Pinkster Feesdiens

Sections

Oorsig

Met Pinksterfees vier ons die uitstorting van die Heilige Gees – die Gees van liefde, van lewe en van krag. Ons vier die werklikheid, die wete en die geloof dat die Gees van God – die lewegewende, skeppende Gees – aan ons geskenk is. Die sleutelteks is ‘n lofsang aan God die Skepper wat die lewensasem gee en nuwe lewe laat voortspruit. Die digter spreek sy verwondering oor die Skepping en God se skeppende/herskeppende krag uit. Handelinge 2 vertel die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees. Die Evangelieteks en die Romeineteks bevestig albei die voortgaande teenwoordigheid van die Heilige Gees in/deur/by gelowiges en die lewegewende krag van die Gees.

Sleutelteks

Psalm 104:24-34, 35b
24Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. 25Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; 26daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel. 27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. 28Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. 29Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. 30Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond ‘n nuwe voorkoms. 31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke, 32Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook. 33Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan. 34Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here. 35Mag sondaars van die aarde af verdwyn en goddeloses nie meer bestaan nie. Loof die Here, o my siel! Halleluja!

Ander tekste

Hand 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Hereaanroep,
sal gered word.

Gen 11:1-9
Die toring van Babel
11 Die hele wêreld het net een taal gepraat. 2Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by ’n vlakte in Sinar en daar gaan woon. 3Hulle het op ’n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”

Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, 6en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. 9Daarom het hulle die stad Babel g genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

Rom 8:14-17
14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Joh 14:8-17, (25-27)
8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Ekstra stof

Psalm 104 is saam met Psalm 8, 19, 29 en 148 die vyf Psalms van die natuur of die skepping in die Psalmboek. Daar is baie maniere om hierdie lofpsalm in te deel. Ek kies vir ‘n eenvoudige ses-deling wat vier dinge uitspel waarvoor die Here geloof en geprys moet word, en afgerond word met ‘n gebed vir God en ‘n verbintenis tot lofprysing aan Hom (ons lees vers 25-35 vandag en vers 1-24 volgende week): 1) God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4. 2) God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13. 3) God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14-24. 4) Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30. 5) Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32. 6) Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35.

Die Psalm toon ooreenkomste met ‘n Egiptiese lied van Amenhotep IV uit die vroeë 14de eeu vC wat handel oor die son, wat as die god Aten aanbid is. Die ooreenkomste lê in die beskrywing van water in vers 10-13, die versadiging van voëls en diere in vers 11-14, die beskrywing van die leeus in vers 20-21, die beskrywing van die sonsopkoms in vers 21, die beskrywing van arbeid in vers 23, die beskrywing van die skepping in vers 24, die beskrywing van versorging in vers 27 en die beskrywing van God wat lewe gee in vers 29-30 (vgl Allen in die Word kommentaar reeks). Dit is egter net generiese ooreenkomste omdat dit in die breë oor dieselfde tipe natuur onderwerpe handel. Psalm 104 gaan egter sy eie weg op in die interpretasie van wat in die natuur en skepping gebeur het. Die groot verskil in die twee gedigte lê in die feit dat die Here in Psalm 104 as Skepper aanbid word wat lig, waarvan die son maar ‘n deel is, soos ‘n kleed aantrek (vers 2) en die son self in die Egiptiese lied die god is wat aanbid word. Die son is dus ‘n objek in Psalm 104 maar die subjek in die Egiptiese lied. Dit is die diep en radikale verskil wat regdeur gehandhaaf word. In die Psalm is God die Skepper. In die Egiptiese lied is die son die skepper. Daar is ook ander verskille in bv die betrokkenheid van God by die skepping van die mens in Psalm 104 wat afwesig is in die Egiptiese lied, maar vergelyk dit self by die skakel hierbo.

Dit is boonop duidelik dat die inspirasie vir Psalm 104 uit Genesis 1 se skeppingsverhaal kom deurdat die volgorde van die onderwerpe wat in die Psalm aangespreek word in die breë met die Genesis gedig ooreenkom: lig, water, plante, son en maan, seediere, kos voorsiening. Dieselfde woordeskat word ook gebruik as in Genesis 1 vir die ooreenstemmende begrippe en dieselfde tipe teologie rondom God as Skepper en nie as deel van die skepping nie, word in beide gehandhaaf. 1) In die eerste plek bevestig die Psalm dat die Here groot is, want Hy is met lig omvou soos met ‘n mantel. God het alles gemaak, hemel en aarde. Dit sal vir altyd en ewig nie wankel nie. Hy skep soos Hy dit nodig het. Winde en vlammende vuur word sy boodskappers. Wolke word sy strydwa. Hy ry op die wieke van die wind. Alles wat geskep is, is in Sy diens. Hy maak daarmee en stuur dit soos Hy wil. Alles wat geskape is, is objekte in Sy hand. Net Hy is die absolute Subjek, die Een wat as U aangespreek moet word. 2)  In die tweede plek het God die aarde bewoonbaar gemaak waarin die beskrywing van sy beheer oor water deurslaggewend is. Die groot waters word beperk, en gee terselfdertyd lewegewende water vir alles wat leef en beef uit die reservoir van water onder die aarde, die fonteine, om deur die riviere water te gee vir al die diere, die wilde donkies, en die voëls van die hemel.  Almal kan hulle dors les en sing van vreugde!  Netso vul God dit aan uit die hemel (sy bokamers!) met reënwater sodat die aarde deur sy sorg versadig kan word. 3) In die derde plek het God alles wat leef ‘n volhoubare lewensruimte gegee op die aarde. Die leefbaarheid lê ook in wederkerigheid. Die bome word versadig sodat die voëls soos ooievaars daarin kan nesmaak. Die berge gee skuiling vir die klipbokke en dassies. Selfs die ritmes van dag en nag bring versadiging vir al die diere, selfs die leeus, en uiteindelik veral vir die mens in die ritme van sy arbeid.

Psalm 104 loof God dus vir die bewoonbare en leefbare ruimte wat Hy met die Skepping vir alles wat leef en beef gegee het, in die besonder deur water en voedsel wat versadig en lewe moontlik maak. Hy is nie net Skepper nie, maar ook Voorsiener, en bly dit vir ewig en altyd. Daarom bid die Psalmis dat God vir ewig bly sal wees oor sy handewerk en verbind hy hom om dié God te prys in woorde en gedagtes solank hy leef. Dit vul my gedagtes en word my refrein vir hierdie dag: “Hoe groot is U, hoe groot is U!” Inderdaad.

Die Psalm loof die Here dat alles en almal van sy versorging afhanklik is: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 26). Dit geld die seediere, en die seevaarders, selfs die oer seedier die Leviatan (simbool van die chaos magte wat deur God beheer word – vgl Job 3:8 en veral 40:20 waar die woord eerder met “seedraak” vertaal moet word, weens die simboliek). Alles kom uit God se hand – versorging en die lewe. Sonder God se guns is geen lewe moontlik nie. Hy is die soewereine Skepper Heer. Hy is ook die soewereine Voorsiener Heer. Dit laat die Psalmis die hoop en gebed uitspreek dat God tog sal voortgaan om Hom te verheug in sy werke, soos dit van Hom in die Genesis 1 gedig vertel is. Mag Sy Majesteit vir ewig duur, soos ook sy blydskap in sy Skepping, al is sy blik ook dreigend en donderend.

Hy sluit af met die verbintenis om van sy kant af die Here te loof en prys. Dit is waarvoor hy bestaan. Soos hy elke woord in lofprysing aan die Here moet opdra, so moet elke gedagte (bepeinsing, besinning) van hom in die eerste plek vir die Here, soos ‘n geurige offer, aangenaam wees. Hy wil hom verheug in die Here sy hele lewe lank, met woorde en gedagtes.Net voor hy afsluit met die laaste “Ek moet die Here prys! Halleluja!” kry hy ‘n dwarsklap in na die sondaars en goddeloses vir wie hy tot nie-bestaan verwens. Hulle is ‘n klad op God se goeie skepping en verdien nie om in die ruimte wat God geskep het, te gedy nie. Die implikasie is dat hulle voortbestaan God se goeie Skepping in gedrang kan bring (Allen).

Liturgie

Die liturgie sluit aan by die tema van Pinksterfees.

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord:   (uit Psalm 104 en Romeine 1)

Seëngroet

Lied: 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

DIE UITSTORTING VAN DIE GEES

Johannes het belowe… (hoofstuk 14)

Lied 436 “Herskep o Gees laat leef o Gees vs 1,2,3”

Handelinge 2

Lied: 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Die implikasie van die koms van die Gees is oa

Rom 8:14-17

Geloofsbelydenis: – uit die Geloofsbelydenis van Nicea

Epiklese

Skriflesing: Psalm 104

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 440 “Die Here salf ons met Sy Gees vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (uit Psalm 104 en Romeine 1)
31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke…
7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
OF
V: So sal dit in die laaste dae wees, sê God.
G: Ek sal my Gees uitstort op alle mense:

V: julle kinders sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
G: Ja, op my dienaars en my dienaresse
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort!

V: Ek sal tekens bo in die lug en wonders op die aarde gee.
So sal dit dan wees:
G: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Almal: Amen.
– uit Handelinge 2:17-21

Seëngroet  
Ek groet julle vanoggend in die Naam van God, die Skepper,
Jesus Christus, deur wie alles tot stand gekom het,
en die Heilige Gees wat herskep en herstel.

Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

DIE UITSTORTING VAN DIE GEES

Johannes het belowe… (hoofstuk 14)
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

en toe doen God wat Hy belowe…

Lied 436 “Herskep o Gees laat leef o Gees vs 1,2,3”

Handelinge 2

Die uitstorting van die Heilige Gees
2 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Lied 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Die implikasie van die koms van die Gees is oa

Rom 8:14-17
14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Geloofsbelydenis: – uit die Geloofsbelydenis van Nicea
G: Ons glo in een God,
V: die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;

G: en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, 
V: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie,
een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

G: Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal 
en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; 
V: Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar.

G: Hy sit aan die regterhand van die Vader,
V: en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

G: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak,
V: wat van die Vader en die Seun uitgaan,
saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word,
en deur die profete gespreek het.

G: Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
V: Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies
en die lewe van die toekomstige bedeling.

Almal: Amen.

Epiklese
Asemhalingsgebed: Bid dit een of twee maal saam met die gemeente terwyl die voorganger die instruksies hardop gee en daarna vir die gemeente kans gee om dit self in hulle harte een of twee keer deur te bid.
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Skepper-God”
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Lewende Christus”
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Skeppende Gees”

Asem (Sacredise)
Die ritme van asem – lug intrek en lug uitblaas –
klop in die hele skepping, o Here.

Dit is ’n eenvoudige teken van die opstanding,
van lewe wat nie geblus kan word nie,
selfs nie deur die dood nie.
Ons weet wat dit is om asem te haal, Jesus,
ons lewe hang daarvan af,
selfs terwyl hulle afhang van U:
Opgestane, Lewendige en Teenwoordige.

Blaas weer u asem in ons in, Here Jesus, ons bid:
blaas die lewe wat nooit doodgaan nie,
blaas die hoop wat nooit hoop verloor nie,
blaas die moed wat nooit terugdraai nie,
blaas die vreugde wat nooit ophou sing nie.

Blaas in ons, Here Jesus, en leer ons om te sing,
te aanbid, met elke asemteug,
en om te leef met u opstanding as inspirasie.
Amen.
– beskikbaar hier (vry vertaal)

Liedere

VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U! (Psalm 8)”
Psalm 8 Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: HENTIESBAAI – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr  – Verwondering

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 1:
Kyk, die hemel en die aarde wys die wonders van u Naam.
Kyk, die maanlig in die aande en die sterre sê dit saam:

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 2:
Al die kinders, selfs die kleinstes, wil oor U kom sing en juig.
Al die mense wat teen U is, sal ook voor U moet kom buig.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 3:
Ons as mense is maar nietig, tog gee U ons roem en eer.
U versorg ons en U kroon ons om u skepping te regeer.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 4:
Al die diere van die aarde het U aan ons toevertrou.
U laat heers ons oor u skepping wat U in u hande hou.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
As mens verstaan ons nie U weë
Maar U stuur vir ons ‘n Leidsman trou
Hy lei ons na U

Kom o Skepper Gees
Lewendmakend Gees
Kom in al U volheid
Kom in al U krag
Lei my in U waarheid
Leer my van die Seun
Wees  U ook my trooster,
Kom o Skepper Gees

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ‘n Tempel?”
RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Asemhalingsgebed: Bid dit een of twee maal saam met die gemeente terwyl die voorganger die instruksies hardop gee en daarna vir die gemeente kans gee om dit self in hulle harte een of twee keer deur te bid.
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Skepper-God”
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Lewende Christus”
Asem in en bid: “Welkom”
Asem uit en bid: “Skeppende Gees”

Asem (Sacredise)
Die ritme van asem – lug intrek en lug uitblaas –
klop in die hele skepping, o Here.

Dit is ’n eenvoudige teken van die opstanding,
van lewe wat nie geblus kan word nie,
selfs nie deur die dood nie.
Ons weet wat dit is om asem te haal, Jesus,
ons lewe hang daarvan af,
selfs terwyl hulle afhang van U:
Opgestane, Lewendige en Teenwoordige.

Blaas weer u asem in ons in, Here Jesus, ons bid:
blaas die lewe wat nooit doodgaan nie,
blaas die hoop wat nooit hoop verloor nie,
blaas die moed wat nooit terugdraai nie,
blaas die vreugde wat nooit ophou sing nie.

Blaas in ons, Here Jesus, en leer ons om te sing,
te aanbid, met elke asemteug,
en om te leef met u opstanding as inspirasie.
Amen.
– beskikbaar hier (vry vertaal)

Skriflesing Psalm 104
Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel kortliks die verhaal van Pinkster aan die kinders of lees dit uit ‘n Kinderbybel.
Verduidelik dat daar tekens was dat die dissipels die Gees ontvang het, soos vuurtonge bo hulle koppe en dat hulle mekaar se tale kon verstaan. (Vra sommer vir die kinders watter tale hulle kan praat en verstaan óf graag sou wou praat en verstaan.)

Gebruik ‘n ballon om te verduidelik dat wanneer God se lewensasem (die Gees) ons vul, ons vir ander vreugde kan bring, ons “roeping” kan vervul, en so meer. ‘n Ballon wat nie God se asem in het nie, beteken nie veel vir ander nie.

Sê: “Vandag is die tekens dat die Heilige Gees by en in ons is nie meer dat ons vreemde tale kan praat of vuurtonge bokant ons koppe het nie, maar daar is steeds tekens van die Gees in ons lewens.” Noem ‘n paar voorbeelde.

Aangeheg is die weergawe uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

God Stuur die Heilige Gees
2     1–4 Nie lank hierna nie, was almal wat vir Jesus lief was, saam bymekaar. Skielik hoor die mense buitekant ’n harde geluid wat uit die hemel kom. Dit het amper geklink soos ’n baie sterk wind. ’n Mens kon die geluid deur die hele gebou hoor. Skielik sien hulle iets wat soos ’n klein vlammetjie vuur lyk. Dit was regtig nie baie groot nie. Kom ons sê dit was so groot soos ’n mens se tong. Hierdie klein vlammetjie vuur het op die kop van elkeen in die kerk gaan sit. Dit was die Heilige Gees* wat God gestuur het. Van toe af het al hierdie mense geweet dat die Heilige Gees*hulle sal help en krag gee. Hulle het ook dadelik begin praat in verskillende tale.

5–11 In die stad Jerusalem was daar ’n groot fees. Jode uit baie lande van die wêreld het na Jerusalem gekom om die fees by te woon. Hulle het almal hierdie geluid gehoor. Hulle hardloop toe vinnig na die gebou waar Jesus se vriende was. Gou-gou was daar ’n klomp mense rondom die gebou. Maar hulle kon nie glo wat hulle gehoor het nie. Die Jode sê toe: “Wat gaan nou hier aan? Ons weet mos die mense binne-in hierdie gebou kom almal van een land af. Ons weet hulle kon altyd nog net een taal praat. Maar noudat God vir hulle die Heilige Gees* gegee het, kan hulle sommer ander tale ook praat. Ons kan hoor hoe praat hulle in ons tale en nog sommer baie ander tale ook. Ons weet ons hoor reg. Ons bly mos in daardie lande en ken die tale wat daardie mense nou praat. En ons kan hoor hoe hulle net aanhou vertel oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12–13 Almal wat daar was, was verbaas. Hulle kon nie glo wat gebeur het nie. Hulle het net aanhoudend vir mekaar gesê: “Wat gaan hier aan?” Maar ander ouens het lekker gelag en gesê Jesus se vriende is seker dronk. Maar hulle was verkeerd. Hulle het nie geweet dat dit God was wat die Heilige Gees* vir mense gegee het nie.

Preekriglyn

Dit is vandag Pinksterfees. Ons gedenk die uitstorting van die Heilige Gees. ‘n Klein, bang dissipelkring, word bemagtig om die kerk van die Here in die wêreld te wees. Daarom noem mense dit die geboortedag van die kerk.

Vandag lees ons ‘n Psalm wat God as Skepper eer. Die Bybel stel ons aan God die Vader voor, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is die Vader en die Seun wat die Heilige Gees op Pinkstersondag oor die wêreld uitgiet en ‘n Christusgemeenskap, die kerk tot stand bring.

Ons belydenis van God as Skepper, Jesus Christus as Verlosser, en die Heilige Gees as Lewegewer is ten nouste met mekaar verweef.

Op Pinksterdag beleef ons God se trou aan God se skepping. God het sy skepping nie versaak of aan sy eie lot oorgelaat nie. God het sy Seun gegee. God het sy lewegewende Gees oor die skepping uitgegiet.

Wanneer ons vandag se teks lees en oordink, hoor ons God se sorg en trou in Jesus Christus en in die lewegewende Heilige Gees op ‘n helder manier.

Lofsang

Psalm 104 is ‘n aangrypende lofsang van ‘n man wie se oë oop is vir die wonderlike rykdom van die skepping. Die heerlikheid van God kom op veelkleurige maniere in hierdie lied na vore. Baie Skrifkenners beskou dit as poëtiese kommentaar op die eerste hoofstuk van Genesis, die skeppingsverhaal.

Daar is nie net ‘n band met Genesis 1 nie, maar ook met die voorafgaande Psalm. In Psalm 103 vier Dawid God se goedheid, tere genade en passie vir sy volk. In Psalm 104 vier Dawid God se grootheid, majesteit en soewereine heerskappy. In Psalm 103 gee Dawid aan God die eer vir sy verbondsgenade en liefde vir sy volk, terwyl hy in Psalm 104 aan God die eer gee vir sy skepping, voorsienigheid, heerskappy en die oorvloed van sy handewerk. In Psalm 103 prys Dawid God vir sy genade, en in Psalm 104 word God as die God van die natuur geprys.

‘n Veilige skepping

Psalm 104:24-26 handel nie net oor die wonder van die see wat God geskep het nie, maar gaan veral daaroor dat God die see as woonplek van seemonsters (Leviatan) getem het en dit die woonplek vir sy seewesens gemaak het. Omdat die see as die woonplek van seemonsters beskou is, het mense die beeld gehad dat die oersee ‘n vreesaanjaende watermassa was. Dit is hoe die Jode, ook die Jode in Jesus se tyd, oor die see gedink het (Jes. 57:20; Mark 4:39; Op 21:1). Die einste see word nou die speelplek van die Leviatan en ‘n “snelweg” vir handeldryf. God het die Leviatan (sommige vertalings noem dit ‘n walvis, ander verwys na ‘n krokodil of ‘n draak) getem en hy speel ook nou in die see wat God geskep het. Dit toon hoe groot en magtig God is.

Die digter gaan voort om sy verwondering oor God en sy skepping te betoon. Hy sien dit alles nie as toevallig of as gevolg van doellose gebeure nie, maar as die wonder van die skepping as God se doelbewuste en wyse besluit.

‘n Afhanklike skepping

Vers 27-30 vertel van die skepping se afhanklikheid van God, die Skepper, en van God wat in beheer is van mens en dier se lewe. God is die Een wat kos gee en hulle eet, Hy maak sy hand oop en hulle word in oormaat voorsien om van te leef. Die gedagte van God se voorsienigheid en sy mag om lewe te beheer, word verder onderskryf deur die feit dat wanneer God sy teenwoordigheid onttrek, die diere ly. As God hulle asem wegneem, sterf hulle en word hulle weer stof.

Vers 31-32 is die begin van die afsluiting van die digter se bewondering waarmee hy die psalm begin het. Dit wys duidelik sy lof en dankbaarheid vir God en sy skepping.

Vers 33-35b toon die vasberadenheid waarmee die digter God as Skepper besing, met lofprysing en meditasie. Die psalmdigter bid dat God se heerskappy, wat vergesel word van sy teenwoordigheid (wat ook deur die gepaardgaande aardbewings en vulkaniese uitbarstings sigbaar word), vir altyd sal aanhou. Hy sluit af met die gedagte dat almal wat teen hierdie God, wat alles so volmaak geskep het, rebelleer, hulle reg op lewe opgegee het.

Daar is drie gebede of wense in die laaste paar verse vervat:

  • Die eerste gebed of wens (v 31-32) gaan daaroor om God te prys. God se heilige heerskappy is so oorweldigend dat die aarde bewe as Hy net daarna kyk en die berge brand as Hy hulle aanraak.
  • Die tweede gebed of wens is die reaksie van die psalmdigter wat voortdurend God se eer en lof wil besing.
  • Die derde gebed of wens handel oor die uitwissing van sondaars. Clifford meen dit is nie ‘n kwaadwillige uitdrukking of dat die psalmdigter vergelding soek nie. Dit is ‘n negatiewe uitdrukking van sy begeerte dat almal op aarde God se heerskappy en mag sal erken. Sondaars is juis mense wat weier om dit te erken. Geregtigheid in hierdie verband vereis dat sondaars verdwyn. Tog moet ons daarop let dat die psalmdigter dit in God se hande laat om sondaars te laat verdwyn.
Boodskap

Wat is die boodskap van hierdie Psalm vir ons vandag?

Skepper, Verlosser en Trooster

Die Psalm fokus op die Skepper, die almag en grootheid van God. God het uit niks geskep! Hy het die see verdeel en getem, dit as roete omskep het waarop skepe kan vaar, en die seemonster sy speelding gemaak het.

Verder geld dat God alles wat Hy geskep het, onderhou. God sorg en voorsien steeds in die lewe van alles wat geskape is en maak die lewe soos ons dit vandag ken, vir alles en almal moontlik.

God wat alles geskep het, is inderdaad ook die Vader van ons Here Jesus Christus, ons Verlosser. Hierdie twee belydenisse, naamlik dat God die Skepper van alles én die Vader van Jesus Christus is, is onlosmaaklik aan mekaar verbind.

Daarmee saam het Vader en Seun die volheid van die Heilige Gees op die wêreld uitgestort. Die Bybel teken die Gees as die Lewegewer. Die Gees het met die skepping oor die waters gesweef. Die Gees lei en bemagtig Jesus Christus. Die Gees bind die kerk, as verloste gemeenskap, aan die Vader en die Seun. Die Gees troos en bemagtig ons.

Dit is wat Christene in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely.

Hierdie herinnering dien nie net as versekering dat God almagtig is en ons daarom nie enige bedreiging hoef te vrees nie, maar ook dat ons kan weet dat God steeds sy skeppingswerk onderhou en daarmee volhou.

Dit is daarom moontlik om God in ons tye van moeilikhede en beproewings, soos die Covid-19-pandemie, geweld, korrupsie en politieke onstabiliteit, steeds te kan vertrou. Dit wat eers as bedreiging gesien en selfs ervaar is, kan nie God, die skeppingsorde of selfs God se geskape wesens en lewensmoontlikhede in wanorde laat verval of tot niet maak nie.

Lofprysing en verwondering

Die Psalm konsentreer voorts op die lofprysing aan God, asook die verwondering oor God se skeppingswerke, wat die psalmdigter so helder besing. Hierdie lofprysing en verwondering kom deurgaans in die psalm voor:

  • Die openingswoorde bevestig juis hierdie ondertoon: “Ek wil die Here loof!” (v 1).
  • En in vers 33 lees ons: “Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing solank ek daar is.”
  • In die laaste deel van die laaste vers sluit die digter af met sy begeerte om God te loof: “Ek wil die Here loof. Prys die Here.”

Die psalmdigter voel so sterk oor hierdie lofprysing aan God dat hy hom voorneem om die Here se lof te besing vir solank as wat hy sal leef. Hierdie lofprysing lê hom so na aan die hart dat hy selfs die ondergang soek van hulle wat nie sy God se lof besing nie. Daarom die wens dat die sondaars van die aarde af sal verdwyn en dat die goddeloses sal ophou om te bestaan.

In ons tyd en wêreld waar ons maklik meegesleur word om ikone, sportsterre of selfs net “nameklere” aan te hang en met lof van hulle te praat asof hulle ons god kon wees, moet ons herinner word aan die Een wie se lof ons werklik moet besing. Dit is God, ons Skepper:

  • Hy is immers die onderhouer van alles wat Hy geskep het.
  • Hy is die Een wat sorg en voorsien. Hy is die Een wat alles in stand hou en vir ons die lewe soos ons dit vandag ken, moontlik maak.

God is inderdaad waardig om ons lof te ontvang. Lofprysing hou immers ons ingesteldheid, gesindheid en selfs ons toekomsplanne gerig op God. Lofprysing rig ons geloofslewe. Lofprysing het die uitwerking dat dit ons help onthou om in die rigting van God en die hemel te doen en te leef.

Verrassing en ontdekking

Derdens onderstreep die Psalm ‘n verrassing en ‘n nuwe ontdekking. Dit gaan oor die feit dat die psalmdigter as’t ware vir die ondergang van die sondaars bid. Hy doen hierdie gebed teen die agtergrond van God wat groot, almagtig, voorsienend en versorgend is. Hy doen dit veral in die lig van God wat waardig is om lofprysing van sy skepping en skepsels te ontvang.

Sy argument is juis: Omdat God dan aan sy skepping se behoeftes en in sy skepsels se lewensdae voorsien, moet Hy voortdurend geloof word. Geen ander handeling kan ooit meer reg laat geskied aan God nie – Hy wat juis alles tot sy eer geskape het en in alles en almal se lewensnood voorsien. God is die Een wat die skeppingsorde in stand hou. Hy gee aan mens, plant en dier wat hulle nodig het. Ja, selfs die hemelruim en alles daarin verloop op grond van God se onderhouding.

Wanneer die sondaars, wat gewoonlik nie God se wil en handewerk wil erken nie, dus nie God eer, aanbid en lofsange tot sy eer sing nie, verdien hulle nie die reg om te leef en die voordeel van God se sorg en voorsienigheid te geniet nie.

Alhoewel die psalmdigter vir die ondergang van die sondaars bid en wens dat hulle vernietig sal word, laat hy dit egter aan God oor om daaroor te besluit. Verskeie Skrifkenners meen dat die psalmdigter nie vergelding soek nie, maar dat hy net op ‘n negatiewe manier uitdrukking gee aan sy begeerte dat alles en almal God se mag en voorsienigheid sal erken en God juis daarom sal loof en prys.

In ons tyd en lewe is daar sekerlik baie mense en/of instansies wat ons persoonlik sal wil weg wens of sien ondergaan. Of dalk wens ons bloot dat hulle eenvoudig met hulle korrupte, verleidelike, oneerlike en selfsugtige lewenswyse moet ophou. Dit mag wees dat ons selfs vir hulle nederlae en vernietiging bid, maar dan moet ons dit in God se hande laat om daaroor te besluit en uitvoering daaraan te gee.

In een van emeritus-aartsbiskop dr Desmond Tutu se toesprake in 2009 waarsku hy die regering om in hulle pasoppens te wees: “Watch out – I am warning you. One day we will start praying for the defeat of the ANC government … I am warning you … We will pray as we prayed for the downfall of the apartheid government.”

Dalk is die groter uitdaging juis om God te vertrou en te wag totdat Hy iets daaromtrent doen. Intussen moet ons gelowig, liefdevol en geduldig met ons lewe van lofprysing, dank en eerbetoning aan God voortgaan en steeds ons naaste en skepping van nut wees.

God stuur ons om te leef

Gebed
Kom ons draai ons hande na bo in ’n gebaar van ontvang en raak ’n oomblik stil om te ontvang wat God vandag in hierdie erediens vir ons elkeen afsonderlik maar ook as gemeenskap gegee het.

Stilte.

Ons verwelkom
u onbegrensde teenwoordigheid
in my
in ons
in hulle
in almal
En alles
wat U geskape het
Mag ons almal
deur die Gees
meer en meer vanuit u teenwoordigheid leef
– uit ’n gebed van Wilhelm Verwoerd in sy boek Bloedbande

Offergawes

Wegsending: Lied 440 “Die Here salf ons met Sy Gees vs 1,2,3,4”

Seën
Die Gees woon binne-in jou
Die Gees werk deur jou
Die Gees is altyd by jou
Die Gees gee jou krag
Die Gees gee jou woorde
Die Gees gee jou wysheid
Die Gees is ALTYD by jou!
Amen.
– Pinksterseën deur Anriëtte de Ridder, beskikbaar op DinkJeug

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.