gewoonlik dui dit op ʼn positiewe houding of gesindheid.

Maar hoop kan ook as ʼn werkwoord gebruik word: “Ek hoop.” Dit is om aktief sekerheid te hê oor wat gaan kom. Dit is nie dieselfde as om te wens nie. Om te wens beteken daar is die kans dat jou wens nie bewaarheid sal word nie.

As jy hoop, is jy verseker dat dit sal gebeur, selfs al is dit nie nou al hier, sigbaar of meetbaar nie. Hoop is om aktief oortuig te wees.

Hoop is om na die appel te kyk. As die meeste mense net ʼn lekker appel sien om te eet, sien hoop al die pitte ook raak en sien reeds hoedat elke pit ʼn groot appelboom word wat met appels oortrek is. Daarom sal hoop nie die appel eet en die stronk weggooi nie. Hoop sal aktief raak en die sade plant. Hoop sal die grond gereed kry en begin regmaak vir die appelboord. Want hoop sien iets anders raak as hoop na die appel kyk.

Hoop kan jou verander. Dit verander jou van iemand wat ʼn lekker appel eet, na iemand wat ʼn appelboord plant om ook vir ander lekker appels aan te kan bied.

Hoop laat jou dus raaksien wat ʼn mens nie met die eerste oogopslag sal raaksien nie. Hoop laat jou besig raak met dit wat nog moet gebeur. Hoop gee vir jou die geduld om steeds opgewonde te kan wees, al sien jy nog niks raak van waarvoor jy hoop nie.

Ons gedeelte in vandag se teks wil ons help om met hoop te leef. Hoop is die werkwoord wat beskryf waarmee gelowiges hulleself mee besig hou.

Preekriglyn

Daar is iets meer

Ons teks begin sommer met die stelling: Die lewe sug, want daar skort iets groots daarmee. Daar is fout.

Maar moenie dink as die lewe sug, is dit ʼn sug van moedeloosheid of radeloosheid nie. Dit is ‘n sug van ongeduldige hoop. Paulus verduidelik dat die skepping weet daar is iets beters op pad – nie vernietiging of rampe nie, maar ‘n radikale verandering van vernuwing.

En nou redeneer Paulus verder. As die skepping dít weet, soveel te meer weet hulle dit wat die eerste teken van hierdie nuwe toekoms ontvang het, naamlik die Gees. Daarom sug die seuns en dogters van God nog méér. Hulle verlange na wat God besig is om op te rig, is baie sterker.

Pinksterfees vier die geboorte van God se kerk op aarde, daardie God wat uitvoering kom gee aan sy beloftes in die lewe van geredde sondaars.

Pinksterfees is ʼn fees wat uit pas is met die wêreld se feesvierings
Dié feesviering verskil sommer met die eerste lees daarvan dadelik van die wêreld se begrip van feesviering. In plaas van die verwagte vrolikheid en opgewondenheid, praat Paulus van sug as ‘n gepaste reaksie by hierdie feesviering. Die skepping is aan die sug, die gelowiges – en dan nog ook die Gees. Hulle sug nie omdat daar iets met hulle geloof skort nie. Hulle sug omdat dit ‘n gepaste gelowige reaksie is as jy met die Gees vervul is. As jy met die Gees verlig is en tot nuwe insigte en verstaan van die lewe gekom het, sug jy éérs.

Die wêreld se feesviering wil graag die oomblik verdoof, die werklikheid so bietjie op die agtergrond plaas en ʼn oomblik van ontvlugting uit die werklikheid bied.

Pinksterfees is egter ‘n fees wat nie die werklikheid wil ontvlug nie. Nee, maar as gevolg van die ontdekking van die nuwe werklikheid in die hier en die nou, wil dit fees vier.

Pinksterfeesgangers is mense wat sensitief begin raak het vir ‘n lewe groter as wat die oog op die oomblik kan sien. Hulle het tekens van ʼn nuwe werklikheid begin ervaar en raaksien, te midde van hierdie oënskynlike hartseer werklikheid. Daarom sug hulle as hulle sien hoe die lewe nou lyk. Hulle sug as hulle sien hoe mense aan hierdie lewe vashou asof dit al is. As ons die beeld van die appel kan gebruik: Hulle begin raaksien daar is méér as net ‘n lekker appel om te eet. Hulle sien die appelboord oortrek met appels.

Daarom sug die feesgangers, want die Gees gee aan hulle ʼn nuwe verstaan van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde. En hierdie nuwe ontdekking staan vierkantig téénoor die bekende en die aanvaarde werklikheid waaraan almal so gewoond geraak het.

Om Geesvervuld te sug of nie

Die Geesvervulde kerk is ʼn gemeenskap wat sensitief geraak het vir God se werklikheid en God se beloftes. Daarom raak die Geesvervulde kerk ál meer bewus van hoe hierdie werklikheid van die huidige oomblik aan God se werklikheid tekortskiet. Hoe méér die seuns en dogters van God by die Gees hierdie sensitiwiteit aanleer, hoe méér gaan hulle oë oop vir die hartseer en lyding van die oomblik. Hoe méér intens sug hulle.

Paulus se beeld help ons om te begryp dat die sug van die Geesvervulde kerk nie dieselfde as die sug van moedeloosheid is nie. Dit is soos die sug, die kreun en die pyn van ʼn vrou wat in kraam is. Dit is ʼn sug wat met ʼn stuk opgewondenheid en vreugde gepaardgaan. Dit is ʼn sug wat jy nie vermy of probeer ontduik nie. Daar is hoop en energie hierin. Want wat aan die gebeur is, gaan lewe bring. Dit gaan nuwe moontlikhede oopbreek. Dit gaan die verwagting van ʼn werklikheid net vir die oomblik verander.

‘n Gevaar vir die kerk is om nie geesvervuld te leef nie – dan verdwyn die sug
Wanneer gebeur dit?

  • Wanneer ons die Gees nie toelaat om die hoop van ‘n nuwe werklikheid in ons harte en gedagtes te kom kweek en ons daarvan te leer nie.
  • Wanneer ons vergeet wat God se beloftes en sy plan is.
  • Wanneer dit nie meer ons eerste prioriteit is om ons vir sy koninkryk te beywer nie, maar om ons eie te bewaar en te beskerm.

Die sug verdwyn

  • Wanneer ons eiebelang, ons eie drome, ideale en lieflingbesittings ons hartsnare roer en nie God se droom en sy beloftes van ʼn nuwe toekoms nie.
  • Wanneer die kerk homself wil bewaar en sy bestaan wil verseker ter wille van homself en nie meer ter wille van God se werklikheid nie.

Dan begin die kerk se gebede op homself gerig raak.

Dan bid ons eerder dat die Vader ons moet bewaar, beskerm, beveilig – met die doel dat niks egter aan my of aan waaraan ek gewoond geraak het moet verander nie. Die appel word nou die fokus – nie meer die appelboord nie.

Om die sug te verloor, is baie keer die gevaar van ons wat nie so diep en direk deur die stukkendheid en gebrokenheid van hierdie werklikheid geraak word nie. Ons sug is oppervlakkig. Dit wil eerder soek na ‘n oplossing of ‘n verbetering op die bestaande, in plaas van ‘n verlange na vernuwing en verandering sodat God se koninkryk kan aanbreek.

Die vrug van die Gees is om namens ons te sug

Die kerk bedroef die Gees wanneer dit sy hoop verloor en kortsigtig eerder ʼn kapsule word waarin mense van die werklikheid probeer ontvlug. Dan is die kerk ʼn godsdienstige verdowingspil om mense vir ʼn oomblik se ontsnapping uit die harde werklikheid van elke dag te neem.

Hoe lyk ‘n oorlewingskerk wat geen boodskap van hoop of moed meer vir die toekoms kan bied nie, en net ‘n pleister vir die “eina” van nou is?

  • Wanneer sy boodskap vervlak het tot alleen maar “krag vir die dag”.
  • Wanneer dit gaan om selfbeeldversterking sodat die bestaande lewe met nuwe moed vir oorlewing aangepak kan word.
  • Wanneer dit daarom gaan om jouself in die verwarring van die oomblik tog net beter te laat voel.

Daarom kom Paulus en herinner ons daaraan oor wie ons eintlik is.

Hy maak ons weer daarvan bewus dat dit die werk van die Gees is om ons as verloste sondaars van die eng en selfsugtige self waaraan ons eers verslaaf was, te bevry.

Hy maak ons weer daarvan bewus dat ons nog op pad is na die finale punt waar ons finaal soos Christus sal wees.

In hierdie verwarde wêreld verstaan ons nog nie genoeg van die nuwe nie. Ons deel nog nie genoeg in God se droom nie. Ons is nog te min met die Gees begeester.

Uit Paulus se reaksie is dit duidelik dat dit nie ʼn probleem is nie, want die Gees vertolk sy rol om hierin as Parakleet op te tree.

Dit is waar van elke gelowige: Ons gebede is maar swak en stamelend. En tog is dit nie ‘n saak om oor moedeloos te raak nie. God tree self by God in, namens ons. God verstaan méér as onsself wat die eintlike bedoeling van ons hart is. God weet wat ek waarlik nodig het.

God gee gelukkig nie uitvoering aan al ons gebede nie, maar gee vir ons wat ons nodig het: die nuwe aarde en die nuwe hemel.

‘n Geestelike beskeidenheid en navolging

Hierdie feit behoort gelowiges daarom baie méér versigtig te maak met hulle planne en idees oor hoe hulle dink die kerk behoort te lyk, behoort te wees of behoort op te tree.

Hierdie begrip van ons eie gebrokenheid behoort gelowiges juis te dwing tot ʼn nederige soeke na waar God rééds aan die werk is, en minder hulleself te probeer beïndruk met hulle eie planne oor hoe hulle dink God in die wêreld aan die werk behoort te wees.

Hierdie waarheid behoort gelowiges te dwing om eerder wagtend en luisterend na die stem van God te soek.

Om ons planne en idees altyd dááraan te toets: Is dit die sug van God se Gees, of is dit ons eie hebsug, selfsug en vraatsug wat hier aan die woord kom?

Die Pinksterkerk word uitgenooi om Jesus te volg, sy kruis op te neem en die Gees van God te gehoorsaam. Anders as aansluit en bywoon, wil die Pinksterkerk onder leiding en lering van die Gees dit agter Jesus aan waag.

“Agter Jesus aan” beteken om aan eiebelang en eie idees te sterf. Dit beteken om ‘n groeiende sensitiwiteit vir die stem van God se Gees te ontwikkel.

Hoe meer die Gees ons aanvoer, hoe dieper word ons versugting dat dinge ánders sal word, dat hierdie nou sal verbygaan en dat God se beloftes bewaarheid sal word.

Paulus beskryf dit as die hoop van die gelowige. Dit is hierdie hoop wat die Gees in ons kan loslaat. Dit is hierdie hoop wat ons kan dryf om deel van die lyding en die nood van die lewe te word. Dit is hierdie hoop wat ons ons hande met die gebrokenheid van lewe laat vuil word.

Die sug van die Gees van God wil ons vierkantig met hoop in die nou laat staan.

Dit is ‘n hoop wat volgelingskap van Christus téénoor godsdiens plaas.

Dit is ‘n hoop wat wil vry breek uit geykte tradisies en na kerkwees in die hede soek.

Dit is ‘n hoop wat alle bande met selfsug, hebsug en vraatsug breek.

Dit is ‘n hoop wat ons harte vernuwe sodat ons méér en méér God se hartklop kan aanvoel.

Dit is ‘n hoop wat ons die gevaar laat binnegaan.

Dit is ‘n hoop wat betree en konfronteer.

Die hoop van die kerk is nie iets wat vir die toekoms bewaar word nie. Hoop is vir die hier en die nou.

Die toekoms is afhanklik wat nou reeds aan die gebeur is. Stukkie vir stukkie breek die toekoms aan in elke daad van die seuns en dogters van God, in elke droom, in elk stukkie waagmoed, in elke nee vir wat nie behoort te wees nie en in elke ja vir dit wat moet wees.

Die passie vir lewe lê nie in eie pogings of positiwisme opgesluit nie. Dit lê nie in eie handewerk of uitgewerkte planne nie.

Geloofspassie is die uitkoms van hoop – nie meer ‘n hoop in wat moontlik waar sal word nie, maar ‘n vaste sekerheid dat God se beloftes waar gaan word. Geloof het hierdie hoop nodig om met passie uitgeleef te kan word. Daarsonder verval dit in humanistiese pogings om jou gewete te sus.

Die Gees-drif van die Pinksterkerk maak ons méér aktief, vindingryk en offervaardig in ons roeping om aan die realisering van die nuwe toekoms deel te neem. Juis hierin word die kerk draers en bakens van hoop.

Aangevuur deur die “wind” van vernuwing en verandering, kan die kerk ʼn venster vir die wêreld op God se omgee en sy beloftes van ‘n nuwe toekoms word. Só kan die kerk die wêreld uitnooi om Jesus méér met hulle drome te vertrou, ja, uitnooi om Jesus in hulle lewe te aanvaar.

Nie om aan te sluit of in te teken nie, maar om tree vir tree agter Jesus die nuwe lewe toe te tree.

  1. God stuur ons om te leef

 

  1. Volgende erediens

Romeine 8:12-17

Danny Fourie
Pieter Fourie
Hans Steyn
Waldemar Stumpfe
Francine van Niekerk

God stuur ons om te leef

Liedboek 440

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.