Pinksterfees

Sections

Oorsig

Pinkster is ’n besondere feesdag. Die atmosfeer in die kerk en onderlinge gemeenskap tussen die gemeentelede moet hierdie feeskarakter weerspieël. Die liturgiese kleur is rooi en kan in die versiering van die kerk en veral die blommerangskikking aangewend word. In die weke voor Pinkster kan mense aangemoedig word om iets rooi op Pinkstersondag dag te dra – ’n rok, hemp of serp.

Die voorganger vir die diens het ’n belangrike taak om die diens met vreugde en openhartigheid aan te bied.

Ander tekste

Psalm 104:24-34, 35b
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dooden
word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

35Mag die sondaars van die aarde af 
verdwyn, 
mag die goddeloses 
ophou om te bestaan! 
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

1 Korintiërs 12:3b-13;
Die verskeidenheid van geestelike gawes
12 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; 
en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

7Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.

Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

Johannes 20:19-23
Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Fokusteks

Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

Ekstra stof

Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies
Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart. Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.
Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42
Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47
Wat veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens. Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ’n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ’n mens van ’n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes. En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ’n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ’n gemeente.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 436 of Flam 432 “Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk ‘(Wolkbreuk) of VONKK 113 Votum

Respons: Lied 444

Seëngroet

Lofsang: Lied 439 of Vonkk 174

Geloofsbelydenis

Respons: Lied 434 of Flam 4

HOOR

Gebed

Lied 442 of Vonkk 27 of Flam 58

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Nagmaalgebed
Vredesgroet
Instellingswoorde
Uitdeling en gebruik van die brood en wyn
Dankgebed
Offergawes

Slotlied Lied 440 of Flam 92 of Vonkk 146

Seën: (Lidmate herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken)

Respons: Vonkk 176 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees” of
Flam 432 “Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk” (Wolkbreuk) of
VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”

Votum
V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.

V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.
(Uit Wepener, C. 2011. Soos ’n Blom na die Son Draai. Bybelmedia, Wellington.)

Respons
Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!”

Seëngroet
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.

A: Amen.
(N.a.v. Nicea uit Wepener, C. 2011. Soos ’n Blom na die Son Draai. Bybelmedia, Wellington.)

Lofsang
Lied 439 “O Heil’ge Gees, o God in ons” of
Vonkk 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”

Geloofsbelydenis
Heilige Gees, Skepper, U wat in die begin oor die watermassas beweeg het, deur u asem kry alle dinge lewe en sonder U sterf elke lewende wese en keer terug tot niks.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, Raadgewer, deur u inspirasie het profete gepraat en opgetree, U het hulle met u mag beklee, sodat hulle van u Woord kon getuig.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, deur U het die maagd Maria die moeder geword van Jesus Christus, die Seun van God.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, Heiligmaker, deur u toedoen het Jesus in wysheid en genade toegeneem; U het die dag toe hy gedoop is in die vorm van ’n duif op hom neergedaal, sodat hy geheilig is en met mag toegerus is as ’n betroubare getuie van die Vader.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, Ewige God, deur u het Christus, ons Hoëpriester, homself as ’n onskuldige slagoffer oorgegee, sodat ons van die magte van die dood bevry kon word om die lewende God te dien.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, Beskermer, u het in tonge van vuur op die apostels neergedaal en deur hulle gepraat toe hulle van Christus en sy opstanding voor konings en nasies getuig het.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
Heilige Gees, Trooster, deur u word ons weer gebore as kinders van God, u teenwoordigheid maak ons lewende tempels en u tree vir ons in by God met woorde wat nie gesê kan word nie.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!

Heilige Gees, Lewegewer, deur wie die hele kerk as liggaam vernuwe, gelei en geheilig word, u woon in ons, sodat u eendag lewe aan ons sterflike liggame kan gee.

Respons: Kom, Heilige Gees, kom vul ons!
(Taizé- gemeenskap in Van der Merwe, J (red.) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM, Wellington)

Respons
Lied 434 “O Heilige Gees, o heilige God” of
Flam 4 “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut”

Liedere

F432. “Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk (Wolkbreuk)”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster) Musiek en Teks: Carli Lessing Kopiereg: © Wins Music

Heilige Gees, kom stuur ’n wolkbreuk
Na hierdie woestynhart van my
Laat waarheid en woord weer kom insak
Tot diep by die wortel van my
Oh – oh – oh – oh oh – oh
Oh – oh – oh – oh- oh oh – oh
Met elke newelbeeld van uitkoms
Kom draai weer my oë terug na U
Gee my weer die asem vir die lang pad
Om enduit getrou te kan bly
Help my vashou aan U beloftes
Help my vashou aan hoop
Help my vashou aan die waarheid
Help my vashou aan U

VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Teks: Jacques Louw 2010 © Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Pinkster

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe,
my krag, my vermoëns,
aan U sal toewy –
u dien met my gawes.
Ek lê myself, Heer,
voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882; Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883 Kantoryverwerking: James McGranaham 1883
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Pinkster / Geloof en Vertroue

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

F4. “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut” 
(RUBRIEK: Kersflam, Flammikidz) Teks en musiek: Hanneke Engelbrecht © 2009 Flam Musiek-Uitgewers

O, Heilige Gees, kom maak my nuut,
kom vul my hele lewe.
O, Heilige Gees, kom maak my nuut,
kom vul my hele lewe.

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”
Teks: Veni Creator Spiritus – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Pinkster

Kom en lei my, Skepper-Gees.

Veni Creator Spiritus.

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese) Teks en musiek: Ioannis Dekas © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.
Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
Kom in al U volheid,
kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

F92. “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed Oorspronlike titel: Nkosi Sikelel’i Afrika
Teks en musiek: Enoch Sontonga; verwerk deur Jan Hoogendyk Afrikaanse vertaling: Onbekend © Publieke Domein

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Laat haar klag tot in die hemel reik.
Hoor ons as ons in gebede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Hou u hand, o Heer, oor Afrika.
Lei ons tot by eenheid en begrip.
Hoor ons as ons U om vrede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.

Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.
Seën ons, Here God, seën Afrika.
Neem dan nou die boosheid van ons weg.
Maak ons van ons sonde ewig vry,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.

Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

God praat met ons en ons luister

Gebed
O Heilige Gees van God,
kom na ons en beweeg tussen ons:
kom as wind en reinig ons;
kom as vuur en suiwer ons;
kom as dou en verfris ons:
oortuig en bekeer ons, en wy ons hart en lewe aan U
vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se Naam.
(deur Eric Milner-White in Van der Merwe, J (red.) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM, Wellington)

Lied
Lied 442 “Gees van God wat in my woon” of
Vonkk 27 “Kom en lei my, Skepper Gees” of
Flam 58 “Skepper Gees”

Familie-oomblik

Vandag is julle kans om lekker fees te vier!
Vertel in jou eie woorde die verhaal van die uitstorting van die Gees. Gee vir almal karton verjaarsdag-hoedjies en verduidelik dat vandag die kerk se verjsaarsdag is (sing sommer “Veels geluk liewe Kerk”). (Jy kan ook die kinders rooi/oranje/geel verjaarsdaghoedjies laat maak en dit gebruik. Soos wat ons vir mense geskenke gee op hulle verjaarsdag, gee God vir die kerk geskenke – elkeen van ons het ‘n geskenk/gawe waarmee ons ‘n spesiale bydrae lewer tot die kerk se werk.

Gee vir elkeen (almal in die kerk?!) ‘n “sparkler”. Steek die eerste ry mense s’n aan. Laat mense met hul sparklers aan ander s’n raak om dit só aan te steek. Gebruik dit om hulle te herinner aan die vuur en wind van Pinkster. (Wees versigtig!) [Kerse kan ook werk, maar wanneer anders gaan jy kans kry om sparklers te gebruik!)

Gee vir almal ‘n plakker van ‘n vlam. Laat hulle dit op hul bors plak om hulle te herinner dat God vir ons die Gees gegee het.

Preekriglyn

[Nota: In hierdie preek word met die eerste vier verse van Handelinge 2 gewerk.]
In die Joodse tradisie was Pinksterdag die vyftigste dag na die Paasfees. Op hierdie dag het die boere die eerste koringgerwe van die nuwe oes na die tempel gebring. Dit is aan God geoffer as ‘n teken van dankbaarheid vir nog ‘n oes, en ook as ‘n gebed dat die res van die oes suksesvol ingesamel mag word.

Beide die Paasfees en die Pinksterfees het die geboorte van Israel as volk van God in herinnering geroep. Eeue vantevore, toe hulle slawe in Egipte was, het God sy beloftes aan Abraham gestand gedoen om sy volk te red en hulle grondgebied te gee. Die Paasfees was die herinnering aan die laaste nag in Egipte, toe die paaslammers geslag en aan God geoffer is. Op hierdie manier het die Israeliete ontkom aan die Engel van die Here wat die hardnekkige Egiptenaars se eersgeborenes met die dood getref het. Met Paasfees het die Jode van alle eeue onthou hoe hulle in daardie nag Egipte verlaat het, deur die Rooisee getrek het en veilig in die Sinaiwoestyn aangekom het. Die Paasfees was die viering van God se redding uit Egipte. Dit was Israel se geboorte as volk van God.

Vyftig dae na die Paasnag het hulle by die Sinaiberg aangekom, waar Moses die wet van die Here ontvang het. Die Pinksterfees, die vyftigste dag na Paasfees, was dus nie net ‘n landboufees nie. Dit was ook ‘n dankfees aan die Here wat vir sy volk geleer het hoe Hy wil hê hulle moet lewe, en hoe hulle sy bedoelinge met hulle moet verwesenlik.

Eerste opbrengs van ‘n nuwe oes

Jesus is net voor die Paasfees gekruisig en begrawe, maar staan weer op uit die dood. Veertig dae na die Paasfees vaar Hy op na die hemel. En nou, hier in Handelinge 2, is dit Pinksterdag. Dit is vyftig dae na die Paasfees. Dis oesfees.

Op hierdie dag word die Heilige Gees oor die Here se kerk uitgestort en die apostels met die Gees vervul. Die parallel is maklik om raak te sien. Die apostels word vervul en begin om kragtige getuienis oor Jesus se dood en opstanding te lewer. So word ‘n groot oes vir die koninkryk ingebring. Die eerste Pinksterdag is soos die eerste gerf uit ‘n nuwe oes wat ingebring word.

Lukas was ook bewus van die wyse waarop die Joodse tradisie oor die ontvangs van die wet by Sinaiberg gedink het. Toe die Israeliete by Sinai aankom, gaan Moses teen die berg op, en keer dan terug met die wet. Tien dae gelede het Jesus opgevaar na die hemel met hemelvaart. Nou, so beskryf Lukas dit, keer Jesus terug, nie met ‘n geskrewe wet gegraveer op kliptablette nie, maar met die dinamiese energie van ‘n nuwe geestelike wet wat op en in menslike harte geskryf word.

“Pinksterdag” is in ons teks ‘n woord swaar gelaai met betekenis. Dis die opwindende begin van ‘n nuwe bedeling, dis die eerste opbrengs van ‘n koninkryksoes, dit is die bruisende krag van God wat rigting aan menslike lewe, die lewe van God se eiendomsvolk, gee.

Ervaringskennis

Daar is soveel teologiese en kerklike debatte aan die gang oor Pinkster en die uitstorting van die Gees. Mens moet versigtig wees om nie daarin vas te val nie. Ons moet die spesifieke boodskap en fokus in Handelinge 2 raaksien. Net so min as wat ‘n sterk wind, of selfs ‘n orkaan, gereduseer kan word tot ‘n debat oor weerverskynsels of ‘n grafiek op ‘n weerkundige se lessenaar, net so min kan die Pinksterervaring ‘n teoretiese twisgesprek word. En net so min kan die Pinksterervaring bloot beskryf word met interessante vergelykings uit die Ou Testament of die Joodse tradisie.

Dis belangrik dat weerkundiges die wind in ‘n orkaan meet, maar as dit by Pinksterdag kom, is dit baie belangriker om daarbuite in die wind te wees, sodat die Gees van God deur jou lewe kan waai, deur jou hart, jou verbeelding, jou spraak, jou gedagtes. Hierdie wind verander jou van ‘n lustelose, dooierige gelowige na iemand wie se hart aan die brand is vir die liefde van die Here. Die tekens van wind en vuur beskryf wat op die eerste Pinksterdag gebeur het. Baie gelowiges gebruik vandag nog dieselfde beelde om te verduidelik hoe dit is wanneer die Gees radikale vernuwingswerk in mense en gemeenskappe doen.

Die apostels beleef in ons teks die vernuwende werk van God. Dis ervaringskennis. Dit word aan hulle gedoen. Dit gebeur met hulle. ‘n Geluid soos ‘n geweldige stormwind vul die vertrek. Iets soos vuur verdeel in tonge en kom op elkeen van hulle. Hulle word met die Heilige Gees vervul.

Ervaringskennis vernuwe mens hartgrondig. Dis veel meer as ‘n nuwe insig of nuwe feite. Dis ‘n belewenis. Mens sien dit in die lewe van die dissipels. Die lewegewende krag van God vat grond in hulle lewens. Geen wonder dat hulle daarna vervolging, bedreiging, marteling en die dood in die oë kon staar nie.

Vernuwe vanuit die hemel

Spesifiek in die lig van Jesus se hemelvaart, is dit betekenisvol dat die teks sê die wind het uit die hemel gekom (2). Deur die Heilige Gees kom die skeppende werk van God uit die hemel na die aarde en werk hier. Die doel is nie om mense ‘n geestelike ervaring te gee wat hulle aandag wegtrek van die aarde af nie. Die punt is dat die aarde nuutgemaak word uit die hemel uit. Dit begin by die volgelinge van Jesus, wie se liggame, gedagtes, verstande, hart en lewens nuutgemaak word. Daarvandaan vloei dit wyd en diep na die hele bekende wêreld toe.

Die skeppende krag van God skep ‘n nuwe gemeenskap hier op aarde. In vers 1 word beklemtoon dat hulle aa eenheid bymekaar was. Hierdie eenheid, word tot ‘n nuwe gemeenskap gevorm wat Jesus se getuies en die draers van sy skeppende krag as Geesvervuldes in die wêreld sou wees. Die eerste gemeente word ‘n fontein van ware lewenswater.

Ons kan dus sê die koms van die Gees met Pinkster is die keersy van Jesus se hemelvaart. Die opgestane Here Jesus, aan die regterhand van God, is die eerste stukke nuutgemaakte skepping in die teenwoordigheid van God. En die uitstorting van die Gees is die teenwoordigheid van die Goddelike, hemelse energie op ons aarde.

Die gawe van die Heilige Gees is die direkte gevolg van die hemelvaart van Jesus. Aangesien Hy die Here is aan wie alle mag gegee is, is die krag van die Heilige Gees, die Gees van Christus, beskikbaar vir almal wat Jesus volg, in Hom glo en op Hom vertrou.

Verskillende ervarings

In ons teks werk die Heilige Gees op ‘n kragtige, dramatiese manier. Die ervaring van die stormwind en die vuurvlamme moes mense sekerlik bang gemaak het, maar ook met groot ontsag en opwinding vervul het.

Op talle plekke, later in Handelinge, werk die Gees weer met ‘n sagte stem, en word mense se lewens sonder veel uiterlike drama nuutgemaak.

Wat is die norm vir die Gees se werk? In Gereformeerde kerke is mense geneig om die stil, sagte Gees as die gangbare patroon van die Gees se werk te sien. In Pentakostalistiese kerke is Christene geneig om die drama van die Gees se werk as die gangbare norm te sien.

Ons moet versigtig wees om die Gees nie te beperk nie. Die Gees pas nie in ons boksies of voorkeure in nie. Die Gees werk soos die Gees wil.

Wat hier gebeur, is dramaties. Dit verduidelik hoedat ‘n onstuitbare nuwe beweging deur God op aarde geskep word. Die Geesvervulde, hemels bekragtigde kerk kom tot stand. Dis soos ‘n vloot oorlogskepe wat deur ‘n kragtige wind uit die hawe aangevuur word na die terrein waar hulle moet wees. Dit is soos die eerste vlamme wat ‘n geweldige veldbrand vir die koninkryk van God wêreld begin. ‘n Klein groepie angstige, verwarde en dalk ongeleerde mense word meteens – deur die krag van die Gees – ‘n mag waarmee wêreldwyd rekening gehou moes word.

Geen kerk of gemeente kan tevrede wees om ‘n passiwiteit en geestelike doodsheid vasgevang te word nie. Of te bly nie. Ons kan nie tradisie, gewoonte, ‘n gebrek aan aksie en innerlike verdeeldheid as normaal verduur nie. Ons het die skeppingswerk van Christus, deur die Gees, uit die hemel nodig om ons te aktiveer en ons lewend vir die Here te hou.

In ons teks manifesteer dit deur die apostels wat skielik ander, bekende tale begin praat sodat mense van regoor die wêreld die boodskap van God in hulle eie taal kan hoor. Dis wat die Gees doen. Dit bekragtig die kerk om nuwe dinge vir God te doen.

Vra

Ons leef steeds in die bedeling van die Heilige Gees, die gawe van die verhoogde Christus aan ons. Ons hoef nie te vra dat die Heilige Gees weer uitgestort word nie.

Maar ons moet vra dat die Gees van God ons vervul. Dit pas dat ons ons oopstel vir die vernuwende werk van die Gees van God. Ons kan bid vir die deurleefde, bekragtigende werk van die Gees.

Hoe die Gees kom, daaroor hoef ons ons nie te bekommer nie. In sommige gevalle fluister die Gees die nuwe lewe in ons bestaan in. In ander gevalle skep die Gees ‘n vernuwende storm van wind en vuur.

Bid om die vervulling met die uitgestorte Gees. Wees voorbereid om die reinigende werk van die Gees in jou lewe en ons gemeente. Die Gees kom die stowwerige en koue vertrekke van ons lewens nuut maak. Die Gees vervang die harte van klip in ons binneste met ‘n lewende hart van liefde. Die vernuwende werk van die Gees, wat gepaard gaan met geloof en gehoorsaamheid, sal ons bring op die plek dat ons ‘n lewe van lof, aanbidding en verheerliking van God lei.

God stuur ons om te leef

Nagmaalgebed
Voorganger (V): Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde. U gee die brood,
die vrug van die aarde en van die arbeid van mense. Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.Gemeente (G): Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

V: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde. U gee die wyn, die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense. Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.
G: Prys die Here, nou en vir ewig!

V: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was en die druiwe wat oor die heuwels versprei was, op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn, mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af saamgebring word in u koninkryk.
G: Marana ta! Kom, Here Jesus!

V: Mag die Here met julle wees!
G: En ook met jou!

V: Hef op julle harte.
G: Ons hef dit op tot die Here.

V: Kom ons bring dank aan die Here ons God.
G: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

V: Aan U kom ons dank toe, Here ons God, oral en altyd deur Jesus Christus ons Here. Want U het die Heilige Gees uitgestort oor die mense in wie U ’n welbehae het. Daarom juig die hele aarde en roem
die volke in velerlei tale. Daarom sing ons saam met die engele en hemelwesens die lof van u heerlikheid:
G: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige. Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid. Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom! Hosanna in die hoogste hemel!

V: Here God, Skepper van die hemel en die aarde, U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk. Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.
G: Kom, Skepper-Gees!

V: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word. Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem, en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê: “Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
G: Ons verkondig u dood, Here Jesus! Ons vier u opstanding uit die dood! Ons wag op u koms in heerlikheid!

V: Here ons God, ons roep vandag in herinnering die uitstorting van u Heilige Gees, die Voorspraak wat U vir ons gestuur het, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan en oor Christus getuig. Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees sodat ons een liggaam en een van gees kan wees, ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.
G: Kom, Skepper-Gees!

V: Deur Christus, saam met Christus, in Christus, behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader, in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.
G: Amen.

V: Ons is deur die Heilige Gees beseël as die eiendom van God. Laat ons dan nou saam bid:
G: Ons Vader wat in die hemel is …
(of Lied 266).

Vredesgroet
(Die gemeentelede groet mekaar met ’n handdruk of omhelsing met die woorde: “Mag die vrede van die Here met jou wees.”)

Instellingswoorde
Uitdeling en gebruik van die brood en wyn

Dankgebed
(Nagmaalgebed en verloop van Nagmaal uit 2010. Handleiding vir die Erediens. Bybelmedia, Wellington)

Offergawes

Slotlied
Lied 440 “Die Here sal ons met sy Gees” of
Flam 92 “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)” of
Vonkk 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”

Seën
(Lidmate herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken)
V: Die genade van ons Here Jesus Christus …
G: …

V: Die liefde van God ons Vader …
G: …

V: En die teenwoordigheid van die Heilige Gees …
G: …

V: Sal met ons wees …
G: …

Respons
Vonkk 176 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.