Pinksterfees

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag heers ’n feestelike atmosfeer in die kerk en die liturgie moet dit weerspieël. Die belofte is vervul! Ons is nie as weeskinders agtergelaat nie! Die Gees van God laat ons glo dat ons kinders van God is. Ons deel nou in die heerlikheid van Christus! Die liturg het die roeping om iets hiervan in sy/haar persoon te beliggaam. Kleredrag, liggaamstaal, gesigsuitdrukking en entoesiasme sal alles hierin ’n rol speel.

Ander tekste

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

Genesis 11:1-9
Die toring van Babel
11 Die hele wêreld het net een taal gepraat. 2Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by ’n vlakte in Sinar en daar gaan woon. 3Hulle het op ’n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”
Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, 6en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. 9Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

Psalm 104:24-34, 35b
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

35Mag die sondaars van die aarde af 
verdwyn, 
mag die goddeloses 
ophou om te bestaan!

Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Johannes 14:8-17, (25-27)
Jesus gaan na sy Vader toe
14 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Fokusteks

Romeine 8:14-17
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

“Laat lei” – Grieks: agô – gelei word – vgl Gal 5:18 – die fokus is daar op die vrug van die Gees wat na vore gebring word – hier is die fokus op die sekerheid van kindskap wat deur die Gees bevestig word. The Message: “God’s Spirit beckons. There are things to do and places to go!”  “It is the dependence on the Spirit which is decisive” sê James Dunn in sy Romeine kommentaar.

Hier is die hele parafrase in The Message:
12–14 So don’t you see that we don’t owe this old do-it-yourself life one red cent. There’s nothing in it for us, nothing at all. The best thing to do is give it a decent burial and get on with your new life. God’s Spirit beckons. There are things to do and places to go!

15–17 This resurrection life you received from God is not a timid, grave-tending life. It’s adventurously expectant, greeting God with a childlike “What’s next, Papa?” God’s Spirit touches our spirits and confirms who we really are. We know who he is, and we know who we are: Father and children. And we know we are going to get what’s coming to us—an unbelievable inheritance! We go through exactly what Christ goes through. If we go through the hard times with him, then we’re certainly going to go through the good times with him!

Ekstra stof

Die brief aan die Romeine
Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 vC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!).

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees.  Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26.  Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het.  Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog.  ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies.  Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms).  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Indeling
Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:
1. Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
2. Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
3. Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
4. Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees.  Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!

’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak.  Dit kan net wees deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ’n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).

Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds ’n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom.  Jeremia het daaroor gepreek in Jer 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes 65:17-25.

Let op hoe Paulus dit as ’n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ’n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11).  Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.

Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie.  Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Votum
Liturg:  Kom, Skepper-Gees en waai deur ons gebroke wêreld.
Gemeente:  Kom, Skepper-Gees en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

L:  Kom, Skepper-Gees en waai deur ons gebroke lewe.
G:  Kom, Skepper-Gees en bring vir ons nuwe lewe.
(uit Wepener, Cas 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai.  Bybelmedia)

Toetrede
Lied 444 “Kom kyk!  Kom kyk!”
VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons” 
Of Flam 58 “Skepper Gees”

Seëngroet
L:  Genade en vrede van een Skepper-God
G:  van alle sienlike en onsienlike dinge.

L:  Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uitlig,
G:  wat sit aan die regterhand van die Vader.

L:  Genade en vrede van die Heilige Gees,
G:  wat on Here en Lewendmaker is.
Amen.
(Op grond van Nicea, uit Wepener, Cas 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai.  Bybelmedia)

Lofsang
Lied 439 “O Heil’ge Gees, o God in ons”
VONKK 174 vv1-2 “Strome Van Seën Uit Die Hemel” 
Of Flam 432  “Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk (Wolkbreuk)”

Pinksterlitanie
L:  Halleluja!  Die Gees van die Here vul die aarde.
G:  Laat die regverdiges bly wees en juig voor die Here.  Halleluja!

L:  Met tonge van vuur het die Gees die apostels aangespoor.
G:  Hulle vertel in nuwe tale van die groot dade van God.

L:  Ere aan God, Vader, Seun en Heilige Gees.
G:  Mag sy koninkryk sonder einde wees.

L:  Halleluja!  Kom, Skepper-Gees!
G:  Vul die harte van u volgelinge met die oorvloed van u liefde.  Halleluja!  Amen. 
(2010. Handleiding vir die Erediens.  Bybelmedia)

Lofsang
Lied 441 O “Heil’ge Gees, ons Heer”
VONKK 174 vv3-4 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Of Flam 54 “Met My Hele Hart”

Liedere

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese) Teks en musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.

Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
om in al U volheid,
kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

F432. “Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk (Wolkbreuk)” 
(RUBRIEK:  Flam – Pinkster)     Musiek en Teks: Carli Lessing   Kopiereg: ©  Wins Music

Heilige Gees, kom stuur ’n wolkbreuk
Na hierdie woestynhart van my
Laat waarheid en woord weer kom insak
Tot diep by die wortel van my

Oh – oh – oh – oh    oh – oh
Oh – oh – oh – oh- oh   oh – oh

Met elke newelbeeld van uitkoms
Kom draai weer my oë terug na U
Gee my weer die asem vir die lang pad
Om enduit getrou te kan bly

Help my vashou aan U beloftes
Help my vashou aan hoop
Help my vashou aan die waarheid
Help my vashou aan U

F54. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Kontemporêr – Wet / Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Jean Symons
© 1998 Spirit and Truth Music (STM) (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)

Met my hele hart en siel, al my krag en verstand,
Het ek U lief o Heer, U’s die kroon van my hart.
U liefde verteer my deur en deur, o Heilige Gees.
Met my hele hart en siel bemin ek U, Heer.

F37. “Die Brood wat ons breek (Nagmaal – Instellingswoorde)”
(RUBRIEK: Nuwe Gemeentesang – Nagmaal) Teks en musiek: Pieter Malherbe en Jacques Louw
© 2005 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Die brood wat ons breek,
is die gemeenskap met die liggaam van Jesus, ons Heer.
Ontvang dit en glo
en dink weer aan die lyding van ons Heer.
O, neem en weet:
Sy liggaam is vir ons gebreek,
tot volkome versoening vir ons sonde.

2. Die beker wat ons skink,
laat dink ons aan die offer van die bloed van die Lam.
Ontvang dit en glo
en dink weer aan die lyding van ons Heer.
O, neem en weet:
Sy lewe is vir ons gegee,
tot volkome versoening vir ons sonde.

F92. “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed) Oorspronlike titel: Nkosi Sikelel’i Afrika
Teks en musiek: Enoch Sontonga; verwerk deur Jan Hoogendyk
Afrikaanse vertaling: Onbekend © Publieke Domein

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Laat haar klag tot in die hemel reik.
Hoor ons as ons in gebede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Hou u hand, o Heer, oor Afrika.
Lei ons tot by eenheid en begrip.
Hoor ons as ons U om vrede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Neem dan nou die boosheid van ons weg.
Maak ons van ons sonde ewig vry,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons”
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882;  Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883
Kantoryverwerking: James McGranaham 1883 © Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Pinkster / Geloof en Vertroue

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Teks: Jacques Louw 2010 © Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Pinkster

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe,
my krag, my vermoëns,
aan U sal toewy –
u dien met my gawes.
Ek lê myself, Heer,
voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig  Jacques Louw 2010 © Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.
3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

God praat met ons en ons luister

Gebed
O Heilige Gees van God,
Kom na ons en beweeg tussen ons:
Kom as wind en reinig ons;
Kom as vuur en suiwer ons;
Kom as dou en verfris ons:
Oortuig en bekeer ons en wy ons hart en lewe aan U
Vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se Naam.
Eric Milner White (1884-1964) in 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle.  Lux Verbi.BM.

Skriflesing: Romeine 8:14-17

Familie-oomblik

In 2012 het ons ‘n hele paar voorbeelde gegee wat jy kan gebruik. Ons herhaal dit hier:
Daar is sommer lekker baie maniere waarop jy die teks aan kinders kan verduidelik!
Jy kan die beeld uit Ratatouille aan die einde van die preek gebruik.  Linguini moes leer om heeltemal oor te gee en te volg waar Remy hom lei, anders sou hy nooit sulke lekker kos kon maak nie!  Laai die toneel waar Linguini leer om Remy se leiding te volgvan vanaf Youtube.

Jy kan ook die beeld van ‘n dier se ore gebruik.  Diere kan baie goed hoor!  Hulle luister ook fyn en draai hulle ore in die regte rigting.  As ‘n kat bv. ‘n voëltjie bekruip, draai sy haar ore in sulke skerp punte na die voëltjie toe.  (Jy kan feitlik enige dier as voorbeeld gebruik.  Ontwikkel die idee verder deur by Wikipedia te lees hoe diere se ore werk.  Kinders kan selfs groot ore maak van papier!) Ons moet ons ore fokus op die stem van die Gees en nie ons eie planne [sondige natuur] nie.

Of vat ‘n draagbare radio, van die soort waar jy nog ‘n knop draai om die stasie te soek.  Verduidelik (en demonstreer) dat die radio presies op die regte stasie ingestel moet wees, anders hoor mens net ‘n geraas.

‘n Laaste beeld wat goed kan werk, is ‘n satelliet skottel.  Vertel vir die kinders van die “Very Large Array” in New Mexico.  [Foto deur Hajor by Wikimedia Commons]

Nog ’n opsie is om te gesels oor families en wat dit beteken om ’n lid van God se familie te wees.  Gesels eerstens oor wat dit beteken om ’n lid van ’n familie te wees.  Families kyk na mekaar.  Hulle woon in dieselfde huis.  Sommige families bedryf saam ’n besigheid, maak saam tuin, ens.  Hulle hou saam vakansie en vier feesdae saam.  Selfs tydens die slegte tye kyk families steeds na mekaar.  Ons is deel van God se familie, vir altyd, maak nie saak wát nie.

Die gedagte van aanneming kan ook spesiaal wees.  Probeer iemand in jul gemeente kry wat bereid is om te vertel van ’n aanneming:  hoe hulle uitgesien het na die nuwe kind, hoe dankbaar hulle is vir die kind, hoe die kind deel is van hul familie en hoe lief hulle die kind het.  Jy kan ook die storie “I love you like crazy cakes” deur Rose A Lewis in die hande probeer kry en vir die kinders lees (daar is ook ’n DVD van die boek).  Dit is die verhaal van ’n dogtertjie in ’n kinderhuis in China.  Sy het baie maatjies, maar nie ’n mamma nie.  Aan die ander kant van die wêreld was ’n vrou wat ook baie maatjies gehad het, maar nie ’n baba nie.  Daarom het sy vir die regering in China geskryf en gevra oor die dogtertjies in die kinderhuis.  Die regering het vir haar ’n foto gestuur en gesê sy kan die dogtertjie aanneem as sy belowe om baie goed vir haar te sorg.  Die vrou was baie opgewonde toe sy op die vliegtuig reis na China.  Uiteindelik in China aangekom, het sy haar nuwe dogtertjie ontmoet.  Sy het die dogtertjie op die bed in die hotel neergesit en net na haar gestaar.  “Hoe kan jy so perfek wees?” het sy gevra.  “I love you like crazy cakes.” Op die vlug terug huis toe het die dogtertjie op die stoel gestaan en vir die man agter haar geglimlag.  Uiteindelik by die huis aangekom, het al haar familie –  ouma en oupa en ooms en tannies – op die lughawe gewag om haar te verwelkom.
OF:
Probeer by ’n Crazy Store ’n ballon karretjie in die hande kry.  Jy kan ook een maak.  Hier is baie gedetailleerde planne. Jy blaas die ballon op en die wind laat die karretjie beweeg.  Sonder die wind kan die karretjie niks doen nie.  ’n Lekker manier om te illustreer hoe die Gees ons lei!

Preekriglyn

Ken julle die verhaaltjie van die man met twee honde, ‘n witte en ‘n swarte?  Dit was twee aggressiewe diere, geteel om te veg.  Saterdae het hy die twee honde laat baklei.  Hulle was ewe groot en ewe sterk.  Dit was onmoontlik om te voorspel watter een gaan op die spesifieke dag wen.

Daarom het onse vriend weddenskappe geneem.  Mense het graag gewed en natuurlik ‘n patroon probeer vasstel om te voorspel watter een gaan wen.

Die wedders was selde reg.  Daar was geen patroon nie.  Keer op keer het die weddenskappe tot voordeel van die eienaar van die honde uitgespeel.

Hoe so?  Want deur die week het hy net een van die honde behoorlik gevoer.  Die ander een moes vir die week lank byna op water alleen oor die weg kom.  Die hond wat ordentlik gevoer is, het altyd gewen.

Grafika, eiendom van Jim’s Photos1 , foto geneem op 2 Maart 2009 met ‘n Canon EOS 50D. Dit is beskikbaar by.
Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe.

Die rol van die Heilige Gees

Die fokus in die Romeinebrief val deurgaans op Jesus Christus, deur wie ons kinders van God word. Vandag, op Pinkstersondag, dink ons spesifiek aan die rol wat die Heilige Gees in die geloofslewe van mense speel.

Verwagtings na die Pinksterreeks

Mense het natuurlik verskillende verwagtings na die Pinksterreeks. Verwagtings van wat die Gees nou in mense se lewe gaan doen, verwagtings van seëninge, bekering en geestelike groei.  Dit is oor die algemeen dus verwagtings van wat die voortgaande uitwerking van die Pinksterdienste op die gemeente se lewe sal wees.

Daar mag dalk ook spesifieke voornemens by lidmate wees, byvoorbeeld van nuwe toewyding; spesifieke reaksies op die teenwoordigheid van die Gees; ʼn nuwe visie vir die gemeente, of die begeerte om aan God gehoorsaam te wees.

Wanneer God ons aanspreek, loop dit altyd op groter gehoorsaamheid en toewyding uit.  Dit is ook wat in ons teksgedeelte gebeur.

Aangespreek om die Gees se leiding te volg

Ons teks spreek ons aan om die Heilige Gees se leiding te volg.  Paulus sê almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.  Mens moet verse 12-14 as ‘n geheel lees:

Daarom dan staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. (8:12-14)

Die uitdaging is om die Gees toe te laat om ons lewens te rig.  Ons is eintlik almal skuldig hieraan.  Ons word opgeroep om die Gees te gehoorsaam.  Ons voel aangespreek – ons voel dat ons gehoorsaamheid verskuldig is.

Wie of wat beheer ons lewe?

Ons teksgedeelte praat van twee beheersentrums of “empires” wat ons lewens beheers.

‘n Beheersentrum of “empire” is ʼn stelsel wat alles beheer: denke, lojaliteite, optrede, houdings en gesindhede.  Daar is magte en kragte wat op ‘n mens se hart beslag lê en jou lewe in ‘n spesifieke rigting stuur.  Paulus praat hiervan as die vlees en die Gees.  Uiteindelik is daar net twee moontlikhede: mens se lewe word gerig deur die Gees van God, of deur iets anders, die vleeslike.

Die vleeslike verwys nié na materiële dinge as sodanig nie, maar na die sondige, na kragte en magte wat nie van God kom nie, maar elders gebore word: buite God, in rebellie teen God, sondig, gebroke en vernietigend.  Die vleeslike dui op ‘n rigting wat mens met jou lewe inslaan, weg van God en weg van gehoorsaamheid aan God af.  Om deur die Gees te leef, is om in die rigting van God, en gehoorsaamheid aan God, te leef.

Daar is ʼn geweldige stryd tussen die twee beheersentrums in die mens se lewe.  Hier is nie van vreedsame naasbestaan sprake nie.  Hierdie beheersentrums wil jou hele lewe inpalm.

Dit hou die werklikheid van dood teenoor lewe in.  Dink aan Jesus se woorde oor God en Mammon (Matt 6:24),  Mens kan nie God en geld as verterende mag in jou lewe dien nie.  Die een lei tot lewe, die ander tot dood.

Dink ook aan Paulus se aansporings aan die Korintiërs (2 Kor 6:14-16):

Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?  Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ‘n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?  Hoe kan ‘n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

Watter hond gee jy kos?

Die keuses wat mens tussen Gees en ander magte maak, bepaal die krag en invloed daarvan in jou lewe.  Dit is soos watter hond jy kos gee.  Daardie hond wen.  Wanneer jy uit Christus se oorwinning oor die sonde lewe, bekragtig deur die Gees, word oorwinning oor die sonde ook in jou lewe ‘n werklikheid.

Die goeie nuus is: die stryd is klaar deur Jesus Christus gestry en gewen – dit is volgens Paulus die evangelie se boodskap.  Maar gelowiges word ook voortdurend met keuses gekonfronteer om in terme van die evangelie te opereer.  Daarom is dit ook ʼn voortgaande stryd in ons lewens.

Teen hierdie agtergrond moet ons die opdrag verstaan: Maak deur die Gees ʼn einde aan die werke van die vlees. Hiervoor is meer as bloot menslike geestelike fiksheid en prestasie nodig.  Die oorwinning kom deur gebed, afhanklikheid van die Gees, die vlug met versoeking na Christus, oorgawe en buig voor die Gees se heerskappy.

Wat die Heilige Gees in ons lewens doen

Dit bring ons by die tweede aspek van die Gees se werk in gelowiges se lewe.  Die Gees maak mense kinders van God.  Die Gees bevestig ons kindskap van die Vader.  Die nuwe lewe is die lewe van kinders in God se huishouding.

Ons ontvang nie ʼn gees van slawerny nie – waardeur ons weer en weer met vrees gekonfronteer word nie.  Ons ontvang die Gees van aanneming tot kinders.  Dit plaas ons erediens, ons gehoorsaamheid en ons dienswerk in ʼn heel ander lig – nou nie meer omdat ons bang is ons doen te min of verkeerd nie, maar as die vergestalting van ʼn gesinsverhouding

Daarom leer die Gees ons roep “Abba”, Vader.  Ons verwagting en hoop is op God, ons Vader.

Vir ons beste voornemens as gelowiges, vir ons keuse watter hond ons kos gee, vir ons keuses as gelowiges, is ons nie op onsself aangewese nie.  Die Gees bevestig ons kindskap en begelei ons keuses, die Gees getuig saam met ons gees dat ons regtig kinders van God is.

Erfgename van God

Die derde aspek van die Gees se werksaamheid is dat die Gees ons verseker van ons erfenis as kinders van God.  Selfs in moeilike omstandighede, soos lyding of vervolging, sal dit duidelik word dat ons God se kinders is.  Ons is erfgename en ons gemeenskaplike, wonderlike, enigste erfenis is die Here self.  Ons erfenis is Christus en Christus se verdienste namens ons.

Toepassing

Die Gees verbind ons aan die volheid wat God vir ons weggelê het:

  • Die Gees rig ons af om reg te lewe, om die regte hond kos te gee.
  • Die Gees verseker ons dat ons kinders in die huishouding van God is, sodat ons as kinders kan lewe.
  • Die Gees verbind ons aan ons erfenis in Christus: die belewenis van die volheid van wat God aan ons gee.

Daarom staan ons nie beheer oor ons lewe af aan ‘n sondige beheersentrum nie.  Hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie.  Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke.  Daardie hond gee ons nie kos nie.

God stuur ons om te leef

Nagmaalsformulier
Gebruik die responsoriese formulier in Bybelmedia se Handboek vir die Erediens (2010:343-346)

Gereedmaak van die tafel
Lied 442 “Gees van God wat in my woon”
VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Of Flam 37 “Die Brood wat ons breek (Nagmaal – Instellingswoorde)”

Gebed en geloofsbelydenis (by die Nagmaalstafel)
[As jy hierdie responsoriese Formulier gebruik, moet dan nie óók die responsoriese gebed en belydenis gebruik nie]
L:  Heilige Gees, Skepper, U wat in die begin oor die watermassas beweeg het, deur u asem kry alle dinge lewe en sonder u sterf elke lewende wese en keer terug tot niks.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Raadgewer, deur u inspirasie het profete gepraat en opgetree;  u het hulle met u mag beklee, sodat hulle van u Woord kon getuig.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees deur u het die maagd Maria die moeder geword van Jesus Christus, die Seun van God.  U het vir hom ’n ideale woonplek voorberei.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Heiligmaker, deur u toedoen het Jesus in wysheid en genade toegeneem; U het die dag toe hy gedoop is in die vorm van ’n duif op hom neergedaal, soda thy geheilig is en met mag toegerus is as ’n betroubare getuie van die Vader.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Ewige God, deur u het Christus, ons Hoëpriester, homself as ’n onskuldige slagoffer oorgegee, sodat ons van die magte van die dood bevry kon word om die lewende God te dien.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Beskermer, u het in tonge van vuur op die apostels neergedaal en deur hulle gepraat toe hulle van Christus en sy opstanding voor konings en nasies getuig het.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Trooster, deur u word ons weer gebore as kinders van God, u teenwoordigheid maak ons lewende tempels en u tree vir ons in by God met woorde wat nie gesê kan word nie.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!

L:  Heilige Gees, Lewegewer, deur wie die hele kerk as liggaam vernuwe, gelei en geheilig word, u woon in ons, sodat u eendag lewe aan ons sterflike liggame kan gee.
G:  Kom, Heilige Gees, kom en vul ons!
(Taizé-gemeenskap in 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle.  Lux Verbi.BM.)

Litanie 
L: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep u kerk oor die wêreld heen …
G: met waagmoed vir geregtigheid.

L: Kom herskep u kerk in Suid-Afrika …
G: met deernis en medelye vir die nood rondom ons.

L: Kom herskep die NG Kerk en die VGK …
G: om nuwe moontlikhede vir kerkeenheid te soek.

L: Kom herskep ons in NN (naam van julle gemeente) …
G: sodat ons uit dankbaarheid u wil sal soek.

L: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep individue in die wêreld …
G: dat hulle onrustig sal bly totdat hulle rus vind in U.

L: Kom herskep mense wat onseker is oor hulle identiteit …
G: tot ’n lewe van selfaanvaarding.

L: Kom herskep mense wat ander veroordeel …
G: tot ’n lewe van selfondersoek.

L: Kom herskep mense wat sukkel om kinders te kry …
G: met die troos van u nabyheid.

L: Kom herskep die seer van kinders wat mishandel en gemolesteer word …
G: met u genesende liefde.

L: Kom herskep misdadigers en geweldplegers …
G: met ’n hartsverandering en onderskeidingsvermoë.

L: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Buiten vir die kerk en vir individue, vra ons uitkoms vir ons wêreld …

Vir die oorloë …
G: in Afganistan, Irak, Soedan en oral waar daar oorlog is.

L: Vir die vigspandemie …
G: in Suid-Afrika, Zambië, die res van Afrika en oral waar mense ly.

L: Vir hongersnood en armoede …
G: in Indië, Malawi, Amerika en oral in die wêreld.

L: Vir die mishandeling van vroue …
G: in Bangladesj, Suid-Afrika, Tsjad en oral in die wêreld.

L: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons. Kom herskep ook vir my …
G: haal my kliphart uit, en gee vir my ’n hart van vleis.

L: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek, bid ons …
G: Kom, Skepper-Gees!
V: Amen!

Dankoffer

Slotsang
Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”
VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam” 
Of Flam 92 “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”

Seën
(Erediensgangers herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken.)

L:  Die genade van ons Here Jesus Christus…
G: ….

L:  Die liefde van God ons Vader…
G: …

L:  En die teenwoordigheid van die Heilige Gees…
G:  …

L:  Sal met ons wees…
G:…

Lied
Vonkk 89 “Amen”
Lied 312 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.